Tuesday, May 24, 2011

Baaiskoup en breiwerk

Liewe Sussie,
Weer op die Sabbat en dit reen. Nietemin gaan ek netnou op my modderkar klim en vir K ontmoet by die baaiskoup. Ek sien uit daarna. Ons gaan sien 'n Franse fliek met name Potiche. Gerard Depardieu en Catherine Deneuve. Sy is nog baie mooi, hy is vetter en leliker as ooit, maar puik akteurs.
Jy kan skaars glo dat hulle nog albei die lewe hou en werk, hulle is albei ouer as ek! K sê sy dink die Franse parlement het wetgewing uitgebring dat ten minste 80% van alle Franse films een of albei van hulle in 'n hoofrol moet hê. Wat worry ek, ek kyk baie liewer na die twee oumense as na vandag se teenage vampiere wat so populier is. In my tyd was Dracula 'n monster en nie 'n romantiese held nie!
D staan op vertrek - hy vlieg Dings-dag na Perth waar hy sal oornag en dan sal hy en Peter saam SA toe vlieg, sodat hy P se hand kan vashou. Ek stuur 'n geskenkie saam vir die 6mde oue bybie ondanks die feit dat ek nog nie vd geboorte in kennis gestel is nie. Ek verwag nie om erkenning van ontvangs te kry nie, newwermaaid dankie!
Latervantyd
Ek is terug vd baaiskoup af. Baie daarvan gehou. Dit was aan die anderkant vd stad, ek het 40 min gery soontoe. Gelukkig het ek parkeerplek gekry net om die hoek. Dit het in venues nader aan my huis gewys, maar nie op 'n tyd wat vir ons albei geleë was nie. K gaan vanaand uit saam met vriende en sy wou na 'n vroeë vertoning gaan.
Voor my het 'n onwelriekende ou man gesit. Gelukkig het ek butter menthol drops in my handsak gehad om aan te suig. As jy 'n menthol ding in jou bek het, ruik jy niks anders nie. Het ek 'n bietjie Vicks byderhand gehad, kon ek dit aan my bolip gesmeer het.
Toe ek hom en sy vrou sien inkom, dink ek hy lyk nes die ou mans wat altyd by die bib ingeklok het toe ek nog daar gewerk het. Dis nie dat hulle vuil is as sulks nie, hulle ruik nie na sweet of voete nie! Ek is seker hulle stort. Maar hulle truie word nie gereeld genoeg gewas nie en ook nie hulle hare nie. Hulle ruik so muf. In die somer ruik hulle nie sleg nie.
Pasede Sondag het ek Burke and Hare gaan sien - dit was so "by way of being a black comedy".  Daar was ook allerlei bekende akteurs wat  klein cameo-rolletjies gehad het - ek hou daarvan. Onthou jy vir Around the W in 80 D? Ek het dit saam met jou en jou eerste man gesien by die Capital in Pta. Ons het al die cameos so geniet.  Waar is die dae.
Maandag was boekklub by Alison se huis. Deesdae bring van die dames hulle breiwerk saam. Ek het altyd breiwerk, maar ek het nie lus gehad om myne saam te neem nie. Ons het soos gewoonlik lekker gesels en tee gedrink, maar so teen twaalfuur het ek skielik gevoel dis nou genoeg, en toe staan ek op en gaan huis toe. Ek het gesê ek het 'n lunch-afspraak. Dit was die waarheid ook: ek het 'n afspraak gehad met 'n bakkie pampoensop wat ek die oggend uit my vrieskas geruk het.
Dinsdag het ek saam met Joan gaan brunch en sy het my alles vertel van haar kleinkind se skoolkonsert wat sy moes bywoon. Dit het my laat dink aan jou jongste se skoolkonsert wat so lank aangehou het, onthou jy? Shym, die kinders was vas aan die slaap toe ons huis toe gaan. 'n Mens kan mos nie loop sodra jou eie kind klaar opgetree het nie! Jammer genoeg.
Woensdag het ek saam met May gaan koffie en shop en bib (in daardie orde) en sy het die manteltjie saamgebring wat sy vir my omgehekel het. Ek brei nou manteltjies vir Needy Stitches maar ek kan nie hekel nie, dus gee ek hulle vir May as ek klaar is dat sy die hekelwerk kan doen. Daar sal wel ou dames wees in die tehuise vir spensionarisse wat bly sal wees oor warm skouers. Kniekombersies het hulle volop.
Dit gaan gou: ek brei veertien blokke en drie driehoeke en siedaar. Partymaal brei ek mossteek en dan weer basket stitch en dan weer brei ek so van 2 steke in die hoek af, jy weet mos. Ek mix and match die kleure; ek het 'n hele mandjie vol wolle.
Donderdag het ek vir Pauline ontmoet om halfeen - daar was geen fliek wat ons wou sien nie, toe gaan eet ons maar 'n yum cha by die Chinese keffie. Ons het vyf pierinkies gekies vd trollies wat aanhoudend verbykom - ons het afgeskop met aubergine en tofu, toe het ons 'n duck-and-shrimp rice paper roll gehad, en toe 'n chicken pie en toe 'n pork dumpling en ten laaste 'n miniatuur melktertjie vir poetieng. Daar is altyd drie van die goedjies op 'n pierinkie. Hoekom nie twee of vier nie? Mense eet mos meesal in twees of viers! Ek en Pauline eet elkeen een en deel die derde een. Die melktertjies kom twee-twee, so dit werk goed uit.
Ewentwil, 'n mens moet versigtig wees om eers klaar te eet wat jy het voor jy nog neem; alles lyk so interessant en lekker, jy wil net aflaai van elke trollie wat verbykom en dan het jy glad te veel kos.
Vrydag moes ek vir Marlene ontmoet het vir koffie, maar ek het 'n besige week agter die rug gehad en ek was net lus om by my huis te bly, toe bel ek haar en stel dit uit tot vollende Vrydag. Ek hou daarvan om een of twee dae per week nie afsprake te hê nie. 'n Mens kan nie so aanmekaar rondrits nie. Ek het darem Vrydag my boeke gaan omruil.
Gister op die Saterdag het ek die Lindsay Ladies ontmoet vir brunch. Heather het nie saamgekom nie, dit was net ek en Pauline en Mary en Linda. Pauline het scones met room en aarbeikonfyt bestel en ons ander drie het skremmel-eiers op tous gehad. Ek en Mary het tee gedrink en die ander twee koffie.
By daardie kafee kan 'n mens tee bestel, hulle bring vir jou 'n behoorlike pot tee met teeblare (nie 'n sakkie nie) en ekstra kookwater. Ek het peppermint tea gehad en Mary het jou stock standard common or garden English Breakfast bestel. Ek het onlangs peppermint tea agtergekom en ek hou baie daarvan. Dit het nie kaffein in nie en dit smaak lekker. K het my vertel haar vriendin Cindy dra 'n P/tee sakkie saam in haar handsak en dan bestel sy warm water, maar ek sal nou nie so ver gaan nie.
Gister was Oordeelsdag maar daar het niks van gekom nie; dit kon ek hulle vertel het. Die pastoor daar in die VSA het aangekondig sy jarelange bybelstudies het hom die wete gegee dat 29 Mei die dag is. Duisende het hom geglo en hulle tassies gepak, maar hulle is toe snaaks genoeg nie gister hemel toe nie. Net sowel, want ek het Vrydag al ons fliekkaartjies vir vandag bespreek en dit nou die end van die wereld was, dan was daar seker nie 'n vertoning nie en het ek verniet al die pad Balwyn toe gery. Die aankondiger op die radio sê vanoggend ewe droog :"So all those who were waiting for the Rapture must be very disappointed. Never mind, Folks, it's not the end of the world!"
Ek sien vanaand op die nuus daar is 'n vent hier by ons wat van huis tot huis gegaan het en aangebied het om mense se diere te versorg wanneer hulle nou weg is hemel toe en die diere moet agterbly. (Shym, hoekom kan die diere nie hemel toe gaan nie? Dis nuus vir my dat diere verbode is. Wat weet ek ook van teologie, bokkerol.) Ewentwil, hy het $130 per hond gevra en $110 per kat. Hy het glo niks onwettig gedoen nie, dis nie sy skuld dat die verrigtinge nie plaasgevind het nie, hy het sy aanbod in good faith gemaak. Soos Mandy Rice-Davies destyds opgemerk het: "Well, he would say that, wouldn't he?"  Ek weet nie hoeveel hy ingesamel het nie, maar ek glo nie hy gaan dit teruggee nou dat die oordeelsdag uitgestel is nie.
More gaan ek my kop laat afkap en inkleur. Ek het lus vir 'n nuwe kleur, ek sal sien wat het Madeleine op haar spyskaart.
Nou gaan ek vir my 'n heerlike koppie tee maak, en dan gaan ek slaap. Chamomile tee, net reg vir slapenstyd. As ek my sonde nie ontsien nie, dan eet ek 'n Marie biskit daarby.
Nouja, Sussie, groetnis tot vollende week soos altyd.
YY + XX, Suster Katrien

