Sunday, September 4, 2011

Ellendes en Olifante

Liewe Sussie,
Ek kan nie glo dis alweer Sondag nie. Time flies when you're enjoying yourself. Nie dat ek 'n besonderlike genotvolle week agter die rug het nie: hy het sy Upson Downs gehad!
Laat ek nou maar inklok by Maandag: Heather het gebel om te sê sy is siek, sy voel bewerig en sy het pyn en sy wil nie agter haar stuurwiel inklim nie, kan ek haar dr toe neem. So gesê… 
Heather se dr is in 'n winkelsentrum en terwyl die dr oor haar gaan, het ek inkopies gedoen en toe gaan sit ek in die kar en lees my boek wyl ek vir haar wag. Kom sy wenend tevoorskyn, die dr het nie raad nie en wil ook nie vir haar meer painkillers gee nie. Sy het pyn in haar maag en in haar rug en in haar arms en bene en skouers. Sy is naar en sy kan nie eet of slaap nie en sy is bewerig. En ek moet jou sê sy lyk soos 'n panda, doodsbleek met swart kringe. Haar man het geen simpatie nie, hy sê sy moet haar regruk en dis alles net verbeelding.
Ek stel voor sy bel haar ma wat in Swan Hill woon ('n uur se ry uit Melbourne) om haar ten minste te kom help met die stout kinders. Sy het gebel en haar ma het toe ook gekom, maar sy het net een dag gebly en toe is sy vort. Heather sê "My mother is not very nurturing". Ek dink sy kon nie uithou met die twee feral kinders nie, maar ek weet as dit my dogter was, het ek die twee kinders elkeen 'n pak slae gegee, vir my skoonseun gesê hy kan 'n paar dae verlof neem en ek het my dogter in my kar gelaai en hospitaal toe geneem.
So is Ma weg en is sy toe weer daagliks deur die week al wenende op my telefoon en Vrydag toe kan ek dit nie meer hou nie, en ek sê vir D kyk, ek weet ek is nie haar ma nie, maar nou maak ek werk van die besigheid. Dit is nou genoeg. Tot hier toe en nie verder nie. Ek sê vir Heather sy moet 'n vriendin bel wat na haar kinders kan kyk, en sy moet regstaan, ek kom laai haar op en neem haar hospitaal toe. Vyfuur in die middag, slegte tyd, die verkeer is besete. D het aangebied hy sal ons daar gaan aflaai, en weer kom haal wanneer ek hom bel. Parkeerplek by die hospitaal is diabolies.
Ons gaan laai toe eers haar kinders af by die vriendin. Die vrou sê sy sal na hulle kyk tot seweuur, maar dan neem sy hulle huis toe, waar hulle pa sal tuis wees vd werk af. Haar eie kinders gaan seweuur slaap en as Heather se kinders dan nog daar is, is dit disrupsies want die twee rumoer en kyk tv en gaan slaap wanneer hulle wil, en dis gewoonlik nie voor tien- of elfuur nie. Toe ek dit hoor, sê ek vir Heather miskien moet sy haar kinders by die vrou los dat sy hulle ook kan optrain om 7uur te gaan slaap!
Ewentwil, dit het 'n uur geneem om by die hospitaal te kom. In die kar het Heather haar man gebel om te sê ek neem haar hospitaal toe, en sy het hom my selfoon-nommer gegee. Ons het in die wagkamer gesit en halfsewe toe roep hulle haar in. Agtuur toe kom 'n medic tevoorskyn en deel my mee hulle het haar pyn nou onder beheer en hulle wag vir bloedtoetse en scans se resultaat, dit sal ten minste twee of drie uur wees voor hulle weet of hulle haar oornag sal hou of wat.
My enkels het geswel van die ure se sit, soos in 'n vliegtuig. Ek het darem my breiwerk en my boek gehad.
Meanwhile het haar man hom nog nie bebodder om my te bel om te verneem wat gaan aan nie. Ek gaan toe maar huis toe, nadat ek haar gesien het en vir haar gesê het sy moet my bel sodra daar nuus is. Tuis aangekom, toe bel ek haar man, bring hom op datum en ek sê vir hom ek verwag om eers teen middernag van die hospitaal te hoor, maar as hulle sê sy kan huis toe kom, dan is ek bereid om in sy huis by sy slapende kinders te gaan bly sodat hy haar kan gaan haal.
Sussie, maak jou sitplekgordel vas voor jy verder lees! Ag, sê hy … dit sal beter wees as ek haar maar gaan haal, want hy kyk nou voetbal en hy gaan 'n paar glasies wyn drink. K en D hoor die gesprek aan, en toe ek daardie foon neersit, word ons histeries. Ons lag tot ons hik. Ek en die kind is so uitasem gelag ons kan glad nie praat nie; D snik net: "He is a disgrace!"
Nouja, lang storie kort: half-twaalf toe gaan laai ek en K haar op, want D het ook 'n paar glasies wyn gedrink voor die TV! Die hosp het haar 'n handvol pille gegee vir die pyn, 'n koevert vol toets-uitslae en verwysings na verskillende spesialiste vir Maandag. Sy was heelpad huis toe naar en kry warm en koue rillings. Tuis aangekom, sê sy haar bene voel lam en sy voel flou. Ek sê toe sy moet bly sit tot hy haar kan kom help in die huis in. K gaan lui die voordeurklokkie en sy sê vir die vent: "Heather needs help". O, sê hy, "I can't be much help." Maar nietemin het hy geredelik kar toe gekom en haar die huis ingehelp. Ek en K het haar handsak en baadjie en papiere agternagedra.
