Saturday, July 12, 2014

Vingerlose Handskoene

Liewe Sussie,

Hier stuur ek vir jou die resep vir die vingerlose handskoene: jammer dis op Ingels, ek het nie lus om dit te vertaal nie!
Daar is een patron vir grootmense en een vir kinders. Lekker brei!

Very Simple Fingerless Gloves  (adult size)

8 ply (DK) yarn  and 4mm (no 8) needles

Cast on 46 stitches, leaving a tail of wool for the sewing up.

Rib K2, P2 for 12 cm

(This is about 30 rows, depending on the thickness of the wool: some 8ply is thicker than others)

The next 4cms (about 12 rows, dep on thickness of wool) start and end each row with K3. This will make an edging to the thumb hole.

Do another  4cm in the k2,p2 rib, then cast off in rib, leaving a length of wool for sewing up.

Fold in half lengthwise and sew up side seam from the top and the bottom, leaving the edged 4cms open for the thumb.

Child Size

8 ply (DK) yarn  and 4mm (no 8) needles

Cast on 36 stitches, leaving a tail of wool for the sewing up.

Rib K2, P2 for 8 cm

(This is about 20 rows, depending on the thickness of the wool: some 8ply is thicker than others)

The next 3.5cms (about 10 rows, dep on thickness of wool) start and end each row with K3. This will make an edging to the thumb hole.

Do another 8 or 10 rows in the k2,p2 rib, (depending on size of child's hand and how far up the knuckles you want the mitten) then cast off in rib, leaving a length of wool for sewing up.

Fold in half lengthwise and sew up side seam from the top and the bottom, leaving the edged 4cms open for the thumb.

 

Wednesday, July 9, 2014

Tandartse en Nuwe Woorde

 
Sunday, 25 May 2014
Liewe Sussie,

So stap die tyd aan. Weer 'n week in sy maai en ek het nie hierdie week tyding gekry nie; aankomde week sal seker weer 2 briewens bring. Waar is die dae toe jou ou dorp se posbeamptes op die job was en ek elke Dingsdag 'n brief van jou gekry het, sonder faal. Nouja, voorwaarts en opwaarts, dit help nie om te kla nie.

Hierdie week kan ek rapporteer dat ek Maandag by die tandarts was: Andrew wat nou al 30 jaar oor my tande gaan en my belowe het ek sal nooit 'n kunsgebit hoef te hê nie, mits ek daagliks borsel en floss en elke ses maande inklok by sy spreekkamer.  Tot dusver het hy sy woord gestand gedoen. Hy het geen fout gevind met my knersers nie, behalwe een stopsel wat baie oud is (dateer volgens die materiaal wat gebruik is, uit die Sestigs, sê Andrew). Die stopsel word nou los en moet vervang word voor hy uitval of die tand kraak. Ek gaan vollende week terug dat hy dit kan doen. Ek het seker waarde vir my geld gekry met die stopsel, hy is ouer as Elaine!

Dingsdag het ek oudergewoonte vir Joan gaan oplaai en het ons by Forest Hill gaan koffie drink en shop soos ons elke 2 weke doen. Van ons gewone kafee toegemaak het, soek ons nog knaend na een waarvan ons net soveel hou. Ons was nou al by elke ander kafee in die sentrum en ons was ook al na ander sentrums, maar ons hunker nog na die vleispotte van Egipte.

Ek het Saterdagoggend saam met Pauline en haar dogters gaan brunch. Pauline het 'n venue voorgestel waar ons nog nie was nie, en dis ook naby Joan se huis. Ek sê toe vir Joan miskien is dit nou die wel aangewese nuwe plek vir ons, ek sal rapporteer wanneer ek daar was.

Maar bittere ellende, ek is bevrees ek en Joan sal nie soontoe gaan nie. Die plekkie is baie klein en daar is nêrens vir die klank om heen te gaan nie, dit eggo van muur tot muur. Die koffiemasjien raas soos 'n ou two-stroke grassnyer, en die klandisie skree al harder om hulleself hoorbaar te maak. Pauline is doof, wanneer sy en haar (vermoedelik ewe dowe) brug-trawante soontoe gaan, kom hulle seker nie agter hoe luidrugtig dit is nie.

Plus die kos was nie wonderlik nie. Ek het twee kalfsoog-eiers op roosterbrood bestel, met spek en moeshkamers. Laasgenoemde was uit 'n blik! Die eiers se gele was baie bleek. Ek weet dit maak nie saak watter kleur 'n eier is nie, maar ek verbeel my dit smaak beter as dit 'n heldergeel of oranje is. En die spek was dikgesny, pienk en rubberig. Ek kan selfs kla oor die sny brood – dit was 'n duim dik en kliphard – ek dink hulle het dit uit die rooster gehaal lank voor die res van die dis gereed was, toe word dit koud en hard.

Net vir die kersie op die koek, was daar 'n geselskap ma's met 'n besending voorskoolse kindertjies. Gil, hol rond, baklei, kruip onder die tafels, die ma's ignoreer hulle. Ek het iets gesien wat ek nog nooit voorheen gesien het nie: een kind wat in 'n ander kind se neus grou. Ek het inderhaas my oë  afgewend voor ek hoef te sien wie eet die resultaaat.

