Saturday, August
16, 2014
Liewe Sussie,Neem ek stelling in agter my skryfmasjien op die Saterdag. Elaine meld nie hierdie naweek chez nous aan nie want sy gaan vandag na 'n troue toe en more op die Sondag wil sy haar huis 'n goeie skoonmaak gee. Ons sal haar ook nie die daaropvollende naweek sien nie, want dan gaan sy Sydney toe om deel te neem aan die jaarlikse City to Surf, soos sy elke jaar doen saam met 'n groepie vriende.
Sy gaan inklok by 'n hotel naby Melanie en Dan, maar sy wil nie by hulle aan huis tuisgaan nie. Elaine is nie 'n fan van klein kindertjies nie. Sy sê as sy in 'n hotel is, dan kan sy huis toe gaan wanneer sy moeg is vir Nefie Wade. Hy is 'n baie mooi en oulike seuntjie, maar hy is 'n brokkie. Die wereld draai om hom en hy is gewoond om te alle tye die middelpunt van belangstelling te wees. As alle aandag nie op hom gevestig is nie, dan neem hy stappe om dit te bewerkstellig. Jy ken al die ammunisie in 'n tweejarige se arsenaal, ek hoef jou nie te vertel nie. Ek sou ook in 'n hotel tuisgaan as ek Elaine was!
Hierdie week het niks uitsonderlik gebeur nie. Dit is winter en dis koud, maar ek kan nie kla nie, want die sentrale verhitting werk goed, ons huis is lekker warm. Die wasgoed kom saans in en deel die woonkamer met ons, maar nouja, as ek hulle buite los, gaan hulle nie droogword nie.
D moet weer vanaand inklok by sy klub om diens te doen want hulle het die saal en kombuis uitgehuur aan die Netbalvereniging vir een of ander funksie. Daar sal glo 200 mense wees insluitende minderjariges. Anders as die Sri Lankan muslims van laaskeer, deins hierdie spul netbalspelers nie terug vir 'n sopie nie. D sal die kroeg moet oopmaak. Hy het twee handlangers, so hulle sal drie kroegmanne wees.
D het sy kroegman-papiere en hy het sy pedofiel-sertifikaat ook. Hy moes 'n driedaagse kursus volg om al die drankwette te leer voor hy agter 'n kroegtoonbank mag werk, en hy moes 'n polisie-uitklaring kry dat hy nie 'n kinder-moleveerder is, voor hy kontak met minderjariges mag hê. 'n Hele klomp mense by sy klub het daardie sertifikate sodat hulle diens kan doen by funksies of afrigting kan gee aan skoolkinders.
Ewentwil, daar sal minderjariges ook wees onder die netbalspelers, en hulle sal foto-ID moet vra van enigeen wat lyk of hulle te jonk is om drank te mag koop (18). Dis baie moeilik om te weet hoe oud meisies is! Hulle het 'n kennisgewing by die kroeg wat sê If you look younger than 30, we will need to see photo ID. Dis die veiligste!
Ek het Dingsdagaand saam met Carla en Carol gaan eet by Fidele, 'n Italiaanse keffie. Ons het hom gekies omdat hy sy eie parkeerterrein het en 'n mens dus so-te-sê voor die deur kan parkeer. Ou dames wil nie ver loop in die koue aandlug nie. Fidele is taamlik "upmarket", dis heelwat duurder as ons gewoond is om te betaal by die etniese restaurante wat ons gewoonlik besoek, maar nouja, die kos was baie lekker en dit was soos gewoonlik 'n aangename aand. Sunanda kon nie meedoen nie, want haar man het 'n knie-operasie ondergaan en sy moet Florence Nightingale (in 'n sari) wees.
