By die tyd dat hd epistel jou tuisdorp bereik, sit jy seker al rondom die vreugdevure in Pta saam met die familie. Ek weet nie hoe lank jy gaan vertoef nie. Epistel moet maar in jou posuithaler se sorg wag tot jy weer voet aan wal sit.
Vertoef. Wat 'n snaakse woord. As jy nie weet wat dit beteken nie, sal jy dit nooit uit die klank kan aflei nie. Dit klink nie soos BLY nie, meer soos GAAN. Ver-Toef! Poef! Gone with the wind.
Dis nou nie meer lank voor jou nuwe kleindogterjie haar pienk voetjie aan wal sit nie: haar ma het nog net die finishing touches om te doen. Hopelik sal sy 'n honderd jaar vertoef as sy eers hier is. Ek glo alles sal goed gaan: ek het volle vertroue in die mediese professie.
Jy sal bly wees om te verneem dat D gegaan het vir sy Groot Toets en die oncologist (onkoloog? Is daar so 'n woord?) … ewentwil, Bridget is haar naam en sy is tevrede dat die drastiese behandeling wat hy moes deurmaak, die kanker uitgewis het. Daar is geen teken van oorlewende selle nie. Sy sal natuurlik nooit sê hy is vir ewig en 'n dag ontslae van die kanker nie, wie kan so 'n waarborg gee? Maar so far, so good. Hy sal aanvanklik elke 6 maande getoets word en daarna elke jaar.
My BFF Margie se neef het dieselfde tyd as D dieselfde behandeling ondergaan, en sy Groot Toets is dus ook nou op dieselfde tyd gedoen. Jammerlik is sy uitslae nie so goed soos D s'n nie - daar is selle teenwoordig in sy beendere en in sy lewer. Nou praat hulle van radikale chemo en bestraling, maar hy het dit vd hand gewys. Dit stel net die dag uit, en maak sy laaste maande aaklig. So hy gaan vir die palliative care-opsie.
Ek en K gaan vlg naweek Sydney toe vir 2 dae want daar is 'n uitstalling wat ek wil sien by die Art Gall of NSW. Ons sal Vrydag gaan en Sondag terugkom. Dit is Duitse werk van 1910 tot 1940. Ek hou baie vd Duitste Ekspressioniste en ek vloog graag al die pad Sydney toe om hulle te gaan sien. Al die "Degenerate Artists" wat deur die Nazis verban is, is ook verteenwoordig. Jy sal mettertyd alles verneem, want ek sal vir die Kaleidoscope 'n artikeltjie skryf.
Nog steeds met my culture vulture-hoed op, was ek gister by die ballet. Romeo and Juliet. Dis 'n nuwe ballet deur die Australiese koreograaf Graeme Murphy. Ek hou van sy werk. Hy het die hele ding 'n soort van 'n internasionale inslag gegee: hy skop af by die Capulet-bal in Verona soos ons gewoond is, maar dan verskuif die aksie na 'n Oosterse basaar en 'n Arabiese woestyn en 'n Tibetan monastery … dis nie meer Father Lawrence wat hulle trou nie, maar 'n Hari Krishna guru. Oranje llamas is baie meer aanskoulik as swart priesters! Haar slaapkamer bly darem in Verona .
Ewentwil, dis alles baie mooi en die kostuums en die décor is soos gewoonlik uit die boonste rakke. Jy moet vroegtydig bespreek wanneer dit na die kerksaal toe kom by julle - laat Sue die dogtertjies ook bring. Ek gaan na die middagvertoning en daar is altyd baie dogtertjies, met tulle-skirts oor hulle jeans en sequins op hulle skoene. Party het tutus aan. Die mense wat langs my sit, het twee dogtertjies - ek het hulle gesien grootword oor die afgelope ses jaar!
D het gisteraand tot waffertyd na die rugby gesit en kyk, maar ek het vroeg gaan slaap na my lang en opwindende dag. Hy dink dis Krismis nou dat die wêreldkoppie aan is. K het hom hartlik uigenooi om saam met haar oor die spruit te vlieg om een vd semi-finals te gaan sien, maar hy het natuurlik bowls-verpligtinge hd tyd vd jaar en jy weet dit kom eerste.
Ek het die afgelope week nie veel gedoen nie. Dinsdag het ek vir Pauline ontmoet by die Mitcham-stasie soos ons doen. Sy kom merrie trein van East Ringwood af en ek ry net 12 min op die nuwe snelweg na Mitcham. Ons gaan eet en shop of fliek of wat ookal, en dan gaan laai ek haar weer af by die stasie.
Hd keer het dinge nie so vlot verloop nie, want skaars is ek by my huis weg, of die polisie stop my by een van hulle gereelde padblokkasies waar 'n mens in die pypie moet blaas en aan die stokkie moet lek. Ek weet nie hoekom verdink hulle die publiek van dronkenskap twaalfuur in die oggend nie. By die tyd dat ek hulle oortuig het ek is nie onder die invloed van alkohol of dwelms nie, was dit reeds vyf minute voor die afgesproke tyd.
Toe sien ek daar flits 'n liggie en ek besef my petrol is laag. Ek het gestop by die naaste petrolstasie, maar ongelukkig was dit een van dié wat afslag gee as jy jou supermark-kwitansie vir meer as $30 saamneem. Daar is altyd 'n lang tou want petrol is nou baie duur en dit kos my amper $100 om my tenk vol te maak as hy so leeg is soos hierdie keer.
