Wednesday, July 27, 2011

Stout Kinders en Sampioensop

Liewe Sussie,
Kommunikasiekrisis chez moi: My internetkonneksie is nou al heel oggend af want Telstra werk aan die kabel. Dis soos wanneer ons destyds plaas toe gegaan het  - jy weet daar is nie elektrisiteit nie, maar jy hou aan om teen die muur te tas waar die skakelaar vir die lig moet wees.
Ek stap elke nu en dan hier in om dit of dat op te kyk en dan onthou ek nee, ek kan nie. Ek kan nie glo hoe afhanklik ek van die masjien is nie: nou dat hy nie beskikbaar is nie, kom ek agter hoe baie gebruik ek hom. Dis nou eers twaalfuur en ek wou al vanoggend 'n dosyn goed opgekyk het:
1. wanneer my boeke moet in wees by die bib want ek wil nie soontoe ry om hulle om te ruil nie, ek wil hulle sommer hernu op die rekenaar
2. wat wys in die plaaslike baaiskoup want ek wil vir Pauline bel dat ons kan besluit wat ons Donderdag gaan doen,
3. wat is die East Empress se nommer dat ek hulle kan bel om 'n tafel te bespreek vir Vrydag,
4. 'n resep vir sampioensop want ek het gister 'n pak shiitake gekoop by die Chinese Grocer,
5. die video op die BBC se website van gister se Rupert Murdoch-ondervraging wat laasnag te laat aangehou het en ek moes gaan slaap,
6. ek wou die koerant lees,
7. ek wou vir twee vriendinne wat die week verjaar kaartjies stuur,
8. ek wou kyk wat die name is vd twee vente wat die DNA helix ontsyfer het,
9. ek wou kyk of James Robertson Justice nog leef want ons het hom gisteraand in daardie ou Doctor at Sea prent gesien met Dirk Bogarde,
10. ek wou weet hoe spel 'n mens pediatrician, of is dit paediatrician?
11. ek wou 'n maklike patroon hê vir 'n mussie want ek brei die vingerlose moffies vir die haweloses, ek het gedink ek sal matching beanies doen.
12 ek wou weet wat is vandag die wisselkoers tussen die A$ en die US$ want ek wil
13. die DVD van die New York Ballet se Merry Widow-ballet bestel: ek het die Australian Ballet  en die Canadian National Ballet s'n, maar Carla sê vir my die NYB s'n is die beste.
14. O ja, en ek wou weet hoe om die gom af te kry van my nuwe Medicare kaart - hy was vasgeplak aan die brief waarin hy gekom het, en nou sit daar 'n taai kol aan hom en hy gaan my beursie taai maak. As ek vir Google sê "remove sticky residue", dan sal hy my mooi vertel wat om te doen.
Elke keer stap ek hier in om vir Google daardie dinge te vra, en dan onthou ek hy sprak vanoggend geen sprook nie - die Orakel van Delphi se plek is leeg en sy stem is stil.  Ek moet in my vier spore omdraai en papierboeke gaan soek om moeisaam die goed op te kyk, en ek kan geen shopping doen nie, tensy ek in die winterwind winkels toe wil gaan!
Dis so koud en nat en my keel is krapperig. Ek het nie lus om uit te gaan nie, ek het 'n lysie van goed wat ek nodig het en as ek voor elfuur op my rekenaar kon klim om dit by die supermark te bestel, dan hou hulle wên nog vanmiddag voor my huis stil en lewer af. Nes Ma wat destyds toe ons klein was, vir Ou Joe gebel het en as jy weer sien is daar 'n outa met 'n baaisiekel, Ma se goed in 'n mandjie voor aan die hêndelbars. Maar vandag kan jy nie meer bel nie, jy moet kliek-kliek maak met jou muis. Dit pas my, ek kliek baie liewer my muis as om met mense te praat op telefone. Hou aan, nee, dis nie my afdeling nie, ek sit jou deur, hou aan …. en dan speel hulle musiek in jou ore terwyl jy tevergeefs wag vir die volgende een way jou nie kan help nie.
Later … Dit was gister. Ek moes toe tog op die ou end uitgaan - laatmiddag toe dit behalwe koud en nat nog donker ook was. Heather het gebel om te sê sy is siek en of ek haar kinders by hulle onderskeie skole sal gaan haal. Ek het gegaan. Driejaar is in child care en Sesjaar is in die laerskool se naskoolse program tot sesuur. Ek het vyfuur gegaan, sesuur is nog later en donkerder. Die kinders was nie lus om huis toe te gaan nie, dis te lekker saam met hulle maats. Ek het alle geskree geignoreer, toe shaddap hulle maar.
Ek het tot hulle frustrasie die child locks geaktiveer aan alle vensters en deure, want dis my ervaring dat hulle heelpad die vensters op en af laat gly en aan die deurknoppe pluk. Hulle kan mos nie uitval nie want hulle is vasgegordel, maar dit amuseer hulle as Ma moet stilhou en uitklim om die deure toe te maak en met hulle te raas. Ek is nie hulle ma nie. (Hulle kan bly wees)
Heather se skeet is dat sy hoogte-siekte het (altitude sickness) want hulle was vir die naweek hier in die berge om te ski. Ek het nie gedink Victoria se berge is hoog genoeg vir altitude sickness nie, en ek het ook gedink as jy weer onder kom, is dit verby, maar wat weet ek. Sy is naar en dronk in haar kop en sy het hoofpyn. Ek weet nie hoekom bly sy nie tuis wanneer haar man wil gaan ski nie - sy kla hy ski die hele dag op en af die berg  en sy moet in die chalet sit en die kinders oppas. En hoogtevrees kry!
My internet-konneksie het weer tot verhaal gekom en as we speak het ek 'n heerlike pot sampioensop op die stoof. Google het my vertel ek moet 'n prei en 'n wortel sautéé, twee opgesnyde hoenderdye byvoeg en nog 'n bietjie roer, die sampioene en 'n besending hoenderaftreksel byvoeg en dit kook. So gesê, so gedaan. 'n Paar minute voor dit klaar is, gaan ek 'n klompie rys-vermicelli noodles byvoeg. Dit ruik heerlik! Ek het 'n paar swart peperkorrels fyngestamp en 'n knypie gemengde kruie ook bygevoeg.
Ek is baie bly ek het gedroogde sampioene agtergekom by die Chinese grocer. Jy gooi net kookwater op hulle en laat staan vir so 10 minute dat hulle kan uitswel. Hulle is so geurig! Ek dink die "varses" bly te lank op die supermark se rakke, dan verslaan die geur. Ek het my sop gekook met gesnipperde shiitake mushrooms, maar ek het ook 'n pak Japanese klein knoppie-sampioentjies gekoop. Hulle het so 'n crazy-paving gekraakte wit en bruin oppervlakte. Ek gaan hulle in 'n Italiaanse hoender-casserole sit wat ek beplan om te kook.
Genoeg van kookkuns, nou kom ons by wasgoed en breiwerk. My huis ruik lekker na skoon wasgoed want daar is 'n stellasie-vol bokant elke uitlaat van die sentrale verhitting. Niks wil buite droogword nie. Daar hang lakens in die eetkamer, hemde in die tv kamer en onderklere in die slaapkamer. Gladys is tans besig met 'n besending donkerkleurige goed - hemde en sokkies wat ek netnou hier in die rekenaarkamer gaan ophang as sy hulle klaar gewas het en dan gaan ek nie meer wasgoed doen nie, want my stellasies is nou almal vol.
Ek het gister die nuutste manteltjie vasgewerk wat ek vir Needy Stitches gebrei het. Dit het pienk en grys blokke en dit lyk baie mooi. May gaan 'n wit randjie rondom hekel. Die pienk wol was regte wol - een van die wol-fabrieke het dit aan Janice geskenk. Dit het gekom in so 'n koeksister soos vanouds, ek moes dit oprol. Ek dink ek het jou dit al vertel. Ek het dit eers in die tuimeldroër gesit met 'n versagter-sponsie dat dit makliker kan rol. Regte wol is mos nie so glad soos acrylic nie, al is dit sag.
Ek moet sê ek hou nie daarvan om met regte wol te brei nie, dit skaaf my breivinger waarmee ek die wol om die naald haak. Ek het 'n pleister en Germolene. My Germolene was op, maar gelukkig het D agtergekom die SAfr winkel hou dit aan. Ten duurste.
Die Chinese Grocer hou biskits aan wat hulle noem Butter Coconut Biscuits - hulle is langwerpig maar dis die enigste verskil tussen hulle en Tennis Biscuits. Ek is lief vir 'n tennis biscuit en hulle is handig vir tertkorse, maar hier is hulle nie beskiknaar nie, behalwe ten duurste by die SAfr winkel. By die die Chinese grocer is hulle baie goedkoop, soos al sy voorrade.
Ek is baie in my skik want gister het twee DVDs opgedaag wat ek bestel het: Anthony Dowell en Natalia Makarova in Swan Lake en Darcey Bussel en Irek Mukhamedov in Winter Dreams. Ek het twee ander Swan Lake DVDs, maar ek is 'n Anthony Dowell-fan. En ek het nog nooit Winter Dreams gesien nie. Dit is die Chekov storie The Three Sisters, jy sal die boek ken. Musiek deur Tchaikovsky. Carla het die ballet op die verhoog gesien toe sy laasjaar in Londen was, en sy vertel my hoe mooi dit is. Nou sal ek self kan kyk.
Hoe lekker sou dit gewees het as jy neffens my op die soufa kon sit en en my help suie aan 'n koppie tee en kyk na die ballet! Miskien kon jy saam brei ook. As Anet hier kuier, dan brei sy heerlik saam - sy brei so mooi en werk vas dat jy nie die naat kan sien nie.
Haar egskeiding is ook verlede maand afgehandel - dit was nie 'n lekker maand vir haar nie: haar ma is ook dood (in die hospitaal) en haar broer het dieselfde dag nog met 'n wa na die ou dame se huis toe gery en alles gaan oplaai. Toe Anet na die begrafnis na haar ma se huis toe gaan, was die huis leeg, hy het selfs die gordyne verwyder.
Hoekom is daar altyd twis oor die ouers se besittings? Ag nouja, in Anet se geval geen twis nie, hy het eenvoudig skoonskip gemaak voor sy of haar suster van iets geweet het. Sy sê sy en haar suster het niks gesê nie en hom maar laat begaan. Daar is 'n paar goedjies soos haar babstoeltjie en van haar kinderboeke wat sy graag sou wou gehad net, maar niks wat 'n vete werd is nie. 
Noua, Sussie, ons is ook weer by Sela. Groetnis van huis tot huis.
L&K, Suster Katryn {|{



