Monday, July 7, 2014

Noel Coward en Rooi Jan


Saturday, 8 March 2014

Liewe Sussie,

Goeie nuus! Ek het twee briewe gelyk ontvang. Ek dink ons is nou op datum. Ons moet seker maar gedwee aanvaar dat die posmense eers moet klaar lees voor hulle ons briewe aanstuur. Party neem lank om elke woord uit te klank. En dan moet hulle hierdie kant nog die vertalers ook inkry, dit neem alles tyd.

Jy sê jy het niks van my gehoor nie, maar ek kan jou verseker ek skryf elke week en elke Maandagoggend gee ek my brief vir D om te pos as hy sy koerant gaan koop en by die plaaslike poskantoor gaan kyk vir pos in ons bussie. Ek het alle vertroue dat hy my briewe pos en joune vir my bring as hy hulle in die bussie kry. Ek glo nie hy gooi hulle weg nie.

Jy weet hoe ek jou nuwe laaaang adres op my rekenaar bewaar het en elke week druk ek dit, knip dit uit en plak dit op die koevert. Maar Sussie, toe raak ek te slim vir my eie beswil en ek bestel vir my ‘n besending plakkers* met jou adres op. (*Stickers, nie squatters nie!) Gawe winskopie, net vier dollars vir ‘n duisend en dan hoef ek nie te woeker mer skêre en gom nie.

Toe ek die plakkers kry, sien ek tot my leedwese dat hulle glad te klein is vir die doel. Ag, nouja, elke donker W het ‘n silwer R, en hulle is ideaal vir jou gebruik. Ek sal hulle aanstuur. Jy kan hulle orals plak waar jy jou laaaang adres moet neerskryf. Agterop koeverte of waar ookal. Hou te alle tye ‘n paar in jou handsak vir die wis en die onwis.

Die slegte nuus is dat jy nie nou kan trek of doodgaan nie, jy sal ‘n verdere ses-en-dertig jaar daar in die Wilgers moet bly om ‘n duisend plakkers op te gebruik, jy kan hulle nie mors nie!

Hierdie week se Australiese uitdrukking ... ek kry email van Elaine as volg:

I just got a group email from the HR department using the phrase "catch two birds in one swoop".

Ek dink nog die beste een is “opening a Pandora’s floodgate of worms.”  Dis baie beter as sommer ‘n gewone ou boks!

Op die radioprogram waarna ek vroegoggend luister, speel hulle eergister vir ons ‘n stukkie getuienis wat ‘n vrou gelewer het in die Oscar P-saak. Sy sê sy het ‘n skoot gehoor en die advokaat vra vir haar of sy seker is dit was ‘n skoot en nie ‘n hou teen die deur met ‘n krieketkolf nie.  Haar antwoord hierop verskaf eindelose hilarity and mirth hier. Hulle speel dit oor en oor: en elke keer lok dit uitbundige gelag uit en almal bel in met gevatte aanmerkings en grappies. Sy het gesê: “I know a gunshot when I hear one. I think you’ll find most South Africans know what a gunshot sounds like!”  

Dis tye soos dié wat ek opnuut besef Australië  is ‘n ander wêreld, nie net ‘n ander land nie. Hier is baie min mense wat in hulle hele lewe, van wieg tot graf, ‘n vuurwapen sal sien of hoor, behalwe op die TV. Dié wat op plase woon, sal wel ‘n geweer ken. Maar ‘n pistool is ongekend. Die idee van ‘n hele land vol mense wat kennis dra van pistoolskote, is so surrealisties dat hulle net kan lag.

‘n Pistool is in Australiërs se koppe nie ‘n werklikheid nie, dis net iets waarvan jy in stories hoor, soos ‘n ray gun in die comics.  Die naaste wat jy sal kom daaraan om ‘n regte een te sien, is in sy holster op ‘n poliesman se heup. Dis nie moontlik vir ‘n lid vd publiek om ‘n lisensie vir ‘n handwapen te kry nie. Maak nie saak wat jou rede is nie. Die antwoord is net NEE.  

Elaine is gister weg na die Golden Plains musiekfees by Meredith wat sy elke jaar bywoon, sy kom Sondagaand terug. Hulle is nie so ‘n groot groep soos gewoonlik nie, net vyf stuks. Gewoonlik is hulle ‘n dosyn of meer. Tony is in Inverloch vir die lang naweek saam met sy girlfriend Sarah, Sam is in Sydney vir ‘n familietroue, ‘n ander vriendin en haar man bly tuis want hulle gaan enige oomblik ‘n bybie kry, en so aan vort. Elaine het saam met Matt en Amanda gery in hulle enorme voertuig (jy ken diesulkes) en dit is net Jared en Paul wat hulle daar sal ontmoet.  Ek is seker hulle sal met hulle vyf stuks groot pret en plesier hê soos altyd. Ek kry elke aand ‘n SMS om te sê hvng a gr8 tm!

