Thursday, August 25, 2011

Rooi Hond en Gestorwe kat

City to Surf: Klaar gestap!
Liewe Sussie,
Sondagoggend en die son skyn. Hy skyn nie warm nie, maar hy skyn. Ek het al amper vergeet hoe lyk hy.
K is in Sydney vir haar werk. Sy het Woensdag gevlieg en sy kom vanmiddag terug. Vlg week gaan sy weer, hd keer vir haar eie plesier. Sy neem mos elke jaar deel aan die City To Surf, saam met Dan en Linda en 'n paar ander vriende. Dis 15 km langs die mooi strande van Sydney. Hulle hardloop nie, hulle stap.   
Gistermiddag het my BFF Margie hier kom tee drink. Drieuur het sy ingeklok. Sy het my eenkeer gesê wat haar van is, maar ek het vergeet en nou wil ek nie weer vra nie.
Sy is baie gaaf en vriendelik maar sy gaan nie maklik huis toe nie. Dit was 'n reënerige dag en onder normale omstandighede sou ek die lig aangeskakel het, maar toe dink ek nee, as die lig nie aan is nie, dan sal sy huistoe gaan as dit vyfuur begin donker word. 
Sussie, later is dit so donker in die huis dat ek nie my horlosie se gesig kan sien nie, maar sy sit soos 'n neet. Ek staan toe op en sê dit word nou donker buite, ek gaan my wasgoed se stellasie in die huis bring anders word hulle nie droog nie. Sy staan toe ook op en sê sy moet nou gaan. Toe ek die lig aanskakel, sien ek dis vyf voor ses.
Nouja, dis beter as kwart voor agt! Eenmaal, toe D nie tuis was nie, het sy gesit tot kwart voor agt. As hy hier is, dan kan ek ten minste sê ek moet nou vir hom gaan aandete maak. Toe hy nie hier was nie, wou ek nie van aandete praat nie, dan moes ek haar dalk nooi om nog later te bly!
Maar ons het lekker gesels. Sy is baie lief vir kookboeke en het 'n groot versameling. Tot my konsternasie moes ek verneem sy weet niks van Mrs Beeton nie. Nog nooit van haar gehoor nie. Toe leen ek haar my Mrs Beeton. Nie dat 'n mens daaruit kan kook nie, maar dit is altyd 'n plesier om te lees!
Duties of the parlourmaid. Planning a formal dinner for 40 people. How to appoint the sickroom. Plucking a pheasant. Goffering pleats and starching collars.
As jy jou Mrs Beeton in jou hotklou het, staan jou hande vir niks verkeerd nie - jy kan jou huishouding bestuur, twaalf diensknegte beheer en gereeld dertig gaste kry vir die naweek, no worries al word jou kinders siek en jou man skiet 'n dosyn fisante wat jy moet pluk. Al daardie dinge is julle natuurlik gewoond op jou tuisdorp! Miesies Beeton is prominent op elke boekrak van De Aar tot Pofadder.
Vanmiddag gaan ek Red Dog sien saam met May. Ek sou dit verlede week saam met Pauline gaan sien het, maar toe sê sy sy het nie vir honde lus nie, watter kleur ookal. Ek ontmoet vir May by die baaiskoup. Ons gaan na die halfeen-vertoning en agterna sal ons koffie drink. Ek hoop om teen halfvier tuis te wees vir my nanna-nap. Ek het glad te laat gaan slaap gisteraand en vanoggend was ek vroeg wakker.
Ek het aangebied om vir May te gaan oplaai, maar sy het gesê sy sal self ry.  Ek kwel my oor May wat op 86 met haar motorkar die strate invaar. Haar ouderdom is niks, maar sy kry elke nou en dan 'n "Nasty Turn" wanneer sy flou word, en sy het 'n soort van anaemia wat meebring dat sy geen gevoel in haar voetsole het nie. Hoe kan jy veilig bestuur as jy nie die pedale kan voel nie? Ewentwil, ek is nie haar ma nie, ek kan nie vir haar sê wat om te doen nie. Ek klim net nie in 'n kar waar sy aan die stuur sit nie. Ek hoop ook ek is nie 'n innocent bystander op straat wanneer sy dalk 'n nasty turn kry agter die wiel nie.
Joan het netnou gebel om te sê haar kat Marco is tot sy vadere vergader. Shym, dis altyd sleg as 'n mens jou huisdier moet laat uitsit. Arme Marco het nierversaking gehad en hy was in pyn en kon nie eet nie. Ten minste kan 'n mens vir jou dier daardie genade betoon en hom van sy lyding verlos - vir jou eie familie mag jy dit nie doen nie. Marco was twaalf jaar oud - hy was maar soos Gerry en Joan se familie, shym. Mimi die ander kat mis hom ook, sy soek hom in die huis.
Ek en K het toe verlede Sondag Senna gaan sien. Ek geniet 'n documentary. Ek het nie gedink ek sal baie van hierdie een hou nie, want ek stel nie juis in motorsport belang nie. Formula 1 is vir my 'n geslote boek. Nietemin het ek baie daarvan gehou. Dit was baie interessant - al die jaers en die politiek en die wedywering tussen Senna en Prost - jy kan maar gaan inklok by die Village Odeon. Partymaal het hulle 'n kamera in die neus van Senna se Mclaren.  Moenie te ver voor sit nie, jy sal karsiek word om die draaie.
Maandag was boekklub by Florrie se huis. Ons het May se happy birthday gevier. Dit was baie aangenaam soos altyd. Ek het nie boeke geneem nie, want ek het genoeg om te lees. Ek was betyds terug tuis om Greg die Rekenaarvent te woord te staan. Hy het my drukker reggemaak en vir my 'n nuwe DVD speler ingesit in my rekenaar.
K was hier, sy het haar laptop saamgebring wat 'n skeet gehad het en Greg het dit ook reggemaak. Sy mag eenmaal per week vd huis af werk, en sy het dit Maandag gedoen sodat sy van Greg se dienste gebruik kon maak.
Woensdag het Glen die Handyman ingeklok om te kyk na allerlei los werkies wat ek gedoen wil hê in en om die huis. Shym, as ek 'n handyman laat kom, dink ek altyd so aan Boetie, wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Hy sou 'n goeie lewe gemaak het hier in Melbourne! Ek het nog nie Glen se kwotasie gekry nie, dit sal seker Maandag kom.
Donderdagaand het ek gaan eet by die RSL Club saam met Carla, Carol en Sunanda. Ek het Moroccan Chicken Salad bestel. Geroosterde hoender"strips" op 'n bed van spinasie, met pampoen en amandels. Sunanda het Grilled Atlantic Salmon gehad en die ander twee het volstaan met Roast of the Day. Dit was varkboud. Ons het nie nagereg gehad nie.
Nouja, Sussie, hier is ons weer by Sela. Tot vollende week, mag jy die wind van agter kry!
Lovenkisses, Suster Katrien  ¯¯¯


We shouldn't be surprised when our kids misbehave, they get it from their story books!
Tarzan lives half naked, Cinderella comes home at midnight, Pinocchio lies all the time, Aladdin is the king of thieves, Batman drives at 200 mph, Sleeping Beauty is lazy, and Snow White lives with 7 guys!

