Thursday, August 25, 2011

Rooi Hond en Gestorwe kat

City to Surf: Klaar gestap!
Liewe Sussie,
Sondagoggend en die son skyn. Hy skyn nie warm nie, maar hy skyn. Ek het al amper vergeet hoe lyk hy.
K is in Sydney vir haar werk. Sy het Woensdag gevlieg en sy kom vanmiddag terug. Vlg week gaan sy weer, hd keer vir haar eie plesier. Sy neem mos elke jaar deel aan die City To Surf, saam met Dan en Linda en 'n paar ander vriende. Dis 15 km langs die mooi strande van Sydney. Hulle hardloop nie, hulle stap.   
Gistermiddag het my BFF Margie hier kom tee drink. Drieuur het sy ingeklok. Sy het my eenkeer gesê wat haar van is, maar ek het vergeet en nou wil ek nie weer vra nie.
Sy is baie gaaf en vriendelik maar sy gaan nie maklik huis toe nie. Dit was 'n reënerige dag en onder normale omstandighede sou ek die lig aangeskakel het, maar toe dink ek nee, as die lig nie aan is nie, dan sal sy huistoe gaan as dit vyfuur begin donker word. 
Sussie, later is dit so donker in die huis dat ek nie my horlosie se gesig kan sien nie, maar sy sit soos 'n neet. Ek staan toe op en sê dit word nou donker buite, ek gaan my wasgoed se stellasie in die huis bring anders word hulle nie droog nie. Sy staan toe ook op en sê sy moet nou gaan. Toe ek die lig aanskakel, sien ek dis vyf voor ses.
Nouja, dis beter as kwart voor agt! Eenmaal, toe D nie tuis was nie, het sy gesit tot kwart voor agt. As hy hier is, dan kan ek ten minste sê ek moet nou vir hom gaan aandete maak. Toe hy nie hier was nie, wou ek nie van aandete praat nie, dan moes ek haar dalk nooi om nog later te bly!
Maar ons het lekker gesels. Sy is baie lief vir kookboeke en het 'n groot versameling. Tot my konsternasie moes ek verneem sy weet niks van Mrs Beeton nie. Nog nooit van haar gehoor nie. Toe leen ek haar my Mrs Beeton. Nie dat 'n mens daaruit kan kook nie, maar dit is altyd 'n plesier om te lees!
Duties of the parlourmaid. Planning a formal dinner for 40 people. How to appoint the sickroom. Plucking a pheasant. Goffering pleats and starching collars.
As jy jou Mrs Beeton in jou hotklou het, staan jou hande vir niks verkeerd nie - jy kan jou huishouding bestuur, twaalf diensknegte beheer en gereeld dertig gaste kry vir die naweek, no worries al word jou kinders siek en jou man skiet 'n dosyn fisante wat jy moet pluk. Al daardie dinge is julle natuurlik gewoond op jou tuisdorp! Miesies Beeton is prominent op elke boekrak van De Aar tot Pofadder.
Vanmiddag gaan ek Red Dog sien saam met May. Ek sou dit verlede week saam met Pauline gaan sien het, maar toe sê sy sy het nie vir honde lus nie, watter kleur ookal. Ek ontmoet vir May by die baaiskoup. Ons gaan na die halfeen-vertoning en agterna sal ons koffie drink. Ek hoop om teen halfvier tuis te wees vir my nanna-nap. Ek het glad te laat gaan slaap gisteraand en vanoggend was ek vroeg wakker.
Ek het aangebied om vir May te gaan oplaai, maar sy het gesê sy sal self ry.  Ek kwel my oor May wat op 86 met haar motorkar die strate invaar. Haar ouderdom is niks, maar sy kry elke nou en dan 'n "Nasty Turn" wanneer sy flou word, en sy het 'n soort van anaemia wat meebring dat sy geen gevoel in haar voetsole het nie. Hoe kan jy veilig bestuur as jy nie die pedale kan voel nie? Ewentwil, ek is nie haar ma nie, ek kan nie vir haar sê wat om te doen nie. Ek klim net nie in 'n kar waar sy aan die stuur sit nie. Ek hoop ook ek is nie 'n innocent bystander op straat wanneer sy dalk 'n nasty turn kry agter die wiel nie.
Joan het netnou gebel om te sê haar kat Marco is tot sy vadere vergader. Shym, dis altyd sleg as 'n mens jou huisdier moet laat uitsit. Arme Marco het nierversaking gehad en hy was in pyn en kon nie eet nie. Ten minste kan 'n mens vir jou dier daardie genade betoon en hom van sy lyding verlos - vir jou eie familie mag jy dit nie doen nie. Marco was twaalf jaar oud - hy was maar soos Gerry en Joan se familie, shym. Mimi die ander kat mis hom ook, sy soek hom in die huis.
Ek en K het toe verlede Sondag Senna gaan sien. Ek geniet 'n documentary. Ek het nie gedink ek sal baie van hierdie een hou nie, want ek stel nie juis in motorsport belang nie. Formula 1 is vir my 'n geslote boek. Nietemin het ek baie daarvan gehou. Dit was baie interessant - al die jaers en die politiek en die wedywering tussen Senna en Prost - jy kan maar gaan inklok by die Village Odeon. Partymaal het hulle 'n kamera in die neus van Senna se Mclaren.  Moenie te ver voor sit nie, jy sal karsiek word om die draaie.
Maandag was boekklub by Florrie se huis. Ons het May se happy birthday gevier. Dit was baie aangenaam soos altyd. Ek het nie boeke geneem nie, want ek het genoeg om te lees. Ek was betyds terug tuis om Greg die Rekenaarvent te woord te staan. Hy het my drukker reggemaak en vir my 'n nuwe DVD speler ingesit in my rekenaar.
K was hier, sy het haar laptop saamgebring wat 'n skeet gehad het en Greg het dit ook reggemaak. Sy mag eenmaal per week vd huis af werk, en sy het dit Maandag gedoen sodat sy van Greg se dienste gebruik kon maak.
Woensdag het Glen die Handyman ingeklok om te kyk na allerlei los werkies wat ek gedoen wil hê in en om die huis. Shym, as ek 'n handyman laat kom, dink ek altyd so aan Boetie, wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Hy sou 'n goeie lewe gemaak het hier in Melbourne! Ek het nog nie Glen se kwotasie gekry nie, dit sal seker Maandag kom.
Donderdagaand het ek gaan eet by die RSL Club saam met Carla, Carol en Sunanda. Ek het Moroccan Chicken Salad bestel. Geroosterde hoender"strips" op 'n bed van spinasie, met pampoen en amandels. Sunanda het Grilled Atlantic Salmon gehad en die ander twee het volstaan met Roast of the Day. Dit was varkboud. Ons het nie nagereg gehad nie.
Nouja, Sussie, hier is ons weer by Sela. Tot vollende week, mag jy die wind van agter kry!
Lovenkisses, Suster Katrien  ¯¯¯


We shouldn't be surprised when our kids misbehave, they get it from their story books!
Tarzan lives half naked, Cinderella comes home at midnight, Pinocchio lies all the time, Aladdin is the king of thieves, Batman drives at 200 mph, Sleeping Beauty is lazy, and Snow White lives with 7 guys!

No comments:

Post a Comment