Saturday, September 10, 2011

Niets Dan Bladeren

Liewe Sussie,
Hierdie week is dit Maer Jare, of liewer Maer Week. Ek het nie veel gedoen nie en ek het dus nie veel tyding nie. Nie dat my tyding ooit vreeslik opwindend is nie (en ook maar goed!) maar soos jy vir die dame gesê het: ons stel belang in mekaar se doen en late.
As ons twee ou susters saam gewoon het, sou ons elke dag mekaar se wel en wee gedeel het, en nou dat ons so ver van mekaar af woon, moet ons maar ons bes probeer om dit nog te doen. Daar is al hoe minder mense wat my geken het toe ek 'n kind was; ek kan hulle op die vingers van een rumatiekhand tel. (En kleingeld oorhê)
Toe ons gisteraand so sit en kyk na die Rugby Wêreldkoppie se openingseremonie (my landgenote noem dit 'n Cere-moany, nie 'n Cere-minny soos ons gewoond is nie) … toe is daar 'n klein seuntjie wat rubgy speel in sy jaart en hom verbeel hy speel vir die All Blacks. Ek vertel vir D en K hoe het jou klein seuntjie daar op die grasperk in Menlo Park vir Noord-Transvaal gespeel en dan moet ek en jy handeklap as hy 'n drie druk en "Padda!" skree as hy skrum.
Waar is die dae, Sussie. Onthou jy hoe het ons saans op die vloer gesit en luister na die stories op Springbokradio. Daardie een van die koerant-verslaggewer wat sy storie vertel en op die end dan skree hy "Copyboy!" vir die kêreltjie wat sy storie na die setters moet neem. Ons het gedink hy skree: "Coffee, Boy!" Ons het ons altyd gavoorwonner dat hy so onbeskof is!
Op die internet is daar 'n plek waar jy kan kliek op die name van al die S/bokradio-programme: Wie die Liefde nie Het Nie, Du Plooys van Soetmelksvlei, Mary Livingstone MD, Taxi, Consider Your Verdict, Inspector Wie-nou-weer?, Pick-a-Box, Squad Cars, noem maar op. As jy kliek op die titel, dan speel die musiek en hulle resiteer die openingswoorde: … They prowl the empty streets by night…. En so aan. Nostalgie! Ek mors glad te veel tyd op my rekenaar.
Ek het baie gehou van jou storie oor jou kleinseuntjie wat vir Moses help in die tuin. Dan sien ek hom so voor my, soos sy oupa toe hy klein was. Het hy sy eie klein tuin-gereedskappies? Gister sien ek so 'n stelletjie, vurk, graaf, snoeiskêr; alles vir klein handjies, maar goeie goed, nie robbies nie. As dit nie so swaar geweeg het nie, het ek dit vir hom gekoop en gestuur.
Ek het in die week 'n pakkie daar na jou toe gepos, ek wil dit nie Pta toe stuur nie, want twee uit drie goed wat ek na Pta of Jhb stuur, kom nie daar uit nie. Hulle steel dit seker daar in die groot en bose stede. Ek het vir E 'n paar goedjies gestuur en vir jou 'n manteljie wat ek gebrei het. Jy kla hoe koud jou huis is, miskien kan jy met Ta'H se poncho oor jou bene en my manteltjie om jou skouers sit saans, en dan ruil jy weer om en hang die poncho oor jou skouers en die manteltjie oor jou kniee.
Ek het 'n bersie wat sy vir my gehekel het, in sulke zigzag strepe. Ek slaap iedere aand met hom oor my voete. As ek en jy en Kleinpappie tot ons vadere vergader is, dan sal niemand meer dikwels aan haar dink nie. Haar kleinkinders seker net so af en toe. Miskien dink Marie ook nog aan haar - hulle het lank onder een dak gewoon en siende dat Marie nog onder dieselfde dak woon, is daar seker baie dingetjies wat haar aan haar skoonma herinner.