Sunday, August 14, 2011

Scanpan en Senna

Liewe Sussie,
Nog 'n week het verbygevloog en hier klok ek in op die Saterdagaand. Baie dankie vir jou brief - ek is bly die boek het byval gevind. Iemand het my anderdag 'n boekie present gegee wat sy vir 20c by die Op Shop gekoop het. Dit is die memoir van 'n ou dame wat as kind die besetting van Guernsey deurleef het tydens die oorlog. Ek het dit baie interessant gevind aan die hand van The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society en ek sal dit vir jou aanstuur. Miskien kan jy aankomde April die dames van jou boekklub toespreek oor die goings-on (gaanings-aan?) in die Kanaaleilande tydens WW2.
Ek het vanoggend saam met die Lipson Ladies gaan brunch soos ons nou en dan doen. Net twee van hulle het opgedaag: Lindsay en Margie. Pauline en Heather het ander visse gehad om te fraai. K het saamgekom want sy is by ons vir die naweek. Sy het Vrydagaand ingeklok. Ek het vegtariese omelet gehad en koffie. Dit was baie aangenaam en ons het lekker gesels en gelag.
Agterna het ons huis toe gekom en op pad het K my kar vir my vol petrol gemaak soos sy naweke doen wanneer sy hier is, want my rumatiekvingers kry seer as ek die petrolpyp se handvatsel styf genoeg moet druk om die petrol te laat vloei. Ek kan dit doen as ek moet: ek vat die ding vas met albei hande, kners op my tande (onthou jy vir Knersus met sy drie stelle tande?) en druk solank ek kan uithou. Ek hou daarvan om elke week my tenk op te top, ek wil nie hê hy moet leegloop nie.
Sy het my by die huis gelos en soos Hansie Slim die berg gaan bestyg. D het die naweek elke dag rolbal; hy speel in 'n toernooi in Brighton en hy moet baie vroeg in die oggend wegry want dis ver. Hy het donker by die huis gekom en staan tans onder die stort. Dis so koud buite, hy sal seker 'n bietjie warmer en beter voel as hy daar onder die warm water uitkom. Sy kos wag in die kombuis. Wat my skoonma altyd genoem het a proper plate of dinner. Hy kan dit net opwarm in die magnetron.
Gister het ek toe eindelik vir Marlene ontmoet vir koffie en sy het heerlik gekla. Oor haar seun, oor haar dogter, oor haar bure. Oor haar seer rug, oor dokter, oor haar fisio, oor haar beste vriendin Madge. (Vir wie ek nie ken nie, maar Marlene beswadder haar so goed elke keer, ek voel al ons is huisvriende.) Ons het meer as 'n uur lank daar gesit en sy het nie eenmaal na my welstand of dié van my familie verneem nie. My rol is dié van luisteraar! Ek het darem 'n lekker koppie skinny latte gedrink terwyl ek simpatieke geluide maak.
Na regte behoort sy vir my koffie te betaal - 'n psigo-terapeut sal haar etlike honderd $ vra om vir 'n uur te luister hoe kla sy! Miskien kan sy
na St
Leonard's toe gaan hier in Waverley, een vd heilige vaders sal gratis luister, maar hulle bedien seker nie koffie daar in die biegboks terwyl jy sit en uitpak nie. Ja-nee, dit gaan my job bly.
Donderdag het ek vir Pauline ontmoet. Daar was net een prent wat redelik gelyk het om te sien, nl. Red Dog. Dit handel oor 'n hond wat so allemanshond was daar in die Outback. "Heartwarming family fare", sê die resensie. Maar Pauline was nie lus vir honde nie en toe gaan ons maar net eet. Dit was baie koud, toe ry ons na 'n Indiese keffie toe en eet kerrie. Ons het 'n entréé platter gedeel met allerhande happies daarop, en toe het ons 'n dis van lamsvleis en spinasie gedeel, met saffraanrys.
Woensdag het my skoonmakers gekom: Jenny en Roy. Hulle het albei verkoue en het al hoesend en proesend deur die huis gegaan. Ek het my uit die voete gemaak want ek het nie lus om aan te steek nie. Ek het vir May ontmoet vir koffie en kaaskoek, en daarna het sy bib toe gegaan, maar ek het huis toe gekom want ek het die vorige dag reeds my besigheid afgehandel by die bib.
Dit was nou op die Dinsdag (vandeesweek rapporteer ek my doen en late so agteruit!) wat ek by die bib aangery het op pad huis toe van Joan af. Haar man Gerry het sy oog laat opereer om die kakkerlak te laat verwyder. Hy moes Dinsdag gaan dat hulle die verband kon afhaal en die werk inspekteer. Ek het hom en Joan tienuur opgelaai en na die optometris geneem. Terwyl hy met sy oog besig was, het ek en Joan ons onderskeie inkope gedoen en 'n halfuur later het ons almal mekaar ontmoet by die koffiewinkel, waar Joan vir ons koffie gekoop het. Ek het 'n macadamia choc chip biskit by myne geëet.
Een vd dinge wat ek daar by die winkels gedoen het, was om my ScanPan te neem na die kombuiswinkel toe. Dis nie die winkel waar ek hom gekoop het nie, maar alle handelaars wat ScanPan verkoop, is amptelike agente en sal 'n foutiewe pan of pot omruil, no questions asked. So adverteer hulle, en so het die man agter die toonbank gedoen.
Ek het die pan nou al amper twee jaar en ek gebruik hom baie. Dis 'n groot en diep pan - ek maak graag casseroles en so aan in hom, wat jy kan die uie en vleis vooraf roerbraai en dan die ander goed byvoeg, die deksel opsit en hom laat prut. Hy het 'n swaar bodem. Ek kook bv 'n substansiële kerrie of 'n bredie in hom en dan vries ek dit in porsies. Hy maak 'n gawe  paella ook.
Ewentwil, die pan se swart "non-stick" bodem het begin blasies maak en toe dink ek nee, ek het baie duur betaal vir die ding, ek gaan hom terugneem, al is hy ook amper 2 jaar oud. ScanPan spog dat hulle waarborg geen tydsbeperking het nie. Ek het destyds vir hom $195 betaal, maar ek sien hy kos nou $325. Newwermaaind, die man het sonder blik of bloos vir my 'n nuwe ene gegee en gesê hy sal die een met waterpokkies terugstuur na die fabriek.
Sondag
Ons het gisteraand Classic Movie Night gehou - ek het Anatomy of a Murder uitgeneem by die bib. Lee Remick en James Stewart. Dis jarre sedert ek en D dit gesien het, en vir K was dit nuut. Ons het almal daarvan gehou, maar dit was 'n lang prent - ek het glad te laat in my katel gekruip en vanoggend het ek vroeg wakkergeword want D was so vroeg op weens die bowls-toernooi.
Ek sal vanmiddag ook my nanna-nap misloop want ek en K gaan sien Senna. Dis 'n dokumentêr oor Ayrton Senna, die motorkar-resies-vent. Jy sal hom onthou. Jonk dood op die resiesbaan. Shym.
More op die Maandag moet ek boekklub toe gaan - dis by Florrie se huis, want sy het met my geruil. Augusmaand se boekklub is gewoonlik by my huis, en ek kry altyd 'n happy birthday koek vir May, want sy verjaar 17de Aug. Sy sal 86 wees. Ek het kant en klaar die koek bestel by die Wheelers Hill bakker soos ek elke jaar doen, en ek het vir Florrie gesê sy moet niks bak nie, ek sal die koek bring. Mud cake. My landgenote is baie lief vir 'n mud cake, dis so 'n lekker ryk tjoklitkoek. Die bakker gaan Happy Birthday May daarop skryf en ek het hier 'n kersie wat ek sal opsit dat sy dit kan uitblaas.
Ek het vir haar die DVD van Downton Abbey gekoop. Ek weet sy wil dit graag sien; sy het haar naam neergesit daarvoor by die bib, maar daar is 46 mense voor haar in die tou: dis baie populier. Sy sal verheug wees om dit te ontvang, dis 3DVDs, ek dink 12 episodes. Country manor, aristokrate en bediendes en al die lief en leed en intrige wat daarmee gepaard gaan. As sy klaar gekyk het, gaan sy dit leen vir al haar ou-dame-vriendinne daar in die retirement village. Happy days.
Tweeuur moet ek weer by my huis wees, want Greg die rekenaar-dokter kom kyk na my drukker wat nie sy job reg doen eie en na my rekenaar se DVD speler. Hy wil nie sy laai oopmaak nie. Hy kyk graag DVDs op my rekenaar, want D wil dikwels na goed op die TV kyk wat ek nie wil sien nie. En vice versa.
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Bly mooi en sê groetnis vir jou bure en die tuinjong Johannes. Ek is bly hy is nou al op snoeiskêre - hy maak vordering in sy beroep!
Lovenkisses, Suster K JIœ