Ek het Woensdag saam met Heather gaan koffie drink by Brandon Park en sy het my vertel dat sy voortaan 2 dae per week gaan werk ipv net een.  Haar man kla dat die naskoolse sorg te duur is om die kinders heelweek daar te parkeer as sy net een dag werk. Sy sien nie kans om vier middae 'n week in haar kinders se geselskap deur te bring nie (en ek blameer haar nie, hulle is helleveë) nou werk sy nog 'n dag, sy sê die geld wat sy verdien sal vir die child care betaal, en dan kan hy nie objekteer nie.

Hoe lekker het ek middae met Elaine gespeel, vir haar stories gelees, by Zoo Lake met haar fiets gaan ry, in die park gaan swaai en glyplank ry, gaan swem, biblioteek toe gegaan, koekies gebak, gesny en geplak en ingekleur, matinee toe gegaan by die baaiskoup, partymaal gaan speel by ander kinders dan drink ek en die ma heerlik tee. Ek speel nou nog lekker met haar en is altyd bly as sy inklok! Miskien sal Heather se kinders eendag 'n vernis van beskawing kry en sal sy graag tyd met hulle deurbring.

Donderdag het ek en Margie na die Mama Mia uitstalling toe gegaan. Ek het jou laas vertel ek het Ma se biscuit barrel vir hulle geleen. Die uitstalling was baie interessant. Ma se beste teepot, Ma se damask trousseau-tafeldoek, ma se ou mixmaster en Ma se spieëltafel-stel. Onthou jy die cut glass poeier-bakkie en die laventelsproei met die rubber-knop? En die kam-en-borselstel met die handspieël.
Die ma's se klere is so mooi, veral die trourokke. Ek kan nie glo hoe klein ons ma's was nie! Dis nie net hulle middellyfies wat so klein was nie; Marcia vertel my sy het by 'n rokwinkel 'n klompie mannequins geleen, maar die skouers is so smal dat sy die meeste van die rokke nie op 'n mannequin kon kry nie en hulle op gewone oorgetrekte hangers moes vertoon.

Ek het veral gehou van die rokke wat deur my mede-immigrante geleen is: daar was 'n Thai trourok en 'n pragtige Japanese sy-kimono, jy kan nie glo hoe fyn die borduurwerk is nie. 'n Paar baie mooi Chinese cheongsams ook. En die aandrokke uit die vyftigs! Grace Kelly!

Daarna het ek en Margie by die haarkapsalon-cum-kafee op die hoek gaan koffie drink en net om te verhoed dat ons so pieperig soos ons ma's moet word, het sy 'n foccacia geëet en ek 'n sny feta en spinasie-quiche. Dit was middagete-tyd!

Vanmiddag op die Sabbat is daar regtig niks te sien by die fliek nie, behalwe as ek Brighton Bay toe wil ry om 'n Italiaanse prent te gaan sien wat nie te sleg lyk nie, maar toe bel May om te vra of ek haar halfeen wil ontmoet vir middagete by The Glen. Daar is my dilemma opgelos, ek gaan nie fliek toe nie. J

Ek het 'n nuwe woord geleer by Heather. Ons het gepraat van die nuwe vleuels by die Box Hill hospitaal (Heather werk vir sjirurge: sy sit met oorfone en tik die notas wat hulle dikteer wanneer hulle opereer). Ek sê toe vir Heather my vriendin May gaan dikwels na Box Hill vir verskillende behaldelings wat sy ontvang.

Heather: What's wrong with her?
Ek: She has numerous different ailments that are unrelated to each other.
Heather: She has co-morbidities. 
Ek: What are co-morbidities?
Heather: You have just given an excellent definition of co-morbidities.

Daar ken jy nou ook 'n nuwe woord, Sussie. As jy 'n klomp onverwante skete het, het jy co-morbidities. Treurig genoeg, hoe ouer 'n mens word, hoe meer van jou vriende het co-morbitities! Ek is dankbaar ek het Ma se goeie genes. Ek kan ook maar net sê soos Ma: ek worry nie as my heupe ingee nie, as my brein tog net hou. So far, so good.

Ek het nog nie 'n nuwe skoonmaker nie, ek sal van more af verbete pogings moet aanwend. Ek sien nie kans om agter 'n stofsuier aan te stap nie. Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren.

Groetnis van huis tot huis.

Lekker Lag en Lekker Lees

Lekker Lamskenkels!

Tuesday, 13 May 2014
Liewe Sussie,

Ek gaan nie hierdie week veel tyding hê nie. Ek is alleen by die huis en ek maak goed gebruik van my vakansietyd – ek het geen afsprake die hele week nie, sodat ek net vreedsaam my stil en netjiese huis kan geniet.

Ek was gister na die Chinese kruidenierswinkel waar ek borlotti- en rooi nierbone gekoop het. Ek het hulle oornag geweek in 'n bak flou brandewynwater en vanoggend kook ek heerlike boontjiesop, met 'n lam-skenkel, tamaties, 'n prei en 'n aartappel.