Sunday, May 15, 2011

Trae Vertrekker

Liewe Sussie,                                                                                
Anders as pasede week, is dit full house chez nous. K het Vrydag ingeklok en D gister.  Hy is weer eersdaags reisvaardig - nie na Merimbula vir bowls soos beplan nie, maar wel na SA vir T se Life Celebration wat hulle gaan hou hier teen die end vd maand.
Swaerie wil nie saamgaan nie: hy is baie bang vir vlieg en toe hy hoor D gaan direk van Melbourne af vlieg en hy sal alleen sy weg moet baan van Brisbane af na Jhb, toe steek hy viervoete in die grond. Ek weet buitendien nie hoekom D wil gaan nie, T is kant en klaar dood, maar nouja. Ek dink hy het maar lus om sy oom en sy niggie te gaan sien en sy gabbas in Jhb en van sy ex-kollega's met wie hy nog kontak hou. Dis nie my besigheid nie.
Laat ek nou maar verslag uitbring oor my week se aktiwiteite: Ek het Maandag my koskaste op datum gebring met 'n besoek aan die supermark, en toe het ek sommer ook die rondtes gedoen van die biblioteke waaraan ek behoort en al my boeke omgeruil. Ek het drie mandjies wat hier staan: een vir elke biblioteek, sodat die boeke nie moet deurmekaar raak nie.
Ek neem so 'n dosyn boeke by elkeen uit, want ek weet ek gaan net twee of drie van hulle lees.  Dikwels kom ek na 'n paar bladsye agter ek het reeds die boek gelees, of ek hou nie vd boek nie en dan sit ek hom terug in die mandjie en vat 'n ander een. Ek is nou te oud om twee ure te mors op 'n boek waarvan ek nie hou nie. Dis twee ure uit my lewe wat ek nie weer sal terugkry nie. Ek het nie meer so baie ure oor dat ek oordadig kan werk met hulle nie. Toe ek jonk was, het ek deurgedruk end toe met elke boek wat ek begin het.
Dinsdag het ek saam met Joan, my eertydse huis-skoonmaakster, gaan koffie drink; sy vertel my dat haar huis op die mark is en sy gaan trek na Moe, so 'n uur se ry uit Melbourne. (Rym met die naam Zoe.) Klein dorpie. Haar broer en 2 van haar susters woon daar en sy het haar oog op 'n "town house" wat beskikbaar is.
Huispryse is nou baie hoog hier, maar Joan sê sy verwag nie om 'm baie hoë prys te kry nie, want haar huis is baie verwaarloos. Soos jy weet, moet 'n mens jou huis in stand hou soos jy gaan, anders ruk dit hand uit en jy bereik 'n stadium waar dit jou so 'n fortuin sal kos om alles reg te maak, dat jy maar liewer moet verkoop.
Joan het geute en stortbaddens en teels en vloere en vensterrame en al suke dinge wat aandag nodig het en sy sê dit sal duisende kos. Nou verkoop sy maar voetstoots. Haar man Joe het geen seggenskap nie - hy het 'n dobbel-probleem en alles wat hulle besit asook elke pennie in die bank is in Joan se naam; sy gee hom net sakgeld elke week. Ek dink baie vd huis se onderhoud het agterwee gebly in die dae toe Joe nog toegang tot die bankrekening gehad het. Gelukkig het Joan hom in die bek geruk voor hy die huis self aan die casino geskenk het.
Woensdagoggend het ek gaan kuier by May se huis want dit was baie koud en reenerig, sy wou nie uitgaan vir ons gewone weeklikse shop en bib nie. Sy het vir my 'n bakkie sop en 'n broodrol gegee en dit was heel aangenaam. Ons het gebrei en gesels en ek het net na 2 weer huis toe gegaan want ek wou 'n nanna-nap inkry voor ek die aand weer uitgaan.
Woensdagaand het ek gaan eet saam met Edwin en hy het my vertel van Karin se pa wat oorlede is in Durban, en haar broer wat 3 dae voor hulle pa se afsterwe 'n massiewe beroerte gehad het. Die broer was die boedel se eksekuteur en hy het ook die volmag gehad ens. Karin en haar suster moes reel om dit in die suster se naam te kry. Nou baklei Jason (die broer) se vrou en ex-vrou glo oor wie erf wat - newwermaaind where there's a will there's a way … dis meer soos where there's a will, there's a fight.
Donderdag het Rebecca wie se van ek vergeet het, hier kom aanmeld vir middagtee. Sy het drieuur ingeklok. Sy is die vrou vir wie ek ontmoet het deur Needy Stitches. Sy is baie aangenaam, maar haar probleem is, sy is 'n trae vertrekker. Gewoonlik maak dit nie saak nie, want D is hier en as sy by halfses nog hier sit, dan staan ek op en sê ek moet nou begin kos maak want D moet na 'n vergadering toe gaan en hy wil vroeg eet.
Maar Sussie, toe weet sy mos D is nie hier nie; haar man is 'n sekuriteitswag by die Parlement en hy is op aandskof - hy sal eers na middernag tuis wees. En sy sit. Kwart oor ses toe K tuiskom vd werk af, bel sy soos sy gewoonlik saans doen. Ek sê duidelik ten aanhore van my gas: "Can't speak to you now, I have a visitor, but I'll call you back when she leaves."  Dink jy sy staan op en gaan huis toe? Nee.
Halfsewe sê ek dis ure sedert ons laas tee gedrink het, wil sy dalk nog 'n koppie hê? Die skimp val op dowe ore, Sussie, sy sê net ja, sy sal graag nog tee wil drink. En sy gesels. En sy gesels. Tien voor agt toe sê ek verskoon my, ek moet nou toilet toe gaan. In die privaatheid van my badkamer bel ek gou vir K en sê vir haar die vrou sit nog! K het heerlik gelag en gevra of ek haar gaan nooi vir aandete.
Intussen het sy na die gaste-toilet gegaan en toe ek tevoorskyn kom, toe was ek verheug om te sien sy het nie weer gaan sit nie, sy staan met haar handsak in haar voorpoot.  O, sê sy, sy moet huis toe gaan, maar sy kuier so lekker, sy het nooit gesien hoe laat dit is nie! Dis al etenstyd, sê sy, geen wonder sy is so honger nie.
Toe is dit my beurt om die skimp op dowe ore te laat val en ek nooi haar nie vir aandete nie! Sy het seker gehoop ek sal sê ag nee, moenie nou al gaan nie, bly en eet ietsie saam met my! Dan het sy seker gebly tot middernag.  Ek gaan haar nie weer nooi vir middagtee nie, van nou af ontmoet ek haar in 'n kafee soos ek met al my ander vriendinne doen. Sy skop altyd styf as ek voorstel ons moet iewers ontmoet - nee, sy sal na my huis toe kom. Maar ek gaan nie weer val daarvoor nie.
Ek hou lankal nie meer dinner paarties nie - dis baie makliker om iewers te ontmoet, heerlik saam te eet en te kuier, en dan gaan jy huis toe. Na jou skoon huis met netjiese kombuis waar jy niks hoef af te dek of op te was nie. Middagtee ook. Gaan sit by 'n kafee in die winkelsentrum saam met jou vriendin. Laat mense jou bedien met jou tee en wat jy ookal wil eet as jy lus het vir koek, en dan gaan jy huis toe wanneer jy uitgekuier is. Ek sê altyd ek het inkopies om te doen, en dan staan ek op, groet en loop.
Donderdagaand het ek 'n baie aangename ete geniet saam met my 3 ex-kollega's. Ons gaan eet so elke 2 maande saam. Dit was my beurt om die uitstappie te organiseer en ek het Le Gaulois gekies, die restaurant waar ons was vir ons Kersfees-ete. Die ander dames was nog nie tevore daar nie. Almal het dit geniet en gesê hulle sal weer soontoe gaan - hulle mans sal ook daarvan hou. Franse spyskaart, maar die chef is Chinees! Ek het rack of lamb gehad. Hulle sit 'n bak groente en 'n bak aa-trappels en 'n bak slaai op die tafel vir almal om te deel. Ons het nie nagereg bestel nie, net koffie. Ek het groen tee bestel. Groot fout, ek moes onthou het hulle kan nie tee maak in restaurante nie. Ek het 'n koppie warm water gekry met 'n teesakkie in die piering. Yuck. Ek het maar die warm water gedrink sonder om die teesakkie daarin te doop.
Gister op die Saterdag was ek en K stad toe om Next to Normal te sien in die Playhouse Theatre. Dis deel van ons teater-subskripsie vir die jaar. Ken geeneen vd akteurs nie: ek hou daarvan as die akteurs vir my onbekend is, dan sien ek hulle nie knaend as hulle TV karakters nie!  Dit was 'n musical, met 'n ongewone onderwerp vir so 'n tipe vertoning. Die vrou ly aan depressie omdat haar 8-maade oue seuntjie dood is. Dis nou 18 jaar later en sy het hallusinasies (of is dit delusies?) Ewentwil, sy sien die seun, nou 18 jaar oud, en voer gesprekke met hom. Haar man en 16-jarige dogter se lewens is ontwrig deur haar siekte: baie tonele is in die psigolooog se spreekkamer, en so gaan dit aan. Dit klink nie na iets wat 'n mens sal wil sien nie, maar ons het nietemin daarvan gehou.  Al die akteurs het hulle goed van hulle taak gekwyt, die orkes was puik en die storie was boeiend.
Hier is ons nou op die Sabbat, Gladys is besig aan die derde bondel van die wasgoed wat D met hom saamgebring het van Moamma af en vanmiddag gaan ek en K "Burke and Hare" sien in die baaiskoup. Jy sal die 2 ou Skotte onthou wat lyke verskaf het vir disseksie aan Dr Knox by Edinburgh se universtiteit teen £10 per kop. Eers het hulle hawelose mense se lyke gebring wat deur die munisipaliteit begrawe sou word, en toe die voorraad nie voldoende is nie, het hulle self meer voorraad vervaardig! Hulle is op die ou end opgehang; ek glo Dr Knox moes ook aan die pen gery het - hy het goed geweet hulle versmoor die oumense en dronklappe. Hoe kon hy die lyke ondersoek en dit nie weet nie? Maar nouja, hy het vrygespring.
Gegroet tot vollende week!  YYY Suster K

