Tuesday, March 29, 2011

Niere en tamatiekonfyt

Liewe Sussie,
Hier klok ek vroegtydig in op die Dingsdag, om aan te kondig ek was gister by die vent wat oor my niere gaan. Hy het gekyk na die ultrasound scan en uitspraak gelewer dat daar niks hoef gedoen te word aan die cysts op my niere nie. Hy sê helfte van die mense ouer as 50 loop rond met cysts op hulle niere en hulle weet dit nie eers nie. Niemand weet hoekom hulle ontstaan nie, maar dit is baie algemeen.
Die cysts word nooit kwaadaardig nie en hulle het geen invloed op die nier-funksie nie, hulle sit net daar en maaind hulle eie besigheid. As hulle baie groot word (meer as so 15 of 20 cm in deursnee - dit klink enorm!) dan steek "hulle" gewoonlik 'n naald daarin en dreineer die vloeistof. Ek moet vlg jaar teruggaan dat hy net weer kan kyk hoe gaan dit aan, maar intussen hoef ek my nie te bebodder daaroor nie.
Ek is is baie bly dat ek nie niermoeilikheid het nie en nie weer die binnekant van 'n hospitaal hoef te sien nie. Ek hoop nooit weer nie! En 'n ekstra bonus was dat die reis na sy spreekkamer ook mooi vlot verloop het, geen verkeersprobleme nie en ek het maklik parkeerplek gekry. Dit het natuurlik meegebring dat ek ½ uur te vroeg was vir my afspraak, maar ek het my boek saamgeneem vir daardie moontlikheid. So aard ek na my oorle' Ta H, ek is altyd liewer vroeg.
Nouja, vandag het ek geen afsprake in my boekie nie, ek gaan groentesop kook en wasgoed doen en miskien later biblioteek toe ry om my boekens om te ruil. Ek het nou uitgehardloop uit leesgoed. Ek gaan vandag na Stud Park se biblioteek - na Vermont s'n gaan ek gewoonlik saam met May so eenmaal per week: jy ken die drill - koffie, biblioteek en koop vars produkte by Get Fresh. Ek behoort aan 3 biblioteke, maar ek gebruik meesal net die twee.
Nouja, Sussie, laat ek gaan stort en aantrek dat ek kan begin woeker met my talente, die dag lê voor. D is gelukkig in Bendigo; hy is Sondag weg en kom Donderdag terug. My huis is heerlik stil en netjies. Ek het die TV afgeskakel toe hy by die voordeur uitstap, en hy sal hom seker weer kom aanskakel wanneer hy hier voet aan wal sit. Hier lê geen koerante rond nie en geen vuil koffie-koppies in die kombuis nie.
Hier sit 'n klein voëltjie op die vensterbank en pik aan die venster. Ons het mos die vensters laat tint vir die warm son, nou lyk hulle van buite af soos spieëls. Die voëls baklei heerlik met hulle refleksies. Hulle het die vlieë-sif al vol gate gepik. Hoekom kan hulle nie net baklei met die vensters wat geen sif aan het nie?
Sunday, 27 March 2011
Ek kan nie sien wat ek tik nie, ek het my leesbril op want ek kan nie my rekenaarbril kry nie. Het hom seker iewers neergesit waar hy nie hoort nie.
Voort met my verhaal: ek het Woensdag gaan koffie saam met Marlene en moes hoor hoe niemand in haar "town house"-kompleks met haar praat nie. Sy baklei met almal. Dis altyd die ander mense se skuld. Gelukkig baklei sy nie met my nie!
Donderdag het ek net hier by my huis deurgebring - groen tamatiekonfyt gekook. 'n Mens kry nie dikwels groen tamaties in die winkels nie, maar die Chinese groentewinkel het groenes gehad. Ek het suurlemoen en gemmer ingesit. Dis baie lekker. Ek het 'n sny tous en jam geëet, wat nie my gewoonte is nie.
Vrydag het ek die May/Vermont ding gedoen: tee gedrink, boeke omgeruil, maar niks geshop nie want ek het genoeg groente en vrugte. Ek het wel drie blikkies tamaties by die deli gekoop vir $2. Ek gebruik baie geblikte tamaties.
Vrydagaand het Karlien ingeklok sodat sy Saterdagoggend kon Hansie Slim. Terwyl sy in die berg was, het ek vir Margaret en Lindsay ontmoet vir brunch. Margie het foto's van haar nuwe kleinkind gebring. Ek het vir haar 'n geskenkie gegee: 'n kombersie wat May vir my gehekel het. Ek het die wol gekoop. Ek kan nie hekel nie, ek brei net.