Sunday, August 7, 2011

Toneelstukke en Booswigte

Liewe Sussie,
Hier sit ek op die Heilige Sabbat voor my masjien - ek het sedert sonop gewoeker hier in die huis en as we speak is my kombuis skitterblink gepoets - ek het kaste uitgepak en rakke afgewas. Jy weet hoe kort 'n kombuis elke nou en dan 'n ordentlike skoonmaak. As ek hier klaar geskryf het, gaan ek 'n paar hemde stryk en vir Gladys 'n bondel wasgoed gee en die wasgoed bêre wat sy gister gewas het. Hulle het heelnag hier in die huis gehang en is nou droog.
Gister was ons en famille na die teater toe om 'n toneelstuk te sien met name Rising Water. D en K het baie daarvan gehou maar ek was minder opgedaan - ek hou nie baie van Tim Winton, die skrywer, nie. Hulle twee is sy fans. Of waaiers?
Nou is daar nog net een toneelstuk oor in die seisoen: in Sept sien ons The Importance of Being Earnest, wat na honderd jaar nog steeds 'n treffer is. Geoffrey Rush speel Lady Bracknell. Ek weet niemand kan Dame Edith Evans nadoen nie, ("A Haaaaandbag!?") maar Geoffrey Rush sal beslis 'n goeie job doen. Ek sien baie uit daarna. As die Melbourne Theatre Co op toer gaan, kan jy beslis in die tou val voor die kerksaal daar by julle.
Ek onthou hoe opgewonde ons altyd was toe die Nasionale Teater met Andre Huguenet (sy naam was Gert Borstlap, geen wonder hy het dit verander nie!) kom toer het. Konsert! In die stadsaal. Geknakte Riete. Gee Terug my Kindjie. Wena Naudé. Lydia Lindeque. Hendrik Hanekom. Waar is die dae.
Pasede Sondag het ons by die Thai keffie gaan eet saam met die nefies. Ek kan nie onthou of ek jou vertel het nie. P het ons vertel van sy avonture op toer. Ek wil nie Indië toe gaan nie. Skitterymaag.
Dinsdag het ek en my ex-kollega Joan gaan koffie drink in die oggend, en in die middag het ek my kop laat inkleur by Madeleine. Sy het vir my 'n nuwe kleur gegee. 'n Mens kan nie altyd dieselfde wil lyk nie.
Woensdag het ek saam met May gaan koffie en biblioteek soos ons altyd doen. Sy word nou baie oud en tingerig - sy is 15 jaar ouer as ek! Ek weet nie hoe veilig dit is vir haar om agter 'n stuurwiel in te klim nie. Sy kry elke nou en dan wat sy noem 'n Nasty Turn. Ek hoop nie sy kry een van daardie Slegte Draaie wanneer sy agter die wiel is nie. Ag nouja, wat kan ek doen, ek is nie haar ma of haar skaapwagter nie. Ek klim nie in haar kar nie, dis al!
Donderdag het ek gaan koffie saam met Aletta wat saam met my op kosskool was. Die koffiewinkel was voorheen 'n Dulux verfwinkel en dit staan nou bekend as The Paint Shop. Ons het soos gewoonlik lekker gesels en ons het 'n almond croissant gedeel. 
Vrydag moes ek vir Marlene ontmoet het maar ek het haar gebel en gekanseleer, ek het nie sterk genoeg gevoel on vir 'n uur of meer te luister hoe kla sy nie. Miskien moes ek maar op my tande gebyt en gegaan het, want nou moet ek vlg Vrydag gaan: ek spring nie vry nie!
Ek weet nie of ek vandag fliek toe sal gaan nie - daar is niks wat ek baie graag wil sien nie. Ek sal netnou weer kyk wat wys by die verskillende venues - dalk is daar iets wat ek misgekyk het. Dalk sal D saam met my wil gaan, hy speel nie hd naweek rolbal nie, die seisoen het nog nie begin nie. Hy is nou nie meer Chairman of Selectors nie, hy is now Bowls Director. Ek is nie seker wat dit behels nie, maar hy is die hoofman oor honderd. Baie belangrik. Sy foon lui gedurig, ek is bly hy het 'n aparte lyn!
Ons het verlede week moeilikheid gehad met ons kredietkaart - lang storie kort, ek moes ID wys by Telstra se kantore, en my bestuurdersliksens was nie voldoende nie.  Toe haal ek my Medicare-kaart en my Seniors Card en my Commonwealth Seniors Health Card tevoorskyn, maar nee, sê die vent, hy soek 'n kredietkaart. Ek haal uit en wys. Soos blits gryp hy dit uit my voorpoot en verdwyn agter die skerms daarmee. Vyf minute later is hy terug en gee dit vir my. Ek is daarvandaan reguit na die bank, het my en D se kaarte laat kanselleer en nuwes gekry met nuwe nommers. Ons het 'n kaart wat net $1,000 in het, wat ons gebruik om op die internet mee te koop, maar die kaart wat die Telstra-vent gaan photocopy het, is gekoppel aan ons spaarrekening en daar is baie geld in. Ek kan nou nie sê die vent is 'n booswig nie, maar hoe weet ek. Die dame by die bank sê hulle gebruik dit nie self nie, hulle verkoop die nommers en as jy weer kyk, dan is daar iemand in Mooseville, Texas, wat heerlik koop op jou kaart. Hy sal teleurgesteld wees wanneer hy dit met my kaart probeer. Booswigte dink oumense is dom.
Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Bly mooi en sê groetnis al in die rondte.
Lovenkisses, Suster KatrynN