Woensdag was my skoonmaakster Simone hier. Jy kan nie glo hoe maak sy skoon nie. Sy skrop in gleuwe met 'n tandeborsel waar nodig! Alles blink, sy ruk die beddegoed af en maak die beddens oor op sodat hulle 'n militêre inspeksie sal slaag. (Beddens is nie deel van haar job nie!) Sy ly beslis aan OCD. Sy sit alle losgoed op 'n ry, sy spasieer die stoele eweredig. D sit altyd 'n ekstra rol toiletpapier op die vensterbank bokant sy toilet, maar dinge staan nie rond waar Simone septer swaai nie! Sy bêre daardie rol elke keer in die kassie. D sê hy worry nie, hy haal hom maar elke keer weer uit, hy wil nie uithardloop uit papier nie! Hy trek sy styf-ingevoude beddegoed onder die matras uit sodra sy weg is. My huis was in menseheugenis nie so skoon nie. Simone kom van Romania af. Dis seker 'n baie skoon land!
Donderdag het ek
vir Margie ontmoet vir koffie. Sy soek nou weer boekhou- of teller- werk, maar
dis moeilik as jy oor die veertig is en ses jaar uit die beroepsveld was terwyl
haar ma so siek was. Alles verander, daar is nuwe tegnologie waarmee jy nie
vertroud is nie en hulle soek jonger mense. Shym, sy het nie selfvertroue
wanneer sy vir 'n onderhoud gaan nie. Ek hoop sy sal werk kry.
Haar man Craig is
'n hans-poliesman. Hulle kry opleiding by die polisie-kollege maar dan word
hulle nie volwaardige poliesmanne nie, maar wel sekuriteitswagte en "personal
protection officers". Hulle pas openbare geboue op soos die Parlement en
die Goewerneurswoning (Government House) en hulle is lyfwagte vir hooggeplaastes
wanneer nodig. Craig werk allerlei skofte, partymaal is hy op nagdiens en dan
slaap hy bedags. Nou dat Ma nie meer daar is nie, gaan slaap Craig in die
granny flat, dan hinder die foon en ander geluide in die huis hom nie.
Ons het kennis
gekry dat ons voorstad se krag Vrydag sal af wees van 11vm tot 4nm omdat hulle
werk wil doen aan die lyne. Hulle het vir ons twee weke kennis gegee. Niemand
wil heeldag in 'n koue huis sit sonder 'n TV of 'n rekenaar nie, so ons het
planne gemaak om die dag elders deur te bring.
Ons het alles afgeskakel en ontprop voor ons die huis verlaat het.
Ek en Carla was na
Michael die Voetvent om ons tone te laat diens. Agterna het ons by Midori gaan
eet, die Japanese keffie langs Michael se werkswinkel. Ek het vir Carla by haar
huis gaan aflaai so teen halftwee, en toe gaan ek nie huis toe nie maar wel na die
Vermont South Sentrum. Daar het ek 'n bietjie inkopies gedoen en toe het ek by
die Ver Sth biblioteek gaan sit en lees in 'n gemaklike stoel in die
wintersonnetjie, want ek wou nie voor 4nm by die huis kom nie. D het ook die
dag elders deurgebring – hy was in die oggend by sy klub, hy het in 'n keffie
middagete gaan geniet en toe is hy fliek toe.
Toe ek so teen halfvier by die huis kom, was alles aan – ek kon die
yskas hoor toe ek instap. Niks het swade gely nie, aawrieboddie haaappie.
Ek het sopas
middagete gemaak (chili con carne, fyn aartappels en groenbone) maar ek het
myne eenkant gesit, ek het nie honger nie want ek het laat ontbyt geëet. Ek wil
nou winkels toe gaan om vir May 'n kaartjie en 'n geskenkbewys te koop. Sy
verjaar more, dan is sy 89. Ons gaan
middag-tee drink vir die okkasie. Ek gee elke jaar vir haar 'n geskenkbewys wat
sy by enigeen van 'n klomp verskillende winkels kan gebruik. Sy kan klere of
boeke of DVDs of elektriese toebehore of kruideniersware koop, net wat sy wil.
VVerlede jaar het sy 'n nuwe ketel gekoop (sy moes self iets bysit).
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren.
No comments:
Post a Comment