Sunday, August 7, 2011

Toneelstukke en Booswigte

Liewe Sussie,
Hier sit ek op die Heilige Sabbat voor my masjien - ek het sedert sonop gewoeker hier in die huis en as we speak is my kombuis skitterblink gepoets - ek het kaste uitgepak en rakke afgewas. Jy weet hoe kort 'n kombuis elke nou en dan 'n ordentlike skoonmaak. As ek hier klaar geskryf het, gaan ek 'n paar hemde stryk en vir Gladys 'n bondel wasgoed gee en die wasgoed bêre wat sy gister gewas het. Hulle het heelnag hier in die huis gehang en is nou droog.
Gister was ons en famille na die teater toe om 'n toneelstuk te sien met name Rising Water. D en K het baie daarvan gehou maar ek was minder opgedaan - ek hou nie baie van Tim Winton, die skrywer, nie. Hulle twee is sy fans. Of waaiers?
Nou is daar nog net een toneelstuk oor in die seisoen: in Sept sien ons The Importance of Being Earnest, wat na honderd jaar nog steeds 'n treffer is. Geoffrey Rush speel Lady Bracknell. Ek weet niemand kan Dame Edith Evans nadoen nie, ("A Haaaaandbag!?") maar Geoffrey Rush sal beslis 'n goeie job doen. Ek sien baie uit daarna. As die Melbourne Theatre Co op toer gaan, kan jy beslis in die tou val voor die kerksaal daar by julle.
Ek onthou hoe opgewonde ons altyd was toe die Nasionale Teater met Andre Huguenet (sy naam was Gert Borstlap, geen wonder hy het dit verander nie!) kom toer het. Konsert! In die stadsaal. Geknakte Riete. Gee Terug my Kindjie. Wena Naudé. Lydia Lindeque. Hendrik Hanekom. Waar is die dae.
Pasede Sondag het ons by die Thai keffie gaan eet saam met die nefies. Ek kan nie onthou of ek jou vertel het nie. P het ons vertel van sy avonture op toer. Ek wil nie Indië toe gaan nie. Skitterymaag.
Dinsdag het ek en my ex-kollega Joan gaan koffie drink in die oggend, en in die middag het ek my kop laat inkleur by Madeleine. Sy het vir my 'n nuwe kleur gegee. 'n Mens kan nie altyd dieselfde wil lyk nie.
Woensdag het ek saam met May gaan koffie en biblioteek soos ons altyd doen. Sy word nou baie oud en tingerig - sy is 15 jaar ouer as ek! Ek weet nie hoe veilig dit is vir haar om agter 'n stuurwiel in te klim nie. Sy kry elke nou en dan wat sy noem 'n Nasty Turn. Ek hoop nie sy kry een van daardie Slegte Draaie wanneer sy agter die wiel is nie. Ag nouja, wat kan ek doen, ek is nie haar ma of haar skaapwagter nie. Ek klim nie in haar kar nie, dis al!
Donderdag het ek gaan koffie saam met Aletta wat saam met my op kosskool was. Die koffiewinkel was voorheen 'n Dulux verfwinkel en dit staan nou bekend as The Paint Shop. Ons het soos gewoonlik lekker gesels en ons het 'n almond croissant gedeel. 
Vrydag moes ek vir Marlene ontmoet het maar ek het haar gebel en gekanseleer, ek het nie sterk genoeg gevoel on vir 'n uur of meer te luister hoe kla sy nie. Miskien moes ek maar op my tande gebyt en gegaan het, want nou moet ek vlg Vrydag gaan: ek spring nie vry nie!
Ek weet nie of ek vandag fliek toe sal gaan nie - daar is niks wat ek baie graag wil sien nie. Ek sal netnou weer kyk wat wys by die verskillende venues - dalk is daar iets wat ek misgekyk het. Dalk sal D saam met my wil gaan, hy speel nie hd naweek rolbal nie, die seisoen het nog nie begin nie. Hy is nou nie meer Chairman of Selectors nie, hy is now Bowls Director. Ek is nie seker wat dit behels nie, maar hy is die hoofman oor honderd. Baie belangrik. Sy foon lui gedurig, ek is bly hy het 'n aparte lyn!
Ons het verlede week moeilikheid gehad met ons kredietkaart - lang storie kort, ek moes ID wys by Telstra se kantore, en my bestuurdersliksens was nie voldoende nie.  Toe haal ek my Medicare-kaart en my Seniors Card en my Commonwealth Seniors Health Card tevoorskyn, maar nee, sê die vent, hy soek 'n kredietkaart. Ek haal uit en wys. Soos blits gryp hy dit uit my voorpoot en verdwyn agter die skerms daarmee. Vyf minute later is hy terug en gee dit vir my. Ek is daarvandaan reguit na die bank, het my en D se kaarte laat kanselleer en nuwes gekry met nuwe nommers. Ons het 'n kaart wat net $1,000 in het, wat ons gebruik om op die internet mee te koop, maar die kaart wat die Telstra-vent gaan photocopy het, is gekoppel aan ons spaarrekening en daar is baie geld in. Ek kan nou nie sê die vent is 'n booswig nie, maar hoe weet ek. Die dame by die bank sê hulle gebruik dit nie self nie, hulle verkoop die nommers en as jy weer kyk, dan is daar iemand in Mooseville, Texas, wat heerlik koop op jou kaart. Hy sal teleurgesteld wees wanneer hy dit met my kaart probeer. Booswigte dink oumense is dom.
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Bly mooi en sê groetnis al in die rondte.
Lovenkisses, Suster KatrynN

No comments:

Post a Comment