Gewoonlik kry ek K om oor die naweek my tenk op te top want ek hou nie daarvan dat hy minder as halfvol moet wees nie. My rumatiekhande kry swaar om die petrol-pyp se handvatsel te druk en vas te hou terwyl hy pomp. Dit maak my seer en my hande is swak - jy moet hard druk. Ek weet nie hoe ek my tenk so leeg laat word het nie. Ek het Pauline probeer bel, maar haar foon was afgeskakel.
Ewentwil, ek was 'n halfuur laat by die stasie en Pauline het toe maar weer op die perron gaan sit en wag vir 'n trein huistoe. Gelukkig kon ek haar keer voor sy opklim. Ons het beplan om te gaan Yum Cha, maar dit is toe al so laat dat ons gedink het al die lekker happies sal nou op wees, toe gaan ons maar na een van die groot winkelsentrums se Food Court. Ek het 'n bord falafels en gemengde slaai gekoop en Pauline 'n stukkie vis en avokado-slaai. Ons het nie koffie in die
Food Court gedrink nie, want hulle bedien dit in 'n kartonkoppie. Yuck. Ons het by 'n kafee ingegaan waar hulle 'n behoorlike barista agter die toonbank het met sy lang swart voorskoot aan, en hy het vir ons 'n heerlike koppie koffie gemaak met 'n gratis choc teddie in die piering.
Food Court gedrink nie, want hulle bedien dit in 'n kartonkoppie. Yuck. Ons het by 'n kafee ingegaan waar hulle 'n behoorlike barista agter die toonbank het met sy lang swart voorskoot aan, en hy het vir ons 'n heerlike koppie koffie gemaak met 'n gratis choc teddie in die piering.
'n Vrou wat weet ek brei vir die behoeftiges, het vir my drie van daardie groot tolle wol gegee wat hulle gebruik op breimasjiene. Ek was hoog in my skik en het een vir May gegee om mee te hekel. Pragtige roomkleur wol, lekker sag en dit gly so glad deur jou vingers, maklik om mee te brei. Maar toe ek 'n ent weg gebrei het, kom ek agter die wol gee fyn rafeltjies af - my klere was oortrek daarvan en ek nies. Eers het ek gedink ek sal 'n handdoek oor my skoot gooi, maar toe dink ek nee, wat help dit, want geen mens kan die kledingstuk of kombersie gebruik wat met die wol gemaak is nie. Dis erger as kat- of hondehare! May was net so teleurgesteld. Ek voel ook nie eers ek kan die wol vir die Op Shop gee nie, want enigeen wat dit koop, sal dieselfde probleem hê. Nietemin is dit wat ek daarmee gaan doen, want ek voel sleg om dit weg te gooi in die vullisblik. Jammer die hard rubbish collection was verlede week!
Almal het hulle oortollige goed uitgesit op die sypaadjie vir die munisipaliteit om te kom oplaai - ons het ontslae geraak van 'n ou tv en ons ou oprol-blindings en 'n hele bos fluorescent tubes - ek weet nie wat is dit op Afr nie. Ek kon die wol ook daarby gesit het!
Dié tyd vd jaar sien jy watter nuwe goed het jou bure gekoop - jy kyk net watter ou goed gooi hulle uit. TVs was volop hierdie keer, ek dink almal het van die nuwe plasmas gekoop! Ons bure het blykbaar nuwe sitkamermeubels gekoop want hulle het 'n soufa en twee leunstoele uitgesit. En "Oorkant-die-straat" het hulle badkamer laat doen, want daar was 'n toilet en 'n wasbak op hulle sypaadjie. Jy kry goed kans om die bure se besigheid uit te vind, want 'n mens mag jou goed uitsit 'n week voor oplaaidag. Deur die week kan jy alles bespied soos jy verbyry op jou wettige rondtes.
Verlede Sondag het ek saam met K gegaan om The Help te sien. Dit gaan oor die leefwyse van die vrouens en hulle swart bediendes in Jackson , Mississippi in die 1960s. Shock, horror. Kan jy glo die bediendes het aparte toilette en aparte eetgerei gehad! Ongehoord!
Ek hoor vir D in die kombuis: hy maak toebroodjies want hy het heeldag bowls. Slegte toebroodjies, soos hy daarvan hou. Daar mag mos net EEN ding op wees. Hy maak een kaas en een Vegemite. Nouja, mazel tov, ek is bly ek hoef dit nie te eet nie. Ek sou tamatie en slaaiblare daarop gesit het, en 'n dun skyfie rooi ui en 'n stukkie gerookte salm wat in die yskas is en wat hy kon gebruik het as hy 'n lekker toebroodjie wou hê. En ek sou 'n smeerseltjie mayo daarop gesit het ipv botter. En sout en peper.
Nouja, Sussie, ek sal maar groet vir nou, dan kan ek die brief pos wanneer ek netnou winkels toe gaan om my Old Mother Hubbard status op te gradeer. Ek het ook lus om vanmiddag fliek toe te gaan maar ek weet nog nie wat daar te sien is (indien enigiets) nie.
Jy moet lekker makietie hou in Pta; ek hoop Carabosse daag nie op by die doopplegtigheid nie! Miskien kan Klein Jackie uitkyk vir haar en die honde op haar sit.
Lovenkisses,
Suster Katrien åI¯
No comments:
Post a Comment