Monday, August 1, 2011

Wie se Boerewors?

Liewe Sussie,
Ek gaan netnou uit om my voormalige cleaning lady Joan te ontmoet vir koffie. Sy het soos reeds vertel, haar huis verkoop - sy en haar man staan op vertrek na Moe. Ekself wil nie in Moe gaan woon nie: ek stem saam met Hunter S Thompson: "Give me skyscrapers, neon lights and crowds."
Ek onthou toe Sue destyds George toe getrek het vanaf Jhb, het sy gekla as jy groen sandale of 'n uit-druk boek wil koop, moet jy Kaap toe ry. Mind you, nou dat alles op die internet beskikbaar is, hoef jy nie verder as jou rekenaar te ry as jy 'n ongewone item te koop soek nie, maar ek wil woon waar ek nie perd hoef op te saal en padkos te pak as ek wil kunsgalery toe gaan of 'n mediese spesialis se dienste nodig het nie. Ek wil ook nie woon waar almal my besigheid weet nie!
Ek kan rapporteer dat ons gisteraand by die Thai keffie gaan eet het saam met Andrew en Peter. Dit was baie aangenaam. Ons het al die disse gedeel en Peter het ons vergas op verhale van sy avonture. Hy is pas terug van 15 maande op toer. Hy het afgeskop met 'n besoek aan sy familie en die wereldbeker-sokker in SAfr, en vandaar is hy deur Afrikalande en deur Oos-Europa en toe 5 maande in Indië en Pakistan - 'n draai deur ons buurlande hier in Asië gemaak en hier is hy ongedeerd weer tuis. Hy beplan om ses maande te bly (natuurlik by sy ouerhuis waar alles verniet is!) terwyl hy bietjie geld verdien en dan is hy weer reisvaardig.
Pasede Vrydag was ek en Carla by die voetvent en vandaar op ons mooi sagte pienk voete na die RSL vir middagete. Carla eet gewoonlik die Roast of the Day, maar hd keer was dit kalkoen en sy hou nie daarvan nie. Sy het Thai kerrie opgesmul en ek het die Moroccan Chook Salad bestel. Ons het lekker gesels en toe ek halfdrie tuiskom, het ek op my beddegoed in die sonnetjie gaan vertoef vir 'n uur. Ek neem altyd een van my kunsboeke om deur te blaai, maar ek kyk nog so, dan gaan my ogens toe. Nanna-nap.
Woensdag het ek by Priscilla gaan kuier. Ek het die bul by die horings gepak toe sy haar twak en tonteldoos tevoorskyn haal, en haar gevra om nie te rook nie want dit maak my ogens en my keel seer. Sy het ewe gewillig buite gaan rook. Ons het lekker gekuier, ek het sop saamgeneem en sy het broodrolle en slaai voorsien, en gestoofde appels vir poetieng. Ek het my breiwerk saamgeneem en ons het lekker gesels en gebrei. Sy brei ook nou vir Needy Stitches. Ek het net na drie weer in die pad geval, want dis ver en die spitsverkeer begin opbou hier van halfvier af.
Later … ek gaan netnou my sampioensop opsit, ek wag dat die gedroogde sampioene moet uitdy.  Ek het boerewors by die supermark gekoopp vir D - hulle beskryf dit as The British Sausage, uniquely Australian. Daar het jy dit nou. Wie is ek om beter te wil weet.
Joan het my toe alles vertel van haar pakkery en trekkery en van haar kleinkinders se slimmighede. Glad te veel informasie. Ons het koffie gedrink maar nie koek geëet nie.
More ontmoet ek vir Joan Harris my ex-kollega vir ons tweeweeklikse Coffee Klatsch by Forest Hill. Of liewer ek gaan laai haar op want sy bestuur nie. Dis Sondag haar verjaarsdag, ek moet 'n geskenkie vir haar koop maar ek weet nie wat nie.  Ek sal dit maar uitstel tot vlg keer, want more het sy mos nog nie verjaar nie. Dalk bring tyd raad.
Sussie, hd week is nuus baie skraps en ek dink ek gaan volstaan met een bladsy want ek weet nie wat om nog verder te vertel nie. Hopelik sal vlg week meer tyding oplewer.
Baie groetnis en liefde al in die rondte.
YY¯¯{{ Suster Katryn 

