Tuesday, May 7, 2013

Skoonfamilie Val vd Takkie Af



Saturday


Die Joodse Sabbat het gekom. Dis nou nie so goed soos ons eie H/S wat ons ken en liefhet nie, maar nouja. Hoekom dink jy is hulle s'n Saterdag? Dis dan dieselfde Ou Testament wat aankondig die sewende dag moet jy hande gevou sit. Miskien tel hulle van Sondag af en ons van Maandag. Wat sal ek ook weet, ek werk my vingers tot op die been 7 dae in die week, jy weet hoe sloof ek my af.

Pasede Woensdag is D se Antie E oorlede daar in Harare. Ek is nie seker wat sy makeer het nie. Die vorige week het ek van haar seun, D se neef G, e-mail gekry; hy het gemeld sy ma is nie lekker nie, maar hy het nie daaroor uitgewei nie. Toe stuur hy Donderdag tyding sy is dood, en of ons asseblief haar broers, D se Ooms kan laat weet want hy kan nie hulle adresse of nommers in die hande kry nie. Daar sit hy met sy twee hande op 'n rekenaar vir my en tik, maar hy kan nie die nodige klawers slaan om die SA telefoongids op te tower nie. Duh.

Vandag het ek K-Mart toe gegaan om 'n gloeilamp te gaan koop vir my nagliggie[1], en toe ek verby die Barbie World stap, toe sien ek hulle het nou 'n "sleepover bed": as jou gabbas kom oorslaap, dan het jy hierdie Barbie-lilo wat jy opblaas: dit kom met pienk kussing en doona cover, met prentjies van Jy-Weet-Wie daarop. Daar is ook 'n Barbie 2-seater rusbankie, seker waarop jy en jou gabba sit om julle Barbie Rapoensel Video gade te slaan voor julle kamer toe gaan en baklei oor wie in die gewone bed en wie in die Barbie-bed gaan vietata.

Ek sien hier in jou laaste brief kondig jy aan jy het nou die 1. trap-stapper in jou huis – daarvan het ek ook nie gehoor nie, dis vir my net so 'n geheim soos 2. die Billies se Argentiniese trip. Ek wil alles daarvan hoor as jy weer skryf. Het jy nie meer lus om saam met Leia in die straat te stap nie? Is dit te koud of is daar booswigte? Kom uit met die ware verhaal.

Carole wil hê ons moet hulle Oktober in Perth ontmoet en dan moet ons 10 dae saam vakansie hou van 2 tot 12 Okt – met die kus suid af ry tot by Margaret River. D het nie lus nie, hy gaan einde Okt Perth toe vir 10 dae by Patrick bly en rugby kyk. Hy het klaar bespreek, hy het sy vliegtuig- en rugbykaartjies, as hy nou aan die begin van Okt ook moet gaan, moet hy of 'n maand wegbly of hy moet tweemaal vlieg. Perth is ver, dis 'n duur storie en buitendien het hy ander verpligtinge – hy doen mos konsultasie-werk vir prokureurs hier, re belastingsake. Ons sal maar moet herskeduleer vir vroeg vollende jaar. Wanneer kom jy kuier?

K deel mee sy het geregistreer vir haar MA by een van Sydney se universiteite, een wat naby haar werk is en die klasse wat sy moet bywoon is in die aand – sy kan stap soontoe. Hulle gee haar krediet vir al die MA werk wat sy reeds in Europa gedoen het. Moet my nie vra wat sy bestudeer nie, sy het my gesê maar dit is so vreemd vir my dat ek reeds vergeet het. Jy sal tog ook nie weet wat dit is nie, ons is te oud en ons koppe is te plat.

Ja, J het my vertel sy wil stories skryf – sy wou 'n How-To boek bestel van Amerika af, maar die internet-betaal-besigheid wou nie Rande aanvaar nie, toe vra sy of ek dit vir haar sal bestel, wat ek wel gedoen het en vir haar aangestuur het. Ek sien ons local biblioteek het 'n kompetisie wat September sluit, ek wil dit vir haar aanstuur en hoor of sy 'n storie wil instuur, die eerste prys is $1,500: nie te versmaai nie.  Jy moet in Australia woonagtig wees, maar wat sal hulle weet, sy kan my adres opgee.