Handskoene en Vriendinne

Liewe Sussie,
Wat kan ek jou sê. Dis winter en ons leef in die lôntrie. Die wasgoed hang knaend in die huis, bokant die warm-lug-uitlate. As ek dit buite hang, word dit nie drooog nie, selfs nie op die balkon nie. Die lug is te koud en klam. My landgenote laat hang hulle wasgoed dae lank buite, tot daar eendag 'n flouerige sonnetjie kop uitsteek en dan bring hulle dit in en sit dit tog maar in die tuimeldroër om die laaste klammigheid uit te blaas. Ek hang myne liewer uit wans uit in die huis. Die sentrale verhitting is eenmanier aan, hy kan net sowel my wasgoed droogmaak.  Ten minste ruik skoon wasgoed lekker.
Jy is 'n regte Flo Nightingale met Charlene se agterpote - ek hoop sy word gou beter. Ek is seker sy sal hulle beter kla.
Ek is jammer jou handskoene is weg. Jy weet mos ek brei knaend vir die minder-BV-regtes. Nouja, ek vir myself 'n paar vd handskoene gehou wat ek vir hulle brei. Brei vir jouself 'n paar - jy sal nou dink dis nie warm genoeg nie want jou vingers steek uit, maar glo my dis te lekker as jy so sit en lees of in jou modderkar ry. Brei net 2plein 2purl ribbing, sit so van 35 na 40 steke op na gelang van hoe dik jou wol is, en brei so om en by 20cm. As jy die naat toewerk, los plek oop vir jou duim.
Very Simple Fingerless Gloves

8 ply yarn  and 4mm (no 8) needles

Cast on 40 stitches, leaving a tail of wool for the sewing up.

