Monday, August 25, 2014

Hughie die Reëngod en Racheltjie de Beer


Sunday, August 24, 2014
Liewe Sussie,                                                                     
Heel week lekker sonskyn en 20º, maar vandag het Hughie besluit dit moet reen. My landgenote moedig die reen aan deur te sê: "Send her down, Hughie!" Nee, dit help nie om my om verdere inligting te vra nie. Hier in Australië is Hughie die reen-god, is al wat ek weet. Wag, ek vra vir Google …

A common Australian phrase: "send her down Hughie".  Used when it's raining, this phrase is appealing to the heavens for more and heavier rain.To the best of my belief, it was at Charlton [in 1905] that 'Hughie' as the chief deity in the job of controlling the weather came into being. (H.P. Tritton, _Time Means Tucker_, 1964)
Daar het jy dit. Ek sê jou mos Google weet alles.
Ewentwil, gelukkig reen dit blykbaar nie

vandag voltyds in Sydney nie, net "light showers", want soos ek jou pasede week laat weet het, is Elaine daar en vandag is die dag van die City to Surf 15km stap saam met haar vriende. Hopelik sal sy nie te nat word nie.

D sit en kyk rugby: S/bokke v Argentina. Ek hoop die Bokke vaar goed, want gisteraand moes hy die slagting gadeslaan toe die All Blacks die Wallabies 51-20 geklop het. Hy was baie ongelukkig en wie sal hom blameer.  Hy hoef nie vandag te sien hoe sy ander span ook verloor nie. Toe Elaine gisteraand gebel het, het sy gesê daar is 'n groot TV stel in haar hotelkamer en sy gaan nou kyk na die rugby. Ek hoop nie sy het die TV geskop of iets na hom gegooi nie!


Ek het niks noemenswaardig gedoen hierdie week nie, ek het net saam met Joan gaan koffie drink Dinsdag. Ook maar goed, want D se modderkar is in vir klopdienste. Ek weet nie of daar nog paneelkoppers is nie, ek dink hulle ruk sommer die gekrapte of geduikte deel af en sit 'n nuwe een aan. Nie dat hy 'n spesifieke stamp gekry het nie, hy het net besluit dat dit tyd is dat hy al die duikies en skrape nou moet laat heelmaak en oorverf. Jy weet hoe akkumuleer letsels aan 'n  mens se kar, veral as jy gereeld in parkeergarages met smal plekke is, waar die man langs jou sy deur oopmaak teen jou kar. Hy sal Maandag weer sy eie wiele hê, tot dan deel hy myne. Sy bowls bag is in my kattebak.

Kattebak is 'n mooi woord. Maarten Coetzee het altyd die cubby hole/glove box die "muiskluis" genoem. Ek hou van kattebak en muiskluis. Glove box. There's a blast from the past: waar is die dae toe dit die plek was vir jou handskoene!  Handskoene is nou in hulle maai saam met hoede en sigarette. Jy sien hulle net in die ou bioskoopprente. Almal rook en dra hoede. Mans en vrouens. Elaine vra altyd: "Where are the track suits and sneakers?"

Jy weet hoe geniet ek my rekenaar, ure van pret! Beter as Springbokradio. Ek kom anderdag af op die Blog van 'n vrou genaamd Elizabeth. Sy is 'n afgetrede skooljuffrou (klein kindertjies in 'n klein dorpie) en sy woon nou in Pretoria. Klink of sy ons ouderdom kan wees. Dis nie dalk jy onder 'n skuilnaam nie? Ewentwil, sy vertel staaltjies uit haar klaskamer. Ek is seker dit sal aanklank vind by jou! Hier is een wat jy sal geniet:

Storie-tyd: Racheltjie de Beer (deur Elizabeth)
‘n Klas vol Graad Eens het voor my gesit, al luisterende. Ek het hulle volle aandag gehad. Klasatmosfeer sou ‘n gawe punt by enige dosent kon verdien met dié les.

Ernstig en oortuigend het ek vertel van die dapper dogtertjie wat in die sneeu verdwaal het terwyl sy en haar boetie help skapies soek het.  Hoe ysig koud dit was en hoe alleen sy gevoel het in ‘n sneeubedekte, spierwit wêreld waar alles dieselfde lyk.  Hoe sy en Kleinboet onbewustelik al in die rondte gedwaal het, al kouer en kouer geword het. Naderhand half verkluim skuiling gaan soek het in ‘n uitgeholde miershoop op die sneeuwit veld.
Toe ek by dié deel kom waar Racheltjie haar kleertjies uittrek om haar boetie daarmee warmer te laat voel, het ‘n paar dogtertjies voor my begin snik en traantjies afvee.  Ek het voortborduur, myself ook in die hartseer ingepraat.  Geheel en al ingeleef in dié ware verhaal van jare gelede.

