Tafelberg |
Wednesday, 26 February 2014
Liewe Sussie,
Jy sal bly wees om te verneem dat na al my gekla oor ek geen
tyding kry nie, hier eergister 2 briewe opgedaag het van jou, en gister ‘n
derde een. They come not single spies but
in battalions. Shakespeare het altyd die mot juste. Jy sê myne koek ook so saam in groepies daar in jou
posbus. Ag nouja. Solank hulle opdaag. Ons het nie Douglas se posbeamptes na
behore waardeer nie.
Ek het op Facebook gesien hoe mooi is A by die Valentine’s
Ball wat hulle gehou het. Sy was vir my die mooiste van almal in haar elegante
rooi rok. Party se rokkies was net so ‘n pelmet bokant hulle se muuse.
Ek is nou op datum met W se wederhelf, dit klink of jou nuwe
skoon-kleindogter ‘n goeie keuse is. Woon hulle in Pretoria? Handig vir jou
toekomstige babysitting-dienste.
Ons is egter nog nie klaar met die troue nie. Jy het my nog
nie vertel of W en Mevrou by die troue was nie. Ook nie op watter dorp die
troue plaasgevind het nie. Ook nie watter kleur H se onvanpaste outfit was nie.
Het H nog ander kinders? Hou haar ouers nog die lewe?
Ek het gekyk na die Wilgers se website. Dit lyk baie mooi,
daar is volop foto’s en ek het gesien hoe lyk die 2-slaapkamer-huise se
vloerplan ook. Nou weet ek waar woon jy.
Ja, ek ontvang gereeld S se jaarverslag, maar ek kyk merendeel
net na die prentjies. Ek mis daardie mooi Karen!
Ek was interessant (a la Oorle’ Ant Ann) om te hoor van jou
gordyn-saga. My vriendin Joan het my vertel van ‘n dame wat ‘n mens se gordyne
kom afhaal, wegneem, skoonmaak en weer kom ophang. Joan sal my haar nommer gee
en dan gaan ek haar bel. Ek is te oud om op lere te klim en gordyne afhaal /ophang.
En as ek net dink aan daardie drie-vurk-hakies waarmee ek die plooi moet inhaak!
Joan sê dit het haar $400 gekos vir die hele huis se gordyne, maar ek dink dis
die moeite werd.
Ek moet juis vir Peter Chapman die handyman ook bel, want
daar is los goedjies wat in die huis gedoen moet word en jy weet D is nie ‘n
man wie se hande aan sy brein gekoppel is nie.
Ek is bly jy het vir Madie ontmoet – jammer haar dogter is
in Perth. Te ver om Madie te gaan haal
vir ‘n koffie by my as sy daar kuier. Perth is so te sê ‘n ander land! Dis
waar wat sy sê dat daar so baie S-Afrikaners in Wes-Australië is. In die ou dae van die SAfr-diaspora was
dit die goedkoopste opsie om net tot in Perth te reis. Die Ooskus is soveel
verder en duurder. Dan is daar ook altyd werk in die Weste, met al die myne
daar, en natuurlik sluit nuwe
aankomelinge aan by vriende en familie wat reeds daar is, so brei die
gemeenskap uit.
Maar S-Afrikaners is nou orals in die land. Nie altyd baie
gewild onder hulle nuwe landgenote nie – hulle het ‘n reputasie vir arrogansie
en snobisme. Dis seker maar omdat daar ammelee in SA ‘n klasseverskil was
tussen professionele mense en ambagsmense. Hier in my nuwe land gaan dit nie
goed af as jy jou neus optrek vir ‘n ander man se nering nie.
Ja, ek weet, hier by my is mense ook verstom om te hoor dat
ons al soveel jare korrespondeer en dit nogal elke week! Die vraag is altyd: maar
waaaroor skryf julle? Wel, ons skryf oor alles en niks, is die antwoord!
Niks besonder opwindends gebeur in ons lewens nie (en net ‘n goeie ding ook!)
maar ons het belang by mekaar se alledaagse kom en gaan, en ons gesels
lekker. As ‘n mens so ‘n ver pad kom
soos ons (62 jaar sedert ek jou ontmoet het daar by Stewartstraat in 1952!) dan gaan min woorde
baie ver, want daar is kodes vir alles!
