Thursday, August 25, 2011

Rooi Hond en Gestorwe kat

City to Surf: Klaar gestap!
Liewe Sussie,
Sondagoggend en die son skyn. Hy skyn nie warm nie, maar hy skyn. Ek het al amper vergeet hoe lyk hy.
K is in Sydney vir haar werk. Sy het Woensdag gevlieg en sy kom vanmiddag terug. Vlg week gaan sy weer, hd keer vir haar eie plesier. Sy neem mos elke jaar deel aan die City To Surf, saam met Dan en Linda en 'n paar ander vriende. Dis 15 km langs die mooi strande van Sydney. Hulle hardloop nie, hulle stap.   
Gistermiddag het my BFF Margie hier kom tee drink. Drieuur het sy ingeklok. Sy het my eenkeer gesê wat haar van is, maar ek het vergeet en nou wil ek nie weer vra nie.
Sy is baie gaaf en vriendelik maar sy gaan nie maklik huis toe nie. Dit was 'n reënerige dag en onder normale omstandighede sou ek die lig aangeskakel het, maar toe dink ek nee, as die lig nie aan is nie, dan sal sy huistoe gaan as dit vyfuur begin donker word. 
Sussie, later is dit so donker in die huis dat ek nie my horlosie se gesig kan sien nie, maar sy sit soos 'n neet. Ek staan toe op en sê dit word nou donker buite, ek gaan my wasgoed se stellasie in die huis bring anders word hulle nie droog nie. Sy staan toe ook op en sê sy moet nou gaan. Toe ek die lig aanskakel, sien ek dis vyf voor ses.
Nouja, dis beter as kwart voor agt! Eenmaal, toe D nie tuis was nie, het sy gesit tot kwart voor agt. As hy hier is, dan kan ek ten minste sê ek moet nou vir hom gaan aandete maak. Toe hy nie hier was nie, wou ek nie van aandete praat nie, dan moes ek haar dalk nooi om nog later te bly!
Maar ons het lekker gesels. Sy is baie lief vir kookboeke en het 'n groot versameling. Tot my konsternasie moes ek verneem sy weet niks van Mrs Beeton nie. Nog nooit van haar gehoor nie. Toe leen ek haar my Mrs Beeton. Nie dat 'n mens daaruit kan kook nie, maar dit is altyd 'n plesier om te lees!
Duties of the parlourmaid. Planning a formal dinner for 40 people. How to appoint the sickroom. Plucking a pheasant. Goffering pleats and starching collars.
As jy jou Mrs Beeton in jou hotklou het, staan jou hande vir niks verkeerd nie - jy kan jou huishouding bestuur, twaalf diensknegte beheer en gereeld dertig gaste kry vir die naweek, no worries al word jou kinders siek en jou man skiet 'n dosyn fisante wat jy moet pluk. Al daardie dinge is julle natuurlik gewoond op jou tuisdorp! Miesies Beeton is prominent op elke boekrak van De Aar tot Pofadder.
Vanmiddag gaan ek Red Dog sien saam met May. Ek sou dit verlede week saam met Pauline gaan sien het, maar toe sê sy sy het nie vir honde lus nie, watter kleur ookal. Ek ontmoet vir May by die baaiskoup. Ons gaan na die halfeen-vertoning en agterna sal ons koffie drink. Ek hoop om teen halfvier tuis te wees vir my nanna-nap. Ek het glad te laat gaan slaap gisteraand en vanoggend was ek vroeg wakker.
