Sunday, September 25, 2011

Rom/coms en Toneelstukke

Liewe Sussie,
Nog 'n week nader aan die wenpaal. Julle is seker nou al baie opgewonde en gereed om die nuwe aankomeling te verwelkom. Rooi tapyt, blaasorkes en al.
Hier ter plaatse nie veel tyding nie. Ek het Maandag boekklub gehad by Penny se huis. Sy het 'n dadelkoek voorgesit. Dit was lekker maar die dadels was nie kleiner gesny nie, dit was die soort koek waar jy elke keer so 'n groot taai dadel tussen jou tande kry. Ek het nie een vd snye geneem wat reeds op die bord gereedgestaan het nie; ek het net 'n baie smal skyfie afgesny sodat ek nie hoef te staan met 'n bekvol dadeltande nie.
Daar was 'n mooi klompie boeke maar ek het niks huis toe geneem nie want ek het reeds 'n wavrag boeke wat gelyk opgedaag het vir my by die bib. Ek bespreek die nuwe boeke wat ek in die resensies sien, en dan laat weet die bib my sodra dit beskikbaar is. Ek hou daarvan as daar so een of twee per week aankom, maar partymaal, soos Shakespeare in 'n ander konteks gesê het, "they come not in single spies, but in battalions!"
Heather is weer tuis nadat sy by haar pa en stiefma gaan bly het vir 'n rukkie om tot verhaal te kom. Haar man het verlof moes neem om by die huis te bly en sy kinders op te pas. Haar stiefma het glo vir hom goed die kop gewas en Heather sê van sy terug is, is hy baie meer hulpvaardig en ondersteunend. Sy is nog ver van gesond af, sy is op anti-depressants en sy gaan hd week 'n spigiater sien. Dat hy oor haar spige kan gaan.
Ek het gesê ek sal haar Dinsdagoggend kom haal dan gaan ons fliek toe. Jammer genoeg sal ek 'n rom/com moet gaan sien, want dit is al waarvan sy hou. Miskien sal ek een van haar anti-depressants moet afbedel as ek daar uitstap. Sy wil Monte Carlo gaan sien.
Hier is 'n resensie: This is the kind of movie that adult-you (by which I mean, adult-me) can only bemoan as trite, nonsensical, shallow and beyond all, hopelessly predictable. Small town girl goes to Paris, masquerades as an heiress, ends up in Monte Carlo and falls for a wealthy French philanthropist, but is wracked with guilt because she is living a lie… how will it end? Oh, the suspense!
Ag nouja, om vir Heather fliek toe te neem is my filantropiese werk. Ek het 'n jaar lank elke week saam met haar rom/coms gaan sien by die Woensdag-oggend mums and bubs sessies elke keer wat sy 'n bybie gehad het en glo my ek was dankbaar toe daardie kinders 'n jaar oud was en sy weer gaan werk het.
Sussie, ek kan jou nie sê die ure se hope drek wat ek al moes deursit saam met haar nie. Ek kan nie die titels onthou nie, my brein het 'n genadige sluier daaroor getrek. Ek onthou net 'n paar van die ergste nagmerries: die onbeskryflike horrors van 27 Dresses en Mamma Mia is vir altyd in my geheue ge-ets met hydrochloric acid.
Ek hoop sy kom gou oor haar depressie dat sy weer kan gaan werk en ek haar nie elke week hoef op te kikker met 'n rom/com nie. Hoekom is daar nooit 'n tekort aan robbies by die baaiskoup nie?
Een genade, ons het nie 'n bybie by ons nie en ons sit nie tussen 'n regiment ander vrouens met bybies nie. Party gee bottels, ander borsvoed, ander ruil doeke om op die tafels wat voorsien word langs die mure. Mums and Bubs is 'n goeie ding in 'n land waar daar nie nannies is nie - ten minste kan die ma's dan ook uitgaan en 'n fliek sien, maar hoekom dink bioskope se bestuurders dat ma's met bybies net rom/coms wil sien? Stoot jy jou brein uit saam met die nageboorte?
Vrydag was ek en Carla by Michael die Voetvent om ons tone te laat optert, maar ons het nie agterna gaan eet soos gewoonlik nie, want albei van ons het 'n effense maagkwaal gehad. Niks ernstigs nie, net een van daardie 24-uur gastro-bugs wat 'n mens kry. Ek het haar by haar huis afgelaai en 'n paar inkopies gaan doen.
K het Vrydag opgedaag sodat sy saam met D kon kyk na die rugby. Die gratis kanale wys nie al die wedstryde nie, maar ons het Foxtel en hulle wys alles, soos dit plaasvind.
Toe die rugby klaar is, het ons gekyk na nog 'n episode van The Borgias, 'n gawe historiese (of histeriese!) reeks. Jeremy Irons speel die Pous Alexander VI alias Rodrigo Borgia. Jy sal hom onthou as Charles Ryder in Brideshead Revisited. Briljante akteur. Ons het tydelik ons Classic Movie Nights agter op die Aga gesit en ons kyk na 'n Borgia episode wanneer K oorslaap.
Saterdagmiddag het ek en K teater toe gegaan om Clybourne Park te sien. Dit is 'n toneelstuk wat 'n Pulitzer gewen het, en welverdiend ook. Die twee dele vind plaas in dieselfde huis en met dieselfde tema, maar vyftig jaar uitmekaar, in die 50s en in die huidige tyd. Dit het baie humor gehad en baie stof tot nadenke. Ek dink 'n kind vd apartheid-era soos ek kon die stuk baie beter begryp as my Australiese landgenote wat net die boonste laag sien.
MTC’s latest production Clybourne Park, the Pulitzer prize-winning play by Bruce Norris, is a frank and honest depiction of the racial tension in northern American cities in the 1950’s and raises the question of what, if anything, has changed in our attitudes in the subsequent years.
In 1959, in the affluent Chicago suburb of Clybourne Park, a white couple is forced to consider the impact that selling their home to a black family will have on the neighbours they are leaving behind.  Fast-forward fifty years, and a young white couple tries to go forward with their plans to demolish the same, though now sadly decrepit, house and rebuild – with considerable resistance from their soon-to-be (black) neighbours.
Tydens die toneelstuk was daar 'n gewoel in die gehoor - die akteurs het die verhoog verlaat en die huisligte het aangeskakel vir so 'n tien minute. Blykbaar het iemand flou geword/ hartaanval gehad/ bewusteloos neergesak … ek weet nie, maar die paramedics het gekom en die persoon uitgedra. Hulle het om verskoning gevra en die spel hervat - no worries, ons het gou weer in die storie gekom. Ek is jammer vir die persoon wat siek geword het en ek hoop hulle is beter. Slegte tyd om siek te word, die kaartjies is duur!
Ons was weer betyds tuis om te sien hoe NZ vir Frankryk kafdraf. Ek laat nie skoot-etery toe nie, hulle moes die pause-knoppie druk en kom aansit. Verder gekyk toe hulle klaar geëet  het.
Ek het vis in die oond gebak en gestoomde groente daarby voorgesit. Agterna het hulle gestoofde appels geëet wat ek gemaak het by groot maat om te vries. Daar is nou sulke lekker appels beskikbaar en baie goedkoop ook.
Ek was baie jammer om te hoor dat Paul en Kitty uitmekaar is. Jy het my niks daarvan gesê nie, dis maar die eerste tyding wat ek kry. Gelukkig dat daar nie kinders is nie. Wat het skeefgeloop? Sal sy op die dorp bly? Awkward. Dis so 'n klein plekkie.
Ek sal afsluit met die weerberig: die son skyn, maar dit is koud. Ek hang nog steeds my wasgoed binneshuis soos heel winter. En op daardie domestic noot, gegroet tot aankomde week.
Love, Suster Katrien  |NœY

