Sunday, April 24, 2011

Boekklub, koek en tee

Liewe Sussie,
Ons is nog 'n week nader aan tandeloosheid en die ouetehuis.
Ek het nie vreeslik baie om te rapporteer nie. Ek het toe Brighton Rock gaan sien, maar ek kan dit nie juis aanbeveel vir lighartige ontspanning op 'n Sondagmiddag nie. As jy lus het om 'n wrede psigopaat se manewales te sien, dan moet jy dit egter nie misloop nie. 
Ek was by die 5pm vertoning en agterna het ek by die noodle bar ingestap en 'n bak Singapore noodles en 'n lemoensap opgesmul vir my aandete. Ek het soos gewoonlik vir die wis en die onwis 'n boek in my handsak gehad. Soos American Express se advertensie sê, never leave home without it.  Dit raak net al hoe moeiliker om 'n boek te kry wat in 'n handsak pas!
Maandag was toe boekklub by my huis, maar daar was net ses van ons, die ander vyf het almal 'n skeet of 'n ander afspraak gehad. Twee was siek, twee was uitstedig en niemand weet waar Laurie was nie - sy daag selde op en laat nooit weet nie. Ek skaam my om te sê sy is oorspronlik van my geboorteland af - ek sou gehoop het sy moet beter maniere hê.
Ewentwil, dit was 'n baie aangename oggend soos gewoonlik: lekker gesels, koek geëet, tee gedrink, boeke uitgeruil en dit was eenuur voor die laaste gas vertrek het.
Dingsdag het ek en Joan gaan koffie en brunch - ons het 'n toebroodjie bestel - myne was hoender en avokado. Joan hou van ham, kaas en tamatie en bestel dit altyd. Sy eet ook nie haar slaai wat hulle saam met die toebroodjie bedioen nie, so ek erf dit altyd. Ek erf ook Pauline se slaai as ek saam met haar gaan eet, sy eet nie slaai of korsies nie. Maar ek eet nie Pauline se korsies nie, net haar slaai!
Woensdag moes ek vir Helen ontmoet vir koffie om 4.30, as sy vd werk af kom, maar ek was nie lus vir haar klagtes oor haar selfsugtige man en stout kinders nie, toe reël ek om dit liewer vlg week te doen. Ek het egter wel in die oggend saam met may gaan koffie drink en biblioteekboeke omruil.
May het vir my die manteltjie teruggebring wat ek gebrei het en vir haar gegee het om 'n rand om te hekel. Ek kan nie hekel nie. Ek het die manteltjie gebrei vir Pauline se verjaarsdag en ek sal dit Sondag vir haar gee. Ek sal haar afneem met die ding aan en vir jou die kiekie stuur.
Ek hou Sondag 'n middagtee vir Pauline se happy birthday. Die okkasie was 2 weke gelede, maar Sondag is die eerste datum wat al die gaste pas. Daar sal nie baie gaste wees nie, net haar dogters en K en May en Carla. Ek gaan 'n wortelkoek bak, en ek sal by die plaaslike bakker 'n mud cake bestel met haar naam op. Happy Birthday Pauline.
Hulle noem nou wel die ding 'n modderkoek maar dis die heerlikste ryk tjoklitkoek wat jy jou kan verbeel. Gekoopte koek is baie lekker in my nuwe land. Ek kan onthou in die ou dae, in Jhb, as jy 'n koek koop, is hy droog en as dit nie 'n tjoklitkoek is nie, dan is hy so geel. Die aaisieng was altyd te pienk. Of te groen. Gekoopte koek was sleg, behalwe by die tuisnywerheid-winkel. Hier kan jy maar koek koop, dis altyd lekker.
Ek het tamatiekonfyt gekook en toe ek dit bottel, toe glip een botteltjie uit my rumatiek-vingers en val gelukkig in die opwasbak. Die deksel was nog nie op nie. Die warm jam het hoog teen die venster gespat, ek moes vir D kry om dit af te was, ek kon nie bykom nie. Wat 'n taai gemors. Gelukkig niks op die vloer of op my nie, ek kon lelik gebrand het.
