Sunday,
August 24, 2014
Liewe
Sussie,
Heel
week lekker sonskyn en 20º, maar vandag het Hughie besluit dit moet reen. My
landgenote moedig die reen aan deur te sê: "Send her down, Hughie!"
Nee, dit help nie om my om verdere inligting te vra nie. Hier in Australië is
Hughie die reen-god, is al wat ek weet. Wag, ek vra vir Google …
A common Australian phrase: "send her
down Hughie". Used when it's
raining, this phrase is appealing to the heavens for more and heavier rain.To
the best of my belief, it was at Charlton [in 1905] that 'Hughie' as the chief
deity in the job of controlling the weather came into being. (H.P. Tritton,
_Time Means Tucker_, 1964)
Daar
het jy dit. Ek sê jou mos Google weet alles. Ewentwil, gelukkig reen dit blykbaar nie
D sit en kyk rugby: S/bokke v Argentina. Ek hoop die Bokke vaar goed, want gisteraand moes hy die slagting gadeslaan toe die All Blacks die Wallabies 51-20 geklop het. Hy was baie ongelukkig en wie sal hom blameer. Hy hoef nie vandag te sien hoe sy ander span ook verloor nie. Toe Elaine gisteraand gebel het, het sy gesê daar is 'n groot TV stel in haar hotelkamer en sy gaan nou kyk na die rugby. Ek hoop nie sy het die TV geskop of iets na hom gegooi nie!
Ek het
niks noemenswaardig gedoen hierdie week nie, ek het net saam met Joan gaan
koffie drink Dinsdag. Ook maar goed, want D se modderkar is in vir klopdienste.
Ek weet nie of daar nog paneelkoppers is nie, ek dink hulle ruk sommer die
gekrapte of geduikte deel af en sit 'n nuwe een aan. Nie dat hy 'n spesifieke
stamp gekry het nie, hy het net besluit dat dit tyd is dat hy al die duikies en
skrape nou moet laat heelmaak en oorverf. Jy weet hoe akkumuleer letsels aan
'n mens se kar, veral as jy gereeld in
parkeergarages met smal plekke is, waar die man langs jou sy deur oopmaak teen
jou kar. Hy sal Maandag weer sy eie wiele hê, tot dan deel hy myne. Sy bowls bag is in my kattebak.
Kattebak
is 'n mooi woord. Maarten Coetzee het altyd die cubby hole/glove box die
"muiskluis" genoem. Ek hou van kattebak en muiskluis. Glove box.
There's a blast from the past: waar is die dae toe dit die plek was vir jou
handskoene! Handskoene is nou in hulle
maai saam met hoede en sigarette. Jy sien hulle net in die ou bioskoopprente.
Almal rook en dra hoede. Mans en vrouens. Elaine vra altyd: "Where are the
track suits and sneakers?"
Jy
weet hoe geniet ek my rekenaar, ure van pret! Beter as Springbokradio. Ek kom
anderdag af op die Blog van 'n vrou genaamd Elizabeth. Sy is 'n afgetrede
skooljuffrou (klein kindertjies in 'n klein dorpie) en sy woon nou in Pretoria.
Klink of sy ons ouderdom kan wees. Dis nie dalk jy onder 'n skuilnaam nie?
Ewentwil, sy vertel staaltjies uit haar klaskamer. Ek is seker dit sal aanklank
vind by jou! Hier is een wat jy sal geniet:
Storie-tyd:
Racheltjie de Beer (deur Elizabeth)
‘n Klas vol Graad Eens het voor my gesit, al luisterende. Ek het
hulle volle aandag gehad. Klasatmosfeer sou ‘n gawe punt
by enige dosent kon verdien met dié les.Ernstig en oortuigend het ek vertel van die dapper dogtertjie wat in die sneeu verdwaal het terwyl sy en haar boetie help skapies soek het. Hoe ysig koud dit was en hoe alleen sy gevoel het in ‘n sneeubedekte, spierwit wêreld waar alles dieselfde lyk. Hoe sy en Kleinboet onbewustelik al in die rondte gedwaal het, al kouer en kouer geword het. Naderhand half verkluim skuiling gaan soek het in ‘n uitgeholde miershoop op die sneeuwit veld.
Toe ek by dié deel kom waar Racheltjie haar kleertjies uittrek om haar boetie daarmee warmer te laat voel, het ‘n paar dogtertjies voor my begin snik en traantjies afvee. Ek het voortborduur, myself ook in die hartseer ingepraat. Geheel en al ingeleef in dié ware verhaal van jare gelede.
Die ergste het nog voorgelê. Met boetie toegewikkel in sussie se klere en sussie bibberend teen hom aan, die tweetjies alléén in die koue, donker nag en ‘n Pappa wat met die hulp van ‘n paar werkers vergeefs by lanternlig soek en soek na sy kinders, was feitlik my hele Graad Een-klas in trane. Juffrou moes maar deurdruk en vasbyt. ‘n Mens kon ‘n speld hoor val in die klas. Bewegingloos het hulle voor my gesit, angstig wagtende om te hoor wat verder gebeur het.
Op daardie oomblik (waarom juis toe?) het my oog op ‘n tingerige seuntjie voor my geval. Hy was nie een van die knapste knapies in my kudde nie, inteendeel. Behalwe vir sy verstandelike agterstand, was hy ook maar baie armoedig gekleed. Op dié geskiedkundige dag het Andries bv. nie ‘n onderbroek aangehad nie
So met my roerende vertelling saam, kyk ek af en merk dit op. Die onderbroek ontbreek. Ek stoei voort met die hartseerste deel van Rachel-in-die-sneeu. Andries se dun, opgetrekte beentjies, die nog dunner armpies styf om sy kniekoppe vasgeklem, sy bleek gesiggie die ene konsentrasie reg voor my in afwagting.
Sy oë was groot en vol trane, sy ou mondjie halfpad oop en die onderlip onbeheersd aan’t bewe. By sy broekspyp uit hang die dunste en slapste klein tottermannetjie wat ek in my hele lewe gesien het. 'n Bleekpienk erdwurmpie. Saam met die bewende onderlip maak dit ‘n droewige prentjie wat ek vir ewig sou onthou.
Verseker was dit dié tydstip in my ganse skoolhoulewe waarop dit die moeilikste was om NIE te lag nie.
Met die allergrootste selfbeheersing het ek aangegaan tot daar waar Rachel as ‘n volk se heldin, ‘n voorbeeld van dapperheid en naasteliefde kon voorleef in my Graad Eens se gedagtes. ‘n Verhaal om altyd te onthou en eendag aan hul kinders te vertel.
Dat hul Juffrou dié dag om ‘n heeltemal ander rede sou onthou, het hulle gelukkig nooit geweet nie.
En op
daardie noot gaan ek nou eers stort en aantrek dat ek in my deel-voertuig kan
klim en biblioteek toe ry voor D vanmiddag by sy klub moet inklok.
…………Baie liefde en groetnis.
…………Baie liefde en groetnis.