Rib K2, P2 for 12 cm
(This is about 30 rows, depending on the thickness of the wool: some 8ply is thicker than others)

The next 4cms (about 12 rows, dep on thickness of wool) start and end each row with K3. This will make an edging to the thumb hole.

Do another  4cm in the k2,p2 rib, then cast off in rib, leaving a length of wool for sewing up.

Fold in half lengthwise and sew up side seam from the top and the bottom, leaving the edged 4cms open for the thumb.

Ek is bly jou bure is goed vir jou; jy klink nie vreeslik dankbaar nie. Ek het gelukkig niks met my bure te doen nie - groet vriendelik as ons mekaar buite sien en dis al.  Krismis gee ek haar 'n koek en sy gee my 'n blik biskits. Hulle seun bespeel die dromme maar nie saans nie en bedags hou die sessie ook nie lank aan nie, ½ uur op die meeste.  Ek kla nie, want ek soek nie 'n vete met my bure nie. Hulle hond wat vroegoggends heerlik geblaf het vir die opkomende son, is ook tot haar hondelike vadere vergader en dit lyk nie of hulle 'n nuwe een gaan kry nie.
Ek wonder of die boek wat ek jou laat stuur het, al opgedaag het. Ek gaan in die week vir jou 'n paarseltjie stuur met 'n paar goedjies vir jou nuwe kleinkind. Ek wil niks Pta toe pos nie, want "hulle" het al te veel goed gesteel wat ek soontoe gestuur het. Ek verdink die posbeamptes in die Transvaal.  Ek is seker jy sal nie haar klerasie steel om aan jou eie bas te trek of weg te gee vir baba's wat jy by die bekentenis het nie.
Ek het niks wonderliks gekoop nie, sommer net ietsie to show willing - ek wil nie wintersklere koop nie en daar is nie nou somergoed in die winkels nie. Ek sal wag tot die somergoed inkom en dan weer ietsie koop. Ek wil so 3-6 maande se goed koop of 6-9 maande, en as sy dd ouderdom is, dan is dit somer by julle. Hier ook. Dit sal gaaf wees as sy op K se verjaardag kan kom, sê jou skoondogter moet knyp tot 11 Okt.
Nuus is nog maar skraps. Dun op die grond. Ek het vandag my kop laat afkap by Madeleine. Sy het weer vir my afdakkies oor my ore gesny maar wat kan ek doen. Nee, ek sal jou sê wat ek kan doen: ek het uitgevind wanneer haar afdag is - sy het Sondae en Woensdae af. Ek kan nie op Sondag soontoe gaan nie, want 1. ek gaan Sondae fliek en 2. Seniors kry net in die week afslag en nie Sat of Son nie, maar as ek weer moet laat sny, gaan ek my afspraak vir 'n Woensdag maak. Ek gee nie om dat Madeleine my kop inkleur nie, sy doen 'n goeie job. Ek gaan vlg Donderdag laat inkleur.
More gaan ek vir May help om haar gehekelde 'bersies uit die bib se winkel te haal. Sy het die meeste van hulle verkoop, maar daar is 'n paar agtergeblewenes. Ek sal hulle vir haar op eBay sit. Dis 'n pyn in die nek, ek wil my nie bebodder nie, maar nouja. Sy is oud en sy het nie 'n rekenaar nie en sy is my vriendin. 'n Mens moet rally as jou vriendinne jou nodig het, soos jy met Charlene. En dan rally hulle weer dienooreenkomstig in jou uur van nood.
Ek gaan ook 'n martelaar wees met Pauline - dis winter en te koud vir haar om op die trein te klim om my te ontmoet soos ons doen. Die wind is ysig op die stasie waar sy moet wag, al is dit net 'n paar minute. Nou gaan ek Donderdag na haar huis toe ry en daar saam met haar middagete eet en kuier en so drieuur huis toe kom wanneer my oë te veel brand van die rook. Tuis aangekom, moet ek my klere in die was gooi, stort en my hare was want ek stink.
Ek was Sondag fliek toe saam met K en D, ons het Beautiful Lies gesien. Franse prent, Audrey Tautou. Ek en K het dit geniet maar D nie so baie nie. Dit was 'n chick flick - bietjie van 'n rom/com maar die Franse maak nie aanstootlike rom/coms soos die Amerikaners nie.  Jy kan maar jou plek inneem in die Village Odeon wanneer dit daarnatoe kom. Maak seker daar sit niemand met 'n hoed op voor jou nie, dat jy die subtitles kan lees.
Nou gaan ek vir my 'n bakkie sop uit die vrieskas ruk en 'n stukkie tous maak daarby. D het lankal geëet, hy word vroeg honger en hy soek elke ete vleis. Hy het beef casserole en rys en groenbone gehad met gestoofde appels daarna. Ek weet nie of hy daarvan gehou het nie, hy lewer nooit kommentaar of sê dankie nie. Dankie is nie in die McDonalds se woordeskat nie. K tel in dd opsig nie vir 'n McD nie, sy ken asseblief en dankie. Haar ma (opgevoed deur Nella Viljee) was meer vertroud met die terme as D s'n, en het dit dienooreenkomstig van kleins af aan haar oorgedra.
Nouja, Sussie, verder Niets dan Bladeren tot vlg week.
Baie liefde en groetnis,
Suster Anna   J  Y ¯

