Saterdag, flink uit die vere. Ek het gisteraand Gaby se verjaarsdag-koek gebak dat hy oornag kan af-koel, en van-oggend het ek die tjoklit-aaisieng gemaak met botter en roomkaas en caramel essens, en ek het die koek dik besmeer.
Heather het die groot kartonbord verloor wat ek met goue foelie oorgetrek het en die afgelope drie jaar gebruik vir haar kinders se koeke - sy het dit vir iemand geleen. Beeg Mistake! Newwermaaind, ek het hier 'n groot blik-skinkbord en ek het hom met silwer foelie oorgetrek.
Sussie, ek weet jy bak nie koek nie, maar hier is 'n gawe tip wat jy in die oor kan fluister van diegene wat wel koekbak en versier: voor jy die koek neersit, sit drie stukke botterpapier driehoekig neer sodat hulle net onder die koek se rand is, dan kan jy heerlik mors met die versiersel wat langs die kant afloop. Klaar versier, trek jy net die besmeerde papier uit en jou bord is mooi skoon.
Ek het mini choc cupcakes by die bakker gekoop om langs die koek te sit met die 3 kersies op, en ek het 4 sterretjie-suigstokkies in die Wiggles se kleure gekoop vir die ander 4 cupcakes. Die Wiggles is onderskeidelik geel (Greg), rooi (Murray ), blou (Anthony) en pers (Jeff). Daardie kleintjies by die paartie gaan rasend wees van al die suiker - ek is so bly ek is nie een vd ma's nie!
Ons het toe Dinsdagaand gaan eet saam met Naomi, Beryl en Stephen. (D het bowls gespeel.) Karlien het 'n bottel wyn geneem want sy weet hulle is te suinig, hulle sal nie wyn bring nie. Die ete was baie aangenaam, en toe die rekening kom, was dit $96 vir die vyf van ons. Na genoeg aan $100 wat maklik deelbaar is deur vyf. Karlien en Stephen het aan die bopunt gesit en sy sê vir hom hier is die $40 vir my en my ma. Nee, sê hy vir haar, kom ons deel dit om die helfte, gee my $50. Die kind was so uit die veld geslaan dat sy maar die ekstra $10 oorhandig het, plus nog $5 wat ek haar aangegee het vir die tip. Sussie, en net toe jy dink nou het jy alles gesien, toe steek hy daardie kontant in sy sak, ruk sy kredietkaart uit en betaal die presiese $96.
Toe hulle by die huis kom, het hulle seker lekker gelag en mekaar gelukgewens met die slag wat hy geslaan het. Gratis bottel wyn, plus Karlien het vir helfte van sy ete betaal, plus hy het die kelner se tip vir homself ingepalm. Ek het vir D gesê ek gee nie om of dit sy familie is nie, suinig is een ding maar vrekkerigheid is 'n siekte. Hule het geen skaamte nie.
Ek het ook Dinsdag sommer op impuls my hare laat sny, geen afspraak gehad nie. My kapster Madeleine is met vakansie en die ander dames by die salon was besig. Toe stap ek by 'n ander salon in waar ene Maria my die allergaafste haarsny gegee het. Ek is in die versoeking om vir Madeleine die trekpas te gee, Maria sny baie beter!
Woensdag het ek, soos elke 14 dae, saam met Joan gaan koffie drink. Ons sit vir 'n uur of wat oor ons koffie en bespreek die laaste twee weke se doen en late, dan maak ons 'n draai by die boekwinkel om te sien watter nuwe boeke is daar wat ons by die bib kan bestel, dan doen ons 'n bietjie inkope by die supermark. Sy moet altyd katkos koop want haar aristokratiese Burmese kat Mimi is baie lekkerbekkig en eet net so twee dae een soort kos, dan soek sy 'n verandering.
Ons het hd keer baie gehad om oor te praat - ek het my suinige skoonfamilie uitgekryt en Joan haar spandabeliges. Joan se man het 'n suster wat in NSW woon - gelukkig nie in Melbourne nie! Die skoonsuster gee vir Joan opdraand - ek sal jou nie met die details verveel nie, maar sy en N kon familie gewees het!