Ek kan onthou toe lamskenkels en beesstert arm-mans-kos was, jy kon hulle vir 'n sikspens koop by die slagter want my landgenote wil dit nie eet nie. Die skape hier is mos wolskape, hulle wil net bees en vark en hoender eet. En dele van die bees soos stert en tong is ook "foreign food".
Maar nou het hulle te oorlams geword, al daardie dinge is deesdae hoog aangeskrewe op die gourmet spyskaart en ek moes deur my nek betaal vir 'n lam-skenkel.
Ek het by die biblioteek vir my 'n handvol rillers/whodunnits uitgeneem vir my vakansieweek, en ek lees hulle soos peanuts eet. Ek sal jou nie bebodder met titels nie, hulle is almal op dieselfde lees geskoei. Lee Child, John Sandford, Robert B Parker, Elmore Leonard, Quinton Jardine. Geen breinwerk word vereis nie: sit agteroor in die wintersonnetjie met 'n koppie tee, suspend disbelief en geniet die trip. Die eerste lyk word ontdek voor bladsy drie en dan is die game aan.

Ons nuwe regering wys nou hulle ware kleure – ek het nie vir hulle gestem nie! Hulle eerste begroting is gister aangekondig. Hulle het fondse vir skole en hospitale drasties gesny, die ouderdomspensioen se inkremente is verminder, die pensioen-ouderdom is opgestoot na 70, jy kan nie meer verniet dokter toe gaan nie: jy moet nou $7 per besoek betaal, (maar na 10 besoeke is dit verniet), en preskripsies gaan voortaan ook $7 kos as jy jou pille by die apteek gaan haal. Groot maatskappye, aan die ander kant, se belasting is verminder en mense in die hoogste inkomstegroep se inkomstebelasting is ook verminder.  Praat van grinding the faces of the poor. Hopelik sal hulle nie hulle nuwe wetgewing deur die Senaat kry nie, hulle het nie 'n meerderheid daar nie. Die opposisie en die kleiner partye sal saamdoen om hulle te fnuik.
Maar genoeg van politiek, ek gaan nie dat hulle my 'n maagseer gee nie. Ek het sopas 'n ou Patricia Highsmith gelees: The Two Faces of January. Dis 'n baie ou boek, hulle het dit opnuut uitgegee om in te skakel by die bioskoopprent wat volgende maand vrygestel word. (Viggo Mortensen, Kirsten Dunst) Ek  hou baie van Patricia Highsmith. Jy sal die Talented Mr Ripley-reeks onthou. Sy het ook Strangers on a Train geskryf, wat Hitchcock verfilm het. Ek het onlangs haar biografie gelees – sy was 'n uitsonderlike vrou.

Ek soek anderdag advies by Google hoe om 'n kerrie-vlek uit 'n wit hemp te kry (D het kerrie op sy bowls-hemp gemors) en ek beland op 'n website waar mense allerhande vrae vra en ander mense gee dan die nodige raad. Ek het hardop gelag (LOL) vir die vrou wie se kind "lactose intolerant" is en sy wil graag vir hom paas-sjokolade gee.
Aldus: my son is lack toast and tolerant, is there any sort of chocolate I can give him?
Ek moes dit 'n paar maal hardop vir myself sê voor die "lactose intolerant" pennie geval het!
Jy weet hoe staan daar altyd onderaan 'n aanbod "Conditions Apply". Alison vertel my sy het 'n kennisgewing gesien in die venster van 'n Thai restaurant in Brisbane, waar hulle 'n spesiale spyskaart aanbied op Dinsdae, en dan staan daar onderaan: "Condition Supply". LOL.

Ek hou van 'n bietjie cologne, maar ek is nie 'n fan van lavender of rooswater nie, ek het 'n vanilla/orchid spritz wat ek altyd koop. Maar wil jy glo, hulle het opgehou om dit te maak. Sodra ek van iets hou, dan kan jy seker wees dit word onverkrygbaar. Toe grou ek rond daar by die winkels en ek kry 'n "blood orange and bergamot" sproeitjie. Klink volgens die naam of ek na 'n lemoenboord gaan ruik, maar nee, dis so 'n ligte sitrus-geurtjie, jy moet fyn ruik om hom raak te ruik. Dis soos 'n cologne moet wees, net so 'n "hint"! Anderdag het ek in die bioskoop agter 'n vrou gesit wat haarself gemarineer het in 'n parfuum voor sy uitgegaan het. Gelukkig was die fliek nie vol nie en kon ek verskuif na 'n sitplek aan die ander kant. Ek gaan 'n bietjie blood orange and bergamot op die papier spritz, miskien hou die ruik tot jy die brief kry. Laat my weet!

Ek moet nou seker iets gaan maak om te eet, maar ek weet nie waarvoor ek lus het nie. Ek sal gaan kyk wat het ek in die vrieskas, ek dink daar is 'n bakkie groentekerrie. Of van die hoendersop wat ek gister gekook het. Ek het die afgelope week verskeie soppe gekook: winter skop nou in en 'n mens het sop in jou vrieskas nodig!