Ek Beskinder my Landgenote

Liewe Sussie,
Nog 'n week in sy maai. Die heilige vaders het vir my 'n briefie van bedanking vir die seels  gestuur en 'n boekmerk. Hulle is goed opgebring, beter as Pamela van Oorle' Tom, wat my nou nog sal bedank vir die geskenk wat ek haar bybie gestuur het. Ewentwil, ek stuur die heilge vaders se briefie vir jou aan want jou seels vorm die grootse deel van my bydrae.
Ek leer met interes uit hulle briefie dat daar ook heilige susters is in hulle organisasie. Mazel tov, good on 'em. Die kinders op die boekmerk lyk ewe vrolik en gelukkig, lyk nie of die heilIge vaders hulle molesteer of mishandel nie. Ons plaaslike katolieke instansies het 'n baie donker reputasie vir mishandeling en molevering van kinders in hulle sorg. 
My landgenote het al die jare hulle bekke vol gehad oor Safr se tekortkominge onder apartheid - en hulle was reg in hulle kondemnasies, maar hulle is nietemin die laaste mense wat klippe kan gooi oor menseregte, wreedheid of swak etiese beginsels.
In die 50s en 60s het die Australiese Regering derduisende aborigines se kinders met geweld van hulle af weggeneem, en daardie kinders in kerklike weeshuise of by pleegouers geplaas, duidende myle weg in vreemde omgewings. Nie die kinders weggeneem omdat hulle ouers sleg was nie, net omdat hulle swart was. Die idee was dat die kinders in "beskaafde" omstandighede sou grootword, behoorlike edukasie kry en uitstyg bo die aboriginal leefwyse. Nee. Die in die weeshuise is gruwelik mishandel, diegene by pleegouers, meesal op plase, is vir slawe-arbeid gebruik. The Lost Generation.
Alles kom nou op die lappe, nou dat die heilige vaders wat aan kinder-verkragting aandadig was, merendeel dood en stokoud is en die kerk hulle nie meer hoef te beskerm nie. En daar was nie net twee of drie van die booswigte nie, maar dosyne. En dit gaan nog steeds aan - elke jaar is daar 'n klompie wat aangekla word deur kinders wat nou grootmense is en kan rapporteer wat hulle as kinders moes deurmaak. Die kerk se manier om dit te hanteer is om hulle te verplaas na 'n ander gemeente waar hulle dit weer kan doen. Want hulle het gebieg en hulle het berou en nou is hulle vergewe, hulle hoef nie tronk toe te gaan nie.
En asof dit nie genoeg is nie, het die Australiese regering na WW2 met die Britse regering geheul om tusen 5 en tienduisend kinders hierheen te stuur - baie van hulle was "evacuees" wat tydens die oorlog na die plattelandse dorpe in Engeland gestuur is. Hulle het vir die kinders vertel hulle ouers is dood, in die meeste gevalle onwaar!
Selfde storie - gruwelike weeshuise, slawe-arbeid. Broers en susters nie bymekaar gehou nie. Daar is nou boeke en dokumentere prente oor die hele ding - "The Leaving of Liverpool", "Oranges and Sunshine" … daardie kinders is nou oumense, baie is dood, maar baie het as volwassenes uitgevind dat hulle ouers of broers en susters in Engeland het, en kon weer by hulle uitkom. Hartroerende verhale.
My nuwe land se rekord is baie slegter as my geboorteland s'n! Selfs toe die Apartheids-regering mense teen wil en dank in die Transkei gaan aflaai het, het hulle die hele familie gaan aflaai en nie die kinders gekonfiskeer nie! En toe hulle Duitse weeskinders ingevoer het SA toe na die oorlog, is daardie kinders in liefdevolle gesinne geplaas en goed versorg.
Maar nouja, laat ek nie my landgenote slegmaak nie, vir my was hulle goed. Ek hoekom nie? Ek is wit en ek praat Engels! Baie van my anderskleurige en anderstalige mede-immigrante word nie met sulke ope arms verwelkom nie.
Sussie, ek het vir jou 'n boek laat stuur van die online boekwinkel waar ek baie van my boeke koop.  Dit sal 'n tweedehandse boek wees: die website spesialiseer in ex-library stock, maar wat worry jy, hy sal in goeie kondisie wees en jy sal hou vd storie. Miskien kan jy hom by jou skoondogters rond uitleen as jy met hom klaar is. The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society.
Ek het Maandag saam met my ex-skoonmaakster Joan gaan koffie drink. Sy het haar huis verkoop en sy en haar man trek na Moe. (Mow-ee) Dis so 'n uur uit Melbourne of 90 minute met die trein. Groter as Plooysburg, maar nie veel nie! Joan se broer en haar suster woon daar en nou dat albei haar dogters uit die huis is, het sy en Les nie so 'n groot huis nodig nie.
Joan het my ook vertroulik meegedeel dat sy moeg is om dag vir dag kleinkinders op te pas sodat haar dogters kan rondjakker. Die dogters het hard probeer om haar om te praat om in Melbourne te bly, maar sy het net gesê nee. Ek dink Les was nie te lus vir Moe nie, maar hy het geen geld en dus geen seggenskap nie. Dobbelprobleem gehad en dis nou al jarre dat Joan alle geldsake beheer en alles is in haar naam, sy gee hom sakgeld.
Sy het 'n mooi 3sk meenthuis gekoop in Moe en hulle trek die end vannie maand. Joan het 'n hoop goed op eBay geadverteer en mense het dit kom haal. Kontant in haar hand, niks in Les se hand nie! Meubels en allerlei rubbish. One man's trash is another man's treasure. (En dit gaan vir girlfriends ook! Geen pot is te skeef nie.)
Woensdagaand het ons gaan eet by die Indiese keffie saam met Penny (gelukkig nie Fanny nie) en John Thomas. Waar was sy ouers se kommen sens by die doopbak? Kon hulle hom nie James of William genoem het nie? Of al was dit Jaydin of Darryl. Die ete was baie aangenaam: gawe geselskap, lekker kos. Ek het gelukkig parkeerplek gekry vlakvoor die restaurant, want dit was baie koud en nat.  Jy weet ek is altyd die aangewese bestuurder wat ek sit mos nie my bek aan alkohol nie. Om selfsugtige redes: ek wil my lewer en harslag die beste kans gee wat ek kan, om uit die moeilikheid te bly.
Donderdag het ek vir Heather ontmoet vir koffie. Ek het 'n pot peperment tee bestel en haar tjoklit muffin het so lekker gelyk dat ek vir my ook een gekry het. Wat was my verbasing groot toe hulle my 'n ekstra een in 'n papierkardoesie gee. Dit was 5uur in die middag en hulle bak elke dag vars - laatmiddag gee hulle alles weg.  D was bly, hy het dit vir poetieng geëet ipv sy gewone jellie.
Heather was baie opgewonde want sy hou nie van haar werk nie - sy het aansoek gedoen om 'n ander job en hulle het haar opgekommandeer vir 'n onderhoud. Ek hoop sy kry die werk, dis by The Body Shop (sy doen kantoor-admin) en van die newe-vergoedings is dinge soos facials en massages en spa- en gym-besoeke - ek wil dit nie hê nie, maar Heather het baie lus daarvoor.
Sy soek al lank ander werk en dit is nie maklik nie, want haar vereistes is spesifiek: sy wil nie verder as 20 minute van haar huis af werk nie, sy wil ure hê wat inpas by haar kinders se skool en kindersorg-sentrums en sy wil 'n werkgewer hê wat haar sal toelaat om op kort kennisgewing 'n dag of twee verlof te neem as sy 'n siek kind het. Sy gaan Vrydag vir die onderhoud en hopelik sal ek vlg week kan rapporteer of sy die job gekry het.
Gister op die Vrydag het ek vir Marcia ontmoet by die Monash Gallery of Art waar daar 'n baie mooi fotografiese uitstalling was - die fotograaf het van die 30s tot die 50s vir Vogue en dergelike tydskriufte gewerk. Pragtige voorbladfoto's. Al die ou akteurs wat ek onthou van daardie dae.
Vandag se akteurs het nie meer daardie glamour nie! Seker maar ook omdat ons nie alles van hulle privaatlewens geweet het nie, net inligting wat die studios vrygestel het. Vandag is daar geen geheime meer in die wereld nie!
Ek kan weer nie hd Sondag gaan fliek nie weant dis nog skoolvakansie en daar is niks wat ek wil sien nie. Ek was vanmiddag by die bib en het 'n paar DVDs daar vd rak af geleen. Ek ken hulle nie, dis BBC programme. Ek hoop hulle is goed. D kyk vanaand rugby, miskien sal ek een vd DVDs in my rekenaar se speler prop en daarna kyk, ek sit lekker gemaklik hier in my ergonomiese stoel. Ek sal my breiwerk en my pot tee gaan haal.
Nouja, Sussie, dan is dit weer SELA tot vlg week. Baie liefde en groetnis.
I¯ö Suster Katryn

