Monday, July 7, 2014

Egskeiding en Japanese Kos

Die biscuit barrel wat Ma
gewen het in 1910

Liewe Sussie,                                       Saturday, 3 May 2014  (Veels geluk met B se Happy Birthday)

Ek kondig met genoeë aan dat ek 'n brief van  jou gekry het, en wel gedateer 20 April. Twee weke op reis is meer aanvaarbaar as twee maande, maar ek voel nog maar baie soos Rachel Henning. Anderdag het ek so baie aan Boetie gedink. Ek was by die bib en by die supermark en my mandjie was swaar. By die voordeur se trappies, sit ek hom altyd op die boonste trappie neer en dan klim ek met behulp van die reling na bo voor ek hom weer optel. Toe ek gister daardie mandjie uit die kar haal, is dit of ek hom hoor sê: "Gee ek daardie mandjie vir jou dra." Hoe dikwels het hy swaar en sommer ook nie-so-swaar goed vir my gedra.

Vandag is ek Little Macauley Culkin, Home Alone. Elaine is in Londen, D is op Philip Island vir die naweek. (Jy sal natuurlik nooit kan raai wat maak hy daar nie.) Hulle is 'n span van 4 wat aan die twee-daagse toernooi gaan deelneem. Een dame en drie mans. Die dame het gesê sy sal die akkommodasie bespreek. Daar is baie vakansiehuise op die eiland.

Gister bel sy en sê vir D sy het vir hulle 'n 2slk huis gehuur: daar is 'n kleiner slaapkamer waar sy sal slaap, en 'n groot kamer met vier beddens, wat die drie mans kan deel. D het gesê baie dankie maar hy sal vir homself 'n motelkamer bespreek. Hy sê vir my sy het nie baie tevrede geklink nie, want nou kos die huis duurder as hulle net drie is wat dit deel, maar D sê hy worry nie, hy is te oud vir 'n dormitory. Wie sal hom blameer.

Hy is vanoggend voor sewe hier weg want dit is so 2 uur se ry en hulle moet negeuur inklok. Ek was so ordentlik om op te staan en vir hom spek en eiers gaar te maak vir sy ontbyt. En roosterbrood. Hy het sy eie koffie gemaak want ek weet nie hoe werk sy koffiemasjien nie.

Elaine het Woensdag gevlieg en Donderdagmiddag het sy net gebel om te sê sy het veilig aangekom in Londen. Sy is in Gordon se woonstel, hy het verlede maand vir haar 'n sleutel hierheen gepos. Hy woon nou in Haarlem, maar hy het nog steeds sy woonstel in Londen want hy het nog besigheid en vriende daar. Sy het weer gisteraand gebel en ek het haar teruggebel sodat ons kon gesels sonder om Gordon se foonrekening op te jaag.

Sy het op die lughawe in Melbourne We Are All Completely Beside Ourselves deur Karen Joy Fowler gekoop en dit heelpad gelees. Jy sal onthou sy het dit vir my vir Moedersdag gegee voor sy weg is, en ek het dit heel naweek gelees en kort-kort vir haar gesê hoe baie ek daarvan hou. Sy het gesê sy sien uit daarna om dit te lees as sy terugkom. Maar toe sy dit op die lughawe sien, toe dink sy Why wait? En sy koop dit. Ek kan weer die boek hartlik aanbeveel by jou en jou vriendinne.

Ons het Maandag 'n sonsverduistering gehad maar ek het net op die TV daarna gekyk. Ons het ook 'n ding met die maan gehad, die maan was baie groot en rooi, dit was baie mooi. Hulle het verduidelik hoekom dit so gelyk het, maar wat weet ek.

Ek het Dingsdag saam met Alison gaan tee drink en sy het my vertel dat haar seun en sy vrou die handdoek ingegooi het. Hy het vir hom 'n meenthuis gehuur twee strate weg, sodat dit handig kan wees vir die twee kinders (17 en 13). Alison sê sy weet nie hoekom hulle uitmekaar is nie, maar daar is glo nie 'n 3de party betrokke nie en hulle hou dit so siviel en vreedsaam as moontlik ten einde nie die kinders meer as nodig te ontstel en ontwrig nie. Shym, dis nie lekker nie, Alison is hoogs ontsteld. Sy hou aan tob oor wat die rede kan wees: dit moet die skoondogter se skuld wees! Ek sê vir haar dit maak nie saak wat die rede is nie, dis nie behulpsaam om haar kleinkinders se ma sleg te maak nie. Die twee maak nie mekaar sleg nie en deel geen blaam uit nie, hulle kinders se welsyn is hulle eerste prioriteit. Elke huis het sy ellendes.