Die ergste het nog voorgelê. Met boetie toegewikkel in sussie se klere en sussie bibberend teen hom aan, die tweetjies alléén in die koue, donker nag en ‘n Pappa wat met die hulp van ‘n paar werkers vergeefs by lanternlig soek en soek na sy kinders, was feitlik my hele Graad Een-klas in trane.  Juffrou moes maar deurdruk en vasbyt. ‘n Mens kon ‘n speld hoor val in die klas. Bewegingloos het hulle voor my gesit, angstig wagtende om te hoor wat verder gebeur het.

Op daardie oomblik (waarom juis toe?) het my oog op ‘n tingerige seuntjie voor my geval. Hy was nie een van die knapste knapies in my kudde nie, inteendeel. Behalwe vir sy verstandelike agterstand, was hy ook maar baie armoedig gekleed. Op dié geskiedkundige dag het Andries bv. nie ‘n onderbroek aangehad nie
So met my roerende vertelling saam, kyk ek af en merk dit op. Die onderbroek ontbreek.  Ek stoei voort met die hartseerste deel van Rachel-in-die-sneeu. Andries se dun, opgetrekte beentjies, die nog dunner armpies styf om sy kniekoppe vasgeklem, sy bleek gesiggie die ene konsentrasie reg voor my in afwagting.

Sy oë was groot en vol trane, sy ou mondjie halfpad oop en die onderlip onbeheersd aan’t bewe.  By sy broekspyp uit hang die dunste en slapste klein tottermannetjie wat ek in my hele lewe gesien het. 'n Bleekpienk erdwurmpie.  Saam met die bewende onderlip maak dit ‘n droewige prentjie wat ek vir ewig sou onthou.

Verseker was dit dié tydstip in my ganse skoolhoulewe waarop dit die moeilikste was om NIE te lag nie.

Met die allergrootste selfbeheersing het ek aangegaan tot daar waar Rachel as ‘n volk se heldin, ‘n voorbeeld van dapperheid en naasteliefde kon voorleef in my Graad Eens se gedagtes. ‘n Verhaal om altyd te onthou en eendag aan hul kinders te vertel.

Dat hul Juffrou dié dag om ‘n heeltemal ander rede sou onthou, het hulle gelukkig nooit geweet nie. 

En op daardie noot gaan ek nou eers stort en aantrek dat ek in my deel-voertuig kan klim en biblioteek toe ry voor D vanmiddag by sy klub moet inklok.
…………Baie liefde en groetnis
.

Netbalspelers en Skoonmaaksters


Saturday, August 16, 2014
Liewe Sussie,
Neem ek stelling in agter my skryfmasjien op die Saterdag. Elaine meld nie hierdie naweek chez nous aan nie want sy gaan vandag na 'n troue toe en more op die Sondag wil sy haar huis 'n goeie skoonmaak gee. Ons sal haar ook nie die daaropvollende naweek sien nie, want dan gaan sy Sydney toe om deel te neem aan die jaarlikse City to Surf, soos sy elke jaar doen saam met 'n groepie vriende.

Sy gaan inklok by 'n hotel naby Melanie en Dan, maar sy wil nie by hulle aan huis tuisgaan nie. Elaine is nie 'n fan van klein kindertjies nie. Sy sê as sy in 'n hotel is, dan kan sy huis toe gaan wanneer sy moeg is vir Nefie Wade.   Hy is 'n baie mooi en oulike seuntjie, maar hy is 'n brokkie. Die wereld draai om hom en hy is gewoond om te alle tye die middelpunt van belangstelling te wees. As alle aandag nie op hom gevestig is nie, dan neem hy stappe om dit te bewerkstellig. Jy ken al die ammunisie in 'n tweejarige se arsenaal, ek hoef jou nie te vertel nie. Ek sou ook in 'n hotel tuisgaan as ek Elaine was! 


Hierdie week het niks uitsonderlik gebeur nie. Dit is winter en dis koud, maar ek kan nie kla nie, want die sentrale verhitting werk goed, ons huis is lekker warm. Die wasgoed kom saans in en deel die woonkamer met ons, maar nouja, as ek hulle buite los, gaan hulle nie droogword nie.

D moet weer vanaand inklok by sy klub om diens te doen want hulle het die saal en kombuis uitgehuur aan die Netbalvereniging vir een of ander funksie. Daar sal glo 200 mense wees insluitende minderjariges. Anders as die Sri Lankan muslims van laaskeer, deins hierdie spul netbalspelers nie terug vir 'n sopie nie. D sal die kroeg moet oopmaak. Hy het twee handlangers, so hulle sal drie kroegmanne wees.

D het sy kroegman-papiere en hy het sy pedofiel-sertifikaat ook. Hy moes 'n driedaagse kursus volg om al die drankwette te leer voor hy agter 'n kroegtoonbank mag werk, en hy moes 'n polisie-uitklaring kry dat hy nie 'n kinder-moleveerder is, voor hy kontak met minderjariges mag hê.  'n Hele klomp mense by sy klub het daardie sertifikate sodat hulle diens kan doen by funksies of afrigting kan gee aan skoolkinders.  