Sunday, May 8, 2011

Nog 'n week in sy maai

Liewe Sussie,
Nog 'n week in sy maai en hier is ek op die Sondag alleen in my stil en netjiese huis. K is in Canberra en D is in Moamma, mazel tov.
Ek het toe pasede Sondag teeparty gehou vir Pauline se happy birthday - ek het vir haar 'n manteltjie gegee wat ek gebrei het, so vir die koue wintersaande. 'n Ou dame se skouers moet warm bly as sy sit en lees. K het vir haar 'n besending Belgiese tjoklits gegee en May het vir haar fudge gegee. Pauline het 'n soet tand soos Billy haar beswaarlik kan nadoen. Nietemin is sy geensins vet nie, dis seker die industriele hoeveelhede nikotien wat sy inneem wat haar slank hou!
Ons het 'n aangename middag deurgebring. Pauline se drie dogters is goeie geselskap. Margaret was pas terug van Vietnam en het ons van haar wedervaringe vertel. K kon ook stories oor Vietnam bydra.
May het ons vertel van haar avonture in Hong Kong en Singapore, waar sy en haar suster gereeld gaan shop het toe sy nog hups genoeg was daarvoor. Dis nie my idee van 'n gawe vakansie in Anderland om dit in die winkels deur te bring nie, maar nouja, elke ou diertjie het sy plesiertjie.
K het eenmaal saam met drie vriendinne Thailand toe gegaan, en sy sê die ander twee wou net shop en het nie belanggestel in tempels of museums of rivier-boot-uitstappies nie. Sy het toe maar alles alleen gedoen, die ander twee het hope skoene en klere en handsakke gekoop en almal was gelukkig. Hulle miskien minder gelukkig, want hulle het maag-aandoenings gekry en K nie. Ek glo darem nie dis die shopping wat hulle mae omgekrap het nie!
Maandag het ek saam met Joan gaan brunch, Dinsdagaand het ons gaan eet saam met Bob en Jenny Miller soos ons elke 2 maande of so doen. Hulle het ene Sandy saamgebring, 'n vent vir wie Bob ken deur sy atletiek-aktiwiteite. Bob is hoog aangeskrewe in die hardlopers-wêreld. Toe hy jonk was, het het self gehol, maar nou rig hy ander af om te hol of die duiwel agter hulle sit. Met hooivurk.
Ewentwil, die Sandy is een van diesulkes wat speels-galant raak sodra hulle 'n paar glasies wyn in het. Nudge-nudge. Wink-wink. Suggestiewe kommentare. Een goeie ding van oud wees is dat 'n mens jou niks hoef te laat welgeval nie - ek het vir hom gesê: "your comments are inappropriate and I don't like it."  Hy het gemompel van "net 'n grappie", maar het hy hom darem redelik gedra die res vd aand. Ek dink ek verander in my Tant H op my oudag!
Ek het my namens jou gevies vir die ou man wat daar op jou voordeur opgedaag het. Nou dat sy vrou oorlede is, shop hy vir 'n plaasvervanger. Hy het nie lus om vir homself te sorg nie, hy moet iemand hê om sy wasgoed te doen en sy maaltye te verskaf. En dalk wil hy nog die nuwe huishoudster moleveer ook. Yuck.
Woensdag het ek vir Mireille ontmoet vir tee - of liewer ek het 'n pot groen tee bestel en sy het niks gedrink nie want sy is allergies vir alles en sy het probleme met al haar organe, noem maar op - liver and lights, wat weet ek. Sy eet niks. Ek weet nie waarop sy lewe nie. Ek is altyd versigtig om nie te nies in haar teenwoordigheid nie, want ek weet sy sal wegwaai. Sy is nietemin so mooi en elegant soos Franse vrouens altyd is, ek weet nie hoekom dit so is nie; daar is seker iets in die drinkwater in Frankryk, wat hulle inkry wanneer hulle baba's is. Hulle het ook mos altyd 'n serpie wat elegant geknoop is.
Donderdag het ek saam met May biblioteek toe gegaan en ons het wol gekoop by die $2 shop wat 'n groot besending mooi kleure ingekry het. Breiwol is nou so duur, en ek brei mos knaend goeters vir die behoeftiges.  Nou dat ek vir Pauline die manteltjie gebrei het, brei ek sommer nog 'n paar van hulle, vir die ou dames in die gowwerment se aftree-oorde vir pensionarisse wat nie ekstra inkomste het nie. Die vingerlose handskoene is ook baie gewild by die ou dames, hulle lyk soos die moffies wat ons by ons volkspele-rokke gedra het, onthou jy. Ek brei sommer 'n bypassende paar by elke manteltjie, met die oorskietwol. Ek het vir myself ook 'n paar gebrei, my hande kry koud as ek soggens vroeg orent sit en lees saam met my oggend-tee. Koue oggende = rumatiekpyne in hande.
Vrydag het ek toe eindelik na twee uitstel-beurte (een van my en een van haar) vir H ontmoet vir koffie, 4.30 na haar werk. Sy het een van haar 2 stout kinders saamgebring, die 3-jarige dogtertjie. Ons het by 'n tafeltjie in die "food court" gesit by die winkels. Dit was nie moontlik om 'n gesprek te voer nie: die kind hardloop rond en H kyk die hele tyd oor my skouer waar is sy en wat doen sy, en spring elke nou en dan op om haar te haal waar sy teen goed opklim of onder mense se tafels inkruip.
Dan neul sy vir chips en dan neul sy vir lollies en as H opgestaan het en dit vir haar gaan koop het, dan wil sy dit nie eet nie, breek stukkies af en gooi dit op die vloer, wat haar ma ewe ordentlik optel. Ek het na 'n halfuur gesê ek moet nou gaan want ek het nog 'n paar inkope om te doen voor die winkels toemaak. 'n Taai klap is die antwoord.