Wat leef ek vandag so in die verlede - back to the future, Sussie! Ek is op pad winkels toe, ek wil vir my 'n stofsuier gaan koop. Ek het net 'n dustbuster in die huis en hy is nie veel werd nie. Jy moet hom ingeprop los anders is hy futloos as jy iets wil opsuig. Ek het nie 'n groot stofsuier nie - my skoonmakers bring hulle eie. Die huis het wel ingeboude "ducted vacuuming" maar die pyp is onder die huis gestoor, ek gaan hom nie uit sy plastieksak haal, boontoe sleep en inprop elke keer wat D die suikerpot omstamp nie.
Ek moet ook die bib besoek want toe ek vanoggend na my rekord kyk, sien ek daar wag sewe boeke vir my. Ek is baie opgewonde want party het hulle vir my aangekoop en ek wag al lank vir hulle.
O, van boeke gepraat, ek het in die pakkie vir jou die boekie gesit waarvan ek jou vertel het: die memoir wat die ou dame geskryf het van haar kinderdae op die eiland Guernsey tydens die Duitse besetting in WW2. Ek het dit baie interessant gevind aan die hand vd Potato Peel Pie boek. Jy kan dit saam met die ander een hou as 'n stel! Ek hoop jy gaan hom saamneem Pta toe, ek is seker Jo en haar ma en E sal almal hou van hom.
Vertel vir Jo van www.bookdepository.co.uk  Dit is 'n baie goeie plek om boeke te bestel. Hulle vra jou NIKS posgeld nie en hulle pryse is baie redelik. 'n Ander een wat ek baie gebruik, is die een vanwaar ek die Potato Peel Society vir jou laat stuur het, naamlik www.betterworldbooks.com
Hulle verkoop tweedehandse boeke, in goeie gesondheid, soos ex-library stock, wat dit natuurlik nog goedkoper maak. Dikwels is 'n boek wat ek soek, uit druk en dan het Better World Books 'n gebruikte eksemplaar. Jy sê Jo koop baie boeke.
Hd week het ek net een dag afsprake gehad: ek wou my kalander skoon hou want ek was nie lus om rond te hol nie. Lekker tuis rondgeploeter, sop gekook, wasgoed gedoen, kaste uitgepak, boeke gelees, DVDs gekyk. D was elke dag weg na sy bowls-besigheid, hetsy vergaderings of oefen of wedstryd speel, ek kon heerlik kyk na al die kuns- en ballet-DVDs waarby hy geen interres het nie.
Woensdag het ek vir Mireille ontmoet, ek vir tee en sy vir niks. Sy is allergies vir so baie goed dat sy nooit iets eet of drink nie. Sy vertel my sy leef nou op pampoen en piesangs. Sy was pas in die hospitaal omdat haar gestel allerlei "trace minerals and electrolytes" verwerp het wat 'n mens nodig het om te leef. Hulle moes allerhande drips in haar lyf sit. Sy het so baie gewig verloor, sy weeg nou 36 kilo's. Gelukkig is sy baie petite, nie lank of grof gebou nie. Sy is nietemin vel en been, met oë soos 'n panda s'n, maar nog steeds so elegant - wat is dit met Franse vrouens? Sy het haar tekeninge saamgebring vir my om te sien. Sy doen pragtige kunswerk.
Ek het 'n pot peperment-tee gedrink terwyl ons gesels het, en daarna het ek na May se huis toe gery want sy het my vir middagete genooi. Sy het my sop en tous gegee, baie aangenaam. Hoendersop. Rogbrood, dit maak lekker roosterbrood.
Heather se pa het haar kom haal en sy het saam met hom en haar stiefma huis toe gegaan. Sy gaan daar bly tot Maandag wanneer sy weer haar dr moet sien. Die dr het gesê as sy nie by haar pa gaan bly nie moet sy hospitaal toe gaan. Eenmanier moet sy wegkom van haar huis af, die stress maak haar siek. Hy het haar op anti-depressants gesit. Ha-ha, ek wonder hoe cope haar man met die feral kinders!
Nouja, Sussie, dit is al vir vandeesweek. Ek hoop die pakkie kom voor jy moet vertrek Pta toe, en indien nie, hoop ek iemand sal dit gaan afhaal by die poskantoor dat hulle dit nie terugstuur na my toe nie!
Bly mooi, ek hoop die warmer weer skop nou in by julle dat jou beendere kan ontdooi.
Lovenkisses,
Suster K  [{ö¯I

No comments:

Post a Comment