Wednesday, July 27, 2011

Stout Kinders en Sampioensop

Liewe Sussie,
Kommunikasiekrisis chez moi: My internetkonneksie is nou al heel oggend af want Telstra werk aan die kabel. Dis soos wanneer ons destyds plaas toe gegaan het  - jy weet daar is nie elektrisiteit nie, maar jy hou aan om teen die muur te tas waar die skakelaar vir die lig moet wees.
Ek stap elke nu en dan hier in om dit of dat op te kyk en dan onthou ek nee, ek kan nie. Ek kan nie glo hoe afhanklik ek van die masjien is nie: nou dat hy nie beskikbaar is nie, kom ek agter hoe baie gebruik ek hom. Dis nou eers twaalfuur en ek wou al vanoggend 'n dosyn goed opgekyk het:
1. wanneer my boeke moet in wees by die bib want ek wil nie soontoe ry om hulle om te ruil nie, ek wil hulle sommer hernu op die rekenaar
2. wat wys in die plaaslike baaiskoup want ek wil vir Pauline bel dat ons kan besluit wat ons Donderdag gaan doen,
3. wat is die East Empress se nommer dat ek hulle kan bel om 'n tafel te bespreek vir Vrydag,
4. 'n resep vir sampioensop want ek het gister 'n pak shiitake gekoop by die Chinese Grocer,
5. die video op die BBC se website van gister se Rupert Murdoch-ondervraging wat laasnag te laat aangehou het en ek moes gaan slaap,
6. ek wou die koerant lees,
7. ek wou vir twee vriendinne wat die week verjaar kaartjies stuur,
8. ek wou kyk wat die name is vd twee vente wat die DNA helix ontsyfer het,
9. ek wou kyk of James Robertson Justice nog leef want ons het hom gisteraand in daardie ou Doctor at Sea prent gesien met Dirk Bogarde,
10. ek wou weet hoe spel 'n mens pediatrician, of is dit paediatrician?
11. ek wou 'n maklike patroon hê vir 'n mussie want ek brei die vingerlose moffies vir die haweloses, ek het gedink ek sal matching beanies doen.
12 ek wou weet wat is vandag die wisselkoers tussen die A$ en die US$ want ek wil
13. die DVD van die New York Ballet se Merry Widow-ballet bestel: ek het die Australian Ballet  en die Canadian National Ballet s'n, maar Carla sê vir my die NYB s'n is die beste.
14. O ja, en ek wou weet hoe om die gom af te kry van my nuwe Medicare kaart - hy was vasgeplak aan die brief waarin hy gekom het, en nou sit daar 'n taai kol aan hom en hy gaan my beursie taai maak. As ek vir Google sê "remove sticky residue", dan sal hy my mooi vertel wat om te doen.
Elke keer stap ek hier in om vir Google daardie dinge te vra, en dan onthou ek hy sprak vanoggend geen sprook nie - die Orakel van Delphi se plek is leeg en sy stem is stil.  Ek moet in my vier spore omdraai en papierboeke gaan soek om moeisaam die goed op te kyk, en ek kan geen shopping doen nie, tensy ek in die winterwind winkels toe wil gaan!
Dis so koud en nat en my keel is krapperig. Ek het nie lus om uit te gaan nie, ek het 'n lysie van goed wat ek nodig het en as ek voor elfuur op my rekenaar kon klim om dit by die supermark te bestel, dan hou hulle wên nog vanmiddag voor my huis stil en lewer af. Nes Ma wat destyds toe ons klein was, vir Ou Joe gebel het en as jy weer sien is daar 'n outa met 'n baaisiekel, Ma se goed in 'n mandjie voor aan die hêndelbars. Maar vandag kan jy nie meer bel nie, jy moet kliek-kliek maak met jou muis. Dit pas my, ek kliek baie liewer my muis as om met mense te praat op telefone. Hou aan, nee, dis nie my afdeling nie, ek sit jou deur, hou aan …. en dan speel hulle musiek in jou ore terwyl jy tevergeefs wag vir die volgende een way jou nie kan help nie.
Later … Dit was gister. Ek moes toe tog op die ou end uitgaan - laatmiddag toe dit behalwe koud en nat nog donker ook was. Heather het gebel om te sê sy is siek en of ek haar kinders by hulle onderskeie skole sal gaan haal. Ek het gegaan. Driejaar is in child care en Sesjaar is in die laerskool se naskoolse program tot sesuur. Ek het vyfuur gegaan, sesuur is nog later en donkerder. Die kinders was nie lus om huis toe te gaan nie, dis te lekker saam met hulle maats. Ek het alle geskree geignoreer, toe shaddap hulle maar.
Ek het tot hulle frustrasie die child locks geaktiveer aan alle vensters en deure, want dis my ervaring dat hulle heelpad die vensters op en af laat gly en aan die deurknoppe pluk. Hulle kan mos nie uitval nie want hulle is vasgegordel, maar dit amuseer hulle as Ma moet stilhou en uitklim om die deure toe te maak en met hulle te raas. Ek is nie hulle ma nie. (Hulle kan bly wees)
Heather se skeet is dat sy hoogte-siekte het (altitude sickness) want hulle was vir die naweek hier in die berge om te ski. Ek het nie gedink Victoria se berge is hoog genoeg vir altitude sickness nie, en ek het ook gedink as jy weer onder kom, is dit verby, maar wat weet ek. Sy is naar en dronk in haar kop en sy het hoofpyn. Ek weet nie hoekom bly sy nie tuis wanneer haar man wil gaan ski nie - sy kla hy ski die hele dag op en af die berg  en sy moet in die chalet sit en die kinders oppas. En hoogtevrees kry!
My internet-konneksie het weer tot verhaal gekom en as we speak het ek 'n heerlike pot sampioensop op die stoof. Google het my vertel ek moet 'n prei en 'n wortel sautéé, twee opgesnyde hoenderdye byvoeg en nog 'n bietjie roer, die sampioene en 'n besending hoenderaftreksel byvoeg en dit kook. So gesê, so gedaan. 'n Paar minute voor dit klaar is, gaan ek 'n klompie rys-vermicelli noodles byvoeg. Dit ruik heerlik! Ek het 'n paar swart peperkorrels fyngestamp en 'n knypie gemengde kruie ook bygevoeg.
Ek is baie bly ek het gedroogde sampioene agtergekom by die Chinese grocer. Jy gooi net kookwater op hulle en laat staan vir so 10 minute dat hulle kan uitswel. Hulle is so geurig! Ek dink die "varses" bly te lank op die supermark se rakke, dan verslaan die geur. Ek het my sop gekook met gesnipperde shiitake mushrooms, maar ek het ook 'n pak Japanese klein knoppie-sampioentjies gekoop. Hulle het so 'n crazy-paving gekraakte wit en bruin oppervlakte. Ek gaan hulle in 'n Italiaanse hoender-casserole sit wat ek beplan om te kook.
Genoeg van kookkuns, nou kom ons by wasgoed en breiwerk. My huis ruik lekker na skoon wasgoed want daar is 'n stellasie-vol bokant elke uitlaat van die sentrale verhitting. Niks wil buite droogword nie. Daar hang lakens in die eetkamer, hemde in die tv kamer en onderklere in die slaapkamer. Gladys is tans besig met 'n besending donkerkleurige goed - hemde en sokkies wat ek netnou hier in die rekenaarkamer gaan ophang as sy hulle klaar gewas het en dan gaan ek nie meer wasgoed doen nie, want my stellasies is nou almal vol.
Ek het gister die nuutste manteltjie vasgewerk wat ek vir Needy Stitches gebrei het. Dit het pienk en grys blokke en dit lyk baie mooi. May gaan 'n wit randjie rondom hekel. Die pienk wol was regte wol - een van die wol-fabrieke het dit aan Janice geskenk. Dit het gekom in so 'n koeksister soos vanouds, ek moes dit oprol. Ek dink ek het jou dit al vertel. Ek het dit eers in die tuimeldroër gesit met 'n versagter-sponsie dat dit makliker kan rol. Regte wol is mos nie so glad soos acrylic nie, al is dit sag.
Ek moet sê ek hou nie daarvan om met regte wol te brei nie, dit skaaf my breivinger waarmee ek die wol om die naald haak. Ek het 'n pleister en Germolene. My Germolene was op, maar gelukkig het D agtergekom die SAfr winkel hou dit aan. Ten duurste.
Die Chinese Grocer hou biskits aan wat hulle noem Butter Coconut Biscuits - hulle is langwerpig maar dis die enigste verskil tussen hulle en Tennis Biscuits. Ek is lief vir 'n tennis biscuit en hulle is handig vir tertkorse, maar hier is hulle nie beskiknaar nie, behalwe ten duurste by die SAfr winkel. By die die Chinese grocer is hulle baie goedkoop, soos al sy voorrade.
Ek is baie in my skik want gister het twee DVDs opgedaag wat ek bestel het: Anthony Dowell en Natalia Makarova in Swan Lake en Darcey Bussel en Irek Mukhamedov in Winter Dreams. Ek het twee ander Swan Lake DVDs, maar ek is 'n Anthony Dowell-fan. En ek het nog nooit Winter Dreams gesien nie. Dit is die Chekov storie The Three Sisters, jy sal die boek ken. Musiek deur Tchaikovsky. Carla het die ballet op die verhoog gesien toe sy laasjaar in Londen was, en sy vertel my hoe mooi dit is. Nou sal ek self kan kyk.
Hoe lekker sou dit gewees het as jy neffens my op die soufa kon sit en en my help suie aan 'n koppie tee en kyk na die ballet! Miskien kon jy saam brei ook. As Anet hier kuier, dan brei sy heerlik saam - sy brei so mooi en werk vas dat jy nie die naat kan sien nie.
Haar egskeiding is ook verlede maand afgehandel - dit was nie 'n lekker maand vir haar nie: haar ma is ook dood (in die hospitaal) en haar broer het dieselfde dag nog met 'n wa na die ou dame se huis toe gery en alles gaan oplaai. Toe Anet na die begrafnis na haar ma se huis toe gaan, was die huis leeg, hy het selfs die gordyne verwyder.
Hoekom is daar altyd twis oor die ouers se besittings? Ag nouja, in Anet se geval geen twis nie, hy het eenvoudig skoonskip gemaak voor sy of haar suster van iets geweet het. Sy sê sy en haar suster het niks gesê nie en hom maar laat begaan. Daar is 'n paar goedjies soos haar babstoeltjie en van haar kinderboeke wat sy graag sou wou gehad net, maar niks wat 'n vete werd is nie. 
Noua, Sussie, ons is ook weer by Sela. Groetnis van huis tot huis.
L&K, Suster Katryn {|{



