Monday, July 7, 2014

Noel Coward en Rooi Jan


Saturday, 8 March 2014

Liewe Sussie,

Goeie nuus! Ek het twee briewe gelyk ontvang. Ek dink ons is nou op datum. Ons moet seker maar gedwee aanvaar dat die posmense eers moet klaar lees voor hulle ons briewe aanstuur. Party neem lank om elke woord uit te klank. En dan moet hulle hierdie kant nog die vertalers ook inkry, dit neem alles tyd.

Jy sê jy het niks van my gehoor nie, maar ek kan jou verseker ek skryf elke week en elke Maandagoggend gee ek my brief vir D om te pos as hy sy koerant gaan koop en by die plaaslike poskantoor gaan kyk vir pos in ons bussie. Ek het alle vertroue dat hy my briewe pos en joune vir my bring as hy hulle in die bussie kry. Ek glo nie hy gooi hulle weg nie.

Jy weet hoe ek jou nuwe laaaang adres op my rekenaar bewaar het en elke week druk ek dit, knip dit uit en plak dit op die koevert. Maar Sussie, toe raak ek te slim vir my eie beswil en ek bestel vir my ‘n besending plakkers* met jou adres op. (*Stickers, nie squatters nie!) Gawe winskopie, net vier dollars vir ‘n duisend en dan hoef ek nie te woeker mer skêre en gom nie.

Toe ek die plakkers kry, sien ek tot my leedwese dat hulle glad te klein is vir die doel. Ag, nouja, elke donker W het ‘n silwer R, en hulle is ideaal vir jou gebruik. Ek sal hulle aanstuur. Jy kan hulle orals plak waar jy jou laaaang adres moet neerskryf. Agterop koeverte of waar ookal. Hou te alle tye ‘n paar in jou handsak vir die wis en die onwis.

Die slegte nuus is dat jy nie nou kan trek of doodgaan nie, jy sal ‘n verdere ses-en-dertig jaar daar in die Wilgers moet bly om ‘n duisend plakkers op te gebruik, jy kan hulle nie mors nie!

Hierdie week se Australiese uitdrukking ... ek kry email van Elaine as volg:

I just got a group email from the HR department using the phrase "catch two birds in one swoop".

Ek dink nog die beste een is “opening a Pandora’s floodgate of worms.”  Dis baie beter as sommer ‘n gewone ou boks!

Op die radioprogram waarna ek vroegoggend luister, speel hulle eergister vir ons ‘n stukkie getuienis wat ‘n vrou gelewer het in die Oscar P-saak. Sy sê sy het ‘n skoot gehoor en die advokaat vra vir haar of sy seker is dit was ‘n skoot en nie ‘n hou teen die deur met ‘n krieketkolf nie.  Haar antwoord hierop verskaf eindelose hilarity and mirth hier. Hulle speel dit oor en oor: en elke keer lok dit uitbundige gelag uit en almal bel in met gevatte aanmerkings en grappies. Sy het gesê: “I know a gunshot when I hear one. I think you’ll find most South Africans know what a gunshot sounds like!”  

Dis tye soos dié wat ek opnuut besef Australië  is ‘n ander wêreld, nie net ‘n ander land nie. Hier is baie min mense wat in hulle hele lewe, van wieg tot graf, ‘n vuurwapen sal sien of hoor, behalwe op die TV. Dié wat op plase woon, sal wel ‘n geweer ken. Maar ‘n pistool is ongekend. Die idee van ‘n hele land vol mense wat kennis dra van pistoolskote, is so surrealisties dat hulle net kan lag.

‘n Pistool is in Australiërs se koppe nie ‘n werklikheid nie, dis net iets waarvan jy in stories hoor, soos ‘n ray gun in die comics.  Die naaste wat jy sal kom daaraan om ‘n regte een te sien, is in sy holster op ‘n poliesman se heup. Dis nie moontlik vir ‘n lid vd publiek om ‘n lisensie vir ‘n handwapen te kry nie. Maak nie saak wat jou rede is nie. Die antwoord is net NEE.  

Elaine is gister weg na die Golden Plains musiekfees by Meredith wat sy elke jaar bywoon, sy kom Sondagaand terug. Hulle is nie so ‘n groot groep soos gewoonlik nie, net vyf stuks. Gewoonlik is hulle ‘n dosyn of meer. Tony is in Inverloch vir die lang naweek saam met sy girlfriend Sarah, Sam is in Sydney vir ‘n familietroue, ‘n ander vriendin en haar man bly tuis want hulle gaan enige oomblik ‘n bybie kry, en so aan vort. Elaine het saam met Matt en Amanda gery in hulle enorme voertuig (jy ken diesulkes) en dit is net Jared en Paul wat hulle daar sal ontmoet.  Ek is seker hulle sal met hulle vyf stuks groot pret en plesier hê soos altyd. Ek kry elke aand ‘n SMS om te sê hvng a gr8 tm!

Met dié dat Elaine op Meredith is, gaan Paul vandag saam met my na die toneelstuk toe. Ons gaan sien Noel Coward se Private Lives. Ek weet ons al daarvan hou, want albei van ons het dit verskeie kere geniet deur die jare! Een van P se dogters sal haar hierheen bring voor vertrektyd  en weer kom haal wanneer ons terug is. Ek gaan beslis nie East Ringwood toe schlepp om vir Paul te gaan oplaai en dan van daar af stad toe ry nie.

Later ... ons het toe Private Lives gaan sien en geniet soos ek verwag het ons sal doen. Ek is bly hulle het die 2de en 3de bedryf saamgevat en nie ‘n pouse tussenin gehou nie. Daar was wel ‘n eerste pouse (kort-speeltyd) van 15 minute. Ek hou niks van pouse by die teater nie; jy moet altyd opstaan dat diegene wat wil uitgaan, kan verbyskuifel.

Daar is so min beenruimte in die teater, as jy bly sit, is jou knieë vas teen die ry voor jou. Mense met lang bene moet skuins sit. Hulle forseer te veel rye in, uit pure gierigheid. Die uitgaan is nog oraait want almal gaan gelyk uit en jy staan net dus eenmaal op, maar hulle kom nie almal gelyk terug van pouse af nie en dan jy is up and down like a fiddler’s elbow, of soos my fatsoenlike  landgenote ook lief is om te sê, up and down like a whore’s drawers. (A hôs drôs.)

Die jaarlikse Moomba-fees is ook aan die gang in die stad, daar is bote op die water en vleisbraaiery langs die rivier, daar is merry-go-rounds in die parke en straatventers wat fairy floss en roomys verkoop.  Die mense stroom reeds in om die beste posisies te bekom vir vanaand se vuurwerke. Dit het my seker ‘n halfuur geneem om die twee kilometers te vorder vanaf die teater tot by die oprit van die snelweg. Maar toe ons eers op die snelweg is, was die pad oop vorentoe, want baie mense is uitstedig vir die lang naweek.  

Paul het vir L gebel toe ons op die snelweg klim, en sy het voor die huis gewag toe ons arriveer. Ek was bly sy was daar en hulle het dadelik gery, toe het ek nie nodig gehad om vir Paul tee te maak en te entertain nie. Ek was moeg en my rug is seer, ek weet nie hoekom nie, ek is nie ‘n seer-rug-man nie. Miskien het ek sleg gesit in die teater.

I’ll see how I pull up tomorrow. Nog ‘n Australiese uitdrukking. As jy ‘n skeet het, dan vra hulle die volgende dag how did you pull up? Nie how do you feel now nie. Ek verstaan dit nie, maar ek praat maar saam. Vandag het jy ‘n skeet, more pull jy up. Sportmanne pull dikwels up. Vandag maak hulle ‘n enkel seer, more hoor jy “he pulled up fine after a massage.”

D is ook pas terug van sy bowls wedstryd. Hy het reeds gestort en sy nagkabaai en kamerjas aangetrek.  Stelling ingeneem voor die TV om rugby te kyk. Hy het nie navraag gedoen oor my toneelstuk nie. As Elaine hier was, sou sy vir hom gesê het: “We enjoyed the play, thank you for asking!” , maar ek steur my nie aan sy gedrag nie, ek is dit gewoond. Hy het in sy ma verander.

Ek is bly jou skoonmaakdienste lewer goeie werk. Ek is ook baie tevrede met my nuwe ousie, Joy. So far so good, ek hoop sy vee nie net skoon omdat sy ‘n nuwe besem is nie.