H hol rond soos 'n afkop-chook want hulle laat die matte uitruk, die vloere skuur en seël, die huis uitverf en 'n nuwe kombuis insit. Hulle bly al 25 jaar in die huis en dit is nog nooit opgeknap nie. Nou gaan hulle al hulle goed stoor en vir 4 tot 6 weke in 'n gemeubileerde woonstel bly. Sy sê dis 'n stryd om alles te pak en 'n kwarteeu se opgegaarde goed weg te gooi. Sy kan nie van haar oudste 2 kinders ontslae raak nie; A is 26 en C 22 en albei het klaar studeer en het goeie werk. Hulle wil nie die gratis hotel ontruim nie. Dis glo 'n stryd om almal in te pas in die woonstelletjie, hulle kla en baklei oor wie meer spasie het as die ander.

Nouja, hier is ons weer by when you come to the end of a perfect day ….. (Mev Germishuys het altyd vir Ma so geïrriteer as sy saggies in haar sakdoekie snik by die aanhoor van Webster Booth en Anne Ziegler wat sing vd end of the perfect day. Mev. G was 'n professionele weduwee, hare was die vinnigste sakdoekie in die Weste – laat dit net lyk of iemand anders meer aandag kry, dan is dit tyd vir diep sug en as dit nie die gewenste uitwerking het nie, volg die sakdoekie. Pa was altyd vir haar jammer, hy het haar elke Sondag vir ete genooi, hy het nie deur die sakdoek gesien nie.)                                    Menige groetnisse

Suster K




[1] Toe julle hier was, het R gekla dis so donker in daardie kamer, en hy was reg.  Ek hou daarvan om my glas water te kan sien as ek wakker word, of wat ookal benodig word. Toe koop ek vir my 'n klein bedlampie en ek neuk 'n blou 25-watt balp in hom: laasnag het hy geblaas na ses mannde diens. Balps beteken vandag niks.  Vandag het hulle nie blou gehad nie, toe koop ek groen. Onthou jy as 'n mens trein ry op die Trans-Karoo, dan is daar so 'n groen gloeilampie wat jy heelnag kan aanlos. Vanaand lyk my kamer soos 'n trein.

Die Tandarts se Handdoek



Liewe Sussie,                                                                      

Ek hoor niks, nou skryf ek maar. Gister 'n "brief" van Alice ontvang, gedikteer aan haar amanuensis. Sy het ook 2 tekeninge gemaak, van 'n meisietjie wat ek glo syself is, maar baie trek op Barbie! Sy teken baie oulik, maar dit weet jy al. Ek het vir haar teruggeskryf, soos Ma my geleer het. Miskien kan ons van haar 'n korrespondent maak, dis 'n uitsterwende begaafdheid. Die Viktoriane was die laaste ywerige beoefenaars vd kuns. Ons is in die verkeerde eeu gebore.

Die Sondag voor K weg is, het haar vriendin Shelley hier vir haar kom kuier: hulle het by die Wh/Hill pub gaan eet, ek het hulle tienuur gaan haal en toe het hulle hier onder in die flet gesit en tennis kyk tot baie laat. Ek het vir Shelley gesê sy hoef nie op te staan as ons vir K lughaaaawe toe neem nie, sy kan maar later opstaan, vir haarself iets te brekfisse neem hier bo, en net die deur agter haar toetrek as sy ry.  Nouja, Sussie, K het 8vm na bo gestyg, haar lakens en handdoeke in die londrie gesit en gerapporteer dat sy die ou stof-laken oor die bed gegooi het, soos ek haar opgedra het. Ek het nie verder daaraan gedink nie en die vollende dag het ek die wasgoed gedoen. Ek het nie die lakens en handdoeke getel nie, ons s'n was ook in die bondel.

Wil jy glo, toe ek gister daar na ondertoe gaan vir die eerste maal, kry ek Shelley se bed so onopgemaak en in die badkamer lê haar klam handdoek op die vloer in die hoek en ruik al na kaas. Hoekom het ek gedink sy sou haar laken, sloop en handdoek bo in die waskamer kom sit en die doona netjies oor die bed los? Dis nie of sy 'n skebango is vd verkeerde kant vd spoorlyn nie, sy is 'n tandarts en haar ouers woon nie in die slums nie. Ek het niks vir K gesê nie, watter heil sal dit bring?

Thursday, June 19, 2003


D het sopas vir my 'n brief gebring van jou, waarin jy meld dat die Billies Argentinië toe is. Dit is nuus vir my! Waar bly die kleintjies? Ek hoop nie by jou nie! Daar is seker 'n tussenin-brief wat ek nog nie gekry het nie, waarin alles duidelik sal word.

