Sunday, May 8, 2011

Nog 'n week in sy maai

Liewe Sussie,
Nog 'n week in sy maai en hier is ek op die Sondag alleen in my stil en netjiese huis. K is in Canberra en D is in Moamma, mazel tov.
Ek het toe pasede Sondag teeparty gehou vir Pauline se happy birthday - ek het vir haar 'n manteltjie gegee wat ek gebrei het, so vir die koue wintersaande. 'n Ou dame se skouers moet warm bly as sy sit en lees. K het vir haar 'n besending Belgiese tjoklits gegee en May het vir haar fudge gegee. Pauline het 'n soet tand soos Billy haar beswaarlik kan nadoen. Nietemin is sy geensins vet nie, dis seker die industriele hoeveelhede nikotien wat sy inneem wat haar slank hou!
Ons het 'n aangename middag deurgebring. Pauline se drie dogters is goeie geselskap. Margaret was pas terug van Vietnam en het ons van haar wedervaringe vertel. K kon ook stories oor Vietnam bydra.
May het ons vertel van haar avonture in Hong Kong en Singapore, waar sy en haar suster gereeld gaan shop het toe sy nog hups genoeg was daarvoor. Dis nie my idee van 'n gawe vakansie in Anderland om dit in die winkels deur te bring nie, maar nouja, elke ou diertjie het sy plesiertjie.
K het eenmaal saam met drie vriendinne Thailand toe gegaan, en sy sê die ander twee wou net shop en het nie belanggestel in tempels of museums of rivier-boot-uitstappies nie. Sy het toe maar alles alleen gedoen, die ander twee het hope skoene en klere en handsakke gekoop en almal was gelukkig. Hulle miskien minder gelukkig, want hulle het maag-aandoenings gekry en K nie. Ek glo darem nie dis die shopping wat hulle mae omgekrap het nie!
Maandag het ek saam met Joan gaan brunch, Dinsdagaand het ons gaan eet saam met Bob en Jenny Miller soos ons elke 2 maande of so doen. Hulle het ene Sandy saamgebring, 'n vent vir wie Bob ken deur sy atletiek-aktiwiteite. Bob is hoog aangeskrewe in die hardlopers-wêreld. Toe hy jonk was, het het self gehol, maar nou rig hy ander af om te hol of die duiwel agter hulle sit. Met hooivurk.
Ewentwil, die Sandy is een van diesulkes wat speels-galant raak sodra hulle 'n paar glasies wyn in het. Nudge-nudge. Wink-wink. Suggestiewe kommentare. Een goeie ding van oud wees is dat 'n mens jou niks hoef te laat welgeval nie - ek het vir hom gesê: "your comments are inappropriate and I don't like it."  Hy het gemompel van "net 'n grappie", maar het hy hom darem redelik gedra die res vd aand. Ek dink ek verander in my Tant H op my oudag!
Ek het my namens jou gevies vir die ou man wat daar op jou voordeur opgedaag het. Nou dat sy vrou oorlede is, shop hy vir 'n plaasvervanger. Hy het nie lus om vir homself te sorg nie, hy moet iemand hê om sy wasgoed te doen en sy maaltye te verskaf. En dalk wil hy nog die nuwe huishoudster moleveer ook. Yuck.
Woensdag het ek vir Mireille ontmoet vir tee - of liewer ek het 'n pot groen tee bestel en sy het niks gedrink nie want sy is allergies vir alles en sy het probleme met al haar organe, noem maar op - liver and lights, wat weet ek. Sy eet niks. Ek weet nie waarop sy lewe nie. Ek is altyd versigtig om nie te nies in haar teenwoordigheid nie, want ek weet sy sal wegwaai. Sy is nietemin so mooi en elegant soos Franse vrouens altyd is, ek weet nie hoekom dit so is nie; daar is seker iets in die drinkwater in Frankryk, wat hulle inkry wanneer hulle baba's is. Hulle het ook mos altyd 'n serpie wat elegant geknoop is.
