Sunday, January 30, 2011

Burns Night


Liewe Sussie,
Saterdag, flink uit die vere. Ek het gisteraand Gaby se verjaarsdag-koek gebak dat hy oornag kan af-koel, en van-oggend het ek die tjoklit-aaisieng gemaak met botter en roomkaas en caramel essens, en ek het die koek dik besmeer.
Heather het die groot kartonbord verloor wat ek met goue foelie oorgetrek het en die afgelope drie jaar gebruik vir haar kinders se koeke - sy het dit vir iemand geleen. Beeg Mistake! Newwermaaind, ek het hier 'n groot blik-skinkbord en ek het hom met silwer foelie oorgetrek.
Sussie, ek weet jy bak nie koek nie, maar hier is 'n gawe tip wat jy in die oor kan fluister van diegene wat wel koekbak en versier: voor jy die koek neersit, sit drie stukke botterpapier driehoekig neer sodat hulle net onder die koek se rand is, dan kan jy heerlik mors met die versiersel wat langs die kant afloop. Klaar versier, trek jy net die besmeerde papier uit en jou bord is mooi skoon.
Ek het mini choc cupcakes by die bakker gekoop om langs die koek te sit met die 3 kersies op, en ek het 4 sterretjie-suigstokkies in die Wiggles se kleure gekoop vir die ander 4 cupcakes. Die Wiggles is onderskeidelik geel (Greg), rooi (Murray), blou (Anthony) en pers (Jeff). Daardie kleintjies by die paartie gaan rasend wees van al die suiker - ek is so bly ek is nie een vd ma's nie!
Ons het toe Dinsdagaand gaan eet saam met Naomi, Beryl en Stephen. (D het bowls gespeel.) Karlien het 'n bottel wyn geneem want sy weet hulle is te suinig, hulle sal nie wyn bring nie. Die ete was baie aangenaam, en toe die rekening kom, was dit $96 vir die vyf van ons. Na genoeg aan $100 wat maklik deelbaar is deur vyf. Karlien en Stephen het aan die bopunt gesit en sy sê vir hom hier is die $40 vir my en my ma. Nee, sê hy vir haar, kom ons deel dit om die helfte, gee my $50. Die kind was so uit die veld geslaan dat sy maar die ekstra $10 oorhandig het, plus nog $5 wat ek haar aangegee het vir die tip. Sussie, en net toe jy dink nou het jy alles gesien, toe steek hy daardie kontant in sy sak, ruk sy kredietkaart uit en betaal die presiese $96.
Toe hulle by die huis kom, het hulle seker lekker gelag en mekaar gelukgewens met die slag wat hy geslaan het.  Gratis bottel wyn, plus Karlien het vir helfte van sy ete betaal, plus hy het die kelner se tip vir homself ingepalm. Ek het vir D gesê ek gee nie om of dit sy familie is nie, suinig is een ding maar vrekkerigheid is 'n siekte. Hule het geen skaamte nie.
Ek het ook Dinsdag sommer op impuls my hare laat sny, geen afspraak gehad nie. My kapster Madeleine is met vakansie en die ander dames by die salon was besig. Toe stap ek by 'n ander salon in waar ene Maria my die allergaafste haarsny gegee het. Ek is in die versoeking om vir Madeleine die trekpas te gee, Maria sny baie beter!
Woensdag het ek, soos elke 14 dae, saam met Joan gaan koffie drink. Ons sit vir 'n uur of wat oor ons koffie en bespreek die laaste twee weke se doen en late, dan maak ons 'n draai by die boekwinkel om te sien watter nuwe boeke is daar wat ons by die bib kan bestel, dan doen ons 'n bietjie inkope by die supermark. Sy moet altyd katkos koop want haar aristokratiese Burmese kat Mimi is baie lekkerbekkig en eet net so twee dae een soort kos, dan soek sy 'n verandering.
Ons het hd keer baie gehad om oor te praat - ek het my suinige skoonfamilie uitgekryt en Joan haar spandabeliges. Joan se man het 'n suster wat in NSW woon - gelukkig nie in Melbourne nie! Die skoonsuster gee vir Joan opdraand - ek sal jou nie met die details verveel nie, maar sy en N kon familie gewees het!
Donderdag was Burns Day, dit sal seker nie op jou radar wees nie, ondanks jou ouer seuns se Skotse afkoms. Robbie Burns se verjaardag. D het tien van sy bowls-gabbas genooi om Burns Night hier aan huis te kom vier. (Party bring die haggis en ander bring die neeps en die tatties (turnips and potatoes).  Jy kan sien hoekom ek my uit die voete gemaak het lank voor die eerste gaste opgedaag het!
Ek het vir hom die tafel gedek vir tien gaste, en toe klim ek op my modderkar en ek ry na Knox, waar ek 'n bietjie geshop het en toe in die biblioteek lekker gesit en lees het tot ek 'n vriendin ontmoet het by die Lemon Leaf, 'n Thai restaurant waar ons geëet het. Na ete het ons fliek toe gegaan en The Fighter gesien. Mark Wahlberg, Amy Adams en Melissa Leo. Baie daarvan gehou. Jy kan maar inklok by die Village Odeon om dit te sien.
Na fliek weer koffie gedrink want ek wou nie te vroeg by die huis kom nie. Middernag, toe ek in my pampoenkoets voor die deur stilhou en uitklim met my glas-slippertjies aan my agterpote, toe is die party nog in volle swang. Ted speel die bagpipes en almal sing. Ek weet nie wat die bure gedink het nie. Ek het rondom die huis geloop en agter in Karlien se woonstel gaan slaap. Ek het vooraf my nagkabaai en goed daar gelos, vir die wis en die onwis. Ek het my kamerdeur toegemaak en van niks verder geweet nie.
Vollende oggend 'n skoon huis aangetref - D het alles deur die skottelgoedmasjien gesit en weggepak. Hy het ook die wyn-bemorste tafeldoek gewas, asook die mat waar hulle wyn gemors het. Hy sê hy het die laaste drie gaste halftwee in 'n taxi gesit en toe was hy nog meer as 'n uur besig om op te ruim. Hy was gedaan!
Ek het vir hom gesê nou weet hy hoe voel dit om agter 'n dinnerparty op te ruim soos ek al die jare gedoen het. Been there, done that, Sussie, got the T-shirt. Ek cater nooit weer 'n dinner party nie en ek ruim beslis nooit weer een op nie!
Een vd gaste is glo in D se klere huis toe, want hy het 'n glas wyn omgestamp op homself. Vandaar dat die tafeldoek en die mat in die slag gebly het.  Later die dag toe bel die gas en vra waar is sy klere. D sê jy het daarmee in jou hand die taxi bestyg. Hy was seker so besope dat hy dit in die taxi gelos het! Ek hoop nie dit was sy beste bib and tucker nie. Ewentwil, D sê hy gaan nie weer 'n dinnerparty hou nie, vlg jaar kan hulle Burns Night by die klub vier. Ek het vrede, dit het niks met my te doen nie.
Vrydag het ek die May-roetine gevolg: skinny decaf latte en 'n toebroodjie vir my, flat white en cinnamon toast vir haar; boeke omgeruil by die bib; vars groente en vrugte gekoop by Get Fresh - daarna het ek en May ons onderskeie voertuie bestyg en weg huis toe. 
Die vars produkte word nou baie duur, want alles kom van Queensland af en die plase is verspoel. Julia, ons Eerste Minister, het aangekondig sy hef hierdie jaar ekstra belasting - tussen $50 en $100 per persoon, na gelang van jou inkomste. Mense wat vloedskade gely het, hoef nie te betaal nie. Dit sal drie biljoen dollars inbring, wat sal help om Queensland se infrastruktuur te vervang. Die paaie en bruggens en treinspore het weggespoel of is so verswak dat dit vervang moet word. Duisende openbare en private geboue is daarmee heen. Waar moet al die ambagsmanne vandaan kom? Die totale rekening sal seker nader aan agt biljoen wees. Min mense praat teë - ekself dra blymoedig my deel by.
More gaan sien ek Another Year. Ek het vir Karlien gesê as sy wil saamgaan, moet sy my voor 12 laat weet want dis wanneer ek gewoonlik op die rekenaar klim om te bespreek en my kaartjie uit te druk. Dis so lekker om nie hoef tou te staan nie, jy kan jou sitplek kies en alles. By die Village Odeon moet julle seker nog toustaan!
Nouja, Sussie, wederom tot verdere orders.
YY en groetnis,
Katrien