Met dié dat Elaine op Meredith is, gaan Paul vandag saam met my na die toneelstuk toe. Ons gaan sien Noel Coward se Private Lives. Ek weet ons al daarvan hou, want albei van ons het dit verskeie kere geniet deur die jare! Een van P se dogters sal haar hierheen bring voor vertrektyd  en weer kom haal wanneer ons terug is. Ek gaan beslis nie East Ringwood toe schlepp om vir Paul te gaan oplaai en dan van daar af stad toe ry nie.

Later ... ons het toe Private Lives gaan sien en geniet soos ek verwag het ons sal doen. Ek is bly hulle het die 2de en 3de bedryf saamgevat en nie ‘n pouse tussenin gehou nie. Daar was wel ‘n eerste pouse (kort-speeltyd) van 15 minute. Ek hou niks van pouse by die teater nie; jy moet altyd opstaan dat diegene wat wil uitgaan, kan verbyskuifel.

Daar is so min beenruimte in die teater, as jy bly sit, is jou knieë vas teen die ry voor jou. Mense met lang bene moet skuins sit. Hulle forseer te veel rye in, uit pure gierigheid. Die uitgaan is nog oraait want almal gaan gelyk uit en jy staan net dus eenmaal op, maar hulle kom nie almal gelyk terug van pouse af nie en dan jy is up and down like a fiddler’s elbow, of soos my fatsoenlike  landgenote ook lief is om te sê, up and down like a whore’s drawers. (A hôs drôs.)

Die jaarlikse Moomba-fees is ook aan die gang in die stad, daar is bote op die water en vleisbraaiery langs die rivier, daar is merry-go-rounds in die parke en straatventers wat fairy floss en roomys verkoop.  Die mense stroom reeds in om die beste posisies te bekom vir vanaand se vuurwerke. Dit het my seker ‘n halfuur geneem om die twee kilometers te vorder vanaf die teater tot by die oprit van die snelweg. Maar toe ons eers op die snelweg is, was die pad oop vorentoe, want baie mense is uitstedig vir die lang naweek.  

Paul het vir L gebel toe ons op die snelweg klim, en sy het voor die huis gewag toe ons arriveer. Ek was bly sy was daar en hulle het dadelik gery, toe het ek nie nodig gehad om vir Paul tee te maak en te entertain nie. Ek was moeg en my rug is seer, ek weet nie hoekom nie, ek is nie ‘n seer-rug-man nie. Miskien het ek sleg gesit in die teater.

I’ll see how I pull up tomorrow. Nog ‘n Australiese uitdrukking. As jy ‘n skeet het, dan vra hulle die volgende dag how did you pull up? Nie how do you feel now nie. Ek verstaan dit nie, maar ek praat maar saam. Vandag het jy ‘n skeet, more pull jy up. Sportmanne pull dikwels up. Vandag maak hulle ‘n enkel seer, more hoor jy “he pulled up fine after a massage.”

D is ook pas terug van sy bowls wedstryd. Hy het reeds gestort en sy nagkabaai en kamerjas aangetrek.  Stelling ingeneem voor die TV om rugby te kyk. Hy het nie navraag gedoen oor my toneelstuk nie. As Elaine hier was, sou sy vir hom gesê het: “We enjoyed the play, thank you for asking!” , maar ek steur my nie aan sy gedrag nie, ek is dit gewoond. Hy het in sy ma verander.

Ek is bly jou skoonmaakdienste lewer goeie werk. Ek is ook baie tevrede met my nuwe ousie, Joy. So far so good, ek hoop sy vee nie net skoon omdat sy ‘n nuwe besem is nie.

Ek is bly jy kan by die teater-klub aansluit. Dis altyd lekker om ‘n toneelstuk te sien en baie van die amateurgroepe is heel talentvol. Jy kan maar hulle spelling van Theater Club oorsien, my teorie is hulle het die kennisgewing getik en dit toe deur die “spell checker” gesit. Tensy jy jou spell checker opdrag gee om Britse Engels te gebruik, sal hy die Amerikaanse spelling op jou afdwing.