Nog 'n Week in sy Maai

Liewe Sussie,
Douvoordag op die Heilige Sabbat. Of misvoordag. Ons kry partymaal so 'n dik mis in die oggend oor die hele stad en die baai. As die sonnetjie flou is soos hd tyd vd jaar en die mis lus het om te bly sit tot laat in die dag, dan kan die vliegtuie nie land nie. Soos dit is, kry ons elke nou en dan 'n vlaag van die as uit die Chilean vulkaan en dan sit alle vliegtuie ook op die grond en wag vir beter dae. Bring wa en donkies terug!
Ek en D was gistermiddag na die teater om The Joy Of Text te gaan sien. Dit was maar power, K het niks misgeloop nie. Dit het gegaan oor 'n skooljuffer wat 'n verhouding met 'n skoolseun aangeknoop het. Of nie. He said, she said. Op die ou end het ons nie uitgevind wie vd twee die waarheid vertel het nie. Ek was geneig om die juffrou te glo - ek dink hy het net haar naam beswadder omdat sy hom uitgevang het dat hy sy hele essay oor Wat-ook-al woordeliks vd internet af gesteel het. Ewentwil is sy afgedank, vir die wis en die onwis. Die 17-jariges is beskermde wild!
Toe Emil in Matriek was, het hy skoolvakansies by sy Gesk/juffrou gaan kuier in Willowmore, waar haar broer 'n plaas gehad het. Geen haan het daarna gekraai nie, want wat gebeur in Willowmore, bly in Willowmore en steek nie kop uit op jou tuisdorp nie! Ek kan nie haar naam onthou nie. Sy was nie veel ouer as hy nie. Gelukkig was jou studente kleuters!
K het blykbaar haar verblyf in die VSA geniet. Ek sien sy Tweet vanoggend vd vliegtuig af dat sy op pad is van NY
na LA.
Sy sal seker more voet aan wal sit hier ter plaatse. Sy was in 'n hotel in New Jersey solank die konferensie aan was, maar sy het die laaste drie dae in Manhattan gebly by Neef Tim.  Tim en sy meisie Carleen (lugwaardin, kom van Texas) het 'n huurbeheerde woonstel. Hy werk in I.T. , ek dink vir Microsoft.
Ek het hd week merendeel tuisgebly. Dis nog steeds koud en winderig and van tyd tot tyd nat buite. Ek het darem Woensdag vir May gaan help om haar kniekombersies uit te stal in die biblioteek se winkel. Sy hekel hulle in die voetbalspanne se kleure en hulle verkoop goed hd tyd vd jaar. Sy hekel baba-kleure ook, dit is ook gewild. Sy vra nie veel nie, net genoeg om die koste vd wol te dek. Sy sit saans daar voor haar teevee en hekel.
Sy het altyd die goed weggegee vir die Op Shop tot ek haar vertel het vd bib se winkel. Dis maar net 'n groot glaskas waar plaaslike mense hulle handgemaakte ware kan uitstal en verkoop. Jy kry 'n maand. Mense maak sulke mooi goed: daar is 'n klomp afgetrede ooms wat die mooiste hout-goed maak op 'n draaibank; ander maak weer syserpe (soos daardie gele wat ek jou gestuur het) en juweliersware en breiwerk en enigiets wat die moederhart begeer. Handgemaakte kaartjies, tapestry, borduurwerk … kunswerke, party.
Donderdag ek ek my oë laat toets - ek het gedink ek moet my ogens laat toets, my preskripsie is amper 2 jaar oud en my regteroog sien nie meer so lekker nie. Nee, seg Katrina die Poolse optometris, daar is niks met my preskripsie verkeerd nie, dis die katarak. Hy is nog nie so sleg dat hulle sal opereer nie, ek sal oor 'n jaar weer gaan. My linkeroog het nie 'n karakter of 'n krater nie, net my regteroog. Ag nouja. Ouderdom bring skete. Gelukkig kan die meeste goed reggemaak word. Katrina het 'n kiekie van my oogbal geneem ook. Lyk soos sonsverduistering.
Vrydag het ek eindelik na drie mislukte pogings vir Marlene ontmoet vir koffie. Sy het heerlik gekla. Ons was 'n uur lank daar in die koffie-keffie en ek het niks gesê behalwe oe en aa en how awful for you nie. Toe my koppie koud genoeg is vir ordentlikheid, het ek gesê ek moet nou gaan want ek het inkopies om te doen.
Ek het op die internet gesien hoe mooi lyk julle prinses Charlene op haar troudag. Ons Prinses Mary was ook een vd gaste. Ek dink ons prinses het 'n beter prins gekry as julle s'n. Fred wei nie anderkant die grensdraad nie, en hy gaan eendag 'n koning wees.
Niks hd week van jou gehoor nie, jy is seker in Pta. Nouja, Sussie, groetnis tot ons weer koevertens oopskeur.  Y¯ Suster Katryn

