Saturday, 1 January 2011
Liewe Sussie,
Weereens het Poppie Dik 'n padda ingesluk, maar ek is seker sy is nie die enigste een wat naar geword het op die nuwejaar nie. Daar was 500 duisend mense in Melbourne se middestad en ek sal my nie verwonder as meer as een van hulle te diep in die bottel gekyk het nie. (Hoekom is daar altyd stukkies wortel as 'n mens opgooi? One of Life's little mysteries.)
Karlien was ook daar saam met 'n groepie vriende, maar hulle drom nie saam op straat nie, hulle gaan na een vd venues waar 'n mens vooraf bespreek - jy betaal $50 en hulle laat net 'n sekere aantal mense toe in die ruimte. Sy sê dit was baie aangenaam - hulle het 'n tafel gehad met uitsig op die rivier, en om middernag het hulle uitgegaan op die dak-terras en kon die vuurwerkvertoning mooi sien.
Gewoonlik bespreek sy vooraf 'n hotelkamer in die stad, sodat sy nie in die middel vd nag hoef tou te staan vir 'n taxi of saam met 'n spul besopenes op 'n trem hoef te klim nie. Maar hierdie keer het sy wel trem gery, want daar was 'n halte regvoor die venue waar hulle was, en die halte waar sy afklim, is baie naby haar woonstel.
Die stadsvaders het alles baie goed georganiseer: halfmiljoen feesvierders ten spyt, was daar net 43 arrestasies vir dronkenskap en bakleiery. Sy sê daar was hordes polisie op straat. Al die busse en trems en treine het heel nag elke 10 minute geloop en alles was gratis. Hulle het ook baie water-stasies gehad in die strate waar gratis water bekombaar was. Ek wonder hoeveel van daardie bottels het hulle uitgedeel.
Ek en D het hier in ons huis gesit en na die Edinburgh Tattoo op die teef gekyk. Hy het wakkergebly tot middernag om die vuurwerke op die hawe in Sydney gade te slaan maar ek het elfuur gaan slaap. Dit is pampoentyd vir my.
Vandag stil tuis deurgebring. Of stillerig. Die bure was uit en hulle twee kinders het heel middag baklei en op mekaar geskree. Ek weet nie hoekom moet hulle baklei nie, hy is 19 en sy is 23. My buurvrou sê hulle van kindsbeen af so baklei en doen dit nou nog. Hulle kan bly wees Boet van Vuuren is nie hulle pa nie. 'n Paar taai klappe sou hulle uitgesorteer het. Ek het dit nie vir Buurvrou gesê nie, ek het dit net by myself gedink.
Pasede week het ek dit en dat gedoen: Maandag het ek en Karlien "Somewhere" gaan sien. Dit gaan oor 'n filmster wie se elfjarige dogter die skoolvakansie by hom deurbring. Die regisseur is Sophia Coppola; sy maak briljante films. Sy is die dogter van Francis Ford Coppola, so sy verstaan daardie Hollywood-milieu: sy het so grootgeword.
Dinsdag het die bure hier kom tee drink. Ek leef nie in my bure se sak nie, ons groet vriendelik as ons mekaar buite sien, en verder kom ons net in mekaar se huise as ons gaan aankondig ons sal vir 'n paar dae weg wees, of so. Jy weet mos. Elke jaar gee ek vir hulle 'n krismiskoek en hulle gee vir ons 'n blik biskits. Elke keer sê ek en Buurvrou vir mekaar as die krismis-stof gesak het, sal ons koffie drink. Maar hd jaar het ek vir haar gesê kom ons maak nou 'n datum, kom julle die 28ste oor. Toe doen hulle so - ons het lekker tee gedrink en gesels. Maar ek sal beslis nie 'n gewoonte daarvan maak nie. 'n Mens moet nie dikkevrinne met jou bure wees nie, daar kan niks goeds van kom nie.
Woensdag het ek en Joan gaan koffie drink en kersverhale uitgeruil. Sy het interessanter stories as ek, want sy het kleinkinders by haar feestafel. Ons het ook boeke uitgeruil soos ons dikwels doen. Ons hou albei van 'n Whodunnit.
