Sunday, January 16, 2011

Goeie Nuus en Slegte Nuus.

Sunday, 16 January 2011
Liewe Sussie,
Dis weer die H/Sabbat en ek bring verslag uit oor my doen en late vd afgelope week. Ek het jou laas vertel D gaan na Geelong vir 'n bowls-toernooi, maar ek is jammer om aan te kondig dis gekanselleer. Rain stops play. Dis nie net Queensland wat baie reen kry nie, ons in Victoria het ook dorpe wat onderwater is, maar nie so erg soos ons noordelike bure nie.
Ek het jou ook laas vertel Karlien het laasweek Mirboo toe gegaan om vir Lola te ontmoet, en sy het teruggekom met die nuus dat Lola 'n mooi en soet baba is en dat haar boetie en sussie van haar hou.
Wat was my ontsteltenis groot toe ek vandeesweek moes verneem Sarah, Phil en Lola is hier in Melbourne want Lola het asemhalings-probleme en hulle het haar per ambulans na die Royal Children's Hospital gebring. Dit blyk sy het 'n bakteriële infeksie in haar longe. Shym, die kind is skaars ses weke oud. Waar sy dit gekry het, weet geen mens nie. Ek weet uit eie waarneming dat Sarah se huis skoon is en haar kinders ook.
Ek dink sy het dit by haar familiemense gekry. Karlien sê daar heers groot opgewondenheid in Phil se uitgebreide familie oor die nuwe baba want dit is die eerste kleinkind aan sy kant, en hulle gee vir Lola soos 'n voetbal aan van die een na die ander, en soen haar aanmekaar. Oud en jonk doen mee. Gril ek. Ek was onpopulêr by baie van my familie en skoonmense, want ek het niemand toegelaat om vir Baba-Karlien te soen nie en veral nie in haar gesig nie! Sy het nie infeksies en bakterieë gekry nie.
Ewentwil, sy is glo nou uit die intensiewe sorg (the tents of care, het daardie Julie wat saam met my by PWD gewerk het, dit genoem) maar sy moet nog 'n week in die hospitaal bly. Nou weet ek nie by julle nie, maar hier by die Royal Children's kinderhospitaal het hulle sulke suites waar plattelandse ouers kosteloos kan bly solank hulle 'n kind in die hospitaal het. Slaapkamer, badkamer, sitkamertjie en ten volle toegeruste kombuisie. Net sowel, want wie kan 'n hotel bekostig?
Ek het deur die week my gewone rondtes koffie met vriendinne gehad: Dinsdag was dit Joan en Woensdag was dit Mireille. Mireille is Frans. Hoekom lyk Franse vrouens altyd of hulle pas gefotografeer  is vir die volgende uitgawe van Vogue? Ek het 'n langbroek en 'n hemp aangehad, en so ook het Mireille, maar ek lyk sommer gewoonweg en sy lyk soos 'n model. Sy is tien jaar ouer as ek ook nog en sy smeer niks aan haar gesig nie. Volgende keer as ek haar sien, gaan ek haar 'n taai klap gee.
Donderdag was ek na Seaford toe saam met Margie (my nuwe beste vriendin - ek vergeet altyd om vir haar te vra wat haar van is. Waar is die dae toe 'n mens gehoor het wat mense se van is wanneer jy hulle ontmoet. Nou kan jy al verloof wees voor jy jou Finance se van uitvind).  Ons het goed weggebring vir Janice, wat die co-ordinator is van 'n liefdadigheids-program. Ek brei en Margie en haar ma hekel. Janet se huis kyk soos 'n negosiewinkel, oral is goed wat wag om uitgedeel te word. Kerke en hospitale en ouetehuise en beskutte verblyfplekke - almal kry iets by Janice, sy het baie vrywilligers wat handwerk doen en brei en hekel.
Sy is besig om pakkies te maak vir die groot byeenkoms wat hulle elke Januarie hou hier in Melbourne vir die haweloses. Daar daag tot 3,000 hawelose mense op. Die munisipaliteit reel dit, hulle sit elke jaar $70,000 opsy daarvoor. Dit word gehou in 'n groot saal en tente in die park. Daar is haarkappers en fisioterapeute en oogtoetsers en podiaters en daar word tee en koffie verskaf asook middagete. Klere word uitgedeel en speelgoedjies vir die kinders.
Ja, ek het ook nie geweet daar is hawelose kinders nie. Daar is families waar Pa sy werk verloor het en hulle kon nie meer die paaiemente op die huis bekostig nie en nou is hulle op straat. Dis nie net besope, stink oumense wat haweloos is nie! Die haweloses is merendeel skoon, en as hulle stink, is dit hulle klere, want hulle het baiemaal net een stel klere.