Ek het aangebied om vir May te gaan oplaai, maar sy het gesê sy sal self ry.  Ek kwel my oor May wat op 86 met haar motorkar die strate invaar. Haar ouderdom is niks, maar sy kry elke nou en dan 'n "Nasty Turn" wanneer sy flou word, en sy het 'n soort van anaemia wat meebring dat sy geen gevoel in haar voetsole het nie. Hoe kan jy veilig bestuur as jy nie die pedale kan voel nie? Ewentwil, ek is nie haar ma nie, ek kan nie vir haar sê wat om te doen nie. Ek klim net nie in 'n kar waar sy aan die stuur sit nie. Ek hoop ook ek is nie 'n innocent bystander op straat wanneer sy dalk 'n nasty turn kry agter die wiel nie.
Joan het netnou gebel om te sê haar kat Marco is tot sy vadere vergader. Shym, dis altyd sleg as 'n mens jou huisdier moet laat uitsit. Arme Marco het nierversaking gehad en hy was in pyn en kon nie eet nie. Ten minste kan 'n mens vir jou dier daardie genade betoon en hom van sy lyding verlos - vir jou eie familie mag jy dit nie doen nie. Marco was twaalf jaar oud - hy was maar soos Gerry en Joan se familie, shym. Mimi die ander kat mis hom ook, sy soek hom in die huis.
Ek en K het toe verlede Sondag Senna gaan sien. Ek geniet 'n documentary. Ek het nie gedink ek sal baie van hierdie een hou nie, want ek stel nie juis in motorsport belang nie. Formula 1 is vir my 'n geslote boek. Nietemin het ek baie daarvan gehou. Dit was baie interessant - al die jaers en die politiek en die wedywering tussen Senna en Prost - jy kan maar gaan inklok by die Village Odeon. Partymaal het hulle 'n kamera in die neus van Senna se Mclaren.  Moenie te ver voor sit nie, jy sal karsiek word om die draaie.
Maandag was boekklub by Florrie se huis. Ons het May se happy birthday gevier. Dit was baie aangenaam soos altyd. Ek het nie boeke geneem nie, want ek het genoeg om te lees. Ek was betyds terug tuis om Greg die Rekenaarvent te woord te staan. Hy het my drukker reggemaak en vir my 'n nuwe DVD speler ingesit in my rekenaar.
K was hier, sy het haar laptop saamgebring wat 'n skeet gehad het en Greg het dit ook reggemaak. Sy mag eenmaal per week vd huis af werk, en sy het dit Maandag gedoen sodat sy van Greg se dienste gebruik kon maak.
Woensdag het Glen die Handyman ingeklok om te kyk na allerlei los werkies wat ek gedoen wil hê in en om die huis. Shym, as ek 'n handyman laat kom, dink ek altyd so aan Boetie, wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Hy sou 'n goeie lewe gemaak het hier in Melbourne! Ek het nog nie Glen se kwotasie gekry nie, dit sal seker Maandag kom.
Donderdagaand het ek gaan eet by die RSL Club saam met Carla, Carol en Sunanda. Ek het Moroccan Chicken Salad bestel. Geroosterde hoender"strips" op 'n bed van spinasie, met pampoen en amandels. Sunanda het Grilled Atlantic Salmon gehad en die ander twee het volstaan met Roast of the Day. Dit was varkboud. Ons het nie nagereg gehad nie.
Nouja, Sussie, hier is ons weer by Sela. Tot vollende week, mag jy die wind van agter kry!
Lovenkisses, Suster Katrien  ¯¯¯