Ek is bly jy kan by die teater-klub aansluit. Dis altyd lekker om ‘n toneelstuk te sien en baie van die amateurgroepe is heel talentvol. Jy kan maar hulle spelling van Theater Club oorsien, my teorie is hulle het die kennisgewing getik en dit toe deur die “spell checker” gesit. Tensy jy jou spell checker opdrag gee om Britse Engels te gebruik, sal hy die Amerikaanse spelling op jou afdwing.

Dis ‘n Groot Fout om jou op die rekenaar se spell checker te verlaat: hy aanvaar enige woord wat korrek gespel is (op Amerikaans), maar hy kan bv nie onderskei tussen there en their nie. Elaine sê sy moet gereeld vir haar troepe ‘n verslag teruggee omdat daar so baie spelfoute is, dan sê hulle : “But I put it through the spell checker!” Elaine sê: “Use the spell checker at the end of your neck.” Maar natuurlik het hulle nooit op skool geleer spel nie, so die spell checker aan die end van hulle nekke is nie van veel hulp nie. Ek is so bly ons kinders het skoolgegaan toe hulle nog op skool tafels en spelling en sinsontleding geleer het.

Dis ook my teorie dat as ‘n mens lees, kan jy spel. Maar al hoe minder van hulle lees vir plesier. Jy sien mos die woorde in die boeke wat jy lees en dan onthou jy hoe hulle lyk en siedaar, jy kan spel!  Mind you, ek sien al hoe meer spel- en grammatika-foute in alles wat ek lees. Diegene wat moet nagaan vir spelfoute, kan ook nie spel nie! Toe hulle opgehou het om kinders te leer spel, het die eerste domino geval, nou tuimel hulle in ‘n onkeerbare kettingreaksie. Die nuwe generasie onderwysers is die generasie wat nie geleer spel het nie. Hoe moet hulle nou die kinders leer? Wat op hulle beurt nie kan spel nie, want niemand kon hulle dit leer nie en so gaan ons aan. Meanwhile is ons hvng a gr8 tm op ons telefone, OMG en LOL. 

En ek is ook bly ons kinders het (net-net!) die elektroniese speletjies-era vrygespring. Hulle het nog buite gespeel en boeke gelees. Onthou jy hoe het SAfr aanvanklik net 5 uur lank TV op ‘n dag gehad? Net van 4nm tot 9nm, die eerste jaar. En selfs die eeste drie jaar, toe dit tot middernag aangehou het, het dit eers 4nm ingeskop, as ek reg onthou. Jy kon nie heeldag op die soufa lê en TV kyk nie.  Nou is dit vyftig kanale, 24/7.

Ek het in ‘n grumpy old woman verander.

Ek brei ook nog knaend truitjies en mussies. Elke truitjie kry sy mussie. Ek het anderdag my wolle aangevul – ek het strepieswol gekoop. Ek hou van die wol wat so elke tien of twaalf meters van kleur verander, dan kan jy ‘n goeie streep brei voor die volgende kleur inskop. Dié wat so elke ses duim van kleur verander, maak net kolle en vlekke. Ek het in die “gestreepte” wol een met skakerings van pienk gekoop en ‘n ander een wat ‘n hele klomp helder kleure het, maar tussen elke twee helder kleure is daar ‘n streep wit. Dis baie mooi. Ek gaan lekker brei. Ek sal die ribbings in wit wol brei.

Gister het Paul vir my vertel sy hoor van haar vriendin in Jhb dat daar sulke groot verspoelings was. Ek hoop nie julle het ook deurgeloop nie. Jy het nie vloedwaters nodig in jou huis nie. Onthou jy vir Rooi Jan? Een vd boeke was getitel “Vloedwaters en Vlamme”. Rooi Jan met sy swart perd en sy twee luiperds, wat so saam met die Voortrekkers toer en kaffers uitroei sover hy gaan. Verbeel jou die oproer as daar vandag ‘n Rooi Jan boek op ‘n winkelrak verskyn. Ek moet tog Google en sien of daar nog ‘n Rooi Jan boek iewers in die wêreld bestaan.

Toe ek een vakansie by Tant H op Rosendal gekuier het, het Oom Hermaans Krause wat langsaan gewoon het, vir my sy Rooi Jan boeke geleen. Daar was ‘n hele reeks. Hy het ook al daardie speurverhale gehad deur Hendrik Brand en nog so ‘n ander reeks wat gegaan het oor die ou Kaap, dit was so ‘n soort Georgette Heyer-tipe reeks. Ek het heeldag op die stoep in ‘n deck chair gelê en lees. Happy days. Is dit net so sleg om heeldag op die stoep te lê en lees as om heeldag op die soufa te lê en TV kyk? Heel waarskyklik kan ‘n mens by die regering ‘n grant kry om navorsing te doen.

Ag, Sussie, jy sê jou TV keuse is beperk met vier kanale. Ons het vyftig of meer, ek daar is niks wat ek wil sien nie. Ek is nie ‘n kranige TV kyker nie. Ek hou van kunsprogramme en ander dokumentêre programme, nou en dan ‘n BBC dramareeks. Ek neem die DVDs wat ek wil sien, uit by die bib. Ons het die Foxtel-TV sodat D na die sport kan kyk, hy wil niks misloop nie! Hulle wys nie rugby op die TV hier in Victoria nie. Foxtel kry ook al die Olimpiese goed en al die internasionale atletiek en die krieket en goed – as Australië nie speel nie, dan wys hulle nie die sport op die “free to air” TV nie.

Ek het sopas ‘n bondel wasgoed opgehang. Hulle sal gou droogword, dis weer 35 vandag en sal glo vir drie dae so aanhou. Ek is al baie op vir somer.

Elaine is nog steeds by die musiekfees, ek het vir D saamgenooi fliek toe. Ons gaan sien Nebraska. Ek is seker ons gaan daarvan hou. Ek sal later rapporteer, nou moet ek eers my bo-klere gaan aantrek. Ek het vanoggend na my stort net my onderklere en my “brunch coat” (alias dun katoen-kamerjaponnetjie) aangetrek.

Maandagoggend ... Ek wil gou klaar skryf dat ek die brief vir D kan gee om te gaan weggooi op pad poskantoor toe.

Ek kan Nebraska baie hoog aanbeveel. Dis in swart/wit, pragtig gefotografeer. Dis ‘n road trip movie, pa en seun wat ry van Montana na Nebraska. Wye vlaktes en klein dorpies, kan enige plek in SA of Australië wees, klein dorpie-mense is dieselfde orals. Vol humor en ook ‘n bietjie treurig op plekke. Die lag met die traan, en ‘n happy ending, wat meer kan jy verlang.

Ek het gisteraand vlugtig met N gepraat. My Skype was nie mooi op dreef nie en sy was haastig want hulle het te laat vd kerk af gekom om te begin koskook, hulle was op pad uit om te gaan eet by die Kalahari Lodge. Ek ken dit nie, maar jy sal wel.

Ewentwil, N rapporteer dat C 1 April inklok by haar nuwe werk in Botswana. Hulle huis staan gereed en wag vir hulle, en N is heeltemal tevrede met die trek want so baie mense wat sy ken, verseker haar van melk en heuning. Ek glo hulle sal lekker bly en veilig wees daar; alles wat ek van Botswana hoor, is positief.

Elaine se vriendin Cindy wat in Ghana woon, pos vandag op Facebook dat sy na haar nuwe huis getrek het. Sy sê: Well that's the first time I have ever moved house and taken my water with me. Precious commodity. Sussie, ek is bly ek woon in ‘n land waar ek ‘n kraan kan opdraai. Elaine het my vertel dat die huise daar wel spoeltoilette het, maar daar staan ‘n emmer water in die toilet en jy spoel daarmee. Hulle gebruik seewater, die lorrie met die tenk kom verby dat jy jou emmers kan volmaak.

Daar is so baie voorregte wat ons het en nie eens aan dink nie. Hier is ‘n organisasie genaamd Days for Girls, wat pakkette opmaak om te stuur aan Afrikalande waar dit uitgedeel word aan vrouens. Die pakket bestaan uit ‘n katoen-sakkie met daarin ‘n sepie, ‘n waslappie en twee panties, plus die soort gedoente wat Ma my van vertel het: ‘n houer met ‘n belt en wasbare voerings wat jy daar kan insit vir menstruasie-doeleindes. Daar is baie dele vd wêreld waar geen sanitêre middels beskikbaar is nie, en daardie meisies verloor elke maand drie tot vyf dae omdat hulle nie kan skool toe of werk toe gaan nie.  Hulle gebruik blare en mieliestronke en enige rubbish en kry infeksies. Die slegste is dat sommige van hulle uitgebuit word deur onderwysers of werkgewers wat vir hulle ‘n pak pads sal gee in ruil vir seks. Kinders van twaalf. Watse soort wêreld is dit waarin ons leef.

