Wednesday, July 27, 2011

Ek Beskinder my Landgenote

Liewe Sussie,
Nog 'n week in sy maai. Die heilige vaders het vir my 'n briefie van bedanking vir die seels  gestuur en 'n boekmerk. Hulle is goed opgebring, beter as Pamela van Oorle' Tom, wat my nou nog sal bedank vir die geskenk wat ek haar bybie gestuur het. Ewentwil, ek stuur die heilge vaders se briefie vir jou aan want jou seels vorm die grootse deel van my bydrae.
Ek leer met interes uit hulle briefie dat daar ook heilige susters is in hulle organisasie. Mazel tov, good on 'em. Die kinders op die boekmerk lyk ewe vrolik en gelukkig, lyk nie of die heilIge vaders hulle molesteer of mishandel nie. Ons plaaslike katolieke instansies het 'n baie donker reputasie vir mishandeling en molevering van kinders in hulle sorg. 
My landgenote het al die jare hulle bekke vol gehad oor Safr se tekortkominge onder apartheid - en hulle was reg in hulle kondemnasies, maar hulle is nietemin die laaste mense wat klippe kan gooi oor menseregte, wreedheid of swak etiese beginsels.
In die 50s en 60s het die Australiese Regering derduisende aborigines se kinders met geweld van hulle af weggeneem, en daardie kinders in kerklike weeshuise of by pleegouers geplaas, duidende myle weg in vreemde omgewings. Nie die kinders weggeneem omdat hulle ouers sleg was nie, net omdat hulle swart was. Die idee was dat die kinders in "beskaafde" omstandighede sou grootword, behoorlike edukasie kry en uitstyg bo die aboriginal leefwyse. Nee. Die in die weeshuise is gruwelik mishandel, diegene by pleegouers, meesal op plase, is vir slawe-arbeid gebruik. The Lost Generation.
Alles kom nou op die lappe, nou dat die heilige vaders wat aan kinder-verkragting aandadig was, merendeel dood en stokoud is en die kerk hulle nie meer hoef te beskerm nie. En daar was nie net twee of drie van die booswigte nie, maar dosyne. En dit gaan nog steeds aan - elke jaar is daar 'n klompie wat aangekla word deur kinders wat nou grootmense is en kan rapporteer wat hulle as kinders moes deurmaak. Die kerk se manier om dit te hanteer is om hulle te verplaas na 'n ander gemeente waar hulle dit weer kan doen. Want hulle het gebieg en hulle het berou en nou is hulle vergewe, hulle hoef nie tronk toe te gaan nie.
En asof dit nie genoeg is nie, het die Australiese regering na WW2 met die Britse regering geheul om tusen 5 en tienduisend kinders hierheen te stuur - baie van hulle was "evacuees" wat tydens die oorlog na die plattelandse dorpe in Engeland gestuur is. Hulle het vir die kinders vertel hulle ouers is dood, in die meeste gevalle onwaar!
Selfde storie - gruwelike weeshuise, slawe-arbeid. Broers en susters nie bymekaar gehou nie. Daar is nou boeke en dokumentere prente oor die hele ding - "The Leaving of Liverpool", "Oranges and Sunshine" … daardie kinders is nou oumense, baie is dood, maar baie het as volwassenes uitgevind dat hulle ouers of broers en susters in Engeland het, en kon weer by hulle uitkom. Hartroerende verhale.
My nuwe land se rekord is baie slegter as my geboorteland s'n! Selfs toe die Apartheids-regering mense teen wil en dank in die Transkei gaan aflaai het, het hulle die hele familie gaan aflaai en nie die kinders gekonfiskeer nie! En toe hulle Duitse weeskinders ingevoer het SA toe na die oorlog, is daardie kinders in liefdevolle gesinne geplaas en goed versorg.
Maar nouja, laat ek nie my landgenote slegmaak nie, vir my was hulle goed. Ek hoekom nie? Ek is wit en ek praat Engels! Baie van my anderskleurige en anderstalige mede-immigrante word nie met sulke ope arms verwelkom nie.
Sussie, ek het vir jou 'n boek laat stuur van die online boekwinkel waar ek baie van my boeke koop.  Dit sal 'n tweedehandse boek wees: die website spesialiseer in ex-library stock, maar wat worry jy, hy sal in goeie kondisie wees en jy sal hou vd storie. Miskien kan jy hom by jou skoondogters rond uitleen as jy met hom klaar is. The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society.
