Tom Roberts: Holiday at Coogee |
Sunday, 23 February 2014
Liewe Sussie,
Hier is ons weer op die H/S en ek sit my neer vir jou te skrywe.
Ek het baie lanklaas van jou gehoor - navraag gedoen by R per e-mail maar ook
nog niks van hom gehoor nie. Ek troos my aan no news is good news.
Hier het niks opwindend gebeur nie, ek sal maar rapport
uitbring oor die week se saai gebeure:
Ek het driemaal gaan koffie drink saam met verskillende
vriendinne: Joan, Margie en Aletta. In elke geval het ons lekker gesels en het
ek agterna ‘n bietjie inkopies gedoen in die betrokke winkelsentrum.
Aletta het my breedvoerig vertel van haar buurman se
operasies, waarby ek geen belang het nie. Ek sal jou nie weer verveel met my
gesanik oor mense wat van kwale en medisynes wil praat nie. Dis erg genoeg as
ek na hulle eie skete moet luister, maar as ek moet hoor van vreemdelinge se
siektes, dan word my oë glaserig en ek onthou ‘n afspraak elders. So het ek vir
Aletta kortgeknip: ek het gelieg in my tande en gesê ek moet huis toe gaan want
daar kom ‘n handyman kwoteer vir takies wat verrig moet word in die huis.
Ek op my beurt hou my skete en kwale vir myself – dis my eie
besigheid en ek wil nie die hooflyn op die agenda wees wanneer Aletta met haar
buurvrou koffie drink en al my persoonlike besigheid uitlap nie.
Donderdag het ek en D gery na Mornington op die skiereiland
om te gaan kyk na ‘n uitstalling by die Mornington Peninsula Gallery: Sea of
Dreams.
Sea of Dreams is a broad
chronological survey of major Australian artists whose works are closely
associated with the bay. In addition to sumptuous ‘blue and gold’ views of the
coastline, the exhibition includes modern works that document the changing
physical topography and presence of distinct artistic communities as well as
illustrate the important role of nostalgia, memory and association.
Sea of dreams
comprises approximately 70 paintings, drawings and prints sourced from major
public, private and corporate collections throughout Australia. It features
many rarely seen gems, some of which have only recently come to light.
Dit was ‘n lekker dag vir ‘n uitstappie. Ons het baie gehou
van die skilderye en daarna het ons koffe gedrink in die galerytjie se kafee.
Dis ‘n klein kunsgalery, hulle het net drie vertrekke, maar hulle het altyd
baie interessante uitstallings daar. Die kafee is nie beman nie, jy help
jouself aan drinkgoed en koek of toebroodjies, en dan sit jy jou geld in ‘n
bakkie en neem die korrekte kleingeld indien nodig. Na bykans dertig jaar in my
nuwe land is dit nog steeds vir my verbasend dat die stelsel so goed werk.
My nuwe skoonmaakster Joy het weer vandeesweek ingeklok en
weer uitstekende diens gelewer. Alles is skoon en blink. Dit voel of ek ‘n
pierinkie room uitgesit het en die feetjies het in die nag alles blinkskoon
gemaak. My krane blink, my oond glinster, jy kan jou brekfis van my vloere af
eet. (Maar dan moet jy hulle self weer skoon-mop!)
Gister op die Saterdag het ek na die kunsgalery toe gery en
vir Vera en Elaine daar ontmoet. Vera en James is hier vir ‘n week, hulle woon
soos gewoonlik by Carl en gaan sien hulle kleinkind by Christine se huis
wanneer hulle toegelaat word om daar aan te meld. Sy het nou die hef in die
hande en vergeld vir Ma en Pa nou deeglik vir wat hulle ookal in haar kinderdae
gedoen het om haar te na te kom. Of miskien is sy sommer net ‘n teef.
Ons het gekyk na ‘n uitstalling van Chinese calligraphy. Ek
weet nie baie van Chinese kuns nie, maar ons het aldrie baie daarvan gehou. Dis
alles deel vd NGV se versameling, hulle grou elke nou en dan so ‘n klompie goed
uit die stoorkamers. Party vd scroll
paintings dateer uit die 1400s en 1500s. Dit kombineer skrif met prente.
Baie fyn en delikaat.