Sunday, January 23, 2011

Wiggles en Boeke

Liewe Sussie,
Ek is flink uit die vere - die son wil-wil oor die horison loer. Ek het vir Gladys 'n bondel wasgoed gegee, ek het die skoon skottelgoed weggepak wat Meraai oornag gewas het, ek het twee hemde gestryk, ek het vir D 'n toebroodjie gemaak om saam te neem na sy bowls-dag en nou sit ek te suie aan 'n kommetjie tee terwyl ek my korrespondensie op datum bring. Ek moet net nie my kop te skuins hou nie, of my ligkrans val af.
Karlien het gisteraand hier geslaap en sy sal vanoggend die berg gaan klim soos Hansie Slim. Sy het nou wel nie 'n stok nie, maar darem 'n hoed. Sy bly gewoonlik so 'n 2 uur weg. Na middagete sal; ons fliek toe gaan, ek wil Catfish sien en ook Another Year, ons het nog nie besluit wat op vandag se program sal wees nie.
Maandag was boekklub en wel by Marlene se huis. Sy was vol bulte en het elke nou en dan gekrap soos 'n hond met vlooie, want sy het 'n allergiese reaksie gehad weens anti-biotika wat haar dr haar gegee het vir 'n long-infeksie.  
Drie van ons lede het nie opgedaag nie en Marlene was die donner in want nie een van hulle het haar laat weet nie. Sy het baie moeite gedoen om 'n gluten-vrye tert te bak vir Alison wat vol fiemies is. Marlene reken as jy nie kan kom nie, moet jy bel en verskoning maak. Ek stem saam, maar ek sien nie hoekom dit nodig moet wees om vir mense dit te sê nie. Hulle moet dit mos self weet! Ek kan sien daar broei 'n vete. Ek hou my daaruit.
Dinsdag het ek gaan koffie drink saam met Heather (ma van die twee "feral" kinders Athan en Gaby) en haar skoonma wat hier kuier uit Holland. Skoonouers is Arie en Els. Ek kuier altyd lekker saam met Els, sy praat Hollands en ek Afrikaans en ons kom goed reg.
Heather het my opgekommandeer om Gaby se derde verjaardagkoek te bak. Sy bak nie. Dit moet 'n Wiggles-koek wees. Die Wiggles is vier vente wat sing en dans. Gaby is 'n Wiggles-fan, soos alle klein kindertjies. Helder kleure, eenvoudige rympies, ritmiese musiek, lekker saamsing-wysies … wat meer wil 'n kleintjie hê? Die Wiggles se grootste treffers is "Toot-toot, Chugga-chugga, big red car" en "Hot potato, mashed banana."
As die Wiggles in Melbourne kom optree, moet hulle in die Tennis Centre wees want daar is nie 'n teater in die stad groot genoeg om al hulle aanhangers te akkommodeer nie. In New York speel hulle Madison Square Gardens en al die filmsterre sit in die voorste ry met hulle kleuters. Die kleintjies dans in die paadjies soos ons destyds gedoen het in die rock-n-roll era!
Die Wiggles is Australië se rykste showbiz-mense - verlede jaar het hulle $36 miljoen verdien: meer as Nicole Kidman, Russell Crowe en Hugh Jackman.
Woensdag het ek my weeklikse mission na die biblioteek onderneem saam met May - ons het eers koffie gedrink by Vermont Shops, sy met haar cinnamon toast en ek met 'n hoender-slaai-toebroodjie. Daar het drie boeke vir my gewag.
Ek het so pas "Life" gelees, Keith Richards se memoir. A veritable eye-opener. Ek was nooit 'n groot Rolling Stones-fan nie, ek het meer vd Beatles gehou, maar dis baie interessant om te lees wat alles agter die skerms aangegaan het. Eindelik hoor ons die ware verhaal vd berugte Mars Bar insident!
Nou lees ek "Wait for me", die memoires van die jongste Mitford suster - Deborah, die een wat met die Duke of Devonshire getrou het. Sy is nou in die 90, maar nog net so mooi. Daardie ses Mitford-susters was almal so mooi. Potions and lotions kom en gaan, maar goeie beenstruktuur hou vir altyd.
Hulle ou pa, Lord Redesdale, was so 'n mooi man. Mal soos 'n haas, maar mooi. Hy was die model vir "Uncle Matthew" in Nancy se novels … "abroad is unutterably bloody and all foreigners are fiends!" Ek moet tog weer "Love in a Cold Climate" lees.
Donderdagaand het ons gaan eet by Delhi Moguls (Indiese keffie) saam met Colin en 'n vriendin wat hy saamgebring het. Sy is een van daardie mense wat jou uitvra na jou privaatsake. Elke keer wat sy my vra hoe oud is ek of waar het ek skoolgegaan, dan maak ek soos 'n politikus: ignoreer die vraag en antwoord iets heel anders. Ek het gepraat van die tennis en van die laaste fliek wat ek gesien het en van die vloede in Queensland en wat nog. Ek wonder of sy dink ek is doof! Ek hoop nie sy is 'n permanente instelling in Colin se lewe nie, want dan sal hy van my sosiale almanak af moet verdwyn.
Vrydag het ek vir Marcia ontmoet by die plaaslike kunsgalerytjie - ons het koffie gedrink in die kafeetjie en dit was soos gewoonlik baie sleg. My koffie was lou en Marcia het teen haar beterwete 'n toebroodjie bestel - sy weet 'n mens moenie daar eet nie, maar sy was honger. Die toebroodjie was duur en mikroskopies klein en baie sleg.
Die uitstalling van foto's waarna ons gekyk het, was nie sleg nie. Ek het gehou daarvan. Ek het gegril vir die foto's van tieners met anoreksie. Hulle is vel en been, Sussie. Te naar.  'n Ander fotograaf het fabrieke afgeneem - die masjienerie maak die interessantste patrone!
Later … Ek het toe Catfish gaan sien en Karlien saam met my. Ons het met ons onderskeie voertuie gery want sy wou nie weer terugkom na ons huis toe nie. Baie gehou vd fliek - dit is 'n dokumentêr en handel oor die impak wat die moderne tegnologie op ons lewens het. Food for thought! Jy kan gerus in die tou val voor die Village Odeon wanneer dit daar draai.
Hettie en Johan is hier in Melbourne vir die week. Sy wil die tennis sien en hulle bly by Andries, waar hy hulle soos gewoonlik op die vloer laat slaap terwyl hy self in sy dubbelbed slaap. Karlien sê dis net sowel, sy sal nie in Andries se bed wil slaap nie! Ek stem. Hy het nog nie die wondere van seep en water en Mum for Men agtergekom nie.
Ons gaan Dinsdagaand saam met hulle eet by Indochine:  Vietnam/Cambodia/Laos se kos. Dis 'n baie gawe restaurant. D gaan nie saam eet nie, hy speel bowls. Surprise!
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren, gegroet tot vollende week. L, K.

Sunday, January 16, 2011

Goeie Nuus en Slegte Nuus.