Sunday, September 18, 2011

Romeo en Juliet verlaat Verona

Liewe Sussie,
By die tyd dat hd epistel jou tuisdorp bereik, sit jy seker al rondom die vreugdevure in Pta saam met die familie. Ek weet nie hoe lank jy gaan vertoef nie. Epistel moet maar in jou posuithaler se sorg wag tot jy weer voet aan wal sit.  
Vertoef. Wat 'n snaakse woord. As jy nie weet wat dit beteken nie, sal jy dit nooit uit die klank kan aflei nie. Dit klink nie soos BLY nie, meer soos GAAN.  Ver-Toef! Poef! Gone with the wind.
Dis nou nie meer lank voor jou nuwe kleindogterjie haar pienk voetjie aan wal sit nie: haar ma het nog net die finishing touches om te doen.  Hopelik sal sy 'n honderd jaar vertoef as sy eers hier is. Ek glo alles sal goed gaan: ek het volle vertroue in die mediese professie.
Jy sal bly wees om te verneem dat D gegaan het vir sy Groot Toets en die oncologist (onkoloog? Is daar so 'n woord?) … ewentwil, Bridget is haar naam en sy is tevrede dat die drastiese behandeling wat hy moes deurmaak, die kanker uitgewis het. Daar is geen teken van oorlewende selle nie. Sy sal natuurlik nooit sê hy is vir ewig en 'n dag ontslae van die kanker nie, wie kan so 'n waarborg gee? Maar so far, so good. Hy sal aanvanklik elke 6 maande getoets word en daarna elke jaar.
My BFF Margie se neef het dieselfde tyd as D dieselfde behandeling ondergaan, en sy Groot Toets is dus ook nou op dieselfde tyd gedoen. Jammerlik is sy uitslae nie so goed soos D s'n nie - daar is selle teenwoordig in sy beendere en in sy lewer. Nou praat hulle van radikale chemo en bestraling, maar hy het dit vd hand gewys. Dit stel net die dag uit, en maak sy laaste maande aaklig. So hy gaan vir die palliative care-opsie.
Ek en K gaan vlg naweek Sydney toe vir 2 dae want daar is 'n uitstalling wat ek wil sien by die Art Gall of NSW. Ons sal Vrydag gaan en Sondag terugkom. Dit is Duitse werk van 1910 tot 1940. Ek hou baie vd Duitste Ekspressioniste en ek vloog graag al die pad Sydney toe om hulle te gaan sien. Al die "Degenerate Artists" wat deur die Nazis verban is, is ook verteenwoordig. Jy sal mettertyd alles verneem, want ek sal vir die Kaleidoscope 'n artikeltjie skryf.
Nog steeds met my culture vulture-hoed op, was ek gister by die ballet. Romeo and Juliet. Dis 'n nuwe ballet deur die Australiese koreograaf Graeme Murphy. Ek hou van sy werk. Hy het die hele ding 'n soort van 'n internasionale inslag gegee: hy skop af by die Capulet-bal in Verona soos ons gewoond is, maar dan verskuif die aksie na 'n Oosterse basaar en 'n Arabiese woestyn en 'n Tibetan monastery … dis nie meer Father Lawrence wat hulle trou nie, maar 'n Hari Krishna guru. Oranje llamas is baie meer aanskoulik as swart priesters! Haar slaapkamer bly darem in Verona.
Ewentwil, dis alles baie mooi en die kostuums en die décor is soos gewoonlik uit die boonste rakke. Jy moet vroegtydig bespreek wanneer dit na die kerksaal toe kom by julle - laat Sue die dogtertjies ook bring. Ek gaan na die middagvertoning en daar is altyd baie dogtertjies, met tulle-skirts oor hulle jeans en sequins op hulle skoene. Party het tutus aan. Die mense wat langs my sit, het twee dogtertjies - ek het hulle gesien grootword oor die afgelope ses jaar!
D het gisteraand tot waffertyd na die rugby gesit en kyk, maar ek het vroeg gaan slaap na my lang en opwindende dag. Hy dink dis Krismis nou dat die wêreldkoppie aan is. K het hom hartlik uigenooi om saam met haar oor die spruit te vlieg om een vd semi-finals te gaan sien, maar hy het natuurlik bowls-verpligtinge hd tyd vd jaar en jy weet dit kom eerste.
Ek het die afgelope week nie veel gedoen nie. Dinsdag het ek vir Pauline ontmoet by die Mitcham-stasie soos ons doen. Sy kom merrie trein van East Ringwood af en ek ry net 12 min op die nuwe snelweg na Mitcham. Ons gaan eet en shop of fliek of wat ookal, en dan gaan laai ek haar weer af by die stasie.
Hd keer het dinge nie so vlot verloop nie, want skaars is ek by my huis weg, of die polisie stop my by een van hulle gereelde padblokkasies waar 'n mens in die pypie moet blaas en aan die stokkie moet lek. Ek weet nie hoekom verdink hulle die publiek van dronkenskap twaalfuur in die oggend nie. By die tyd dat ek hulle oortuig het ek is nie onder die invloed van alkohol of dwelms nie, was dit reeds vyf minute voor die afgesproke tyd.