Ek het ook vir haar twee blikkies tee gegee vir haar eie verjaarsdag-present. Sy het verlede maand verjaar, maar dis die eerste wat ek haar sien na my hospitaal-ekskursies.  Ek het ook vir hulle van my groen tamatiejam gegee. Ek kook net jam omdat dit vir my lekker is om dit te doen - ek eet baie selde jam en dis sleg vir D, so ek hou dit nie juis aan in die huis nie. As ek dit maak, deel ek maar uit.  
Waar is die dae toe ek gereeld jam en blatjang en ingelegde goed gemaak het, en elke week koek en biskits gebak het, beskuit ook. Karlien het altyd maats in en uit die huis gehad, koek het nooit lank gehou nie. En my vriendinne wat kom teedrink het, het ook nooit teruggedeins vir 'n sny koek nie. Nou het ek nie 'n kind in die huis nie, ek ontmoet my vriendinne in 'n keffie vir tee, en 'n koek sal hier in my huis staan en uitdroog. Of nee, D sal hom opsmul en dit is sleg vir hom.
Ek onthou hoe het jy vir jou oudste gesê jy kan hom nie keer as hy wil rook nie, maar jy gaan nie vir hom sigarette koop nie. Nouja, ek kan nie vir D keer as hy lekkers en koek en room wil eet nie, maar ek gaan nie dit aan hom verskaf nie. Ek is nie sy gifsmous nie.
Gistermiddag het ek en Karlien die tweede in die 2012-seisoen se toneelopvoerings gaan sien: Apologia. Ons het baie daarvan gehou. Ek ken nie die akteurs nie - gewoonlik herken 'n mens hulle van die tv of ander toneelstukke. Nietemin het almal hulle goed van hulle taak gekwyt.
Gisteraand het ons na Cat on a Hot Tin Roof gekyk - ek het die DVD hier uitgegrawe en vir Karlien gesê ons moet die Elizabeth Taylor Tribute Show hou. Shym, daar is sy ook nou dood. Sy was so mooi. In haar jong dae. Op haar oudag was sy mutton dressed as lamb en dis nooit 'n goeie beleid nie.
Nouja, Sussie, genoeg vir vandag. Bly mooi en sê groetnis sover jy gaan.
YYY  K.

Sunday, March 20, 2011

Weer op Dreef

Liewe Sussie,
Nouja, ek is weer terug in my gewone roetine, dus het ek darem iets om te rapporteer al is dit niks baie opwindend nie. Niks te kla nie en niks te roem nie.
Ek het toe wel pasede week se Sondag gaan fliek soos ek gedreig het om te doen, en wel Another Year gesien. Een van daardie klein-begroting (low-budget) Britse prente … en uitstekend, soos hulle altyd is. Mike Leigh is die regisseur - ek hou baie van sy werk. Karlien het saam met my gegaan en sy het ook daarvan gehou.
Maandag het ek vir die eerste maal in weke saam met ex-kollega Joan gaan koffie drink. Ons het baie gehad om oor te gesels want sy het ook skete gehad in die tussentyd. Let jy ook op dat soos 'n mens ouer word, skete meer en meer die onderwerp van bespreking is wanneer jy jou vriendinne sien?
Joan se kat Mimi het ook 'n skeet gehad; ek is so bly ek het nie meer gediertes om voor te sorg nie. Joan moes 'n fortuin uit haar handsak ruk vir die veearts. Ek vertel jou mos altyd hoe lekkerbekkig die kat ook nog is op die koop toe: as ons klaar koffie gedrink het moet ons altyd lekkernytjies koop vir die kat.
Carlotta sê anderdag vir my haar corgi wat onlangs oorlede is, het haar in die 13 jaar van haar (die hond se) bestaan elfduisend dollars aan veearts-geld uit die sak gejaag. Die hond het lupus gehad en allerhande ander kwale, moes operasies ondergaan en wat nog alles. Jy kan nie glo wat kos 'n hond se x-strale en hospitaalverblyf nie!
Ek moet more na die uroloog toe dat hy oor die cysts op my niere kan gaan. Ek kyk so na die brief wat ek gekry het van sy spreekkamers om die afspraak te bevestig. Hulle kondig aan dat ek $170 moet vooruit betaal vir die besoek. Medicare sal darem $70 daarvan teruggee. Dan is sy spreekkamers ook nog To Helen Gone, ek sal 'n goeie uur en 'n half moet toelaat om daar te kom, want ek weet nie hoe is die parkeer-toestande daar nie en 'n mens moet altyd toelaat vir verkeersprobleme ook nog. Jy weet hoe groot is Melbourne.