The Merry Widow

Liewe Sussie,
Hartelijk bedankt vir die brief wat ek die week gekry het. Ek hoop jou ekskursies na Pta is suksesvol. Ry jy merrie bus of vlieg jy?
K is gister weg New York toe - dit was kort kennisgewing maar gelukkig het sy onlangs haar Euro-paspoort laat opdateer. Haar Australiese paspoort het nog 'n hele paar jaar voor hy verval, maar sy het nog altyd haar Euro-pp gebruik om VSA toe te gaan en hulle is so paranoied, as jy skielik met 'n ander paspoort kom, dan kry hulle die stuipe en ondervra jou vir ure.
Sy het middernag ons tyd in LA geland en van vliegtuie verander NY toe. Ek het net gesien sy Tweet van LAX af hoe vieslik vuil die Qantas vliegtuig was. Vandat Qantas besluit het om geld te spaar deur hulle vliegtuie buitelands te laat diens, is daar gedurig klagtes. Nou val daar 'n stuk vd vlerk af en dan weer het 'n enjin 'n skeet.
Toe D. SA toe was, het die vent voor hom se sitplek-rug nie gewerk nie, hy kon nie orent kom nie en D moes heelpad sit met die sitplek voor hom 6dm van sy neus af. Claustro! Qantas sal uitvind dit help nie om werkers in Asië 'n misrawele paar pennies te betaal nie, hulle sal 'n misrawele job doen. Sover het niemand gelukkig nog seergekry of dood geword nie, maar dit sal kom.
Gister was ek na die ballet om The Merry Widow te sien en dit was pragtig. Die kostuums en Franz Lehar se musiek en die danse en alles. Ons het geklap en geklap.
Ek het weer vroeg ingegaan om eers die kunsgalery te besoek. Elke jaar hou die NGV 'n "blockbuster exhibition" van Junie tot Oktober, en hd jaar s'n is Vienna Art and Design. Pragtige skilderye en meubels en klere en juweliersware en porselein uit Oostenryk in die laat 1800s en vroeë 1900s. Daar was nie oorweldigend baie mense nie en ek kon lekker tydsaam na alles kyk. Dit is nie lekker as daar so baie mense is dat hulle saamdrom voor elke ding en jy nie kan sien nie. Hulle laat by die NGV net soveel mense op 'n slag in, maar lede kry voorkeur, so ek het nie nodig gehad om te wag nie. Ek sal weer gaan oor 'n paar weke. K wil dit ook sien, ek sal wag tot sy terug is.
Hierdie keer het ek nie in een vd kafees geëet nie, ek het my toebroodjie en flessie peperment-tee saamgeneem en op 'n bank in die binnehof gesit. Ek het gedink met die ballet en die Vienna-uitstalling sal alles propvol wees op die Saterdag en ek was reg. Die toue by die kafees was baie lank.
Ek gaan nie vandag fliek toe nie want daar is regtig niks wat ek wil sien nie. Vlg Saterdag is daar 'n toneelstuk maar K sal dit misloop want sy is mos in NY. Ek sal kyk of ek haar kaartjie vir iemand kan gee. Ek weet May of Joan of Pauline sal hou daarvan, maar die toneelstuk begin 4nm en sal nie voor sesuur uitkom nie, dan is dit koud en donker. Hulle is almal dames wat nie stad toe bestuur nie, so hulle sal treinry. Dan moet ek aanbied om hulle huis toe te neem, ek kan nie in my kar klim en hulle moet op die koue stasie in die donker gaan staan nie.  Ek het nie daarvoor lus nie, dis te ver uit my pad.
Hoekom wil mense nie stad toe ry nie? Die een kla sy kan nie op die snelweg ry nie en daardie een wil weer nie die parkeergeld betaal nie. Ek weet nie hoekom die snelweg so vreesagtig is nie, jy ry in jou baan en as jy kom waar jy wil wees, dan kies jy die afrit. Ek dink hulle wil ook nie die tolgeld betaal nie. Elke keer wat die sensor biepbiep maak, kos dit jou dertig sent. Dit kos my $1.30 om stad toe te ry en neem 20 minute. 'n Winskoop!
As ek darenteen op die trein klim, moet ek parkeerplek soek, stasie toe stap, wag vir die trein op die koue platform en weer in die stad vd stasie af stap na die teater; alles neem meer as 'n uur en is koud en onaangenaam en gaan dikwels gepaard met slegte reuke. Ag nouja, elkeen moet maak met sy loeloe soos hy wil, maar ek doen wat vir my gerieflik is.
Ek sou hd week tandarts toe gegaan het maar ek het gekanselleer want dit was koud en nat. Stormwind en hael. Ek het nie lus om Canterbury toe te ry in dd weersomstandighede nie. Dis 40 min van my huis af. Ek sou saam met Pauline uitgegaan het ook, maar ons het besluit om dit ook te kanselleer, om dieselfde rede. Pauline het ook nie lus om in die storms rond te dwaal soos babes in the wood en siek te word nie, sy is nog ouer as ek.
Ek sit hier en skryf vir jou maar eintlik moet ek in my huis woeker - ek het wasgoed om te doen en kaste om reg te pak. Ek moet skoonskip maak en goed Op Shop toe neem. Hier is glad te veel Goete en Ketels wat weer opgegaar het. (goods and chattels)
Ek moet vir Marcia 'n artikel skryf vir die Kaleidoscope ook. Ek is bly jy het van Mrs Delaney gehou. Ek is so jammer ek het nie van haar geweet toe ek in Londen was nie, dan sou ek by die British Museum gevra het om die albums te sien. Wie weet of ek nou ooit weer daar sal kom. Ek skryf nou oor Rosalba Carriera, ek sal dit vlg week vir jou saamstuur.
Nouja, Sussie, verder niets dan - hopelik bring die komende week meer opwinding sodat ek vlg Sabbat meer het om te rapporteer!  
YY Suster Katryn

