Liewe Sussie,
Kommunikasiekrisis chez moi: My internetkonneksie is nou al heel oggend af want Telstra werk aan die kabel. Dis soos wanneer ons destyds plaas toe gegaan het - jy weet daar is nie elektrisiteit nie, maar jy hou aan om teen die muur te tas waar die skakelaar vir die lig moet wees.
Ek stap elke nu en dan hier in om dit of dat op te kyk en dan onthou ek nee, ek kan nie. Ek kan nie glo hoe afhanklik ek van die masjien is nie: nou dat hy nie beskikbaar is nie, kom ek agter hoe baie gebruik ek hom. Dis nou eers twaalfuur en ek wou al vanoggend 'n dosyn goed opgekyk het:
1. wanneer my boeke moet in wees by die bib want ek wil nie soontoe ry om hulle om te ruil nie, ek wil hulle sommer hernu op die rekenaar
2. wat wys in die plaaslike baaiskoup want ek wil vir Pauline bel dat ons kan besluit wat ons Donderdag gaan doen,
3. wat is die East Empress se nommer dat ek hulle kan bel om 'n tafel te bespreek vir Vrydag,
4. 'n resep vir sampioensop want ek het gister 'n pak shiitake gekoop by die Chinese Grocer,
5. die video op die BBC se website van gister se Rupert Murdoch-ondervraging wat laasnag te laat aangehou het en ek moes gaan slaap,
6. ek wou die koerant lees,
7. ek wou vir twee vriendinne wat die week verjaar kaartjies stuur,
8. ek wou kyk wat die name is vd twee vente wat die DNA helix ontsyfer het,
9. ek wou kyk of James Robertson Justice nog leef want ons het hom gisteraand in daardie ou Doctor at Sea prent gesien met Dirk Bogarde,
10. ek wou weet hoe spel 'n mens pediatrician, of is dit paediatrician?
11. ek wou 'n maklike patroon hê vir 'n mussie want ek brei die vingerlose moffies vir die haweloses, ek het gedink ek sal matching beanies doen.
12 ek wou weet wat is vandag die wisselkoers tussen die A$ en die US$ want ek wil
13. die DVD van die New York Ballet se Merry Widow-ballet bestel: ek het die Australian Ballet en die Canadian National Ballet s'n, maar Carla sê vir my die NYB s'n is die beste.
14. O ja, en ek wou weet hoe om die gom af te kry van my nuwe Medicare kaart - hy was vasgeplak aan die brief waarin hy gekom het, en nou sit daar 'n taai kol aan hom en hy gaan my beursie taai maak. As ek vir Google sê "remove sticky residue", dan sal hy my mooi vertel wat om te doen.
Elke keer stap ek hier in om vir Google daardie dinge te vra, en dan onthou ek hy sprak vanoggend geen sprook nie - die Orakel van Delphi se plek is leeg en sy stem is stil. Ek moet in my vier spore omdraai en papierboeke gaan soek om moeisaam die goed op te kyk, en ek kan geen shopping doen nie, tensy ek in die winterwind winkels toe wil gaan!
Dis so koud en nat en my keel is krapperig. Ek het nie lus om uit te gaan nie, ek het 'n lysie van goed wat ek nodig het en as ek voor elfuur op my rekenaar kon klim om dit by die supermark te bestel, dan hou hulle wên nog vanmiddag voor my huis stil en lewer af. Nes Ma wat destyds toe ons klein was, vir Ou Joe gebel het en as jy weer sien is daar 'n outa met 'n baaisiekel, Ma se goed in 'n mandjie voor aan die hêndelbars. Maar vandag kan jy nie meer bel nie, jy moet kliek-kliek maak met jou muis. Dit pas my, ek kliek baie liewer my muis as om met mense te praat op telefone. Hou aan, nee, dis nie my afdeling nie, ek sit jou deur, hou aan …. en dan speel hulle musiek in jou ore terwyl jy tevergeefs wag vir die volgende een way jou nie kan help nie.
Later … Dit was gister. Ek moes toe tog op die ou end uitgaan - laatmiddag toe dit behalwe koud en nat nog donker ook was. Heather het gebel om te sê sy is siek en of ek haar kinders by hulle onderskeie skole sal gaan haal. Ek het gegaan. Driejaar is in child care en Sesjaar is in die laerskool se naskoolse program tot sesuur. Ek het vyfuur gegaan, sesuur is nog later en donkerder. Die kinders was nie lus om huis toe te gaan nie, dis te lekker saam met hulle maats. Ek het alle geskree geignoreer, toe shaddap hulle maar.
