Sunday, May 15, 2011

Trae Vertrekker

Liewe Sussie,                                                                                
Anders as pasede week, is dit full house chez nous. K het Vrydag ingeklok en D gister.  Hy is weer eersdaags reisvaardig - nie na Merimbula vir bowls soos beplan nie, maar wel na SA vir T se Life Celebration wat hulle gaan hou hier teen die end vd maand.
Swaerie wil nie saamgaan nie: hy is baie bang vir vlieg en toe hy hoor D gaan direk van Melbourne af vlieg en hy sal alleen sy weg moet baan van Brisbane af na Jhb, toe steek hy viervoete in die grond. Ek weet buitendien nie hoekom D wil gaan nie, T is kant en klaar dood, maar nouja. Ek dink hy het maar lus om sy oom en sy niggie te gaan sien en sy gabbas in Jhb en van sy ex-kollega's met wie hy nog kontak hou. Dis nie my besigheid nie.
Laat ek nou maar verslag uitbring oor my week se aktiwiteite: Ek het Maandag my koskaste op datum gebring met 'n besoek aan die supermark, en toe het ek sommer ook die rondtes gedoen van die biblioteke waaraan ek behoort en al my boeke omgeruil. Ek het drie mandjies wat hier staan: een vir elke biblioteek, sodat die boeke nie moet deurmekaar raak nie.
Ek neem so 'n dosyn boeke by elkeen uit, want ek weet ek gaan net twee of drie van hulle lees.  Dikwels kom ek na 'n paar bladsye agter ek het reeds die boek gelees, of ek hou nie vd boek nie en dan sit ek hom terug in die mandjie en vat 'n ander een. Ek is nou te oud om twee ure te mors op 'n boek waarvan ek nie hou nie. Dis twee ure uit my lewe wat ek nie weer sal terugkry nie. Ek het nie meer so baie ure oor dat ek oordadig kan werk met hulle nie. Toe ek jonk was, het ek deurgedruk end toe met elke boek wat ek begin het.
Dinsdag het ek saam met Joan, my eertydse huis-skoonmaakster, gaan koffie drink; sy vertel my dat haar huis op die mark is en sy gaan trek na Moe, so 'n uur se ry uit Melbourne. (Rym met die naam Zoe.) Klein dorpie. Haar broer en 2 van haar susters woon daar en sy het haar oog op 'n "town house" wat beskikbaar is.
Huispryse is nou baie hoog hier, maar Joan sê sy verwag nie om 'm baie hoë prys te kry nie, want haar huis is baie verwaarloos. Soos jy weet, moet 'n mens jou huis in stand hou soos jy gaan, anders ruk dit hand uit en jy bereik 'n stadium waar dit jou so 'n fortuin sal kos om alles reg te maak, dat jy maar liewer moet verkoop.
Joan het geute en stortbaddens en teels en vloere en vensterrame en al suke dinge wat aandag nodig het en sy sê dit sal duisende kos. Nou verkoop sy maar voetstoots. Haar man Joe het geen seggenskap nie - hy het 'n dobbel-probleem en alles wat hulle besit asook elke pennie in die bank is in Joan se naam; sy gee hom net sakgeld elke week. Ek dink baie vd huis se onderhoud het agterwee gebly in die dae toe Joe nog toegang tot die bankrekening gehad het. Gelukkig het Joan hom in die bek geruk voor hy die huis self aan die casino geskenk het.
Woensdagoggend het ek gaan kuier by May se huis want dit was baie koud en reenerig, sy wou nie uitgaan vir ons gewone weeklikse shop en bib nie. Sy het vir my 'n bakkie sop en 'n broodrol gegee en dit was heel aangenaam. Ons het gebrei en gesels en ek het net na 2 weer huis toe gegaan want ek wou 'n nanna-nap inkry voor ek die aand weer uitgaan.
Woensdagaand het ek gaan eet saam met Edwin en hy het my vertel van Karin se pa wat oorlede is in Durban, en haar broer wat 3 dae voor hulle pa se afsterwe 'n massiewe beroerte gehad het. Die broer was die boedel se eksekuteur en hy het ook die volmag gehad ens. Karin en haar suster moes reel om dit in die suster se naam te kry. Nou baklei Jason (die broer) se vrou en ex-vrou glo oor wie erf wat - newwermaaind where there's a will there's a way … dis meer soos where there's a will, there's a fight.
Donderdag het Rebecca wie se van ek vergeet het, hier kom aanmeld vir middagtee. Sy het drieuur ingeklok. Sy is die vrou vir wie ek ontmoet het deur Needy Stitches. Sy is baie aangenaam, maar haar probleem is, sy is 'n trae vertrekker. Gewoonlik maak dit nie saak nie, want D is hier en as sy by halfses nog hier sit, dan staan ek op en sê ek moet nou begin kos maak want D moet na 'n vergadering toe gaan en hy wil vroeg eet.
Maar Sussie, toe weet sy mos D is nie hier nie; haar man is 'n sekuriteitswag by die Parlement en hy is op aandskof - hy sal eers na middernag tuis wees. En sy sit. Kwart oor ses toe K tuiskom vd werk af, bel sy soos sy gewoonlik saans doen. Ek sê duidelik ten aanhore van my gas: "Can't speak to you now, I have a visitor, but I'll call you back when she leaves."  Dink jy sy staan op en gaan huis toe? Nee.