Toe sien ek daar flits 'n liggie en ek besef my petrol is laag. Ek het gestop by die naaste petrolstasie, maar ongelukkig was dit een van dié wat afslag gee as jy jou supermark-kwitansie vir meer as $30 saamneem. Daar is altyd 'n lang tou want petrol is nou baie duur en dit kos my amper $100 om my tenk vol te maak as hy so leeg is soos hierdie keer.
Gewoonlik kry ek K om oor die naweek my tenk op te top want ek hou nie daarvan dat hy minder as  halfvol moet wees nie. My rumatiekhande kry swaar om die petrol-pyp se handvatsel te druk en vas te hou terwyl hy pomp. Dit maak my seer en my hande is swak - jy moet hard druk. Ek weet nie hoe ek my tenk so leeg laat word het nie. Ek het Pauline probeer bel, maar haar foon was afgeskakel.
Ewentwil, ek was 'n halfuur laat by die stasie en Pauline het toe maar weer op die perron gaan sit en wag vir 'n trein huistoe. Gelukkig kon ek haar keer voor sy opklim. Ons het beplan om te gaan Yum Cha, maar dit is toe al so laat dat ons gedink het al die lekker happies sal nou op wees, toe gaan ons maar na een van die groot winkelsentrums se Food Court. Ek het 'n bord falafels en gemengde slaai gekoop en Pauline 'n stukkie vis en avokado-slaai. Ons het nie koffie in die
Food Court
gedrink nie, want hulle bedien dit in 'n kartonkoppie. Yuck. Ons het by 'n kafee ingegaan waar hulle 'n behoorlike barista agter die toonbank het met sy lang swart voorskoot aan, en hy het vir ons 'n heerlike koppie koffie gemaak met 'n gratis choc teddie in die piering.
'n Vrou wat weet ek brei vir die behoeftiges, het vir my drie van daardie groot tolle wol gegee wat hulle gebruik op breimasjiene. Ek was hoog in my skik en het een vir May gegee om mee te hekel. Pragtige roomkleur wol, lekker sag en dit gly so glad deur jou vingers, maklik om mee te brei. Maar toe ek 'n ent weg gebrei het, kom ek agter die wol gee fyn rafeltjies af - my klere was oortrek daarvan en ek nies. Eers het ek gedink ek sal 'n handdoek oor my skoot gooi, maar toe dink ek nee, wat help dit, want geen mens kan die kledingstuk of kombersie gebruik wat met die wol gemaak is nie. Dis erger as kat- of hondehare! May was net so teleurgesteld. Ek voel ook nie eers ek kan die wol vir die Op Shop gee nie, want enigeen wat dit koop, sal dieselfde probleem hê. Nietemin is dit wat ek daarmee gaan doen, want ek voel sleg om dit weg te gooi in die vullisblik. Jammer die hard rubbish collection was verlede week!
Almal het hulle oortollige goed uitgesit op die sypaadjie vir die munisipaliteit om te kom oplaai - ons het ontslae geraak van 'n ou tv en ons ou oprol-blindings en 'n hele bos fluorescent tubes - ek weet nie wat is dit op Afr nie. Ek kon die wol ook daarby gesit het!
Dié tyd vd jaar sien jy watter nuwe goed het jou bure gekoop - jy kyk net watter ou goed gooi hulle uit. TVs was volop hierdie keer, ek dink almal het van die nuwe plasmas gekoop! Ons bure het blykbaar nuwe sitkamermeubels gekoop want hulle het 'n soufa en twee leunstoele uitgesit. En "Oorkant-die-straat" het hulle badkamer laat doen, want daar was 'n toilet en 'n wasbak op hulle sypaadjie. Jy kry goed kans om die bure se besigheid uit te vind, want 'n mens mag jou goed uitsit 'n week voor oplaaidag. Deur die week kan jy alles bespied soos jy verbyry op jou wettige rondtes.
Verlede Sondag het ek saam met K gegaan om The Help te sien. Dit gaan oor die leefwyse van die vrouens en hulle swart bediendes in Jackson, Mississippi in die 1960s. Shock, horror. Kan jy glo die bediendes het aparte toilette en aparte eetgerei gehad! Ongehoord!
Ek hoor vir D in die kombuis: hy maak toebroodjies want hy het heeldag bowls. Slegte toebroodjies, soos hy daarvan hou. Daar mag mos net EEN ding op wees. Hy maak een kaas en een Vegemite. Nouja, mazel tov, ek is bly ek hoef dit nie te eet nie. Ek sou tamatie en slaaiblare daarop gesit het, en 'n dun skyfie rooi ui en 'n stukkie gerookte salm wat in die yskas is en wat hy kon gebruik het as hy 'n lekker toebroodjie wou hê. En ek sou 'n smeerseltjie mayo daarop gesit het ipv botter. En sout en peper.
Nouja, Sussie, ek sal maar groet vir nou, dan kan ek die brief pos wanneer ek netnou winkels toe gaan om my Old Mother Hubbard status op te gradeer. Ek het ook lus om vanmiddag fliek toe te gaan maar ek weet nog nie wat daar te sien is (indien enigiets) nie.
Jy moet lekker makietie hou in Pta;  ek hoop Carabosse daag nie op by die doopplegtigheid nie! Miskien kan Klein Jackie uitkyk vir haar en die honde op haar sit.
Lovenkisses,
Suster Katrien  åI¯œ