Hier is ‘n stukkie uit hulle website:

​What if not having sanitary supplies meant DAYS without school, DAYS without income, DAYS without leaving the house? Girls use leaves, mattress stuffing, newspaper, corn husks, rocks, anything they can find...but still miss up to 2 months of school every year. Worse, girls are often exploited in exchange for hygiene. It turns out this issue is a surprising but instrumental key to social change for women all over the world. The poverty cycle can be broken when girls stay in school.

Nouja, Sussie, op daardie treurige noot sal ek maar groet tot vollende keer.

Bly mooi, ek sien uit na my volgende sarsie briewe van jou!

Love,

Suster katrien ¬ J C

 

Kêrels en Krieket


Tafelberg
Wednesday, 26 February 2014

Liewe Sussie,

Jy sal bly wees om te verneem dat na al my gekla oor ek geen tyding kry nie, hier eergister 2 briewe opgedaag het van jou, en gister ‘n derde een. They come not single spies but in battalions. Shakespeare het altyd die mot juste. Jy sê myne koek ook so saam in groepies daar in jou posbus. Ag nouja. Solank hulle opdaag. Ons het nie Douglas se posbeamptes na behore waardeer nie.

Ek het op Facebook gesien hoe mooi is A by die Valentine’s Ball wat hulle gehou het. Sy was vir my die mooiste van almal in haar elegante rooi rok. Party se rokkies was net so ‘n pelmet bokant hulle se muuse.

Ek is nou op datum met W se wederhelf, dit klink of jou nuwe skoon-kleindogter ‘n goeie keuse is. Woon hulle in Pretoria? Handig vir jou toekomstige babysitting-dienste.

Ons is egter nog nie klaar met die troue nie. Jy het my nog nie vertel of W en Mevrou by die troue was nie. Ook nie op watter dorp die troue plaasgevind het nie. Ook nie watter kleur H se onvanpaste outfit was nie. Het H nog ander kinders? Hou haar ouers nog die lewe?

Ek het gekyk na die Wilgers se website. Dit lyk baie mooi, daar is volop foto’s en ek het gesien hoe lyk die 2-slaapkamer-huise se vloerplan ook.  Nou weet ek waar woon jy.

Ja, ek ontvang gereeld S se jaarverslag, maar ek kyk merendeel net na die prentjies. Ek mis daardie mooi Karen! 

Ek was interessant (a la Oorle’ Ant Ann) om te hoor van jou gordyn-saga. My vriendin Joan het my vertel van ‘n dame wat ‘n mens se gordyne kom afhaal, wegneem, skoonmaak en weer kom ophang. Joan sal my haar nommer gee en dan gaan ek haar bel. Ek is te oud om op lere te klim en gordyne afhaal /ophang. En as ek net dink aan daardie drie-vurk-hakies waarmee ek die plooi moet inhaak! Joan sê dit het haar $400 gekos vir die hele huis se gordyne, maar ek dink dis die moeite werd.

Ek moet juis vir Peter Chapman die handyman ook bel, want daar is los goedjies wat in die huis gedoen moet word en jy weet D is nie ‘n man wie se hande aan sy brein gekoppel is nie.

Ek is bly jy het vir Madie ontmoet – jammer haar dogter is in Perth. Te ver om Madie  te gaan haal vir ‘n koffie by my as sy daar kuier. Perth is so te sê ‘n ander land!   Dis waar wat sy sê dat daar so baie S-Afrikaners in Wes-Australië  is. In die ou dae van die SAfr-diaspora was dit die goedkoopste opsie om net tot in Perth te reis. Die Ooskus is soveel verder en duurder. Dan is daar ook altyd werk in die Weste, met al die myne daar, en natuurlik  sluit nuwe aankomelinge aan by vriende en familie wat reeds daar is, so brei die gemeenskap uit.

Maar S-Afrikaners is nou orals in die land. Nie altyd baie gewild onder hulle nuwe landgenote nie – hulle het ‘n reputasie vir arrogansie en snobisme. Dis seker maar omdat daar ammelee in SA ‘n klasseverskil was tussen professionele mense en ambagsmense. Hier in my nuwe land gaan dit nie goed af as jy jou neus optrek vir ‘n ander man se nering nie.

Ja, ek weet, hier by my is mense ook verstom om te hoor dat ons al soveel jare korrespondeer en dit nogal elke week! Die vraag is altyd: maar waaaroor skryf julle? Wel, ons skryf oor alles en niks, is die antwoord! Niks besonder opwindends gebeur in ons lewens nie (en net ‘n goeie ding ook!) maar ons het belang by mekaar se alledaagse kom en gaan, en ons gesels lekker.  As ‘n mens so ‘n ver pad kom soos ons (62 jaar sedert ek jou ontmoet het daar by  Stewartstraat in 1952!) dan gaan min woorde baie ver, want daar is kodes vir alles!

Skinderstories ruil ons ook uit. Roddelverhale, het my Hollandse vriend Arno my geleer. Roddel klink beter as skinder.

Nog ‘n gawe Hollandse woord is knuffel. Op Engels hug of cuddle. Ek het sopas gekyk na ‘n Hollander se website met die naam “Droomplekken”. Ek kyk gereeld daarna, hy plaas foto’s en videos van mooi plekke orals in die wereld. Die jongste een is “Toerist werd geknuffeld door zeeolifant” en daar is die elephant seal wat op die toeris se skoot probeer klim en hom omarm met sy flipper.

Mazel tov vir R met haar kêrel, maar ek moet jou sê ek wil nie ‘n kêrel of ‘n geknuffel hê nie. Ek weet nie van jou nie, maar ek sal baie verbaas wees as ek hoor jy het ‘n kêrel. Maar soos ons weet, daar is party vrouens (en jy kan hulle in die laerskool al uitpiek!) wat altyd ‘n kêrel moet hê. As die kys uit is, is hulle binne ‘n week met ‘n ander een gekys. Heel waarskynlik het hulle vir nommer 2 in die oog nog voor hulle vir nommer een die trekpas gee. So gaan hulle deur laerskool en hoërskool en hulle 20s en 30s en verder ... kan nie sonder ‘n kêrel wees nie. Jy het nooit hulle volle aandag in die kort tydperk wanneer hulle tussen kêrels is nie. Kyk altyd oor jou skouer as hulle met jou gesels, of daar nie dalk ‘n kêrel op die horison is nie.

Ek dink hulle saai feromone uit ook, want hulle het nooit ‘n probleem om ‘n nuwe kêrel te kry nie! Tant H het altyd gesê jy kan ‘n weeluis op die maan neersit en as jy weer daar kom, het hy kleintjies. Nouja, ek dink jy kan daardie vrouens op die maan neersit en as jy weer daar kom, het hulle ‘n kêrel. Nie noodwendig met kleintjies daarby nie.

62 jaar, Sussie, dis langer as my boetie se hele lewe. Daar is baie min mense oor wat my geken het toe ek twaalf was. Newwermaaind jonger. Nabs. Willem. Piet Kotze. Neef Dawie.

Ek is baie bekommerd om te hoor R het ‘n pyn en ek hoop dis sommer niks. My buurvrou Janet wat ‘n dokter was, het altyd vir my gesê pyne kom en gaan, niemand weet hoekom nie. Ek weet dit is waar, maar as ‘n pyn te lank aanhou, moet daar ‘n oorsaak wees. Ek kan onthou toe ek jonk was, het ek partymaal in die nag wakkergeword van ‘n pyn iewers in my abdomen, (nie ‘n toilet-tipe of ‘n period-tipe pyn nie) en dan gaan hy maar weer weg na ‘n paar uur se op en af stap en warmwatersakke ontplooi. Ek onthou hoe het Tant H saam met my orentgesit in die nag as ek ‘n pyn het. En ek herinner my dat Elaine ook partymaal sulke nagtelike pyne gekry het. Ek wag om te hoor by jou van R se pyn.

Ek onthou ‘n skiepa! Ek het altyd gedink dit is ‘n skipper – verwant aan ‘n jumper. Jy skip of jy jump met hulle aan. Jumpers is die woord hier ipv jerseys. ‘n Gewone trui is ‘n jumper en ‘n voetbaltrui is ‘n guernsey. Nie ‘n jersey nie. As iemand ‘n prys wen of ‘n gesogte posisie bekom, dan sê hulle:  “He got the guernsey”.