Gister het ek appelkoosblatjang gekook. Dis nie te wonderlik nie, ek het gedroogde Turkse appelkose gebruik. Hulle is taamlik smaakloos. Ek sal dit maar 'n week of twee in die kas los om ryp te word, of wat blatjang ookal doen.
Ons hou lang naweek, vyf dae want hd jaar val Anzac Day ook saam met die Paasnaweek. Caroline is weg na Byron Bay saam met 'n groep vriende. Hulle het 'n huis gehuur en blykbaar is die weer heerlik daar bo in Queensland want sy SMS nou en dan hoe heerlik sy swem in die see. Daar is 'n musiekfees aan oor die naweek en hulle het kaartjies vir twee van die vyf dae, wanneer die orkeste optree wat hulle wil sien. Of hoor. Ek is so bly ek hoef nie daar te wees nie, daardie lawaai sal my tande laat pyn.
Verder niets dan bladeren.
Ek hoop die Paashasie het sy opwagting by jou huis gemaak met 'n vol mandjie heerlike Belgiese tjoklits! Jy moet vir Johannes sê hy moet sy oë oophou vir eiers wat die hasie dalk in die tuin weggesteek het.
Baie YY en groetnis van Suster Katrien ¯¯


Nog 'n Week in sy Maai

Liewe Sussie,                                                                      Sunday, 17 April 2011
Ek het sopas 'n tjoklitkoek uit die oond geruk want more is dit boekklub by my huis en ek moet iets bak vir die dames om te verorber. Ek het hom sommer ook 'n Paasfees-koek gemaak!
My boekklub het net een reël en/of regulasie: wanneer dit jou beurt is, mag jy net een ding verskaf om te eet. Anders word dit 'n bak-kompetisie. Party dames koop 'n pakkie tjoklit-biskits, ander bak iets. Maar ewentwil is daar net een bord eetgoed op die tafel. Tee en koffie soveel as nodig.
Dit is eintlik Alison se beurt, maar sy het my gevra om te ruil want sy het iets anders aan. My beurt sou vlg maand gewees het. Ek worry nie, dis geen vel van my neus af nie. Ek het net vir haar gevra om die nuwe boeke te koop, want ek het reeds my twee boeke vir vlg maand bestel van The Book Depository af op die internet, maar ek weet hulle sal nie betyds hier wees vir more se boekklub nie.
The Book Depository, of soos K dit noem, The Book Suppository, is in Ingeland en die boeke kos helfte vd prys wat jy hier in die winkels sal betaal vir hulle. Posgeld gratis. Shym, die boekwinkels hier is besig om bankrot te gaan - hulle maak een vir een toe. Mense koop boeke op die internet, dis soveel goedkoper. Daardie verkopers hoef nie huur te betaal nie en hulle hoef nie 'n groot personeel te hê nie, want alles gebeur outomaties.
Ek koop nie dikwels boeke nie want ek maak gebruik vd biblioteek, maar nou en dan koop ek wel iets, en hoekom sal ek duur betaal in 'n winkel as ek dit soveel goedkoper kan bestel aanlyn?  Ek is nou jammer as ek aandadig is aan die Afsterwe vd Australiese Boeke-bedryf, maar nouja, you have to look out for Number One en ek is 'n spensionaris!
Dinsdag was ek by die dr om my griepinspuiting te kry. Ek wou ook my jaarlikse bloedtoetse laat doen, maar sy het my net die papier gegee en ek moet op 'n ander dag met 'n nugtermaag terugkom, want ek het reeds ontbyt geëet.  Ek sal vlg Woensdag gaan, want ek het andersins elke dag iets aan die gang. Gelukkig is dit nie dringend nie en kan wag tot ek 'n opening het in my besige kalander!
Woensdag het ek vir Alison ontmoet dat sy my die nuwe boeke kon gee. Sy het een gekoop wat gaan oor die Serengeti en die ander een is die jongste Donna Leon: Drawing Conclusions. Ek weet nie of jy vir Donna Leon by die bekentenis het nie, maar ek kan haar boeke aanbeveel. Hulle speel af in Venisië.  Ek het my kans waargeneem om die Donna Leon te lees voor Maandag se boekklub, en dus kon ek my bestelling daarvoor by die biblioteek kanselleer.
