Liewe Sussie,
Ek is flink uit die vere - die son wil-wil oor die horison loer. Ek het vir Gladys 'n bondel wasgoed gegee, ek het die skoon skottelgoed weggepak wat Meraai oornag gewas het, ek het twee hemde gestryk, ek het vir D 'n toebroodjie gemaak om saam te neem na sy bowls-dag en nou sit ek te suie aan 'n kommetjie tee terwyl ek my korrespondensie op datum bring. Ek moet net nie my kop te skuins hou nie, of my ligkrans val af.
Karlien het gisteraand hier geslaap en sy sal vanoggend die berg gaan klim soos Hansie Slim. Sy het nou wel nie 'n stok nie, maar darem 'n hoed. Sy bly gewoonlik so 'n 2 uur weg. Na middagete sal; ons fliek toe gaan, ek wil Catfish sien en ook Another Year, ons het nog nie besluit wat op vandag se program sal wees nie.
Maandag was boekklub en wel by Marlene se huis. Sy was vol bulte en het elke nou en dan gekrap soos 'n hond met vlooie, want sy het 'n allergiese reaksie gehad weens anti-biotika wat haar dr haar gegee het vir 'n long-infeksie.
Drie van ons lede het nie opgedaag nie en Marlene was die donner in want nie een van hulle het haar laat weet nie. Sy het baie moeite gedoen om 'n gluten-vrye tert te bak vir Alison wat vol fiemies is. Marlene reken as jy nie kan kom nie, moet jy bel en verskoning maak. Ek stem saam, maar ek sien nie hoekom dit nodig moet wees om vir mense dit te sê nie. Hulle moet dit mos self weet! Ek kan sien daar broei 'n vete. Ek hou my daaruit.
Heather het my opgekommandeer om Gaby se derde verjaardagkoek te bak. Sy bak nie. Dit moet 'n Wiggles-koek wees. Die Wiggles is vier vente wat sing en dans. Gaby is 'n Wiggles-fan, soos alle klein kindertjies. Helder kleure, eenvoudige rympies, ritmiese musiek, lekker saamsing-wysies … wat meer wil 'n kleintjie hê? Die Wiggles se grootste treffers is "Toot-toot, Chugga-chugga, big red car" en "Hot potato, mashed banana."
As die Wiggles in Melbourne kom optree, moet hulle in die Tennis Centre wees want daar is nie 'n teater in die stad groot genoeg om al hulle aanhangers te akkommodeer nie. In New York speel hulle Madison Square Gardens en al die filmsterre sit in die voorste ry met hulle kleuters. Die kleintjies dans in die paadjies soos ons destyds gedoen het in die rock-n-roll era!
Die Wiggles is Australië se rykste showbiz-mense - verlede jaar het hulle $36 miljoen verdien: meer as Nicole Kidman, Russell Crowe en Hugh Jackman.
Woensdag het ek my weeklikse mission na die biblioteek onderneem saam met May - ons het eers koffie gedrink by Vermont Shops, sy met haar cinnamon toast en ek met 'n hoender-slaai-toebroodjie. Daar het drie boeke vir my gewag.
Ek het so pas "Life" gelees, Keith Richards se memoir. A veritable eye-opener. Ek was nooit 'n groot Rolling Stones-fan nie, ek het meer vd Beatles gehou, maar dis baie interessant om te lees wat alles agter die skerms aangegaan het. Eindelik hoor ons die ware verhaal vd berugte Mars Bar insident!
Hulle ou pa, Lord Redesdale, was so 'n mooi man. Mal soos 'n haas, maar mooi. Hy was die model vir "Uncle Matthew" in Nancy se novels … "abroad is unutterably bloody and all foreigners are fiends!" Ek moet tog weer "Love in a Cold Climate" lees.
Donderdagaand het ons gaan eet by Delhi Moguls (Indiese keffie) saam met Colin en 'n vriendin wat hy saamgebring het. Sy is een van daardie mense wat jou uitvra na jou privaatsake. Elke keer wat sy my vra hoe oud is ek of waar het ek skoolgegaan, dan maak ek soos 'n politikus: ignoreer die vraag en antwoord iets heel anders. Ek het gepraat van die tennis en van die laaste fliek wat ek gesien het en van die vloede in Queensland en wat nog. Ek wonder of sy dink ek is doof! Ek hoop nie sy is 'n permanente instelling in Colin se lewe nie, want dan sal hy van my sosiale almanak af moet verdwyn.
Vrydag het ek vir Marcia ontmoet by die plaaslike kunsgalerytjie - ons het koffie gedrink in die kafeetjie en dit was soos gewoonlik baie sleg. My koffie was lou en Marcia het teen haar beterwete 'n toebroodjie bestel - sy weet 'n mens moenie daar eet nie, maar sy was honger. Die toebroodjie was duur en mikroskopies klein en baie sleg.
Die uitstalling van foto's waarna ons gekyk het, was nie sleg nie. Ek het gehou daarvan. Ek het gegril vir die foto's van tieners met anoreksie. Hulle is vel en been, Sussie. Te naar. 'n Ander fotograaf het fabrieke afgeneem - die masjienerie maak die interessantste patrone!
Later … Ek het toe Catfish gaan sien en Karlien saam met my. Ons het met ons onderskeie voertuie gery want sy wou nie weer terugkom na ons huis toe nie. Baie gehou vd fliek - dit is 'n dokumentêr en handel oor die impak wat die moderne tegnologie op ons lewens het. Food for thought! Jy kan gerus in die tou val voor die Village Odeon wanneer dit daar draai.
Hettie en Johan is hier in Melbourne vir die week. Sy wil die tennis sien en hulle bly by Andries, waar hy hulle soos gewoonlik op die vloer laat slaap terwyl hy self in sy dubbelbed slaap. Karlien sê dis net sowel, sy sal nie in Andries se bed wil slaap nie! Ek stem. Hy het nog nie die wondere van seep en water en Mum for Men agtergekom nie.
Ons gaan Dinsdagaand saam met hulle eet by Indochine: Vietnam/Cambodia/Laos se kos. Dis 'n baie gawe restaurant. D gaan nie saam eet nie, hy speel bowls. Surprise!
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren, gegroet tot vollende week. L, K.
No comments:
Post a Comment