Ewentwil, Dinsdag het ek vir Mirabelle ontmoet … nie vir koffie nie, vir niks. Sy kan nie koffie of tee drink nie; ek weet nie waarop leef sy nie: sy is so fyn en maer dat 'n mens nie naby haar moet nies nie, sy sal wegwaai. Sy het probleme met haar maag en haar lewer en haar niere en haar allergieë en wie weet wat nog, daar is baie min dinge wat sy kan eet. Maar sy doen die mooiste kunswerke wat jy jou kan verbeel. Ek ken haar van die kuns-vereniging af. Sy klim op haar kar en ry na The Little Desert, 'n gebied hier in die hinterland van Victoria. Hulle noem dit nou wel 'n woestyn maar dis meer soos Karoo. Sy gebruik die plantegroei en die landskap daar vir haar kunswerke. Sy bring altyd vir my foto's saam.
Haar man, Jean-Phillipe, het ook allerlei (in my opinie denkbeeldige) skete en hy kan nie langer as drie dae alleen bly nie, so sy moet haar altyd terughaas. Hy is 'n bedorwe brokkie en verwag dat sy hom moet bedien en vermaak. No inner resources.
Woensdag het ek my eertydse huis-skoonmaakster Jean ontmoet vir 'n koffie en ons het baie lekker gesels, soos ons altyd doen. Jean het my alles vertel van haar man se hand-operasie (vingers wat toetrek) en van haar kleinkinders se doen en late. Harry (14) speel krieket en sy span is deur na die eindrondte (ek weet nie van wat nie). Harry se ma het 'n nuwe kêrel. Harry hou gelukkig vd kêrel.
Jamie (5) het begin skoolgaan en Grace (3) is 'n regte madam en wil lipstiffie aansmeer kleuterskool toe. Jamie en Grace se ma wil hê Jean en Len moet hulle huis verkoop en  in haar jaart in 'n granny-flat kom bly, maar Jean sê nee! … dan is sy die voltydse babysitter want haar dogter rits graag rond. 
Ek wens Jean het nog my huis skoongemaak. Penny en Ray maak nie so deeglik skoon soos Jean nie en hulle woeker ook nie in my binnetuin nie - Jean het altyd die dooie blare en dooie madonnalelies afgesny en sy het die plante se blare afgestof en die potplante water gegee. Nou met ek self tuinmaak in my voorhuis!
Hulle het nie hd week kom skoonmaak nie want Penny se ma is oorlede. Sy was 93 en het kanker sower as  dementia gehad, maar 'n mens se ma is jou ma al weet jy dis beter so. Penny het verlede week opdrag gegee "hulle" moet alle medikasie staak en alle masjiene verwyder. Hulle het haar net morfien gegee om haar pyn te behartig.
Donderdag het ek om 12.30 vir Pauline ontmoet by die stasie in Mitcham - sy kom altyd met die trein van Ringwood, waar sy woon, tot in Mitcham, waar dit gerieflik is vir my om haar te ontmoet. Ons het nie gaan fliek of shop soos ons dikwels doen nie, ons het sommer net daar by die stasie gaan eet by die Japanese keffie. Ons het albei die hoender op rys met spruite en gerasperde groente gehad. Hulle gee jou daarby 'n bakkie miso-sop vir 'n voorgereg en 'n bakkie vrugteslaai vir poetieng.  Ek vra altyd vir 'n lepel want ek wil nie my sop uit die kommetjie drink nie. Japanese moet maar doen soos hulle grootgemaak is, maar my ma het my geleer sop soek 'n lepel.
Ek het by die Op Shop langsaan die restaurant 'n enkelbedlaken gekoop vir $3 want Karlien wou 'n banier verf vir haar vriendin se span ( The Valkyries) wat aan 'n 100km stap deelneem vir liefdadigheid. Die stappers kom agter ons huis verby en ons gaan die banier oor ons heining hang. Dit sê GO, VALKYRIES!
Ons het vandag aan die banier gewerk en sal hom vlg naweek klaarmaak. Ek sny stencils uit bruinpapier vir die letters. Ons gebruik spuitverf. Ek moes my bestuurdersliksens wys toe ek die spuitverf koop, want hulle mag dit nie aan minderjariges verkoop nie. Ek was baie gevlei toe ek moes ID wys. 'n Ou antie soos ek sal nie in die nag oor die spoorwegdepot se heinings kan klim om treine te graffiti nie!