Sunday, 16 January 2011
Liewe Sussie,
Dis weer die H/Sabbat en ek bring verslag uit oor my doen en late vd afgelope week. Ek het jou laas vertel D gaan na Geelong vir 'n bowls-toernooi, maar ek is jammer om aan te kondig dis gekanselleer. Rain stops play. Dis nie net Queensland wat baie reen kry nie, ons in Victoria het ook dorpe wat onderwater is, maar nie so erg soos ons noordelike bure nie.
Ek het jou ook laas vertel Karlien het laasweek Mirboo toe gegaan om vir Lola te ontmoet, en sy het teruggekom met die nuus dat Lola 'n mooi en soet baba is en dat haar boetie en sussie van haar hou.
Wat was my ontsteltenis groot toe ek vandeesweek moes verneem Sarah, Phil en Lola is hier in Melbourne want Lola het asemhalings-probleme en hulle het haar per ambulans na die Royal Children's Hospital gebring. Dit blyk sy het 'n bakteriële infeksie in haar longe. Shym, die kind is skaars ses weke oud. Waar sy dit gekry het, weet geen mens nie. Ek weet uit eie waarneming dat Sarah se huis skoon is en haar kinders ook.
Ek dink sy het dit by haar familiemense gekry. Karlien sê daar heers groot opgewondenheid in Phil se uitgebreide familie oor die nuwe baba want dit is die eerste kleinkind aan sy kant, en hulle gee vir Lola soos 'n voetbal aan van die een na die ander, en soen haar aanmekaar. Oud en jonk doen mee. Gril ek. Ek was onpopulêr by baie van my familie en skoonmense, want ek het niemand toegelaat om vir Baba-Karlien te soen nie en veral nie in haar gesig nie! Sy het nie infeksies en bakterieë gekry nie.
Ewentwil, sy is glo nou uit die intensiewe sorg (the tents of care, het daardie Julie wat saam met my by PWD gewerk het, dit genoem) maar sy moet nog 'n week in die hospitaal bly. Nou weet ek nie by julle nie, maar hier by die Royal Children's kinderhospitaal het hulle sulke suites waar plattelandse ouers kosteloos kan bly solank hulle 'n kind in die hospitaal het. Slaapkamer, badkamer, sitkamertjie en ten volle toegeruste kombuisie. Net sowel, want wie kan 'n hotel bekostig?
Ek het deur die week my gewone rondtes koffie met vriendinne gehad: Dinsdag was dit Joan en Woensdag was dit Mireille. Mireille is Frans. Hoekom lyk Franse vrouens altyd of hulle pas gefotografeer  is vir die volgende uitgawe van Vogue? Ek het 'n langbroek en 'n hemp aangehad, en so ook het Mireille, maar ek lyk sommer gewoonweg en sy lyk soos 'n model. Sy is tien jaar ouer as ek ook nog en sy smeer niks aan haar gesig nie. Volgende keer as ek haar sien, gaan ek haar 'n taai klap gee.
Donderdag was ek na Seaford toe saam met Margie (my nuwe beste vriendin - ek vergeet altyd om vir haar te vra wat haar van is. Waar is die dae toe 'n mens gehoor het wat mense se van is wanneer jy hulle ontmoet. Nou kan jy al verloof wees voor jy jou Finance se van uitvind).  Ons het goed weggebring vir Janice, wat die co-ordinator is van 'n liefdadigheids-program. Ek brei en Margie en haar ma hekel. Janet se huis kyk soos 'n negosiewinkel, oral is goed wat wag om uitgedeel te word. Kerke en hospitale en ouetehuise en beskutte verblyfplekke - almal kry iets by Janice, sy het baie vrywilligers wat handwerk doen en brei en hekel.
Sy is besig om pakkies te maak vir die groot byeenkoms wat hulle elke Januarie hou hier in Melbourne vir die haweloses. Daar daag tot 3,000 hawelose mense op. Die munisipaliteit reel dit, hulle sit elke jaar $70,000 opsy daarvoor. Dit word gehou in 'n groot saal en tente in die park. Daar is haarkappers en fisioterapeute en oogtoetsers en podiaters en daar word tee en koffie verskaf asook middagete. Klere word uitgedeel en speelgoedjies vir die kinders.
Ja, ek het ook nie geweet daar is hawelose kinders nie. Daar is families waar Pa sy werk verloor het en hulle kon nie meer die paaiemente op die huis bekostig nie en nou is hulle op straat. Dis nie net besope, stink oumense wat haweloos is nie! Die haweloses is merendeel skoon, en as hulle stink, is dit hulle klere, want hulle het baiemaal net een stel klere.
Daar is oral in die stad plekke waar mense deur die dag kan stort en 'n bord kos kry en waar hulle mag vertoef tot saans elfuur, maar daar is nie genoeg beddens om vir almal oornag onderdak te verskaf nie. Hulle gee voorkeur aan mense met kinders. Ek verstaan nie hoekom daar hawelose mense moet wees in 'n welvarende, ryk land soos Australië nie. Ons is die enigste land in die wêreld wie se ekonomie nie skade gely het in verlede jaar se Global Financial Crisis nie.
As ek en Margie Seaford toe ry, dan is dit 45 minute met haar kar en 15 minute met myne. Gelukkig was dit hd keer my beurt. Sy is een van daardie mense wat nie van die snelweg wil gebruikmaak nie. Sy ry 'n groot draai, al met die ou pad, deur die voorstede. Ek bestyg die snelweg net 'n halwe kilometer van my huis, woerts-warts, wye oop reguit pad. Ek gaan deur twee tolpunte: elke keer as my eTag biep-biep sê, kos dit my 35c. Minder as 'n dollar en ek spaar 30 minute. Maar nee, daar is so baie mense wat verseg om daardie tolgeld te betaal, hulle sal liewer 'n halfuur langer ry deur die verkeer. Ag nouja, wat weet ek, elke man moet maak met sy loeloe soos hy wil, het Oorle' Oom W. van Ant Ann altyd gesê.
Vrydagmiddag het ek vir May ontmoet by die biblioteek en nadat ons ons boekens omgeruil het, het ons 'n koffie en 'n toebroodjie gaan eet. In my geval 'n toebroodjie en in haar geval cinnamon toast. Hulle rooster 'n paar snye vrugtebrood en bestrooi dit met die kaneelsuiker. Ek wil nie tous eet met kaneelsuiker nie, maar vir haar is dit baie lekker en sy bestel dit altyd.
Vrydagaand het ek en D gaan eet by Formosa House, Chinese keffie waar ons nog nie vantevore was nie. Die plek is al jarrrelank hier, ek ry gereeld by hom verby, maar om een of ander rede het hy nog nooit ons besigheid gekry nie. Ons het uitgegaan saam met Penelope en John Thomas (hoekom sal jy jou seun John noem as jou van Thomas is?) … hulle was ook nog nie daar nie. Net sowel haar naam is nie Fanny nie.
Die kos was lekker en die diens was goed, ons sal weer soontoe gaan nou dat ons hulle agtergekom het.  Hulle het op die spyskaart al die gewone disse wat jy maar kry by die Ch restaurante. Ons het drie hoofdisse gekies om te deel. Een was egter nuut vir ons almal: dit was Spicy Flounder. Hy is mos so 'n plat vis. Hulle het die vis ge-fillet en in blokkies gesny, dit in speserye gerol en vinnig in baie warm olie gezirts. Buite het dit 'n crisp spesery-korsie gehad en binne was dit heerlik sappig. Hulle het dit pragtig opgedien op die buitenste "skil" van die vis. Ek sal dit weer bestel ook!
Gister op die Saterdag het ek en Karlien ons eerste toneelstuk vd jaar se MTC-seisoen gesien. Dit was deur David Williamson, 'n vermaarde Australiese toneelsmid. Die MTC bied elke jaar een van sy stukke aan. Ons het baie daarvan gehou. So far, so good. Uit die sewe wat ons sien, is daar altyd een of twee wat ons minder van hou, maar 'n mens weet mos nou nie vooraf hoe dit gaan wees nie: jy kan maar net gaan op die skrywer en die akteurs en die paragrafie in die brosjure, wanneer jy jou opvoerings vir die jaar kies.
Vanoggend het ek op my modderkar geklim en stad toe gery want daar was twee uitstallings wat ek wou sien by die NGV. Een was werke van Gustav Moreau wat deur die Moreau Museum in Parys aan ons geleen is, en die ander een was 'n versameling NZ kuns wat deur die nasionale kunsmuseum van Brisbane aan ons geleen is. Net sowel dat Brisbane dit vir ons gestuur het, dis soveel minder werke wat hulle inderhaas moes verwyder uit hulle stoorkelders en na hoër grond versit. Die museum van moderne kuns in Brisbane is langs die rivier en die gebou is onderwater hoewel al die kuns gered is. Hulle het darem 'n dag of twee kennis gehad van die rivier wat sal afkom en so hoog oor sy walle stoot. Lyk my ons gaan daardie NZ werke baie langer huisves as wat ons gedink het!
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Baie groetnis en mooi bly. Liefde van Katrien

