Liewe Sussie,
Ek kan met genoeë die blye tyding aankondig dat ons dieretuin 'n klein ourang-outankie ryker geword het. Hulle het 'n hele stukkie op die TV gehad oor die geboorte en hulle het ons vertel dat 'n ourang-outang dame elke sewe jaar geboorte gee, en dat 85% van 'n O/Outang se DNA dieselfde is as 'n mens s'n.
Nou wonder ek … sou jy dalk verlangs familie wees van die O/O dame in ons dieretuin? Jou drie is mos almal 7 jaar uitmekaar. Sy het sover nog net die twee kinders. Ons was almal so verlig toe jou jongste 7 word en daar gebeur niks. Jy het wel nie rooi hare soos 'n Ranga nie, maar dit slaan soms 'n paar geslagte oor!
Hier by ons staan iemand met rooi hare bekend as Bluey en daar word na hom (of haar) verwys a "a Ranger" (of Ranga). Nie Ranger soos in die Lone Ranger nie, maar Ranger om te rym met Banger soos in bangers and mash. Dit is 'n afkorting vir OuRANG-outang.
Daar is 'n kompetisie om vir die nuwe Ranga-bybie 'n naam te kies. Dis 'n dogtertjie. Ons Eerste Minister is 'n Ranga, en sover dink ons die nuwe bybie se naam gaan Julia wees: dis die populêre keuse.
Later
Ek gaan more vir 'n feestelike middagete na Lindsay se huis. Ook teenwordig sal wees: haar ma Pauline en haar 2 susters Margie en Heather en my dogter Karlien. Met ons ses sal ons my en Lindsay (7 Des) se verjaardae vier. Soos ons elke jaar doen. Gewoonlik gaan yum cha ons by die Chinese, maar hd jaar het ons besluit om self te cater.
Ek bring hoenderlewer-paté vir die voorgereg en melktert vir die nagereg. Karlien kook nie, so sy bring 'n bottel champagne en 'n verskeidenheid kaas en sy verskaf ook die beskuitjies vir die kaas en die paté. Ek weet nie wat die ander dames bring nie, maar ek is seker alles sal baie lekker wees en ons sal te veel eet en elkeen sal iets wat oorbly, huis toe neem.
Die bakkies paté staan nou hier in die kombuis en wag dat ek hulle moet verseël met gesmelte botter. D het hulle raakgesien. Gelukkig het ek 'n ekstra bakkie gemaak dat hy dit op sy tous kan eet. Krismis treat.
Pasede Maandag was my boekklub se krismislunch. Al elf dames was teenwoordig en dit was baie aangenaam. Ons was by die Stamford Hotel wat nie ver van my huis af is nie. Ek het 'n vrugtekoek saamgeneem vir die Kris Kringle. Carol het dit gekry en sy was hoog in haar skik.
Ek het 'n boks gekry met vyf duur en mooi kerskaarte in. Dit was Jill se bydrae - haar dogter werk vir Hallmark en sy kry al die mooi kaarte teen 'n goeie personeel-afslag. Ongelukkig het ek reeds my drie kerskaarte uitgestuur, maar hierdies sal ek bêre vir vlg jaar. Jy sal een vd gelukkige ontvangers wees!
Die Stamford verskaf 'n senior's menu - twee gange vir $12, maar daar was niks wat ek wou hê nie, toe kies ek die Moroccan Beef Salad van die gewone menu af. Ek wou buitendien nie sop of poetieng gehad het nie. Dit was baie lekker - dun, pienk, sappige skyfies beesvleis op 'n bed van gemenge blare, met kersie-tamatietjies, skyfies pers uie, feta kaas en olywe.
Dinsdag het ek 'n ou skoolvriendin wat ook nou hier in Oz woon, ontmoet vir koffie. Sy is een van dd mense, soos Oorle' George, wat vir jou lang stories vertel van Miemie en Stefanus asof jy weet wie hulle is. Huisvriende! Ek het geen idee wie die mense is van wie se operasies en oorsese vakansies en motorongelukke en plaas-verkopings ek gehoor het nie. Ons het nietemin lekker koffie gedrink en 'n "almond croissant" gedeel.
Ek het vir haar 'n krismiskoek gegee. Sy het vir my 'n Xmas plum pudding in 'n bakkie gegee; ek moet hom in die yskas hou en kom Krismis moet ek hom in 'n pot water sit dat hy kan stoom. Ons ruil elke jaar so uit.
Nou is dit weer min of meer sela: vandag gaan ek na die verjaardagvierings by Lindsay en more gaan ek rus, ek is moeg. Ek weet nie eers of ek lus het om te gaan fliek nie.
Liefde van Karlien
No comments:
Post a Comment