Sunday, August 3, 2014

Tee, Byeboere en Boldini

Giovanni Boldini: Marthe de Florian

Saterdag 2 Aug 2014

Liewe Sussie,

Nog 'n week in sy maai en nie veel om te rapporteer nie. Ook maar goed, 'n mens soek nie te veel opwinding nie. Jy ken vir "no news …"

Ek het hierdie week elke dag 'n koffie-afspraak gehad, met verskillende mense. Ek is nou behoorlik uitge-koffie. Ek kan nie tee bestel nie, want my landgenote weet nie hoe om tee te maak nie. Hulle bring of 'n potjie warm water met 'n teesakkie in 'n koppie daarmee saam, jy moet dan self die water op die sakkie in die koppie gooi.  Of (nog erger!) 'n koppie warm water met 'n teesakkie in die piering.  Let wel warm water, nie kokende water nie. Partymaal kan jy jou vinger in daardie koppie water steek sonder kwade gevolge.

Oorlede Douglas Adams (of blessed memory) het nie alleen vir ons die antwoord gegee op "the question of Life, The Universe and Everything" nie (Die antwoord is 42), maar hy het ook goeie instruksies gegee hoe om tee te maak: There is a very simple principle to the making of tea and it's this - to get the proper flavour of tea, the water has to be boiling (not boiled) when it hits the tea leaves. If it's merely hot then the tea will be insipid. And that's why the American habit of bringing a teacup, a tea bag and a pot of hot water to the table is merely the perfect way of making a thin, pale, watery cup of tea that nobody in their right mind would want to drink.

Selfs al was daardie koppie water warm genoeg om tee te maak, wat maak jy met die teesakkie wanneer hy klaar getrek het? As jy hom in die piering sit, staan die koppie in 'n plas en mors jy tee op jouself elke keer dat jy die koppie optel. Anderdag sien ek 'n vrou by die tafel langsaan drink die tee met die sakkie se toutjie wat oor die koppie se rand hang. Ek gaan nie tee drink met 'n teesakkie in die koppie nie. Waar is Rysie tog om 'n skinkbord aan te dra met 'n ordentlike pot tee op? Ons het nie die vleispotte van Egipte genoeg waardeer nie!

Nouja, ewentwil, ten einde nie my siel te versondig nie, bestel ek koffie, al hou ek nie juis van koffie nie. Ek het altyd decaf bestel, maar toe vind ek uit die proses om die caffeine uit te haal, gebruik sianied. Ek het nie lus vir gif nie. Die caffeine is klaar gif genoeg vir my. Nou bestel ek "half strength skinny latte." Ten minste kry ek dan net helfte van die caffein in. Miskien moet ek sjokolade begin drink soos Heather.

Sondag   Vroegoggend: my wasgoed is in die masjien, 'n kerrie prut op die stoof, maar ek het gefaal in die stort-en-aantrek-departement. Ek sit nog hier en skryf in my ghount en pêntoffles, suiende aan 'n kommetjie tee. Dis koud. Vandag is daar nie haelbuie en stormwind soos ons die afgelope drie dae gehad het nie, maar Melbourne is leeg, die verkeer is stil soos skoolvakansie, want almal het hulle ski's gepak en sneeu-berge toe gery. Die sneeu het dik geval hier in die distrik en die ski-oorde is stampvol besoekers.

Natuurlik het dit nie gesneeu in die stad self nie, hoewel daar in die buite-voorstede 'n paar warrels was. 'n Groot stad vervaardig  sy eie hitte: al daardie verkeer en verhitte geboue. Dit moet bleddie koud wees voor dit in die stad sneeu.

Die bowls-seisoen begin eers die eerste week in September, maar gister het D die hele middag en aand by die klub deurgebring. Hulle huur hulle saal en fasiliteite uit vir verrigtinge en feeste. Gister was daar 'n 21ste verjaardag: dit was Sri Lankan mense en hulle was muslims, so die klub het niks gemaak uit die kroeg-fasiliteite nie. D vertel my hulle het gellings Coke gedrink! Wat hulle self saamgebring het, hy het glad nie die kroeg oopgemaak nie. Ewentwil, hy was aan diens daar vanaf 3nm, toe die voorhoede opgedaag het om die tafels te dek. Hy het in die kantoor gesit, sy koerante gelees en op die rekenaar gewerk en gespeel, terwyl hulle feesvier in die saal en woeker in die kombuis. Hulle het hulle eie kos gecater, dit was glo 'n massiewe buffet-ete. Die skottelgoedwasser het skofte gewerk. Hulle het vir D 'n bord kos aangedra kantoor toe, hy sê dit was baie lekker.