Donderdag het ek my hare laat sny - ek was terug by Madeleine maar ek hou nie van die jop wat sy gedoen het nie. Sy het sulke afdakkies bokant my ore gesny, en happe uit my agterkop. Daar staan sulke "tufts" orent. Wat is tufts op Afrikaans. Tofte. Daar staan sulke tofte orent. Daar het jy 'n splinternuwe Afr woord. Almost as good as a bought one! Dis wat my landgenote sê wanneer hulle van iets hou.
K het Vrydagaand ingeklok nadat sy haar weeklikse inkopies en wasgoed gedoen het. Ons het Classic Movie Night gehou en gekyk na die DVD van Stalag 17. Jy sal dit onthou. Billy Wilder het dit gemaak. Daar is nie so iets soos 'n swak Billy Wilder-prent nie. Some Like it Hot! Sunset Boulevard! Double Indemnity!
K het ook daarvan gehou - sy hou van die ou prente wat sy nie ken nie. William Holden was nuut vir haar. Sy is altyd geskok omdat almal rook en sy lag vir die mans se broeke wat so hoog in hulle middels sit. Why do they pull their pants up to their armpits? Why does nobody wear a tracksuit?
Vanoggend het sy weer gaan Hansie Slim teen die thousand steps op en sy het my vertel van die een dame vir wie sy gereeld daar sien, wat haar arms so hoog bo haar kop swaai as sy stap. Sy het glo gewiggies aan haar polse. Ek gaan nie die Dandenongs op stap nie, met of sonder gewiggies! Die vrou behoort quarter boots aan haar enkels te dra, dan kan sy haar voete so hoog optel soos 'n skouperd.
Ek gaan wel netnou op my modderkar klim en fliek toe ry. Ek wil Brighton Rock gaan sien. Onthou jy die Graham Greene boek? Ek wonder hoe die storie sal werk op die silwerdoek. Is daar nog so 'n ding soos 'n silwerdoek? Daar is nie meer 'n projektor nie, dis nou alles digitaal.
Onthou jy hoe kon 'n mens altyd die tregtervormige ligbaan sien van die projektor-venstertjie na die skerm? Toe almal nog gerook het, kon jy die wit walms so in die lug sien hang. Hoekom is ons nie almal lankal dood aan gepiekelde longe nie? Nou mag jy nie eers meer in die munisipale parke rook nie.
Hier by ons was daar opgewondenheid omdat ons eie Kroon-Prinses Mary van Denemarke laat kind doop het. Die prinses het 3 maande gelede 'n tweeling in die veld gestoot, 'n boetie en sussie vir Christian en Isabella. In Denemarke hou hulle die nuwe bybies se naam geheim tot die doopdag. Daar was groot spekulasie of die tweetjies dalk name sou kry met 'n Australiese konnotasie. Maar nee, hulle is Vincent en Josephine. Niks daarmee verkeerd nie! Dankie tog dis nie Bruce en Sheila nie. Of Jaydin  en Kylie! Hulle is op oorlede Elvis se verjaarsdag gebore - hulle pa Prins Frederik het grappig gesê dat hulle dalk Elvis en Priscilla kon wees!
Nou wag ons vir die troue van die jaar - mense hou Royal Wedding Parties. K is genooi na so 'n party en sy moet aantrek soos een vd gaste. Ek het voorgestel sy trek haar wellies aan haar voete, sit 'n serp oor haar kop en gaan soos die koningin. Of sy kan by die $2 shop 'n outsize hartvormige bril koop met sequins op en gaan soos Elton John.  
Ek gaan nie R/W Party hou nie, maar ek sal wel die hele spektakel gadeslaan op die tv, want ek wil sien hoe lyk die bruid se rok en watter gaste almal opdaag. Ek wil veral sien hoe lyk ons eie Julia en haar kêrel, Tim die hêrdresser. Ek is seker Tim sal Julia se hare pragtig bloudraai voor hulle vertrek na Westminster Abbey. Dalk sal hy die vorige aand haar wortels optouch in die badskamer ook. Ek hoop nie hy mors op die hotel se handdoeke nie. Of miskien gaan Julia en Tim tuis by die ambassadeurs-woning? Ons ambassadeur het 'n baie grand huis in Londen, ek is seker hy sal 'n spaarkamer hê waar Tim en Julia hulle rugsakke kan neersit.