Sondag 2 Maart

Elaine het Vrydagaand ingeklok. Gister op die Saterdag het sy vroeg opgestaan om twee ander Slim Hansies aan die voet vd berg te ontmoet, waar hulle die Thousand Steps bestyg het. Ek het gaan inkopies doen en my biblioteek besoek. Ek het twee boeke gehad wat laat was, ek kon hulle nêrens kry nie, maar na ek die hele huis omgekeer het, het ek een in my handsak gekry.

Nie ‘n handsak wat ek dikwels gebruik nie, maar ek het die boek in hom gesit eendag toe vir Alannah moes ontmoet vir koffie en sy het gebel om te sê sy sal ‘n bietjie laat wees. Ek het die boek saamgeneem om te lees terwyl ek vir haar wag en nie weer die handsak gebruik nie. Die ander boek het ek gekry in ‘n mandjie in my kombuis, onder ‘n klomp plastiese sakke wat ek opgevou het om te gaan recycle. As ek nie so lank uitgestel het om die sakke na die recycling te neem nie, sou ek vroeër die boek ontdek het!

Ewentwil, ek moes nege dollars opdok maar ek gee nie om nie, want dit was alles my eie skuld en buitendien maak ek flink gebruik van die bib lioteek se uitstekende gratis dienste. Hulle verskaf enige boek wat ek bestel – as hulle dit nie self het nie, dan koop hulle dit aan.

Gister het ons ‘n toneelstuk gaan sien, genaamd Cock. Dis nie die beste een wat ons nog ooit gesien het nie, maar nou ook darem nie so dat ‘n mens halfpad wou huis toe gaan nie. Een van daardie moderne jobs ... om een of ander rede was daar geen ander dekor op die verhoog behalwe kussings nie. Die hele vloer was van hoek tot kant kussings. Gewone bed-kussings. Die akteurs het hulle opsygeskop dat hulle kon loop en some sommer op hulle getrap. Wanneer hulle veronderstel was om om ‘n tafel te sit en eet, het hulle net so oorkant mekaar gestaan asof daar ‘n tafel is. Ek kon geen rede sien hoekom hulle nie maar meubels kon gehad het op die verhoog nie.

Ons was vyfuur tuis en sesuur het Elaine gegaan na haar vriendin Rani se verjaarsdag-party. Sy het gesê sy sal teen negeuur weer tuis wees. Sy sê daar was sowat ‘n dosyn kinders onder ses jaar en op ‘n stadium roep ‘n ma: “Ice Cream!” en Elaine was in die pad vd stormloop. Sy sê hulle het haar onderstebo gehardloop soos ‘n trop migrerende wildebeeste. Toe sy by die huis kom, sê sy vir my: “I was traumatised, I’m still shaken!”

Gisteraand het ons ‘n bietjie krieket gekyk voor ons gaan slaap het. Kaapstad is so mooi. Die berg teen die blou lug en hier en daar ‘n wit wolk. Vanoggend het ek die goeie nuus gehoor toe ek wakkerword, dat ons krieketspan blykbaar hulleself reggeruk het na die fiasko vd tweede toets. Hopelik sal dit nie alles in ‘n hoop val wanneer hulle weer inklok vanaand nie. Ek weet nie hoekom moet krieket en rugby altyd in die middel vd nag plaasvind in SA nie. Gaan julle nie slaap nie?

Ek en Elaine gaan vanmiddag Dallas Buyers Club sien. Ek is hoopvol dat ons daarvan sal hou. Ek is ‘n fan van Matthew McConaughey, al moet ek altyd vir Google vra hoe om sy van te spel.

Ek het vir ‘n verandering vir die kunstydskrif ‘n boekresensie geskryf, want die vrou wat dit gewoonlik doen, is met vakansie. Ek sluit dit in, ek kan al dd boeke aanbeveel. Miskien kan Joalet party van hulle vir jou bestel, ek weet nie hoe goed is julle plaaslike biblioteek se versameling nie. Ek is seker jy het party van hulle ook al gelees, baie is Golden Oldies!

Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Ek hoop die stotterende poswese sal eersdaags op dreef kom.
Liefde en groete van huis tot huis.                  Suster Katrien  ö C J

Skete en Skoonfamilie

Tom Roberts: Holiday at Coogee

Sunday, 23 February 2014

Liewe Sussie,

Hier is ons weer op die H/S en ek sit my neer vir jou te skrywe. Ek het baie lanklaas van jou gehoor - navraag gedoen by R per e-mail maar ook nog niks van hom gehoor nie. Ek troos my aan no news is good news.

Hier het niks opwindend gebeur nie, ek sal maar rapport uitbring oor die week se saai gebeure:

Ek het driemaal gaan koffie drink saam met verskillende vriendinne: Joan, Margie en Aletta. In elke geval het ons lekker gesels en het ek agterna ‘n bietjie inkopies gedoen in die betrokke winkelsentrum.

Aletta het my breedvoerig vertel van haar buurman se operasies, waarby ek geen belang het nie. Ek sal jou nie weer verveel met my gesanik oor mense wat van kwale en medisynes wil praat nie. Dis erg genoeg as ek na hulle eie skete moet luister, maar as ek moet hoor van vreemdelinge se siektes, dan word my oë glaserig en ek onthou ‘n afspraak elders. So het ek vir Aletta kortgeknip: ek het gelieg in my tande en gesê ek moet huis toe gaan want daar kom ‘n handyman kwoteer vir takies wat verrig moet word in die huis.

Ek op my beurt hou my skete en kwale vir myself – dis my eie besigheid en ek wil nie die hooflyn op die agenda wees wanneer Aletta met haar buurvrou koffie drink en al my persoonlike besigheid uitlap nie.

Donderdag het ek en D gery na Mornington op die skiereiland om te gaan kyk na ‘n uitstalling by die Mornington Peninsula Gallery: Sea of Dreams.

Sea of Dreams is a broad chronological survey of major Australian artists whose works are closely associated with the bay. In addition to sumptuous ‘blue and gold’ views of the coastline, the exhibition includes modern works that document the changing physical topography and presence of distinct artistic communities as well as illustrate the important role of nostalgia, memory and association.

Sea of dreams comprises approximately 70 paintings, drawings and prints sourced from major public, private and corporate collections throughout Australia. It features many rarely seen gems, some of which have only recently come to light.

Dit was ‘n lekker dag vir ‘n uitstappie. Ons het baie gehou van die skilderye en daarna het ons koffe gedrink in die galerytjie se kafee. Dis ‘n klein kunsgalery, hulle het net drie vertrekke, maar hulle het altyd baie interessante uitstallings daar. Die kafee is nie beman nie, jy help jouself aan drinkgoed en koek of toebroodjies, en dan sit jy jou geld in ‘n bakkie en neem die korrekte kleingeld indien nodig. Na bykans dertig jaar in my nuwe land is dit nog steeds vir my verbasend dat die stelsel so goed werk.

My nuwe skoonmaakster Joy het weer vandeesweek ingeklok en weer uitstekende diens gelewer. Alles is skoon en blink. Dit voel of ek ‘n pierinkie room uitgesit het en die feetjies het in die nag alles blinkskoon gemaak. My krane blink, my oond glinster, jy kan jou brekfis van my vloere af eet. (Maar dan moet jy hulle self weer skoon-mop!)

Gister op die Saterdag het ek na die kunsgalery toe gery en vir Vera en Elaine daar ontmoet. Vera en James is hier vir ‘n week, hulle woon soos gewoonlik by Carl en gaan sien hulle kleinkind by Christine se huis wanneer hulle toegelaat word om daar aan te meld. Sy het nou die hef in die hande en vergeld vir Ma en Pa nou deeglik vir wat hulle ookal in haar kinderdae gedoen het om haar te na te kom. Of miskien is sy sommer net ‘n teef.

Ons het gekyk na ‘n uitstalling van Chinese calligraphy. Ek weet nie baie van Chinese kuns nie, maar ons het aldrie baie daarvan gehou. Dis alles deel vd NGV se versameling, hulle grou elke nou en dan so ‘n klompie goed uit die stoorkamers. Party vd scroll paintings dateer uit die 1400s en 1500s. Dit kombineer skrif met prente. Baie fyn en delikaat.

Ons het ‘n bietjie na deel vd permanente versameling ook gekyk, nie soveel na skilderye nie, maar na meubels en juwele. Daar is ‘n stel Viktoriaanse juweliersware wat bestaan uit tiara, halssnoere, armbande en ringe, alles gekerf uit seeskulp. Die fynste cameo’s. Ek weet nie hoe hulle dit gedoen het sonder moderne toerusting en ordentlike beligting nie.