Kinderpartye

Liewe Sussie,
Ek weet nie hoe dit is nie, maar hier klok ek in op die Maandag, 'n dag laat en nie heilig nie.
Hierdie week is maar 'n dun nuusweek, ek het nie veel gedoen nie. Dinsdag het ek saam met Margie wie se van ek altyd vergeet, gery na Janice (van Needy Stitches-faam) se huis om goed af te lewer vir die minderbevoorregtes.
Ek het breiwerk gehad om vir haar te gee en ook 'n sak vol klere wat die Lipton Ladies my gegee het. Baie van hulle kledingstukke het nog die etikette aan. Splinternuut. Hulle is dames wat klere koop en as hulle tuis kom, hou hulle nie daarvan nie en dra dit nooit. Gee dit weg vir die Op Shop. Gelukkig het ek dit hierdie keer gekry vir Janice.
Janice het vir my 'n sak vol wol gegee wat iemand geskenk het, sodat ek manteltjies kan brei. Dit is baie goeie wol, en dit is in "skeins", onthou jy hoe moes ons wol oprol in die ou dae? Ek het elke "skein" in 'n bra bag in die tuimeldroer gesit met 'n anti-static versagter-sponsie, en toe het hulle baie maklik en glad opgerol. Ek het hulle om 'n leunstoel se rug gesit. Dit help nie ek vra vir K of D om vas te hou nie, dis 'n slag wat hulle nie het nie. Onthou jy hoe moes 'n mens heen en weer maak met jou arms, en dan moet jy jou hand so flip om die wol glad te laat afgly. Ons moes altyd wol vashou vir Ma, dan hou Boetie sy hande skielik nader aan mekaar sodat die wol slap hang en Ma se oprol-ritme bederf.  Heerlik lag hy as sy kwaad word vir hom.
Woensdag het ek vir Heather ontmoet vir koffie na haar werk. Ons het nie lank gekuier nie want dit was baie koud en ek wou tuiskom voor donker. Dit word nou al van 4uur af donker, ons is mos baie ver suid. Sy het my alles vertel van Ethan se happy birthday party.
Dis nou die eerste jaar wat hy in "groot skool" is. Sy het gesê hy mag 8 maats nooi uit sy klas, en vir hom die uitnodigingsbriefies gegee vir die ma's. Maar hy het mondelings sy hele klas genooi. Gelukkig het almal nie opgedaag nie, maar sy het 23 kinders daar gehad terwyl sy voorsiening gemaak het vir 12. (Die 8 genooide gaste plus Ethan, Gaby en 2 ou maats van die kleuter-skool.)
Sy sê die ma's het natuurlik ook almal saamgekom. Sy moes haar man stuur om nog koek en verversings te gaan koop; gelukkig is al die winkels Sondae oop en soos jy weet, is Australiese koekwinkels se ware baie lekker. Die verjaarsdagkoek is 'n groot koek en daar was genoeg vir almal. Sy het dun gesny en al die ma's kon ook 'n stukkie kry.
Sy sê daar was drie ma's wat sy nie ken nie (van sy nuwe skoolmaats) wat eenkant gesit het soos Piet Snot, niks wou eet of drink nie en nie gesels het nie. Hulle ken ook nie mekaar nie, dis nie of hulle met mekaar gesels het nie! Die ander ma's van die nuwe skoolmaats was baie gesellig en het lekker meegedoen. Ek is so bly ek hoef nie meer kinderpartytjies te hou nie.
Toe ek jou verlede week vertel het ek was ballet toe, het ek doodstil gebly van my uittog na die kunsgalery. Die ballet begin 1.30, maar ek het so elfuur ingeklok sodat en eers kunsgalery toe kan gaan. Ek het ook daar in die galery 'n quiche en slaai geëet vir middagete want ek het geweet die teater se kafees sal tjok en blok wees met balletgangers.
Saterdagaand het ons weer Classic Movie Night gehou en ons het "Waterloo" gesien, met Christopher Plummer as Wellington en Rod Steiger as Napoleon. Dit was 'n lang fliek. K ken nie die geskiedenis nie en sy het halfpad belang verloor en gaan slaap. Ek en D het enduit gekyk en dit baie geniet.
Toe julle hier was, het Boetie so lekker daarna gekyk een middag, onthou jy? Toe het ek dit nog op band gehad, nou natuurlik op DVD.  Shym, Pa sou daarvan gehou het, hy het gehou van 'n beroemde veldslag. Ag nouja, hulle twee was weens omstandighede buite ons almal se beheer, nie hier om saam te kyk nie, dit was maar net ek en D.
Die meeste vd week het ek maar hier ter plaatse rondgeploeter en Sondag (gister) was K nog hier en ons het bioskoop toe gegaan. Ons het "Little White Lies" gesien. Dit is 'n Franse prent met Marion Cotillard en ek sal jou beslis aanraai om in die tou te val voor die Village Odeon wanneer dit soontoe kom. Ek moet jou net waarsku dat jy moet gaan piep voor jy jou sitplek inneem, want dit hou 148 minute aan.
Ek en K het elkeen met ons eie voertuig gery dat sy reguit huis toe kon gaan vd fliek af, want dit het gewys by 'n venue nader aan haar huis as aan myne. Ek het donker by die huis gekom. Sy seker ook, want sy het eers haar week se inkopies gaan doen by die supermark.
Dit was vandag weer boekklub by my huis want Florrie, wat vandag gasvrou moes wees, se nuwe  kombuis word ingesit. Ek was nogal bly sy het my gevra, want dit was vandag baie koud en winderig en ek was nie lus om uit te gaan nie.
Ek het net tee en koffie gemaak, sy het koek gebring. Muffins gekoop by die bakkery. Dit was baie aangenaam - die dames het gebly tot eenuur. Toe D tuiskom van sy bowls-vergadering af, het hulle hulle ry gekry en kon ek die koppies vir Meraai gee om te was. D  het die 2 oorlewende muffins vankant gemaak.
Vanaand het ek een van my lams-kerries uit die vrieskas geruk en net rys in die mikrogolf gekook daarby. Daar was reeds groente in die kerrie. Aartappels vries mos nie lekker nie, maar ek het wortels en patat en groenbone en klein uitjies en moeshkamers ingesit.  Vir poetieng het ons gestoofde appels gehad.
Nouja, Sussie, verder niets dan.
Groetnis tot vollende week.
¯¯¯ Suster Katryn

