Tuesday, May 24, 2011

Baaiskoup en breiwerk

Liewe Sussie,
Weer op die Sabbat en dit reen. Nietemin gaan ek netnou op my modderkar klim en vir K ontmoet by die baaiskoup. Ek sien uit daarna. Ons gaan sien 'n Franse fliek met name Potiche. Gerard Depardieu en Catherine Deneuve. Sy is nog baie mooi, hy is vetter en leliker as ooit, maar puik akteurs.
Jy kan skaars glo dat hulle nog albei die lewe hou en werk, hulle is albei ouer as ek! K sê sy dink die Franse parlement het wetgewing uitgebring dat ten minste 80% van alle Franse films een of albei van hulle in 'n hoofrol moet hê. Wat worry ek, ek kyk baie liewer na die twee oumense as na vandag se teenage vampiere wat so populier is. In my tyd was Dracula 'n monster en nie 'n romantiese held nie!
D staan op vertrek - hy vlieg Dings-dag na Perth waar hy sal oornag en dan sal hy en Peter saam SA toe vlieg, sodat hy P se hand kan vashou. Ek stuur 'n geskenkie saam vir die 6mde oue bybie ondanks die feit dat ek nog nie vd geboorte in kennis gestel is nie. Ek verwag nie om erkenning van ontvangs te kry nie, newwermaaid dankie!
Latervantyd
Ek is terug vd baaiskoup af. Baie daarvan gehou. Dit was aan die anderkant vd stad, ek het 40 min gery soontoe. Gelukkig het ek parkeerplek gekry net om die hoek. Dit het in venues nader aan my huis gewys, maar nie op 'n tyd wat vir ons albei geleë was nie. K gaan vanaand uit saam met vriende en sy wou na 'n vroeë vertoning gaan.
Voor my het 'n onwelriekende ou man gesit. Gelukkig het ek butter menthol drops in my handsak gehad om aan te suig. As jy 'n menthol ding in jou bek het, ruik jy niks anders nie. Het ek 'n bietjie Vicks byderhand gehad, kon ek dit aan my bolip gesmeer het.
Toe ek hom en sy vrou sien inkom, dink ek hy lyk nes die ou mans wat altyd by die bib ingeklok het toe ek nog daar gewerk het. Dis nie dat hulle vuil is as sulks nie, hulle ruik nie na sweet of voete nie! Ek is seker hulle stort. Maar hulle truie word nie gereeld genoeg gewas nie en ook nie hulle hare nie. Hulle ruik so muf. In die somer ruik hulle nie sleg nie.
Pasede Sondag het ek Burke and Hare gaan sien - dit was so "by way of being a black comedy".  Daar was ook allerlei bekende akteurs wat  klein cameo-rolletjies gehad het - ek hou daarvan. Onthou jy vir Around the W in 80 D? Ek het dit saam met jou en jou eerste man gesien by die Capital in Pta. Ons het al die cameos so geniet.  Waar is die dae.
Maandag was boekklub by Alison se huis. Deesdae bring van die dames hulle breiwerk saam. Ek het altyd breiwerk, maar ek het nie lus gehad om myne saam te neem nie. Ons het soos gewoonlik lekker gesels en tee gedrink, maar so teen twaalfuur het ek skielik gevoel dis nou genoeg, en toe staan ek op en gaan huis toe. Ek het gesê ek het 'n lunch-afspraak. Dit was die waarheid ook: ek het 'n afspraak gehad met 'n bakkie pampoensop wat ek die oggend uit my vrieskas geruk het.
Dinsdag het ek saam met Joan gaan brunch en sy het my alles vertel van haar kleinkind se skoolkonsert wat sy moes bywoon. Dit het my laat dink aan jou jongste se skoolkonsert wat so lank aangehou het, onthou jy? Shym, die kinders was vas aan die slaap toe ons huis toe gaan. 'n Mens kan mos nie loop sodra jou eie kind klaar opgetree het nie! Jammer genoeg.
Woensdag het ek saam met May gaan koffie en shop en bib (in daardie orde) en sy het die manteltjie saamgebring wat sy vir my omgehekel het. Ek brei nou manteltjies vir Needy Stitches maar ek kan nie hekel nie, dus gee ek hulle vir May as ek klaar is dat sy die hekelwerk kan doen. Daar sal wel ou dames wees in die tehuise vir spensionarisse wat bly sal wees oor warm skouers. Kniekombersies het hulle volop.
Dit gaan gou: ek brei veertien blokke en drie driehoeke en siedaar. Partymaal brei ek mossteek en dan weer basket stitch en dan weer brei ek so van 2 steke in die hoek af, jy weet mos. Ek mix and match die kleure; ek het 'n hele mandjie vol wolle.