Friday, January 7, 2011

Nuwe Bybies

Liewe Sussie,
Die tyd stap aan, soos hy gewoond is om te doen.
Ek sit nou hier en wag vir 'n vent om my ou yskas te kom haal. Ons het die yskas saam met die huis gekry - hy het daar om die hoek by die kroegie in die tv-kamer gestaan. Ons het die koeldrank en die bier in hom gehou. En die wit wyn.
Nou anderdag het D vir hom 'n behoorlike wyn-koelkas gekoop - jy kan die ding se temp stel tussen 14 en 18 grade - na gelang van hoe koud jy jou wyn wil hê. Die ou yskassie moes plek maak vir dié spoggerige elektroniese wyn-kelder.
Liewer as om hom op die sypaadjie te sit vir die munsipaal se volgende "hard rubbish collection", het ek sy foto geneem (met oop deur en toe deur) en hom op eBay geadverteer. Ek het die reserwe-prys 99 sent gemaak, want al wat ek wou hê is dat iemand hom moet verwyder.  Lang storie kort - die bieërs het die prys opgestoot tot by $55!  Daar het jy dit nou. Ek beskou dit as $55 afslag op D se nuwe wyn-friets.
Ek hoop die vent bring 'n vriend om hom te help die ou frietsie op sy bakkie laai: ek gaan beslis nie hand bysit nie en ek gaan ook nie toelaat dat D dit doen nie. Ek onthou nou nog hoe het Pa destyds 'n sak sout agterop die bakkie gegooi net om te wys hy kan dit nog doen - sy rug was nooit weer dieselfde nie!
Jy onthou D se niggie Lee. Haar sestienjarige kleindogter Tara (Mindy se dogter) het nou 'n bybie. Die outjie se naam is Jesiah. Dit kon maar Jeremia ook gewees het, want Lee is nie baie in haar skik met haar ouma-grootjieskap nie!
Ironies genoeg, Lee is 'n verpleegster en werk al die jare by Family Planning.  Sy sê dis nie of haar kleindogters nie weet van kondome nie - erger as die gevaar van bybies is die gevaar van allerlei nare siektes! Genital warts, gonhorrea, syph, hepatitis, Aids, noem maar op.
Ewentwil, daar het ons nou vir Jesaja - die nuutste takkie aan die familieboom. Jesaja het by sy ma ingetrek in haar kamer in die ouerhuis.  Sy ma gaan skool en sy ouma pas hom op.
Mindy is self baie jonk om 'n ouma te wees, maar nouja, wat kan sy doen? Jy weet hoe dit is as jou kinders 'n hond huistoe bring, dis altyd Ma wat hom moet kosgee en versorg. Seker ook so as jou tiener 'n bybie huis toe bring. Van Jesaja se pa hoor ek niks. Hy is seker te besig: hulle kry baie huiswerk in Standerd Agt.
Ek het hierdie week al tweemaal gaan fliek en dis nog nie eers Sondag nie! Ek het saam met Karlien Blue Valentine gesien en ondanks die goeie resensies nie baie daarvan gehou nie. Die regisseur glo aan close-ups - jy kyk die hele tyd so naby aan die mense se gesigte dat jy elke ooghaar en sweetgaatjie kan sien. Dit gee my claustro. Plus die kameraman hardloop agter die akteurs aan met die kamera in sy hand - dit maak my seesiek. Ek was bly toe ek kon huis toe gaan, ek het helfte vd tyd met toe oë gesit. Jy moet maar tuisbly wanneer die Village Odeon dit aanbied.
Gister het ek op my eie gegaan en Morning Glory gaan sien. Nog 'n goeie een om te vermy. Deurentyd word daar opgewonde geskree en histeries gegiggel.  Die humor bestaan uit mense wat struikel oor die meubels en koppies stukkend laat val op die vloer.
Vanmiddag gaan ek die Lipson dames ontmoet vir middagete. Lindsay en Margaret is albei met verlof by hulle onderskeie werke. Ons gaan na die Treasure (plaaslike Chinese keffie) vir 'n yum cha.
Karlien is weg na Mirboo om Sarah se nuwe bybie te gaan sien. Lola May. Ek weet nie wat haar van is nie. Dalk het hulle nog nie besluit nie.
Ek weet nie of ek jou vertel het Sarah en Aaron is uitmekaar nie. Dit was nie Aaron se idee nie, hy het niks verkeerd gedoen nie. Maar Saz het gesê sy is nou verveeld met hom en sy soek nuwe weivelde. Skaars is hulle uitmekaar of sy het begin shop en nie lank nie, of sy het vir Gary op appro. Hy het nie satisfaksie gegee nie, toe installeer sy vir Ben. Ben was ook nie na wense nie … third time lucky het Phil sy intrek geneem.  En siedaar, agtien maande na Saz  vir Aaron die trekpas gegee het, het Lola haar verskyning gemaak op die toneel, 'n sussie vir Claire en Leigh. Phil is glo baie in sy skik, dis sy eerste vaderskap.  Ekself het nog nie vir Lola ontmoet nie, maar ek het saam met Karlien 'n geskenkie gestuur.
Karlien bly net oornag, sy sal more weer tuis wees. Mirboo is net 2 uur se ry uit Melbourne. Karlien oornag nie by Sarah aan huis nie, sy het 'n kamer by die pub bespreek soos sy altyd doen as sy soontoe gaan. Hulle het vier kamers bokant die pub, mooi skoon en gerieflik met eie stort en spoelie.
D verjaar vlg Dinsdag maar dan sal hy in Geelong wees vir 'n bowls-toernooi, so ons gaan Sondagaand eet by die East Empress (Ch keffie) vir die okkasie. Hy sal bly wees om geskenke te kan oopmaak, want ons het mos krismis gekanselleer en geen presente uitgedeel nie. Ek en Karlien het besluit ons maak sy verjaardag 'n Skotse okkasie - hy kry die DVD box set van die BBC se "History of Scotland", plus diverse DVDs en boeke met Skotse strekking. Les bes 'n bottel single malt Scotch whisky in die kluis.
Ongelukkig is hier nie 'n Skotse restaurant naby nie, nou moet hy maar die chopsticks swaai by die East Empress.  Hier was 'n tyd gelede 'n Harry Ramsay fish and chips (dis 'n Skotse ketting) maar hulle het toegemaak. 'n Ex-pat Skot wat saam met my by die bib gewerk het, het altyd soontoe gegaan vir sy fish and chips and mushy peas. Trane in sy oë van nostalgie en heimwee na Glasgow.  Mushy peas is vir my niks om oor huis toe te skryf nie. Ruk 'n blik ertjies oop en druk hulle fyn met 'n vurk, en siedaar! Mushy peas soos hulle dit in Glasgow eet saam met hulle vissentjips.
Latervantyd … die vent Rick het toe die yskas kom haal en hom eiehandig op sy bakkie gelaai. Hy sê hy was in die removal business en ek kan sien hy weet wat hy doen. Hy het my $55 in die hand gestop, no worries. So met die laai en die vasmaak en alles, het hy aanmekaar gesels, ons is nou omtrent huisvriende. Ek kan jou sy lewensverhaal en dié van sy vrou en seun vertel.
Jo kondig aan dat die bybie koliek het en dat sy weer by Nelia en Fred ingeklok het om hand by te sit met die drill. Hulle bou glo nou flink aan haar granny flat in die jaart, en sy is gretig om permanent haar intrek daar te neem want haar woonstel se huur het weer opgegaan en sy kan dit nie meer bekostig nie.
Nouja, Sussie, dan groet ek maar tot vollende week. Ek hoop om eersdaags weer 'n brief van jou in my posbus te bespeur.
Groetnis van huis tot huis, Katrien.