Die kind is regtig 'n baie mooi dogtertjie, met lang blonde hare, maar hulle lyk soos dreadlocks. H sê haar hare het dae laas 'n borsel gesien, want sy wil nie dat haar ma haar hare borsel nie. My ma het nie my toestemming gevra nie!
Saterdag, gister, het ek fliek toe gegaan en "Babies" gesien. Dokumentêr. Daar was nie dialoog nie, net musiek. Dis van 4 baba's, jy sien hulle beurtelings, van hulle geboorte tot hulle een jaar oud is. Kenya, Japan, Mongolië en San Francisco. Die fotografie was so mooi, en dit was baie interessant. Die kontras is so groot tussen die omstandighede: die hut in Kenya, die yurt in Mongolië, die high-tech woonstel in Tokyo, die middelklas-huis met agterplaas in die VSA.
Die baba in Kenya kruip daar op die grond rond, die hond lek hom, vliee sit op hom, sy ma smeer modder aan sy kop, en die Amerikaanse en Japanese ma's is so higienies dat daar nie 'n kiem kan leef in hulle huis nie. Die Mongoliese bybie word styf toegedraai soos 'n kokon en as hy begin loop, is hy ook maar daar tussen die skape in die kraal. Sy ma spat melk op sy gesigie en vee dit af met 'n lappie. Sou water skaars wees daar? Maar wat ookal, hulle ontwikkel presies dieselfde, leer eet en praat en kruip en loop, alles dieselfde. Aap hulle ma's na.
Vandag het ek niks gedoen nie: laat geslaap, opgestaan en ontbyt gemaak en weer op my beddegoed gaan plaasneem, my boek gelees, teegedrink en weer gedut. Nou gaan ek 'n bietjie uit, pos jou brief, stap 'n endjie en dan gaan ek na my nuwe ballet-DVD kyk : "Dancing for Mr B." Dit is ses van George Balanchine se ballerina's wat vertel hoe hulle saam met hom gewerk het, en hulle dans uittreksels uit bekende Balanchine-ballette. Ek wil veral graag vir Maria Tallchief en Suzanne Farrell sien dans, ek het geen DVDs van hulle nie. Ek het wel die "Nutcracker" van Baryshnikov, waarin Gelsey Kirkland die rol van Clara dans - sy was een van Balanchine se bekende dansers. Sy ballerina's het 'n styl van hulle eie.
My versameling groei mooi aan, veral nou dat die Aus$ so sterk is teen die US$ - ons het hulle verbygesteek en kry nou US$1.10 vir een van ons dollars, so ek bestel DVDs van die VSA af terwyl dit so goedkoop is! Ek het drie Nutcrackers - die American Ballet Theatre se Baryshnikov, die Swedish National Ballet s'n en die Royal Ballet s'n met Anthony Dowell.
Ek het nie die Australian Ballet s'n gekoop nie: ek hou nie baie van Graeme Murphy se choreography nie. Hy het die hele storie in Australië geplaas en Clara 'n Russiese immigrant gemaak. Alles in moderne drag, en ipv die nutcracker-soldaatjie wat teen die Muiskoning en sy muis-troepe veg, het hy 'n Russiese prins in wit uniform, wat teen die Rooi Magte veg.
Murphy hou van alternatiewe interpretasies - hy het sy eie Swan Lake ook gedoen vir die Australian Ballet se repertoire: hy het dit in Vienna in die 1930s geplaas, en ipv die swart swaan Odile, is dit 'n Barones wat die prins afrokkel, sodat Odette 'n senu-instorting kry en in Sigmund Freud se kliniek geplaas word. Ek het baie van daardie Swan Lake gehou, amper meer as van die tradisionele een.
En dan het ek ook Matthew Bourne se Swan Lake op DVD gekoop - ek en K het dit in Sydney gesien. Bourne het al die swane mans gemaak, daar is nie Odette of Odile nie: die pas de deux is met 'n prins en 'n Hoof-swaan.
As daar 'n balletgeselskap by die Douglas kerksaal inklok met  Matthew Bourne se Swan Lake, moet jy dit nie misloop nie.
Verder weet ek nie wat om aan te kondig nie, ek het nie juis tyding nie.
Ek sal die komende week alleen tuis wees - D kom vlg Sondag terug van Moamma af. K arriveer vanaand terug van haar naweek in Canberra; sy moet more gaan werk en ek sal haar nie sien voor die naweek nie, maar ek sal wel daagliks met haar op die telefoon of die e-mail wees.
Ek het lanklaas van jou jongste gehoor, hy het gesê hy sal my laat weet of ek 'n oom of 'n antie gaan wees. Dit word seker haas tyd dat die sonar dit moet wys. Ek sal bly wees as jy nog 'm kleindogter kry, maar ek dring nie daarop aan nie, ek sal vat net wat die ma verskaf! Ek is seker sy sal vir ons 'n mooi pienkvoetjie in die veld stoot, soos sy voorheen gedoen het.
One eie Prinses Mary daar in Denemarke het vir die Dene 'n tweeling verskaf: Prins Vincent en Prinses Josephine. Onse Mary sit geen voet verkeerd nie: vier koninklike bybies in ses jaar, sy is elegant en sy praat vlot Deens en sy maak geen skandale nie. Ek hoop sy dink vier kinders is genoeg! Koningin Margarethe is hoogs tevrede; Koningin Elizabeth is groen van jaloesie en sy wens sy het 'n Australiese skoondogter gehad ipv Fergie en Di.
My skoonmakers is met 'n maand vakansie Amerika toe (voordelige dollar-pryse!) en ek sal dalk een vd dae agter 'n stofsuier moet aanstap as ek nie in 'n varkhok wil woon nie. Ek het gister halfhartig 'n stoflap rondgeswaai en ek hou darem die kombuis skoon en netjies.
Nou wil ek 'n bakkie sop uit die vrieskas gaan ruk vir vanaand. Bakkie sop en 'n sny tous, wat meer kan jy verlang op 'n koue wintersaand?
Groetnis tot vollende week!
YYY, Suster K