Nouja, Sussie, baie groetnis tot vollende week en YYY van Suster Katrien  ö

Monday, April 11, 2011

Facebook en Fliek

Liewe Sussie,
Klok ek in in die middel vd week, want hier sit ek en wag vir Gladys om klaar te was dat ek kan ophang en uitgaan. Ek gaan soos dikwels op 'n Woensdag vir May ontmoet vir die tradisionele koffie/biblioteek/shop by Get Fresh.
Ek het gewonder hoekom jou kleindogters nog nie op Facebook is nie, en vanoggend sien ek Irma het wel ingeklok. Al jou seuns en skoondogters is my Facebook-vriende, behalwe Flip wat seker te besig is om hom te bebodder. Nou is Irma en ek ook bevriend op Facebook en lees ek wat sy doen en sê in haar daaglikse wandel.
As ek so kyk na mense wat in Afrikaans skryf, sien ek hulle dink "awesome" is 'n Afrikaanse woord, maar nouja, soos ek al vantevore by jou gekla het, in die Nuwe SA praat die Nuwe Afrikaners nie meer die Ou Afrikaans nie.
Ek moet nie 'n dinosaurus wees nie. Embrace change!  Ek vind dit egter moeilik om vir awesome en nice te omarm en te verwelkom in my moedertaal, maar nouja, die wêreld staan nie stil nie - hy gaan vorentoe en ek moet saam. Wat sou Ma tog gesê het - sy het ons altyd tereggewys as ons praat van "sweets" en "bike".
Nou wonder ek van my Afrikaans-sprekende eertydse landgenote : hoe maak hulle wanneer hulle Engels praat? "I saw a lekker fliek last night"? 
D is terug van Swan Hill af - sy bowls-toernooi het vlot verloop en hy het die "meat tray" gewen. Hy het dit motel toe geneem en sy span het braaivleis gehou - daar is glo fasiliteite vir die gaste om te braai.
My nuwe landgenote wen nie 'n bottel wyn of 'n boks tjoklits nie - nee, as daar 'n "raffle" is, dan is die eerste prys altyd of 'n hoender of 'n "meat platter". Vandaar die uitdrukking as iemand 'n swak organiseerder is: He couldn't organise a chook raffle! Of natuurlik die meer populêre He couldn't organise a piss-up in a brewery! My landgenote verkies altyd die meer vulgêre uitdrukking. Jy sal dink hulle is almal verlangse Brandenberg-familie.
Maandag.
D is toe soos beplan gister weg Hopetown toe - ek het niks gehoor nie, so hy het seker veilig aangekom en speel heerlik. Hy sal glo Saterdag of Sondag terug wees, maar meanwhile het ek 'n heerlike netjiese en stil huis.
Ek het toe pasede Sondag Barney's Version gaan sien, en toe die prent so 'n ent weg is, toe kom ek agter dis die Mordecai Richler-boek van dieselfde titel. Ek is seker jy moes dit ook gelees het, hier in  die sestigs toe Mordecai Richler op almal se boekrak gepryk het. Hy pryk nou nog op myne! Barney's Version is nie so goed soos St Urbain's Horseman nie, maar nouja, daar is nie so 'n ding soos 'n slegte Richler-boek nie, en ek het vd fliek gehou. Paul Giamatti en Minnie Driver.
Maandag het ek 'n hele spul goed gaan koop want ek was Mother Hubbard. Jy weet hoe raak al 'n mens se stapels gelyk op. Ek moes dit liewer die naweek gedoen het toe Karlienhier was, dan kon sy my gehelp aflaai en wegpak het! Newwermaaind, ek het verskeie togte gemaak van kattebak na kombuis.
