Saturday, June 4, 2011

Restaurante en verjaarsdagkoek

Liewe Sussie,
Nog 'n week in sy maai, ek weet nie waar gaan die tyd heen nie. Ek het weer 'n manteltjie klaar gebrei vir Needy Stitches. Die behoeftige oumense en haweloses kry koud, dis 'n bitter winter hierdie jaar. Ek weet nie hoekom moet daar hawelose mense wees in 'n welvarende land soos Australië nie.
Maar nouja, wat weet ek, ek is nie 'n finans-guru nie. Daar is arm mense wat koud kry, en ek brei vir hulle.
Ek het toe pasede Sondag Get Low gaan sien soos ek jou belowe het ek gaan doen, en ek kan aanbeveel dat jy in die tou val voor die Village Odeon wanneer hy daar wys. Dit was van 'n ou man, gespeel deur Robert Duvall, wat sy begrafnis reel sodat dit gehou kan word terwyl hy nog leef en hy dit kan bywoon om te hoor wat almal van hom sê. Groot kermisdag op sy plaas. Bill Murray is die ondernemer.
Maandag het ek niks hooi op my vurk gehad nie - dit was 'n koue en misrawele dag - ek het lekker gelees, gedut, tee gedrink, na my ballet-DVDs gekyk en 'n pot sop gekook vir Die Vrieskas. Nie die foon geantwoord of die voordeur oopgemaak nie.
Dinsdag moes ek weer my openbare lewe hervat. Ek het op my modderkar geklim en stad toe gery na die State Theatre toe. Elke jaar in Mei tree die Australian Ballet School op by Morning Melodies, die gesubsidieerde konserte wat eenmaal per maand vir die oues van dae (soos ek) gehou word. Ek en Pauline gaan elke jaar na twee of drie vd Morning Melodies toe, maar ons bespreek elke jaar sonder uitsondering vir die ballet. Dit was soos gewoonlik uitstekend. Die senior studente is van professionele standaard en die kleintjies is baie oulik, veral die seuntjies.
Dit begin 1.30, maar ek het vroeg gegaan en vir K ontmoet vir middagete in een vd teater se restaurante. Sy het van haar kantoor af gestap na die teater, dis nie ver nie. Ons het sop en toebroodjies gehad en tee gedrink. Ek peperment tee en sy Ingelse Brekfis. Toe is sy terug na die soutmyne en ek na my sitplek.
Ek het by Carla en Pauline gesit. Ek bespreek altyd die plekke en as die kaartjies kom, gee ek hulle s'n vir hulle dat ons nie hoef te sukkel om mekaar vooraf in die menigte te kry nie. Ons ontmoet by ons sitplekke. Agterna het ons gaan koffie drink in een vd teater se kafees want ek gee altyd so 'n halfuur kans vir die parkeerterrein om leeg te loop, anders sit 'n mens lank agter jou stuurwiel in die tou terwyl jy walms inasem. Hulle twee het met die trein gekom van hulle onderskeie voorstede af maar ek het nie aangebied om hulle op te laai huis toe nie want dis te ver uit my pad.
Donderdag was ek baie bly om my skoonmakers Roy & Jenny te sien. Hulle was vir 'n maand met vakansie in die VSA. Hulle sê die mense daar is ontsettend vet en die kos is baie ongesond en porsies glad te groot. Die drie van hulle (Roy & Jenny en hulle tiener-dogter) het dikwels een porsie gedeel. Alles kom met tjips en bacon maar daar is nie slaai of groente nie. Hulle was desperaat vir groente en het later wortels en appels by die supermark gekoop om aan te kou.  Hulle vertel van die populêre poetieng wat jy in die restaurante kry: vanilla ice cream with bacon chips and maple syrup.   Yuck.
Vrydag was ek en Carla by Michael die Voetvent. Terwyl hy my voete optert, het hy my vergas op die verhaal van sy verloofde se stryd teen depressie. Sy is so 'n mooi meisie, en nou het sy hierdie probleem. Hoekom kry so baie jongmense deesdae depressie?
Agterna het ons soos gewoonlik gaan eet by die RSL Club maar ek het net 'n Thai slaai gehad en 'n klein bakkie vrugteslaai, want ek het 'n afspraak gehad om in die aand saam met Lindsay en Marg te gaan eet by Seppora, die Japanese plek in Mitcham. Hulle het vir my elkeen 'n sak klere en truie gebring om vir Janice te gee: die vrou wat Needy Stitches hardloop.
Ons het 'n voorgereg van ses klein dumplings en 'n seekos-pannekoekie gedeel. Toe het ek Chicken Teriyaki gehad met bean sprouts en Udon noodles, Lindsay het 'n gereg van papierdun beesvleis-skyfies en shiitake moeshkamers gehad, en Marg het 'n bak dun sop gehad met 'n geposjeerde eier wat daarin dryf, asook ander goed wat ek nie almal herken het nie. Ek weet daar was tofu en ek kon 'n koolblaar en 'n stuk seewier onderskei. Lyk of daar gerasperde gemmer-rafels bo-op was. Sy het heerlik daaraan gesmul maar dit het nie vir my lekker gelyk nie. Sy het eers die sop (lyk soos skottelgoedwater) met 'n lepel geëet en toe die sop op is en al die drywende items gestrand het op die bodem vd bord, toe takel sy hulle met 'n paar chopsticks.