Daarna het ons by een vd galery se kafees middagete geniet en toe het ons elkeen ons eie gang gegaan. Ek het vir Elaine by haar huis gaan aflaai op my weg huistoe. Sy wou ‘n middagslapie inkry want sy was van plan om Melbourne se jaarlikse White Night by te woon. Die stad en alle besighede bly heelnag oop, openbare vervoer loop heelnag, al die strate is gesluit vir verkeer, duisende voetgangers neem oor. Orkeste speel in die strate, en op al die groot geboue word kunswerke geprojekteer. Dis een groot straatkermis. Ek sien vanoggend op die nuus daar was oor ‘n halfmiljoen mense in die middestad en op die oewers vd rivier. Alles het glo baie vreedsaam verloop en niemand is gearresteer nie. Ek sal seker later vandag van Elaine hoor om te sê wat sy alles gesien en gedoen het. Sy het saam met ‘n klompie vriende en kollega’s gegaan.

Ek wil netnou biblioteek toe ry, my plaaslike tak is net oop van 1 tot 4 op ‘n Sondagmiddag. Daar wag ‘n klompie boeke wat ek lankal bestel het. Ek sukkel om te lees as die druk te klein is. Ek soek na een van daardie reghoekige vergrootglase wat jy op ‘n blasdsy kan neersit. Ek kan seker ‘n boek wat te fyn gedruk is, aflaai op my e-reader, want daar kan ek die grootte vd letters verstel soos ek wil,  maar dis ook ‘n nuisance, want die apparaat se “bladsy” is so groot soos ‘n outydse sagtebandboek, en as ek die letters te groot maak, dan pas daar te min teks op ‘n bladsy. Ek is ‘n vinnige leser en dan moet ek elke twee sekondes omblaai. Flick-flick flick met my vinger. Ek verkies ‘n outydse grootdruk-boek, maar nie alles wat ek wil lees, is in groot druk beskikbaar nie. Hulle dink blykbaar oumense wil net airport novels lees.  Net soos die bioskope wat net rom/coms wys by die sessies wat hulle hou vir ma’s met baba’s. Blykbaar dink hulle jou brein verander in ‘n klont blancmange as jy ‘n bybie het. Nou kan jy nie kyk na flieke vir grootmense nie.

Moan, moan. Jy het nie lus om na ‘n gekrakeel te kluister nie.

Ek kan jou die bemoedigende tyding meedeel dat H blykbaar goed insettle by sy nuwe blyplek. Die personeel is goed vir hom, en hy kla nie. Vir S is dit ‘n groot verliging en sy kan nou ‘n goeie nag se slaap inkry vir die eerste maal in jare. So dit is alles goeie nuus.

Ek kan jou geen tyding vd C's meedeel nie. Ek sal kyk of ek haar vanaand kan Skype.  My rekenaar was nie heerlik nie, maar hy is nou weer gesond en kan ek weer op Skype klim.

Nouja, Sussie, ek hoop jy is gesond en dat dit aan die poswese te wyte is dat ek nie van jou hoor nie. Toe ek in Ingeland was en 3 weke nie van Ma gehoor het nie, was dit omdat sy in ‘n motorongeluk was en niemand my laat weet het nie. As ek van my takkie afval, hoop ek Elaine sal jou laat weet, want D sal beslis nie bodder nie. Hy sal reël dat Joy sy wasgoed ook doen wanneer sy die huis kom skoonmaak, en hy sal uit eet wanneer hy nie lus het om sy eie wors of steak gaar te maak nie. Verder sal hy net gewoonweg aangaan, no worries. As iemand na my verneem, sal dit ‘n paar sekondes neem vir die pennie om te val, voor hy inneem waarvan hulle praat. Duh.

Groetnis tot vollende week!                  Liefde van Suster Katrien

Tuesday, May 7, 2013

Skoonfamilie Val vd Takkie Af



Saturday


Die Joodse Sabbat het gekom. Dis nou nie so goed soos ons eie H/S wat ons ken en liefhet nie, maar nouja. Hoekom dink jy is hulle s'n Saterdag? Dis dan dieselfde Ou Testament wat aankondig die sewende dag moet jy hande gevou sit. Miskien tel hulle van Sondag af en ons van Maandag. Wat sal ek ook weet, ek werk my vingers tot op die been 7 dae in die week, jy weet hoe sloof ek my af.

Pasede Woensdag is D se Antie E oorlede daar in Harare. Ek is nie seker wat sy makeer het nie. Die vorige week het ek van haar seun, D se neef G, e-mail gekry; hy het gemeld sy ma is nie lekker nie, maar hy het nie daaroor uitgewei nie. Toe stuur hy Donderdag tyding sy is dood, en of ons asseblief haar broers, D se Ooms kan laat weet want hy kan nie hulle adresse of nommers in die hande kry nie. Daar sit hy met sy twee hande op 'n rekenaar vir my en tik, maar hy kan nie die nodige klawers slaan om die SA telefoongids op te tower nie. Duh.

Vandag het ek K-Mart toe gegaan om 'n gloeilamp te gaan koop vir my nagliggie[1], en toe ek verby die Barbie World stap, toe sien ek hulle het nou 'n "sleepover bed": as jou gabbas kom oorslaap, dan het jy hierdie Barbie-lilo wat jy opblaas: dit kom met pienk kussing en doona cover, met prentjies van Jy-Weet-Wie daarop. Daar is ook 'n Barbie 2-seater rusbankie, seker waarop jy en jou gabba sit om julle Barbie Rapoensel Video gade te slaan voor julle kamer toe gaan en baklei oor wie in die gewone bed en wie in die Barbie-bed gaan vietata.

Ek sien hier in jou laaste brief kondig jy aan jy het nou die 1. trap-stapper in jou huis – daarvan het ek ook nie gehoor nie, dis vir my net so 'n geheim soos 2. die Billies se Argentiniese trip. Ek wil alles daarvan hoor as jy weer skryf. Het jy nie meer lus om saam met Leia in die straat te stap nie? Is dit te koud of is daar booswigte? Kom uit met die ware verhaal.

Carole wil hê ons moet hulle Oktober in Perth ontmoet en dan moet ons 10 dae saam vakansie hou van 2 tot 12 Okt – met die kus suid af ry tot by Margaret River. D het nie lus nie, hy gaan einde Okt Perth toe vir 10 dae by Patrick bly en rugby kyk. Hy het klaar bespreek, hy het sy vliegtuig- en rugbykaartjies, as hy nou aan die begin van Okt ook moet gaan, moet hy of 'n maand wegbly of hy moet tweemaal vlieg. Perth is ver, dis 'n duur storie en buitendien het hy ander verpligtinge – hy doen mos konsultasie-werk vir prokureurs hier, re belastingsake. Ons sal maar moet herskeduleer vir vroeg vollende jaar. Wanneer kom jy kuier?

K deel mee sy het geregistreer vir haar MA by een van Sydney se universiteite, een wat naby haar werk is en die klasse wat sy moet bywoon is in die aand – sy kan stap soontoe. Hulle gee haar krediet vir al die MA werk wat sy reeds in Europa gedoen het. Moet my nie vra wat sy bestudeer nie, sy het my gesê maar dit is so vreemd vir my dat ek reeds vergeet het. Jy sal tog ook nie weet wat dit is nie, ons is te oud en ons koppe is te plat.

Ja, J het my vertel sy wil stories skryf – sy wou 'n How-To boek bestel van Amerika af, maar die internet-betaal-besigheid wou nie Rande aanvaar nie, toe vra sy of ek dit vir haar sal bestel, wat ek wel gedoen het en vir haar aangestuur het. Ek sien ons local biblioteek het 'n kompetisie wat September sluit, ek wil dit vir haar aanstuur en hoor of sy 'n storie wil instuur, die eerste prys is $1,500: nie te versmaai nie.  Jy moet in Australia woonagtig wees, maar wat sal hulle weet, sy kan my adres opgee.

H hol rond soos 'n afkop-chook want hulle laat die matte uitruk, die vloere skuur en seël, die huis uitverf en 'n nuwe kombuis insit. Hulle bly al 25 jaar in die huis en dit is nog nooit opgeknap nie. Nou gaan hulle al hulle goed stoor en vir 4 tot 6 weke in 'n gemeubileerde woonstel bly. Sy sê dis 'n stryd om alles te pak en 'n kwarteeu se opgegaarde goed weg te gooi. Sy kan nie van haar oudste 2 kinders ontslae raak nie; A is 26 en C 22 en albei het klaar studeer en het goeie werk. Hulle wil nie die gratis hotel ontruim nie. Dis glo 'n stryd om almal in te pas in die woonstelletjie, hulle kla en baklei oor wie meer spasie het as die ander.