Sunday, January 2, 2011

Nuwejaar

Saturday, 1 January 2011
Liewe Sussie,
Weereens het Poppie Dik 'n padda ingesluk, maar ek is seker sy is nie die enigste een wat naar geword het op die nuwejaar nie. Daar was 500 duisend mense in Melbourne se middestad en ek sal my nie verwonder as meer as een van hulle te diep in die bottel gekyk het nie. (Hoekom is daar altyd stukkies wortel as 'n mens opgooi? One of Life's little mysteries.)
Karlien was ook daar saam met 'n groepie vriende, maar hulle drom nie saam op straat nie, hulle gaan na een vd venues waar 'n mens vooraf bespreek - jy betaal $50 en hulle laat net 'n sekere aantal mense toe in  die ruimte. Sy sê dit was baie aangenaam - hulle het 'n tafel gehad met uitsig op die rivier, en om middernag het hulle uitgegaan op die dak-terras en kon die vuurwerkvertoning mooi sien.
Gewoonlik bespreek sy vooraf 'n  hotelkamer in die stad, sodat sy nie in die middel vd nag hoef tou te staan vir 'n taxi of saam met 'n spul besopenes op 'n trem hoef te klim nie. Maar hierdie keer het sy wel trem gery, want daar was 'n halte regvoor die venue waar hulle was, en die halte waar sy afklim, is baie naby haar woonstel.
Die stadsvaders het alles baie goed georganiseer: halfmiljoen feesvierders ten spyt, was daar net 43 arrestasies vir dronkenskap en bakleiery. Sy sê daar was hordes polisie op straat. Al die busse en trems en treine het heel nag elke 10 minute geloop en alles was gratis. Hulle het ook baie water-stasies gehad in die strate waar gratis water bekombaar was. Ek wonder hoeveel van daardie bottels het hulle uitgedeel.
Ek en D het hier in ons huis gesit en na die Edinburgh Tattoo op die teef gekyk. Hy het wakkergebly tot middernag om die vuurwerke op die hawe in Sydney gade te slaan maar ek het elfuur gaan slaap. Dit is pampoentyd vir my.
Melbourne se vuurwerke is beslis die hardloper-op! Sydney het daardie brug en die operahuis - ons rivier en geboue kan nie kompeteer nie. 
Vandag stil tuis deurgebring. Of stillerig. Die bure was uit en hulle twee kinders het heel middag baklei en op mekaar geskree. Ek weet nie hoekom moet hulle baklei nie, hy is 19 en sy is 23. My buurvrou sê hulle van kindsbeen af so baklei en doen dit nou nog. Hulle kan bly wees Boet van Vuuren is nie hulle pa nie.  'n Paar taai klappe sou hulle uitgesorteer het. Ek het dit nie vir Buurvrou gesê nie, ek het dit net by myself gedink.
Pasede week het ek dit en dat gedoen: Maandag het ek en Karlien "Somewhere" gaan sien. Dit gaan oor 'n filmster wie se elfjarige dogter die skoolvakansie by hom deurbring. Die regisseur is Sophia Coppola; sy maak briljante films. Sy is die dogter van Francis Ford Coppola, so sy verstaan daardie Hollywood-milieu: sy het so grootgeword.
Dinsdag het die bure hier kom tee drink. Ek leef nie in my bure se sak nie, ons groet vriendelik as ons mekaar buite sien, en verder kom ons net in mekaar se huise as ons gaan aankondig ons sal vir 'n paar dae weg wees, of so. Jy weet mos. Elke jaar gee ek vir hulle 'n krismiskoek en hulle gee vir ons 'n blik biskits. Elke keer sê ek en Buurvrou vir mekaar as die krismis-stof gesak het, sal ons koffie drink. Maar hd jaar het ek vir haar gesê kom ons maak nou 'n datum, kom julle die 28ste oor. Toe doen hulle so - ons het lekker tee gedrink en gesels. Maar ek sal beslis nie 'n gewoonte daarvan maak nie. 'n Mens moet nie dikkevrinne met jou bure wees nie, daar kan niks goeds van kom nie.
Woensdag het ek en Joan gaan koffie drink en kersverhale uitgeruil. Sy het interessanter stories as ek, want sy het kleinkinders by haar feestafel. Ons het ook boeke uitgeruil soos ons dikwels doen. Ons hou albei van 'n Whodunnit.
Donderdag het ek saam met May gaan eet en daarna het ons biblioteek toe gegaan. Sy het haar boeke omgeruil en gery, maar ek het my sit gemaak in een vd biblioteek se leeshoekies - lekker gemaklike stoel, mooi uitsig op die tuine, gawe voorraad van die jongste tydskrifte. Ek het 'n uur lank vertoef.
Ek voel baie tuis in 'n biblioteek: seker omdat ek van kleinsaf so baie tyd in biblioteke deurgebring het en twaalf jaar in daardie selfde een gewerk het. Mense loop tussen die rakke rond, die rekenaars gaan kliek-kliek, die dames wat daar werk stoot trollies rond, die telefone lui, daar doer in die kinderafdeling kan jy hoor hoe lees iemand vir die kleintjies 'n storie … dis vir my lekker in 'n biblioteek. Toe ek 'n kind was, het ek met my fiets bib toe gery en heel middag ongestoord daar gesit en lees. Hulle het sulke groot leerstoele gehad. Club chairs.  Waar is die dae.
Vrydag was ek weereens fliek toe - ek en Karlien het "Love and Other Drugs" gaan sien. Ann Hathaway en Jake Gyllenhaal. Ek was langtand om te gaan - ek het vermoed dis 'n rom/com en ek doen nie rom/coms nie. Maar ons het die resensies gelees en almal was dit eens dat dit nie 'n rom/com is nie. Ek het vir Karlien gesê ons moet wag en sien.
Die kenmerk van  'n rom/com is dat daar 'n misverstand kom, en dat hulle hardloop op die end. Een party moet kerk toe of lughawe toe jaag om by die ander party te kom voor hy/sy finaal "ja" sê voor die altaar, of op 'n vliegtuig klim landuit. (Dis net twee voorbeelde, daar is baie variasies.) Die gemene deler is dat hulle vir die vales hardloop of met 'n voertuig jaag, terwyl allerhande frustrerings hulle pad versper sodat die kyker nie seker moet wees of hulle dit gaan maak of nie. (Asof!)
Ewentwil, alles het goed gegaan tot op die einde, toe kom die onvermydelike misverstand, Ann klim op 'n bus Kanada toe, en Jake sit die bus agterna in sy sportmotor om haar in te haal voor sy die grens oorsteek. Voila. Rom/com.
I told you so, het ek vir Karlien gesê. Daar is 'n sekere satisfaksie in die woorde I told you so - ek hou altyd daarvan as ek die kans kry om hulle te uiter.  Klem op die TOLD.
Vandag het ek hier in die huis rondgeploeter, vroeg opgestaan, die skottelgoed weggebêre wat Meraai oornag gewas het, 'n bondel wasgoed vir Gladys gegee en 'n paar hemde gestryk wat sy gister gewas het. Gladys doen nie strykwerk nie. Sy hang ook nie wasgoed op nie!
More is dit my plan om soos gewoonlik my Sondag-ekskursie na die fliek te onderneem, maar daar is niks wat ek baie graag wil sien nie. "Blue Valentine" met Michelle Williams en Ryan Gosling lyk na die beste keuse. Dit kry goeie resensies maar die titel sit my af. Hopelik gaan niemand in die laate tien minute wegbuk en vir Usain Bolt probeer nadoen nie.
Nouja, Sussie, hou lekker vakansie en kom heelhuids terug. Die lang reis op gevaarlike paaie kan nie lekker wees nie. As dit ek was, het ek nog naar geword ook op die koop toe, en oral langs die pad hopies gedaaisde wortels gelos vir die voëls van die veld. Ek het eenkeer langs die
Great Ocean Road
die appel opgegooi wat ek vir ontbyt geëet het, (daar was natuurlik wortel ook by) en skaars het dit grondgevat of die seemeeue sak daarop toe. Yuck!
Voor ek verdere disgusting staaltjies kwytraak, sal ek maar groet.
Liefde en groetnis tot vollende week van Karlien



Krismis

Liewe Sussie,
Stil week agter die rug. Ek het net Woensdag vir May ontmoet vir 'n koffie, verder het ek my eie besigheid gemaaind. Weggebly vd winkels af. Donderdag het ek vroeg-vroeg voor die malende menigtes Stud Park toe gery, my boeke omgeruil en genoeg leesstof uitgeneem vir 'n week, genoeg brood en melk en vrugte en goed gekoop om te hou tot na die krismis-gekheid by die winkels verby is, en toe het ek huis toe gekom en ge-batten down the hatches.
Karlien het Vrydag na werk gearriveer en sy het gebly tot gisteraand want sy is vanoggend op pad na die MCG om die Boxing Day krieket te gaan bywoon. Gister op die happy christmas het ek en sy en D gaan eet by Le Gaulois, 'n Franse restaurantjie naby ons. Ons gaan gewoonlik na Fedeles, maar hd jaar wou ons 'n verandering maak.
Die kos was baie lekker en die diens was goed. Ek het gerookte salm vir my voorgereg gehad - Karlien het geroomde preisop gehad en D het 'n seekos-vol au vent gekies. Vir hoofgereg het ek en Karlien vis bestel en D het 'n carpetbagger steak gehad. Hule het vir ons 'n bak groente en 'n bak sauté aartappels op die tafel gesit. Ons het klappers ook gekry met hoede in en daardie gewone lam grappies.
Gisteraand het D sy skoonsuster in Jhb  gebel en sy rapporteer dat sy broer nou vinnig afdraand gaan. Hy is mos in die tehuis - sy kan hom beslis nie tuis versorg nie. Sy sê hy loop so gebukkend. Dis glo tipies van die soort dementia wat hy het. Sy sê sy dink hy ken haar nog. Hy is nou baie "frail" en eet nie goed nie. Shym, Sussie, ek hoop hy sal nie volgende Kersfees sien nie. Dis darem te vreeslik.
Ek wil later vandag baaiskoup toe gaan (jy sal verras wees om dit te hoor!) om Heartbreaker te gaan sien. Ondanks die titel is dit nie 'n rom/com nie! Franse prent. Ek moet nou knaend Brighton Bay toe ry om vreemd-talige prente te sien want die skoolvakansie het ingeskop en daar wys net robbies in die plaaslike multiplex. Ek het toe verlede week The King's Speech gesien en baie daarvan gehou. Ek hoop nie dit draai by jou plaaslike Odeon terwyl jy weg is met vakansie nie, want dan loop jy dit mis.
Hierdie week is nuus maar dun gesaai. Jy hou seker nog heerlik vakansie by Jeffreysbaai in jou bikini en sal ook nie veel nuus hê nie. Ons sal maar weer met hernude moed die korrespondensie vervat in die nuwe jaar. Wie weet wat lê voor die deur. Ons sal so teen April/Mei hoor wat die stand van D se kanker is. Ek hoop maar dit is alles weg. Que sera sera, in die onsterflike woorde van Doris Day.
Nouja, Sussie, verder niets dan … baie groetnis tot vollende week.
Liefde van Karlien