Saturday, May 7, 2011

Prinslike Troue

Liewe Sussie,                                                                                                  
Ek sit en wag vir Gladys om klaar te was dat ek kan ophang. Die wasgoed, nie myself nie. Ek wil uitgaan want my hygiene technicians kom vandag en hulle gaan die woonstel onder die huis ook skoonmaak. Ek verkies om uit te wees wanneer hulle inklok.
Baie dankie vir jou brief gister ontvang. Ek is bly S geniet die Kaap, en ek glo jy sal een vd dae die vliegtuig bestyg en by haar gaan kuier. Jy kan sommer 'n paar dae by jou eerste man en "die tannie" ook oorbly!
Baie geluk met ju kleindogter wat in die top 5 is. Haar sussie hoef nie akademies te wees nie - as sy nog so mooi is soos toe ek haar laas gesien het, is sy haar vuis haar fortuin. Her face is her fortune.
Ja, K lyk natuurlik nog net soos altyd, hoekom sal sy nou plooie en grys hare kry? Sy het nie 'n man of kinders nie! Sy rits heerlik rond saam met haar maats, gaan uit, slaap laat, verdien 'n slopemmer vol geld en het net haarself om tevrede te stel.  Sy het skoonmakers wat haar woonstel in stand hou, sy besit nie 'n strykyster nie en sy kook nie kos nie, sy eet uit. Dis die sorgelose lewe van 'n teenager, Sussie, net met meer geld.
saterdag
Ek kan nie glo die week het alweer ten einde gespoed nie. Ons het gisteraand gekyk na Die Troue. K het toe nie na die wedding party gegaan saam met haar vriendinne nie, want sy moes gedurende die aand 'n vergadering bywoon per telefoon/rekenaar met haar kollega's in die noordelike halfrond. Sy het toe maar hierheen gekom liewer as om alleen troue te hou in haar eie woonstel, want ons het al die fasiliteite hier.
Ons het tiaras opgehad wat ek by die $2 shop gekoop het. Myne was die ene smaragde (groen roebies, soos Rysie hulle genoem het), met net hier en daar 'n diamant en K s'n was diamante en robyne. D het 'n behoorlike kroon gehad, maar sy juwele het een vir een afgeval, ons moes hulle met blu-tack weer vasdruk. Hy het dapper saamgekyk, net nou en dan voor sy rekenaar gaan sit om te sien hoe gaan die rugby aan.
Die troue het 8nm afgeskop hier by ons - gelukkig het K se Amerikaanse kollega's kort na die verrigtinge  begin het, ge-SMS om te sê die konferensie is gekanselleer. Hulle wou ook seker troue kyk!
 Ek het baie gehou van die nuwe prinses se trourok. Toe sy by die katedraal uit die Rolls Royce klim, sê ek dis Grace Kelly se rok, net die "skirt" is bietjie anders. Niemand wou my glo nie, maar K het dit terstond  ge-Google op haar laptop en siedaar! Grace Kelly se rok.  Nouja, jy kan nie verkeerd gaan met 'n Hollywood-trourok nie! Edith Head van MGM het Prinses Grace se rok ontwerp, as ek reg onthou.  MGM het dit vir haar gegee as 'n trougeskenk.
 Dit was middernag voor die feestelikhede klaargekry het - of ek weet nie of hulle nog feesgevier het nie, maar ek het gaan slaap. Die koning van Tonga was daar, ek het Noel Coward se opmerking onthou ten tye van George VI se kroning: toe die koningin van Tonga, 'n enorme vrou, verbyry in haar koets met 'n piepklein mannetjie langs haar, vra iemand wie is die mannetjie, en Noel Coward antwoord: "Her lunch!" Nouja, die koning van Tonga het gister ook 'n agterryer gehad, ek hoop nie hy het die vent agterna opgesmul nie! Met blatjang en 'n gemengde slaai.
My skoonmakers was toe Donderdag hier; hulle maak nie so goed skoon soos Joan nie, maar ek gaan nie met hulle baklei nie. Ek wil nie self agter 'n stofsuier aanstap nie! Hulle is betroubaar, hulle daag op, ek kan hulle in die huis los en seker wees hulle gaan niks steel of breek nie … wat meer kan jy verlang in 'n skoonmaker? As ek nou en dan 'n ding moet afstof waar hulle oorgeslaan het, que sera.
More hou ek middag-tee vir Pauline se verjaarsdag, wat 12 April was. Sy moet maar twee verjaarsdae hê soos Her Gracious Madge. More is die amptelike een. Ek gaan vanmiddag 'n wortelkoek bak en moreoggend gaan ek die modderkoek haal waarvan ek jou pasede week vertel het. Dit sal te veel koek wees, maar wat oorbly sal wel 'n tuiste vind.
Nouja, Sussie, vandeesweek is dit maer jare op die nuusfront en ek roep halt. Bly mooi en ek hoop nie dis te koud in jou geweste nie - winter skop nou in hier by ons. Jammer my wit papier is op.
Yenkisses, Suster K