Donderdag het ek saam met May biblioteek toe gegaan en ons het wol gekoop by die $2 shop wat 'n groot besending mooi kleure ingekry het. Breiwol is nou so duur, en ek brei mos knaend goeters vir die behoeftiges.  Nou dat ek vir Pauline die manteltjie gebrei het, brei ek sommer nog 'n paar van hulle, vir die ou dames in die gowwerment se aftree-oorde vir pensionarisse wat nie ekstra inkomste het nie. Die vingerlose handskoene is ook baie gewild by die ou dames, hulle lyk soos die moffies wat ons by ons volkspele-rokke gedra het, onthou jy. Ek brei sommer 'n bypassende paar by elke manteltjie, met die oorskietwol. Ek het vir myself ook 'n paar gebrei, my hande kry koud as ek soggens vroeg orent sit en lees saam met my oggend-tee. Koue oggende = rumatiekpyne in hande.
Vrydag het ek toe eindelik na twee uitstel-beurte (een van my en een van haar) vir H ontmoet vir koffie, 4.30 na haar werk. Sy het een van haar 2 stout kinders saamgebring, die 3-jarige dogtertjie. Ons het by 'n tafeltjie in die "food court" gesit by die winkels. Dit was nie moontlik om 'n gesprek te voer nie: die kind hardloop rond en H kyk die hele tyd oor my skouer waar is sy en wat doen sy, en spring elke nou en dan op om haar te haal waar sy teen goed opklim of onder mense se tafels inkruip.
Dan neul sy vir chips en dan neul sy vir lollies en as H opgestaan het en dit vir haar gaan koop het, dan wil sy dit nie eet nie, breek stukkies af en gooi dit op die vloer, wat haar ma ewe ordentlik optel. Ek het na 'n halfuur gesê ek moet nou gaan want ek het nog 'n paar inkope om te doen voor die winkels toemaak. 'n Taai klap is die antwoord.
Die kind is regtig 'n baie mooi dogtertjie, met lang blonde hare, maar hulle lyk soos dreadlocks. H sê haar hare het dae laas 'n borsel gesien, want sy wil nie dat haar ma haar hare borsel nie. My ma het nie my toestemming gevra nie!
Saterdag, gister, het ek fliek toe gegaan en "Babies" gesien. Dokumentêr. Daar was nie dialoog nie, net musiek. Dis van 4 baba's, jy sien hulle beurtelings, van hulle geboorte tot hulle een jaar oud is. Kenya, Japan, Mongolië en San Francisco. Die fotografie was so mooi, en dit was baie interessant. Die kontras is so groot tussen die omstandighede: die hut in Kenya, die yurt in Mongolië, die high-tech woonstel in Tokyo, die middelklas-huis met agterplaas in die VSA.
Die baba in Kenya kruip daar op die grond rond, die hond lek hom, vliee sit op hom, sy ma smeer modder aan sy kop, en die Amerikaanse en Japanese ma's is so higienies dat daar nie 'n kiem kan leef in hulle huis nie. Die Mongoliese bybie word styf toegedraai soos 'n kokon en as hy begin loop, is hy ook maar daar tussen die skape in die kraal. Sy ma spat melk op sy gesigie en vee dit af met 'n lappie. Sou water skaars wees daar? Maar wat ookal, hulle ontwikkel presies dieselfde, leer eet en praat en kruip en loop, alles dieselfde. Aap hulle ma's na.
Vandag het ek niks gedoen nie: laat geslaap, opgestaan en ontbyt gemaak en weer op my beddegoed gaan plaasneem, my boek gelees, teegedrink en weer gedut. Nou gaan ek 'n bietjie uit, pos jou brief, stap 'n endjie en dan gaan ek na my nuwe ballet-DVD kyk : "Dancing for Mr B." Dit is ses van George Balanchine se ballerina's wat vertel hoe hulle saam met hom gewerk het, en hulle dans uittreksels uit bekende Balanchine-ballette. Ek wil veral graag vir Maria Tallchief en Suzanne Farrell sien dans, ek het geen DVDs van hulle nie. Ek het wel die "Nutcracker" van Baryshnikov, waarin Gelsey Kirkland die rol van Clara dans - sy was een van Balanchine se bekende dansers. Sy ballerina's het 'n styl van hulle eie.