Woensdag het ek May ontmoet en ek het verskeie boeke en DVDs gekry by die bib waarvoor ek lank gewag het. Hosanna. Of selfs Susanna.
Donderdag het ek saam met Pauline gaan yum cha by die Treasure. Ons was teleurgesteld - dit lyk of die plek van eienaars verander het - ons het geeneen vd kelners geken nie, en die kos was maar baie ordinêr. Die won tons was olierig en die dim sums was louwarm ipv stomend. Daar was baie lekker ginger prawns, maar al die ander happies wat verbygekom het, kon hulle maar in die kombuis gehou het om die kat mee te voer. Ons sal nie gou weer gaan Treasure nie. Volgende keer gaan ons Crown Palace of Shark Fin toe.
Donderdagaand het ek gaan eet by PJ Malaysia saam met Barrie en Judy. Barrie was een van my kollega's by die bib. Hulle is baie aangename mense en ons gaan so elke 2 maande saam eet. Ons het drie disse bestel en alles gedeel.
Vrydag het ek en Carla ons voete laat doen. My voete het breed geglimlag toe hulle vir Michael die Voetvent sien, want ek moes my laaste behandeling oorslaan weens my siekbed. Michael het geknip en gevyl en geskuur en room ingevryf vir 'n vale, en my voete was pragtig netjies, sag en pienk toe ek daar uitstap.
Daarna het ek en Carla gaan eet by die RSL; ons het albei die roast of the day gehad, met heerlike oondgebakte groente. Dit was varkboud hd week. Ek gee altyd vir Carla my crackling want sy hou daarvan en ek nie. Ons het vrugteslaai gehad vir poetieng. Op die "specials" swartbord het daar gestaan die poeting van die dag is "camarel cake", maar ons het maar die vrugteslaai bestel. Ek vertrou nie 'n camarel nie! Ek wonder of is hy familie van 'n caramel.
Maandag
Ek is nou behoorlik uitge-baaiskoup. Ek het Vrydag, Saterdag, Sondag en vandag fliek toe gegaan. Vrydagaand het D saam met sy vriende uitgegaan en ek het op my kar geklim en Company Men gaan sien. Karlienhet dit aanbeveel, en sy was nie verkeerd nie. Dit gaan oor senior mense wat afgedank word in die laaste finansiële krisis, en hoe hulle en hulle families daarmee cope. (Ek kla oor mense wat hulle tale meng en nou weet ek nie wat is die Afr vir cope nie, jy moet maar oorsien! )
Saterdag het ek Certified Copy gaan sien, 'n Frans-talige prent wat plaasvind in Italië, deur 'n Iraniese regisseur. Juliette Binoche het die hoofrol gespeel en sy was briljant soos altyd, maar ek moet sê ek weet nie mooi lekker wat het aangegaan in die storie nie. So met die uitstap het ek gehoor hoe my mede-fliekgangers ondermekaar praat, en ek is klaarblyklik nie die enigste een wat my gavoorwonner het nie!
Sondag het ek The Lincoln Lawyer gaan sien, 'n speur-riller soos ons hulle ken en liefhet. Geen onsekerheid daar nie! What you see, is what you get. Matthew McConaghey en Marisa Tomei. Ek het heerlik agteroorgesit, ontspan en dit geniet.
Vanmiddag het ek The Mechanic gaan sien. Indien jy dit nie weet nie, in die parlance vd onderwêreld is 'n mechanic 'n hit man. Hy het homself uitgehuur om links en regs mense te vermoor, en oor die algemeen het hy 'n goeie job daarvan gemaak. Ek het gedink daar was 'n bietjie te veel ontploffings en te min subtiele beplanning in sy metodes, maar wat weet ek, niemand het my nog ooit gehuur om 'n moord te pleeg nie en wie is ek om beter te weet oor hoe 'n mens te werk moet gaan in sulke gevalle. Die beste stuurlui staan aan wal.  Donald Sutherland het 'n klein rolletjie gehad (hy was een v diegene wat die stof gebyt het) … hy het baie mooi oud geword en is nog steeds 'n goeie akteur, beter in my opinie as sy seun Kiefer oor wie hulle ("hulle"!) so 'n ophef maak.
