Wednesday, July 27, 2011

Handskoene en Vriendinne

Liewe Sussie,
Wat kan ek jou sê. Dis winter en ons leef in die lôntrie. Die wasgoed hang knaend in die huis, bokant die warm-lug-uitlate. As ek dit buite hang, word dit nie drooog nie, selfs nie op die balkon nie. Die lug is te koud en klam. My landgenote laat hang hulle wasgoed dae lank buite, tot daar eendag 'n flouerige sonnetjie kop uitsteek en dan bring hulle dit in en sit dit tog maar in die tuimeldroër om die laaste klammigheid uit te blaas. Ek hang myne liewer uit wans uit in die huis. Die sentrale verhitting is eenmanier aan, hy kan net sowel my wasgoed droogmaak.  Ten minste ruik skoon wasgoed lekker.
Jy is 'n regte Flo Nightingale met Charlene se agterpote - ek hoop sy word gou beter. Ek is seker sy sal hulle beter kla.
Ek is jammer jou handskoene is weg. Jy weet mos ek brei knaend vir die minder-BV-regtes. Nouja, ek vir myself 'n paar vd handskoene gehou wat ek vir hulle brei. Brei vir jouself 'n paar - jy sal nou dink dis nie warm genoeg nie want jou vingers steek uit, maar glo my dis te lekker as jy so sit en lees of in jou modderkar ry. Brei net 2plein 2purl ribbing, sit so van 35 na 40 steke op na gelang van hoe dik jou wol is, en brei so om en by 20cm. As jy die naat toewerk, los plek oop vir jou duim.
Very Simple Fingerless Gloves

8 ply yarn  and 4mm (no 8) needles

Cast on 40 stitches, leaving a tail of wool for the sewing up.

Rib K2, P2 for 12 cm
(This is about 30 rows, depending on the thickness of the wool: some 8ply is thicker than others)

The next 4cms (about 12 rows, dep on thickness of wool) start and end each row with K3. This will make an edging to the thumb hole.

Do another  4cm in the k2,p2 rib, then cast off in rib, leaving a length of wool for sewing up.

Fold in half lengthwise and sew up side seam from the top and the bottom, leaving the edged 4cms open for the thumb.

Ek is bly jou bure is goed vir jou; jy klink nie vreeslik dankbaar nie. Ek het gelukkig niks met my bure te doen nie - groet vriendelik as ons mekaar buite sien en dis al.  Krismis gee ek haar 'n koek en sy gee my 'n blik biskits. Hulle seun bespeel die dromme maar nie saans nie en bedags hou die sessie ook nie lank aan nie, ½ uur op die meeste.  Ek kla nie, want ek soek nie 'n vete met my bure nie. Hulle hond wat vroegoggends heerlik geblaf het vir die opkomende son, is ook tot haar hondelike vadere vergader en dit lyk nie of hulle 'n nuwe een gaan kry nie.
Ek wonder of die boek wat ek jou laat stuur het, al opgedaag het. Ek gaan in die week vir jou 'n paarseltjie stuur met 'n paar goedjies vir jou nuwe kleinkind. Ek wil niks Pta toe pos nie, want "hulle" het al te veel goed gesteel wat ek soontoe gestuur het. Ek verdink die posbeamptes in die Transvaal.  Ek is seker jy sal nie haar klerasie steel om aan jou eie bas te trek of weg te gee vir baba's wat jy by die bekentenis het nie.
Ek het niks wonderliks gekoop nie, sommer net ietsie to show willing - ek wil nie wintersklere koop nie en daar is nie nou somergoed in die winkels nie. Ek sal wag tot die somergoed inkom en dan weer ietsie koop. Ek wil so 3-6 maande se goed koop of 6-9 maande, en as sy dd ouderdom is, dan is dit somer by julle. Hier ook. Dit sal gaaf wees as sy op K se verjaardag kan kom, sê jou skoondogter moet knyp tot 11 Okt.
Nuus is nog maar skraps. Dun op die grond. Ek het vandag my kop laat afkap by Madeleine. Sy het weer vir my afdakkies oor my ore gesny maar wat kan ek doen. Nee, ek sal jou sê wat ek kan doen: ek het uitgevind wanneer haar afdag is - sy het Sondae en Woensdae af. Ek kan nie op Sondag soontoe gaan nie, want 1. ek gaan Sondae fliek en 2. Seniors kry net in die week afslag en nie Sat of Son nie, maar as ek weer moet laat sny, gaan ek my afspraak vir 'n Woensdag maak. Ek gee nie om dat Madeleine my kop inkleur nie, sy doen 'n goeie job. Ek gaan vlg Donderdag laat inkleur.
More gaan ek vir May help om haar gehekelde 'bersies uit die bib se winkel te haal. Sy het die meeste van hulle verkoop, maar daar is 'n paar agtergeblewenes. Ek sal hulle vir haar op eBay sit. Dis 'n pyn in die nek, ek wil my nie bebodder nie, maar nouja. Sy is oud en sy het nie 'n rekenaar nie en sy is my vriendin. 'n Mens moet rally as jou vriendinne jou nodig het, soos jy met Charlene. En dan rally hulle weer dienooreenkomstig in jou uur van nood.
Ek gaan ook 'n martelaar wees met Pauline - dis winter en te koud vir haar om op die trein te klim om my te ontmoet soos ons doen. Die wind is ysig op die stasie waar sy moet wag, al is dit net 'n paar minute. Nou gaan ek Donderdag na haar huis toe ry en daar saam met haar middagete eet en kuier en so drieuur huis toe kom wanneer my oë te veel brand van die rook. Tuis aangekom, moet ek my klere in die was gooi, stort en my hare was want ek stink.
Ek was Sondag fliek toe saam met K en D, ons het Beautiful Lies gesien. Franse prent, Audrey Tautou. Ek en K het dit geniet maar D nie so baie nie. Dit was 'n chick flick - bietjie van 'n rom/com maar die Franse maak nie aanstootlike rom/coms soos die Amerikaners nie.  Jy kan maar jou plek inneem in die Village Odeon wanneer dit daarnatoe kom. Maak seker daar sit niemand met 'n hoed op voor jou nie, dat jy die subtitles kan lees.
Nou gaan ek vir my 'n bakkie sop uit die vrieskas ruk en 'n stukkie tous maak daarby. D het lankal geëet, hy word vroeg honger en hy soek elke ete vleis. Hy het beef casserole en rys en groenbone gehad met gestoofde appels daarna. Ek weet nie of hy daarvan gehou het nie, hy lewer nooit kommentaar of sê dankie nie. Dankie is nie in die McDonalds se woordeskat nie. K tel in dd opsig nie vir 'n McD nie, sy ken asseblief en dankie. Haar ma (opgevoed deur Nella Viljee) was meer vertroud met die terme as D s'n, en het dit dienooreenkomstig van kleins af aan haar oorgedra.
Nouja, Sussie, verder Niets dan Bladeren tot vlg week.
Baie liefde en groetnis,
Suster Anna   J  Y ¯

No comments:

Post a Comment