Ek het e-mail van H gekry, sy is nog in SA en deel mee dat Oom nou beter begin loop met behulp van sy loopraam, en hy is ook meer soos sy ou self, i.e. "difficult"! Ek sê vir haar dis net sowel dat hy in 'n inrigting is, nou kan sy gaan as hy begin moelik raak, laat die betaalde personeel sien kom klaar met sy probleem-gedrag!

Woensdagaand het ek saam met 3 van my oud-kollega's gaan eet by die Indiese keffie in Pinewood. Die kos was baie lekker, maar ons het naby die deur gesit en elke keer wat iemand inkom of uitgaan, was daar 'n ysige wind. Ek het 'n warm trui aangehad, maar ek het ook my tjalie saamgebring vir die wis en die onwis, en toe vou ek hom op en sit hom oor my bene. Hy is groot en het tot by my enkels warm gehou.

Vrydag (gister) was ek en Carla by Michael die Voetvent en hy het ons tone baie mooi gediens en ge-olie. Of ge-handeroom. As hy klaar gevyl en geknip en geskuur het, dan vryf hy heerlik handeroom in 'n mens se voete en dan gooi hy 'n bietjie poeier in sy handpalm en vryf dit oor jou voetsool dat jou skoene nie moet taai word van die handeroom nie.

Agterna het ons soos gewoonlik by die Japanese keffie langsaan gaan eet. Ek het beef teriyaki gehad en Carla 'n geroerbraaide hoenderdis. Ons het Japanese tee gedrink. Na ek vir Carla gaan aflaai het by haar huis, het ek na die Highway Gallery in Mount Waverley gery waar Marcia kurator is vir die kunsvereniging se  uitstalling genaamd Mama Mia. Daar is moeder-en-kind skilderye, en Marcia het ook mense gevra om items te leen wat op hulle moeders betrekking het. Die uitstalling open vlg week en Marcia is met haar handlangers besig om alles bymekaar te sit.  Ek dink dit gaan baie interessant wees. Ek het teestelle gesien en trourokke en ou foto-albums en wat nog.

Ek het vir Marcia die "biscuit barrel" geleen wat Ma gewen het in die Girls' Footrace toe sy 8 jaar oud was. Dit was in 1910, by die vierings van die Uniewording. Die Duke and Duchess of Connaught (Queen Vic se tweede seun) was in SA met hulle dogter Princess Patricia, hulle het die 3 maande lank die hele land getoer en hulle was in Kimberley ook. Die reisies was alles deel van 'n Groot Dag, daar was 'n Pageant en 'n Sports Day en in die aand was daar 'n konsert. 

1910! Kan jy glo daardie biscuit barrel is oor die honderd jaar oud.

Ek gaan netnou perd opsaal en bib toe ry, daar wag 'n wavrag boeke vir my. Ek kyk na die uitgewers se websites en reserveer altyd vroegtydig boeke wat later in die jaar gaan verskyn. Dan word 'n hele handvol gelyk gepubliseer en ek kry hulle op een slag!

Nouja, Sussie, hier is ons weer by selah. Ek het nog niks van C gehoor nie; sy het hand en mond belowe om my te laat weet wanneer hulle ingetrek het en 'n adres of 'n Skype-nommer het. Ag nouja, hulle weet waar ek is en hulle het my e-mail, my posadres, my landlyn-nommer, my selfoon-nommer, my Skype-details, my Facebook-bladsy, my Twitter-account, en 'n hokvol posduiwe wat weet waar ek woon. As hulle met my wil kontak maak, sal hulle. Indien hulle nie bebodderd kan wees nie, kan hulle dit los. D is beslis familie van hulle: hy weet ek het al tweemaal met Elaine gepaat, maar hy het my nou nog nie gevra wat sê sy, hoe was haar vlug, het sy veilig aangekom of hoe gaan dit met haar nie. Toe ek gisteraand klaar met haar gepraat het en die foon neersit, toe maak hy sy mond oop en ek dink hy gaan sê "How is she?" maar nee. Die vraag op sy lippe was "What are we having for supper?"

Liefde en groetnis, Suster Katrien ¬ J C

No comments:

Post a Comment