More gaan ek die dr sien. Dr Elixi. Ek hou van Dr Kate, maar sy werk net saans van vyf tot tien en ek het nie lus om in die aand dr toe te ry nie. Ek gaan vir my jaarlikse griep-inspuiting en vir my jaarlikse bloedtoetse en ek wil ook by haar kla oor 'n uitslag wat ek onder my een arm het. Ek kan net deodorant spuit onder die ander arm, en is konstant bang ek gaan na sweet ruik aan die eenkant. Gelukkig is dit nou herfs en nie mid-somer nie! Ek glo dis as gevolg van al die antibiotika wat ek nou 'n uitslag kry. Hy wil nie weggaan nie. Gelukkig jeuk hy nie, ek wil tog nie loop en krap onder my arm soos wafferse apie nie.
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren, ek sal maar groet dat ek more die brief kan pos. Jy het lank genoeg gewag vir pos, netnou hang jou lip wie-weet-waar as daar nou weer onderbrekings moet kom omdat ek nie betyds by die posbus kom nie. YY en groetnis van K

Saturday, April 2, 2011

Baniere

Liewe Sussie,
Dit lyk al of ons nou begin winter hou. Elke dag hd week het ek die sentrale verhitting aangeskakel in die vroegoggend, net vir 'n uur of twee, en vanmiddag laat weer. Nes die son sak, word dit bitsig koud.
Karlien se vriendin Rachel en haar stap-groep, die Valkyries, het deelgeneem aan 'n 100km stap. Dit begin in die park hier oorkant die straat en kom op die wandelpad agter ons huis verby. Ek en sy het 'n banier gemaak vir hulle en oor ons agterste heining gehang die oggend toe hulle verbykom.  Dit was nog taamlik donker buite om seweuur!
Ek het 'n laken gekoop by die Op Shop vir $3 en stencils vir die letters uitgesny. Ek het eers bruinpapier gebruik (wat Pa altyd vaalpapier genoem het - hoekom?) … ewentwil, die spuitverf het deur die papier gegaan, toe koop ek 'n rol geskenkpapier, wat nie so deurlaatbaar was nie. Karlien het een van dd papier-maskers waarvoor die Chinese so lief is, oor haar ore gehak en die spuitverf-werk gedoen in die carport.
Die stappers se eindpunt was in Warburton, so 60km van Melbourne af as jy met die pad langs ry, maar hulle wandelpad het oor die Dandenongs gegaan. Rachel se groepie het 28 uur en 20 minute geneem om die distansie af te lê. Karlien en Marc het gistermiddag Warburton toe gery en ingeklok by die hotel, heerlik gestap langs die rivier, die aand gesellig geëet in een vd plaaslike restaurante. Marc sê hy het gedink aan die stappers toe hy so heerlik in sy warm bed klim! Dit was koud en mot-reënerig.
Rachel het elke nou en dan ge-SMS om te sê hoe hulle aangaan en hulle verwagte aankomstyd aan te kondig. Karlien en Marc het na 'n lekker ontbyt op die hotel se terras, by die wenpaal stelling ingeneem met hulle banier om vir Rachel en die Valkyries te verwelkom. Twee van die Valkyries is ouer dames - ek sou beslis nie 100km kon loop in my veertigs nie!
Nouja, ewentwil, Marc het so teen tweeuur weer vir Karlien hier afgelaai. Sy het saam met my 'n kommetjie sop genuttig en sy is netnou vort huis toe; sy sê sy is moeg na al die opwinding en sy wil gaan rus … more stil by haar huis deurbring en haar boek lees. Klink na 'n gawe plan vir my. D is weg Swan Hill toe - hy is Vrydag vort en sal glo Maandag weer inklok, so ek kan ook heerlik stil by my huis ontspan, hoef my met geen lawaai of gemors te bemoei nie.