Saturday, September 10, 2011

Niets Dan Bladeren

Liewe Sussie,
Hierdie week is dit Maer Jare, of liewer Maer Week. Ek het nie veel gedoen nie en ek het dus nie veel tyding nie. Nie dat my tyding ooit vreeslik opwindend is nie (en ook maar goed!) maar soos jy vir die dame gesê het: ons stel belang in mekaar se doen en late.
As ons twee ou susters saam gewoon het, sou ons elke dag mekaar se wel en wee gedeel het, en nou dat ons so ver van mekaar af woon, moet ons maar ons bes probeer om dit nog te doen. Daar is al hoe minder mense wat my geken het toe ek 'n kind was; ek kan hulle op die vingers van een rumatiekhand tel. (En kleingeld oorhê)
Toe ons gisteraand so sit en kyk na die Rugby Wêreldkoppie se openingseremonie (my landgenote noem dit 'n Cere-moany, nie 'n Cere-minny soos ons gewoond is nie) … toe is daar 'n klein seuntjie wat rubgy speel in sy jaart en hom verbeel hy speel vir die All Blacks. Ek vertel vir D en K hoe het jou klein seuntjie daar op die grasperk in Menlo Park vir Noord-Transvaal gespeel en dan moet ek en jy handeklap as hy 'n drie druk en "Padda!" skree as hy skrum.
Waar is die dae, Sussie. Onthou jy hoe het ons saans op die vloer gesit en luister na die stories op Springbokradio. Daardie een van die koerant-verslaggewer wat sy storie vertel en op die end dan skree hy "Copyboy!" vir die kêreltjie wat sy storie na die setters moet neem. Ons het gedink hy skree: "Coffee, Boy!" Ons het ons altyd gavoorwonner dat hy so onbeskof is!
Op die internet is daar 'n plek waar jy kan kliek op die name van al die S/bokradio-programme: Wie die Liefde nie Het Nie, Du Plooys van Soetmelksvlei, Mary Livingstone MD, Taxi, Consider Your Verdict, Inspector Wie-nou-weer?, Pick-a-Box, Squad Cars, noem maar op. As jy kliek op die titel, dan speel die musiek en hulle resiteer die openingswoorde: … They prowl the empty streets by night…. En so aan. Nostalgie! Ek mors glad te veel tyd op my rekenaar.
Ek het baie gehou van jou storie oor jou kleinseuntjie wat vir Moses help in die tuin. Dan sien ek hom so voor my, soos sy oupa toe hy klein was. Het hy sy eie klein tuin-gereedskappies? Gister sien ek so 'n stelletjie, vurk, graaf, snoeiskêr; alles vir klein handjies, maar goeie goed, nie robbies nie. As dit nie so swaar geweeg het nie, het ek dit vir hom gekoop en gestuur.
Ek het in die week 'n pakkie daar na jou toe gepos, ek wil dit nie Pta toe stuur nie, want twee uit drie goed wat ek na Pta of Jhb stuur, kom nie daar uit nie. Hulle steel dit seker daar in die groot en bose stede. Ek het vir E 'n paar goedjies gestuur en vir jou 'n manteljie wat ek gebrei het. Jy kla hoe koud jou huis is, miskien kan jy met Ta'H se poncho oor jou bene en my manteltjie om jou skouers sit saans, en dan ruil jy weer om en hang die poncho oor jou skouers en die manteltjie oor jou kniee.
Ek het 'n bersie wat sy vir my gehekel het, in sulke zigzag strepe. Ek slaap iedere aand met hom oor my voete. As ek en jy en Kleinpappie tot ons vadere vergader is, dan sal niemand meer dikwels aan haar dink nie. Haar kleinkinders seker net so af en toe. Miskien dink Marie ook nog aan haar - hulle het lank onder een dak gewoon en siende dat Marie nog onder dieselfde dak woon, is daar seker baie dingetjies wat haar aan haar skoonma herinner.
Wat leef ek vandag so in die verlede - back to the future, Sussie! Ek is op pad winkels toe, ek wil vir my 'n stofsuier gaan koop. Ek het net 'n dustbuster in die huis en hy is nie veel werd nie. Jy moet hom ingeprop los anders is hy futloos as jy iets wil opsuig. Ek het nie 'n groot stofsuier nie - my skoonmakers bring hulle eie. Die huis het wel ingeboude "ducted vacuuming" maar die pyp is onder die huis gestoor, ek gaan hom nie uit sy plastieksak haal, boontoe sleep en inprop elke keer wat D die suikerpot omstamp nie.
Ek moet ook die bib besoek want toe ek vanoggend na my rekord kyk, sien ek daar wag sewe boeke vir my. Ek is baie opgewonde want party het hulle vir my aangekoop en ek wag al lank vir hulle.
O, van boeke gepraat, ek het in die pakkie vir jou die boekie gesit waarvan ek jou vertel het: die memoir wat die ou dame geskryf het van haar kinderdae op die eiland Guernsey tydens die Duitse besetting in WW2. Ek het dit baie interessant gevind aan die hand vd Potato Peel Pie boek. Jy kan dit saam met die ander een hou as 'n stel! Ek hoop jy gaan hom saamneem Pta toe, ek is seker Jo en haar ma en E sal almal hou van hom.
Vertel vir Jo van www.bookdepository.co.uk  Dit is 'n baie goeie plek om boeke te bestel. Hulle vra jou NIKS posgeld nie en hulle pryse is baie redelik. 'n Ander een wat ek baie gebruik, is die een vanwaar ek die Potato Peel Society vir jou laat stuur het, naamlik www.betterworldbooks.com
Hulle verkoop tweedehandse boeke, in goeie gesondheid, soos ex-library stock, wat dit natuurlik nog goedkoper maak. Dikwels is 'n boek wat ek soek, uit druk en dan het Better World Books 'n gebruikte eksemplaar. Jy sê Jo koop baie boeke.
Hd week het ek net een dag afsprake gehad: ek wou my kalander skoon hou want ek was nie lus om rond te hol nie. Lekker tuis rondgeploeter, sop gekook, wasgoed gedoen, kaste uitgepak, boeke gelees, DVDs gekyk. D was elke dag weg na sy bowls-besigheid, hetsy vergaderings of oefen of wedstryd speel, ek kon heerlik kyk na al die kuns- en ballet-DVDs waarby hy geen interres het nie.
Woensdag het ek vir Mireille ontmoet, ek vir tee en sy vir niks. Sy is allergies vir so baie goed dat sy nooit iets eet of drink nie. Sy vertel my sy leef nou op pampoen en piesangs. Sy was pas in die hospitaal omdat haar gestel allerlei "trace minerals and electrolytes" verwerp het wat 'n mens nodig het om te leef. Hulle moes allerhande drips in haar lyf sit. Sy het so baie gewig verloor, sy weeg nou 36 kilo's. Gelukkig is sy baie petite, nie lank of grof gebou nie. Sy is nietemin vel en been, met oë soos 'n panda s'n, maar nog steeds so elegant - wat is dit met Franse vrouens? Sy het haar tekeninge saamgebring vir my om te sien. Sy doen pragtige kunswerk.
Ek het 'n pot peperment-tee gedrink terwyl ons gesels het, en daarna het ek na May se huis toe gery want sy het my vir middagete genooi. Sy het my sop en tous gegee, baie aangenaam. Hoendersop. Rogbrood, dit maak lekker roosterbrood.
Heather se pa het haar kom haal en sy het saam met hom en haar stiefma huis toe gegaan. Sy gaan daar bly tot Maandag wanneer sy weer haar dr moet sien. Die dr het gesê as sy nie by haar pa gaan bly nie moet sy hospitaal toe gaan. Eenmanier moet sy wegkom van haar huis af, die stress maak haar siek. Hy het haar op anti-depressants gesit. Ha-ha, ek wonder hoe cope haar man met die feral kinders!
Nouja, Sussie, dit is al vir vandeesweek. Ek hoop die pakkie kom voor jy moet vertrek Pta toe, en indien nie, hoop ek iemand sal dit gaan afhaal by die poskantoor dat hulle dit nie terugstuur na my toe nie!
Bly mooi, ek hoop die warmer weer skop nou in by julle dat jou beendere kan ontdooi.
Lovenkisses,
Suster K  [{ö¯I