Out and About

Liewe Sussie,
Die tyd stap aan, soos hy gewoond is om te doen. Ons stap 'n entjie saam, dan val ons uit. Hier is ons nou by Saterdag en ek is darem nog in die gevolg, al hink en pink ek 'n bietjie.
D is vort na sy klub. Die klub verskaf tee en rolle vir die spelers op Saterdae. Hy het (beeg mistake!) aangebied om Saterdae die broodrolle by die bakkery te haal en klub toe te neem. Hy moet flink uit die vere om agtuur daar te wees via die bakkery; daar is ook ander mense wat kom help on die goed oop te sny en die botter en ham en kaas daarop te sit. Dan kom hy huis toe en vertrek weer twaalfuur want die spelery begin eenuur.
As hy nou nie so dom was om homself uit te gee vir broodsmous nie, dan kon hy heel oggend heerlik hier by die huis rondgehang het met ontbyt en koerante en koffie. Tydsaam geskeer en gestort en aangetrek het om twaalfuur hier weg te ry.
Ek weet nie of hulle wel vandag sal speel nie, dit reen hard. Miskien klaar dit later op, wie weet. Indien nie, moet daardie broodrolle maar vrieskas toe vir vollende week.
Ek het 'n baie besiger week agter die rug as wat ek sou verkies het om te hê.
Die verjaardagvierings Saterdag by Lindsay se huis was baie aangenaam. Ek het 'n stel seep en "body butter" gekry by Heather, 'n almanak van Adelaide se kunsgalery by Pauline en 'n $30-boekwinkel-"voucher" by Lindsay en Margie.
Op die spyskaart was my paté en 'n seleksie antipasto vir voorgereg; die hoofgereg was hoender met heerlike slaaie, en die nagereg was melktert en 'n vrugtebord. Daarna was daar 'n verskeidenheid kaas en beskuitjies.  Elkeen het iets bygedra.
Sondag het ek en Karlien "Fair Game" gaan sien, met Sean Penn en ons eie Naomi Watts. (Nie saam met hulle nie - hulle was die hoofspelers!) Ons het baie daarvan gehou.
Dis my plan om more op die Heilige Sabbat "The King's Speech" te gaan sien, met Colin Firth, Helena Bonham-Carter en ons eie Geoffrey Rush. Dit gaan oor die Australiese spraakterapeut (natuurlik G Rush) wat vir George VI gehelp het om sy hakkel-probleem te bowe te kom toe hy koning moes word omdat sy broer hom so sleg gedra het met Miesies Simpson.
Ek dink dit gaan maer jare wees hier na vorentoe, want as die skoolvakansie eers inskop, dan is daar niks in die baaiskoupe nie behalwe kiddieflicks. Cartoons vir die kleintjies, vampiere vir die tieners en "car chases and explosions" vir die (manlike!) vertraagde adolessente van alle ouderdomme. Vir die vroulike vertraagdes is daar die rom/coms. Ek sal maar Brighton Bay toe moet ry na die art house cinemas, of na DVDs kyk in die gerief van my eie loungeroom. Ek het my movies nodig soos D sy bowls.
Hier by ons sit 'n mens nie op die couch of die sofa in jou lounge nie, jy sit op die lounge in jou loungeroom. Ander lande, ander tale.
Ek is gelukkig nou klaar met al my krismiskoeke. Die laaste een staan hier in die kombuis dat D hom kan eet. May wou ook vir hom nog 'n koek gee (hy het reeds een gekry by haar) maar ek het gesê nee. Die bure het vir ons sjokolade gegee wat hy eiehandig (of eiemondig) opgesmul het en ek het by Joan ook sjokolade gekry vir my verjaarsdag, maar dié het ek verberg en gister vir Michael die Voetvent gegee. Re-gifting is the name of the game.
Maandag het ek vir Marlene ontmoet vir koffie en moes twee uur lank luister hoe sy kla. Sy het gekla oor haar dogter, haar broer, haar bure en haar tuinier. Sy woon in 'n meenthuis-kompleks van vyf huise en sy sê niemand daar praat met haar nie, sy het 'n vete met elkeen. Dis natuurlik al die ander mense se skuld. Dis my beleid om net te luister en nooit self iets te sê nie, behalwe "Dear me!" en "How dreadful!" en "Of course you did!" - op die manier gaan ek nooit 'n vete met Marlene hê nie!
Dinsdag was ek by Andrew die Tandarts. Ek het vir hom en sy dames 'n vrugtekoek geneem soos ek elke jaar doen. Andrew het nou drie kinders - Grace het verlede week die lig gesien. Alice en Harry is 6 en 3 onderkeidelik. Dit lyk of Miesies Tandarts elke drie jaar 'n pienkvoet in die veld stoot - ek weet nie hoeveel daar nog hulle opwagting gaan maak hier na vorentoe nie. Andrew kan bekostig om nog 'n hele paar kinders te onderhou en na duur privaatskole te stuur waar hulle ma hulle gaan aflaai in haar Porsche: daar was niks met my tande verkeerd nie en ek het $225 uit my beursie moes ruk toe ek kant en klaar my mond uitgespoel het met daardie pienk goed wat soos bubblegum proe.
Andrew het my tande beloer met 'n spieeltjie en hier en daar aan hulle gekrap met daardie hekelpen wat hulle gebruik. Daarna het hy my gebit bygekom met 'n elektriese borsel en hulle sodanig opgepoets dat jy jou oë moet toeknyp as ek glimlag. Ek moet sê hy het ook x-strale geneem soos hy elke 2 jaar doen, dis seker hulle wat so duur was.
Woensdag het my skoonmakers Jenny en Roy hulle laaste diensplig vir die jaar gedoen. My huis moet nou maar geleidelik vuiler word tot hulle weer in die middel van Januarie hulle opwagting maak. Ek sal darem nou en dan 'n stoflap rondswaai voor ons kniediep in die stof en krummels is. Maar ek verseg om agter 'n stofsuier aan te stap. Ek sal nou en dan halfhartig 'n besem oor die kombuisvloer stoot, dis al. Elke man moet self 'n lap oor die teels in sy stort trek, Toilet Duck in sy spoelie spritz en die seep-spatsels van sy wasbak se krane afvryf met 'n stukkie (ongebruikte!) toiletpapier. Karlien en D se badkamers is nie my besigheid nie!
Donderdag het ek saam met Joan gaan eet by die Japanese restaurant soos ons verlede week sou doen maar rain stopped play en ons het dit uitgestel na vandeesweek. Ons het miso sop gehad: dit en 'n bakkie vrugteslaai kom gratis met die maaltyd. Joan het 'n seleksie tempura groente bestel en ek het teriyaki hoender gehad. Dis was baie aangenaam en ons het lekker gesels.
Joan het haar beursie uitgeruk en vir alles betaal want dit was vir my happy birthday. Sy het ook vir my 'n seleksie Ahmad tee gegee en die sjokolade waarvan ek reeds melding gemaak het. Die tee sal ek beslis nie re-gift nie!
Vrydag was ek en Carla vir ons 8-weeklikse besoek by Michael die Voetvent om ons tone te laat optert. Pedicure and foot massage! Daarna het ons by die RSL gaan eet soos gewoonlik. Ek het 'n Tandoori hoenderslaai gehad, met mango, avocado, tamatie en rooi uie. Carla het die roast of the day bestel en dit was kalkoen met 'n seleksie oondgebakte groentes. Agterna het ons vrugteslaai geëet. Die ander nagereg was wortelkoek met room, maar ons was nie daarvoor lus nie.
En dit bring ons weereens by vandag, Saterdag. Ek het niks op my program nie en dis my plan om net hier by die huis rond te luier: na my ballet-DVDs te kyk, tee te drink, my boek te lees en nou en dan wasgoed op te hang. Ek het verskeie bondels wasgoed om vir Gladys te gee en sy is mos nie bereid om self die goed op te hang nie.
Volgende week is my program ook nie te vol nie, waaroor ek baie bly is.
Nouja, Sussie, hou lekker vakansie by die C en ek hoop om alles van jou avonture in Jeffreysbaai te hoor wanneer jy weer terug is by jou huis.
Ek stuur vir jou 'n sy-serpie vir Krismis. My vriendin Alison verf hulle.
Menige groetnisse,
Karlien




Krismis kom nader

 Liewe Sussie,
Ek kan met genoeë die blye tyding aankondig dat ons dieretuin 'n klein ourang-outankie ryker geword het. Hulle het 'n hele stukkie op die TV gehad oor die geboorte en hulle het ons vertel dat 'n ourang-outang dame elke sewe jaar geboorte gee, en dat 85% van 'n O/Outang se DNA dieselfde is as 'n mens s'n.
Nou wonder ek … sou jy dalk verlangs familie wees van die O/O dame in ons dieretuin? Jou drie is mos almal 7 jaar uitmekaar. Sy het sover nog net die twee kinders. Ons was almal so verlig toe jou jongste 7 word en daar gebeur niks. Jy het wel nie rooi hare soos 'n Ranga nie, maar dit slaan soms 'n paar geslagte oor!
Hier by ons staan iemand met rooi hare bekend as Bluey en daar word na hom (of haar) verwys a "a Ranger" (of Ranga). Nie Ranger soos in die Lone Ranger nie, maar Ranger om te rym met Banger soos in bangers and mash. Dit is 'n afkorting vir OuRANG-outang.
Daar is 'n kompetisie om vir die nuwe Ranga-bybie 'n naam te kies. Dis 'n dogtertjie. Ons Eerste Minister is 'n Ranga, en sover dink ons die nuwe bybie se naam gaan Julia wees: dis die populêre keuse.
Later
Ek gaan more vir 'n feestelike middagete na Lindsay se huis. Ook teenwordig sal wees: haar ma Pauline en haar 2 susters Margie en Heather en my dogter Karlien. Met ons ses sal ons my en Lindsay (7 Des) se verjaardae vier. Soos ons elke jaar doen. Gewoonlik gaan yum cha ons by die Chinese, maar hd jaar het ons besluit om self te cater.
Ek bring hoenderlewer-paté vir die voorgereg en melktert vir die nagereg. Karlien kook nie, so sy bring 'n bottel champagne en 'n verskeidenheid kaas en sy verskaf ook die beskuitjies vir die kaas en die paté. Ek weet nie wat die ander dames bring nie, maar ek is seker alles sal baie lekker wees en ons sal te veel eet en elkeen sal iets wat oorbly, huis toe neem.
Die bakkies paté staan nou hier in die kombuis en wag dat ek hulle moet verseël met gesmelte botter. D het hulle raakgesien. Gelukkig het ek 'n ekstra bakkie gemaak dat hy dit op sy tous kan eet. Krismis treat.
Pasede Maandag was my boekklub se krismislunch. Al elf dames was teenwoordig en dit was baie aangenaam. Ons was by die Stamford Hotel wat nie ver van my huis af is nie. Ek het 'n vrugtekoek saamgeneem vir die Kris Kringle. Carol het dit gekry en sy was hoog in haar skik.
Ek het 'n boks gekry met vyf duur en mooi kerskaarte in. Dit was Jill se bydrae - haar dogter werk vir Hallmark en sy kry al die mooi kaarte teen 'n goeie personeel-afslag. Ongelukkig het ek reeds my drie kerskaarte uitgestuur, maar hierdies sal ek bêre vir vlg jaar. Jy sal een vd gelukkige ontvangers wees!
Die Stamford verskaf 'n senior's menu - twee gange vir $12, maar daar was niks wat ek wou hê nie, toe kies ek die Moroccan Beef Salad van die gewone menu af. Ek wou buitendien nie sop of poetieng gehad het nie. Dit was baie lekker - dun, pienk, sappige skyfies beesvleis op 'n bed van gemenge blare, met kersie-tamatietjies, skyfies pers uie, feta kaas en olywe.
Dinsdag het ek 'n ou skoolvriendin wat ook nou hier in Oz woon, ontmoet vir koffie. Sy is een van dd mense, soos Oorle' George, wat vir jou lang stories vertel van Miemie en Stefanus asof jy weet wie hulle is.  Huisvriende! Ek het geen idee wie die mense is van wie se operasies en oorsese vakansies en motorongelukke en plaas-verkopings ek gehoor het nie. Ons het nietemin lekker koffie gedrink en 'n "almond croissant" gedeel.
Ek het vir haar 'n krismiskoek gegee. Sy het vir my 'n Xmas plum pudding in 'n bakkie gegee; ek moet hom in die yskas hou en kom Krismis moet ek hom in 'n pot water sit dat hy kan stoom. Ons ruil elke jaar so uit.
Nou is dit weer min of meer sela: vandag gaan ek na die verjaardagvierings by Lindsay en more gaan ek rus, ek is moeg. Ek weet nie eers of ek lus het om te gaan fliek nie. 
Liefde van Karlien