Nouja, hier is ons weer by when you come to the end of a perfect day ….. (Mev Germishuys het altyd vir Ma so geïrriteer as sy saggies in haar sakdoekie snik by die aanhoor van Webster Booth en Anne Ziegler wat sing vd end of the perfect day. Mev. G was 'n professionele weduwee, hare was die vinnigste sakdoekie in die Weste – laat dit net lyk of iemand anders meer aandag kry, dan is dit tyd vir diep sug en as dit nie die gewenste uitwerking het nie, volg die sakdoekie. Pa was altyd vir haar jammer, hy het haar elke Sondag vir ete genooi, hy het nie deur die sakdoek gesien nie.)                                    Menige groetnisse

Suster K




[1] Toe julle hier was, het R gekla dis so donker in daardie kamer, en hy was reg.  Ek hou daarvan om my glas water te kan sien as ek wakker word, of wat ookal benodig word. Toe koop ek vir my 'n klein bedlampie en ek neuk 'n blou 25-watt balp in hom: laasnag het hy geblaas na ses mannde diens. Balps beteken vandag niks.  Vandag het hulle nie blou gehad nie, toe koop ek groen. Onthou jy as 'n mens trein ry op die Trans-Karoo, dan is daar so 'n groen gloeilampie wat jy heelnag kan aanlos. Vanaand lyk my kamer soos 'n trein.

Die Tandarts se Handdoek



Liewe Sussie,                                                                      

Ek hoor niks, nou skryf ek maar. Gister 'n "brief" van Alice ontvang, gedikteer aan haar amanuensis. Sy het ook 2 tekeninge gemaak, van 'n meisietjie wat ek glo syself is, maar baie trek op Barbie! Sy teken baie oulik, maar dit weet jy al. Ek het vir haar teruggeskryf, soos Ma my geleer het. Miskien kan ons van haar 'n korrespondent maak, dis 'n uitsterwende begaafdheid. Die Viktoriane was die laaste ywerige beoefenaars vd kuns. Ons is in die verkeerde eeu gebore.

Die Sondag voor K weg is, het haar vriendin Shelley hier vir haar kom kuier: hulle het by die Wh/Hill pub gaan eet, ek het hulle tienuur gaan haal en toe het hulle hier onder in die flet gesit en tennis kyk tot baie laat. Ek het vir Shelley gesê sy hoef nie op te staan as ons vir K lughaaaawe toe neem nie, sy kan maar later opstaan, vir haarself iets te brekfisse neem hier bo, en net die deur agter haar toetrek as sy ry.  Nouja, Sussie, K het 8vm na bo gestyg, haar lakens en handdoeke in die londrie gesit en gerapporteer dat sy die ou stof-laken oor die bed gegooi het, soos ek haar opgedra het. Ek het nie verder daaraan gedink nie en die vollende dag het ek die wasgoed gedoen. Ek het nie die lakens en handdoeke getel nie, ons s'n was ook in die bondel.

Wil jy glo, toe ek gister daar na ondertoe gaan vir die eerste maal, kry ek Shelley se bed so onopgemaak en in die badkamer lê haar klam handdoek op die vloer in die hoek en ruik al na kaas. Hoekom het ek gedink sy sou haar laken, sloop en handdoek bo in die waskamer kom sit en die doona netjies oor die bed los? Dis nie of sy 'n skebango is vd verkeerde kant vd spoorlyn nie, sy is 'n tandarts en haar ouers woon nie in die slums nie. Ek het niks vir K gesê nie, watter heil sal dit bring?

Thursday, June 19, 2003


D het sopas vir my 'n brief gebring van jou, waarin jy meld dat die Billies Argentinië toe is. Dit is nuus vir my! Waar bly die kleintjies? Ek hoop nie by jou nie! Daar is seker 'n tussenin-brief wat ek nog nie gekry het nie, waarin alles duidelik sal word.

Sunday, June 22, 2003


Nouja, die H/S is weer op ons, soos die Filistyne. D is vort om te gaan bowl, dis 'n heeldag-geleentheid. Hy is hier weg met 'n lunsboksie wat ek vir hom gepak het – 'n paar skywe sappige pienk roast beef met mosterd, 'n stukkie kaas en 'n hardgekookte eier. Sy Atkins-dieet is nog in volle swang, ek weet nie of hy gewig verloor nie, maar hy geniet al daardie vleis, vet en cholesterol, wie is ek om beter te weet.

Gister was ek by K-Mart om vir my die jongste H. Potterboek te koop wat pas verskyn het. K-Mart se prys was $27 en die boekwinkel s'n $42. Ek het my die onmin vd boekwinkel-dame op die hals gehaal want toe ek daar verbystap, is daar 'n tou van drie ouma's elkeen met 'n H Potter onder die arm, en toe kondig ek aan die boek is teen $27 beskikbaar by K-Mart, waarop al drie hulle eksemplaar neersit en uitstap. Die een by die toonbank het al haar beursie in haar voorpoot gehad, maar sy het hom net daar toegeknip. If looks could kill …..

Anyway, op my omswerwinge deur K-Mart het ek by die kaartjie-afd aangedoen om 'n happy birthday-tieket vir Sue te koop, want sy verjaar 16 Julie. Daar het hulle die mooiste pienk en silwer Barbie-verjaarsdagkaartjies! Amper het ek een gekoop vir vollende jaar, maar toe dink ek 'n jaar is 'n lang tyd in 'n vyfjarige se lewe – by vlg Mei is Barbie dalk nie meer die flavour of the month nie en dan sit ek met 'n happy birthday-kaart wat niemand anders sal waardeer nie!

Vanaand kom Jacques weer sy voetens onder ons eetkamertafel instoot; sy vrou is nog steeds reisende deur die Vaderland. Sy is vandeesweek in K waar sy Jacques se ma en sy ouma gaan opsoek. Dis baie sleg as 'n mens so oud word dat jy saam met jou ma in die ouetehuis bly. Ek kook oxtail want dit is koud. Ek hoop hy eet dit, maar indien nie, sal hy maar uit ordentlikheid 'n paar mondevol moet afwurg, wat kan hy doen. D sal wel vir hom 'n glasie rooiwyn daarmee saam skink om die ergste smaak uit sy mond te kry.

Ek gaan Woensdagaand ballet toe saam met my vriendin Alison. Ons gaan vroeg, dan eet ons eers in die teater se kafeteria. Ons gaan lank neem om daar te kom, want ek bestuur nie in die nag as ek dit kan help nie, en Alison is te suinig om die $3.50 tolgeld te betaal vir die snelweg, so ons trek moeisaam deur die voorstede waar die spoedgrens 50 is. Ek het al aangebied om haar die $3.50 te gee, maar sy kry skaam om te sê sy is te suinig, nou maak sy of dit 'n beginselsaak is. Sy kan 'n snelweg-tieket bekostig: haar pa het haar 'n woonstelblok in die stad nagelaat plus 'n kwekery en watter sikkels silwer hy ookal in die bank gehad het. Sy het die kwekery verkoop, maar die woonstelblok het sy nog; daar is 2 verdiepings met 4 woonstelle op elk. Maar Sussie, sy klem 'n muntstuk vas dat onse queen  se ogens traan.  Sy (die queen) sal so bly wees as ons 'n republiek word en sy hoef nie meer op ons muntstukke te sit vir knyp-doeleindes nie. Ag, nouja, elkeen het sy dingetjies en 'n mens moet jou vriende aanvaar met al hulle vratte – ek doen stellig weer iets wat Alison dink is simpel! (Soos bv op die snelweg ry)

Groetnis van huis tot huis!

Huisgaste is 'n Bokker


Liewe Sussie,

Hier sit ek op die H/S en luister hoe val die reën  buite. Ons is almal baie bly oor die reën – die droogte byt nou al jarre lank sleg hier by ons. Ons hoop dit beteken 'n nat somer, want ons het 'n droë winter gehad.

Meanwhile, soos 'n mens se manier maar is, is ek nie net sommer dankbaar nie, nee, ek wens dit het liewer gewag tot vollende naweek om te reën, want K en 'n klompie van haar vriende het gaan uitkamp in tente.  Gelukkig het sy 'n stasiewa en sy het gesê as dit reën gaan sy haar tent se matras agter in haar stasiewa sit en daarin slaap.

Onthou jy hoe graag wou die kleintjies altyd in 'n tent op die gras geslaap het? Dan kom hulle in die vroeë ure bedremmeld ingestrompel met die bersie wat hulle agternasleep. So sal nuwe Boetie seker ook wil doen in die krismisse wat kom. Ek hoop hy het ook 'n niggie met buskaartjies.

