Saturday, June 4, 2011

Toeris in SA

Liewe Sussie,
Hier sien jy vir D en sy boeties toe hulle klein was. Nou is hulle drietjies weer net twee. D en Swaer P is SA toe vir Ouboet se begrafnis.
Stil week agter die rug, nie veel om te rapporteer nie.
Ek het toe Maandag my kop laat afkap en inkleur - Madeleine het my kop so 'n caramel-kleur gegee, ek sal 'n ruk daarmee moet loop voor ek weet of ek daarvan hou. Ek het nie strepe laat insit nie. Ek gaan vir my 'n ander herdresser soek, ek hou nie vd manier wat sy my hare sny nie. Sy het twee jaar lank goed gesny, en nou foeter sy met afdakkies oor my ore en flertse wat oral orent vlieg. Hier is geen tekort aan salonne nie, en sal wel 'n ander een kry.
K het Maandagaand hier kom slaap sodat sy vroeg Dins/oggend vir D kon lughaaaawe toe neem. Ek het Dins/middag vieruur ingeklok by H se huis sodat ek haar nuwe "deck" kon sien wat hulle agter die huis laat aanbou het. Dis baie mooi, soos 'n groot stoep met 'n houtvloer.
Haar kinders was ontsettend stout, sy het geen beheer oor hulle nie. Ek kon net 'n halfuur uithou, toe sê ek ek moet nou gaan want ek het inkope om te doen voor die winkels sluit.  Hulle spring op die meubels en gil en pluk aan haar vir aandag. Slaan die glas-koffietafel met 'n speelding tot sy opstaan en dit afneem. Neul vir springmielies tot sy opstaan en dit gaan maak in die mikrogolf, en toe Drie-jaar met die bak vars sp/mielies uit die kombuis stap, toe klap Vyf-jaar dit uit haar hande en lag uitbundig. Sp/mielies orals.
Hy verjaar vlg week en ek gaan oudergewoonte die koek bak. Hy soek 'n seerower-koek. Gelukkig kry 'n mens mos nou die "cake toppers" - 'n ronde eetbare prent met elke moontlike tema. H het vir my een gekoop met 'n seerowers-skip op. Ek gaan net die gewone groot ronde koek bak en die prent opsit. Ek het 'n paar goedjies by die $2 shop gekoop om rondom die koek op die skinkbord te sit, ek sal jou die foto stuur.
Die res vd week het ek nie afsprake gehad nie, ek het heerlik in my stil, netjiese huis gebly. Ek het wel 'n kokery op tou gesit vir die vrieskas - ek het "lamb shanks" gekook en 'n hoender-casserole, en 'n pot boontjiesop. Ek het ook appels en pere gestowe met sultanas en 'n paar stukkies gemmer, baie lekker. Ek het nie suiker ingesit nie, dis soet genoeg. Dit vries goed en is lekker met vla vir poetieng. Of sonder vla vir brekfis.
D en Swaer P het gisteraand van Perth af gevlieg SA toe, hulle is seker nou al daar. Die verrigtinge vind vandag plaas (Saterdag) maar dis nog nie Saterdag daar nie, hulle slaap seker nog. Hy huur 'n kar by die lughaaawe en hy het vir hom 'n hotel in Jhb bespreek. Hy en P gaan Sondag Lichtenburg toe ry om hulle oom te sien, hulle sal daar oorslaap en Maandagoogend terugry want P vlieg Maandagaand terug Perth toe. (Alleen! Break out the Valium!)
Dan bly D nog twee dae terwyl hy vriende en kollega's sien in Jhb, en dan vlieg hy Kaapstad toe waar hy 3 dae sal bly en sy neef en ander virende sien. Clive is mos in die toeriste-besigheid en hy het vir D 'n spesiale "deal" gekry op 'n gehuurde motorkar wat hy by die lughawe in ontvangs sal neem.  Hy wil ook Stellenbosch toe ry om sy familie-gesk te gaan doen daar by die Instituut vir Genealogiese Navorsing.
Toe D laas in SA was, het hy en sy broer Lichtenburg toe gery. Oom John het vir hulle oornag plek bespreek in 'n gastehuis en tot D se konsternasie het hy net een kamer bespreek en dit het 'n dubbelbed gehad. Die gastehuis was vol, toe het D na 'n ander gastehuis verderop in die straat gegaan. Hd keer het hy mooi vir Oom John beduie hy en Swaer P soek elkeen hulle eie bed in hulle eie kamer!
Ek weet nie of ek jou vertel het D was by die slaapdokter nie. Hy sukkel mos al sy lewe om te slaap. Hy het gaan oornag by die slaap-kliniek, waar hulle hom vol meters en drade geplak het. Uitslag is dat hy sleg slaap omdat hy ophou asemhaal in die nag en dan word hy wakker. Dit gebeur tot 63 maal per uur - elke minuut hou hy op asemhaal en dan word hy wakker sonder dat hy dit eers weet - op die manier kry hy nooit kans om in die diep slaap-siklus te gaan wat almal nodig het nie. Geen wonder hy is moeg en lusteloos en hoofpynlik nie.
Nou het hy die masjien. Dis 'n klein masjientjie, so groot soos 'n boks tissues. Jy prop hom in langs jou bed en dan sit jy 'n ding in jou neus soos daardie twee pypies wat hulle in jou neus sit in die hosp om suurstof te gee. Hy blaas lug in jou neus in, en forseer jou om asem te haal. As jy te vlak begin asemhaal, dan blaas hy harder. Hy hou ook boek van hoe jy heelnag asemhaal en in die oggend druk jy 'n knoppie om te sien hoe het jy aangegaan. Vlgs die masjientjie hou D nou net 1 of 2maal per uur op om asem te haal. Dit het regtig 'n baie groot verskil in sy lewe gemaak. Hy voel baie beter en raak nie meer saans aan die slaap in sy stoel nie, het meer energie, geen hoofpyne nie, gee hartkloppens nie. Sy GP sê nou dat hy behoorlik slaap, sal baie van sy skete verdwyn.
Anyway, hy het sy masjientjie saamgeneem SA toe. Hopelik sal die gastehuis in Lichtenburg 'n kragprop neffens die bed hê!
Ek sit oudergewoonte hier en wag dat Gladys moet klaar was dat ek haar handewerk kan ophang. Ek het vergeet om die "Short Wash" knoppie te druk sodat sy net 45min moet neem, nou doen sy die 90min job. My klere is nie 90min se vuil nie! Sodra sy aankondig sy het klaar gewas, gaan ek gou ophang sodat ek kan supermark en poskantoor toe gaan. Ek het drie ballet-DVDs bestel en ek hoop hulle sal vandag daar wees sodat ek in die komende weke iets kan hê om na te kyk. Daar is niks op die TV wat ek wil sien nie.
Oor die naweek sal ek nie ballette kyk nie want K klok netnou in - sy sal vanaand oorslaap en moremiddag huis toe gaan. Ons sal vanaand of moremiddag fliek toe gaan - ek wil "Get Low" sien. Ek weet nie veel daarvan af nie, maar dit het Robert Duvall en Bill Murray in en jy kan nie verkeerd gaan met hulle twee nie!
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Ek het nie hd week van jou gehoor nie, jy is seker in Pta.
 L&K, Suster Katrien Y¯¯




No comments:

Post a Comment