My happy birthday!

Liewe Sussie,                                                                     
Sondag en ek bestyg my skryfmasjien. Ek is nog steeds besig met krismiskoekens bak. Elke jaar as ek hulle bak, dink ek aan Fanus van Sue. Toe hy so 4 jr oud was, het ek hom eendag opgepas en ons het gaan kruideniersware koop by Checkers. Hy in die trollie.
Klaar gekoop, pak ek my sakke goed in die kattebak en heel laaste lig ek vir Fanus uit die trollie. Agter sy rug kry ek 'n kombuisskaaltjie, $4.95. Ek het my nie bebodder om weer terug in die winkel te gaan nie, ek het maar die skaaltjie saamgeneem huis toe - ek het juis nie een gehad nie! Al die jarre nog lewer die skaaltjie wat Fanus vir my gesteel het, goeie diens. Ek skuld nietemin nog steeds vir Checkers die R4.95 en dit is op my gewete - miskien kan jy dit vir hulle gee as daar nog Checkerse is by julle! Dalk is hulle lankal bankrot weens winkeldiewe.
Hier is die week se rapport: Maandag het ek my kop laat inkleur - Madeleine het die kleur effens verander - meer na caramel se kant toe. Ek het vir haar 'n krismiskoek gegee. Sy gee altyd vir my afslag. Ek weet nie by julle nie, maar hier by ons is dit baie duur om jou kop te laat diens.
Karlien gaan na 'n vrou wat saam met haar op skool was en nou vd huis af werk. Kerry. Of Kelly, ek is nie seker nie. Kan dalk Kylie ook wees. Toe Kerry (of Kylie) begin bybies kry, het sy besluit sy gaan nie meer elke dag na 'n salon toe nie, sy bly by die huis. Haar man het vir haar 'n vertrek ingerig met die nodige wasbak en spieels en  alles wat jy in 'n mini-salon kan begeer. Karlien hou daarvan want sy kan in die aand na werk gaan, en dan kan sy sommer kuier by die ou skoolvriendin op die koop toe.
Dinsdag het ek vir Carol ontmoet vir koffie. Sy is 'n ex-kollega van my, maar sy werk nog by die bib, net 2 dae p.w. Ek weet nie by julle nie, maar hier mag jou werkgewer jou nie afdank op grond van jou ouderdom nie: as jy wil, jy kan aanhou werk tot jy in die tuig neerval. Of in jou vier spore, wat ookal eerste kom. Hoekom het 'n mens 4 spore en nie 2 nie?
Carol het my vertel van haar seun James die heroin-slaaf. Hy is weereens deur die rehab-program en is nou al ses maande van die draks af. Wel, vd heroin af. Hy is op Methadone wat hy elke week by die dr moet gaan haal. Hulle gee hom net 'n week se voorraad op 'n slag. Carol sê sy wag vir die onvermydelike dag dat daar 'n poliesman sal aanklop met die tyding van sy dood aan 'n oordosis of in 'n mes-stekery. Shym, Sussie, ek voel so jammer vir haar. 'n Mens kan net dankbaar wees as jou kinders niks slegs oorkom nie. Groen koring!
Woensdag het ek jou swaer na 'n kliniek in Prahran geneem (naby die middestad - die verkeer was aaklig) waar hy behandeling moes ondergaan vir 'n geskeurde ligament in sy heup. Eers het hulle cortisone in die beseerde area ingespuit en toe het hulle 'n pint bloed uit sy arm getap en dit in sy heup ingespuit.  Toe het ek hom weer huis toe gebring. Hy mag vir 10 dae nie gaan stap of bowls speel nie.
Hy sê sy heup is nie meer so seer nie, lyk of dit help. Teen die prys wat dit kos, behoort dit te help! Hulle het hom nie net laat betaal vir die cortisone nie maar ook vir sy eie bloed. Praat van die merchant of Venice!
My skoonmakers het ook Woensdag hulle ding kom doen. Hulle maak nie so goed skoon soos Joan nie, maar nouja, ek is net bly ek hoef dit nie te doen nie.
Donderdag het ek vir Joan my ex-skoonmaker gaan ontmoet vir 'n koffie en ons het vrugtekoeke uitgeruil. Sy het my vergas op verhale van haar kleinkinders. Harry is nou 'n tiener met alles wat daarmee gepaard gaan, Xavier is vyf en baie lief en goed (wag maar tien jaar!) en Grace is 3 en gooi tantrums.
Vrydag was dit my happy birthday. Ek het vir myself op die internet 'n gerf ballet-DVDs bestel vanaf die VSA en soos die geluk dit wou hê, het een van hulle Vrydag opgedaag! Dit is "Baryshnikov Dances Sinatra" en ek het tweemaal daarna gekyk. Baryshnikov en Elaine Kudo dans in hulle aandpak en aandrok, Sinatra sing. Wat meer kan jy verlang. Fred en Ginger?
D het reeds vir my die ballet-subskripsie gegee, en Karlien het vir my die teater-subskripsie gegee vir 2011, maar nietemin het ek 'n klompie pakkies gekry om oop te maak. Karlien het na werk gekom vir die opening-seremonie en ek het gekry: 'n kaartjie, vier boksies Ricola (kruie-geur suiglekkers wat net in Holland beskikbaar is), 'n Joyce Grefell CD, 'n boek oor die werk van 'n verskeidenheid film-regisseurs, en les bes 'n DVD stel: die tweede seisoen van "In Treatment", waaroor ek baie bly is want dit is 'n HBO series en wys nie hier op  ons plaaslike tv nie.
In die aand het ons gaan eet by Samsara, 'n Lebanese restaurant waar die kos besonder lekker is. Ons gaan nie te dikwels daarheen nie, want dit is heelwat duurder as die gewone voorstedelike etniese eetplekkies. Ons hou dit vir beste. Soos blinkleerskoene toe ek 'n kind was.
D het rack of lamb bestel met Marokaanse speserye, ek het hoender-sosatietjies gehad (ek vergeet wat hulle dit noem)  met allerlei eksotiese byvoegsels en Karlien het vis geëet. Alles is op interessante maniere gaargemaak en dit kom met groente en slaaie en dips en wat nog. Agterna het Dick 'n soort van 'n panne cotta en aarbeie gehad saam met sy koffie. Dit was gegeur met cardamom. Ek en Karlien het nie nagereg bestel nie.
Nouja, Sussie, hier is ons weer by sela tot vollende week. More is my boekklub se krismis-ete; ek sal vlg week rapporteer wat ek gekry het in die Kris Kringle. My bydrae is 'n vrugtekoek, soos gewoonlik.
Lovenkisses, Karlien