We shouldn't be surprised when our kids misbehave, they get it from their story books!
Tarzan lives half naked, Cinderella comes home at midnight, Pinocchio lies all the time, Aladdin is the king of thieves, Batman drives at 200 mph, Sleeping Beauty is lazy, and Snow White lives with 7 guys!

Sunday, August 14, 2011

Scanpan en Senna

Liewe Sussie,
Nog 'n week het verbygevloog en hier klok ek in op die Saterdagaand. Baie dankie vir jou brief - ek is bly die boek het byval gevind. Iemand het my anderdag 'n boekie present gegee wat sy vir 20c by die Op Shop gekoop het. Dit is die memoir van 'n ou dame wat as kind die besetting van Guernsey deurleef het tydens die oorlog. Ek het dit baie interessant gevind aan die hand van The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society en ek sal dit vir jou aanstuur. Miskien kan jy aankomde April die dames van jou boekklub toespreek oor die goings-on (gaanings-aan?) in die Kanaaleilande tydens WW2.
Ek het vanoggend saam met die Lipson Ladies gaan brunch soos ons nou en dan doen. Net twee van hulle het opgedaag: Lindsay en Margie. Pauline en Heather het ander visse gehad om te fraai. K het saamgekom want sy is by ons vir die naweek. Sy het Vrydagaand ingeklok. Ek het vegtariese omelet gehad en koffie. Dit was baie aangenaam en ons het lekker gesels en gelag.
Agterna het ons huis toe gekom en op pad het K my kar vir my vol petrol gemaak soos sy naweke doen wanneer sy hier is, want my rumatiekvingers kry seer as ek die petrolpyp se handvatsel styf genoeg moet druk om die petrol te laat vloei. Ek kan dit doen as ek moet: ek vat die ding vas met albei hande, kners op my tande (onthou jy vir Knersus met sy drie stelle tande?) en druk solank ek kan uithou. Ek hou daarvan om elke week my tenk op te top, ek wil nie hê hy moet leegloop nie.
Sy het my by die huis gelos en soos Hansie Slim die berg gaan bestyg. D het die naweek elke dag rolbal; hy speel in 'n toernooi in Brighton en hy moet baie vroeg in die oggend wegry want dis ver. Hy het donker by die huis gekom en staan tans onder die stort. Dis so koud buite, hy sal seker 'n bietjie warmer en beter voel as hy daar onder die warm water uitkom. Sy kos wag in die kombuis. Wat my skoonma altyd genoem het a proper plate of dinner. Hy kan dit net opwarm in die magnetron.
Gister het ek toe eindelik vir Marlene ontmoet vir koffie en sy het heerlik gekla. Oor haar seun, oor haar dogter, oor haar bure. Oor haar seer rug, oor dokter, oor haar fisio, oor haar beste vriendin Madge. (Vir wie ek nie ken nie, maar Marlene beswadder haar so goed elke keer, ek voel al ons is huisvriende.) Ons het meer as 'n uur lank daar gesit en sy het nie eenmaal na my welstand of dié van my familie verneem nie. My rol is dié van luisteraar! Ek het darem 'n lekker koppie skinny latte gedrink terwyl ek simpatieke geluide maak.
Na regte behoort sy vir my koffie te betaal - 'n psigo-terapeut sal haar etlike honderd $ vra om vir 'n uur te luister hoe kla sy! Miskien kan sy
na St
Leonard's toe gaan hier in Waverley, een vd heilige vaders sal gratis luister, maar hulle bedien seker nie koffie daar in die biegboks terwyl jy sit en uitpak nie. Ja-nee, dit gaan my job bly.
Donderdag het ek vir Pauline ontmoet. Daar was net een prent wat redelik gelyk het om te sien, nl. Red Dog. Dit handel oor 'n hond wat so allemanshond was daar in die Outback. "Heartwarming family fare", sê die resensie. Maar Pauline was nie lus vir honde nie en toe gaan ons maar net eet. Dit was baie koud, toe ry ons na 'n Indiese keffie toe en eet kerrie. Ons het 'n entréé platter gedeel met allerhande happies daarop, en toe het ons 'n dis van lamsvleis en spinasie gedeel, met saffraanrys.
Woensdag het my skoonmakers gekom: Jenny en Roy. Hulle het albei verkoue en het al hoesend en proesend deur die huis gegaan. Ek het my uit die voete gemaak want ek het nie lus om aan te steek nie. Ek het vir May ontmoet vir koffie en kaaskoek, en daarna het sy bib toe gegaan, maar ek het huis toe gekom want ek het die vorige dag reeds my besigheid afgehandel by die bib.
