Saturday, August 2, 2014

Toneel en Baaiskoup



Saterdag 26 Julie 2014
Liewe Sussie,

Nog 'n week in sy maai en ek het nie veel om te rapporteer nie.

En hier sien jy vir Helene.  Al daardie jare van drade aan haar tande het niks gehelp nie!

Hier by ons is daar op elke sigaretpakkie foto's van die nare dinge wat rook aan jou doen: vrot tone, weg-gevrete wange, kankerlonge, aaklige tande, ens. Helene was saam met 'n paar vriende wat rook, en toe vat sy die een se leë sigaretdoos, skeur die foto van die aaklige tande uit en sit dit in haar mond. So laat dit vir jou 'n les wees, Sussie, as jy nou begin rook, gaan jy een van die dae soos Helene lyk! Daardie tande het sulke swart, brokkelrige rande.

… en ek lees nog steeds elke dag Sam Pepys se dagboek. Arme Sam is nog steeds gaande oor sy "ryk" (soos hulle gedink het) oom wat dood is en niemand het enigiets noemenswaardig ge-erf nie. Sy ander oom is kwaad omdat hy nie op hoogte was van sy oorle' broer se sake nie, Sam se ma glo vas sy HET iets ge-erf maar hulle weerhou dit van haar, en Sam self is skaam omdat hy by die kantoor gespog het oor wat hy gaan erf, en nou moet hy aan sy kollega's voorgee hy het goed gevaar uit die testament!

Home by water and to the office all the afternoon, which is a great pleasure to me again, to talk with persons of quality and to be in command, and I give it out among them that the estate left me is £200 a year in land, besides moneys, because I would put an esteem upon myself.

Mense bly maar mense! Ek geniet Sam se dagboek baie. Hy skryf soos ek en jy, oor sy daaglikse doen en late. Hy laat bou aan sy huis, en hy sukkel met die bouers ook, nou daag hulle nie op nie en dan weer doen hulle afskeepwerk, hy of sy vrou moet gedurig agter hulle staan.

Ek het gister saam met Jess en Ruth gaan Yum Cha. Ek het 'n ekstra kaartjie vir die ballet op 6 September en ek lankal vir Jess gevra of sy dit wil hê. Ja, baie graag. Ek het dit gister saamgeneem en vir haar gegee, toe vra sy wat skuld sy my en ek wys haar daar staan $56 op die kaartjie, maar ek sê moenie worry om te grou vir die regte bedrag nie, gee my $50, dit sal doen. Sy gee my toe die noot en ek steek dit  in my beursie, maar ek kon sien haar lip word lank.

Ek dog by myself: sy het wel gevra wat skuld sy my, maar sy het verwag ek sal sê ag nee, niks. So 'n paar maande gelede het het haar saamgenooi fliek toe, toe ek 'n ekstra kaartjie gehad het omdat Elaine nie kon gaan nie, en ek het haar nie vir die kaartjie laat betaal nie: sy het seker gedink dit is weer dieselfde prosedure. Maar baaiskoup is tien dollars: dis niks! Ballet is te duur om present weg te gee! Selfs in die El Cheapo Seats waar ek nou sit omdat ek nie meer trappe kan klim na die Premium Seats toe nie.

Ewentwil, netnou lui die foon toe is dit sy om te sê sy het nou onthou sy het daardie dag 'n ander afspraak, sy is genooi na 'n 90ste verjaarsdag. Sy sal die kaartjie in 'n koevert sit en vir my pos. Oraait, sê ek, no worries, ek sal jou die geld teruggee as ek jou weer sien. Nee, sê sy, sy vertrou die poskantoor, ek moet dit sommer pos. So gesê, so gedaan.

Die stoffeerder en sy vrou was verlede Saterdag hier en hy het 'n goeie job gedoen van my recliner. Ek slaap nou weer heerlik op hom. Sy vrou het hom fluks gehelp. Kom November gaan hulle die twee stoele kom haal waarin en ek D saans sit, en hulle herstoffeer. Hulle is vol bespreek tot dan.