Ewentwil, daar sal minderjariges ook wees onder die netbalspelers, en hulle sal foto-ID moet vra van enigeen wat lyk of hulle te jonk is om drank te mag koop (18). Dis baie moeilik om te weet hoe oud meisies is! Hulle het 'n kennisgewing by die kroeg wat sê If you look younger than 30, we will need to see photo ID. Dis die veiligste!


Ek het Dingsdagaand saam met Carla en Carol gaan eet by Fidele, 'n Italiaanse keffie. Ons het hom gekies omdat hy sy eie parkeerterrein het en 'n mens dus so-te-sê voor die deur kan parkeer. Ou dames wil nie ver loop in die koue aandlug nie. Fidele is taamlik "upmarket", dis heelwat duurder as ons gewoond is om te betaal by die etniese restaurante wat ons gewoonlik besoek, maar nouja, die kos was baie lekker en dit was soos gewoonlik 'n aangename aand. Sunanda kon nie meedoen nie, want haar man het 'n knie-operasie ondergaan en sy moet Florence Nightingale (in 'n sari) wees.


Woensdag was my skoonmaakster Simone hier. Jy kan nie glo hoe maak sy skoon nie. Sy skrop in gleuwe met 'n tandeborsel waar nodig! Alles blink, sy ruk die beddegoed af en maak die beddens oor op sodat hulle 'n militêre inspeksie sal slaag. (Beddens is nie deel van haar job nie!) Sy ly beslis aan OCD. Sy sit alle losgoed op 'n ry, sy spasieer die stoele eweredig. D sit altyd 'n ekstra rol toiletpapier op die vensterbank bokant sy toilet, maar dinge staan nie rond waar Simone septer swaai nie! Sy bêre daardie rol elke keer in die kassie. D sê hy worry nie, hy haal hom maar elke keer weer uit, hy wil nie uithardloop uit papier nie!  Hy trek sy styf-ingevoude beddegoed onder die matras uit sodra sy weg is. My huis was in menseheugenis nie so skoon nie. Simone kom van Romania af. Dis seker 'n baie skoon land!


Donderdag het ek vir Margie ontmoet vir koffie. Sy soek nou weer boekhou- of teller- werk, maar dis moeilik as jy oor die veertig is en ses jaar uit die beroepsveld was terwyl haar ma so siek was. Alles verander, daar is nuwe tegnologie waarmee jy nie vertroud is nie en hulle soek jonger mense. Shym, sy het nie selfvertroue wanneer sy vir 'n onderhoud gaan nie. Ek hoop sy sal werk kry.

Haar man Craig is 'n hans-poliesman. Hulle kry opleiding by die polisie-kollege maar dan word hulle nie volwaardige poliesmanne nie, maar wel sekuriteitswagte en "personal protection officers". Hulle pas openbare geboue op soos die Parlement en die Goewerneurswoning (Government House) en hulle is lyfwagte vir hooggeplaastes wanneer nodig. Craig werk allerlei skofte, partymaal is hy op nagdiens en dan slaap hy bedags. Nou dat Ma nie meer daar is nie, gaan slaap Craig in die granny flat, dan hinder die foon en ander geluide in die huis hom nie.

Ons het kennis gekry dat ons voorstad se krag Vrydag sal af wees van 11vm tot 4nm omdat hulle werk wil doen aan die lyne. Hulle het vir ons twee weke kennis gegee. Niemand wil heeldag in 'n koue huis sit sonder 'n TV of 'n rekenaar nie, so ons het planne gemaak om die dag elders deur te bring.  Ons het alles afgeskakel en ontprop voor ons die huis verlaat het.

Ek en Carla was na Michael die Voetvent om ons tone te laat diens. Agterna het ons by Midori gaan eet, die Japanese keffie langs Michael se werkswinkel. Ek het vir Carla by haar huis gaan aflaai so teen halftwee, en toe gaan ek nie huis toe nie maar wel na die Vermont South Sentrum. Daar het ek 'n bietjie inkopies gedoen en toe het ek by die Ver Sth biblioteek gaan sit en lees in 'n gemaklike stoel in die wintersonnetjie, want ek wou nie voor 4nm by die huis kom nie. D het ook die dag elders deurgebring – hy was in die oggend by sy klub, hy het in 'n keffie middagete gaan geniet en toe is hy fliek toe.   Toe ek so teen halfvier by die huis kom, was alles aan – ek kon die yskas hoor toe ek instap. Niks het swade gely nie, aawrieboddie haaappie.
Ek het sopas middagete gemaak (chili con carne, fyn aartappels en groenbone) maar ek het myne eenkant gesit, ek het nie honger nie want ek het laat ontbyt geëet. Ek wil nou winkels toe gaan om vir May 'n kaartjie en 'n geskenkbewys te koop. Sy verjaar more, dan is sy 89.  Ons gaan middag-tee drink vir die okkasie. Ek gee elke jaar vir haar 'n geskenkbewys wat sy by enigeen van 'n klomp verskillende winkels kan gebruik. Sy kan klere of boeke of DVDs of elektriese toebehore of kruideniersware koop, net wat sy wil. V

Verlede jaar het sy 'n nuwe ketel gekoop (sy moes self iets bysit). 

Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren.

 

 

Tuesday, August 12, 2014

Slingerplante en Sam P se dagboek


Sunday, August 10, 2014

Liewe Sussie,

Dit voel soos gister dat ek vir jou geskryf het. Die dae vloog al hoe vinniger, een van die dae is die wenpaal op ons. Ons is nou in die voorste linie, Sussie, steeds meer van ons tydgenote is al terug in die pawiljoen.

Stil week agter die rug, ek was Maandag saam met Carol vir koffie en sy het my alles vertel van haar seun die dwelmslaaf se nuutste manewales. Hy het nou 'n meisie, natuurlik een wat hy in die rehab ontmoet het. Daar sal nie 'n happy ending wees nie.

Dingsdag het ek vir Joan uitgeneem vir middagete want dit was haar happy birthday. Ons het by die Saigon Orchid gaan eet. Ons het twee voorgeregte en een hoofdis bestel en alles gedeel. Joan het 'n glasie witwyn gedrink ook maar ek het volstaan met chinese tee, jy weet ek drink nie alkohol nie.

Joan het gekla want Saterdagaand sou haar dogter (met man en 2 kinders) oorkom vir die verjaardag-feestelikhede, maar sy wat Joan is, moet cater. Sy het gehoop hulle sou haar uitneem! Dis seker moeilik met die twee kinders, maar daar is so 'n ding soos babysitters! Of miskien kon die dogter vir Joan en Gerry oorgenooi het na haar huis en kon sy die catering gedoen het! Nouja, ek simpatiseer maar dis nie my probleem nie – wanneer ek verjaar, is dit reguit na die naaste keffie.

Elaine was hier vir die naweek. Sy het Vrydagaand ingeklok. Saterdagoggend het sy gaan Hansie Slim en in die middag het ons na Rivoli toe gery en A Most Wanted Man gaan sien. 'n Goeie outydse spioenasie-riller gebaseer op 'n John le Carre boek. Ek kan dit aanbeveel. Dit is ook Philip Seymour Hoffman se tweede-laaste prent, shym. Die Regisseur Met Die Sekel het glad te vroeg vir Hoffman gesê  "Cut!"  – op 42 het hy net sy beste werk begin doen. Fliekgangers sal hom mis. Gelukkig is daar nog een film, wat later vanjaar vrygestel gaan word.

D het die hele naweek bowls gespeel in Brighton. Gister het dit goed gegaan, maar ek dink nie hy het vandag so baie geniet nie, want het het laasnag sleg geslaap. Ek het 4uur in die oggend gesien die lig is aan in die huis, toe sit hy en TV kyk en op die rekenaar woeker want hy kan nie slaap nie.

Ek sê altyd vir hom as jy daardie dinge doen, maak jy net jou brein wakkerder. As jy wil slaap, het jy nie stimulasie vir die brein nodig nie. Gaan lê, maak jou oë toe en netnou raak jy aan die slaap. Indien nodig, sit jou radio saggies aan op die BBC World Service. In die nag saai hulle programme uit oor besproeïngskema's in Turkye of die ontwikkeling van 'n weef-industrie in Bangladesh. Jy raak aan die slaap uit pure self-verdediging teen die verveligheid.

Vanoggend bel Tony vir Elaine – hy is desperaat want Sarah het hom afgesê (vir die tweede maal) en nou wil hy op Elaine se skouer huil. Sy het gesê sy sal hom drieuur ontmoet vir koffie by 'n keffie in Richmond, en sy is dienooreenkomstig net na middagete hier weg.  Sy sê sy wil nie hê hy moet na haar huis toe kom nie, want dan sal hy ure daar sit en uitpak. Desnoods huil ook. As sy hom in die openbaar ontmoet, is die kanse minder dat hy sal huil, plus sy kan groet en huis toe gaan na 'n paslike tydsverloop. Elaine sê sy het regtig nie lus om weer deur die Sarah-saga te gaan nie, maar Tony is haar vriend en as jou vriende ongelukkig is, moet jy luister.

Tony se moeilikheid is, hy is 'n slingerplant wat vir Sarah wil toegroei. Hy het haar seker so 18 maande gelede ontmoet. Alles het die eerste ruk goed gegaan, maar omdat hy elke wakende oomblik in haar geselskap wil wees en te alle tye haar hand wil vashou, het sy begin claustrophobia kry en wie sal haar blameer.

Toe sê sy vir hom nee, dit gaan nie werk nie, sy het haar eie lewe en hy kan nie elke aand en heel naweek saam met haar deurbring nie. Hy belowe toe hand en mond hy sal haar 'n bietjie spasie gee, maar al bly hy weg, bel hy haar aanhoudend wanneer hy nie by haar is nie. Toe sê sy nou wil sy hom nie meer sien nie. Maande daarna het hy gemopper en kon oor niks anders as Sarah praat nie. Elaine en Sam het hom later begin vermy want hulle moes aanmekaar die troosters wees.