Ek het tot hulle frustrasie die child locks geaktiveer aan alle vensters en deure, want dis my ervaring dat hulle heelpad die vensters op en af laat gly en aan die deurknoppe pluk. Hulle kan mos nie uitval nie want hulle is vasgegordel, maar dit amuseer hulle as Ma moet stilhou en uitklim om die deure toe te maak en met hulle te raas. Ek is nie hulle ma nie. (Hulle kan bly wees)
Heather se skeet is dat sy hoogte-siekte het (altitude sickness) want hulle was vir die naweek hier in die berge om te ski. Ek het nie gedink Victoria se berge is hoog genoeg vir altitude sickness nie, en ek het ook gedink as jy weer onder kom, is dit verby, maar wat weet ek. Sy is naar en dronk in haar kop en sy het hoofpyn. Ek weet nie hoekom bly sy nie tuis wanneer haar man wil gaan ski nie - sy kla hy ski die hele dag op en af die berg en sy moet in die chalet sit en die kinders oppas. En hoogtevrees kry!
My internet-konneksie het weer tot verhaal gekom en as we speak het ek 'n heerlike pot sampioensop op die stoof. Google het my vertel ek moet 'n prei en 'n wortel sautéé, twee opgesnyde hoenderdye byvoeg en nog 'n bietjie roer, die sampioene en 'n besending hoenderaftreksel byvoeg en dit kook. So gesê, so gedaan. 'n Paar minute voor dit klaar is, gaan ek 'n klompie rys-vermicelli noodles byvoeg. Dit ruik heerlik! Ek het 'n paar swart peperkorrels fyngestamp en 'n knypie gemengde kruie ook bygevoeg.
Ek is baie bly ek het gedroogde sampioene agtergekom by die Chinese grocer. Jy gooi net kookwater op hulle en laat staan vir so 10 minute dat hulle kan uitswel. Hulle is so geurig! Ek dink die "varses" bly te lank op die supermark se rakke, dan verslaan die geur. Ek het my sop gekook met gesnipperde shiitake mushrooms, maar ek het ook 'n pak Japanese klein knoppie-sampioentjies gekoop. Hulle het so 'n crazy-paving gekraakte wit en bruin oppervlakte. Ek gaan hulle in 'n Italiaanse hoender-casserole sit wat ek beplan om te kook.
Genoeg van kookkuns, nou kom ons by wasgoed en breiwerk. My huis ruik lekker na skoon wasgoed want daar is 'n stellasie-vol bokant elke uitlaat van die sentrale verhitting. Niks wil buite droogword nie. Daar hang lakens in die eetkamer, hemde in die tv kamer en onderklere in die slaapkamer. Gladys is tans besig met 'n besending donkerkleurige goed - hemde en sokkies wat ek netnou hier in die rekenaarkamer gaan ophang as sy hulle klaar gewas het en dan gaan ek nie meer wasgoed doen nie, want my stellasies is nou almal vol.
Ek het gister die nuutste manteltjie vasgewerk wat ek vir Needy Stitches gebrei het. Dit het pienk en grys blokke en dit lyk baie mooi. May gaan 'n wit randjie rondom hekel. Die pienk wol was regte wol - een van die wol-fabrieke het dit aan Janice geskenk. Dit het gekom in so 'n koeksister soos vanouds, ek moes dit oprol. Ek dink ek het jou dit al vertel. Ek het dit eers in die tuimeldroër gesit met 'n versagter-sponsie dat dit makliker kan rol. Regte wol is mos nie so glad soos acrylic nie, al is dit sag.
Ek moet sê ek hou nie daarvan om met regte wol te brei nie, dit skaaf my breivinger waarmee ek die wol om die naald haak. Ek het 'n pleister en Germolene. My Germolene was op, maar gelukkig het D agtergekom die SAfr winkel hou dit aan. Ten duurste.
Die Chinese Grocer hou biskits aan wat hulle noem Butter Coconut Biscuits - hulle is langwerpig maar dis die enigste verskil tussen hulle en Tennis Biscuits. Ek is lief vir 'n tennis biscuit en hulle is handig vir tertkorse, maar hier is hulle nie beskiknaar nie, behalwe ten duurste by die SAfr winkel. By die die Chinese grocer is hulle baie goedkoop, soos al sy voorrade.
Hoe lekker sou dit gewees het as jy neffens my op die soufa kon sit en en my help suie aan 'n koppie tee en kyk na die ballet! Miskien kon jy saam brei ook. As Anet hier kuier, dan brei sy heerlik saam - sy brei so mooi en werk vas dat jy nie die naat kan sien nie.
Haar egskeiding is ook verlede maand afgehandel - dit was nie 'n lekker maand vir haar nie: haar ma is ook dood (in die hospitaal) en haar broer het dieselfde dag nog met 'n wa na die ou dame se huis toe gery en alles gaan oplaai. Toe Anet na die begrafnis na haar ma se huis toe gaan, was die huis leeg, hy het selfs die gordyne verwyder.
Hoekom is daar altyd twis oor die ouers se besittings? Ag nouja, in Anet se geval geen twis nie, hy het eenvoudig skoonskip gemaak voor sy of haar suster van iets geweet het. Sy sê sy en haar suster het niks gesê nie en hom maar laat begaan. Daar is 'n paar goedjies soos haar babstoeltjie en van haar kinderboeke wat sy graag sou wou gehad net, maar niks wat 'n vete werd is nie.
Noua, Sussie, ons is ook weer by Sela. Groetnis van huis tot huis.
L&K, Suster Katryn {|{