Sunday, September 4, 2011

Ellendes en Olifante

Liewe Sussie,
Ek kan nie glo dis alweer Sondag nie. Time flies when you're enjoying yourself. Nie dat ek 'n besonderlike genotvolle week agter die rug het nie: hy het sy Upson Downs gehad!
Laat ek nou maar inklok by Maandag: Heather het gebel om te sê sy is siek, sy voel bewerig en sy het pyn en sy wil nie agter haar stuurwiel inklim nie, kan ek haar dr toe neem. So gesê… 
Heather se dr is in 'n winkelsentrum en terwyl die dr oor haar gaan, het ek inkopies gedoen en toe gaan sit ek in die kar en lees my boek wyl ek vir haar wag. Kom sy wenend tevoorskyn, die dr het nie raad nie en wil ook nie vir haar meer painkillers gee nie. Sy het pyn in haar maag en in haar rug en in haar arms en bene en skouers. Sy is naar en sy kan nie eet of slaap nie en sy is bewerig. En ek moet jou sê sy lyk soos 'n panda, doodsbleek met swart kringe. Haar man het geen simpatie nie, hy sê sy moet haar regruk en dis alles net verbeelding.
Ek stel voor sy bel haar ma wat in Swan Hill woon ('n uur se ry uit Melbourne) om haar ten minste te kom help met die stout kinders. Sy het gebel en haar ma het toe ook gekom, maar sy het net een dag gebly en toe is sy vort. Heather sê "My mother is not very nurturing". Ek dink sy kon nie uithou met die twee feral kinders nie, maar ek weet as dit my dogter was, het ek die twee kinders elkeen 'n pak slae gegee, vir my skoonseun gesê hy kan 'n paar dae verlof neem en ek het my dogter in my kar gelaai en hospitaal toe geneem.
So is Ma weg en is sy toe weer daagliks deur die week al wenende op my telefoon en Vrydag toe kan ek dit nie meer hou nie, en ek sê vir D kyk, ek weet ek is nie haar ma nie, maar nou maak ek werk van die besigheid. Dit is nou genoeg. Tot hier toe en nie verder nie. Ek sê vir Heather sy moet 'n vriendin bel wat na haar kinders kan kyk, en sy moet regstaan, ek kom laai haar op en neem haar hospitaal toe. Vyfuur in die middag, slegte tyd, die verkeer is besete. D het aangebied hy sal ons daar gaan aflaai, en weer kom haal wanneer ek hom bel. Parkeerplek by die hospitaal is diabolies.
Ons gaan laai toe eers haar kinders af by die vriendin. Die vrou sê sy sal na hulle kyk tot seweuur, maar dan neem sy hulle huis toe, waar hulle pa sal tuis wees vd werk af. Haar eie kinders gaan seweuur slaap en as Heather se kinders dan nog daar is, is dit disrupsies want die twee rumoer en kyk tv en gaan slaap wanneer hulle wil, en dis gewoonlik nie voor tien- of elfuur nie. Toe ek dit hoor, sê ek vir Heather miskien moet sy haar kinders by die vrou los dat sy hulle ook kan optrain om 7uur te gaan slaap!
Ewentwil, dit het 'n uur geneem om by die hospitaal te kom. In die kar het Heather haar man gebel om te sê ek neem haar hospitaal toe, en sy het hom my selfoon-nommer gegee. Ons het in die wagkamer gesit en halfsewe toe roep hulle haar in. Agtuur toe kom 'n medic tevoorskyn en deel my mee hulle het haar pyn nou onder beheer en hulle wag vir bloedtoetse en scans se resultaat, dit sal ten minste twee of drie uur wees voor hulle weet of hulle haar oornag sal hou of wat.
My enkels het geswel van die ure se sit, soos in 'n vliegtuig. Ek het darem my breiwerk en my boek gehad.
Meanwhile het haar man hom nog nie bebodder om my te bel om te verneem wat gaan aan nie. Ek gaan toe maar huis toe, nadat ek haar gesien het en vir haar gesê het sy moet my bel sodra daar nuus is. Tuis aangekom, toe bel ek haar man, bring hom op datum en ek sê vir hom ek verwag om eers teen middernag van die hospitaal te hoor, maar as hulle sê sy kan huis toe kom, dan is ek bereid om in sy huis by sy slapende kinders te gaan bly sodat hy haar kan gaan haal.
Sussie, maak jou sitplekgordel vas voor jy verder lees! Ag, sê hy … dit sal beter wees as ek haar maar gaan haal, want hy kyk nou voetbal en hy gaan 'n paar glasies wyn drink. K en D hoor die gesprek aan, en toe ek daardie foon neersit, word ons histeries. Ons lag tot ons hik. Ek en die kind is so uitasem gelag ons kan glad nie praat nie; D snik net: "He is a disgrace!"