Skinderstories ruil ons ook uit. Roddelverhale, het my Hollandse vriend Arno my geleer. Roddel klink beter as skinder.
Nog ‘n gawe Hollandse woord is knuffel. Op Engels hug of cuddle. Ek het sopas gekyk na ‘n Hollander se website met die naam
“Droomplekken”. Ek kyk gereeld daarna, hy plaas foto’s en videos van mooi
plekke orals in die wereld. Die jongste een is “Toerist werd geknuffeld door
zeeolifant” en daar is die elephant seal
wat op die toeris se skoot probeer klim en hom omarm met sy flipper.
Mazel tov vir R met haar kêrel, maar ek moet jou sê ek wil
nie ‘n kêrel of ‘n geknuffel hê nie. Ek weet nie van jou nie, maar ek sal baie
verbaas wees as ek hoor jy het ‘n kêrel. Maar soos ons weet, daar is party
vrouens (en jy kan hulle in die laerskool al uitpiek!) wat altyd ‘n kêrel moet
hê. As die kys uit is, is hulle binne ‘n week met ‘n ander een gekys. Heel
waarskynlik het hulle vir nommer 2 in die oog nog voor hulle vir nommer een die
trekpas gee. So gaan hulle deur laerskool en hoërskool en hulle 20s en 30s en
verder ... kan nie sonder ‘n kêrel wees nie. Jy het nooit hulle volle aandag in
die kort tydperk wanneer hulle tussen kêrels is nie. Kyk altyd oor jou skouer
as hulle met jou gesels, of daar nie dalk ‘n kêrel op die horison is nie.
Ek dink hulle saai feromone uit ook, want hulle het nooit ‘n
probleem om ‘n nuwe kêrel te kry nie! Tant H het altyd gesê jy kan ‘n weeluis
op die maan neersit en as jy weer daar kom, het hy kleintjies. Nouja, ek dink
jy kan daardie vrouens op die maan neersit en as jy weer daar kom, het hulle ‘n
kêrel. Nie noodwendig met kleintjies daarby nie.
62 jaar, Sussie, dis langer as my boetie se hele lewe. Daar
is baie min mense oor wat my geken het toe ek twaalf was. Newwermaaind jonger.
Nabs. Willem. Piet Kotze. Neef Dawie.
Ek is baie bekommerd om te hoor R het ‘n pyn en ek hoop dis
sommer niks. My buurvrou Janet wat ‘n dokter was, het altyd vir my gesê pyne
kom en gaan, niemand weet hoekom nie. Ek weet dit is waar, maar as ‘n pyn te
lank aanhou, moet daar ‘n oorsaak wees. Ek kan onthou toe ek jonk was, het ek
partymaal in die nag wakkergeword van ‘n pyn iewers in my abdomen, (nie ‘n
toilet-tipe of ‘n period-tipe pyn nie) en dan gaan hy maar weer weg na ‘n paar
uur se op en af stap en warmwatersakke ontplooi. Ek onthou hoe het Tant H saam
met my orentgesit in die nag as ek ‘n pyn het. En ek herinner my dat Elaine ook
partymaal sulke nagtelike pyne gekry het. Ek wag om te hoor by jou van R se
pyn.
Ek onthou ‘n skiepa! Ek het altyd gedink dit is ‘n skipper –
verwant aan ‘n jumper. Jy skip of jy jump met hulle aan. Jumpers is die woord
hier ipv jerseys. ‘n Gewone trui is ‘n jumper en ‘n voetbaltrui is ‘n guernsey.
Nie ‘n jersey nie. As iemand ‘n prys wen of ‘n gesogte posisie bekom, dan sê
hulle: “He got the guernsey”.