Toe, blye dag, hoor ek 'n paar maande gelede Sarah het hom teruggevat, op die streng voorwaarde dat hy nie so "needy" gaan wees nie. Maar anderdag sê Elaine vir my sy dink die byl gaan enige dag weer val, want hy kan homself nie help nie, hy rank weer vir Sarah toe. As sy vir hom sê sy kan hom nie hierdie naweek sien nie want sy het ander planne, dan bel hy haar elke halfuur. Nou is ons weer by square one. Ek hoop nie sy vat hom weer terug nie, tweemaal is genoeg.

Ek lees nog elke dag Sam Pepys se daaglikse doen en late. Hy moes vandag Huntingdon toe gaan en saal toe vroegoggend perd op, maar toe hy by Stanton kom, het dit swaar begin reen: "Early to Huntingdon, but was fain to stay a great while at Stanton because of the rain, and there borrowed a coat of a man for 6d., and so he rode all the way, poor man, without any."  Shym, ek weet nie hoe ver is dit van Stanton na Huntingdon toe wat die arme man in die reen moes ry terwyl Sam sy jas aanhet nie. Hy moes desperaat gewees het vir daardie sikspens. Hoekom kon Sam nie sy eie jas saamgeneem het nie? Hy weet mos hy bly in Ingeland waar dit knaend reen.

Hier is ons nou klaar weer by Maandag en ek het nie juis verder iets om aan te kondig nie. Ek wil netnou gaan inkopies doen want ek is Mother Hubbard. Wie weet wat gaan ek vir middagete gaarmaak. Ek sal sien wat ek sien as ek by die winkels kom. Miskien 'n bietjie maalvleis koop en frikkadelle maak.  Ons het lanklaas gefrikkadel.

Vanaand gaan ek uit saam met my ex-kollega's so ek wil nie juis 'n groot maaltyd eet in die middel van die dag nie. D kan 'n proper plate of dinner eet (a la oorle' Skoonma) en ek sal 'n frikkadel-en-tamatie toebroodjie eet.

Nouja, Sussie, baie groetnis aan jou en joune, ons gesels weer aankomde week.

Sunday, August 3, 2014

Tee, Byeboere en Boldini

Giovanni Boldini: Marthe de Florian

Saterdag 2 Aug 2014

Liewe Sussie,

Nog 'n week in sy maai en nie veel om te rapporteer nie. Ook maar goed, 'n mens soek nie te veel opwinding nie. Jy ken vir "no news …"

Ek het hierdie week elke dag 'n koffie-afspraak gehad, met verskillende mense. Ek is nou behoorlik uitge-koffie. Ek kan nie tee bestel nie, want my landgenote weet nie hoe om tee te maak nie. Hulle bring of 'n potjie warm water met 'n teesakkie in 'n koppie daarmee saam, jy moet dan self die water op die sakkie in die koppie gooi.  Of (nog erger!) 'n koppie warm water met 'n teesakkie in die piering.  Let wel warm water, nie kokende water nie. Partymaal kan jy jou vinger in daardie koppie water steek sonder kwade gevolge.

Oorlede Douglas Adams (of blessed memory) het nie alleen vir ons die antwoord gegee op "the question of Life, The Universe and Everything" nie (Die antwoord is 42), maar hy het ook goeie instruksies gegee hoe om tee te maak: There is a very simple principle to the making of tea and it's this - to get the proper flavour of tea, the water has to be boiling (not boiled) when it hits the tea leaves. If it's merely hot then the tea will be insipid. And that's why the American habit of bringing a teacup, a tea bag and a pot of hot water to the table is merely the perfect way of making a thin, pale, watery cup of tea that nobody in their right mind would want to drink.

Selfs al was daardie koppie water warm genoeg om tee te maak, wat maak jy met die teesakkie wanneer hy klaar getrek het? As jy hom in die piering sit, staan die koppie in 'n plas en mors jy tee op jouself elke keer dat jy die koppie optel. Anderdag sien ek 'n vrou by die tafel langsaan drink die tee met die sakkie se toutjie wat oor die koppie se rand hang. Ek gaan nie tee drink met 'n teesakkie in die koppie nie. Waar is Rysie tog om 'n skinkbord aan te dra met 'n ordentlike pot tee op? Ons het nie die vleispotte van Egipte genoeg waardeer nie!

Nouja, ewentwil, ten einde nie my siel te versondig nie, bestel ek koffie, al hou ek nie juis van koffie nie. Ek het altyd decaf bestel, maar toe vind ek uit die proses om die caffeine uit te haal, gebruik sianied. Ek het nie lus vir gif nie. Die caffeine is klaar gif genoeg vir my. Nou bestel ek "half strength skinny latte." Ten minste kry ek dan net helfte van die caffein in. Miskien moet ek sjokolade begin drink soos Heather.

