Liewe Sussie,
Ek hoor niks, nou skryf
ek maar. Gister 'n "brief" van Alice ontvang, gedikteer aan haar
amanuensis. Sy het ook 2 tekeninge gemaak, van 'n meisietjie wat ek glo syself
is, maar baie trek op Barbie! Sy teken baie oulik, maar dit weet jy al. Ek het
vir haar teruggeskryf, soos Ma my geleer het. Miskien kan ons van haar 'n korrespondent maak, dis
'n uitsterwende begaafdheid. Die Viktoriane was die laaste ywerige beoefenaars
vd kuns. Ons is in die verkeerde eeu gebore.
Die Sondag voor K weg
is, het haar vriendin Shelley hier vir haar kom kuier: hulle het by die Wh/Hill
pub gaan eet, ek het hulle tienuur gaan haal en toe het hulle hier onder in die
flet gesit en tennis kyk tot baie laat. Ek het vir Shelley gesê sy hoef nie op
te staan as ons vir K lughaaaawe toe neem nie, sy kan maar later opstaan, vir haarself iets te
brekfisse neem hier bo, en net die deur agter haar toetrek as sy ry. Nouja, Sussie, K het 8vm na bo gestyg, haar
lakens en handdoeke in die londrie gesit en gerapporteer dat sy die ou
stof-laken oor die bed gegooi het, soos ek haar opgedra het. Ek het nie verder
daaraan gedink nie en die vollende dag het ek die wasgoed gedoen. Ek het nie
die lakens en handdoeke getel nie, ons s'n was ook in die bondel.
Wil jy glo, toe ek
gister daar na ondertoe gaan vir die eerste maal, kry ek Shelley se bed so
onopgemaak en in die badkamer lê haar klam handdoek op die vloer in die hoek en
ruik al na kaas. Hoekom het ek gedink sy sou haar laken, sloop en handdoek bo
in die waskamer kom sit en die doona netjies oor die bed los? Dis nie of sy 'n
skebango is vd verkeerde kant vd spoorlyn nie, sy is 'n tandarts en haar ouers
woon nie in die slums nie. Ek het niks vir K gesê nie, watter heil sal dit
bring?
Thursday, June 19, 2003
D het sopas vir my 'n
brief gebring van jou, waarin jy meld dat die Billies Argentinië toe is. Dit is
nuus vir my! Waar bly die kleintjies? Ek hoop nie by jou nie! Daar is seker 'n
tussenin-brief wat ek nog nie gekry het nie, waarin alles duidelik sal word.
Sunday, June 22, 2003
Nouja, die H/S is weer
op ons, soos die Filistyne. D is vort om te gaan bowl, dis 'n
heeldag-geleentheid. Hy is hier weg met 'n lunsboksie wat ek vir hom gepak het
– 'n paar skywe sappige pienk roast beef met mosterd, 'n stukkie kaas en 'n
hardgekookte eier. Sy Atkins-dieet is nog in volle swang, ek weet nie of hy
gewig verloor nie, maar hy geniet al daardie vleis, vet en cholesterol, wie is
ek om beter te weet.
Gister was ek
by K-Mart om vir my die jongste H. Potterboek te koop wat pas verskyn het.
K-Mart se prys was $27 en die boekwinkel s'n $42. Ek het my die onmin vd
boekwinkel-dame op die hals gehaal want toe ek daar verbystap, is daar 'n tou
van drie ouma's elkeen met 'n H Potter onder die arm, en toe kondig ek aan die
boek is teen $27 beskikbaar by K-Mart, waarop al drie hulle eksemplaar neersit
en uitstap. Die een by die toonbank het al haar beursie in haar voorpoot gehad,
maar sy het hom net daar toegeknip. If
looks could kill …..
Anyway, op my
omswerwinge deur K-Mart het ek by die kaartjie-afd aangedoen om 'n happy
birthday-tieket vir Sue te koop, want sy verjaar 16 Julie. Daar het hulle die
mooiste pienk en silwer Barbie-verjaarsdagkaartjies! Amper het ek een gekoop
vir vollende jaar, maar toe dink ek 'n jaar is 'n lang tyd in 'n vyfjarige se
lewe – by vlg Mei is Barbie dalk nie meer die flavour of the month nie en dan
sit ek met 'n happy birthday-kaart wat niemand anders sal waardeer nie!
Vanaand kom Jacques weer
sy voetens onder ons eetkamertafel instoot; sy vrou is nog steeds reisende deur
die Vaderland. Sy is vandeesweek in K waar sy Jacques se ma en sy ouma gaan
opsoek. Dis baie sleg as 'n mens so oud word dat jy saam met jou ma in die
ouetehuis bly. Ek kook oxtail want dit is koud. Ek hoop hy eet dit, maar indien
nie, sal hy maar uit ordentlikheid 'n paar mondevol moet afwurg, wat kan hy doen. D sal wel
vir hom 'n glasie rooiwyn daarmee saam skink om die ergste smaak uit sy mond te
kry.
Ek gaan Woensdagaand
ballet toe saam met my vriendin Alison. Ons gaan vroeg, dan eet ons eers in die
teater se kafeteria. Ons gaan lank neem om daar te kom, want ek bestuur nie in
die nag as ek dit kan help nie, en Alison is te suinig om die $3.50 tolgeld te
betaal vir die snelweg, so ons trek moeisaam deur die voorstede waar die
spoedgrens 50 is. Ek het al aangebied om haar die $3.50 te gee, maar sy kry
skaam om te sê sy is te suinig, nou maak sy of dit 'n beginselsaak is. Sy kan 'n snelweg-tieket
bekostig: haar pa het haar 'n woonstelblok in die stad nagelaat plus 'n kwekery
en watter sikkels silwer hy ookal in die bank gehad het. Sy het die kwekery
verkoop, maar die woonstelblok het sy nog; daar is 2 verdiepings met 4 woonstelle
op elk. Maar Sussie, sy klem 'n muntstuk vas dat onse queen se ogens traan. Sy (die queen) sal so bly wees as ons 'n
republiek word en sy hoef nie meer op ons muntstukke te sit vir knyp-doeleindes
nie. Ag, nouja, elkeen het sy dingetjies en 'n mens moet jou vriende aanvaar
met al hulle vratte – ek doen stellig weer iets wat Alison dink is simpel!
(Soos bv op die snelweg ry)
Groetnis van huis tot huis!
No comments:
Post a Comment