Dit was nou op die Dinsdag (vandeesweek rapporteer ek my doen en late so agteruit!) wat ek by die bib aangery het op pad huis toe van Joan af. Haar man Gerry het sy oog laat opereer om die kakkerlak te laat verwyder. Hy moes Dinsdag gaan dat hulle die verband kon afhaal en die werk inspekteer. Ek het hom en Joan tienuur opgelaai en na die optometris geneem. Terwyl hy met sy oog besig was, het ek en Joan ons onderskeie inkope gedoen en 'n halfuur later het ons almal mekaar ontmoet by die koffiewinkel, waar Joan vir ons koffie gekoop het. Ek het 'n macadamia choc chip biskit by myne geëet.
Een vd dinge wat ek daar by die winkels gedoen het, was om my ScanPan te neem na die kombuiswinkel toe. Dis nie die winkel waar ek hom gekoop het nie, maar alle handelaars wat ScanPan verkoop, is amptelike agente en sal 'n foutiewe pan of pot omruil, no questions asked. So adverteer hulle, en so het die man agter die toonbank gedoen.
Ek het die pan nou al amper twee jaar en ek gebruik hom baie. Dis 'n groot en diep pan - ek maak graag casseroles en so aan in hom, wat jy kan die uie en vleis vooraf roerbraai en dan die ander goed byvoeg, die deksel opsit en hom laat prut. Hy het 'n swaar bodem. Ek kook bv 'n substansiële kerrie of 'n bredie in hom en dan vries ek dit in porsies. Hy maak 'n gawe  paella ook.
Ewentwil, die pan se swart "non-stick" bodem het begin blasies maak en toe dink ek nee, ek het baie duur betaal vir die ding, ek gaan hom terugneem, al is hy ook amper 2 jaar oud. ScanPan spog dat hulle waarborg geen tydsbeperking het nie. Ek het destyds vir hom $195 betaal, maar ek sien hy kos nou $325. Newwermaaind, die man het sonder blik of bloos vir my 'n nuwe ene gegee en gesê hy sal die een met waterpokkies terugstuur na die fabriek.
Sondag
Ons het gisteraand Classic Movie Night gehou - ek het Anatomy of a Murder uitgeneem by die bib. Lee Remick en James Stewart. Dis jarre sedert ek en D dit gesien het, en vir K was dit nuut. Ons het almal daarvan gehou, maar dit was 'n lang prent - ek het glad te laat in my katel gekruip en vanoggend het ek vroeg wakkergeword want D was so vroeg op weens die bowls-toernooi.
Ek sal vanmiddag ook my nanna-nap misloop want ek en K gaan sien Senna. Dis 'n dokumentêr oor Ayrton Senna, die motorkar-resies-vent. Jy sal hom onthou. Jonk dood op die resiesbaan. Shym.
More op die Maandag moet ek boekklub toe gaan - dis by Florrie se huis, want sy het met my geruil. Augusmaand se boekklub is gewoonlik by my huis, en ek kry altyd 'n happy birthday koek vir May, want sy verjaar 17de Aug. Sy sal 86 wees. Ek het kant en klaar die koek bestel by die Wheelers Hill bakker soos ek elke jaar doen, en ek het vir Florrie gesê sy moet niks bak nie, ek sal die koek bring. Mud cake. My landgenote is baie lief vir 'n mud cake, dis so 'n lekker ryk tjoklitkoek. Die bakker gaan Happy Birthday May daarop skryf en ek het hier 'n kersie wat ek sal opsit dat sy dit kan uitblaas.
Ek het vir haar die DVD van Downton Abbey gekoop. Ek weet sy wil dit graag sien; sy het haar naam neergesit daarvoor by die bib, maar daar is 46 mense voor haar in die tou: dis baie populier. Sy sal verheug wees om dit te ontvang, dis 3DVDs, ek dink 12 episodes. Country manor, aristokrate en bediendes en al die lief en leed en intrige wat daarmee gepaard gaan. As sy klaar gekyk het, gaan sy dit leen vir al haar ou-dame-vriendinne daar in die retirement village. Happy days.
Tweeuur moet ek weer by my huis wees, want Greg die rekenaar-dokter kom kyk na my drukker wat nie sy job reg doen eie en na my rekenaar se DVD speler. Hy wil nie sy laai oopmaak nie. Hy kyk graag DVDs op my rekenaar, want D wil dikwels na goed op die TV kyk wat ek nie wil sien nie. En vice versa.
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Bly mooi en sê groetnis vir jou bure en die tuinjong Johannes. Ek is bly hy is nou al op snoeiskêre - hy maak vordering in sy beroep!
Lovenkisses, Suster K JIœ