Nouja, Sussie, op daardie geurige noot sluit ek af tot aankomde week. (Hierdie week nog geen tyding van jou nie; die posmense is besig, hulle het nie tyd om te mors met briewe aflewer nie.)

Liefde en groetnis van huis tot huis.     

Monday, July 7, 2014

Egskeiding en Japanese Kos

Die biscuit barrel wat Ma
gewen het in 1910

Liewe Sussie,                                       Saturday, 3 May 2014  (Veels geluk met B se Happy Birthday)

Ek kondig met genoeë aan dat ek 'n brief van  jou gekry het, en wel gedateer 20 April. Twee weke op reis is meer aanvaarbaar as twee maande, maar ek voel nog maar baie soos Rachel Henning. Anderdag het ek so baie aan Boetie gedink. Ek was by die bib en by die supermark en my mandjie was swaar. By die voordeur se trappies, sit ek hom altyd op die boonste trappie neer en dan klim ek met behulp van die reling na bo voor ek hom weer optel. Toe ek gister daardie mandjie uit die kar haal, is dit of ek hom hoor sê: "Gee ek daardie mandjie vir jou dra." Hoe dikwels het hy swaar en sommer ook nie-so-swaar goed vir my gedra.

Vandag is ek Little Macauley Culkin, Home Alone. Elaine is in Londen, D is op Philip Island vir die naweek. (Jy sal natuurlik nooit kan raai wat maak hy daar nie.) Hulle is 'n span van 4 wat aan die twee-daagse toernooi gaan deelneem. Een dame en drie mans. Die dame het gesê sy sal die akkommodasie bespreek. Daar is baie vakansiehuise op die eiland.

Gister bel sy en sê vir D sy het vir hulle 'n 2slk huis gehuur: daar is 'n kleiner slaapkamer waar sy sal slaap, en 'n groot kamer met vier beddens, wat die drie mans kan deel. D het gesê baie dankie maar hy sal vir homself 'n motelkamer bespreek. Hy sê vir my sy het nie baie tevrede geklink nie, want nou kos die huis duurder as hulle net drie is wat dit deel, maar D sê hy worry nie, hy is te oud vir 'n dormitory. Wie sal hom blameer.

Hy is vanoggend voor sewe hier weg want dit is so 2 uur se ry en hulle moet negeuur inklok. Ek was so ordentlik om op te staan en vir hom spek en eiers gaar te maak vir sy ontbyt. En roosterbrood. Hy het sy eie koffie gemaak want ek weet nie hoe werk sy koffiemasjien nie.

Elaine het Woensdag gevlieg en Donderdagmiddag het sy net gebel om te sê sy het veilig aangekom in Londen. Sy is in Gordon se woonstel, hy het verlede maand vir haar 'n sleutel hierheen gepos. Hy woon nou in Haarlem, maar hy het nog steeds sy woonstel in Londen want hy het nog besigheid en vriende daar. Sy het weer gisteraand gebel en ek het haar teruggebel sodat ons kon gesels sonder om Gordon se foonrekening op te jaag.

Sy het op die lughawe in Melbourne We Are All Completely Beside Ourselves deur Karen Joy Fowler gekoop en dit heelpad gelees. Jy sal onthou sy het dit vir my vir Moedersdag gegee voor sy weg is, en ek het dit heel naweek gelees en kort-kort vir haar gesê hoe baie ek daarvan hou. Sy het gesê sy sien uit daarna om dit te lees as sy terugkom. Maar toe sy dit op die lughawe sien, toe dink sy Why wait? En sy koop dit. Ek kan weer die boek hartlik aanbeveel by jou en jou vriendinne.

Ons het Maandag 'n sonsverduistering gehad maar ek het net op die TV daarna gekyk. Ons het ook 'n ding met die maan gehad, die maan was baie groot en rooi, dit was baie mooi. Hulle het verduidelik hoekom dit so gelyk het, maar wat weet ek.

Ek het Dingsdag saam met Alison gaan tee drink en sy het my vertel dat haar seun en sy vrou die handdoek ingegooi het. Hy het vir hom 'n meenthuis gehuur twee strate weg, sodat dit handig kan wees vir die twee kinders (17 en 13). Alison sê sy weet nie hoekom hulle uitmekaar is nie, maar daar is glo nie 'n 3de party betrokke nie en hulle hou dit so siviel en vreedsaam as moontlik ten einde nie die kinders meer as nodig te ontstel en ontwrig nie. Shym, dis nie lekker nie, Alison is hoogs ontsteld. Sy hou aan tob oor wat die rede kan wees: dit moet die skoondogter se skuld wees! Ek sê vir haar dit maak nie saak wat die rede is nie, dis nie behulpsaam om haar kleinkinders se ma sleg te maak nie. Die twee maak nie mekaar sleg nie en deel geen blaam uit nie, hulle kinders se welsyn is hulle eerste prioriteit. Elke huis het sy ellendes.

Ek het e-mail van H gekry, sy is nog in SA en deel mee dat Oom nou beter begin loop met behulp van sy loopraam, en hy is ook meer soos sy ou self, i.e. "difficult"! Ek sê vir haar dis net sowel dat hy in 'n inrigting is, nou kan sy gaan as hy begin moelik raak, laat die betaalde personeel sien kom klaar met sy probleem-gedrag!