Ek het Maandag saam met my ex-skoonmaakster Joan gaan koffie drink. Sy het haar huis verkoop en sy en haar man trek na Moe. (Mow-ee) Dis so 'n uur uit Melbourne of 90 minute met die trein. Groter as Plooysburg, maar nie veel nie! Joan se broer en haar suster woon daar en nou dat albei haar dogters uit die huis is, het sy en Les nie so 'n groot huis nodig nie.
Joan het my ook vertroulik meegedeel dat sy moeg is om dag vir dag kleinkinders op te pas sodat haar dogters kan rondjakker. Die dogters het hard probeer om haar om te praat om in Melbourne te bly, maar sy het net gesê nee. Ek dink Les was nie te lus vir Moe nie, maar hy het geen geld en dus geen seggenskap nie. Dobbelprobleem gehad en dis nou al jarre dat Joan alle geldsake beheer en alles is in haar naam, sy gee hom sakgeld.
Sy het 'n mooi 3sk meenthuis gekoop in Moe en hulle trek die end vannie maand. Joan het 'n hoop goed op eBay geadverteer en mense het dit kom haal. Kontant in haar hand, niks in Les se hand nie! Meubels en allerlei rubbish. One man's trash is another man's treasure. (En dit gaan vir girlfriends ook! Geen pot is te skeef nie.)
Woensdagaand het ons gaan eet by die Indiese keffie saam met Penny (gelukkig nie Fanny nie) en John Thomas. Waar was sy ouers se kommen sens by die doopbak? Kon hulle hom nie James of William genoem het nie? Of al was dit Jaydin of Darryl. Die ete was baie aangenaam: gawe geselskap, lekker kos. Ek het gelukkig parkeerplek gekry vlakvoor die restaurant, want dit was baie koud en nat.  Jy weet ek is altyd die aangewese bestuurder wat ek sit mos nie my bek aan alkohol nie. Om selfsugtige redes: ek wil my lewer en harslag die beste kans gee wat ek kan, om uit die moeilikheid te bly.
Donderdag het ek vir Heather ontmoet vir koffie. Ek het 'n pot peperment tee bestel en haar tjoklit muffin het so lekker gelyk dat ek vir my ook een gekry het. Wat was my verbasing groot toe hulle my 'n ekstra een in 'n papierkardoesie gee. Dit was 5uur in die middag en hulle bak elke dag vars - laatmiddag gee hulle alles weg.  D was bly, hy het dit vir poetieng geëet ipv sy gewone jellie.
Heather was baie opgewonde want sy hou nie van haar werk nie - sy het aansoek gedoen om 'n ander job en hulle het haar opgekommandeer vir 'n onderhoud. Ek hoop sy kry die werk, dis by The Body Shop (sy doen kantoor-admin) en van die newe-vergoedings is dinge soos facials en massages en spa- en gym-besoeke - ek wil dit nie hê nie, maar Heather het baie lus daarvoor.
Sy soek al lank ander werk en dit is nie maklik nie, want haar vereistes is spesifiek: sy wil nie verder as 20 minute van haar huis af werk nie, sy wil ure hê wat inpas by haar kinders se skool en kindersorg-sentrums en sy wil 'n werkgewer hê wat haar sal toelaat om op kort kennisgewing 'n dag of twee verlof te neem as sy 'n siek kind het. Sy gaan Vrydag vir die onderhoud en hopelik sal ek vlg week kan rapporteer of sy die job gekry het.
Gister op die Vrydag het ek vir Marcia ontmoet by die Monash Gallery of Art waar daar 'n baie mooi fotografiese uitstalling was - die fotograaf het van die 30s tot die 50s vir Vogue en dergelike tydskriufte gewerk. Pragtige voorbladfoto's. Al die ou akteurs wat ek onthou van daardie dae.
Vandag se akteurs het nie meer daardie glamour nie! Seker maar ook omdat ons nie alles van hulle privaatlewens geweet het nie, net inligting wat die studios vrygestel het. Vandag is daar geen geheime meer in die wereld nie!
Ek kan weer nie hd Sondag gaan fliek nie weant dis nog skoolvakansie en daar is niks wat ek wil sien nie. Ek was vanmiddag by die bib en het 'n paar DVDs daar vd rak af geleen. Ek ken hulle nie, dis BBC programme. Ek hoop hulle is goed. D kyk vanaand rugby, miskien sal ek een vd DVDs in my rekenaar se speler prop en daarna kyk, ek sit lekker gemaklik hier in my ergonomiese stoel. Ek sal my breiwerk en my pot tee gaan haal.
Nouja, Sussie, dan is dit weer SELA tot vlg week. Baie liefde en groetnis.
I¯ö Suster Katryn

No comments:

Post a Comment