Ek het Dingsdag vir Joan gaan oplaai soos ek elke twee weke doen, maar ipv ons gewone koffiedrink en inkopies doen, het ons gaan kyk na die nuwe biblioteek - wel nie nuut as sulks nie: dit is die biblioteek waar ek en sy saam gewerk het jarre gelede. "Hulle" het hom vir vyf maande toegemaak terwyl hulle hom opgekikker het en ons het gaan inspeksie hou nou dat hy weer oop is. Alles is baie mooi, maar ek sal nie gereeld soontoe gaan nie, dit is te ver.
Daarna het ons gaan eet by Formosa House, die Chinese restaurant daar in die omgewing. Ons het vegetarian spring rolls gehad vir 'n voorgereg, en toe het ons die hoofgereg gedeel - hulle gee altyd sulke groot porsies dat een dis genoeg is vir twee mense. Ons het barbecued pork in plum sauce gehad. Dit was Joan se keuse - so 'n vleisgereg is vir my te swaar vir middagete. Ek sou hoender of 'n vegetariese gereg bestel het, maar die varkdis was nietemin baie lekker, ons kon nie alles opeet nie.
Woensdag het ek vir Christine Barber ontmoet vir tee - sy het 'n DVD van my - dis 'n BBC reeks van Olivia Manning se Balkan Trilogy, met Kenneth Branagh en Emma Thompson. Ek het weer 'n DVD van haar gehad: 'n reeks oor Sister Wendy, die non wat skilderye bespreek. Sy wat Christine is, vertrek eersdaags vir 3 maande na die VSA om haar kinders te besoek, en toe ontmoet ons vir koffie sodat ons die DVDs oor en weer kon terugbesorg. Ek het vir Sister Wendy oorhandig. Maar raai wat? Sy "het vergeet" om myne saam te bring.
Toe sê ek moenie worry nie, ek sal na jou huis toe ry en dit kom haal. Nee, nee, sy sal dit die vlg dag na my huis toe bring. Maar sy het nie opgedaag nie, nou wonder ek of sy die ding dalk vir iemand geleen het en nou naarstiglik probeer om dit terug te kry. Newwermaaind, ek het haar gebel en gesê ek sal dit more kom haal. Ek sal haar nie weer iets leen nie.
Donderdag het my skoonmakers opgedaag en aangekondig hulle gaan vir 'n maand oorsees. Toer deur die VSA en Kanada. Hulle sal oor 2 weke kom skoonmaak soos gewoonlik, en dan eers weer 4 weke later. Ek weet nie of ek jou gesê het haar ma is 2 weke gelede oorlede nie. D sê ewe snipperig hulle het seker geërf!
Vrydag is D vort Swan Hill toe, met 'n groep van 30 van sy klub. Nie saam met hulle as sulks nie, hy het alleen met sy eie kar gery. Swan Hill is so 3 uur ver. Hy wil nie saam met ander ry nie, dan kan hy langs die pad uitdraai en foto's neem en stilhou waar en wanneer hy wil. Dan kan hy ook terug huis toe ry wanneer hy wil. Ek blameer hom nie.
Hulle is almal in dieselfde motel, so dit sal seker gesellig wees. Sy kollega's het glo almal die naweek hulle vrouens saamgeneem, maar hy het my nie eers genooi nie, want hy weet goed ek sal nie saamgaan nie. 
Ek en Karlien het gekyk na 'n Woody Allen-film voor sy vanmiddag huis toe is. You Will Meet a Tall Dark Stranger. Ons het dit bestel oor die internet, want die verspreiders is baie treurig met Woody Allen-films: hulle kom dikwels nie hierheen nie, of eers jare na hulle vrygestel is. Ek weet nie hoekom nie. In SA was dit ook so toe ons daar gewoon het.  Dis nie die heel beste W.A. film wat ek al in my lewe gesien het nie, maar ek het nog nooit 'n W.A. film ontmoet waarvan ek nie gehou het nie.  Nou wag ek vir Midnight in Paris, sy jongste poging, wat in Mei vrygestel word. Sal dit ook seker moet bestel!
Nouja, Sussie, sela tot volgende week. In jou laaste brief kla jy dat daar nog niks van my af in jou posbus geland het nie, maar teen hd tyd het die weeklikse roetine seker al ingeskop.
Menige groetnisse en Y van Katrien