Liewe Sussie,
Die Heilige Sabbat het weer aangebreek en hier sit ek met 'n koppie tee by my elmboog. D kyk hoe speel die Wallabies en die All Blacks. Hulle het gisteraand gespeel, maar hy was toe met ander dinge besig en kon eers vanoggend kyk.
Onthou jy daardie vent wat altyd gedink het dit is groot pret om vir Boetie die uitslag mee te deel van 'n wedstryd waarna hy nog nie gekyk het nie? As hy nog daar op die dorp woon, kan jy hom gerus in die skeen skop as jy by hom verbyloop op straat. Maak of jou voet gegly het.
Gister was ek by die ballet en soos altyd was dit baie mooi. Drie kort ballette ipv een lang storie. Die eesrte een was 'n skaakspel. Hier sien jy die rooi perd veg teen die swart koningin. Sy het gewen.
Die plaaslike koerant se resensie: ek kon dit nie self beter gestel het nie.
In this thrillingly diverse triple bill, The Australian Ballet pays tribute to its British beginnings. Checkmate is a cutthroat spectacle of sharp choreography, in which kings, queens and pawns battle to the death. Concerto is deservedly a modern classic, combining rigorous dance with undeniable wit. And to send you home swooning is Christopher Wheeldon’s 21st-century masterpiece After the Rain©, an unspoken love affair consummated on stage. From the savage to the sublime, British Liaisons is an exhilarating encounter with the best
Daar het jy dit.
Soos gewoonlik het ek reeds elfuur na die Arts Centre toe gegaan en 'n uur of twee in die kunsgalery (NGV) deurgebring voor ek na die teater is vir die vertoning. Dis lekker om alles onder een dak te hê, as't ware!
Die skilderytjie is nie baie groot nie - as hy 'n skinkbord was, kon jy 'n teepot en drie koppies op hom gelaai het, maar net as jou gaste nie melk of suiker neem nie.
Die kleure is nog ongelooflik gloeiend en helder na 600 jaar. Die NGV is so opgewonde dat hulle die skildery dadelik vir ons wou wys, maar dis net vir 'n maand, dan gaan hy na die restoureerders dat hulle die eeue-oue, dik laag vernis kan verwyder. Dan sal hy nog mooier en helderder wees!
Ek neem my trollie saam, dan kan ek op hom sit as my heup seer word van staan. Hy het 'n mandjie onder die sitplek vir my handsak. Baie gerieflik. Ek neem hom altyd saam winkels toe ook - ek het 'n groot mandjie wat mooi op die sitplek pas en dan hoef ek nie my inkopies te dra nie. Groente en vrugte en kruideniers-ware is swaar! Buitendien hou ek daarvan om aan hom vas te hou as ek so rondstap by die winkels - die vloere is glad en ek wil nie val en my heup of been breek nie. Of my stuitjie.
Partymaal sal jy dink jy is by 'n trollie-saamtrek, daar is so baie oumense wat met trollies loop! Nie baie van hulle is so slim om 'n mandjie op die sitplek te sit nie.
Vandag het ek nie veel gedoen gekry nie - die son skyn so lekker by my slaapkamer in, ek het in my recliner voor die venster gaan sit en lees en aan die slaap geraak. My nanna-nap. Dis 'n sonnige dag, maar koud buite. Ek sal netnou 'n entjie gaan stap.
Ek het toe pasede Sondag ipv fliek toe gaan soos my gewoonte is, ook NGV toe gery want ek was lus vir 'n vreedsame, stil dag van na mooi goed kyk en lekker in die Members' Room ontspan. So gesê, so gedaan.
Dit was 'n mooi dag. K het van haar huis af al langs die rivier gestap tot in die stad (so 8km) want sy wou oefen vir die Sydney-stap. Sy het my ge-SMS toe sy in die stad kom sodat ek haar in die NGV se fouer kon ontmoet en ons het saam koffie gedrink in die Members'. Sy wou nie saam kyk na die werke nie, sy wou weer in die pad val vir die tweede been van haar staptog. Ek het vertoef tot so drieuur en toe is ek huis toe.
Maandag het ek soos Cinderella hier in die huis gewoeker, Dinsdag het ek fliek toe gegaan saam met Heather. Sy het haar werk bedank en haar naam geregistreer by 'n "Temp Agency". Sy doen kantoor-admin, so daar is altyd temp werk beskikbaar wyl kantoorjuffers met verlof of siek is. Heather soek werk wat sy kan doen vir 'n week of twee-drie op 'n slag, en sy wil skoolvakansies vir die agentskap kan sê sy is nie beskikbaar nie.
Nouja, sy het nog nie werk nie en toe stel sy voor ons gaan fliek toe. Ons het "Friends With Privileges" gesien. Dis 'n rom/com en jy moet asseblief onthou om te sê NEE as iemand jou nooi om dit te gaan sien. Ek is nie 'n rom/com fan op die beste van tye nie, maar hd een was regtig besonder simpel. Die storie en die toneelspel was maar baie ordinêr (en jy moet weet in my nuwe land is "ordinary" 'n woord wat beteken "uiters ellendig"!) en bowendien moes ons baie tyd in die mense se slaapkamers deurbring, waar ons moes toekyk hoe hulle allerlei aksies uitvoer waarvan ek nie eers geweet het voor ek al diep in die twintig was nie.
Ek is nie preuts nie, Sussie, maar daar is 'n tyd en 'n plek vir alles, en daardie tyd en plek is nie die silwerskerm op 'n Dinsdagoggend nie. Heather het gedink dis Krismis - sy was amper 3 jaar laas in die bioskoop en sy hou tog so van 'n rom/com. Sy het ook met groot aandag na die "trailers" vir die opkomende rom/coms gekyk en telkens gesê: "I wouldn't mind seeing that!" Ek hoop sy kry gou werk.
Woensdag het ek soos gewoonlik vir May ontmoet vir koffie en biblioteek. May het allerlei gesondheidsprobleme en ek het ook soos gewoonlik glad te veel informasie gekry oot haar persoonlike aangeleenthede. Sy was by haar ginekoloog en by die fisio en by die man wat oor haar slukderm gaan, en ek moes al die besonderhede hoor. Ek het Dinsdag by die fliek reeds my kwota ginekologiese details vir die jaar verneem, en ek is nou baie op vir mense se pienk onderdele. Ek wil dit nie sien of daarvan hoor nie.
Donderdag het ek en Joan gaan lunch vir haar happy birthday. Die okkasie was reeds 2 weke gelede maar daar was nie 'n paslike geleentheid tot nou nie. Ons was by die RSL, waar sy vis en ek hoender het. Gemarineerde hoenderstukkies op 'n bed van couscous, spinasie en gebakte pampoenblokkies. Dit was sommer die afskeidsete ook, want Joan en haar man vertrek Vrydag oorsee soos hulle elke jaar doen om by hulle kinders in die VSA te gaan kuier.
En so kom ons weer by SELA. Bly mooi en sê baie groetnis al in die rondte.
Love, Suster Katrien Y I J
No comments:
Post a Comment