Dis ‘n Groot Fout om jou op die rekenaar se spell checker te verlaat: hy aanvaar enige woord wat korrek gespel is (op Amerikaans), maar hy kan bv nie onderskei tussen there en their nie. Elaine sê sy moet gereeld vir haar troepe ‘n verslag teruggee omdat daar so baie spelfoute is, dan sê hulle : “But I put it through the spell checker!” Elaine sê: “Use the spell checker at the end of your neck.” Maar natuurlik het hulle nooit op skool geleer spel nie, so die spell checker aan die end van hulle nekke is nie van veel hulp nie. Ek is so bly ons kinders het skoolgegaan toe hulle nog op skool tafels en spelling en sinsontleding geleer het.

Dis ook my teorie dat as ‘n mens lees, kan jy spel. Maar al hoe minder van hulle lees vir plesier. Jy sien mos die woorde in die boeke wat jy lees en dan onthou jy hoe hulle lyk en siedaar, jy kan spel!  Mind you, ek sien al hoe meer spel- en grammatika-foute in alles wat ek lees. Diegene wat moet nagaan vir spelfoute, kan ook nie spel nie! Toe hulle opgehou het om kinders te leer spel, het die eerste domino geval, nou tuimel hulle in ‘n onkeerbare kettingreaksie. Die nuwe generasie onderwysers is die generasie wat nie geleer spel het nie. Hoe moet hulle nou die kinders leer? Wat op hulle beurt nie kan spel nie, want niemand kon hulle dit leer nie en so gaan ons aan. Meanwhile is ons hvng a gr8 tm op ons telefone, OMG en LOL. 

En ek is ook bly ons kinders het (net-net!) die elektroniese speletjies-era vrygespring. Hulle het nog buite gespeel en boeke gelees. Onthou jy hoe het SAfr aanvanklik net 5 uur lank TV op ‘n dag gehad? Net van 4nm tot 9nm, die eerste jaar. En selfs die eeste drie jaar, toe dit tot middernag aangehou het, het dit eers 4nm ingeskop, as ek reg onthou. Jy kon nie heeldag op die soufa lê en TV kyk nie.  Nou is dit vyftig kanale, 24/7.

Ek het in ‘n grumpy old woman verander.

Ek brei ook nog knaend truitjies en mussies. Elke truitjie kry sy mussie. Ek het anderdag my wolle aangevul – ek het strepieswol gekoop. Ek hou van die wol wat so elke tien of twaalf meters van kleur verander, dan kan jy ‘n goeie streep brei voor die volgende kleur inskop. Dié wat so elke ses duim van kleur verander, maak net kolle en vlekke. Ek het in die “gestreepte” wol een met skakerings van pienk gekoop en ‘n ander een wat ‘n hele klomp helder kleure het, maar tussen elke twee helder kleure is daar ‘n streep wit. Dis baie mooi. Ek gaan lekker brei. Ek sal die ribbings in wit wol brei.

Gister het Paul vir my vertel sy hoor van haar vriendin in Jhb dat daar sulke groot verspoelings was. Ek hoop nie julle het ook deurgeloop nie. Jy het nie vloedwaters nodig in jou huis nie. Onthou jy vir Rooi Jan? Een vd boeke was getitel “Vloedwaters en Vlamme”. Rooi Jan met sy swart perd en sy twee luiperds, wat so saam met die Voortrekkers toer en kaffers uitroei sover hy gaan. Verbeel jou die oproer as daar vandag ‘n Rooi Jan boek op ‘n winkelrak verskyn. Ek moet tog Google en sien of daar nog ‘n Rooi Jan boek iewers in die wêreld bestaan.

Toe ek een vakansie by Tant H op Rosendal gekuier het, het Oom Hermaans Krause wat langsaan gewoon het, vir my sy Rooi Jan boeke geleen. Daar was ‘n hele reeks. Hy het ook al daardie speurverhale gehad deur Hendrik Brand en nog so ‘n ander reeks wat gegaan het oor die ou Kaap, dit was so ‘n soort Georgette Heyer-tipe reeks. Ek het heeldag op die stoep in ‘n deck chair gelê en lees. Happy days. Is dit net so sleg om heeldag op die stoep te lê en lees as om heeldag op die soufa te lê en TV kyk? Heel waarskyklik kan ‘n mens by die regering ‘n grant kry om navorsing te doen.