Handskoene en Vriendinne

Liewe Sussie,
Wat kan ek jou sê. Dis winter en ons leef in die lôntrie. Die wasgoed hang knaend in die huis, bokant die warm-lug-uitlate. As ek dit buite hang, word dit nie drooog nie, selfs nie op die balkon nie. Die lug is te koud en klam. My landgenote laat hang hulle wasgoed dae lank buite, tot daar eendag 'n flouerige sonnetjie kop uitsteek en dan bring hulle dit in en sit dit tog maar in die tuimeldroër om die laaste klammigheid uit te blaas. Ek hang myne liewer uit wans uit in die huis. Die sentrale verhitting is eenmanier aan, hy kan net sowel my wasgoed droogmaak.  Ten minste ruik skoon wasgoed lekker.
Jy is 'n regte Flo Nightingale met Charlene se agterpote - ek hoop sy word gou beter. Ek is seker sy sal hulle beter kla.
Ek is jammer jou handskoene is weg. Jy weet mos ek brei knaend vir die minder-BV-regtes. Nouja, ek vir myself 'n paar vd handskoene gehou wat ek vir hulle brei. Brei vir jouself 'n paar - jy sal nou dink dis nie warm genoeg nie want jou vingers steek uit, maar glo my dis te lekker as jy so sit en lees of in jou modderkar ry. Brei net 2plein 2purl ribbing, sit so van 35 na 40 steke op na gelang van hoe dik jou wol is, en brei so om en by 20cm. As jy die naat toewerk, los plek oop vir jou duim.
Very Simple Fingerless Gloves

8 ply yarn  and 4mm (no 8) needles

Cast on 40 stitches, leaving a tail of wool for the sewing up.

Rib K2, P2 for 12 cm
(This is about 30 rows, depending on the thickness of the wool: some 8ply is thicker than others)

The next 4cms (about 12 rows, dep on thickness of wool) start and end each row with K3. This will make an edging to the thumb hole.

Do another  4cm in the k2,p2 rib, then cast off in rib, leaving a length of wool for sewing up.

Fold in half lengthwise and sew up side seam from the top and the bottom, leaving the edged 4cms open for the thumb.