Verder kan ek aankondig dat my huisgaste Vrydagoggend ingeklok het. D het hulle op die lugaaaawe gaan haal. Ek was by my Voetvrou saam met Carla soos gewoonlik, en agterna gaan ons altyd lunch by die RSL. Ek het nie gedink dit is nodig om my reëlings te kanselleer nie want D is 'n ongestremde volwassene en hy kan vir sy familie toebroodjies maak vir lunch.

May is in die hospitaal, sy het diverticulitis en dit het geïnfekteer geraak. Hulle het gedink sy moet dalk 'n operasie kry om deel vd derm te verwyder, maar gelukkig kon hulle dit met anti-biotika onder beheer bring.

Sy was 3 dae op 'n drip maar van gister af gee hulle vir haar vloeistof om te drink en jellie om te eet. Hulle wil haar nie laat huistoe gaan voor sy op solids is nie. Sy woon alleen en sy is 82 en hulle wil nie dat sy gaan terwyl sy nog swak is nie. Ek hoop sy kom voor Boetie op Solids, want dis ver om te ry na Box Hill se hospitaal toe en ek is reeds op daarvoor.

Ek doen my Flo Nightingale impersonasie, want May het nie familie nie en haar vriendinne is merendeel so oud soos sy. Gelukkig het my vriendin Marlene, die een wat ek op die trein ontmoet het en wat nou ook aan my boekklub behoort, ook vir May onder haar vlerk geneem en dit help baie. Maar Marlene is weg vir die lang naweek so ek is Giepie en schlepp elke dag hospitaal toe.

Vrydagmiddag het ek vir my gaste gesê verskoon my, ek moet hospitaalbesoek gaan doen. Ek is halfvier hier weg, halfuur se ry soontoe,  20 minute vertoef en toe groet ek vir May en ek vat die pad huis toe ten einde die spitsverkeer te vermy. Famous last words.

Ongelukkig was dit die Vrydag voor die lang naweek, plus daar was 'n ongeluk by 'n treinoorgang in een vd besigste hoofpaaie ('n groot vragwa het probeer on oor die spoor te glip voor die hekke sak, en dit nie gemaak nie – die trein het sy agterstewe gestamp, trok dwarsgeswaai oor drie bane verkeer, 'n hele gemors.) Die verkeer was baie sleg, ek het 'n uur en 'n half huis toe gery.

Tuis aangekom, het ek geweier om kos te maak en ons het gaan eet by die kerrie-keffie. Gister het D natuurlik, true to form, gaan bowls speel en moes ek sy familie entertain. Ek het hulle na Brandon Park toe saamgeneem want ek moes my droogskoonmaakgoed gaan haal daar. Ons het daar gekoffie en getoebroodjie vir lunch, en huis toe gekom. Drieuur het ek hulle by The Glen se mall gaan aflaai en ek is hospitaal toe, ek het hulle vyfuur weer gaan haal. Hulle het heerlik geshop, hulle is Amerikaners met slopemmers vol geld.

Vandag gaan ons pub lunch en vanaand is 'n toebroodjie hulle voorland. Maandag gaan ons baaiskoup toe en sommer lunch daar by die sentrum, ek sal sorg dat hulle genoeg eet dat dit in die aand weer net toebroodjietyd is. Dinsdag vertrek hulle op die Great Ocean Road saam met Die, ek gaan nie saam nie. Ek pleit Flo Nightingale verpligtinge.

Later in die aand

Meanwhile het K huis toe gekom, dis te nat by Wilson's Promontory en die kampeerders het tou opgegooi: van hulle staptoer het niks gekom nie. Sy is saam met Rebecca huis toe, more is vakansie en hulle sal in die natuurreserwe naby Bec se huis gaan stap, die voetpad is geplavei en jy kan 30km doen as jy hom van begin tot end volg.  Melbourne is onde rwater en modder, ons het baie reën gehad. Ons is baie bly – daar het ook baie reën in die opvang-gebiede geval.

Ek is nou baie uitgekuier vir my huisgaste, hulle is glad te tuis. Sy vlieg orent en vra wie wil tee hê en hy bied vir D 'n bier of 'n glasie wyn aan. Ek was lus om uit te wys dis ons huis en hulle is die gaste. Ek moes vanaand my voet neersit want toe ek sien is sy in die kombuis en sy vra vir my hoe skakel 'n mens die oond se grill aan, sy gaan toasted cheese maak. Ek moes sê nee, ek gebruik nie die grill nie want ek wil nie vetspatsels in my oond hê nie, as hulle wil toebroodjies hê, sal ek dit maak, sy kan gerus gaan sit.

Ek moes hulle gister in die bek ruk oor die skottelgoed. Mind you, dis nie die eerste keer nie, ek het dieselfde moeilikheid gehad met Pat toe hulle hier gekuier het. Hulle wil die skottelgoed was. Nee, sê ek, ek was nie met die hand skottelgoed nie, ek sal dit in die skottelgoedwasser pak. Maar as ek my rug draai, dan was hulle die teekoppies en die glase in die wasbak.

Ek het net gewag tot sy hulle klaar afgedroog het en vir my vra waar moet sy dit bêre, toe sê ek: "in die skottelgoedwasser". Maar sy het dit gewas, dis skoon, sê sy. Nee, seg ek, dis nie skoon nie, jy kan nie jou hande in kookwater en caustic cleaner steek nie, dis hoekom ek jou gesê het jy moet asseblief nie die goed was nie.

Moenie eers praat van wasgoed ophang nie! Daar is nie eers van haar wasgoed by nie, maar sy wil dit ophang. Jy weet hoe fussy is ek oor wasgoed ophang. En sy neem nie nee dankie vir 'n antwoord nie, ek het die foon gaan antwoord en toe ek terugkom, het sy alles opgehang. Ek moes alles afhaal en weer ophang. Sy het niks op hangers gesit nie, die goed dubbel oor die draad gevou en met penne vasgesteek, die T-shirts gryp sy aan die middel, rek hulle uit en pen hulle vas sodat hulle diamantvormig droog word met sulke tepels waar die waspen gesit het. Sy het gesê sy wou net help, sy is jammer sy het dit nie na my sin gedoen nie.  Wat moet ek nou sê? Watter deel van NEE DANKIE verstaan sy nie?

Ag, Sussie, ek word ook maar meer onverdraagsaam en bitchy hoe ouer ek word. Ek reken net, hoeveel langer het ek nog om te leef? Ek gaan nie die tyd wat nog tot my beskikking is, mors deur enigiets te doen wat ek nie wil nie.

Nou het ek heel brief net knaend gebiets en gekla en lelik gewees oor my skoonfamilie wat net behulpsaam wil wees.

Ek was by die dr vir my bloedtoetse se uitslae – alles is 100% - geen suiker of cholesterol of wat ookal nie. Ek het geen bloeddruk-foute of enigites nie. Ek het goeie gesond-genes by Ma geërf. Dankie Ma!

Meanwhile het ek vir die dr gesê my pa is aan dikdermkanker oorlede en sy stem saam dat dit 'n goeie plan is vir my om 'n colonoscopy te kry. Sy het vir my die pampiere gegee asook die purgeermiddel wat 'n mens die vorige dag moet drink. Ek moet nou net die hosp bel vir die afspraak. Ek sal net wag dat die stof gesak het en K ook getrek het, dit sal seker so oor 2 weke wees. Gelukkig is dit net 'n halfdag-prosedure.

K het 'n geskikte woonstel gekry, dit is mooi ruim, naby die stad in 'n goeie woonbuurt, $250 per week, een slaapkamer, parkeerplek en 'n sekuriteits-voordeur in die gebou. Enigste nadeel: daar is nie 'n aparte lontrie nie, maar daar is plek in die badkamer vir 'n wasmasjien. Ek is ook nie baie bly oor dit op die grondvloer is en daar nie diefwering is nie. Maar nouja, dit is Melbourne hd en nie Jhb nie. Dis naby die trein en trem, sy sal meesal nie haar kar hoef te gebruik nie.

Nouja, Sussie, die brief is maar simpel, maar hopelik hou jy vd illustrasies!