Daar is oral in die stad plekke waar mense deur die dag kan stort en 'n bord kos kry en waar hulle mag vertoef tot saans elfuur, maar daar is nie genoeg beddens om vir almal oornag onderdak te verskaf nie. Hulle gee voorkeur aan mense met kinders. Ek verstaan nie hoekom daar hawelose mense moet wees in 'n welvarende, ryk land soos Australië nie. Ons is die enigste land in die wêreld wie se ekonomie nie skade gely het in verlede jaar se Global Financial Crisis nie.
As ek en Margie Seaford toe ry, dan is dit 45 minute met haar kar en 15 minute met myne. Gelukkig was dit hd keer my beurt. Sy is een van daardie mense wat nie van die snelweg wil gebruikmaak nie. Sy ry 'n groot draai, al met die ou pad, deur die voorstede. Ek bestyg die snelweg net 'n halwe kilometer van my huis, woerts-warts, wye oop reguit pad. Ek gaan deur twee tolpunte: elke keer as my eTag biep-biep sê, kos dit my 35c. Minder as 'n dollar en ek spaar 30 minute. Maar nee, daar is so baie mense wat verseg om daardie tolgeld te betaal, hulle sal liewer 'n halfuur langer ry deur die verkeer. Ag nouja, wat weet ek, elke man moet maak met sy loeloe soos hy wil, het Oorle' Oom W. van Ant Ann altyd gesê.
Vrydagmiddag het ek vir May ontmoet by die biblioteek en nadat ons ons boekens omgeruil het, het ons 'n koffie en 'n toebroodjie gaan eet. In my geval 'n toebroodjie en in haar geval cinnamon toast. Hulle rooster 'n paar snye vrugtebrood en bestrooi dit met die kaneelsuiker. Ek wil nie tous eet met kaneelsuiker nie, maar vir haar is dit baie lekker en sy bestel dit altyd.
Vrydagaand het ek en D gaan eet by Formosa House, Chinese keffie waar ons nog nie vantevore was nie. Die plek is al jarrrelank hier, ek ry gereeld by hom verby, maar om een of ander rede het hy nog nooit ons besigheid gekry nie. Ons het uitgegaan saam met Penelope en John Thomas (hoekom sal jy jou seun John noem as jou van Thomas is?) … hulle was ook nog nie daar nie. Net sowel haar naam is nie Fanny nie.
Die kos was lekker en die diens was goed, ons sal weer soontoe gaan nou dat ons hulle agtergekom het.  Hulle het op die spyskaart al die gewone disse wat jy maar kry by die Ch restaurante. Ons het drie hoofdisse gekies om te deel. Een was egter nuut vir ons almal: dit was Spicy Flounder. Hy is mos so 'n plat vis. Hulle het die vis ge-fillet en in blokkies gesny, dit in speserye gerol en vinnig in baie warm olie gezirts. Buite het dit 'n crisp spesery-korsie gehad en binne was dit heerlik sappig. Hulle het dit pragtig opgedien op die buitenste "skil" van die vis. Ek sal dit weer bestel ook!
Gister op die Saterdag het ek en Karlien ons eerste toneelstuk vd jaar se MTC-seisoen gesien. Dit was deur David Williamson, 'n vermaarde Australiese toneelsmid. Die MTC bied elke jaar een van sy stukke aan. Ons het baie daarvan gehou. So far, so good. Uit die sewe wat ons sien, is daar altyd een of twee wat ons minder van hou, maar 'n mens weet mos nou nie vooraf hoe dit gaan wees nie: jy kan maar net gaan op die skrywer en die akteurs en die paragrafie in die brosjure, wanneer jy jou opvoerings vir die jaar kies.
Vanoggend het ek op my modderkar geklim en stad toe gery want daar was twee uitstallings wat ek wou sien by die NGV. Een was werke van Gustav Moreau wat deur die Moreau Museum in Parys aan ons geleen is, en die ander een was 'n versameling NZ kuns wat deur die nasionale kunsmuseum van Brisbane aan ons geleen is. Net sowel dat Brisbane dit vir ons gestuur het, dis soveel minder werke wat hulle inderhaas moes verwyder uit hulle stoorkelders en na hoër grond versit. Die museum van moderne kuns in Brisbane is langs die rivier en die gebou is onderwater hoewel al die kuns gered is. Hulle het darem 'n dag of twee kennis gehad van die rivier wat sal afkom en so hoog oor sy walle stoot. Lyk my ons gaan daardie NZ werke baie langer huisves as wat ons gedink het!
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Baie groetnis en mooi bly. Liefde van Katrien

No comments:

Post a Comment