Sondag   Vroegoggend: my wasgoed is in die masjien, 'n kerrie prut op die stoof, maar ek het gefaal in die stort-en-aantrek-departement. Ek sit nog hier en skryf in my ghount en pêntoffles, suiende aan 'n kommetjie tee. Dis koud. Vandag is daar nie haelbuie en stormwind soos ons die afgelope drie dae gehad het nie, maar Melbourne is leeg, die verkeer is stil soos skoolvakansie, want almal het hulle ski's gepak en sneeu-berge toe gery. Die sneeu het dik geval hier in die distrik en die ski-oorde is stampvol besoekers.

Natuurlik het dit nie gesneeu in die stad self nie, hoewel daar in die buite-voorstede 'n paar warrels was. 'n Groot stad vervaardig  sy eie hitte: al daardie verkeer en verhitte geboue. Dit moet bleddie koud wees voor dit in die stad sneeu.

Die bowls-seisoen begin eers die eerste week in September, maar gister het D die hele middag en aand by die klub deurgebring. Hulle huur hulle saal en fasiliteite uit vir verrigtinge en feeste. Gister was daar 'n 21ste verjaardag: dit was Sri Lankan mense en hulle was muslims, so die klub het niks gemaak uit die kroeg-fasiliteite nie. D vertel my hulle het gellings Coke gedrink! Wat hulle self saamgebring het, hy het glad nie die kroeg oopgemaak nie. Ewentwil, hy was aan diens daar vanaf 3nm, toe die voorhoede opgedaag het om die tafels te dek. Hy het in die kantoor gesit, sy koerante gelees en op die rekenaar gewerk en gespeel, terwyl hulle feesvier in die saal en woeker in die kombuis. Hulle het hulle eie kos gecater, dit was glo 'n massiewe buffet-ete. Die skottelgoedwasser het skofte gewerk. Hulle het vir D 'n bord kos aangedra kantoor toe, hy sê dit was baie lekker.

Die meeste van die vrouens was in volle byeboer-mondering, maar daar was party wat net hulle koppe toegedraai het. Selfs 'n paar in die teens en vroeë twintigs wat, shock, horror! absoluut kaalkop rondgestap het. Natuurlik is hulle korrup deur hulle skoolvriendinne. Skaars begin hulle hier skoolgaan, of hulle verbeel vir hulle hulle is net so goed soos hulle broers en hulle kan motorkarre bestuur en universiteit toe gaan en self piek met wie hulle wil trou, of hulle hoef glad nie te trou as hulle nie wil nie. Vrouens ken nie hulle plek in hierdie land nie.

Nouja, soos gesê, D is drieuur hier weg en hy het gesê hy sal so 9nm tuis wees. Moenie glo nie. Agtuur toe bel hy om te sê die paartie is nog in volle swang, hy sal eers later kom, want wanneer die verrigtinge verby is, sal die agterhoede eers moet opruim voor hy die deure agter hulle kan sluit en huis toe kom. Ek het halfelf gaan slaap. Toe ek hom hoor inkom, het ek na my horlosie gelyk en dit was net na eenuur in die oggend. Hy het nogal vir my gesê hy glo nie dit sal te laat aanhou nie, want dis nie asof daar drank is nie – jy weet hoe ken drinkers nie die tyd om huis toe te gaan nie. Miskien het party van hulle heup-flessies gehad en elke nu en dan 'n draai agter die fiets-afdak gaan maak, wie weet?

Wat sal 'n hoërskool tog wees sonder 'n fiets-afdak! Daar agter die fiets-afdak word gerook en gedrink en gevry en die kat word oor die algemeen in die donker geknyp. Jy hoor net hoe miaau hy. Dit laat my dink aan Shirley Coppock se pa. Shirley vertel my toe hulle kinders was, was haar pa die man wat al die katte in die omgewing moes kastreer. Met sy knipmes. As die kat so gil daar in die "garden shed" dan sê Shirley se ma: "Dad is cutting the cat's toenails and he doesn't like it."  Nee, ek wil glo hy hou nie daarvan nie!

Ewentwil, D het gister voor hy weg is, die TV aangesê om die Grand Final van die Super-rugby op te neem. Ongelukkig was sy radio aan toe hy huis toe ry, en toe hoor hy die uitslag. Vanoggend sleep sy onderlip op die vloer, want hy het uitgesien daarna om voor die TV stelling in te neem met sy koffie om na die wedstryd te kyk. Onthou jy hoe daardie Visser altyd opsetlik vir R vertel het wie het gewen voor hy na die wedstryd kon kyk? D se motorkar-radio het hom geVisser.

