Liewe Sussie,
Die tyd stap aan, soos hy gewoond is om te doen.
Ek sit nou hier en wag vir 'n vent om my ou yskas te kom haal. Ons het die yskas saam met die huis gekry - hy het daar om die hoek by die kroegie in die tv-kamer gestaan. Ons het die koeldrank en die bier in hom gehou. En die wit wyn.
Nou anderdag het D vir hom 'n behoorlike wyn-koelkas gekoop - jy kan die ding se temp stel tussen 14 en 18 grade - na gelang van hoe koud jy jou wyn wil hê. Die ou yskassie moes plek maak vir dié spoggerige elektroniese wyn-kelder.
Liewer as om hom op die sypaadjie te sit vir die munsipaal se volgende "hard rubbish collection", het ek sy foto geneem (met oop deur en toe deur) en hom op eBay geadverteer. Ek het die reserwe-prys 99 sent gemaak, want al wat ek wou hê is dat iemand hom moet verwyder. Lang storie kort - die bieërs het die prys opgestoot tot by $55! Daar het jy dit nou. Ek beskou dit as $55 afslag op D se nuwe wyn-friets.
Jy onthou D se niggie Lee. Haar sestienjarige kleindogter Tara (Mindy se dogter) het nou 'n bybie. Die outjie se naam is Jesiah. Dit kon maar Jeremia ook gewees het, want Lee is nie baie in haar skik met haar ouma-grootjieskap nie!
Ironies genoeg, Lee is 'n verpleegster en werk al die jare by Family Planning. Sy sê dis nie of haar kleindogters nie weet van kondome nie - erger as die gevaar van bybies is die gevaar van allerlei nare siektes! Genital warts, gonhorrea, syph, hepatitis, Aids, noem maar op.
Ewentwil, daar het ons nou vir Jesaja - die nuutste takkie aan die familieboom. Jesaja het by sy ma ingetrek in haar kamer in die ouerhuis. Sy ma gaan skool en sy ouma pas hom op.
Mindy is self baie jonk om 'n ouma te wees, maar nouja, wat kan sy doen? Jy weet hoe dit is as jou kinders 'n hond huistoe bring, dis altyd Ma wat hom moet kosgee en versorg. Seker ook so as jou tiener 'n bybie huis toe bring. Van Jesaja se pa hoor ek niks. Hy is seker te besig: hulle kry baie huiswerk in Standerd Agt.
Ek het hierdie week al tweemaal gaan fliek en dis nog nie eers Sondag nie! Ek het saam met Karlien Blue Valentine gesien en ondanks die goeie resensies nie baie daarvan gehou nie. Die regisseur glo aan close-ups - jy kyk die hele tyd so naby aan die mense se gesigte dat jy elke ooghaar en sweetgaatjie kan sien. Dit gee my claustro. Plus die kameraman hardloop agter die akteurs aan met die kamera in sy hand - dit maak my seesiek. Ek was bly toe ek kon huis toe gaan, ek het helfte vd tyd met toe oë gesit. Jy moet maar tuisbly wanneer die Village Odeon dit aanbied.
Gister het ek op my eie gegaan en Morning Glory gaan sien. Nog 'n goeie een om te vermy. Deurentyd word daar opgewonde geskree en histeries gegiggel. Die humor bestaan uit mense wat struikel oor die meubels en koppies stukkend laat val op die vloer.
Vanmiddag gaan ek die Lipson dames ontmoet vir middagete. Lindsay en Margaret is albei met verlof by hulle onderskeie werke. Ons gaan na die Treasure (plaaslike Chinese keffie) vir 'n yum cha.
Karlien is weg na Mirboo om Sarah se nuwe bybie te gaan sien. Lola May. Ek weet nie wat haar van is nie. Dalk het hulle nog nie besluit nie.
Ek weet nie of ek jou vertel het Sarah en Aaron is uitmekaar nie. Dit was nie Aaron se idee nie, hy het niks verkeerd gedoen nie. Maar Saz het gesê sy is nou verveeld met hom en sy soek nuwe weivelde. Skaars is hulle uitmekaar of sy het begin shop en nie lank nie, of sy het vir Gary op appro. Hy het nie satisfaksie gegee nie, toe installeer sy vir Ben. Ben was ook nie na wense nie … third time lucky het Phil sy intrek geneem. En siedaar, agtien maande na Saz vir Aaron die trekpas gegee het, het Lola haar verskyning gemaak op die toneel, 'n sussie vir Claire en Leigh. Phil is glo baie in sy skik, dis sy eerste vaderskap. Ekself het nog nie vir Lola ontmoet nie, maar ek het saam met Karlien 'n geskenkie gestuur.
Karlien bly net oornag, sy sal more weer tuis wees. Mirboo is net 2 uur se ry uit Melbourne . Karlien oornag nie by Sarah aan huis nie, sy het 'n kamer by die pub bespreek soos sy altyd doen as sy soontoe gaan. Hulle het vier kamers bokant die pub, mooi skoon en gerieflik met eie stort en spoelie.
D verjaar vlg Dinsdag maar dan sal hy in Geelong wees vir 'n bowls-toernooi, so ons gaan Sondagaand eet by die East Empress (Ch keffie) vir die okkasie. Hy sal bly wees om geskenke te kan oopmaak, want ons het mos krismis gekanselleer en geen presente uitgedeel nie. Ek en Karlien het besluit ons maak sy verjaardag 'n Skotse okkasie - hy kry die DVD box set van die BBC se "History of Scotland", plus diverse DVDs en boeke met Skotse strekking. Les bes 'n bottel single malt Scotch whisky in die kluis.
Ongelukkig is hier nie 'n Skotse restaurant naby nie, nou moet hy maar die chopsticks swaai by die East Empress. Hier was 'n tyd gelede 'n Harry Ramsay fish and chips (dis 'n Skotse ketting) maar hulle het toegemaak. 'n Ex-pat Skot wat saam met my by die bib gewerk het, het altyd soontoe gegaan vir sy fish and chips and mushy peas. Trane in sy oë van nostalgie en heimwee na Glasgow. Mushy peas is vir my niks om oor huis toe te skryf nie. Ruk 'n blik ertjies oop en druk hulle fyn met 'n vurk, en siedaar! Mushy peas soos hulle dit in Glasgow eet saam met hulle vissentjips.
Latervantyd … die vent Rick het toe die yskas kom haal en hom eiehandig op sy bakkie gelaai. Hy sê hy was in die removal business en ek kan sien hy weet wat hy doen. Hy het my $55 in die hand gestop, no worries. So met die laai en die vasmaak en alles, het hy aanmekaar gesels, ons is nou omtrent huisvriende. Ek kan jou sy lewensverhaal en dié van sy vrou en seun vertel.
Jo kondig aan dat die bybie koliek het en dat sy weer by Nelia en Fred ingeklok het om hand by te sit met die drill. Hulle bou glo nou flink aan haar granny flat in die jaart, en sy is gretig om permanent haar intrek daar te neem want haar woonstel se huur het weer opgegaan en sy kan dit nie meer bekostig nie.
Nouja, Sussie, dan groet ek maar tot vollende week. Ek hoop om eersdaags weer 'n brief van jou in my posbus te bespeur.
Groetnis van huis tot huis, Katrien.
No comments:
Post a Comment