Sondag het ek en D gaan fliek, want hy het nie bowls gehad nie. Winter. Reen. Ek kan nie eers onthou wat ons gesien het nie, dit was nie waffers nie. Woensdag het ons weer gaan fliek, toe sien ons 'n Bollywood rom com, The Lunchbox. Dit was nie sleg nie maar ook nou nie so dat ek al my familie en vriende sal opbel en aanmoedig om dit te gaan sien nie! Ek moes 2 verdiepings trappe klim want die hysbak was buite werking. Soos die ongeluk dit wou hê, was die teater waarin dit gedraai het, op die heel boonste vloer. My heup het die vlg dag les opgesê.

Maandag het ek by May gaan teedrink. Sy het 'n klapperkoek gebak en ek het net 'n klein stukkie geëet want dit was kort na middagete. Toe ek huis toe gaan, hou sy aan ek moet 'n stukkie saamneem vir D. Ek sê vir haar nee, dankie, ek wil nie vir hom koek saamneem nie, want die suiker en die cholesterol is sleg vir hom. Ag, maar hy hou dan so baie van haar klapperkoek, ek moet maar vir hom 'n stukkie saamneem. Ja, sê ek, ek weet hy sal dit graag wil eet …  ek kan hom nie keer as hy goed wil eet wat sy gesondheid benadeel nie, maar ek gaan nie vir hom gif aandra nie. Baie dankie, maar nee dankie.

Maar moenie glo nie. Toe ek by die huis kom, sien ek sy het nie 'n snytjie nie, maar die helfte van daardie  koek in tinfoil toegedraai en dit in my mandjie gesit. (Ek het my mandjie met my breiwerk saamgeneem en daar by haar gesit en brei.) Ek het niks vir D gesê nie, ek het net die koek, so in sy omhulsel, in die vullisblik gesit. Dit grief my om kos weg te gooi, maar wat kan ek doen. Watter deel van Nee, dankie! het sy nie verstaan nie?

Donderdag het ek my kop laat afkap by Sam, wat oor my gaan nou dat Sharni met vakansie is. Dis skaars drie weke van sy my kop ingekleur en afgekap het, maar sy het so eina-eina gesny dat my hare al weer te lank is. Hierdie keer het ek gesorg dat sy meer afsny. Nou dat ek oud word, dreig my hare om te krul. Dis regtig 'n nuisance. NuiNsance, het Boetie gesê toe hy klein was. 'n NuiNsance en 'n Willy-gan (hooligan).

Elaine het gisteraand ingeklok. Sy het nie vanoggend gaan Hansie Slim hier teen die berg op nie, want sy het 'n afspraak hier by die plaaslike salon vir haar maandelikse "wax and facial". Die plek waar sy al jare lank gaan, naby haar werk in die stad, het toegemaak en toe sê sy dit sal haar pas om hierdie een te gebruik, dan kan sy op 'n Saterdag daar inklok as sy vir die naweek by ons is.

Ek het haar 'n boks goed gegee wat sy by die Op Shop sal gaan aflaai op pad huis toe. Ek kan dit seker self Op Shop toe neem, maar dis swaar vir my om te dra, daar is boeke in. Ek is nog steeds op my mission van kaste en laaie en boekrakke uitpak en goed op shop toe stuur. Een van die dae kan ek maar dood neerslaan in die wete dat Elaine nie 'n berg rommel sal hoef te behartig nie. (As ek Afrikaans wil praat, wil Kritzinger hê ek moet op 'n lewenstaak of 'n sending wees. Nee, ek is op 'n gewone mission, dis nie my lewenstaak of my sending nie.)

Vanmiddag gaan ons na die toneelstuk, ons gaan sien Glengarry Glen Ross. Miskien het jy desjare die fliek gesien, met Jack Lemmon in die hoorfol.

Nou gaan ek eers middagete optower. Ek gaan viskoekies bak.

Sondag … Die toneelstuk was goed, ons het gehou daarvan. Voor dit begin, het hulle aangekondig die hoofspeler is siek en in sy plek sal So-en-So optree, maar hy het nie tyd gehad om sy woorde te leer nie, dus sal hy met sy "script" in sy hand die rol speel. (Kritzinger wil hê ek moet sê dis 'n manuskrip, handskrif of 'n antwoordeboek. Ek gaan my nie meer bebodder om hom te vra om advies nie, ek gaan voortaan Ingels gebruik waar ek nie self 'n goeie Afrikaanse woord kan bedink nie, sonder om my siel daaroor te versondig. Brace yourself, Bridget!)

Groetnis tot vollende week.

No comments:

Post a Comment