Nouja, lang storie kort: half-twaalf toe gaan laai ek en K haar op, want D het ook 'n paar glasies wyn gedrink voor die TV! Die hosp het haar 'n handvol pille gegee vir die pyn, 'n koevert vol toets-uitslae en verwysings na verskillende spesialiste vir Maandag. Sy was heelpad huis toe naar en kry warm en koue rillings. Tuis aangekom, sê sy haar bene voel lam en sy voel flou. Ek sê toe sy moet bly sit tot hy haar kan kom help in die huis in. K gaan lui die voordeurklokkie en sy sê vir die vent: "Heather needs help". O, sê hy, "I can't be much help." Maar nietemin het hy geredelik kar toe gekom en haar die huis ingehelp. Ek en K het haar handsak en baadjie en papiere agternagedra.
Die vlg dag (gister, Saterdag) is sy weer al-droewig-wenend op die foon, hy het daarop aangedring dat sy saamkom swembad toe vir die kinders se swemles, want hulle is onbeheerbaar in die kar en hy kan nie alleen cope nie. Nou is hy weg na sy judo-klub en sy, siek en lam, sit met die kinders. Ek kon hoor hoe lawaai hulle. Sy is raadop, sy is alleen, sy weet nie wat om te doen nie. Toe dink ek nee, ek is nie haar ma nie, en ek gaan nie aanbied om haar te gaan bystaan nie. Ek raai haar toe aan om haar pa te bel, dat hy en sy vrou oorkom vir die naweek, en ek sê vir haar sy moet haar man sê hy moet verlof neem en omsien na sy kinders. Gaan saam met jou pa huis toe en bly daar vir 'n week, sê ek. Maar ek weet sy sal dit nie doen nie.
Sy het self daardie drie monsters geskep saam met wie sy nou moet woon. Sy laat al hulle selfsugte en disgraceful gedrag toe. Dit is die resultaat. Ek gaan my nie verder laat insleep in haar moeras nie, sy het 'n ma en 'n pa en 'n man - hulle moet vir haar sorg.
Genoeg van maatskaplike werk - Donderdagaand het ons saam met Colin gaan eet by 'n nuwe Sri Lankan/Indiese restaurant met name Elephant Corridor. Dit was baie aangenaam, daar was 'n paar nuwe disse wat ons nie geken het nie. Ek het die menu saamgeneem, ek sal hom vir jou stuur dat jy solank kan besluit wat gaan jy bestel wanneer Elephant Corridor 'n tak in jou tuisdorp oopmaak. Reg langs die Village Odeon, dan kan jy heerlik daar eet voor of na die vertoning, soos die geval mag wees.
Colin en D het planne gemaak om saam te kyk na die rugby-wêreld-koppie. Vandag is Vadersdag by ons en K het vir hom 'n Springbok-serp en 'n beanie gekoop. Sy sal hulle later vandag kom oorhandig. Sy het Vrydagaand hier geslaap, maar nie gisteraand nie want sy was uit saam met vriende. Syself het natuurlik die Wallabies-paraphernalia.
Vrydag was ek saam met my BFF Margie na Seaford toe om Janice te sien, die Needy Stitches-vrou. Sy het my 'n sak breiwol gegee wat ingekom het as donasies, maar ek het nie baie lus daarvoor nie, party is te dun na my sin en ander te donkerkleurig. Ek kan nie meer met donker wol brei nie, dan kan ek nie die steke sien nie. Ek sal maar die wol aan die Op Shop skenk, iemand sal wel daarmee wil brei. 
My ogens is nie meer wat hulle was voor die oorlog nie. My regteroog het 'n kakkerlak maar die optometris sê dit nog nie tyd vir die operasie nie. Ek maak maar wat "hulle" my sê, wie is ek om beter te weet. Die katarak laat dit lyk of my bril se regterlens 'n vingermerk op het. Ek loer maar soos bes ek kan.
Ek het 'n lang SMS van N gekry: Fred het 'n boef getakel wat oor die muur gespring het, die bybie kan staan en sy kan kruip, die Granny Flat is nog nie gereed vir okkupasie nie, en Skoonma kom kuier vir 'n week. Sy gaan die kookdienste waarneem. Cara is iewers heen reisvaardig.
Ek gaan nou stort en aantrek dat ek die dag kan aanpak. Ek wil my kaste een-een uitpak. Daar is te veel goed wat ek opgegaar het. Wie weet wanneer gaan ek dood en dan moet K sukkel met al die detritus van die jare.
Om een of ander rede is ek in die laaste tyd bewus van my sterflikheid. Nie dat ek dink ek is op die randjie vd graf nie, maar ek weet ek is in die pylvak. Ek het geen vrees daarvoor om dood te gaan nie, maar ek het nie baie lus daarvoor nie, want 1. soos oorlede Graham, stel ek belang in die wêreld en in nuwe goed, en ek wil niks mis nie, en 2. ek verlang na my ma en ek dink elke dag aan haar, en ek wil nie hê my kind moet haar ma so mis nie. Jy weet hoe verknog is sy aan haar ma. Erger as Klein Japie aan syne.
Ek dink baie aan Boetie en hoe hy gesê het hy kom my groet want sy dood kom aan. Miskien is dit hoe hy gevoel het - ek is bewus daarvan my dood kom aan. Nie met rasse skrede nie, maar onwrikbaar. Ek hoop D sal hom bebodder om mense te laat weet! As jy 'n ruk lank niks van my hoor nie, moet jy navraag doen.
Nouja, Sussie, verder niets dan. Op hierdie begrafnisnoot neem ek afskeid tot vollende week.
Liefde en groetnis van Suster Katryn å¯YNJ