'n Stil Week Alleen

Liewe Sussie,
Baie dankie vir die brief wat ek gekry het na die hiatus toe jy in Pta was op Ouma-diens. Ek is bly dat jy terug is en dat alles daar nou weer op dreef is. Ek is bly ek hoef nie kind op te pas nie: ek onthou hoe wil hulle nie hê 'n mens moet jou boek lees nie. 'n Kind is nes 'n kat. My kat het altyd op my boek of koerant gaan sit as ek wil lees, en K het beswaar gemaak, al speel sy ook daar eenkant, nes jy sê.
Hier ter plaatse is alles ook maar stil. Ek was gister by die ballet - vir die eerste keer in al die jarrre wat ek gereeld ballet toe gaan, was ek nie juis baie opgetel met die uitvoering nie. Ek voel regtig nie ek het waarde vir my geld gekry nie, en dis baie geld, ek betaal meer as $500 vir die jaar se vyf uitvoerings.  Ek kan seker goedkoper kaartjies koop, maar ek voel net as ek so baie geld gaan betaal, wil ek in die beste sitplekke sit tien rye van voor af … en nie vir 'n paar dollars minder doer ver waar ek moet sukkel om die dansers se gesigte en al die fancy voetwerk te kan sien nie. 
Dit was 2 ballette deur Stephen Baynes onder die sambreel-naam van "Elegy". Die eerste ballet was "Requiem" met musiek van Faure - almal was in pikswart en hulle het so temerig gedans - niks flashy arabesques en pirouettes nie. Regte begrafnis. Deurentyd is daar stemme wat begrafnismusiek sing ook nog.
Die tweede een was musiek van Bach - ek is nie mal oor hom nie maar hy is darem beter as Faure. Anyway, dit was ook nie baie opwindend nie. "Beyond Bach" het hulle die stuk genoem. "Sheep May Safely Graze" was een vd stukke musiek, jy sal dit ken. Baie soos kerk! 
As ek wou kerk toe gaan, hoef ek nie $500 te stoot nie, kon ek dit gratis doen by enige een van die menigte venues waar dienste gehou word en waar ek seker is die heilige vaders my met ope arms sal verwelkom. Veral as hulle weet hoe getrou ek seëls versamel vir hulle en warm truie brei vir die minderbevoorregtes. Die enigste verskil tussen my en Mother Teresa is die vadoek met die blou streep wat sy oor haar kop hang. En maand joe, ek hang dikwels 'n vadoek oor my skouer as ek hier in die kombuis doenig is. Ek weet nie of dit tel nie.
Ewentwil, "Elegy" was nie juis iets om 45 minute ver voor te ry en $25 parkeergeld voor te betaal nie. Soos ek gedoen het.  Alles het so statig en stadig verloop en geen tutus nie, net rokke. Darem pointe skoene!
Maar die volgende een, oor 2 weke, is The Merry Widow met Lehar se musiek en plenty lavish costumes en flashy steps, ek sien uit daarna. Soos K altyd sê wanneer ons uit die fliek kom en nie juis veel vd prent gedink het nie: you win a few, you lose a few. En ek moet sê ek het met die ballet meer kere gewen as verloor.
Dit was maar 'n stil week - ek het 'n lae profiel gehandhaaf, luilekker geleef en die meeste gemaak van my stil, netjiese en manlose huis. Ek het Dinsdag saam met Joan gaan tee drink by die Forest Hill winkels en verder het ek net by die huis gebly met kort uitstappies na my plaaslike winkels of 'n entjie se stap net om vars lug te kry.
Donderdag het ek weer in 'n pampoen verander toe K vir D op Tullamarine gaan haal en hom op my voordeur kom aflewer het. Gelukkig het hy direk van Kaapstad af gekom waar hy by Susan tuisgegaan het terwyl hy sy familie daar besoek en sy navorsing by GISA in St/bosch gaan doen het. Su het daarop aangedring om al sy wasgoed te doen sodat hy my nie hoef aan te presenteer met 'n tas vol vuil klere wanneer hy hier inklok nie. 
Sy het ook vir my twee skerp groente-messies en drie Woolworths-broeke gestuur. Ek is baie bly oor al dit. Die dosyn W/W broeke wat sy jarre gelede vir my saamgebring het toe sy hier gekuier het, is nou al ragfyn: so dun gewas soos duur sykouse en baie van hulle is reeds weg na die Goue Broeklaai in die Hemel. Saliger.
Ek het ook, in die weke van D se afwesigheid, my hele vrieskas vol gekook. Ek het frikkadelle gemaak en kerries en casseroles en chili con carne en beesstert en alles wat die moederhart begeer. En sop. Appels ook gestowe en in klein bakkies gevries vir poetieng.
As ons toegesneeu word en wekelank afgesny is vd buitewereld, sal ons nie omkom vd honger nie, ons sal selfs die bure kan kosgee. As die hoop sneeu tussen hulle jaart en ons s'n nie te hoog is nie en ek vir haar 'n bakkie sop kan aangee.   
K het Vrydagaand hier geslaap. Ons het Classic Movie Night gehou en The Sea Wolves gesien, met Roger Moore, David Niven en Gregory Peck. Waar is die dae toe ons opgedres in die Capitol gesit het op 'n Saterdagaand, boksie Dairy Milk op die skoot. Of Black Magic, soos die geval mag wees.
My niggie Charlene het bevordering gekry tot Warrant Officer (dis glo bokant 'n sersant) en sy is nou in Pta gestasioneer. Man en kind sal in tuisdorp aanbly, en Charlene sal elke tweede naweek huis toe gaan. Ek hoop dit werk uit vir hulle. Hy werk vd huis af so hy kan house husband wees en die kleine grootmaak. Hy sal 'n beter job as Fritz moet doen want sy skoonma (Miesies Coetzee) woon nie in nie!
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren en ek gaan nou my dag in rat kry - lank genoeg hier die oggend gesit en wegfritter.
Menig groetnisse van h tot h.
YYY XXX Suster Katryn