Liewe Sussie,
Dit lyk al of ons nou begin winter hou. Elke dag hd week het ek die sentrale verhitting aangeskakel in die vroegoggend, net vir 'n uur of twee, en vanmiddag laat weer. Nes die son sak, word dit bitsig koud.
Karlien se vriendin Rachel en haar stap-groep, die Valkyries, het deelgeneem aan 'n 100km stap. Dit begin in die park hier oorkant die straat en kom op die wandelpad agter ons huis verby. Ek en sy het 'n banier gemaak vir hulle en oor ons agterste heining gehang die oggend toe hulle verbykom. Dit was nog taamlik donker buite om seweuur!
Ek het 'n laken gekoop by die Op Shop vir $3 en stencils vir die letters uitgesny. Ek het eers bruinpapier gebruik (wat Pa altyd vaalpapier genoem het - hoekom?) … ewentwil, die spuitverf het deur die papier gegaan, toe koop ek 'n rol geskenkpapier, wat nie so deurlaatbaar was nie. Karlien het een van dd papier-maskers waarvoor die Chinese so lief is, oor haar ore gehak en die spuitverf-werk gedoen in die carport.
Die stappers se eindpunt was in Warburton, so 60km van Melbourne af as jy met die pad langs ry, maar hulle wandelpad het oor die Dandenongs gegaan. Rachel se groepie het 28 uur en 20 minute geneem om die distansie af te lê. Karlien en Marc het gistermiddag Warburton toe gery en ingeklok by die hotel, heerlik gestap langs die rivier, die aand gesellig geëet in een vd plaaslike restaurante. Marc sê hy het gedink aan die stappers toe hy so heerlik in sy warm bed klim! Dit was koud en mot-reënerig.
Rachel het elke nou en dan ge-SMS om te sê hoe hulle aangaan en hulle verwagte aankomstyd aan te kondig. Karlien en Marc het na 'n lekker ontbyt op die hotel se terras, by die wenpaal stelling ingeneem met hulle banier om vir Rachel en die Valkyries te verwelkom. Twee van die Valkyries is ouer dames - ek sou beslis nie 100km kon loop in my veertigs nie!
Nouja, ewentwil, Marc het so teen tweeuur weer vir Karlien hier afgelaai. Sy het saam met my 'n kommetjie sop genuttig en sy is netnou vort huis toe; sy sê sy is moeg na al die opwinding en sy wil gaan rus … more stil by haar huis deurbring en haar boek lees. Klink na 'n gawe plan vir my. D is weg Swan Hill toe - hy is Vrydag vort en sal glo Maandag weer inklok, so ek kan ook heerlik stil by my huis ontspan, hoef my met geen lawaai of gemors te bemoei nie.
Ek het Dingsdag vir Joan gaan oplaai soos ek elke twee weke doen, maar ipv ons gewone koffiedrink en inkopies doen, het ons gaan kyk na die nuwe biblioteek - wel nie nuut as sulks nie: dit is die biblioteek waar ek en sy saam gewerk het jarre gelede. "Hulle" het hom vir vyf maande toegemaak terwyl hulle hom opgekikker het en ons het gaan inspeksie hou nou dat hy weer oop is. Alles is baie mooi, maar ek sal nie gereeld soontoe gaan nie, dit is te ver.
Daarna het ons gaan eet by Formosa House, die Chinese restaurant daar in die omgewing. Ons het vegetarian spring rolls gehad vir 'n voorgereg, en toe het ons die hoofgereg gedeel - hulle gee altyd sulke groot porsies dat een dis genoeg is vir twee mense. Ons het barbecued pork in plum sauce gehad. Dit was Joan se keuse - so 'n vleisgereg is vir my te swaar vir middagete. Ek sou hoender of 'n vegetariese gereg bestel het, maar die varkdis was nietemin baie lekker, ons kon nie alles opeet nie.
Woensdag het ek vir Christine Barber ontmoet vir tee - sy het 'n DVD van my - dis 'n BBC reeks van Olivia Manning se Balkan Trilogy, met Kenneth Branagh en Emma Thompson. Ek het weer 'n DVD van haar gehad: 'n reeks oor Sister Wendy, die non wat skilderye bespreek. Sy wat Christine is, vertrek eersdaags vir 3 maande na die VSA om haar kinders te besoek, en toe ontmoet ons vir koffie sodat ons die DVDs oor en weer kon terugbesorg. Ek het vir Sister Wendy oorhandig. Maar raai wat? Sy "het vergeet" om myne saam te bring.
Toe sê ek moenie worry nie, ek sal na jou huis toe ry en dit kom haal. Nee, nee, sy sal dit die vlg dag na my huis toe bring. Maar sy het nie opgedaag nie, nou wonder ek of sy die ding dalk vir iemand geleen het en nou naarstiglik probeer om dit terug te kry. Newwermaaind, ek het haar gebel en gesê ek sal dit more kom haal. Ek sal haar nie weer iets leen nie.
Donderdag het my skoonmakers opgedaag en aangekondig hulle gaan vir 'n maand oorsees. Toer deur die VSA en Kanada. Hulle sal oor 2 weke kom skoonmaak soos gewoonlik, en dan eers weer 4 weke later. Ek weet nie of ek jou gesê het haar ma is 2 weke gelede oorlede nie. D sê ewe snipperig hulle het seker geërf!
Vrydag is D vort Swan Hill toe, met 'n groep van 30 van sy klub. Nie saam met hulle as sulks nie, hy het alleen met sy eie kar gery. Swan Hill is so 3 uur ver. Hy wil nie saam met ander ry nie, dan kan hy langs die pad uitdraai en foto's neem en stilhou waar en wanneer hy wil. Dan kan hy ook terug huis toe ry wanneer hy wil. Ek blameer hom nie.
Hulle is almal in dieselfde motel, so dit sal seker gesellig wees. Sy kollega's het glo almal die naweek hulle vrouens saamgeneem, maar hy het my nie eers genooi nie, want hy weet goed ek sal nie saamgaan nie.
Ek en Karlien het gekyk na 'n Woody Allen-film voor sy vanmiddag huis toe is. You Will Meet a Tall Dark Stranger. Ons het dit bestel oor die internet, want die verspreiders is baie treurig met Woody Allen-films: hulle kom dikwels nie hierheen nie, of eers jare na hulle vrygestel is. Ek weet nie hoekom nie. In SA was dit ook so toe ons daar gewoon het. Dis nie die heel beste W.A. film wat ek al in my lewe gesien het nie, maar ek het nog nooit 'n W.A. film ontmoet waarvan ek nie gehou het nie. Nou wag ek vir Midnight in Paris, sy jongste poging, wat in Mei vrygestel word. Sal dit ook seker moet bestel!
Nouja, Sussie, sela tot volgende week. In jou laaste brief kla jy dat daar nog niks van my af in jou posbus geland het nie, maar teen hd tyd het die weeklikse roetine seker al ingeskop.
Menige groetnisse en Y van Katrien
No comments:
Post a Comment