Woensdagaand het ek saam met 3 van my oud-kollega's gaan eet by die Indiese keffie in Pinewood. Die kos was baie lekker, maar ons het naby die deur gesit en elke keer wat iemand inkom of uitgaan, was daar 'n ysige wind. Ek het 'n warm trui aangehad, maar ek het ook my tjalie saamgebring vir die wis en die onwis, en toe vou ek hom op en sit hom oor my bene. Hy is groot en het tot by my enkels warm gehou.

Vrydag (gister) was ek en Carla by Michael die Voetvent en hy het ons tone baie mooi gediens en ge-olie. Of ge-handeroom. As hy klaar gevyl en geknip en geskuur het, dan vryf hy heerlik handeroom in 'n mens se voete en dan gooi hy 'n bietjie poeier in sy handpalm en vryf dit oor jou voetsool dat jou skoene nie moet taai word van die handeroom nie.

Agterna het ons soos gewoonlik by die Japanese keffie langsaan gaan eet. Ek het beef teriyaki gehad en Carla 'n geroerbraaide hoenderdis. Ons het Japanese tee gedrink. Na ek vir Carla gaan aflaai het by haar huis, het ek na die Highway Gallery in Mount Waverley gery waar Marcia kurator is vir die kunsvereniging se  uitstalling genaamd Mama Mia. Daar is moeder-en-kind skilderye, en Marcia het ook mense gevra om items te leen wat op hulle moeders betrekking het. Die uitstalling open vlg week en Marcia is met haar handlangers besig om alles bymekaar te sit.  Ek dink dit gaan baie interessant wees. Ek het teestelle gesien en trourokke en ou foto-albums en wat nog.

Ek het vir Marcia die "biscuit barrel" geleen wat Ma gewen het in die Girls' Footrace toe sy 8 jaar oud was. Dit was in 1910, by die vierings van die Uniewording. Die Duke and Duchess of Connaught (Queen Vic se tweede seun) was in SA met hulle dogter Princess Patricia, hulle het die 3 maande lank die hele land getoer en hulle was in Kimberley ook. Die reisies was alles deel van 'n Groot Dag, daar was 'n Pageant en 'n Sports Day en in die aand was daar 'n konsert. 

1910! Kan jy glo daardie biscuit barrel is oor die honderd jaar oud.

Ek gaan netnou perd opsaal en bib toe ry, daar wag 'n wavrag boeke vir my. Ek kyk na die uitgewers se websites en reserveer altyd vroegtydig boeke wat later in die jaar gaan verskyn. Dan word 'n hele handvol gelyk gepubliseer en ek kry hulle op een slag!

Nouja, Sussie, hier is ons weer by selah. Ek het nog niks van C gehoor nie; sy het hand en mond belowe om my te laat weet wanneer hulle ingetrek het en 'n adres of 'n Skype-nommer het. Ag nouja, hulle weet waar ek is en hulle het my e-mail, my posadres, my landlyn-nommer, my selfoon-nommer, my Skype-details, my Facebook-bladsy, my Twitter-account, en 'n hokvol posduiwe wat weet waar ek woon. As hulle met my wil kontak maak, sal hulle. Indien hulle nie bebodderd kan wees nie, kan hulle dit los. D is beslis familie van hulle: hy weet ek het al tweemaal met Elaine gepaat, maar hy het my nou nog nie gevra wat sê sy, hoe was haar vlug, het sy veilig aangekom of hoe gaan dit met haar nie. Toe ek gisteraand klaar met haar gepraat het en die foon neersit, toe maak hy sy mond oop en ek dink hy gaan sê "How is she?" maar nee. Die vraag op sy lippe was "What are we having for supper?"

Liefde en groetnis, Suster Katrien ¬ J C

Optog Kyk en Fliek Toe Gaan


Sunday, 27 April 2014

Liewe Sussie,

Klok ek in op die H/S soos dit hoort.

Winter het nou aangebreek. Dis koud. Maar die son skyn darem, dis meer Hoëveld as Kaap, maar ek weet nie hoe lank dit sal aanhou nie. Melbourne is tradisioneel koud, nat en donker as dit winter word.

Elaine was hier van Vrydag af (openbare vakansiedag) en het vanoggend huis toe gegaan. Of liewer, sy het haar Hansie Slim-uitrusting aangtrek en die berg gaan bestyg, maar sy sal vandaar reguit huis toe gaan. Sy vertrek Woensdag Londen toe. Ons sal haar nie weer sien voor kom Juniemaand nie, maar hopelik sal ons Skype en e-mail. Kon ek maar destyds my ma skype en e-mail.

En van die poswese gepraat, ek het eergister 2 briewe van jou gekry, die een het jy op 2 Maart geskryf. Hy was 2 maande op pad. Ek dink hy het iewers op die vloer gelê ook, want hy is vuil en vol voetmerke op sy rug. Tekkie-sole. Seker van 'n sorteertafel afgeval en niemand kon bodder om hom op te tel nie. Maar nouja, na vele ontberinge het hy darem op die ou end in my posbus beland.