Sunday, April 24, 2011

Boekklub, koek en tee

Liewe Sussie,
Ons is nog 'n week nader aan tandeloosheid en die ouetehuis.
Ek het nie vreeslik baie om te rapporteer nie. Ek het toe Brighton Rock gaan sien, maar ek kan dit nie juis aanbeveel vir lighartige ontspanning op 'n Sondagmiddag nie. As jy lus het om 'n wrede psigopaat se manewales te sien, dan moet jy dit egter nie misloop nie. 
Ek was by die 5pm vertoning en agterna het ek by die noodle bar ingestap en 'n bak Singapore noodles en 'n lemoensap opgesmul vir my aandete. Ek het soos gewoonlik vir die wis en die onwis 'n boek in my handsak gehad. Soos American Express se advertensie sê, never leave home without it.  Dit raak net al hoe moeiliker om 'n boek te kry wat in 'n handsak pas!
Maandag was toe boekklub by my huis, maar daar was net ses van ons, die ander vyf het almal 'n skeet of 'n ander afspraak gehad. Twee was siek, twee was uitstedig en niemand weet waar Laurie was nie - sy daag selde op en laat nooit weet nie. Ek skaam my om te sê sy is oorspronlik van my geboorteland af - ek sou gehoop het sy moet beter maniere hê.
Ewentwil, dit was 'n baie aangename oggend soos gewoonlik: lekker gesels, koek geëet, tee gedrink, boeke uitgeruil en dit was eenuur voor die laaste gas vertrek het.
Dingsdag het ek en Joan gaan koffie en brunch - ons het 'n toebroodjie bestel - myne was hoender en avokado. Joan hou van ham, kaas en tamatie en bestel dit altyd. Sy eet ook nie haar slaai wat hulle saam met die toebroodjie bedioen nie, so ek erf dit altyd. Ek erf ook Pauline se slaai as ek saam met haar gaan eet, sy eet nie slaai of korsies nie. Maar ek eet nie Pauline se korsies nie, net haar slaai!
Woensdag moes ek vir Helen ontmoet vir koffie om 4.30, as sy vd werk af kom, maar ek was nie lus vir haar klagtes oor haar selfsugtige man en stout kinders nie, toe reël ek om dit liewer vlg week te doen. Ek het egter wel in die oggend saam met may gaan koffie drink en biblioteekboeke omruil.
May het vir my die manteltjie teruggebring wat ek gebrei het en vir haar gegee het om 'n rand om te hekel. Ek kan nie hekel nie. Ek het die manteltjie gebrei vir Pauline se verjaarsdag en ek sal dit Sondag vir haar gee. Ek sal haar afneem met die ding aan en vir jou die kiekie stuur.
Ek hou Sondag 'n middagtee vir Pauline se happy birthday. Die okkasie was 2 weke gelede, maar Sondag is die eerste datum wat al die gaste pas. Daar sal nie baie gaste wees nie, net haar dogters en K en May en Carla. Ek gaan 'n wortelkoek bak, en ek sal by die plaaslike bakker 'n mud cake bestel met haar naam op. Happy Birthday Pauline.
Hulle noem nou wel die ding 'n modderkoek maar dis die heerlikste ryk tjoklitkoek wat jy jou kan verbeel. Gekoopte koek is baie lekker in my nuwe land. Ek kan onthou in die ou dae, in Jhb, as jy 'n koek koop, is hy droog en as dit nie 'n tjoklitkoek is nie, dan is hy so geel. Die aaisieng was altyd te pienk. Of te groen. Gekoopte koek was sleg, behalwe by die tuisnywerheid-winkel. Hier kan jy maar koek koop, dis altyd lekker.
Ek het tamatiekonfyt gekook en toe ek dit bottel, toe glip een botteltjie uit my rumatiek-vingers en val gelukkig in die opwasbak. Die deksel was nog nie op nie. Die warm jam het hoog teen die venster gespat, ek moes vir D kry om dit af te was, ek kon nie bykom nie. Wat 'n taai gemors. Gelukkig niks op die vloer of op my nie, ek kon lelik gebrand het.
Gister het ek appelkoosblatjang gekook. Dis nie te wonderlik nie, ek het gedroogde Turkse appelkose gebruik. Hulle is taamlik smaakloos. Ek sal dit maar 'n week of twee in die kas los om ryp te word, of wat blatjang ookal doen.
Ons hou lang naweek, vyf dae want hd jaar val Anzac Day ook saam met die Paasnaweek. Caroline is weg na Byron Bay saam met 'n groep vriende. Hulle het 'n huis gehuur en blykbaar is die weer heerlik daar bo in Queensland want sy SMS nou en dan hoe heerlik sy swem in die see. Daar is 'n musiekfees aan oor die naweek en hulle het kaartjies vir twee van die vyf dae, wanneer die orkeste optree wat hulle wil sien. Of hoor. Ek is so bly ek hoef nie daar te wees nie, daardie lawaai sal my tande laat pyn.
Verder niets dan bladeren.
Ek hoop die Paashasie het sy opwagting by jou huis gemaak met 'n vol mandjie heerlike Belgiese tjoklits! Jy moet vir Johannes sê hy moet sy oë oophou vir eiers wat die hasie dalk in die tuin weggesteek het.
Baie YY en groetnis van Suster Katrien ¯¯