Ons het ‘n bietjie na deel vd permanente versameling ook
gekyk, nie soveel na skilderye nie, maar na meubels en juwele. Daar is ‘n stel
Viktoriaanse juweliersware wat bestaan uit tiara, halssnoere, armbande en
ringe, alles gekerf uit seeskulp. Die fynste cameo’s. Ek weet nie hoe hulle dit
gedoen het sonder moderne toerusting en ordentlike beligting nie.
Daarna het ons by een vd galery se kafees middagete geniet
en toe het ons elkeen ons eie gang gegaan. Ek het vir Elaine by haar huis gaan
aflaai op my weg huistoe. Sy wou ‘n middagslapie inkry want sy was van plan om Melbourne
se jaarlikse White Night by te woon. Die
stad en alle besighede bly heelnag oop, openbare vervoer loop heelnag, al die
strate is gesluit vir verkeer, duisende voetgangers neem oor. Orkeste speel in
die strate, en op al die groot geboue word kunswerke geprojekteer. Dis een
groot straatkermis. Ek sien vanoggend op die nuus daar was oor ‘n halfmiljoen
mense in die middestad en op die oewers vd rivier. Alles het glo baie vreedsaam
verloop en niemand is gearresteer nie. Ek sal seker later vandag van Elaine
hoor om te sê wat sy alles gesien en gedoen het. Sy het saam met ‘n klompie
vriende en kollega’s gegaan.
Ek wil netnou biblioteek toe ry, my plaaslike tak is net oop
van 1 tot 4 op ‘n Sondagmiddag. Daar wag ‘n klompie boeke wat ek lankal bestel
het. Ek sukkel om te lees as die druk te klein is. Ek soek na een van daardie
reghoekige vergrootglase wat jy op ‘n blasdsy kan neersit. Ek kan seker ‘n boek
wat te fyn gedruk is, aflaai op my e-reader,
want daar kan ek die grootte vd letters verstel soos ek wil, maar dis ook ‘n nuisance, want die apparaat
se “bladsy” is so groot soos ‘n outydse sagtebandboek, en as ek die letters te
groot maak, dan pas daar te min teks op ‘n bladsy. Ek is ‘n vinnige leser en
dan moet ek elke twee sekondes omblaai. Flick-flick flick met my vinger. Ek
verkies ‘n outydse grootdruk-boek, maar nie alles wat ek wil lees, is in groot
druk beskikbaar nie. Hulle dink blykbaar oumense wil net airport novels lees. Net
soos die bioskope wat net rom/coms wys by die sessies wat hulle hou vir ma’s
met baba’s. Blykbaar dink hulle jou brein verander in ‘n klont blancmange as jy
‘n bybie het. Nou kan jy nie kyk na flieke vir grootmense nie.
Moan, moan. Jy het nie lus om na ‘n gekrakeel te kluister
nie.
Ek kan jou die bemoedigende tyding meedeel dat H blykbaar
goed insettle by sy nuwe blyplek. Die personeel is goed vir hom, en hy kla nie.
Vir S is dit ‘n groot verliging en sy kan nou ‘n goeie nag se slaap inkry vir
die eerste maal in jare. So dit is alles goeie nuus.
Ek kan jou geen tyding vd C's meedeel nie. Ek sal kyk of ek
haar vanaand kan Skype. My rekenaar was nie
heerlik nie, maar hy is nou weer gesond en kan ek weer op Skype klim.
Nouja, Sussie, ek hoop jy is gesond en dat dit aan die
poswese te wyte is dat ek nie van jou hoor nie. Toe ek in Ingeland was en 3
weke nie van Ma gehoor het nie, was dit omdat sy in ‘n motorongeluk was en
niemand my laat weet het nie. As ek van my takkie afval, hoop ek Elaine sal jou
laat weet, want D sal beslis nie bodder nie. Hy sal reël dat Joy sy wasgoed ook
doen wanneer sy die huis kom skoonmaak, en hy sal uit eet wanneer hy nie lus
het om sy eie wors of steak gaar te maak nie. Verder sal hy net gewoonweg
aangaan, no worries. As iemand na my verneem, sal dit ‘n paar sekondes neem vir
die pennie om te val, voor hy inneem waarvan hulle praat. Duh.
No comments:
Post a Comment