Donderdag was Burns Day, dit sal seker nie op jou radar wees nie, ondanks jou ouer seuns se Skotse afkoms. Robbie Burns se verjaardag. D het tien van sy bowls-gabbas genooi om Burns Night hier aan huis te kom vier. (Party bring die haggis en ander bring die neeps en die tatties (turnips and potatoes). Jy kan sien hoekom ek my uit die voete gemaak het lank voor die eerste gaste opgedaag het!
Ek het vir hom die tafel gedek vir tien gaste, en toe klim ek op my modderkar en ek ry na Knox, waar ek 'n bietjie geshop het en toe in die biblioteek lekker gesit en lees het tot ek 'n vriendin ontmoet het by die Lemon Leaf, 'n Thai restaurant waar ons geëet het. Na ete het ons fliek toe gegaan en The Fighter gesien. Mark Wahlberg, Amy Adams en Melissa Leo. Baie daarvan gehou. Jy kan maar inklok by die Village Odeon om dit te sien.
Na fliek weer koffie gedrink want ek wou nie te vroeg by die huis kom nie. Middernag, toe ek in my pampoenkoets voor die deur stilhou en uitklim met my glas-slippertjies aan my agterpote, toe is die party nog in volle swang. Ted speel die bagpipes en almal sing. Ek weet nie wat die bure gedink het nie. Ek het rondom die huis geloop en agter in Karlien se woonstel gaan slaap. Ek het vooraf my nagkabaai en goed daar gelos, vir die wis en die onwis. Ek het my kamerdeur toegemaak en van niks verder geweet nie.
Vollende oggend 'n skoon huis aangetref - D het alles deur die skottelgoedmasjien gesit en weggepak. Hy het ook die wyn-bemorste tafeldoek gewas, asook die mat waar hulle wyn gemors het. Hy sê hy het die laaste drie gaste halftwee in 'n taxi gesit en toe was hy nog meer as 'n uur besig om op te ruim. Hy was gedaan!
Ek het vir hom gesê nou weet hy hoe voel dit om agter 'n dinnerparty op te ruim soos ek al die jare gedoen het. Been there, done that, Sussie, got the T-shirt. Ek cater nooit weer 'n dinner party nie en ek ruim beslis nooit weer een op nie!
Een vd gaste is glo in D se klere huis toe, want hy het 'n glas wyn omgestamp op homself. Vandaar dat die tafeldoek en die mat in die slag gebly het. Later die dag toe bel die gas en vra waar is sy klere. D sê jy het daarmee in jou hand die taxi bestyg. Hy was seker so besope dat hy dit in die taxi gelos het! Ek hoop nie dit was sy beste bib and tucker nie. Ewentwil, D sê hy gaan nie weer 'n dinnerparty hou nie, vlg jaar kan hulle Burns Night by die klub vier. Ek het vrede, dit het niks met my te doen nie.
Vrydag het ek die May-roetine gevolg: skinny decaf latte en 'n toebroodjie vir my, flat white en cinnamon toast vir haar; boeke omgeruil by die bib; vars groente en vrugte gekoop by Get Fresh - daarna het ek en May ons onderskeie voertuie bestyg en weg huis toe.
Die vars produkte word nou baie duur, want alles kom van Queensland af en die plase is verspoel. Julia, ons Eerste Minister, het aangekondig sy hef hierdie jaar ekstra belasting - tussen $50 en $100 per persoon, na gelang van jou inkomste. Mense wat vloedskade gely het, hoef nie te betaal nie. Dit sal drie biljoen dollars inbring, wat sal help om Queensland se infrastruktuur te vervang. Die paaie en bruggens en treinspore het weggespoel of is so verswak dat dit vervang moet word. Duisende openbare en private geboue is daarmee heen. Waar moet al die ambagsmanne vandaan kom? Die totale rekening sal seker nader aan agt biljoen wees. Min mense praat teë - ekself dra blymoedig my deel by.
More gaan sien ek Another Year. Ek het vir Karlien gesê as sy wil saamgaan, moet sy my voor 12 laat weet want dis wanneer ek gewoonlik op die rekenaar klim om te bespreek en my kaartjie uit te druk. Dis so lekker om nie hoef tou te staan nie, jy kan jou sitplek kies en alles. By die Village Odeon moet julle seker nog toustaan!
Nouja, Sussie, wederom tot verdere orders.
YY en groetnis,
Katrien
No comments:
Post a Comment