Sonde by die Stembus

Liewe Sussie,
Hier is ons weer, nou wel nie op die Heilige Sabbat nie, maar ek tip Saterdag is ook iemand se H/S. Vir al wal ek weet is daar diegene iewers (waarskynlik in California, home of the lunatic fringe) wat Maandae of Woensdae die tabernakel van hulle keuse besoek. Maar ek hoef nie te wonder nie - daarvoor het ek mos 'n rekenaar!
… ek het so pas vir Google gevra hoeveel godsdienste is daar in die wêreld, en hier is wat hy sê: "there are 270 large religious groups, and over 34,000 smaller ones, worshipping an unknown number of gods. There is a certain amount of overlap among the same or similar gods who are worshipped by different groups under different names."
Nou is ek nog nie veel wyser nie, maar ek dink ons kan anneem elke dag is iemand se H/S: you pays yer money and you takes yer choice.
Nouja, op hierdie H/S van Wie-weet-wie, het ek vroeg opgestaan om te gaan stem. Ons hou vandag Staatsverkiesing. Pas 'n paar maande gelede het ons Federale verkiesing gehou en eeersdaags hou ons Munisipale verkiesing. Ek was naby aan voor in die tou met my sambreel. (Of my paraplui, soos die Hollanders dit noem - ek het vreeslik gesukkel om 'n sambreel te koop in Holland want niemand ken die woord "sambreel" nie! Dis 'n Indonesiese woord, soos "baie", wat ook onbekend is in Holland.)
Ewentwil, dit is nie 'n lekker dag nie - was dit nie dat dit verpligtend is om te stem nie, dink ek die opkoms sou maar power gewees het. Natuurlik het die reen bedaar net toe ek weer by die huis kom.
Ek het in my eie kar gegaan, ek gaan nie weer saam met D stembus toe nie. Hy neem 'n halfuur om te stem vir die senatore en dan moet ek daar staan en wag. Elkeen van 8 partye stoot ses kandidate in die veld vir die Senaat. Dis 48 kandidate. 'n Mens kan of een merk maak by jou party en dus outomaties vir al ses hulle manne stem, of jy kan vir al 48 stem: rangskik hulle  in orde van 1 tot 48, ongeag hulle party. Dis wat hy verkies om te doen. Ek weet nie op grond waarvan piek en choose hy nie, hy het geen idee wie hulle is of hoe hulle lyk nie.
Maar nouja, elkeen het die reg om te stem soos hy wil! Ek kla nie, ek ry net met my eie voertuig. Ek sou gaan stem al is dit ook nie verpligtend nie, want Miesies Pankhurst en haar dogters het deur diep waters gegaan om vir my die voorreg te bekom. Daar is baie mense in die wereld wat nie kan stem nie.
Wat het ek die week gedoen? Pretty much same old, same old. Maandag het ek vir Heather ontmoet vir koffie, geluister hoe kla sy oor haar stout kinders en haar selfsugtige man, en vir haar 'n Krismis-vrugtekoek in die hand gestop. Ek het by myself gedink (maar nie hardop gesê nie!) 'n mens se man is net so selfsugtig en jou kinders is net so stout soos jy hulle toelaat om te wees.
Dinsdag het ek saam met Joan gaan koffie drink, en ek het vir haar gesê ons gaan van nou af tot na Krismis nie na Forest Hill Chase toe nie, maar na een vd voorstedelike winkeltjies waar daar net 'n kafee en 'n apteek en 'n slagter en 'n groentewinkel en 'n nuusagent op 'n ry is. Geen Krismis-shoppers en vermaak vir kinders nie! Die winkelsentrums is nou aaklig - skreeuende kinders en blêrende musiek en malende mensdom en geen parkeerplek.
Woensdag het ek vir May ontmoet vir koffie en biblioteek. Sy het vir my 'n vrugtekoek gegee, en ek vir haar weer een van myne. Net soos elkeen dink sy kind is die mooiste, so dink ek my vrugtekoek is lekkerder as hare. Sy dink seker weer hare is die lekkerste. D worry nie, hy smul dit op saam met elke koppie koffie wat hy maak. Hy wens net vrugtekoek het nie neute ingehad nie. Net soos hy nie van lekker toebroodjies (met baie goeters op) hou nie, so hou hy nie van neute nie.
Vrydag het Bill the Blind Man gekom om die nuwe blindings aan ons dakvensters te sit. In hierdie geval was dit Robert the Blind Man. Ek weet nie waar was Bill nie. Hy het seker sy hond laat diens of 'n nuwe wit kierie gaan koop.
Onthou jy vir Sarie met wie ek 'n woonstel gedeel het. As sy by die voordeur instap, het sy die radio aangeskakel. En as sy gaan slaap het sy hom afgeskakel. Newwermaaind of iemand daarna luister, dit moet aan wees. So is D met die tv. Hy skakel dit aan en dan stap hy weg, die ding blêr maar voort by homself. En as hy in sy stoel kom sit, dan het hy die masjientjie in sy hand en hy skakel van een kanaal na die ander, al vyftig, en dan begin hy weer voor. Biep-biep.
Ek wonder of Sarie nog die lewe hou. Hulle val nou een vir een vd takkie af, Sussie, daar bly al hoe minder mense oor wat my geken het toe ek jonk was. Ek het juis gister e-mail gekry om aan te kondig Annelies Venter is dood, jy sal haar nie ken nie, sy was saam met my op skool. Later met 'n Lochner getroud.
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Bly mooi en sê groetnis al in die rondte.
Katrien



Hospitaalbesoek

Liewe Sussie,
More sou dit Oorlede Pappie se happy birthday gewees het - as hy die lewe gehou het, sou hy 102 gewees het en hy sou niks vd Nuwe SA gehou het nie. Ek sê maar net.
Soos ek jou laas vertel het, was Neef Andries in die hospitaal met sy seer vinger. Lang storie kort, die hosp het vasgestel hy het diabetes en hy was heel week daar, sodat hulle sy suiker onder beheer kon kry en hom kon leer om homself 2x per dag met insulin in te spuit.
Verlede Sondag het ek en Karlien The American gaan sien met George Clooney en daarna hospitaalbesoek gedoen. Maandagoggend het ek hier by die huis gewoeker - krismiskoeke gebak, wasgoed gedoen, 'n pot kerrie gekook en die middag het ek perd opgesaal Box Hill Hospitaal toe. Ek het elke middag hospitaal toe gegaan en Karlien het elke aand na werk soontoe gery en vir hom tydskrifte en goed saamgeneem.
Dinsdagaand het ek by die East Empress (Chinese keffie) gaan eet saam met van my ou kollega's. Ek het 'n koffiebeker gekry in die Kris Kringle. Dit was baie aangenaam om almal te sien. Ongelukkig het twee van hulle 'n gerf foto's van hulle kleinkinders saamgeneem. Ek het gesê wys my net die drie bestes. Drie kiekies van ander mense se kleinkinders is my limit, Sussie. Ek is nog ordentliker as Karlien - sy vertel my sy was by 'n werks-middagete baie onpopulêr want toe een vd vrouens 'n koevert vol foto's van haar nuwe bybie omstuur, toe gee Karlien dit aan vir die volgende persoon sonder om daarna te kyk.
Woensdag het ek vir May ontmoet vir koffie en 'n toebroodjie en daarna het ons geshop vir vars groente en vrugte by Get Fresh en ons boeke gaan omruil by die biblioteek. Ek het ook by die Chinese winkel plastiekborde met rooi en goue patrone om die rand gekoop vir my Krismiskoeke. Ek draai dit toe in rooi sellofaan en plak 'n goue strik daarop en siedaar!
My hygiene technicians was ook Woensdag hier en nou is my huis weer mooi skoon. Hulle is weg met hulle Krismiskoek.
Donderdag het ek by die RSL Club gaan eet saam met Alison. Dit was haar verjaardag en ek het vir haar 'n DVD gegee van La Fille Mal Gardee.  Dis een van my gunsteling-ballette en ek weet sy hou ook daarvan.
Vrydag (gister) het ek by die huis gebly en net hier rondgepotter. Gelukkig is Andries Donderdag ontslaan en is sy pa nou hier en ek hoef nie meer Flo Nightingale te wees nie. Ek het elke dag sy ma ook gebel om verslag te doen.
Verder het ek nie veel tyding nie. Karlien het gisteraand na werk opgedaag en 'n DVD saamgebring waarna ons gelyk het. Purple Noon met Alain Delon. Dis 'n baie ou prent, ek het dit nog in Pta gesien in 1959. Ons het dit geniet. Shym, Alain Delon is anderdag dood, hy was 80. Hy was so mooi toe hy jonk was! Soos ons almal.
Dirk het nie saam gekyk nie, hy was by 'n ete saam met sy bowls-gabba's. Ek het hom by die restaurant gaan aflaai en een vd non-drinkers het hom huis toe gebring. Hd tyd vd jaar is die strate vervuil van polieste met breathalysers: jy durf nie bestuur as jy 'n glas wyn in jou lyf het nie. 
More gaan ek stil by die huis bly en my boek lees. Ek gaan vir myself 'n roerbraai-konkoksie maak van groente en tofu terwyl Dirk sy familie trakteer by die Italiaanse restaurant. Ek the nie lus vir my skoonmense nie.
Groetnis tot vollende week!
Katrien.