Nog 'n Week in sy Maai

Liewe Sussie,                                                                      Sunday, 17 April 2011
Ek het sopas 'n tjoklitkoek uit die oond geruk want more is dit boekklub by my huis en ek moet iets bak vir die dames om te verorber. Ek het hom sommer ook 'n Paasfees-koek gemaak!
My boekklub het net een reël en/of regulasie: wanneer dit jou beurt is, mag jy net een ding verskaf om te eet. Anders word dit 'n bak-kompetisie. Party dames koop 'n pakkie tjoklit-biskits, ander bak iets. Maar ewentwil is daar net een bord eetgoed op die tafel. Tee en koffie soveel as nodig.
Dit is eintlik Alison se beurt, maar sy het my gevra om te ruil want sy het iets anders aan. My beurt sou vlg maand gewees het. Ek worry nie, dis geen vel van my neus af nie. Ek het net vir haar gevra om die nuwe boeke te koop, want ek het reeds my twee boeke vir vlg maand bestel van The Book Depository af op die internet, maar ek weet hulle sal nie betyds hier wees vir more se boekklub nie.
The Book Depository, of soos K dit noem, The Book Suppository, is in Ingeland en die boeke kos helfte vd prys wat jy hier in die winkels sal betaal vir hulle. Posgeld gratis. Shym, die boekwinkels hier is besig om bankrot te gaan - hulle maak een vir een toe. Mense koop boeke op die internet, dis soveel goedkoper. Daardie verkopers hoef nie huur te betaal nie en hulle hoef nie 'n groot personeel te hê nie, want alles gebeur outomaties.
Ek koop nie dikwels boeke nie want ek maak gebruik vd biblioteek, maar nou en dan koop ek wel iets, en hoekom sal ek duur betaal in 'n winkel as ek dit soveel goedkoper kan bestel aanlyn?  Ek is nou jammer as ek aandadig is aan die Afsterwe vd Australiese Boeke-bedryf, maar nouja, you have to look out for Number One en ek is 'n spensionaris!
Dinsdag was ek by die dr om my griepinspuiting te kry. Ek wou ook my jaarlikse bloedtoetse laat doen, maar sy het my net die papier gegee en ek moet op 'n ander dag met 'n nugtermaag terugkom, want ek het reeds ontbyt geëet.  Ek sal vlg Woensdag gaan, want ek het andersins elke dag iets aan die gang. Gelukkig is dit nie dringend nie en kan wag tot ek 'n opening het in my besige kalander!
Woensdag het ek vir Alison ontmoet dat sy my die nuwe boeke kon gee. Sy het een gekoop wat gaan oor die Serengeti en die ander een is die jongste Donna Leon: Drawing Conclusions. Ek weet nie of jy vir Donna Leon by die bekentenis het nie, maar ek kan haar boeke aanbeveel. Hulle speel af in Venisië.  Ek het my kans waargeneem om die Donna Leon te lees voor Maandag se boekklub, en dus kon ek my bestelling daarvoor by die biblioteek kanselleer.
Donderdag het ek my hare laat sny - ek was terug by Madeleine maar ek hou nie van die jop wat sy gedoen het nie. Sy het sulke afdakkies bokant my ore gesny, en happe uit my agterkop. Daar staan sulke "tufts" orent. Wat is tufts op Afrikaans. Tofte. Daar staan sulke tofte orent. Daar het jy 'n splinternuwe Afr woord. Almost as good as a bought one! Dis wat my landgenote sê wanneer hulle van iets hou.
K het Vrydagaand ingeklok nadat sy haar weeklikse inkopies en wasgoed gedoen het. Ons het Classic Movie Night gehou en gekyk na die DVD van Stalag 17. Jy sal dit onthou. Billy Wilder het dit gemaak. Daar is nie so iets soos 'n swak Billy Wilder-prent nie. Some Like it Hot! Sunset Boulevard! Double Indemnity!
K het ook daarvan gehou - sy hou van die ou prente wat sy nie ken nie. William Holden was nuut vir haar. Sy is altyd geskok omdat almal rook en sy lag vir die mans se broeke wat so hoog in hulle middels sit. Why do they pull their pants up to their armpits? Why does nobody wear a tracksuit?
Vanoggend het sy weer gaan Hansie Slim teen die thousand steps op en sy het my vertel van die een dame vir wie sy gereeld daar sien, wat haar arms so hoog bo haar kop swaai as sy stap. Sy het glo gewiggies aan haar polse. Ek gaan nie die Dandenongs op stap nie, met of sonder gewiggies! Die vrou behoort quarter boots aan haar enkels te dra, dan kan sy haar voete so hoog optel soos 'n skouperd.
Ek gaan wel netnou op my modderkar klim en fliek toe ry. Ek wil Brighton Rock gaan sien. Onthou jy die Graham Greene boek? Ek wonder hoe die storie sal werk op die silwerdoek. Is daar nog so 'n ding soos 'n silwerdoek? Daar is nie meer 'n projektor nie, dis nou alles digitaal.
Onthou jy hoe kon 'n mens altyd die tregtervormige ligbaan sien van die projektor-venstertjie na die skerm? Toe almal nog gerook het, kon jy die wit walms so in die lug sien hang. Hoekom is ons nie almal lankal dood aan gepiekelde longe nie? Nou mag jy nie eers meer in die munisipale parke rook nie.
Hier by ons was daar opgewondenheid omdat ons eie Kroon-Prinses Mary van Denemarke laat kind doop het. Die prinses het 3 maande gelede 'n tweeling in die veld gestoot, 'n boetie en sussie vir Christian en Isabella. In Denemarke hou hulle die nuwe bybies se naam geheim tot die doopdag. Daar was groot spekulasie of die tweetjies dalk name sou kry met 'n Australiese konnotasie. Maar nee, hulle is Vincent en Josephine. Niks daarmee verkeerd nie! Dankie tog dis nie Bruce en Sheila nie. Of Jaydin  en Kylie! Hulle is op oorlede Elvis se verjaarsdag gebore - hulle pa Prins Frederik het grappig gesê dat hulle dalk Elvis en Priscilla kon wees!
Nou wag ons vir die troue van die jaar - mense hou Royal Wedding Parties. K is genooi na so 'n party en sy moet aantrek soos een vd gaste. Ek het voorgestel sy trek haar wellies aan haar voete, sit 'n serp oor haar kop en gaan soos die koningin. Of sy kan by die $2 shop 'n outsize hartvormige bril koop met sequins op en gaan soos Elton John.  
Ek gaan nie R/W Party hou nie, maar ek sal wel die hele spektakel gadeslaan op die tv, want ek wil sien hoe lyk die bruid se rok en watter gaste almal opdaag. Ek wil veral sien hoe lyk ons eie Julia en haar kêrel, Tim die hêrdresser. Ek is seker Tim sal Julia se hare pragtig bloudraai voor hulle vertrek na Westminster Abbey. Dalk sal hy die vorige aand haar wortels optouch in die badskamer ook. Ek hoop nie hy mors op die hotel se handdoeke nie. Of miskien gaan Julia en Tim tuis by die ambassadeurs-woning? Ons ambassadeur het 'n baie grand huis in Londen, ek is seker hy sal 'n spaarkamer hê waar Tim en Julia hulle rugsakke kan neersit.
Nouja, Sussie, baie groetnis tot vollende week en YYY van Suster Katrien  ö