Ons het nie lus gehad vir poetieng nie. Die kelnerin het deurgaans ons teekoppies vol gehou. Ek moes noodwendig na die fasiliteite toe gaan weens al die tee. Dis die mooiste toilet wat ek in 'n lang tyd gesien het. Blomrangskikkings! Ruik heerlik.
Vanoggend het ek die kind se verjaardagkoek in die oond gefoeter en ek wag nou dat hy moet afkoel sodat ek die nodige versierings kan aanbring. Hy soek seerowers. Ek sal die foto vir jou saamstuur. Dis 'n baie gawe koekeresep, spesiaal vir kinderverjaarsdagpartye. Wat 'n lang woord is dit.
Die koek het nie eiers in nie want so baie kinders is mos deesdae allergies vir eiers (en neute). Dis 'n groot koek vir baie kleintjies en dit rys mooi plat en gelyk, maklik om te versier. Jy maak dit met karringmelk en jy sit of kakao of vlapoeier in na gelang.
Veel later … Daar het jy nou 'n kiekie van die koek in al sy glorie. Ek het die plank met Happy Birthday geskenkpapier oorgetrek.  Sy ma het die koek kom haal nadat sy haar kinders in die bed gesit het - ek moes saamry dat ek dit op my skoot kon hou, en sy het my terstond weer huis toe gebring; ek het nie uitgeklim nie. Ek het my pentoffles aangehou want dit is koud buite. Winter.
Nou gaan ek 'n lekker koppie Sleepytime Tea maak en dan gaan ek slaap. Dis 'n heerlike kruietee en dit het 'n prentjie op die boks van 'n teddiebeertjie met 'n slaapmus op, wat voor sy kaggelvuur sit en dut. K het my geleer van S/time Tea - dis baie relaxing (wat is relaxing op Afr? Ontspannend klink nie reg nie)  Ewentwil, so 'n rukkie na ek my S/T T gedrink het, skop Klaasvakie in. Ek weet nie watse kruie is daarin nie! Miskien is dit maar beter dat ignorance bliss moet wees.
Groentes tot vollende week wanneer ek hoop om 'n brief van jou te kry. 
YY XX  Suster Katrien

Toeris in SA

Liewe Sussie,
Hier sien jy vir D en sy boeties toe hulle klein was. Nou is hulle drietjies weer net twee. D en Swaer P is SA toe vir Ouboet se begrafnis.
Stil week agter die rug, nie veel om te rapporteer nie.
Ek het toe Maandag my kop laat afkap en inkleur - Madeleine het my kop so 'n caramel-kleur gegee, ek sal 'n ruk daarmee moet loop voor ek weet of ek daarvan hou. Ek het nie strepe laat insit nie. Ek gaan vir my 'n ander herdresser soek, ek hou nie vd manier wat sy my hare sny nie. Sy het twee jaar lank goed gesny, en nou foeter sy met afdakkies oor my ore en flertse wat oral orent vlieg. Hier is geen tekort aan salonne nie, en sal wel 'n ander een kry.
K het Maandagaand hier kom slaap sodat sy vroeg Dins/oggend vir D kon lughaaaawe toe neem. Ek het Dins/middag vieruur ingeklok by H se huis sodat ek haar nuwe "deck" kon sien wat hulle agter die huis laat aanbou het. Dis baie mooi, soos 'n groot stoep met 'n houtvloer.
Haar kinders was ontsettend stout, sy het geen beheer oor hulle nie. Ek kon net 'n halfuur uithou, toe sê ek ek moet nou gaan want ek het inkope om te doen voor die winkels sluit.  Hulle spring op die meubels en gil en pluk aan haar vir aandag. Slaan die glas-koffietafel met 'n speelding tot sy opstaan en dit afneem. Neul vir springmielies tot sy opstaan en dit gaan maak in die mikrogolf, en toe Drie-jaar met die bak vars sp/mielies uit die kombuis stap, toe klap Vyf-jaar dit uit haar hande en lag uitbundig. Sp/mielies orals.
Hy verjaar vlg week en ek gaan oudergewoonte die koek bak. Hy soek 'n seerower-koek. Gelukkig kry 'n mens mos nou die "cake toppers" - 'n ronde eetbare prent met elke moontlike tema. H het vir my een gekoop met 'n seerowers-skip op. Ek gaan net die gewone groot ronde koek bak en die prent opsit. Ek het 'n paar goedjies by die $2 shop gekoop om rondom die koek op die skinkbord te sit, ek sal jou die foto stuur.