Sondag 2 Maart
Elaine het Vrydagaand ingeklok. Gister op die Saterdag het
sy vroeg opgestaan om twee ander Slim Hansies aan die voet vd berg te ontmoet,
waar hulle die Thousand Steps bestyg het. Ek het gaan inkopies doen en my
biblioteek besoek. Ek het twee boeke gehad wat laat was, ek kon hulle nêrens
kry nie, maar na ek die hele huis omgekeer het, het ek een in my handsak gekry.
Nie ‘n handsak wat ek dikwels gebruik nie, maar ek het die
boek in hom gesit eendag toe vir Alannah moes ontmoet vir koffie en sy het
gebel om te sê sy sal ‘n bietjie laat wees. Ek het die boek saamgeneem om te
lees terwyl ek vir haar wag en nie weer die handsak gebruik nie. Die ander boek
het ek gekry in ‘n mandjie in my kombuis, onder ‘n klomp plastiese sakke wat ek
opgevou het om te gaan recycle. As ek nie so lank uitgestel het om die sakke na
die recycling te neem nie, sou ek vroeër die boek ontdek het!
Ewentwil, ek moes nege dollars opdok maar ek gee nie om nie,
want dit was alles my eie skuld en buitendien maak ek flink gebruik van die bib
lioteek se uitstekende gratis dienste. Hulle verskaf enige boek wat ek bestel –
as hulle dit nie self het nie, dan koop hulle dit aan.
Gister het ons ‘n toneelstuk gaan sien, genaamd Cock. Dis nie die beste een wat ons nog
ooit gesien het nie, maar nou ook darem nie so dat ‘n mens halfpad wou huis toe
gaan nie. Een van daardie moderne jobs ... om een of ander rede was daar geen
ander dekor op die verhoog behalwe kussings nie. Die hele vloer was van hoek
tot kant kussings. Gewone bed-kussings. Die akteurs het hulle opsygeskop dat
hulle kon loop en some sommer op hulle getrap. Wanneer hulle veronderstel was
om om ‘n tafel te sit en eet, het hulle net so oorkant mekaar gestaan asof daar
‘n tafel is. Ek kon geen rede sien hoekom hulle nie maar meubels kon gehad het
op die verhoog nie.
Ons was vyfuur tuis en sesuur het Elaine gegaan na haar
vriendin Rani se verjaarsdag-party. Sy het gesê sy sal teen negeuur weer tuis
wees. Sy sê daar was sowat ‘n dosyn kinders onder ses jaar en op ‘n stadium
roep ‘n ma: “Ice Cream!” en Elaine was in die pad vd stormloop. Sy sê hulle het
haar onderstebo gehardloop soos ‘n trop migrerende wildebeeste. Toe sy by die
huis kom, sê sy vir my: “I was traumatised, I’m still shaken!”
Gisteraand het ons ‘n bietjie krieket gekyk voor ons gaan slaap
het. Kaapstad is so mooi. Die berg teen die blou lug en hier en daar ‘n wit
wolk. Vanoggend het ek die goeie nuus gehoor toe ek wakkerword, dat ons
krieketspan blykbaar hulleself reggeruk het na die fiasko vd tweede toets.
Hopelik sal dit nie alles in ‘n hoop val wanneer hulle weer inklok vanaand nie.
Ek weet nie hoekom moet krieket en rugby altyd in die middel vd nag plaasvind
in SA nie. Gaan julle nie slaap nie?
Ek en Elaine gaan vanmiddag Dallas Buyers Club sien. Ek is hoopvol dat ons daarvan sal hou. Ek
is ‘n fan van Matthew McConaughey, al moet ek altyd vir Google vra hoe om sy
van te spel.
Ek het vir ‘n verandering vir die kunstydskrif ‘n
boekresensie geskryf, want die vrou wat dit gewoonlik doen, is met vakansie. Ek
sluit dit in, ek kan al dd boeke aanbeveel. Miskien kan Joalet party van hulle
vir jou bestel, ek weet nie hoe goed is julle plaaslike biblioteek se
versameling nie. Ek is seker jy het party van hulle ook al gelees, baie is
Golden Oldies!
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Ek hoop die
stotterende poswese sal eersdaags op dreef kom.
Liefde en groete van huis
tot huis. Suster Katrien ö C J
No comments:
Post a Comment