Ewentwil, voort met my week - Vrydag het ek elfuur vir May ontmoet in Vermont South en ons het eers koffie gedrink en toe biblioteek toe gegaan en daarna 'n bietjie vars groente en vrugte gekoop by Get Fresh.
Ek was weer eenuur tuis, net 'n toebroodjie geëet en 'n kort nanna-nap geniet en toe het ek afgesit na Brandon Park om halfvier vir Hilda te ontmoet. Sy het ys-sjokolade gedrink en ek  lemoensap. (Of lemoensop, soos my oorle' skoonpa dit genoem het. Hy het altyd gepoog om Afr te praat met my.) Hilda is soos gewoonlik vol klagtes oor haar selfsugtige man en stout kinders. Ek luister maar na haar gesanik, maar ek weerhou my van kommentaar al brand ek om te sê: Hulle is net so selfsugtig en so stout (onderskeidelik) as wat jy hulle toelaat om te wees!
Vrydagaand het Karlien ingeklok, Saterdagoggend was sy Hansie Slim en vanoggend op die Sabbat weer. Dis nou pragtige herfsweer en baie lekker om buite te stap. D is vanoggend weg Bendigo toe: hy kom Donderdag terug. Jy sal nooit raai wat hy daar gaan maak nie.
Sy het 'n hele sak kumquats gebring van die boompie in haar tuin. Sy het hom in 'n groot pot geplant. Hy dra flink. Vanmiddag het ons kumquat-marmalade gekook; dit is baie lekker. Vyf botteltjies. Hulle lyk pragtig, so 'n mooi goue kleur; skyn pragtig deur op die kombuis se vensterbank.  Dit smaak ook lekker: ons het 'n paar snye tous gemaak en dit daarop gesmeer. Vlg naweek gaan sy nog bring en ons gaan nog marmalade kook, plus ons gaan brandewyn-kumquats maak.
Vanmiddag het ons gaan fliek en Conviction gesien. Ek was nie baie beïndruk nie, jy hoef jou nie te bebodder om in die tou te val by die Village Odeon nie.
Nouja, Sussie, hier is ons weer by SELA.  Baie groetnisse van H tot H. YYY K

Sunday, March 13, 2011

Pyn en Ellende

Liewe Sussie,
Eindelik is ek weer terug op die masjien en ek skryf vir jou op die Israelitiese Sabbat. Mazel tov.
Soos jy nou reeds weet, is my lang stilte die gevolg van my kranklikheid. Ek het die laaste vyf/ses maande so sleggerig en siekerig en lusteloos gevoel dat ek niks wou doen nie, maar jy weet hoe dit is, 'n mens sê mos maar vir jouself : Ruk jou reg, jy kan nie heeldag so rondsit nie. Dis die "Calvinist Ethic" waarmee ons grootgeword het!  Moenie vol ipekonders wees nie.
Ewentwil, toe begin ek pyn kry en gaan sien die dr, en toe hulle die nodige scans en toetse doen, blyk dit ek het hierdie slegte galblaas wat maandelank al besig is om my te vergiftig.
Die sjirurg het, elke keer wat hy my sien na die operasie, vir my gesê: Your gall bladder was Very Nasty! One of the nastiest I have ever removed! Ek het later regtig skuldig gevoel, asof my persoonlike higiëne tekortskiet! 
Galblaas verwyder, toe kom die vent met die mes op 'n breuk af wat reggemaak moes word en doen dit sommer ook. Toe ek eindelik na amper 'n week (i.p.v. oornag soos hulle my belowe het) terug is by die huis, begin ek na twee dae ontsettend pyn kry, soveel so dat D in die nag die ambulans moes laat kom en terug hosp toe.
Nog 'n week daar … hulle het my onderwerp aan elke toets en scan wat jy maar kon dink, maar geen oorsaak kon hulle kry vir die marteling wat ek verduur nie; meanwhile was ek konstant in soveel pyn dat hulle my elke hawerklaps morphine ingespuit het. Toe op 'n goeie dag het die pyn net so misterieus verdwyn as wat hy gekom het. Nou is ek weer tuis, en ek is bly om te sê alles gaan goed, geen teken van pyn of ellende nie.
 Maar met al die ondersoeke het "hulle" ook agtergekom ek het cysts op my niere, en nou moet ek vlg week 'n uroloog gaan sien. Waarom ek nou cysts op my niere moet hê, kan ek jou nie vertel nie, maar my dr sê dis nie ongewoon nie, heel waarskynlik sal die uroloog niks daaraan doen nie. Baie mense loop glo rond met sulke cysts en weet dit nie eers nie. So ek hoop maar dis nie weer 'n hospitaal-besigheid nie, ek is nou baie gedaan vir hospitale.