Sunday, August 7, 2011

Toneelstukke en Booswigte

Liewe Sussie,
Hier sit ek op die Heilige Sabbat voor my masjien - ek het sedert sonop gewoeker hier in die huis en as we speak is my kombuis skitterblink gepoets - ek het kaste uitgepak en rakke afgewas. Jy weet hoe kort 'n kombuis elke nou en dan 'n ordentlike skoonmaak. As ek hier klaar geskryf het, gaan ek 'n paar hemde stryk en vir Gladys 'n bondel wasgoed gee en die wasgoed bêre wat sy gister gewas het. Hulle het heelnag hier in die huis gehang en is nou droog.
Gister was ons en famille na die teater toe om 'n toneelstuk te sien met name Rising Water. D en K het baie daarvan gehou maar ek was minder opgedaan - ek hou nie baie van Tim Winton, die skrywer, nie. Hulle twee is sy fans. Of waaiers?
Nou is daar nog net een toneelstuk oor in die seisoen: in Sept sien ons The Importance of Being Earnest, wat na honderd jaar nog steeds 'n treffer is. Geoffrey Rush speel Lady Bracknell. Ek weet niemand kan Dame Edith Evans nadoen nie, ("A Haaaaandbag!?") maar Geoffrey Rush sal beslis 'n goeie job doen. Ek sien baie uit daarna. As die Melbourne Theatre Co op toer gaan, kan jy beslis in die tou val voor die kerksaal daar by julle.
Ek onthou hoe opgewonde ons altyd was toe die Nasionale Teater met Andre Huguenet (sy naam was Gert Borstlap, geen wonder hy het dit verander nie!) kom toer het. Konsert! In die stadsaal. Geknakte Riete. Gee Terug my Kindjie. Wena Naudé. Lydia Lindeque. Hendrik Hanekom. Waar is die dae.
Pasede Sondag het ons by die Thai keffie gaan eet saam met die nefies. Ek kan nie onthou of ek jou vertel het nie. P het ons vertel van sy avonture op toer. Ek wil nie Indië toe gaan nie. Skitterymaag.
Dinsdag het ek en my ex-kollega Joan gaan koffie drink in die oggend, en in die middag het ek my kop laat inkleur by Madeleine. Sy het vir my 'n nuwe kleur gegee. 'n Mens kan nie altyd dieselfde wil lyk nie.
Woensdag het ek saam met May gaan koffie en biblioteek soos ons altyd doen. Sy word nou baie oud en tingerig - sy is 15 jaar ouer as ek! Ek weet nie hoe veilig dit is vir haar om agter 'n stuurwiel in te klim nie. Sy kry elke nou en dan wat sy noem 'n Nasty Turn. Ek hoop nie sy kry een van daardie Slegte Draaie wanneer sy agter die wiel is nie. Ag nouja, wat kan ek doen, ek is nie haar ma of haar skaapwagter nie. Ek klim nie in haar kar nie, dis al!
Donderdag het ek gaan koffie saam met Aletta wat saam met my op kosskool was. Die koffiewinkel was voorheen 'n Dulux verfwinkel en dit staan nou bekend as The Paint Shop. Ons het soos gewoonlik lekker gesels en ons het 'n almond croissant gedeel. 
Vrydag moes ek vir Marlene ontmoet het maar ek het haar gebel en gekanseleer, ek het nie sterk genoeg gevoel on vir 'n uur of meer te luister hoe kla sy nie. Miskien moes ek maar op my tande gebyt en gegaan het, want nou moet ek vlg Vrydag gaan: ek spring nie vry nie!
Ek weet nie of ek vandag fliek toe sal gaan nie - daar is niks wat ek baie graag wil sien nie. Ek sal netnou weer kyk wat wys by die verskillende venues - dalk is daar iets wat ek misgekyk het. Dalk sal D saam met my wil gaan, hy speel nie hd naweek rolbal nie, die seisoen het nog nie begin nie. Hy is nou nie meer Chairman of Selectors nie, hy is now Bowls Director. Ek is nie seker wat dit behels nie, maar hy is die hoofman oor honderd. Baie belangrik. Sy foon lui gedurig, ek is bly hy het 'n aparte lyn!
Ons het verlede week moeilikheid gehad met ons kredietkaart - lang storie kort, ek moes ID wys by Telstra se kantore, en my bestuurdersliksens was nie voldoende nie.  Toe haal ek my Medicare-kaart en my Seniors Card en my Commonwealth Seniors Health Card tevoorskyn, maar nee, sê die vent, hy soek 'n kredietkaart. Ek haal uit en wys. Soos blits gryp hy dit uit my voorpoot en verdwyn agter die skerms daarmee. Vyf minute later is hy terug en gee dit vir my. Ek is daarvandaan reguit na die bank, het my en D se kaarte laat kanselleer en nuwes gekry met nuwe nommers. Ons het 'n kaart wat net $1,000 in het, wat ons gebruik om op die internet mee te koop, maar die kaart wat die Telstra-vent gaan photocopy het, is gekoppel aan ons spaarrekening en daar is baie geld in. Ek kan nou nie sê die vent is 'n booswig nie, maar hoe weet ek. Die dame by die bank sê hulle gebruik dit nie self nie, hulle verkoop die nommers en as jy weer kyk, dan is daar iemand in Mooseville, Texas, wat heerlik koop op jou kaart. Hy sal teleurgesteld wees wanneer hy dit met my kaart probeer. Booswigte dink oumense is dom.
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Bly mooi en sê groetnis al in die rondte.
Lovenkisses, Suster KatrynN

Monday, August 1, 2011

Wie se Boerewors?