My versameling groei mooi aan, veral nou dat die Aus$ so sterk is teen die US$ - ons het hulle verbygesteek en kry nou US$1.10 vir een van ons dollars, so ek bestel DVDs van die VSA af terwyl dit so goedkoop is! Ek het drie Nutcrackers - die American Ballet Theatre se Baryshnikov, die Swedish National Ballet s'n en die Royal Ballet s'n met Anthony Dowell.
Ek het nie die Australian Ballet s'n gekoop nie: ek hou nie baie van Graeme Murphy se choreography nie. Hy het die hele storie in Australië geplaas en Clara 'n Russiese immigrant gemaak. Alles in moderne drag, en ipv die nutcracker-soldaatjie wat teen die Muiskoning en sy muis-troepe veg, het hy 'n Russiese prins in wit uniform, wat teen die Rooi Magte veg.
Murphy hou van alternatiewe interpretasies - hy het sy eie Swan Lake ook gedoen vir die Australian Ballet se repertoire: hy het dit in Vienna in die 1930s geplaas, en ipv die swart swaan Odile, is dit 'n Barones wat die prins afrokkel, sodat Odette 'n senu-instorting kry en in Sigmund Freud se kliniek geplaas word. Ek het baie van daardie Swan Lake gehou, amper meer as van die tradisionele een.
En dan het ek ook Matthew Bourne se Swan Lake op DVD gekoop - ek en K het dit in Sydney gesien. Bourne het al die swane mans gemaak, daar is nie Odette of Odile nie: die pas de deux is met 'n prins en 'n Hoof-swaan.
As daar 'n balletgeselskap by die Douglas kerksaal inklok met  Matthew Bourne se Swan Lake, moet jy dit nie misloop nie.
Verder weet ek nie wat om aan te kondig nie, ek het nie juis tyding nie.
Ek sal die komende week alleen tuis wees - D kom vlg Sondag terug van Moamma af. K arriveer vanaand terug van haar naweek in Canberra; sy moet more gaan werk en ek sal haar nie sien voor die naweek nie, maar ek sal wel daagliks met haar op die telefoon of die e-mail wees.
Ek het lanklaas van jou jongste gehoor, hy het gesê hy sal my laat weet of ek 'n oom of 'n antie gaan wees. Dit word seker haas tyd dat die sonar dit moet wys. Ek sal bly wees as jy nog 'm kleindogter kry, maar ek dring nie daarop aan nie, ek sal vat net wat die ma verskaf! Ek is seker sy sal vir ons 'n mooi pienkvoetjie in die veld stoot, soos sy voorheen gedoen het.
One eie Prinses Mary daar in Denemarke het vir die Dene 'n tweeling verskaf: Prins Vincent en Prinses Josephine. Onse Mary sit geen voet verkeerd nie: vier koninklike bybies in ses jaar, sy is elegant en sy praat vlot Deens en sy maak geen skandale nie. Ek hoop sy dink vier kinders is genoeg! Koningin Margarethe is hoogs tevrede; Koningin Elizabeth is groen van jaloesie en sy wens sy het 'n Australiese skoondogter gehad ipv Fergie en Di.
My skoonmakers is met 'n maand vakansie Amerika toe (voordelige dollar-pryse!) en ek sal dalk een vd dae agter 'n stofsuier moet aanstap as ek nie in 'n varkhok wil woon nie. Ek het gister halfhartig 'n stoflap rondgeswaai en ek hou darem die kombuis skoon en netjies.
Nou wil ek 'n bakkie sop uit die vrieskas gaan ruk vir vanaand. Bakkie sop en 'n sny tous, wat meer kan jy verlang op 'n koue wintersaand?
Groetnis tot vollende week!
YYY, Suster K

No comments:

Post a Comment