Saturday, May 7, 2011

Prinslike Troue

Liewe Sussie,                                                                                                  
Ek sit en wag vir Gladys om klaar te was dat ek kan ophang. Die wasgoed, nie myself nie. Ek wil uitgaan want my hygiene technicians kom vandag en hulle gaan die woonstel onder die huis ook skoonmaak. Ek verkies om uit te wees wanneer hulle inklok.
Baie dankie vir jou brief gister ontvang. Ek is bly S geniet die Kaap, en ek glo jy sal een vd dae die vliegtuig bestyg en by haar gaan kuier. Jy kan sommer 'n paar dae by jou eerste man en "die tannie" ook oorbly!
Baie geluk met ju kleindogter wat in die top 5 is. Haar sussie hoef nie akademies te wees nie - as sy nog so mooi is soos toe ek haar laas gesien het, is sy haar vuis haar fortuin. Her face is her fortune.
Ja, K lyk natuurlik nog net soos altyd, hoekom sal sy nou plooie en grys hare kry? Sy het nie 'n man of kinders nie! Sy rits heerlik rond saam met haar maats, gaan uit, slaap laat, verdien 'n slopemmer vol geld en het net haarself om tevrede te stel.  Sy het skoonmakers wat haar woonstel in stand hou, sy besit nie 'n strykyster nie en sy kook nie kos nie, sy eet uit. Dis die sorgelose lewe van 'n teenager, Sussie, net met meer geld.
saterdag
Ek kan nie glo die week het alweer ten einde gespoed nie. Ons het gisteraand gekyk na Die Troue. K het toe nie na die wedding party gegaan saam met haar vriendinne nie, want sy moes gedurende die aand 'n vergadering bywoon per telefoon/rekenaar met haar kollega's in die noordelike halfrond. Sy het toe maar hierheen gekom liewer as om alleen troue te hou in haar eie woonstel, want ons het al die fasiliteite hier.
Ons het tiaras opgehad wat ek by die $2 shop gekoop het. Myne was die ene smaragde (groen roebies, soos Rysie hulle genoem het), met net hier en daar 'n diamant en K s'n was diamante en robyne. D het 'n behoorlike kroon gehad, maar sy juwele het een vir een afgeval, ons moes hulle met blu-tack weer vasdruk. Hy het dapper saamgekyk, net nou en dan voor sy rekenaar gaan sit om te sien hoe gaan die rugby aan.
Die troue het 8nm afgeskop hier by ons - gelukkig het K se Amerikaanse kollega's kort na die verrigtinge  begin het, ge-SMS om te sê die konferensie is gekanselleer. Hulle wou ook seker troue kyk!
 Ek het baie gehou van die nuwe prinses se trourok. Toe sy by die katedraal uit die Rolls Royce klim, sê ek dis Grace Kelly se rok, net die "skirt" is bietjie anders. Niemand wou my glo nie, maar K het dit terstond  ge-Google op haar laptop en siedaar! Grace Kelly se rok.  Nouja, jy kan nie verkeerd gaan met 'n Hollywood-trourok nie! Edith Head van MGM het Prinses Grace se rok ontwerp, as ek reg onthou.  MGM het dit vir haar gegee as 'n trougeskenk.
 Dit was middernag voor die feestelikhede klaargekry het - of ek weet nie of hulle nog feesgevier het nie, maar ek het gaan slaap. Die koning van Tonga was daar, ek het Noel Coward se opmerking onthou ten tye van George VI se kroning: toe die koningin van Tonga, 'n enorme vrou, verbyry in haar koets met 'n piepklein mannetjie langs haar, vra iemand wie is die mannetjie, en Noel Coward antwoord: "Her lunch!" Nouja, die koning van Tonga het gister ook 'n agterryer gehad, ek hoop nie hy het die vent agterna opgesmul nie! Met blatjang en 'n gemengde slaai.
My skoonmakers was toe Donderdag hier; hulle maak nie so goed skoon soos Joan nie, maar ek gaan nie met hulle baklei nie. Ek wil nie self agter 'n stofsuier aanstap nie! Hulle is betroubaar, hulle daag op, ek kan hulle in die huis los en seker wees hulle gaan niks steel of breek nie … wat meer kan jy verlang in 'n skoonmaker? As ek nou en dan 'n ding moet afstof waar hulle oorgeslaan het, que sera.
More hou ek middag-tee vir Pauline se verjaarsdag, wat 12 April was. Sy moet maar twee verjaarsdae hê soos Her Gracious Madge. More is die amptelike een. Ek gaan vanmiddag 'n wortelkoek bak en moreoggend gaan ek die modderkoek haal waarvan ek jou pasede week vertel het. Dit sal te veel koek wees, maar wat oorbly sal wel 'n tuiste vind.
Nouja, Sussie, vandeesweek is dit maer jare op die nuusfront en ek roep halt. Bly mooi en ek hoop nie dis te koud in jou geweste nie - winter skop nou in hier by ons. Jammer my wit papier is op.
Yenkisses, Suster K

No comments:

Post a Comment