Sunday, August 14, 2011

Scanpan en Senna

Liewe Sussie,
Nog 'n week het verbygevloog en hier klok ek in op die Saterdagaand. Baie dankie vir jou brief - ek is bly die boek het byval gevind. Iemand het my anderdag 'n boekie present gegee wat sy vir 20c by die Op Shop gekoop het. Dit is die memoir van 'n ou dame wat as kind die besetting van Guernsey deurleef het tydens die oorlog. Ek het dit baie interessant gevind aan die hand van The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society en ek sal dit vir jou aanstuur. Miskien kan jy aankomde April die dames van jou boekklub toespreek oor die goings-on (gaanings-aan?) in die Kanaaleilande tydens WW2.
Ek het vanoggend saam met die Lipson Ladies gaan brunch soos ons nou en dan doen. Net twee van hulle het opgedaag: Lindsay en Margie. Pauline en Heather het ander visse gehad om te fraai. K het saamgekom want sy is by ons vir die naweek. Sy het Vrydagaand ingeklok. Ek het vegtariese omelet gehad en koffie. Dit was baie aangenaam en ons het lekker gesels en gelag.
Agterna het ons huis toe gekom en op pad het K my kar vir my vol petrol gemaak soos sy naweke doen wanneer sy hier is, want my rumatiekvingers kry seer as ek die petrolpyp se handvatsel styf genoeg moet druk om die petrol te laat vloei. Ek kan dit doen as ek moet: ek vat die ding vas met albei hande, kners op my tande (onthou jy vir Knersus met sy drie stelle tande?) en druk solank ek kan uithou. Ek hou daarvan om elke week my tenk op te top, ek wil nie hê hy moet leegloop nie.
Sy het my by die huis gelos en soos Hansie Slim die berg gaan bestyg. D het die naweek elke dag rolbal; hy speel in 'n toernooi in Brighton en hy moet baie vroeg in die oggend wegry want dis ver. Hy het donker by die huis gekom en staan tans onder die stort. Dis so koud buite, hy sal seker 'n bietjie warmer en beter voel as hy daar onder die warm water uitkom. Sy kos wag in die kombuis. Wat my skoonma altyd genoem het a proper plate of dinner. Hy kan dit net opwarm in die magnetron.
Gister het ek toe eindelik vir Marlene ontmoet vir koffie en sy het heerlik gekla. Oor haar seun, oor haar dogter, oor haar bure. Oor haar seer rug, oor dokter, oor haar fisio, oor haar beste vriendin Madge. (Vir wie ek nie ken nie, maar Marlene beswadder haar so goed elke keer, ek voel al ons is huisvriende.) Ons het meer as 'n uur lank daar gesit en sy het nie eenmaal na my welstand of dié van my familie verneem nie. My rol is dié van luisteraar! Ek het darem 'n lekker koppie skinny latte gedrink terwyl ek simpatieke geluide maak.
Na regte behoort sy vir my koffie te betaal - 'n psigo-terapeut sal haar etlike honderd $ vra om vir 'n uur te luister hoe kla sy! Miskien kan sy
na St
Leonard's toe gaan hier in Waverley, een vd heilige vaders sal gratis luister, maar hulle bedien seker nie koffie daar in die biegboks terwyl jy sit en uitpak nie. Ja-nee, dit gaan my job bly.
Donderdag het ek vir Pauline ontmoet. Daar was net een prent wat redelik gelyk het om te sien, nl. Red Dog. Dit handel oor 'n hond wat so allemanshond was daar in die Outback. "Heartwarming family fare", sê die resensie. Maar Pauline was nie lus vir honde nie en toe gaan ons maar net eet. Dit was baie koud, toe ry ons na 'n Indiese keffie toe en eet kerrie. Ons het 'n entréé platter gedeel met allerhande happies daarop, en toe het ons 'n dis van lamsvleis en spinasie gedeel, met saffraanrys.
Woensdag het my skoonmakers gekom: Jenny en Roy. Hulle het albei verkoue en het al hoesend en proesend deur die huis gegaan. Ek het my uit die voete gemaak want ek het nie lus om aan te steek nie. Ek het vir May ontmoet vir koffie en kaaskoek, en daarna het sy bib toe gegaan, maar ek het huis toe gekom want ek het die vorige dag reeds my besigheid afgehandel by die bib.