Donderdag het ek saam met May gaan eet en daarna het ons biblioteek toe gegaan. Sy het haar boeke omgeruil en gery, maar ek het my sit gemaak in een vd biblioteek se leeshoekies - lekker gemaklike stoel, mooi uitsig op die tuine, gawe voorraad van die jongste tydskrifte. Ek het 'n uur lank vertoef.
Ek voel baie tuis in 'n biblioteek: seker omdat ek van kleinsaf so baie tyd in biblioteke deurgebring het en twaalf jaar in daardie selfde een gewerk het. Mense loop tussen die rakke rond, die rekenaars gaan kliek-kliek, die dames wat daar werk stoot trollies rond, die telefone lui, daar doer in die kinderafdeling kan jy hoor hoe lees iemand vir die kleintjies 'n storie … dis vir my lekker in 'n biblioteek. Toe ek 'n kind was, het ek met my fiets bib toe gery en heel middag ongestoord daar gesit en lees. Hulle het sulke groot leerstoele gehad. Club chairs. Waar is die dae.
Vrydag was ek weereens fliek toe - ek en Karlien het "Love and Other Drugs" gaan sien. Ann Hathaway en Jake Gyllenhaal. Ek was langtand om te gaan - ek het vermoed dis 'n rom/com en ek doen nie rom/coms nie. Maar ons het die resensies gelees en almal was dit eens dat dit nie 'n rom/com is nie. Ek het vir Karlien gesê ons moet wag en sien.
Die kenmerk van 'n rom/com is dat daar 'n misverstand kom, en dat hulle hardloop op die end. Een party moet kerk toe of lughawe toe jaag om by die ander party te kom voor hy/sy finaal "ja" sê voor die altaar, of op 'n vliegtuig klim landuit. (Dis net twee voorbeelde, daar is baie variasies.) Die gemene deler is dat hulle vir die vales hardloop of met 'n voertuig jaag, terwyl allerhande frustrerings hulle pad versper sodat die kyker nie seker moet wees of hulle dit gaan maak of nie. (Asof!)
Ewentwil, alles het goed gegaan tot op die einde, toe kom die onvermydelike misverstand, Ann klim op 'n bus Kanada toe, en Jake sit die bus agterna in sy sportmotor om haar in te haal voor sy die grens oorsteek. Voila. Rom/com.
I told you so, het ek vir Karlien gesê. Daar is 'n sekere satisfaksie in die woorde I told you so - ek hou altyd daarvan as ek die kans kry om hulle te uiter. Klem op die TOLD.
Vandag het ek hier in die huis rondgeploeter, vroeg opgestaan, die skottelgoed weggebêre wat Meraai oornag gewas het, 'n bondel wasgoed vir Gladys gegee en 'n paar hemde gestryk wat sy gister gewas het. Gladys doen nie strykwerk nie. Sy hang ook nie wasgoed op nie!
More is dit my plan om soos gewoonlik my Sondag-ekskursie na die fliek te onderneem, maar daar is niks wat ek baie graag wil sien nie. "Blue Valentine" met Michelle Williams en Ryan Gosling lyk na die beste keuse. Dit kry goeie resensies maar die titel sit my af. Hopelik gaan niemand in die laate tien minute wegbuk en vir Usain Bolt probeer nadoen nie.
Nouja, Sussie, hou lekker vakansie en kom heelhuids terug. Die lang reis op gevaarlike paaie kan nie lekker wees nie. As dit ek was, het ek nog naar geword ook op die koop toe, en oral langs die pad hopies gedaaisde wortels gelos vir die voëls van die veld. Ek het eenkeer langs die Great Ocean Road die appel opgegooi wat ek vir ontbyt geëet het, (daar was natuurlik wortel ook by) en skaars het dit grondgevat of die seemeeue sak daarop toe. Yuck!
Voor ek verdere disgusting staaltjies kwytraak, sal ek maar groet.
Liefde en groetnis tot vollende week van Karlien
No comments:
Post a Comment