Die meeste van die vrouens was in volle byeboer-mondering, maar daar was party wat net hulle koppe toegedraai het. Selfs 'n paar in die teens en vroeë twintigs wat, shock, horror! absoluut kaalkop rondgestap het. Natuurlik is hulle korrup deur hulle skoolvriendinne. Skaars begin hulle hier skoolgaan, of hulle verbeel vir hulle hulle is net so goed soos hulle broers en hulle kan motorkarre bestuur en universiteit toe gaan en self piek met wie hulle wil trou, of hulle hoef glad nie te trou as hulle nie wil nie. Vrouens ken nie hulle plek in hierdie land nie.

Nouja, soos gesê, D is drieuur hier weg en hy het gesê hy sal so 9nm tuis wees. Moenie glo nie. Agtuur toe bel hy om te sê die paartie is nog in volle swang, hy sal eers later kom, want wanneer die verrigtinge verby is, sal die agterhoede eers moet opruim voor hy die deure agter hulle kan sluit en huis toe kom. Ek het halfelf gaan slaap. Toe ek hom hoor inkom, het ek na my horlosie gelyk en dit was net na eenuur in die oggend. Hy het nogal vir my gesê hy glo nie dit sal te laat aanhou nie, want dis nie asof daar drank is nie – jy weet hoe ken drinkers nie die tyd om huis toe te gaan nie. Miskien het party van hulle heup-flessies gehad en elke nu en dan 'n draai agter die fiets-afdak gaan maak, wie weet?

Wat sal 'n hoërskool tog wees sonder 'n fiets-afdak! Daar agter die fiets-afdak word gerook en gedrink en gevry en die kat word oor die algemeen in die donker geknyp. Jy hoor net hoe miaau hy. Dit laat my dink aan Shirley Coppock se pa. Shirley vertel my toe hulle kinders was, was haar pa die man wat al die katte in die omgewing moes kastreer. Met sy knipmes. As die kat so gil daar in die "garden shed" dan sê Shirley se ma: "Dad is cutting the cat's toenails and he doesn't like it."  Nee, ek wil glo hy hou nie daarvan nie!

Ewentwil, D het gister voor hy weg is, die TV aangesê om die Grand Final van die Super-rugby op te neem. Ongelukkig was sy radio aan toe hy huis toe ry, en toe hoor hy die uitslag. Vanoggend sleep sy onderlip op die vloer, want hy het uitgesien daarna om voor die TV stelling in te neem met sy koffie om na die wedstryd te kyk. Onthou jy hoe daardie Visser altyd opsetlik vir R vertel het wie het gewen voor hy na die wedstryd kon kyk? D se motorkar-radio het hom geVisser.

Ek het hierdie week 'n sarsie boeke gelees, maar daar is net een wat ek kan aanbeveel, nl. A Paris Apartment deur Michelle Gable. Sy neem die portret van Marthe de Florian deur Giovanni Boldini as haar uitgangspunt en vertel Marthe se storie. Boldini het Sargent se ateljee in Parys oorgeneem na die Madame X skandaal, toe Sargent se naam modder was in Parys en hy moes uitwyk na Londen. Marthe was 'n courtesan van die Belle Epoque, en onder die karakters in die storie is baie van die Impressioniste en die prominente mense van die era. Bekend aan ons deur hulle portrette!
Bv die dokter wat Marthe se bevalling waarneem, is Dr Pozzi. Sargent se portret van hom, Dr Pozzi At Home, is een van my gunstelinge. Dr Pozzi in sy lang rooi kamerjas lyk soos 'n kardinaal. Sou dit sy naghemp wees wat 'n geruffelde frill om die nek het of sy daghemp? Wie sal weet.

Jy kan nie glo hoe skoon is my huis nie. My nuwe cleaning lady (Simone) is 'n voorslag. Sy het die woonstel daar onder skoongemaak, squeaky clean, ek kan hier bo hoor hoe squeak hy. En van squeak gepraat, daar was eersgister 'n gekrabbel hier in die muur, ek en D dink dit 'n muis wat onder die huis ingevlug het vir die koue en sy weg binne die muur gevind het. Hy het of weer sy pad na buite gevind of hy is oorlede, want gelukkig is alles nou weer stil.

Nou moet ek gaan wasgoed ophang.   Baie groetnis en liefde.

No comments:

Post a Comment