Skaak, Ballet en Rom Coms

Liewe Sussie,
Die Heilige Sabbat het weer aangebreek en hier sit ek met 'n koppie tee by my elmboog. D kyk hoe speel die Wallabies en die All Blacks. Hulle het gisteraand gespeel, maar hy was toe met ander dinge besig en kon eers vanoggend kyk.
Onthou jy daardie vent wat altyd gedink het dit is groot pret om vir Boetie die uitslag mee te deel van 'n wedstryd waarna hy nog nie gekyk het nie? As hy nog daar op die dorp woon, kan jy hom gerus in die skeen skop as jy by hom verbyloop op straat. Maak of jou voet gegly het.
Gister was ek by die ballet en soos altyd was dit baie mooi. Drie kort ballette ipv een lang storie. Die eesrte een was 'n skaakspel. Hier sien jy die rooi perd veg teen die swart koningin. Sy het gewen.
Die plaaslike koerant se resensie: ek kon dit nie self beter gestel het nie.
Dramatic. Romantic. Deadly.
A devilishly demanding ballet that’s heaven to watch; a chessboard war of love and betrayal; an audience favourite returns to the stage. British Liaisons brings together three generations of acclaimed choreographers to celebrate Britain’s best.

In this thrillingly diverse triple bill, The Australian Ballet pays tribute to its British beginnings. Checkmate is a cutthroat spectacle of sharp choreography, in which kings, queens and pawns battle to the death. Concerto is deservedly a modern classic, combining rigorous dance with undeniable wit. And to send you home swooning is Christopher Wheeldon’s 21st-century masterpiece After the Rain©, an unspoken love affair consummated on stage. From the savage to the sublime, British Liaisons is an exhilarating encounter with the best Britain has to offer.