Sunday, June 22, 2003


Nouja, die H/S is weer op ons, soos die Filistyne. D is vort om te gaan bowl, dis 'n heeldag-geleentheid. Hy is hier weg met 'n lunsboksie wat ek vir hom gepak het – 'n paar skywe sappige pienk roast beef met mosterd, 'n stukkie kaas en 'n hardgekookte eier. Sy Atkins-dieet is nog in volle swang, ek weet nie of hy gewig verloor nie, maar hy geniet al daardie vleis, vet en cholesterol, wie is ek om beter te weet.

Gister was ek by K-Mart om vir my die jongste H. Potterboek te koop wat pas verskyn het. K-Mart se prys was $27 en die boekwinkel s'n $42. Ek het my die onmin vd boekwinkel-dame op die hals gehaal want toe ek daar verbystap, is daar 'n tou van drie ouma's elkeen met 'n H Potter onder die arm, en toe kondig ek aan die boek is teen $27 beskikbaar by K-Mart, waarop al drie hulle eksemplaar neersit en uitstap. Die een by die toonbank het al haar beursie in haar voorpoot gehad, maar sy het hom net daar toegeknip. If looks could kill …..

Anyway, op my omswerwinge deur K-Mart het ek by die kaartjie-afd aangedoen om 'n happy birthday-tieket vir Sue te koop, want sy verjaar 16 Julie. Daar het hulle die mooiste pienk en silwer Barbie-verjaarsdagkaartjies! Amper het ek een gekoop vir vollende jaar, maar toe dink ek 'n jaar is 'n lang tyd in 'n vyfjarige se lewe – by vlg Mei is Barbie dalk nie meer die flavour of the month nie en dan sit ek met 'n happy birthday-kaart wat niemand anders sal waardeer nie!

Vanaand kom Jacques weer sy voetens onder ons eetkamertafel instoot; sy vrou is nog steeds reisende deur die Vaderland. Sy is vandeesweek in K waar sy Jacques se ma en sy ouma gaan opsoek. Dis baie sleg as 'n mens so oud word dat jy saam met jou ma in die ouetehuis bly. Ek kook oxtail want dit is koud. Ek hoop hy eet dit, maar indien nie, sal hy maar uit ordentlikheid 'n paar mondevol moet afwurg, wat kan hy doen. D sal wel vir hom 'n glasie rooiwyn daarmee saam skink om die ergste smaak uit sy mond te kry.

Ek gaan Woensdagaand ballet toe saam met my vriendin Alison. Ons gaan vroeg, dan eet ons eers in die teater se kafeteria. Ons gaan lank neem om daar te kom, want ek bestuur nie in die nag as ek dit kan help nie, en Alison is te suinig om die $3.50 tolgeld te betaal vir die snelweg, so ons trek moeisaam deur die voorstede waar die spoedgrens 50 is. Ek het al aangebied om haar die $3.50 te gee, maar sy kry skaam om te sê sy is te suinig, nou maak sy of dit 'n beginselsaak is. Sy kan 'n snelweg-tieket bekostig: haar pa het haar 'n woonstelblok in die stad nagelaat plus 'n kwekery en watter sikkels silwer hy ookal in die bank gehad het. Sy het die kwekery verkoop, maar die woonstelblok het sy nog; daar is 2 verdiepings met 4 woonstelle op elk. Maar Sussie, sy klem 'n muntstuk vas dat onse queen  se ogens traan.  Sy (die queen) sal so bly wees as ons 'n republiek word en sy hoef nie meer op ons muntstukke te sit vir knyp-doeleindes nie. Ag, nouja, elkeen het sy dingetjies en 'n mens moet jou vriende aanvaar met al hulle vratte – ek doen stellig weer iets wat Alison dink is simpel! (Soos bv op die snelweg ry)

Groetnis van huis tot huis!

Huisgaste is 'n Bokker


Liewe Sussie,

Hier sit ek op die H/S en luister hoe val die reën  buite. Ons is almal baie bly oor die reën – die droogte byt nou al jarre lank sleg hier by ons. Ons hoop dit beteken 'n nat somer, want ons het 'n droë winter gehad.

