Sunday, August 10,
2014
Liewe Sussie,
Dit voel soos
gister dat ek vir jou geskryf het. Die dae vloog al hoe vinniger, een van die
dae is die wenpaal op ons. Ons is nou in die voorste linie, Sussie, steeds meer
van ons tydgenote is al terug in die pawiljoen.
Stil week agter
die rug, ek was Maandag saam met Carol vir koffie en sy het my alles vertel van
haar seun die dwelmslaaf se nuutste manewales. Hy het nou 'n meisie, natuurlik
een wat hy in die rehab ontmoet het. Daar sal nie 'n happy ending wees nie.
Dingsdag het ek
vir Joan uitgeneem vir middagete want dit was haar happy birthday. Ons het by
die Saigon Orchid gaan eet. Ons het twee voorgeregte en een hoofdis bestel en
alles gedeel. Joan het 'n glasie witwyn gedrink ook maar ek het volstaan met
chinese tee, jy weet ek drink nie alkohol nie.
Joan het gekla
want Saterdagaand sou haar dogter (met man en 2 kinders) oorkom vir die
verjaardag-feestelikhede, maar sy wat Joan is, moet cater. Sy het gehoop hulle
sou haar uitneem! Dis seker moeilik met die twee kinders, maar daar is so 'n
ding soos babysitters! Of miskien kon die dogter vir Joan en Gerry oorgenooi
het na haar huis en kon sy die catering gedoen het! Nouja, ek
simpatiseer maar dis nie my probleem nie – wanneer ek verjaar, is dit reguit na
die naaste keffie.
Elaine was hier
vir die naweek. Sy het Vrydagaand ingeklok. Saterdagoggend het sy gaan Hansie
Slim en in die middag het ons na Rivoli toe gery en A Most Wanted Man gaan sien. 'n Goeie outydse spioenasie-riller
gebaseer op 'n John le Carre boek. Ek kan dit aanbeveel. Dit is ook Philip
Seymour Hoffman se tweede-laaste prent, shym. Die Regisseur Met Die Sekel het
glad te vroeg vir Hoffman gesê
"Cut!" – op 42 het hy
net sy beste werk begin doen. Fliekgangers sal hom mis. Gelukkig is daar nog
een film, wat later vanjaar vrygestel gaan word.
D het die hele
naweek bowls gespeel in Brighton. Gister het dit goed gegaan, maar ek dink nie
hy het vandag so baie geniet nie, want het het laasnag sleg geslaap. Ek het
4uur in die oggend gesien die lig is aan in die huis, toe sit hy en TV kyk en
op die rekenaar woeker want hy kan nie slaap nie.
Ek sê altyd vir
hom as jy daardie dinge doen, maak jy net jou brein wakkerder. As jy wil slaap,
het jy nie stimulasie vir die brein nodig nie. Gaan lê, maak jou oë toe en
netnou raak jy aan die slaap. Indien nodig, sit jou radio saggies aan op die
BBC World Service. In die nag saai hulle programme uit oor besproeïngskema's in
Turkye of die ontwikkeling van 'n weef-industrie in Bangladesh. Jy raak aan die
slaap uit pure self-verdediging teen die verveligheid.
Vanoggend bel Tony
vir Elaine – hy is desperaat want Sarah het hom afgesê (vir die tweede maal) en
nou wil hy op Elaine se skouer huil. Sy het gesê sy sal hom drieuur ontmoet vir
koffie by 'n keffie in Richmond, en sy is dienooreenkomstig net na middagete
hier weg. Sy sê sy wil nie hê hy moet na
haar huis toe kom nie, want dan sal hy ure daar sit en uitpak. Desnoods huil
ook. As sy hom in die openbaar ontmoet, is die kanse minder dat hy sal huil,
plus sy kan groet en huis toe gaan na 'n paslike tydsverloop. Elaine sê sy het
regtig nie lus om weer deur die Sarah-saga te gaan nie, maar Tony is haar
vriend en as jou vriende ongelukkig is, moet jy luister.
Tony se
moeilikheid is, hy is 'n slingerplant wat vir Sarah wil toegroei. Hy het haar
seker so 18 maande gelede ontmoet. Alles het die eerste ruk goed gegaan, maar
omdat hy elke wakende oomblik in haar geselskap wil wees en te alle tye haar
hand wil vashou, het sy begin claustrophobia kry en wie sal haar blameer.
Toe sê sy vir hom
nee, dit gaan nie werk nie, sy het haar eie lewe en hy kan nie elke aand en
heel naweek saam met haar deurbring nie. Hy belowe toe hand en mond hy sal haar
'n bietjie spasie gee, maar al bly hy weg, bel hy haar aanhoudend wanneer hy
nie by haar is nie. Toe sê sy nou wil sy hom nie meer sien nie. Maande daarna
het hy gemopper en kon oor niks anders as Sarah praat nie. Elaine en Sam het
hom later begin vermy want hulle moes aanmekaar die troosters wees.
Toe, blye dag,
hoor ek 'n paar maande gelede Sarah het hom teruggevat, op die streng
voorwaarde dat hy nie so "needy" gaan wees nie. Maar anderdag sê Elaine
vir my sy dink die byl gaan enige dag weer val, want hy kan homself nie help
nie, hy rank weer vir Sarah toe. As sy vir hom sê sy kan hom nie hierdie naweek
sien nie want sy het ander planne, dan bel hy haar elke halfuur. Nou is ons
weer by square one. Ek hoop nie sy vat hom weer terug nie, tweemaal is genoeg.
Ek lees nog elke
dag Sam Pepys se daaglikse doen en late. Hy moes vandag Huntingdon toe gaan en
saal toe vroegoggend perd op, maar toe hy by Stanton kom, het dit swaar begin
reen: "Early to Huntingdon, but was
fain to stay a great while at Stanton because of the rain, and there borrowed a
coat of a man for 6d., and so he rode all the way, poor man, without any."
Shym, ek weet nie hoe ver is dit van
Stanton na Huntingdon toe wat die arme man in die reen moes ry terwyl Sam sy
jas aanhet nie. Hy moes desperaat gewees het vir daardie sikspens. Hoekom kon
Sam nie sy eie jas saamgeneem het nie? Hy weet mos hy bly in Ingeland waar dit
knaend reen.
Hier is ons nou
klaar weer by Maandag en ek het nie juis verder iets om aan te kondig nie. Ek
wil netnou gaan inkopies doen want ek is Mother Hubbard. Wie weet wat gaan ek
vir middagete gaarmaak. Ek sal sien wat ek sien as ek by die winkels kom.
Miskien 'n bietjie maalvleis koop en frikkadelle maak. Ons het lanklaas gefrikkadel.
Vanaand gaan ek
uit saam met my ex-kollega's so ek wil nie juis 'n groot maaltyd eet in die
middel van die dag nie. D kan 'n proper plate of dinner eet (a la oorle'
Skoonma) en ek sal 'n frikkadel-en-tamatie toebroodjie eet.
Nouja, Sussie,
baie groetnis aan jou en joune, ons gesels weer aankomde week.
No comments:
Post a Comment