Ons het Paasnaweek gehou, toe voel elke dag vir my soos Sondag, en skaars was dit agter die rug, of die volgende naweek is Anzac Day (pasede Vrydag) en toe voel dit weer heel naweek soos Sondag. Ek het nie vroeg genoeg opgestaan om na die Dawn Service te kyk by die Shrine nie, (wat nog soontoe gaan in die koue en donker!) maar ek het dit later op die tv gesien. Hulle het elke stad se dagbreek-diens gewys – die prins en prinses het opgedaag by Canberra s'n, die prins kompleet met sy medaljes. Hy het twee, ek wonder waarvoor?

Ek het later wel na die optog gekyk. Ek pink altyd 'n traan of twee weg. Elke regiment loop agter sy banier met die battle honours: van Paardekraal tot by Afghanistan het Australië sy kant gebring. Hierdie jaar was daar nie meer WW1 veterane nie, selfs nie in 'n voertuig nie. Verskeie WW2 veterane kan nog marsjeer, maar baie van hulle is in 'n voertuig of rystoel. Dan is daar die kinders en kleinkinders wat loop met 'n foto en met Pa of Oupa se medaljes voor die bors. Van Australië se tradisonele vyande is ook verteenwoordig: daar was Turkse, Japanese  en Italiaanse veterane. Waarvoor was al die doodslag en ellende, vandag is almal dikkevrinne.  

Alles is toe op Anzac Day tot 1nm, dan is die optog verby, die saluut is afgevuur, die Last Post is geblaas en die winkels maak oop. Ek en Elaine het gaan shop vir 'n nuwe wasgoedstellasie want myne het na baie jare die gees gegee. Sy plastiek-komponente is deur die son so bros gebrand dat die hele raamwerk uitmekaargeval het. Ek het hom deur die jare met elastoplast aanmekaargehou, maar daar kom 'n tyd dat noodoperasies nie meer werk nie.

My tuimeldroër het ook sy vervaldatum bereik, maar ek kan nie kla nie want ek het hom nog van SA af saamgebring. Ek sal 'n nuwe een koop: hulle is nou so goedkoop dat dit nie die moeite werd is om myne te laat herstel nie. Ek gebruik hom nie baie nie, maar hy is handig om die handoeke op te fluff. Ek gooi kledingstukke wat gewoonlik stryk nodig het, in hom vir net 'n paar minute, om die kreukels uit te haal; dan hang ek hulle klam op. Siedaar, geen strykwerk nodig nie.

Gister op die Saterdagoggend het Elaine gegaan na die salon om haar maandelikse waxing en facial te laat doen, en ek het biblioteek toe gegaan waar daar boeke vir my gewag het. In die middag het ons fliek toe gegaan en Chinese Puzzle gaan sien. Ek kan dit hoog aanbeveel. Ek weet nie of julle veel Europese prente sien nie – in my tyd in Pta het hulle altyd die anderstalige prente gewys by die bioskoop daar by die Hatfield Galleries.

Ewentwil, Chinese Puzzle is nie Chinees nie, maar wel Frans. Dis die derde film in 'n trilogie: The Spanish Apartment en Russian Dolls was die eerste twee. Al drie het nog dieselfde akteurs, al dek dit 'n periode van twintig jaar.  Dit gaan oor ses studente van verskillende nasionaliteite – in die eerste prent studeer hulle in Barcelona en deel 'n woonstel daar, en die in volgende twee sien ons hoe hulle lewens verder verloop. Ek hoop daar sal 'n vierde een wees en dat die akteurs nog almal beskikbaar sal wees! Die trilogie is beskikbaar in 'n Box Set DVD – gee dit vir J vir Krismis en hoop sy nooi jou uit om saam te kyk!

Ek dink die C's is eindelik reisvaardig. Ek sien vanoggend op Facebook C het gepos dat hulle 9 uur lank by die die grens moes wag met hulle meubelwa – daar was 'n lang tou en net een persoon het die toonbank beman. Ek is bly dis nie ek wat 9 uur lank met 'n driejarige in 'n motorkar moes sit agter 'n meubelwa nie. En met Ouma op die koop toe. Ek hoop hulle het genoeg padkos en leesstof gehad en dat daar voldoende toiletgeriewe was.

Ek het 'n boek ter hand genaamd We Are All Completely Beside Ourselves deur Karen Joy Fowler en ek kan dit hartlik aanbeveel. Ek wil dit nie bederf deur jou veel daarvan te vertel nie: die storie ontvou op onverwagte wyse sover soos 'n mens dit lees. Ek het dit gister begin en vanoggend klaar gelees, dis een van daardies wat jy nie wil neersit nie. Elaine het dit vir my gegee vir Moedersdag omdat sy vlg naweek nie hier sal wees nie.

Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Ek sal jou op hoogte hou van Elaine se avonture in die Verre Vreemde. Lovenkisses, Suster Katrien ¯% J

Appels Stowe en Kinders Leer


Wednesday, 2 April 2014

Liewe Sussie,

Hosanna, gister het D vir my 'n brief van jou af gebring. 16de Maart s'n. Hartlike dank. Ek is nou ten volle op hoogte van H. Ek wonder hoekom Nefie H nie by die troue was nie? Sy oudste kleinseun en naamgenoot. Miskien was Mevrou nie aanboord met die idee nie.

Hier sit ek en wag vir my ousie om op te daag. Ek sal met haar moet praat oor die kombuis wat sy laaskeer nie skoongemaak het nie. Ek gaan voorstel dat sy voortaan die kombuis eerste doen. Ek gaan haar ook in- en uitvra watter watter skoonmaakmiddels sy gebruik om die toilette mee te skrop, want ek sien hulle is nie wit nie: die water veroorsaak verkleuring aan die porselein as jy nie gereeld iets gebruik met 'n bleikmiddel in nie. Ek gaan vir haar sê sy moet, voor sy begin huis skoonmaak, die Harpic (of dergelik) in die toiletbakke spuit dat dit kan staan en trek soos 'n pot tee, dan kan sy hulle skrop aan die end van die storie. Dis my suspisie dat sy besuinig op skoonmaakmiddels. Ek dink sy gebruik net 'n natlap, ek ruik niks as ek in my skoongemaakte huis instap nie. Jy weet hoe ruik 'n nuut-skoongemaakte huis. Ek betaal haar ekstra om middels te koop, want ek wil nie die goed verskaf nie, ek kan my nie bebodder om gedurig te moet kyk wat raak op en supermark toe te hol nie.

Ek het 'n hoop wasgoed om te doen, en ek het appels en pere gekoop wat ek wil stowe, maar ek wil nie aktiwiteite op tou sit terwyl sy skoonmaak nie. Ek skil hulle nie af nie (die appels en pere) ek sny hulle in blokkies en kook hulle saggies met 'n paar naeltjies, paar stukkies versuikerde gemmer en 'n handvol sultanas. Ek sit niks suiker by nie. Dit is baie lekker, D gooi natuurlik vla daaroor maar ek eet dit net so bloots, as ek so gelukkig is om 'n porsie te kry.  Ek moet vir my 'n bakkie uitskep nes ek dit klaar gekook het. Sodra dit in die yskas gesit word, eet D dit binne 'n paar uur op. Met vla. As hy weet daar is een of ander lekkerny in die yskas, gaan skep hy knaend tot dit op is. Dit hou nie tot aandete, wanneer ek miskien weer 'n bakkie sou geëet het vir poetieng nie. Ek maak om daardie rede ook nie meer vrugteslaai nie. Ek skil nou maar 'n vrug af en eet hom. Anders staan ek 'n halfuur lank om te skil en te kap, en as ek weer kyk, staan die leë bak daar in die sienk. (Vir my om in die skottelgoedwasser te sit.)

Hulle het laat weet dat Oom die heupvervanging gehad het, en dat alles mooi rampspoedig verloop het. Hy het bygekom na die operasie en is nou vuur en vlam om huis toe te gaan. Ek dink die ou bokker gaan ons nog almal oorleef, Sussie. Ek sien vanoggend hier in die koerant (na aanleiding van Russell Crowe se nuwe prent Noah), dat Noag, volgens die bybel, oor die 900 jaar oud geword het. Oom gaan vir Noag 'n run vir sy money gee.

Ek is bly jy het lekker wolle gekoop. Kry julle ook gestreepte wol daar? Ek brei nou so lekker met 'n wol wat strepe het van grys en pienk en turquoise. Elke kleur hou so drie of vier meters aan voor hy verander.  Die strepe is so drie rye wyd op die voor-en agterpante, maar omdat die moue minder steke het, is hulle wyer daar, so vier tot ses rye soos die aantal steke meer word van die gewrig af en dan weer minder van die mousgat af.  Dit lyk baie mooi. Ek brei die ribbings met 'n effekleur, ek soek nie gestreepte ribbings nie.

Dit klink of jy begin tuis raak daar in jou "retirement village". In May se oord het hulle so 'n tipe rondawel waar almal se posbusse is. Hulle noem dit die "gazebo". Daar is ook 'n tafel waar die inwoners goed neersit wat hulle nie meer wil hê nie en wat die ander inwoners miskien kan gebruik. Boeke en DVDs en partymaal 'n pyrex-bak of 'n blompot of so. May sê niks bly ooit lank in die gazebo nie – as jy iets daar neersit, is dit netnou weg. Ek gee partymaal vir haar boeke vir die gazebo en Elaine het onlangs vir haar 'n paar dosyn DVDs gegee. Het julle ook 'n gazebo?

Ek kyk netnou na Facebook en ek sien Elaine se vriendin Sarah het 'n staaltjie gepos oor haar gesprek met haar seuntjie Lee(8). Sarah woon daar in Mirboo, 'n raps kleiner as Douglas.

Omg, told Lee Melbourne is positioned by the Bay and so ensued half an hour of heated explanations, diagrams, gesticulating, simulated boats. Calling it an inlet just led to more questions. In the end i think he got it but he said "but why do they call it a bay? "I don't know Mate they could have called it a poo but that was already taken." I actually said that, desperate to end the topic.