Ek het hierdie week 'n sarsie boeke gelees, maar daar is net een wat ek kan aanbeveel, nl. A Paris Apartment deur Michelle Gable. Sy neem die portret van Marthe de Florian deur Giovanni Boldini as haar uitgangspunt en vertel Marthe se storie. Boldini het Sargent se ateljee in Parys oorgeneem na die Madame X skandaal, toe Sargent se naam modder was in Parys en hy moes uitwyk na Londen. Marthe was 'n courtesan van die Belle Epoque, en onder die karakters in die storie is baie van die Impressioniste en die prominente mense van die era. Bekend aan ons deur hulle portrette!
Bv die dokter wat Marthe se bevalling waarneem, is Dr Pozzi. Sargent se portret van hom, Dr Pozzi At Home, is een van my gunstelinge. Dr Pozzi in sy lang rooi kamerjas lyk soos 'n kardinaal. Sou dit sy naghemp wees wat 'n geruffelde frill om die nek het of sy daghemp? Wie sal weet.

Jy kan nie glo hoe skoon is my huis nie. My nuwe cleaning lady (Simone) is 'n voorslag. Sy het die woonstel daar onder skoongemaak, squeaky clean, ek kan hier bo hoor hoe squeak hy. En van squeak gepraat, daar was eersgister 'n gekrabbel hier in die muur, ek en D dink dit 'n muis wat onder die huis ingevlug het vir die koue en sy weg binne die muur gevind het. Hy het of weer sy pad na buite gevind of hy is oorlede, want gelukkig is alles nou weer stil.

Nou moet ek gaan wasgoed ophang.   Baie groetnis en liefde.

Saturday, August 2, 2014

Toneel en Baaiskoup



Saterdag 26 Julie 2014
Liewe Sussie,

Nog 'n week in sy maai en ek het nie veel om te rapporteer nie.

En hier sien jy vir Helene.  Al daardie jare van drade aan haar tande het niks gehelp nie!

Hier by ons is daar op elke sigaretpakkie foto's van die nare dinge wat rook aan jou doen: vrot tone, weg-gevrete wange, kankerlonge, aaklige tande, ens. Helene was saam met 'n paar vriende wat rook, en toe vat sy die een se leë sigaretdoos, skeur die foto van die aaklige tande uit en sit dit in haar mond. So laat dit vir jou 'n les wees, Sussie, as jy nou begin rook, gaan jy een van die dae soos Helene lyk! Daardie tande het sulke swart, brokkelrige rande.

… en ek lees nog steeds elke dag Sam Pepys se dagboek. Arme Sam is nog steeds gaande oor sy "ryk" (soos hulle gedink het) oom wat dood is en niemand het enigiets noemenswaardig ge-erf nie. Sy ander oom is kwaad omdat hy nie op hoogte was van sy oorle' broer se sake nie, Sam se ma glo vas sy HET iets ge-erf maar hulle weerhou dit van haar, en Sam self is skaam omdat hy by die kantoor gespog het oor wat hy gaan erf, en nou moet hy aan sy kollega's voorgee hy het goed gevaar uit die testament!

Home by water and to the office all the afternoon, which is a great pleasure to me again, to talk with persons of quality and to be in command, and I give it out among them that the estate left me is £200 a year in land, besides moneys, because I would put an esteem upon myself.

Mense bly maar mense! Ek geniet Sam se dagboek baie. Hy skryf soos ek en jy, oor sy daaglikse doen en late. Hy laat bou aan sy huis, en hy sukkel met die bouers ook, nou daag hulle nie op nie en dan weer doen hulle afskeepwerk, hy of sy vrou moet gedurig agter hulle staan.

Ek het gister saam met Jess en Ruth gaan Yum Cha. Ek het 'n ekstra kaartjie vir die ballet op 6 September en ek lankal vir Jess gevra of sy dit wil hê. Ja, baie graag. Ek het dit gister saamgeneem en vir haar gegee, toe vra sy wat skuld sy my en ek wys haar daar staan $56 op die kaartjie, maar ek sê moenie worry om te grou vir die regte bedrag nie, gee my $50, dit sal doen. Sy gee my toe die noot en ek steek dit  in my beursie, maar ek kon sien haar lip word lank.

Ek dog by myself: sy het wel gevra wat skuld sy my, maar sy het verwag ek sal sê ag nee, niks. So 'n paar maande gelede het het haar saamgenooi fliek toe, toe ek 'n ekstra kaartjie gehad het omdat Elaine nie kon gaan nie, en ek het haar nie vir die kaartjie laat betaal nie: sy het seker gedink dit is weer dieselfde prosedure. Maar baaiskoup is tien dollars: dis niks! Ballet is te duur om present weg te gee! Selfs in die El Cheapo Seats waar ek nou sit omdat ek nie meer trappe kan klim na die Premium Seats toe nie.

Ewentwil, netnou lui die foon toe is dit sy om te sê sy het nou onthou sy het daardie dag 'n ander afspraak, sy is genooi na 'n 90ste verjaarsdag. Sy sal die kaartjie in 'n koevert sit en vir my pos. Oraait, sê ek, no worries, ek sal jou die geld teruggee as ek jou weer sien. Nee, sê sy, sy vertrou die poskantoor, ek moet dit sommer pos. So gesê, so gedaan.