Meanwhile, soos 'n mens se manier maar is, is ek nie net sommer dankbaar nie, nee, ek wens dit het liewer gewag tot vollende naweek om te reën, want K en 'n klompie van haar vriende het gaan uitkamp in tente.  Gelukkig het sy 'n stasiewa en sy het gesê as dit reën gaan sy haar tent se matras agter in haar stasiewa sit en daarin slaap.

Onthou jy hoe graag wou die kleintjies altyd in 'n tent op die gras geslaap het? Dan kom hulle in die vroeë ure bedremmeld ingestrompel met die bersie wat hulle agternasleep. So sal nuwe Boetie seker ook wil doen in die krismisse wat kom. Ek hoop hy het ook 'n niggie met buskaartjies.

Verder kan ek aankondig dat my huisgaste Vrydagoggend ingeklok het. D het hulle op die lugaaaawe gaan haal. Ek was by my Voetvrou saam met Carla soos gewoonlik, en agterna gaan ons altyd lunch by die RSL. Ek het nie gedink dit is nodig om my reëlings te kanselleer nie want D is 'n ongestremde volwassene en hy kan vir sy familie toebroodjies maak vir lunch.

May is in die hospitaal, sy het diverticulitis en dit het geïnfekteer geraak. Hulle het gedink sy moet dalk 'n operasie kry om deel vd derm te verwyder, maar gelukkig kon hulle dit met anti-biotika onder beheer bring.

Sy was 3 dae op 'n drip maar van gister af gee hulle vir haar vloeistof om te drink en jellie om te eet. Hulle wil haar nie laat huistoe gaan voor sy op solids is nie. Sy woon alleen en sy is 82 en hulle wil nie dat sy gaan terwyl sy nog swak is nie. Ek hoop sy kom voor Boetie op Solids, want dis ver om te ry na Box Hill se hospitaal toe en ek is reeds op daarvoor.

Ek doen my Flo Nightingale impersonasie, want May het nie familie nie en haar vriendinne is merendeel so oud soos sy. Gelukkig het my vriendin Marlene, die een wat ek op die trein ontmoet het en wat nou ook aan my boekklub behoort, ook vir May onder haar vlerk geneem en dit help baie. Maar Marlene is weg vir die lang naweek so ek is Giepie en schlepp elke dag hospitaal toe.

Vrydagmiddag het ek vir my gaste gesê verskoon my, ek moet hospitaalbesoek gaan doen. Ek is halfvier hier weg, halfuur se ry soontoe,  20 minute vertoef en toe groet ek vir May en ek vat die pad huis toe ten einde die spitsverkeer te vermy. Famous last words.

Ongelukkig was dit die Vrydag voor die lang naweek, plus daar was 'n ongeluk by 'n treinoorgang in een vd besigste hoofpaaie ('n groot vragwa het probeer on oor die spoor te glip voor die hekke sak, en dit nie gemaak nie – die trein het sy agterstewe gestamp, trok dwarsgeswaai oor drie bane verkeer, 'n hele gemors.) Die verkeer was baie sleg, ek het 'n uur en 'n half huis toe gery.

Tuis aangekom, het ek geweier om kos te maak en ons het gaan eet by die kerrie-keffie. Gister het D natuurlik, true to form, gaan bowls speel en moes ek sy familie entertain. Ek het hulle na Brandon Park toe saamgeneem want ek moes my droogskoonmaakgoed gaan haal daar. Ons het daar gekoffie en getoebroodjie vir lunch, en huis toe gekom. Drieuur het ek hulle by The Glen se mall gaan aflaai en ek is hospitaal toe, ek het hulle vyfuur weer gaan haal. Hulle het heerlik geshop, hulle is Amerikaners met slopemmers vol geld.

Vandag gaan ons pub lunch en vanaand is 'n toebroodjie hulle voorland. Maandag gaan ons baaiskoup toe en sommer lunch daar by die sentrum, ek sal sorg dat hulle genoeg eet dat dit in die aand weer net toebroodjietyd is. Dinsdag vertrek hulle op die Great Ocean Road saam met Die, ek gaan nie saam nie. Ek pleit Flo Nightingale verpligtinge.

Later in die aand

Meanwhile het K huis toe gekom, dis te nat by Wilson's Promontory en die kampeerders het tou opgegooi: van hulle staptoer het niks gekom nie. Sy is saam met Rebecca huis toe, more is vakansie en hulle sal in die natuurreserwe naby Bec se huis gaan stap, die voetpad is geplavei en jy kan 30km doen as jy hom van begin tot end volg.  Melbourne is onde rwater en modder, ons het baie reën gehad. Ons is baie bly – daar het ook baie reën in die opvang-gebiede geval.