Die res vd week het ek nie afsprake gehad nie, ek het heerlik in my stil, netjiese huis gebly. Ek het wel 'n kokery op tou gesit vir die vrieskas - ek het "lamb shanks" gekook en 'n hoender-casserole, en 'n pot boontjiesop. Ek het ook appels en pere gestowe met sultanas en 'n paar stukkies gemmer, baie lekker. Ek het nie suiker ingesit nie, dis soet genoeg. Dit vries goed en is lekker met vla vir poetieng. Of sonder vla vir brekfis.
D en Swaer P het gisteraand van Perth af gevlieg SA toe, hulle is seker nou al daar. Die verrigtinge vind vandag plaas (Saterdag) maar dis nog nie Saterdag daar nie, hulle slaap seker nog. Hy huur 'n kar by die lughaaawe en hy het vir hom 'n hotel in Jhb bespreek. Hy en P gaan Sondag Lichtenburg toe ry om hulle oom te sien, hulle sal daar oorslaap en Maandagoogend terugry want P vlieg Maandagaand terug Perth toe. (Alleen! Break out the Valium!)
Dan bly D nog twee dae terwyl hy vriende en kollega's sien in Jhb, en dan vlieg hy Kaapstad toe waar hy 3 dae sal bly en sy neef en ander virende sien. Clive is mos in die toeriste-besigheid en hy het vir D 'n spesiale "deal" gekry op 'n gehuurde motorkar wat hy by die lughawe in ontvangs sal neem.  Hy wil ook Stellenbosch toe ry om sy familie-gesk te gaan doen daar by die Instituut vir Genealogiese Navorsing.
Toe D laas in SA was, het hy en sy broer Lichtenburg toe gery. Oom John het vir hulle oornag plek bespreek in 'n gastehuis en tot D se konsternasie het hy net een kamer bespreek en dit het 'n dubbelbed gehad. Die gastehuis was vol, toe het D na 'n ander gastehuis verderop in die straat gegaan. Hd keer het hy mooi vir Oom John beduie hy en Swaer P soek elkeen hulle eie bed in hulle eie kamer!
Ek weet nie of ek jou vertel het D was by die slaapdokter nie. Hy sukkel mos al sy lewe om te slaap. Hy het gaan oornag by die slaap-kliniek, waar hulle hom vol meters en drade geplak het. Uitslag is dat hy sleg slaap omdat hy ophou asemhaal in die nag en dan word hy wakker. Dit gebeur tot 63 maal per uur - elke minuut hou hy op asemhaal en dan word hy wakker sonder dat hy dit eers weet - op die manier kry hy nooit kans om in die diep slaap-siklus te gaan wat almal nodig het nie. Geen wonder hy is moeg en lusteloos en hoofpynlik nie.
Nou het hy die masjien. Dis 'n klein masjientjie, so groot soos 'n boks tissues. Jy prop hom in langs jou bed en dan sit jy 'n ding in jou neus soos daardie twee pypies wat hulle in jou neus sit in die hosp om suurstof te gee. Hy blaas lug in jou neus in, en forseer jou om asem te haal. As jy te vlak begin asemhaal, dan blaas hy harder. Hy hou ook boek van hoe jy heelnag asemhaal en in die oggend druk jy 'n knoppie om te sien hoe het jy aangegaan. Vlgs die masjientjie hou D nou net 1 of 2maal per uur op om asem te haal. Dit het regtig 'n baie groot verskil in sy lewe gemaak. Hy voel baie beter en raak nie meer saans aan die slaap in sy stoel nie, het meer energie, geen hoofpyne nie, gee hartkloppens nie. Sy GP sê nou dat hy behoorlik slaap, sal baie van sy skete verdwyn.
Anyway, hy het sy masjientjie saamgeneem SA toe. Hopelik sal die gastehuis in Lichtenburg 'n kragprop neffens die bed hê!
Ek sit oudergewoonte hier en wag dat Gladys moet klaar was dat ek haar handewerk kan ophang. Ek het vergeet om die "Short Wash" knoppie te druk sodat sy net 45min moet neem, nou doen sy die 90min job. My klere is nie 90min se vuil nie! Sodra sy aankondig sy het klaar gewas, gaan ek gou ophang sodat ek kan supermark en poskantoor toe gaan. Ek het drie ballet-DVDs bestel en ek hoop hulle sal vandag daar wees sodat ek in die komende weke iets kan hê om na te kyk. Daar is niks op die TV wat ek wil sien nie.
Oor die naweek sal ek nie ballette kyk nie want K klok netnou in - sy sal vanaand oorslaap en moremiddag huis toe gaan. Ons sal vanaand of moremiddag fliek toe gaan - ek wil "Get Low" sien. Ek weet nie veel daarvan af nie, maar dit het Robert Duvall en Bill Murray in en jy kan nie verkeerd gaan met hulle twee nie!
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Ek het nie hd week van jou gehoor nie, jy is seker in Pta.
 L&K, Suster Katrien Y¯¯