Daar het jy dit.
Soos gewoonlik het ek reeds elfuur na die Arts Centre toe gegaan en 'n uur of twee in die kunsgalery (NGV) deurgebring voor ek na die teater is vir die vertoning. Dis lekker om alles onder een dak te hê, as't ware!
Ek het by die NGV gekyk na die nuwe aankope. Hier is baie mense met baie geld, Sussie. Een van diesulkes, Mr Sisson, het vir die NGV $5.2 miljoen gegee om 'n Correggio te koop wat op die mark gekom het. Ek is so bly hy bestee sy miljoene aan kunswerke. Hy kon dit uitgemors het op kos en medisyne vir die minderbevoorregtes!
The National Gallery of Victoria now has a $5.2 million Renaissance masterpiece by Correggio, the highest-priced acquisition in its 150-year history. Madonna and Child with the infant Saint John the Baptist had been hidden away in a private collection in Switzerland for more than a century. The painting was bought at Sotheby's London sale last month with the funds donated by NGV trustee Andrew Sisson.
Die skilderytjie is nie baie groot nie - as hy 'n skinkbord was, kon jy 'n teepot en drie koppies op hom gelaai het, maar net as jou gaste nie melk of suiker neem nie.
Die kleure is nog ongelooflik gloeiend en helder na 600 jaar. Die NGV is so opgewonde dat hulle die skildery dadelik vir ons wou wys, maar dis net vir 'n maand, dan gaan hy na die restoureerders dat hulle die eeue-oue, dik laag vernis kan verwyder. Dan sal hy nog mooier en helderder wees!
Daar is nog twee nuwe aankope wat ook vir my mooi was, en die kuratore het weer 'n paar prente tevoorskyn gehaal wat ek lanklaas gesien het, so ek het 'n interessante oggend gehad.
Ek neem my trollie saam, dan kan ek op hom sit as my heup seer word van staan. Hy het 'n mandjie onder die sitplek vir my handsak. Baie gerieflik. Ek neem hom altyd saam winkels toe ook - ek het 'n groot mandjie wat mooi op die sitplek pas en dan hoef ek nie my inkopies te dra nie. Groente en vrugte en kruideniers-ware is swaar! Buitendien hou ek daarvan om aan hom vas te hou as ek so rondstap by die winkels - die vloere is glad en ek wil nie val en my heup of been breek nie. Of my stuitjie.
Partymaal sal jy dink jy is by 'n trollie-saamtrek, daar is so baie oumense wat met trollies loop! Nie baie van hulle is so slim om 'n mandjie op die sitplek te sit nie.
Vandag het ek nie veel gedoen gekry nie - die son skyn so lekker by my slaapkamer in, ek het in my recliner voor die venster gaan sit en lees en aan die slaap geraak. My nanna-nap.  Dis 'n sonnige dag, maar koud buite. Ek sal netnou 'n entjie gaan stap.
Ek het toe pasede Sondag ipv fliek toe gaan soos my gewoonte is, ook NGV toe gery want ek was lus vir 'n vreedsame, stil dag van na mooi goed kyk en lekker in die Members' Room ontspan. So gesê, so gedaan.
Dit was 'n mooi dag. K het van haar huis af al langs die rivier gestap tot in die stad (so 8km) want sy wou oefen vir die Sydney-stap. Sy het my ge-SMS toe sy in die stad kom sodat ek haar in die NGV se fouer kon ontmoet en ons het saam koffie gedrink in die Members'. Sy wou nie saam kyk na die werke nie, sy wou weer in die pad val vir die tweede been van haar staptog.  Ek het vertoef tot so drieuur en toe is ek huis toe.
Maandag het ek soos Cinderella hier in die huis gewoeker, Dinsdag het ek fliek toe gegaan saam met Heather. Sy het haar werk bedank en haar naam geregistreer by 'n "Temp Agency". Sy doen kantoor-admin, so daar is altyd temp werk beskikbaar wyl kantoorjuffers met verlof of siek is. Heather soek werk wat sy kan doen vir 'n week of twee-drie op 'n slag, en sy wil skoolvakansies vir die agentskap kan sê sy is nie beskikbaar nie.
Nouja, sy het nog nie werk nie en toe stel sy voor ons gaan fliek toe. Ons het "Friends With Privileges" gesien. Dis 'n rom/com en jy moet asseblief onthou om te sê NEE as iemand jou nooi om dit te gaan sien. Ek is nie 'n rom/com fan op die beste van tye nie, maar hd een was regtig besonder simpel. Die storie en die toneelspel was maar baie ordinêr (en jy moet weet in my nuwe land is "ordinary" 'n woord wat beteken "uiters ellendig"!) en bowendien moes ons baie tyd in die mense se slaapkamers deurbring, waar ons moes toekyk hoe hulle allerlei aksies uitvoer waarvan ek nie eers geweet het voor ek al diep in die twintig was nie.
Ek is nie preuts nie, Sussie, maar daar is 'n tyd en 'n plek vir alles, en daardie tyd en plek is nie die silwerskerm op 'n Dinsdagoggend nie. Heather het gedink dis Krismis - sy was amper 3 jaar laas in die bioskoop en sy hou tog so van 'n rom/com. Sy het ook met groot aandag na die "trailers" vir die opkomende rom/coms gekyk en telkens gesê: "I wouldn't mind seeing that!" Ek hoop sy kry gou werk.
Woensdag het ek soos gewoonlik vir May ontmoet vir koffie en biblioteek. May het allerlei gesondheidsprobleme en ek het ook soos gewoonlik glad te veel informasie gekry oot haar persoonlike aangeleenthede. Sy was by haar ginekoloog en by die fisio en by die man wat oor haar slukderm gaan, en ek moes al die besonderhede hoor. Ek het Dinsdag by die fliek reeds my kwota ginekologiese details vir die jaar verneem, en ek is nou baie op vir mense se pienk onderdele. Ek wil dit nie sien of daarvan hoor nie.
Donderdag het ek en Joan gaan lunch vir haar happy birthday. Die okkasie was reeds 2 weke gelede maar daar was nie 'n paslike geleentheid tot nou nie. Ons was by die RSL, waar sy vis en ek hoender het. Gemarineerde hoenderstukkies op 'n bed van couscous, spinasie en gebakte pampoenblokkies. Dit was sommer die afskeidsete ook, want Joan en haar man vertrek Vrydag oorsee soos hulle elke jaar doen om by hulle kinders in die VSA te gaan kuier.
En so kom ons weer by SELA. Bly mooi en sê baie groetnis al in die rondte.
Love, Suster Katrien Y I J