Die stoffeerder en sy vrou was verlede Saterdag hier en hy het 'n goeie job gedoen van my recliner. Ek slaap nou weer heerlik op hom. Sy vrou het hom fluks gehelp. Kom November gaan hulle die twee stoele kom haal waarin en ek D saans sit, en hulle herstoffeer. Hulle is vol bespreek tot dan.

Sondag het ek en D gaan fliek, want hy het nie bowls gehad nie. Winter. Reen. Ek kan nie eers onthou wat ons gesien het nie, dit was nie waffers nie. Woensdag het ons weer gaan fliek, toe sien ons 'n Bollywood rom com, The Lunchbox. Dit was nie sleg nie maar ook nou nie so dat ek al my familie en vriende sal opbel en aanmoedig om dit te gaan sien nie! Ek moes 2 verdiepings trappe klim want die hysbak was buite werking. Soos die ongeluk dit wou hê, was die teater waarin dit gedraai het, op die heel boonste vloer. My heup het die vlg dag les opgesê.

Maandag het ek by May gaan teedrink. Sy het 'n klapperkoek gebak en ek het net 'n klein stukkie geëet want dit was kort na middagete. Toe ek huis toe gaan, hou sy aan ek moet 'n stukkie saamneem vir D. Ek sê vir haar nee, dankie, ek wil nie vir hom koek saamneem nie, want die suiker en die cholesterol is sleg vir hom. Ag, maar hy hou dan so baie van haar klapperkoek, ek moet maar vir hom 'n stukkie saamneem. Ja, sê ek, ek weet hy sal dit graag wil eet …  ek kan hom nie keer as hy goed wil eet wat sy gesondheid benadeel nie, maar ek gaan nie vir hom gif aandra nie. Baie dankie, maar nee dankie.

Maar moenie glo nie. Toe ek by die huis kom, sien ek sy het nie 'n snytjie nie, maar die helfte van daardie  koek in tinfoil toegedraai en dit in my mandjie gesit. (Ek het my mandjie met my breiwerk saamgeneem en daar by haar gesit en brei.) Ek het niks vir D gesê nie, ek het net die koek, so in sy omhulsel, in die vullisblik gesit. Dit grief my om kos weg te gooi, maar wat kan ek doen. Watter deel van Nee, dankie! het sy nie verstaan nie?

Donderdag het ek my kop laat afkap by Sam, wat oor my gaan nou dat Sharni met vakansie is. Dis skaars drie weke van sy my kop ingekleur en afgekap het, maar sy het so eina-eina gesny dat my hare al weer te lank is. Hierdie keer het ek gesorg dat sy meer afsny. Nou dat ek oud word, dreig my hare om te krul. Dis regtig 'n nuisance. NuiNsance, het Boetie gesê toe hy klein was. 'n NuiNsance en 'n Willy-gan (hooligan).

Elaine het gisteraand ingeklok. Sy het nie vanoggend gaan Hansie Slim hier teen die berg op nie, want sy het 'n afspraak hier by die plaaslike salon vir haar maandelikse "wax and facial". Die plek waar sy al jare lank gaan, naby haar werk in die stad, het toegemaak en toe sê sy dit sal haar pas om hierdie een te gebruik, dan kan sy op 'n Saterdag daar inklok as sy vir die naweek by ons is.

Ek het haar 'n boks goed gegee wat sy by die Op Shop sal gaan aflaai op pad huis toe. Ek kan dit seker self Op Shop toe neem, maar dis swaar vir my om te dra, daar is boeke in. Ek is nog steeds op my mission van kaste en laaie en boekrakke uitpak en goed op shop toe stuur. Een van die dae kan ek maar dood neerslaan in die wete dat Elaine nie 'n berg rommel sal hoef te behartig nie. (As ek Afrikaans wil praat, wil Kritzinger hê ek moet op 'n lewenstaak of 'n sending wees. Nee, ek is op 'n gewone mission, dis nie my lewenstaak of my sending nie.)

Vanmiddag gaan ons na die toneelstuk, ons gaan sien Glengarry Glen Ross. Miskien het jy desjare die fliek gesien, met Jack Lemmon in die hoorfol.

Nou gaan ek eers middagete optower. Ek gaan viskoekies bak.

Sondag … Die toneelstuk was goed, ons het gehou daarvan. Voor dit begin, het hulle aangekondig die hoofspeler is siek en in sy plek sal So-en-So optree, maar hy het nie tyd gehad om sy woorde te leer nie, dus sal hy met sy "script" in sy hand die rol speel. (Kritzinger wil hê ek moet sê dis 'n manuskrip, handskrif of 'n antwoordeboek. Ek gaan my nie meer bebodder om hom te vra om advies nie, ek gaan voortaan Ingels gebruik waar ek nie self 'n goeie Afrikaanse woord kan bedink nie, sonder om my siel daaroor te versondig. Brace yourself, Bridget!)

Groetnis tot vollende week.