Ek is bly jou bure is goed vir jou; jy klink nie vreeslik dankbaar nie. Ek het gelukkig niks met my bure te doen nie - groet vriendelik as ons mekaar buite sien en dis al.  Krismis gee ek haar 'n koek en sy gee my 'n blik biskits. Hulle seun bespeel die dromme maar nie saans nie en bedags hou die sessie ook nie lank aan nie, ½ uur op die meeste.  Ek kla nie, want ek soek nie 'n vete met my bure nie. Hulle hond wat vroegoggends heerlik geblaf het vir die opkomende son, is ook tot haar hondelike vadere vergader en dit lyk nie of hulle 'n nuwe een gaan kry nie.
Ek wonder of die boek wat ek jou laat stuur het, al opgedaag het. Ek gaan in die week vir jou 'n paarseltjie stuur met 'n paar goedjies vir jou nuwe kleinkind. Ek wil niks Pta toe pos nie, want "hulle" het al te veel goed gesteel wat ek soontoe gestuur het. Ek verdink die posbeamptes in die Transvaal.  Ek is seker jy sal nie haar klerasie steel om aan jou eie bas te trek of weg te gee vir baba's wat jy by die bekentenis het nie.
Ek het niks wonderliks gekoop nie, sommer net ietsie to show willing - ek wil nie wintersklere koop nie en daar is nie nou somergoed in die winkels nie. Ek sal wag tot die somergoed inkom en dan weer ietsie koop. Ek wil so 3-6 maande se goed koop of 6-9 maande, en as sy dd ouderdom is, dan is dit somer by julle. Hier ook. Dit sal gaaf wees as sy op K se verjaardag kan kom, sê jou skoondogter moet knyp tot 11 Okt.
Nuus is nog maar skraps. Dun op die grond. Ek het vandag my kop laat afkap by Madeleine. Sy het weer vir my afdakkies oor my ore gesny maar wat kan ek doen. Nee, ek sal jou sê wat ek kan doen: ek het uitgevind wanneer haar afdag is - sy het Sondae en Woensdae af. Ek kan nie op Sondag soontoe gaan nie, want 1. ek gaan Sondae fliek en 2. Seniors kry net in die week afslag en nie Sat of Son nie, maar as ek weer moet laat sny, gaan ek my afspraak vir 'n Woensdag maak. Ek gee nie om dat Madeleine my kop inkleur nie, sy doen 'n goeie job. Ek gaan vlg Donderdag laat inkleur.
More gaan ek vir May help om haar gehekelde 'bersies uit die bib se winkel te haal. Sy het die meeste van hulle verkoop, maar daar is 'n paar agtergeblewenes. Ek sal hulle vir haar op eBay sit. Dis 'n pyn in die nek, ek wil my nie bebodder nie, maar nouja. Sy is oud en sy het nie 'n rekenaar nie en sy is my vriendin. 'n Mens moet rally as jou vriendinne jou nodig het, soos jy met Charlene. En dan rally hulle weer dienooreenkomstig in jou uur van nood.
Ek gaan ook 'n martelaar wees met Pauline - dis winter en te koud vir haar om op die trein te klim om my te ontmoet soos ons doen. Die wind is ysig op die stasie waar sy moet wag, al is dit net 'n paar minute. Nou gaan ek Donderdag na haar huis toe ry en daar saam met haar middagete eet en kuier en so drieuur huis toe kom wanneer my oë te veel brand van die rook. Tuis aangekom, moet ek my klere in die was gooi, stort en my hare was want ek stink.
Ek was Sondag fliek toe saam met K en D, ons het Beautiful Lies gesien. Franse prent, Audrey Tautou. Ek en K het dit geniet maar D nie so baie nie. Dit was 'n chick flick - bietjie van 'n rom/com maar die Franse maak nie aanstootlike rom/coms soos die Amerikaners nie.  Jy kan maar jou plek inneem in die Village Odeon wanneer dit daarnatoe kom. Maak seker daar sit niemand met 'n hoed op voor jou nie, dat jy die subtitles kan lees.
Nou gaan ek vir my 'n bakkie sop uit die vrieskas ruk en 'n stukkie tous maak daarby. D het lankal geëet, hy word vroeg honger en hy soek elke ete vleis. Hy het beef casserole en rys en groenbone gehad met gestoofde appels daarna. Ek weet nie of hy daarvan gehou het nie, hy lewer nooit kommentaar of sê dankie nie. Dankie is nie in die McDonalds se woordeskat nie. K tel in dd opsig nie vir 'n McD nie, sy ken asseblief en dankie. Haar ma (opgevoed deur Nella Viljee) was meer vertroud met die terme as D s'n, en het dit dienooreenkomstig van kleins af aan haar oorgedra.
Nouja, Sussie, verder Niets dan Bladeren tot vlg week.
Baie liefde en groetnis,
Suster Anna   J  Y ¯