Ag, Sussie, jy sê jou TV keuse is beperk met vier kanale. Ons het vyftig of meer, ek daar is niks wat ek wil sien nie. Ek is nie ‘n kranige TV kyker nie. Ek hou van kunsprogramme en ander dokumentêre programme, nou en dan ‘n BBC dramareeks. Ek neem die DVDs wat ek wil sien, uit by die bib. Ons het die Foxtel-TV sodat D na die sport kan kyk, hy wil niks misloop nie! Hulle wys nie rugby op die TV hier in Victoria nie. Foxtel kry ook al die Olimpiese goed en al die internasionale atletiek en die krieket en goed – as Australië nie speel nie, dan wys hulle nie die sport op die “free to air” TV nie.

Ek het sopas ‘n bondel wasgoed opgehang. Hulle sal gou droogword, dis weer 35 vandag en sal glo vir drie dae so aanhou. Ek is al baie op vir somer.

Elaine is nog steeds by die musiekfees, ek het vir D saamgenooi fliek toe. Ons gaan sien Nebraska. Ek is seker ons gaan daarvan hou. Ek sal later rapporteer, nou moet ek eers my bo-klere gaan aantrek. Ek het vanoggend na my stort net my onderklere en my “brunch coat” (alias dun katoen-kamerjaponnetjie) aangetrek.

Maandagoggend ... Ek wil gou klaar skryf dat ek die brief vir D kan gee om te gaan weggooi op pad poskantoor toe.

Ek kan Nebraska baie hoog aanbeveel. Dis in swart/wit, pragtig gefotografeer. Dis ‘n road trip movie, pa en seun wat ry van Montana na Nebraska. Wye vlaktes en klein dorpies, kan enige plek in SA of Australië wees, klein dorpie-mense is dieselfde orals. Vol humor en ook ‘n bietjie treurig op plekke. Die lag met die traan, en ‘n happy ending, wat meer kan jy verlang.

Ek het gisteraand vlugtig met N gepraat. My Skype was nie mooi op dreef nie en sy was haastig want hulle het te laat vd kerk af gekom om te begin koskook, hulle was op pad uit om te gaan eet by die Kalahari Lodge. Ek ken dit nie, maar jy sal wel.

Ewentwil, N rapporteer dat C 1 April inklok by haar nuwe werk in Botswana. Hulle huis staan gereed en wag vir hulle, en N is heeltemal tevrede met die trek want so baie mense wat sy ken, verseker haar van melk en heuning. Ek glo hulle sal lekker bly en veilig wees daar; alles wat ek van Botswana hoor, is positief.

Elaine se vriendin Cindy wat in Ghana woon, pos vandag op Facebook dat sy na haar nuwe huis getrek het. Sy sê: Well that's the first time I have ever moved house and taken my water with me. Precious commodity. Sussie, ek is bly ek woon in ‘n land waar ek ‘n kraan kan opdraai. Elaine het my vertel dat die huise daar wel spoeltoilette het, maar daar staan ‘n emmer water in die toilet en jy spoel daarmee. Hulle gebruik seewater, die lorrie met die tenk kom verby dat jy jou emmers kan volmaak.

Daar is so baie voorregte wat ons het en nie eens aan dink nie. Hier is ‘n organisasie genaamd Days for Girls, wat pakkette opmaak om te stuur aan Afrikalande waar dit uitgedeel word aan vrouens. Die pakket bestaan uit ‘n katoen-sakkie met daarin ‘n sepie, ‘n waslappie en twee panties, plus die soort gedoente wat Ma my van vertel het: ‘n houer met ‘n belt en wasbare voerings wat jy daar kan insit vir menstruasie-doeleindes. Daar is baie dele vd wêreld waar geen sanitêre middels beskikbaar is nie, en daardie meisies verloor elke maand drie tot vyf dae omdat hulle nie kan skool toe of werk toe gaan nie.  Hulle gebruik blare en mieliestronke en enige rubbish en kry infeksies. Die slegste is dat sommige van hulle uitgebuit word deur onderwysers of werkgewers wat vir hulle ‘n pak pads sal gee in ruil vir seks. Kinders van twaalf. Watse soort wêreld is dit waarin ons leef.

Hier is ‘n stukkie uit hulle website:

​What if not having sanitary supplies meant DAYS without school, DAYS without income, DAYS without leaving the house? Girls use leaves, mattress stuffing, newspaper, corn husks, rocks, anything they can find...but still miss up to 2 months of school every year. Worse, girls are often exploited in exchange for hygiene. It turns out this issue is a surprising but instrumental key to social change for women all over the world. The poverty cycle can be broken when girls stay in school.

Nouja, Sussie, op daardie treurige noot sal ek maar groet tot vollende keer.

Bly mooi, ek sien uit na my volgende sarsie briewe van jou!

Love,

Suster katrien ¬ J C

 

No comments:

Post a Comment