Die vlg dag (gister, Saterdag) is sy weer al-droewig-wenend op die foon, hy het daarop aangedring dat sy saamkom swembad toe vir die kinders se swemles, want hulle is onbeheerbaar in die kar en hy kan nie alleen cope nie. Nou is hy weg na sy judo-klub en sy, siek en lam, sit met die kinders. Ek kon hoor hoe lawaai hulle. Sy is raadop, sy is alleen, sy weet nie wat om te doen nie. Toe dink ek nee, ek is nie haar ma nie, en ek gaan nie aanbied om haar te gaan bystaan nie. Ek raai haar toe aan om haar pa te bel, dat hy en sy vrou oorkom vir die naweek, en ek sê vir haar sy moet haar man sê hy moet verlof neem en omsien na sy kinders. Gaan saam met jou pa huis toe en bly daar vir 'n week, sê ek. Maar ek weet sy sal dit nie doen nie.
Sy het self daardie drie monsters geskep saam met wie sy nou moet woon. Sy laat al hulle selfsugte en disgraceful gedrag toe. Dit is die resultaat. Ek gaan my nie verder laat insleep in haar moeras nie, sy het 'n ma en 'n pa en 'n man - hulle moet vir haar sorg.
Genoeg van maatskaplike werk - Donderdagaand het ons saam met Colin gaan eet by 'n nuwe Sri Lankan/Indiese restaurant met name Elephant Corridor. Dit was baie aangenaam, daar was 'n paar nuwe disse wat ons nie geken het nie. Ek het die menu saamgeneem, ek sal hom vir jou stuur dat jy solank kan besluit wat gaan jy bestel wanneer Elephant Corridor 'n tak in jou tuisdorp oopmaak. Reg langs die Village Odeon, dan kan jy heerlik daar eet voor of na die vertoning, soos die geval mag wees.
Colin en D het planne gemaak om saam te kyk na die rugby-wêreld-koppie. Vandag is Vadersdag by ons en K het vir hom 'n Springbok-serp en 'n beanie gekoop. Sy sal hulle later vandag kom oorhandig. Sy het Vrydagaand hier geslaap, maar nie gisteraand nie want sy was uit saam met vriende. Syself het natuurlik die Wallabies-paraphernalia.
Vrydag was ek saam met my BFF Margie na Seaford toe om Janice te sien, die Needy Stitches-vrou. Sy het my 'n sak breiwol gegee wat ingekom het as donasies, maar ek het nie baie lus daarvoor nie, party is te dun na my sin en ander te donkerkleurig. Ek kan nie meer met donker wol brei nie, dan kan ek nie die steke sien nie. Ek sal maar die wol aan die Op Shop skenk, iemand sal wel daarmee wil brei. 
My ogens is nie meer wat hulle was voor die oorlog nie. My regteroog het 'n kakkerlak maar die optometris sê dit nog nie tyd vir die operasie nie. Ek maak maar wat "hulle" my sê, wie is ek om beter te weet. Die katarak laat dit lyk of my bril se regterlens 'n vingermerk op het. Ek loer maar soos bes ek kan.
Ek het 'n lang SMS van N gekry: Fred het 'n boef getakel wat oor die muur gespring het, die bybie kan staan en sy kan kruip, die Granny Flat is nog nie gereed vir okkupasie nie, en Skoonma kom kuier vir 'n week. Sy gaan die kookdienste waarneem. Cara is iewers heen reisvaardig.
Ek gaan nou stort en aantrek dat ek die dag kan aanpak. Ek wil my kaste een-een uitpak. Daar is te veel goed wat ek opgegaar het. Wie weet wanneer gaan ek dood en dan moet K sukkel met al die detritus van die jare.
Om een of ander rede is ek in die laaste tyd bewus van my sterflikheid. Nie dat ek dink ek is op die randjie vd graf nie, maar ek weet ek is in die pylvak. Ek het geen vrees daarvoor om dood te gaan nie, maar ek het nie baie lus daarvoor nie, want 1. soos oorlede Graham, stel ek belang in die wêreld en in nuwe goed, en ek wil niks mis nie, en 2. ek verlang na my ma en ek dink elke dag aan haar, en ek wil nie hê my kind moet haar ma so mis nie. Jy weet hoe verknog is sy aan haar ma. Erger as Klein Japie aan syne.
Ek dink baie aan Boetie en hoe hy gesê het hy kom my groet want sy dood kom aan. Miskien is dit hoe hy gevoel het - ek is bewus daarvan my dood kom aan. Nie met rasse skrede nie, maar onwrikbaar. Ek hoop D sal hom bebodder om mense te laat weet! As jy 'n ruk lank niks van my hoor nie, moet jy navraag doen.
Nouja, Sussie, verder niets dan. Op hierdie begrafnisnoot neem ek afskeid tot vollende week.
Liefde en groetnis van Suster Katryn å¯YNJ

No comments:

Post a Comment