Halfsewe sê ek dis ure sedert ons laas tee gedrink het, wil sy dalk nog 'n koppie hê? Die skimp val op dowe ore, Sussie, sy sê net ja, sy sal graag nog tee wil drink. En sy gesels. En sy gesels. Tien voor agt toe sê ek verskoon my, ek moet nou toilet toe gaan. In die privaatheid van my badkamer bel ek gou vir K en sê vir haar die vrou sit nog! K het heerlik gelag en gevra of ek haar gaan nooi vir aandete.
Intussen het sy na die gaste-toilet gegaan en toe ek tevoorskyn kom, toe was ek verheug om te sien sy het nie weer gaan sit nie, sy staan met haar handsak in haar voorpoot.  O, sê sy, sy moet huis toe gaan, maar sy kuier so lekker, sy het nooit gesien hoe laat dit is nie! Dis al etenstyd, sê sy, geen wonder sy is so honger nie.
Toe is dit my beurt om die skimp op dowe ore te laat val en ek nooi haar nie vir aandete nie! Sy het seker gehoop ek sal sê ag nee, moenie nou al gaan nie, bly en eet ietsie saam met my! Dan het sy seker gebly tot middernag.  Ek gaan haar nie weer nooi vir middagtee nie, van nou af ontmoet ek haar in 'n kafee soos ek met al my ander vriendinne doen. Sy skop altyd styf as ek voorstel ons moet iewers ontmoet - nee, sy sal na my huis toe kom. Maar ek gaan nie weer val daarvoor nie.
Ek hou lankal nie meer dinner paarties nie - dis baie makliker om iewers te ontmoet, heerlik saam te eet en te kuier, en dan gaan jy huis toe. Na jou skoon huis met netjiese kombuis waar jy niks hoef af te dek of op te was nie. Middagtee ook. Gaan sit by 'n kafee in die winkelsentrum saam met jou vriendin. Laat mense jou bedien met jou tee en wat jy ookal wil eet as jy lus het vir koek, en dan gaan jy huis toe wanneer jy uitgekuier is. Ek sê altyd ek het inkopies om te doen, en dan staan ek op, groet en loop.
Donderdagaand het ek 'n baie aangename ete geniet saam met my 3 ex-kollega's. Ons gaan eet so elke 2 maande saam. Dit was my beurt om die uitstappie te organiseer en ek het Le Gaulois gekies, die restaurant waar ons was vir ons Kersfees-ete. Die ander dames was nog nie tevore daar nie. Almal het dit geniet en gesê hulle sal weer soontoe gaan - hulle mans sal ook daarvan hou. Franse spyskaart, maar die chef is Chinees! Ek het rack of lamb gehad. Hulle sit 'n bak groente en 'n bak aa-trappels en 'n bak slaai op die tafel vir almal om te deel. Ons het nie nagereg bestel nie, net koffie. Ek het groen tee bestel. Groot fout, ek moes onthou het hulle kan nie tee maak in restaurante nie. Ek het 'n koppie warm water gekry met 'n teesakkie in die piering. Yuck. Ek het maar die warm water gedrink sonder om die teesakkie daarin te doop.
Gister op die Saterdag was ek en K stad toe om Next to Normal te sien in die Playhouse Theatre. Dis deel van ons teater-subskripsie vir die jaar. Ken geeneen vd akteurs nie: ek hou daarvan as die akteurs vir my onbekend is, dan sien ek hulle nie knaend as hulle TV karakters nie!  Dit was 'n musical, met 'n ongewone onderwerp vir so 'n tipe vertoning. Die vrou ly aan depressie omdat haar 8-maade oue seuntjie dood is. Dis nou 18 jaar later en sy het hallusinasies (of is dit delusies?) Ewentwil, sy sien die seun, nou 18 jaar oud, en voer gesprekke met hom. Haar man en 16-jarige dogter se lewens is ontwrig deur haar siekte: baie tonele is in die psigolooog se spreekkamer, en so gaan dit aan. Dit klink nie na iets wat 'n mens sal wil sien nie, maar ons het nietemin daarvan gehou.  Al die akteurs het hulle goed van hulle taak gekwyt, die orkes was puik en die storie was boeiend.
Hier is ons nou op die Sabbat, Gladys is besig aan die derde bondel van die wasgoed wat D met hom saamgebring het van Moamma af en vanmiddag gaan ek en K "Burke and Hare" sien in die baaiskoup. Jy sal die 2 ou Skotte onthou wat lyke verskaf het vir disseksie aan Dr Knox by Edinburgh se universtiteit teen £10 per kop. Eers het hulle hawelose mense se lyke gebring wat deur die munisipaliteit begrawe sou word, en toe die voorraad nie voldoende is nie, het hulle self meer voorraad vervaardig! Hulle is op die ou end opgehang; ek glo Dr Knox moes ook aan die pen gery het - hy het goed geweet hulle versmoor die oumense en dronklappe. Hoe kon hy die lyke ondersoek en dit nie weet nie? Maar nouja, hy het vrygespring.
Gegroet tot vollende week!  YYY Suster K

No comments:

Post a Comment