Dit was nou op die Dinsdag (vandeesweek rapporteer ek my doen en late so agteruit!) wat ek by die bib aangery het op pad huis toe van Joan af. Haar man Gerry het sy oog laat opereer om die kakkerlak te laat verwyder. Hy moes Dinsdag gaan dat hulle die verband kon afhaal en die werk inspekteer. Ek het hom en Joan tienuur opgelaai en na die optometris geneem. Terwyl hy met sy oog besig was, het ek en Joan ons onderskeie inkope gedoen en 'n halfuur later het ons almal mekaar ontmoet by die koffiewinkel, waar Joan vir ons koffie gekoop het. Ek het 'n macadamia choc chip biskit by myne geëet.
Een vd dinge wat ek daar by die winkels gedoen het, was om my ScanPan te neem na die kombuiswinkel toe. Dis nie die winkel waar ek hom gekoop het nie, maar alle handelaars wat ScanPan verkoop, is amptelike agente en sal 'n foutiewe pan of pot omruil, no questions asked. So adverteer hulle, en so het die man agter die toonbank gedoen.
Ek het die pan nou al amper twee jaar en ek gebruik hom baie. Dis 'n groot en diep pan - ek maak graag casseroles en so aan in hom, wat jy kan die uie en vleis vooraf roerbraai en dan die ander goed byvoeg, die deksel opsit en hom laat prut. Hy het 'n swaar bodem. Ek kook bv 'n substansiële kerrie of 'n bredie in hom en dan vries ek dit in porsies. Hy maak 'n gawe  paella ook.
Ewentwil, die pan se swart "non-stick" bodem het begin blasies maak en toe dink ek nee, ek het baie duur betaal vir die ding, ek gaan hom terugneem, al is hy ook amper 2 jaar oud. ScanPan spog dat hulle waarborg geen tydsbeperking het nie. Ek het destyds vir hom $195 betaal, maar ek sien hy kos nou $325. Newwermaaind, die man het sonder blik of bloos vir my 'n nuwe ene gegee en gesê hy sal die een met waterpokkies terugstuur na die fabriek.
Sondag
Ons het gisteraand Classic Movie Night gehou - ek het Anatomy of a Murder uitgeneem by die bib. Lee Remick en James Stewart. Dis jarre sedert ek en D dit gesien het, en vir K was dit nuut. Ons het almal daarvan gehou, maar dit was 'n lang prent - ek het glad te laat in my katel gekruip en vanoggend het ek vroeg wakkergeword want D was so vroeg op weens die bowls-toernooi.
Ek sal vanmiddag ook my nanna-nap misloop want ek en K gaan sien Senna. Dis 'n dokumentêr oor Ayrton Senna, die motorkar-resies-vent. Jy sal hom onthou. Jonk dood op die resiesbaan. Shym.
More op die Maandag moet ek boekklub toe gaan - dis by Florrie se huis, want sy het met my geruil. Augusmaand se boekklub is gewoonlik by my huis, en ek kry altyd 'n happy birthday koek vir May, want sy verjaar 17de Aug. Sy sal 86 wees. Ek het kant en klaar die koek bestel by die Wheelers Hill bakker soos ek elke jaar doen, en ek het vir Florrie gesê sy moet niks bak nie, ek sal die koek bring. Mud cake. My landgenote is baie lief vir 'n mud cake, dis so 'n lekker ryk tjoklitkoek. Die bakker gaan Happy Birthday May daarop skryf en ek het hier 'n kersie wat ek sal opsit dat sy dit kan uitblaas.
Ek het vir haar die DVD van Downton Abbey gekoop. Ek weet sy wil dit graag sien; sy het haar naam neergesit daarvoor by die bib, maar daar is 46 mense voor haar in die tou: dis baie populier. Sy sal verheug wees om dit te ontvang, dis 3DVDs, ek dink 12 episodes. Country manor, aristokrate en bediendes en al die lief en leed en intrige wat daarmee gepaard gaan. As sy klaar gekyk het, gaan sy dit leen vir al haar ou-dame-vriendinne daar in die retirement village. Happy days.
Tweeuur moet ek weer by my huis wees, want Greg die rekenaar-dokter kom kyk na my drukker wat nie sy job reg doen eie en na my rekenaar se DVD speler. Hy wil nie sy laai oopmaak nie. Hy kyk graag DVDs op my rekenaar, want D wil dikwels na goed op die TV kyk wat ek nie wil sien nie. En vice versa.
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Bly mooi en sê groetnis vir jou bure en die tuinjong Johannes. Ek is bly hy is nou al op snoeiskêre - hy maak vordering in sy beroep!
Lovenkisses, Suster K JIœ

No comments:

Post a Comment