Ek is nou baie uitgekuier vir my huisgaste, hulle is glad te tuis. Sy vlieg orent en vra wie wil tee hê en hy bied vir D 'n bier of 'n glasie wyn aan. Ek was lus om uit te wys dis ons huis en hulle is die gaste. Ek moes vanaand my voet neersit want toe ek sien is sy in die kombuis en sy vra vir my hoe skakel 'n mens die oond se grill aan, sy gaan toasted cheese maak. Ek moes sê nee, ek gebruik nie die grill nie want ek wil nie vetspatsels in my oond hê nie, as hulle wil toebroodjies hê, sal ek dit maak, sy kan gerus gaan sit.

Ek moes hulle gister in die bek ruk oor die skottelgoed. Mind you, dis nie die eerste keer nie, ek het dieselfde moeilikheid gehad met Pat toe hulle hier gekuier het. Hulle wil die skottelgoed was. Nee, sê ek, ek was nie met die hand skottelgoed nie, ek sal dit in die skottelgoedwasser pak. Maar as ek my rug draai, dan was hulle die teekoppies en die glase in die wasbak.

Ek het net gewag tot sy hulle klaar afgedroog het en vir my vra waar moet sy dit bêre, toe sê ek: "in die skottelgoedwasser". Maar sy het dit gewas, dis skoon, sê sy. Nee, seg ek, dis nie skoon nie, jy kan nie jou hande in kookwater en caustic cleaner steek nie, dis hoekom ek jou gesê het jy moet asseblief nie die goed was nie.

Moenie eers praat van wasgoed ophang nie! Daar is nie eers van haar wasgoed by nie, maar sy wil dit ophang. Jy weet hoe fussy is ek oor wasgoed ophang. En sy neem nie nee dankie vir 'n antwoord nie, ek het die foon gaan antwoord en toe ek terugkom, het sy alles opgehang. Ek moes alles afhaal en weer ophang. Sy het niks op hangers gesit nie, die goed dubbel oor die draad gevou en met penne vasgesteek, die T-shirts gryp sy aan die middel, rek hulle uit en pen hulle vas sodat hulle diamantvormig droog word met sulke tepels waar die waspen gesit het. Sy het gesê sy wou net help, sy is jammer sy het dit nie na my sin gedoen nie.  Wat moet ek nou sê? Watter deel van NEE DANKIE verstaan sy nie?

Ag, Sussie, ek word ook maar meer onverdraagsaam en bitchy hoe ouer ek word. Ek reken net, hoeveel langer het ek nog om te leef? Ek gaan nie die tyd wat nog tot my beskikking is, mors deur enigiets te doen wat ek nie wil nie.

Nou het ek heel brief net knaend gebiets en gekla en lelik gewees oor my skoonfamilie wat net behulpsaam wil wees.

Ek was by die dr vir my bloedtoetse se uitslae – alles is 100% - geen suiker of cholesterol of wat ookal nie. Ek het geen bloeddruk-foute of enigites nie. Ek het goeie gesond-genes by Ma geërf. Dankie Ma!

Meanwhile het ek vir die dr gesê my pa is aan dikdermkanker oorlede en sy stem saam dat dit 'n goeie plan is vir my om 'n colonoscopy te kry. Sy het vir my die pampiere gegee asook die purgeermiddel wat 'n mens die vorige dag moet drink. Ek moet nou net die hosp bel vir die afspraak. Ek sal net wag dat die stof gesak het en K ook getrek het, dit sal seker so oor 2 weke wees. Gelukkig is dit net 'n halfdag-prosedure.

K het 'n geskikte woonstel gekry, dit is mooi ruim, naby die stad in 'n goeie woonbuurt, $250 per week, een slaapkamer, parkeerplek en 'n sekuriteits-voordeur in die gebou. Enigste nadeel: daar is nie 'n aparte lontrie nie, maar daar is plek in die badkamer vir 'n wasmasjien. Ek is ook nie baie bly oor dit op die grondvloer is en daar nie diefwering is nie. Maar nouja, dit is Melbourne hd en nie Jhb nie. Dis naby die trein en trem, sy sal meesal nie haar kar hoef te gebruik nie.

Nouja, Sussie, die brief is maar simpel, maar hopelik hou jy vd illustrasies!

Liefde en groetnis,