 Ek moet darem sê die verpleegsters is uit die boonste rakke en ek kan glad nie kla nie. Niks is te veel moeite vir hulle nie, jy hoef ook nie eers jou klokkie te lui nie, hulle loer elke kwartier in om te sien of jy iets nodig het. Ek is jammer dat ek te siek was om te eet: D en Karlien verseker my die kos was baie lekker! Maar al was dit ook 'n vyfster hotel, ek wil nie terug nie!
Daar het ek jou nou verveel met my hele ou siekte - jy moet maar fast forward verby die klagtes!
D het 'n rugwerwel gekraak - hy moes gaan vir 'n bone density scan - hulle ("hulle" weet mos alles) dink dis as gevolg van die hormoon-behandeling vir die kanker dat sy beendere verswak het en hy die werwel gekraak het. Gelukkig is die hormone nou verby maar dit sal 'n goeie jaar neem om heeltemaal uit sy gestel te kom. Intussen het hy hierdie week al sy bowls westryde gekanselleer en net 'n goeie ding ook. Daardie werwel moet tyd kry om te heel!
Hy het osteoporosis, gelukkig nie in sy heupe nie maar wel in sy rug. Hy moet pille sluk daarvoor.
Nouja, genoeg gekla en gemoan oor siektes en ellendes.
Ek het gister my kop laat afkap en inkleur - nou voel ek ook sommer weer soos 'n normale mens. My hare was 'n goeie drie weke verby hulle vervaldatum!
Karlien het gisteraand hier ingeklok om oor te slaap, want sy is weer vanoggend Hansie Slim - sy hou daarvan om ten minste eenmaal per week die berg te bestyg hier agter ons huis.  Sy klim net boontoe via The Thousand Steps, dan loop sy af met 'n ander paadjie wat so skuins teen die helling ondertoe gaan. Die hele transaksie neem so 'n 2 ure. Dis nou heerlike sonnige herfsweer en daar is baie mense - party klim, ander piekniek of stap langs die wandelpaaie.
So met al my ellendes het ek nie veel nuus nie - ek handhaaf nog maar 'n lae profiel en gaan nie juis baie uit nie want ek word gou moeg. Dit neem seker tyd voor al daardie verdowingsmiddels uit my gestel sal wees.
Dit voel vir my of ek jarrrelaas in 'n fliek gesit het en ek moes ook die ballet misloop. Dit was nogal Madame Butterfly waarna ek baie uitgesien het. Ek gaan moremiddag die stoute skoene aantrek en baaiskoup toe gaan - as ek moeg word, kan ek sommer daar in die donker 'n uiltjie knip! (Nie 'n kat knyp nie)
Ek verneem dat N die end vd maand haar intrek gaan neem in Ridderslaan. Haar woonstel is nog nie heeltemal gereed nie, maar sy sal intussen in die huis woon. Hulle sê my die omtrek waar sy tans woon, is nie baie aangenaam of veilig nie - sy kan nie in die straat stap daar nie. So dit is seker beter om dd rede ook dat sy maar liewer trek.  Ek dink sy is taamlik ambivalent oor die hele situasie maar nouja, needs must.
Die ou kleintjie is glo baie oulik en het nie meer koliek nie. En laat ek nou ook sommer op daardie noot vir jou gelukwens met die opkomende agtste kleinkind. Ek hoop heimlik dit sal 'n dogtertjie wees, maar ek sal vat wat ek kry, solank die ou babatjie gesond is en al die nodige onderdele het in goeie toestand. R sê dat Klein R praat van sy sussie wat kom, so miskien weet hy iets wat ons nie weet nie.
Later … Ek het sopas saam met Karlien 'n koppie tee gedrink terwyl sy haar Weetbix eet. Toe sy haar bord in die skottelgoedwasser sit, toe sê sy vir my: "Well, I'd better go and climb that mountain now, it's not going to climb itself!" Grapjas!
Ek het e-mail van Shirley gehad en ek is bly om te verneem dat sy gelukkig is en allerhande dinge doen en stedelike aktiwiteite geniet. Dis seker vir haar lekker ook om naby haar kleinkinders te wees. Sy sê sy mis jou en sy mis Peter. Wat van haar mooi skoondogter? Mis sy nie vir haar nie?
Nouja, Sussie, ek het nie juis verdere nuus nie, want hier sit ek soos 'n uil op 'n kluit by my huis. Wag maar, teen vollende week het ek weer 'n paar mense gesien en 'n paar plekke gegaan en dan het ek meer om te vertel.
Menige groetnisse van huis tot huis.
Love. K