Monday, April 11, 2011

Facebook en Fliek

Liewe Sussie,
Klok ek in in die middel vd week, want hier sit ek en wag vir Gladys om klaar te was dat ek kan ophang en uitgaan. Ek gaan soos dikwels op 'n Woensdag vir May ontmoet vir die tradisionele koffie/biblioteek/shop by Get Fresh.
Ek het gewonder hoekom jou kleindogters nog nie op Facebook is nie, en vanoggend sien ek Irma het wel ingeklok. Al jou seuns en skoondogters is my Facebook-vriende, behalwe Flip wat seker te besig is om hom te bebodder. Nou is Irma en ek ook bevriend op Facebook en lees ek wat sy doen en sê in haar daaglikse wandel.
As ek so kyk na mense wat in Afrikaans skryf, sien ek hulle dink "awesome" is 'n Afrikaanse woord, maar nouja, soos ek al vantevore by jou gekla het, in die Nuwe SA praat die Nuwe Afrikaners nie meer die Ou Afrikaans nie.
Ek moet nie 'n dinosaurus wees nie. Embrace change!  Ek vind dit egter moeilik om vir awesome en nice te omarm en te verwelkom in my moedertaal, maar nouja, die wêreld staan nie stil nie - hy gaan vorentoe en ek moet saam. Wat sou Ma tog gesê het - sy het ons altyd tereggewys as ons praat van "sweets" en "bike".
Nou wonder ek van my Afrikaans-sprekende eertydse landgenote : hoe maak hulle wanneer hulle Engels praat? "I saw a lekker fliek last night"? 
D is terug van Swan Hill af - sy bowls-toernooi het vlot verloop en hy het die "meat tray" gewen. Hy het dit motel toe geneem en sy span het braaivleis gehou - daar is glo fasiliteite vir die gaste om te braai.
My nuwe landgenote wen nie 'n bottel wyn of 'n boks tjoklits nie - nee, as daar 'n "raffle" is, dan is die eerste prys altyd of 'n hoender of 'n "meat platter". Vandaar die uitdrukking as iemand 'n swak organiseerder is: He couldn't organise a chook raffle! Of natuurlik die meer populêre He couldn't organise a piss-up in a brewery! My landgenote verkies altyd die meer vulgêre uitdrukking. Jy sal dink hulle is almal verlangse Brandenberg-familie.
Maandag.
D is toe soos beplan gister weg Hopetown toe - ek het niks gehoor nie, so hy het seker veilig aangekom en speel heerlik. Hy sal glo Saterdag of Sondag terug wees, maar meanwhile het ek 'n heerlike netjiese en stil huis.
Ek het toe pasede Sondag Barney's Version gaan sien, en toe die prent so 'n ent weg is, toe kom ek agter dis die Mordecai Richler-boek van dieselfde titel. Ek is seker jy moes dit ook gelees het, hier in  die sestigs toe Mordecai Richler op almal se boekrak gepryk het. Hy pryk nou nog op myne! Barney's Version is nie so goed soos St Urbain's Horseman nie, maar nouja, daar is nie so 'n ding soos 'n slegte Richler-boek nie, en ek het vd fliek gehou. Paul Giamatti en Minnie Driver.
Maandag het ek 'n hele spul goed gaan koop want ek was Mother Hubbard. Jy weet hoe raak al 'n mens se stapels gelyk op. Ek moes dit liewer die naweek gedoen het toe Karlienhier was, dan kon sy my gehelp aflaai en wegpak het! Newwermaaind, ek het verskeie togte gemaak van kattebak na kombuis.
Woensdag het ek May ontmoet en ek het verskeie boeke en DVDs gekry by die bib waarvoor ek lank gewag het. Hosanna. Of selfs Susanna.
Donderdag het ek saam met Pauline gaan yum cha by die Treasure. Ons was teleurgesteld - dit lyk of die plek van eienaars verander het - ons het geeneen vd kelners geken nie, en die kos was maar baie ordinêr. Die won tons was olierig en die dim sums was louwarm ipv stomend. Daar was baie lekker ginger prawns, maar al die ander happies wat verbygekom het, kon hulle maar in die kombuis gehou het om die kat mee te voer. Ons sal nie gou weer gaan Treasure nie. Volgende keer gaan ons Crown Palace of Shark Fin toe.
Donderdagaand het ek gaan eet by PJ Malaysia saam met Barrie en Judy. Barrie was een van my kollega's by die bib. Hulle is baie aangename mense en ons gaan so elke 2 maande saam eet. Ons het drie disse bestel en alles gedeel.
Vrydag het ek en Carla ons voete laat doen. My voete het breed geglimlag toe hulle vir Michael die Voetvent sien, want ek moes my laaste behandeling oorslaan weens my siekbed. Michael het geknip en gevyl en geskuur en room ingevryf vir 'n vale, en my voete was pragtig netjies, sag en pienk toe ek daar uitstap.
Daarna het ek en Carla gaan eet by die RSL; ons het albei die roast of the day gehad, met heerlike oondgebakte groente. Dit was varkboud hd week. Ek gee altyd vir Carla my crackling want sy hou daarvan en ek nie. Ons het vrugteslaai gehad vir poetieng. Op die "specials" swartbord het daar gestaan die poeting van die dag is "camarel cake", maar ons het maar die vrugteslaai bestel. Ek vertrou nie 'n camarel nie! Ek wonder of is hy familie van 'n caramel.
Maandag
Ek is nou behoorlik uitge-baaiskoup. Ek het Vrydag, Saterdag, Sondag en vandag fliek toe gegaan. Vrydagaand het D saam met sy vriende uitgegaan en ek het op my kar geklim en Company Men gaan sien. Karlienhet dit aanbeveel, en sy was nie verkeerd nie. Dit gaan oor senior mense wat afgedank word in die laaste finansiële krisis, en hoe hulle en hulle families daarmee cope. (Ek kla oor mense wat hulle tale meng en nou weet ek nie wat is die Afr vir cope nie, jy moet maar oorsien! )
Saterdag het ek Certified Copy gaan sien, 'n Frans-talige prent wat plaasvind in Italië, deur 'n Iraniese regisseur. Juliette Binoche het die hoofrol gespeel en sy was briljant soos altyd, maar ek moet sê ek weet nie mooi lekker wat het aangegaan in die storie nie. So met die uitstap het ek gehoor hoe my mede-fliekgangers ondermekaar praat, en ek is klaarblyklik nie die enigste een wat my gavoorwonner het nie!
Sondag het ek The Lincoln Lawyer gaan sien, 'n speur-riller soos ons hulle ken en liefhet. Geen onsekerheid daar nie! What you see, is what you get. Matthew McConaghey en Marisa Tomei. Ek het heerlik agteroorgesit, ontspan en dit geniet.
Vanmiddag het ek The Mechanic gaan sien. Indien jy dit nie weet nie, in die parlance vd onderwêreld is 'n mechanic 'n hit man. Hy het homself uitgehuur om links en regs mense te vermoor, en oor die algemeen het hy 'n goeie job daarvan gemaak. Ek het gedink daar was 'n bietjie te veel ontploffings en te min subtiele beplanning in sy metodes, maar wat weet ek, niemand het my nog ooit gehuur om 'n moord te pleeg nie en wie is ek om beter te weet oor hoe 'n mens te werk moet gaan in sulke gevalle. Die beste stuurlui staan aan wal.  Donald Sutherland het 'n klein rolletjie gehad (hy was een v diegene wat die stof gebyt het) … hy het baie mooi oud geword en is nog steeds 'n goeie akteur, beter in my opinie as sy seun Kiefer oor wie hulle ("hulle"!) so 'n ophef maak.
More gaan ek die dr sien. Dr Elixi. Ek hou van Dr Kate, maar sy werk net saans van vyf tot tien en ek het nie lus om in die aand dr toe te ry nie. Ek gaan vir my jaarlikse griep-inspuiting en vir my jaarlikse bloedtoetse en ek wil ook by haar kla oor 'n uitslag wat ek onder my een arm het. Ek kan net deodorant spuit onder die ander arm, en is konstant bang ek gaan na sweet ruik aan die eenkant. Gelukkig is dit nou herfs en nie mid-somer nie! Ek glo dis as gevolg van al die antibiotika wat ek nou 'n uitslag kry. Hy wil nie weggaan nie. Gelukkig jeuk hy nie, ek wil tog nie loop en krap onder my arm soos wafferse apie nie.
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren, ek sal maar groet dat ek more die brief kan pos. Jy het lank genoeg gewag vir pos, netnou hang jou lip wie-weet-waar as daar nou weer onderbrekings moet kom omdat ek nie betyds by die posbus kom nie. YY en groetnis van K