Liewe Sussie,
Ek gaan netnou uit om my voormalige cleaning lady Joan te ontmoet vir koffie. Sy het soos reeds vertel, haar huis verkoop - sy en haar man staan op vertrek na Moe. Ekself wil nie in Moe gaan woon nie: ek stem saam met Hunter S Thompson: "Give me skyscrapers, neon lights and crowds."
Ek onthou toe Sue destyds George toe getrek het vanaf Jhb, het sy gekla as jy groen sandale of 'n uit-druk boek wil koop, moet jy Kaap toe ry. Mind you, nou dat alles op die internet beskikbaar is, hoef jy nie verder as jou rekenaar te ry as jy 'n ongewone item te koop soek nie, maar ek wil woon waar ek nie perd hoef op te saal en padkos te pak as ek wil kunsgalery toe gaan of 'n mediese spesialis se dienste nodig het nie. Ek wil ook nie woon waar almal my besigheid weet nie!
Ek kan rapporteer dat ons gisteraand by die Thai keffie gaan eet het saam met Andrew en Peter. Dit was baie aangenaam. Ons het al die disse gedeel en Peter het ons vergas op verhale van sy avonture. Hy is pas terug van 15 maande op toer. Hy het afgeskop met 'n besoek aan sy familie en die wereldbeker-sokker in SAfr, en vandaar is hy deur Afrikalande en deur Oos-Europa en toe 5 maande in Indië en Pakistan - 'n draai deur ons buurlande hier in Asië gemaak en hier is hy ongedeerd weer tuis. Hy beplan om ses maande te bly (natuurlik by sy ouerhuis waar alles verniet is!) terwyl hy bietjie geld verdien en dan is hy weer reisvaardig.
Pasede Vrydag was ek en Carla by die voetvent en vandaar op ons mooi sagte pienk voete na die RSL vir middagete. Carla eet gewoonlik die Roast of the Day, maar hd keer was dit kalkoen en sy hou nie daarvan nie. Sy het Thai kerrie opgesmul en ek het die Moroccan Chook Salad bestel. Ons het lekker gesels en toe ek halfdrie tuiskom, het ek op my beddegoed in die sonnetjie gaan vertoef vir 'n uur. Ek neem altyd een van my kunsboeke om deur te blaai, maar ek kyk nog so, dan gaan my ogens toe. Nanna-nap.
Woensdag het ek by Priscilla gaan kuier. Ek het die bul by die horings gepak toe sy haar twak en tonteldoos tevoorskyn haal, en haar gevra om nie te rook nie want dit maak my ogens en my keel seer. Sy het ewe gewillig buite gaan rook. Ons het lekker gekuier, ek het sop saamgeneem en sy het broodrolle en slaai voorsien, en gestoofde appels vir poetieng. Ek het my breiwerk saamgeneem en ons het lekker gesels en gebrei. Sy brei ook nou vir Needy Stitches. Ek het net na drie weer in die pad geval, want dis ver en die spitsverkeer begin opbou hier van halfvier af.
Later … ek gaan netnou my sampioensop opsit, ek wag dat die gedroogde sampioene moet uitdy.  Ek het boerewors by die supermark gekoopp vir D - hulle beskryf dit as The British Sausage, uniquely Australian. Daar het jy dit nou. Wie is ek om beter te wil weet.
Joan het my toe alles vertel van haar pakkery en trekkery en van haar kleinkinders se slimmighede. Glad te veel informasie. Ons het koffie gedrink maar nie koek geëet nie.
More ontmoet ek vir Joan Harris my ex-kollega vir ons tweeweeklikse Coffee Klatsch by Forest Hill. Of liewer ek gaan laai haar op want sy bestuur nie. Dis Sondag haar verjaarsdag, ek moet 'n geskenkie vir haar koop maar ek weet nie wat nie.  Ek sal dit maar uitstel tot vlg keer, want more het sy mos nog nie verjaar nie. Dalk bring tyd raad.
Sussie, hd week is nuus baie skraps en ek dink ek gaan volstaan met een bladsy want ek weet nie wat om nog verder te vertel nie. Hopelik sal vlg week meer tyding oplewer.
Baie groetnis en liefde al in die rondte.
YY¯¯{{ Suster Katryn