Liefde en groetnis,

 

 

Monday, January 2, 2012

Dit en Dat en Wat Nog

Saturday, 26 November 2011
Liewe Sussie,
Another day, another dollar. Ek lees weer The Friends of Eddie Coyle - jy sal dit onthou, classic crime novel uit die vyftigs. Die een vent ry met 'n sportmotor en hy kla steen en been want dit kos hom elke slag agt dollars om die ding vol petrol te maak. Ek kan onthou toe petrol twee-en-sikspens 'n gelling was toe ek die DKW scootertjie gehad het soos joune.
Ons kyk nog baie lekker na A Country Imagined. Ons was gisteraand in die Vrystaat; ek dink ons gaan vanaand Kaapstad toe. Dit irriteer my net dat die vent Johnny Clegg so swak Ingels praat. Hy praat van 'n am-Pi-theatre en vir hom is die meervoud van woman nog maar steeds woman. Hy "hone in" ipv "home in". Hy praat van 'n wind pump ipv a windmill. En so gaan hy aan. Ag nouja, hy kan meer tale praat as ek, en ek moet seker nie 'n vinger wys nie want my Afrikaans raak al hoe swakker. Sy program is baie interessant en ek hou vd kunswerke wat hy vir ons wys.
Ek het jou reeds vertel van my book club lunch Maandag.  Dinsdag het ek saam met Heather gaan fliek. Ek het nie veel hoop gehad nie, dit was 'n rom/com met name Happy Ever Afters. Maar ek was aangenaam verras. Ek het dit baie geniet. Dit was een van daardie low-budget British comedies. Nie soos 'n Amerikaanse rom/com nie.
As dit by die Village Odeon kom, kan jy gerus een oggend sommer daar in-pop saam met jou buurvrou. Daar sal nie 'n lang tou wees in die oggend nie - mense is bedrywig by hulle huise in die oggend. Stap agter die stofsuier aan, trek onkruidjies uit, ontwurm die hond, gaan shop by Josephs vir vanaand se pap en wors-braai in die jaart.
Woensdag het ek my kop laat afkap. Ek gaan hom vlg week laat inkleur. Sharni het afgekap en Madeleine gaan inkleur.
Donderdag het ek Frankston toe gery saam met my BFF[1] Margie. Ek het einde ten laaste haar van uitgevind: dis Hamilton! (Wie is nou jou BFF van Sheila weg is?) Ons het 'n besending goed genaam vir Janice se Needy Stitches-organisasie. K het vir my haar ou stofsuier gegee. Ek het allerlei breiwerk gehad om te oorhandig en Margie het hekelwerk van haar ma gebring en naaldwerk van haarself. Sy maak die mooiste lapwerk-quilts. En poppe. Ek het twee teddiebere gekoop by die Op Shop, in splinternuwe kondisie. Ek moes 'n appel en 'n ei uit my beursie ruk. Gelukkig was dit 'n hardgekookte ei of hy was fyn en flenters: 'n slymerige gemors in my beursie.
Janice het getrek na 'n nuwe huis, maar die verkopers het haar 'n streep getrek want die dak lek, die warmwater-stelsel werk nie en die gaslyn het lekkasies. Plus menige nader defekte. Kos haar bykans $8,000 om alles reg te maak. Ek vra vir haar hoekom sy nie die huis laat inspekteer het deur Archicentre nie? Dis waarvoor hulle daar is! Nee, sy wou nie die $500 betaal vir die inspeksie nie. Duh! Jy sal nie 'n tweedehandse motorkar koop sonder hom hom deur die RACV-inspeksie te sit nie! 
Ek dink Needy Stitches sal tot stilstand moet kom vir 'n ruk want Janice het kanker en moet behandeling ondergaan. Sy loop al 'n jaar met die gewas aan haar enkel - jy kan dit duidelik sien, word al hoe groter. Nou het sy ook gewasse aan haar collarbone (ek het vergeet wat dit op Afr is - sien jy hoe swak word my greep op my moedertaal) en aan haar gewrig en een in haar bobeen.
Haar dr het gesê sy kan nou nie meer uitstel nie. Hulle gaan die gewasse verwyder en dan moet sy 3 maande chemo ondergaan.  Sy dink sy sal kan voortgaan met haar bedrywighede, maar ek dink sy steek haar kop in die sand. She's in denial! Ek hoop ek sal nooit eerstehandse kennis dra van chemo nie, maar soos ek dit verstaan, maak dit jou baie siek en moeg en in geen kondisie om donasies te sorteer, bokse te pak en goeie werke te doen nie.
Vrydag het ek my eertydse skoonmaker Joan ontmoet vir koffie. Sy het getrek na Moe, so 'n uur se ry uit Melbourne. Sy was net hier vir die dag - vir bietjie shopping in die groot stad en om haar kleinkinders te inspekteer. Sy rapporteer Harry (15) speel krieket vir sy klub se eerste span, Xavier (6) het inkontinensie-probleme en Grace (4) weier om haar tutu uit te trek. Sy gaan skooltoe daarmee.
Joan sê sy bly lekker in Moe, sy ken almal op die dorp en daar is alles wat haar hart begeer. Gawe biblioteek, bingo en trivia nights by die pub, bowls club vir haar man, winkels, dokter, herdresser, wat meer kan jy verlang.
Dis all very well vir Joan, maar hierdie sussie van jou verlang meer as dit: ek wil in 'n groot stad woon waar alles beskikbaar is. Of jy 'n opera of 'n olifant wil sien, klim op jou kar en ry na die betrokke venue, betaal jou toegangsgeld en siedaar.
Ek onthou altyd hoe het Susan gekla toe sy George toe moes trek van Jhb af. Die dorps-winkels is alles goed en wel, het sy gesê, maar as jy groen sandale of A Tree Grows in Brooklyn wil koop, dan moet hulle wegstuur Kaapstad toe daarvoor. Mind you, Joan is baie handig met inkope op haar rekenaar - die wereld se winkelrakke is binne jou bereik as jy 'n rekenaar en 'n kredietkaart het! Maar jy moet nog stad toe om die opera of die olifant in lewende lywe te sien.
Vanoggend was ek vroeg op - ek het 2 krismiskoekens in die oond. K het gesê sy klok vandag in en sal vanaand oorslaap. More sal sy saam met my gaan fliek, ons gaan sien The Ides of March. George Clooney en Ryan Gosling. Ek kan dit by voorbaat aanbeveel, nog voor ek dit gesien het!
As sy vandag betyds opdaag, is sy welkom om ook saam fliek toe te gaan. Ek wil later vanoggend Moneyball gaan sien met Brad Pitt. (Ek gaan nie saam met Brad Pitt as sulks nie; hy speel die hoofrol. Ek sal nerens saam met Brad Pitt wil gaan nie, hy het altyd ses kleintjies op sleeptou. Kan Brangelina nie 'n nanny of twee bekostig nie? Hulle ken nie die einde van hulle skatte nie.)
Dis regtig feast or famine op die bioskoop-front. Maandelank is daar niks wat 'n mens wil sien nie, en skielik is die baaiskoupe vol gawe prente wat ek nie wil misloop nie. Hulle bring nou alles uit voor die 2012 Oscar-inskrywings sluit. Ek moet maar hooi maak wyl die son skyn, want voor ons ons kom kry, is dit skoolvakansie en dan is daar weer net kiddieflicks, rom/coms en ontploffings-prente.
D het pas gebel vd bowls club om aan te kondig hulle gaan nie speel nie. Rain stops play. Hy wil weet of ek fliek toe gaan en of hy kan saamgaan as ek nog nie bespreek het nie. Gelukkig het ek nog nie bespreek nie, ek wag om te sien of my koekens betyds uit die oond gaan kom.  Dis nog 'n gawe ding wat jy kan doen as jy 'n R en 'n K/K tot jou beskikking het. Kies jou sitplekke en druk self jou kaartjie, dan hoef jy nooit tou te staan nie, stap net in.
Ons Prinses Mary en haar Deense man is tans hier in die land. Hulle het amptelike bedrywighede gehad in Sydney en Canberra en hier in Melbourne het sy 'n nuwe Deense skip gedoop en hy het 'n sport-sentrum geopen. Hy is nou op die Olimpiese komitee. More vloog hulle Tasmania toe om 2 weke by haar familie te kuier. Hulle het hulle elf-maande oue tweeling saamgebring, vreeslik cute. Prins Vincent en Prinses Josephine. Die twee ouer kinders gaan skool, maar hulle sal Maandag by hulle pa en ma aansluit in Tasmania. Julle het mos nou ook 'n prinses - sy sal seker ook eersdaags haar prins aanpresenteer met 'n nakomeling. Sy lyk vir my baie na haar oole' skoon-mammie Grace Kelly.
Denise  het laat weet dat sy ook nou 'n tweede kleinseun het. Benjamin, 'n boetie vir Lincoln. So boer almal vorentoe.
Nouja, Sussie, ons is weer by sela. Bly mooi en sê groetnis.
Love, Suster K  {¯IY



[1] Best Friend Forever