Ek Beskinder my Landgenote

Liewe Sussie,
Nog 'n week in sy maai. Die heilige vaders het vir my 'n briefie van bedanking vir die seels  gestuur en 'n boekmerk. Hulle is goed opgebring, beter as Pamela van Oorle' Tom, wat my nou nog sal bedank vir die geskenk wat ek haar bybie gestuur het. Ewentwil, ek stuur die heilge vaders se briefie vir jou aan want jou seels vorm die grootse deel van my bydrae.
Ek leer met interes uit hulle briefie dat daar ook heilige susters is in hulle organisasie. Mazel tov, good on 'em. Die kinders op die boekmerk lyk ewe vrolik en gelukkig, lyk nie of die heilIge vaders hulle molesteer of mishandel nie. Ons plaaslike katolieke instansies het 'n baie donker reputasie vir mishandeling en molevering van kinders in hulle sorg. 
My landgenote het al die jare hulle bekke vol gehad oor Safr se tekortkominge onder apartheid - en hulle was reg in hulle kondemnasies, maar hulle is nietemin die laaste mense wat klippe kan gooi oor menseregte, wreedheid of swak etiese beginsels.
In die 50s en 60s het die Australiese Regering derduisende aborigines se kinders met geweld van hulle af weggeneem, en daardie kinders in kerklike weeshuise of by pleegouers geplaas, duidende myle weg in vreemde omgewings. Nie die kinders weggeneem omdat hulle ouers sleg was nie, net omdat hulle swart was. Die idee was dat die kinders in "beskaafde" omstandighede sou grootword, behoorlike edukasie kry en uitstyg bo die aboriginal leefwyse. Nee. Die in die weeshuise is gruwelik mishandel, diegene by pleegouers, meesal op plase, is vir slawe-arbeid gebruik. The Lost Generation.
Alles kom nou op die lappe, nou dat die heilige vaders wat aan kinder-verkragting aandadig was, merendeel dood en stokoud is en die kerk hulle nie meer hoef te beskerm nie. En daar was nie net twee of drie van die booswigte nie, maar dosyne. En dit gaan nog steeds aan - elke jaar is daar 'n klompie wat aangekla word deur kinders wat nou grootmense is en kan rapporteer wat hulle as kinders moes deurmaak. Die kerk se manier om dit te hanteer is om hulle te verplaas na 'n ander gemeente waar hulle dit weer kan doen. Want hulle het gebieg en hulle het berou en nou is hulle vergewe, hulle hoef nie tronk toe te gaan nie.
En asof dit nie genoeg is nie, het die Australiese regering na WW2 met die Britse regering geheul om tusen 5 en tienduisend kinders hierheen te stuur - baie van hulle was "evacuees" wat tydens die oorlog na die plattelandse dorpe in Engeland gestuur is. Hulle het vir die kinders vertel hulle ouers is dood, in die meeste gevalle onwaar!
Selfde storie - gruwelike weeshuise, slawe-arbeid. Broers en susters nie bymekaar gehou nie. Daar is nou boeke en dokumentere prente oor die hele ding - "The Leaving of Liverpool", "Oranges and Sunshine" … daardie kinders is nou oumense, baie is dood, maar baie het as volwassenes uitgevind dat hulle ouers of broers en susters in Engeland het, en kon weer by hulle uitkom. Hartroerende verhale.
My nuwe land se rekord is baie slegter as my geboorteland s'n! Selfs toe die Apartheids-regering mense teen wil en dank in die Transkei gaan aflaai het, het hulle die hele familie gaan aflaai en nie die kinders gekonfiskeer nie! En toe hulle Duitse weeskinders ingevoer het SA toe na die oorlog, is daardie kinders in liefdevolle gesinne geplaas en goed versorg.
Maar nouja, laat ek nie my landgenote slegmaak nie, vir my was hulle goed. Ek hoekom nie? Ek is wit en ek praat Engels! Baie van my anderskleurige en anderstalige mede-immigrante word nie met sulke ope arms verwelkom nie.
Sussie, ek het vir jou 'n boek laat stuur van die online boekwinkel waar ek baie van my boeke koop.  Dit sal 'n tweedehandse boek wees: die website spesialiseer in ex-library stock, maar wat worry jy, hy sal in goeie kondisie wees en jy sal hou vd storie. Miskien kan jy hom by jou skoondogters rond uitleen as jy met hom klaar is. The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society.
Ek het Maandag saam met my ex-skoonmaakster Joan gaan koffie drink. Sy het haar huis verkoop en sy en haar man trek na Moe. (Mow-ee) Dis so 'n uur uit Melbourne of 90 minute met die trein. Groter as Plooysburg, maar nie veel nie! Joan se broer en haar suster woon daar en nou dat albei haar dogters uit die huis is, het sy en Les nie so 'n groot huis nodig nie.
Joan het my ook vertroulik meegedeel dat sy moeg is om dag vir dag kleinkinders op te pas sodat haar dogters kan rondjakker. Die dogters het hard probeer om haar om te praat om in Melbourne te bly, maar sy het net gesê nee. Ek dink Les was nie te lus vir Moe nie, maar hy het geen geld en dus geen seggenskap nie. Dobbelprobleem gehad en dis nou al jarre dat Joan alle geldsake beheer en alles is in haar naam, sy gee hom sakgeld.
Sy het 'n mooi 3sk meenthuis gekoop in Moe en hulle trek die end vannie maand. Joan het 'n hoop goed op eBay geadverteer en mense het dit kom haal. Kontant in haar hand, niks in Les se hand nie! Meubels en allerlei rubbish. One man's trash is another man's treasure. (En dit gaan vir girlfriends ook! Geen pot is te skeef nie.)
Woensdagaand het ons gaan eet by die Indiese keffie saam met Penny (gelukkig nie Fanny nie) en John Thomas. Waar was sy ouers se kommen sens by die doopbak? Kon hulle hom nie James of William genoem het nie? Of al was dit Jaydin of Darryl. Die ete was baie aangenaam: gawe geselskap, lekker kos. Ek het gelukkig parkeerplek gekry vlakvoor die restaurant, want dit was baie koud en nat.  Jy weet ek is altyd die aangewese bestuurder wat ek sit mos nie my bek aan alkohol nie. Om selfsugtige redes: ek wil my lewer en harslag die beste kans gee wat ek kan, om uit die moeilikheid te bly.
Donderdag het ek vir Heather ontmoet vir koffie. Ek het 'n pot peperment tee bestel en haar tjoklit muffin het so lekker gelyk dat ek vir my ook een gekry het. Wat was my verbasing groot toe hulle my 'n ekstra een in 'n papierkardoesie gee. Dit was 5uur in die middag en hulle bak elke dag vars - laatmiddag gee hulle alles weg.  D was bly, hy het dit vir poetieng geëet ipv sy gewone jellie.
Heather was baie opgewonde want sy hou nie van haar werk nie - sy het aansoek gedoen om 'n ander job en hulle het haar opgekommandeer vir 'n onderhoud. Ek hoop sy kry die werk, dis by The Body Shop (sy doen kantoor-admin) en van die newe-vergoedings is dinge soos facials en massages en spa- en gym-besoeke - ek wil dit nie hê nie, maar Heather het baie lus daarvoor.
Sy soek al lank ander werk en dit is nie maklik nie, want haar vereistes is spesifiek: sy wil nie verder as 20 minute van haar huis af werk nie, sy wil ure hê wat inpas by haar kinders se skool en kindersorg-sentrums en sy wil 'n werkgewer hê wat haar sal toelaat om op kort kennisgewing 'n dag of twee verlof te neem as sy 'n siek kind het. Sy gaan Vrydag vir die onderhoud en hopelik sal ek vlg week kan rapporteer of sy die job gekry het.
Gister op die Vrydag het ek vir Marcia ontmoet by die Monash Gallery of Art waar daar 'n baie mooi fotografiese uitstalling was - die fotograaf het van die 30s tot die 50s vir Vogue en dergelike tydskriufte gewerk. Pragtige voorbladfoto's. Al die ou akteurs wat ek onthou van daardie dae.
Vandag se akteurs het nie meer daardie glamour nie! Seker maar ook omdat ons nie alles van hulle privaatlewens geweet het nie, net inligting wat die studios vrygestel het. Vandag is daar geen geheime meer in die wereld nie!
Ek kan weer nie hd Sondag gaan fliek nie weant dis nog skoolvakansie en daar is niks wat ek wil sien nie. Ek was vanmiddag by die bib en het 'n paar DVDs daar vd rak af geleen. Ek ken hulle nie, dis BBC programme. Ek hoop hulle is goed. D kyk vanaand rugby, miskien sal ek een vd DVDs in my rekenaar se speler prop en daarna kyk, ek sit lekker gemaklik hier in my ergonomiese stoel. Ek sal my breiwerk en my pot tee gaan haal.
Nouja, Sussie, dan is dit weer SELA tot vlg week. Baie liefde en groetnis.
I¯ö Suster Katryn