Donderdag het ek vir Pauline ontmoet om halfeen - daar was geen fliek wat ons wou sien nie, toe gaan eet ons maar 'n yum cha by die Chinese keffie. Ons het vyf pierinkies gekies vd trollies wat aanhoudend verbykom - ons het afgeskop met aubergine en tofu, toe het ons 'n duck-and-shrimp rice paper roll gehad, en toe 'n chicken pie en toe 'n pork dumpling en ten laaste 'n miniatuur melktertjie vir poetieng. Daar is altyd drie van die goedjies op 'n pierinkie. Hoekom nie twee of vier nie? Mense eet mos meesal in twees of viers! Ek en Pauline eet elkeen een en deel die derde een. Die melktertjies kom twee-twee, so dit werk goed uit.
Ewentwil, 'n mens moet versigtig wees om eers klaar te eet wat jy het voor jy nog neem; alles lyk so interessant en lekker, jy wil net aflaai van elke trollie wat verbykom en dan het jy glad te veel kos.
Vrydag moes ek vir Marlene ontmoet het vir koffie, maar ek het 'n besige week agter die rug gehad en ek was net lus om by my huis te bly, toe bel ek haar en stel dit uit tot vollende Vrydag. Ek hou daarvan om een of twee dae per week nie afsprake te hê nie. 'n Mens kan nie so aanmekaar rondrits nie. Ek het darem Vrydag my boeke gaan omruil.
Gister op die Saterdag het ek die Lindsay Ladies ontmoet vir brunch. Heather het nie saamgekom nie, dit was net ek en Pauline en Mary en Linda. Pauline het scones met room en aarbeikonfyt bestel en ons ander drie het skremmel-eiers op tous gehad. Ek en Mary het tee gedrink en die ander twee koffie.
By daardie kafee kan 'n mens tee bestel, hulle bring vir jou 'n behoorlike pot tee met teeblare (nie 'n sakkie nie) en ekstra kookwater. Ek het peppermint tea gehad en Mary het jou stock standard common or garden English Breakfast bestel. Ek het onlangs peppermint tea agtergekom en ek hou baie daarvan. Dit het nie kaffein in nie en dit smaak lekker. K het my vertel haar vriendin Cindy dra 'n P/tee sakkie saam in haar handsak en dan bestel sy warm water, maar ek sal nou nie so ver gaan nie.
Gister was Oordeelsdag maar daar het niks van gekom nie; dit kon ek hulle vertel het. Die pastoor daar in die VSA het aangekondig sy jarelange bybelstudies het hom die wete gegee dat 29 Mei die dag is. Duisende het hom geglo en hulle tassies gepak, maar hulle is toe snaaks genoeg nie gister hemel toe nie. Net sowel, want ek het Vrydag al ons fliekkaartjies vir vandag bespreek en dit nou die end van die wereld was, dan was daar seker nie 'n vertoning nie en het ek verniet al die pad Balwyn toe gery. Die aankondiger op die radio sê vanoggend ewe droog :"So all those who were waiting for the Rapture must be very disappointed. Never mind, Folks, it's not the end of the world!"
Ek sien vanaand op die nuus daar is 'n vent hier by ons wat van huis tot huis gegaan het en aangebied het om mense se diere te versorg wanneer hulle nou weg is hemel toe en die diere moet agterbly. (Shym, hoekom kan die diere nie hemel toe gaan nie? Dis nuus vir my dat diere verbode is. Wat weet ek ook van teologie, bokkerol.) Ewentwil, hy het $130 per hond gevra en $110 per kat. Hy het glo niks onwettig gedoen nie, dis nie sy skuld dat die verrigtinge nie plaasgevind het nie, hy het sy aanbod in good faith gemaak. Soos Mandy Rice-Davies destyds opgemerk het: "Well, he would say that, wouldn't he?"  Ek weet nie hoeveel hy ingesamel het nie, maar ek glo nie hy gaan dit teruggee nou dat die oordeelsdag uitgestel is nie.
More gaan ek my kop laat afkap en inkleur. Ek het lus vir 'n nuwe kleur, ek sal sien wat het Madeleine op haar spyskaart.
Nou gaan ek vir my 'n heerlike koppie tee maak, en dan gaan ek slaap. Chamomile tee, net reg vir slapenstyd. As ek my sonde nie ontsien nie, dan eet ek 'n Marie biskit daarby.
Nouja, Sussie, groetnis tot vollende week soos altyd.
YY + XX, Suster Katrien

No comments:

Post a Comment