Sussie, daar is nou die verskil tussen 'n normale ma soos Sarah en 'n kompulsiewe informasie-verskaffer soos ek. (En jy!) Desperate to end the topic? Ek sou aangehou het tot ons omring was van Atlasse en woordeboeke.  En kom die naweek het ek die kind in die kar gelaai en hom die baai gaan wys. Melbourne is net 'n uur se ry van Mirboo af!

Maar aan die een kant is ek jammer ek het nooit daaraan gedink om daardie uitleg te gee as Elaine my gevra het na 'n woord se oorsprong nie. Hou dit in gedagte as die kleinkinders by jou aanklop om informasie. "Ouma, hoekom noem hulle dit 'n baai?" .... "Ag, ek weet nie, Boet, hulle kon dit 'n drol genoem het, maar drol was reeds in gebruik."

Jy sal bly (maar nie verbaas nie) wees om te verneem dat ek 'n tweede brief van jou gekry het net die volgende dag. 25 Maart het jy dit neergepen. Nou sal dit seker weer drie weke lank maer jare wees.

Hierdie kant trek ons nou by Vrydag die vierde. D is pas vort na Corowa vir die naweek se RSL Bowls Tournament. Hulle is 32 stuks van sy klub. Dis 'n baie groot toernooi en die spelers kom van oral. Hulle bly in al die naburige dorpe se motelle en karavaanparke. Hy sal Sondag terugkom, behalwe as hy deurdring na die eindrondte. Ek het gesê as hy Sondagmiddag speel, moet hy oorslaap en Maandag-oggend ry. Dis nie goed om skemeraand daar weg te ry as hy heeldag gespeel het en moeg is nie. Sondagaand is daar swaar verkeer wat teruggaan stad toe na die naweek, en hy moet sy weg deur die middestad en al die snelweë baan na ons kant toe.

Ek het Woensdag my kop laat afkap en inkleur by Sharni. Sy het hierdie keer nie vir my so 'n poenskop gesny nie, ek het haar gesê om net te trim.

My nuwe ousie sou opgedaag het die oggend maar no show. Ek het vergeet dat ousies daardie nadeel het! Ewentwil, sy het later gebel met 'n ekskuus maar ek het haar kortgenip en gesê dit maak nie saak hoekom sy nie kon kom of laat weet nie, sy moet maar oor twee weke op die gegewe tyd kom. Ek gaan haar maar weer 'n kans gee, Sussie, maar my geduld is nou op en as sy my weer rede tot ontevredenheid gee, sal ek die agentskap vra om iemand anders te stuur. Sy het so goed begin!

Die biblioteek het altyd 'n vormbrief gehad wat hulle uitstuur as iemand se boeke te lank nie teruggekom het nie: Patience has expired. Ek het altyd jammer gevoel vir arme Patience wat dood is, maar ek moet sê Patience het nou expire hier by my ook. Sy is tot haar vadere vergader. Soos die Norwegian Blue Parrot in Monty Python.

Verder het ek nou nie tyding nie. Elaine gaan nie die naweek hie'haa'toe kom nie, sy sê my sy het geen afsprake of planne die naweek nie, sy wil alleen by haar huis bly en tot verhaal kom na 'n besige paar weke, sowel professioneel as sosiaal. Ek gaan ook 'n stil naweek alleen by my huis geniet. As ek alleen is, hoef ek glad nie die TV aan te skakel nie. My huis is stil en my kombuis is netjies.

Die skoolvakansie begin vandag so daar is niks by die bioskoop om te sien nie. Ek het genoeg leesstof en ek gaan netnou 'n pot sop op die vuur sit en ek dink ek gaan 'n appeltert bak ook, met party van my gestoofde appels. Dit beloof om 'n reenerige naweek te wees, sop vir ete en tee met appeltert vir 'n middag-versnapering is net die job.

Nouja, Sussie, op daardie noot sal ek maar groet tot vollende keer.


Liefde en groete van huis tot huis. Suster Anna Yö¯

Moeilike Oom en Stout Kinders


Sunday, 30 March 2014

Liewe Sussie,

Nog 'n week sonder tyding van jou, maar dit is nou nie meer vir my iets ongewoon nie. Ek weet R sal my laat weet as jy van die takkie afgeval het, so ek neem aan jy klou nog vas, eet jou saad, flap jou vlerkies en sing vrolik.

D se Oom is vinnig besig om sy greep te verloor, maar nie sonder 'n geveg en bittere verset nie. Dylan Thomas kon daardie gedig spesiaal vir Oom geskryf het:

Do not go gentle into that good night,

Old age should burn and rave at close of day;

Rage, rage against the dying of the light.

Hy het geval en sy dybeen gekraak, net waar die heup se potjie begin. Hy het so die pyn uitgehou en aangegaan soos gewoonlik, tot R op haar twee-weeklikse besoek vir hom dr toe geneem het. Die dr het gesê hy moet van die been afbly, maar nee. Sluk pynpille, stap rond, klim in sy kar en ry plaas toe soos gewoonlik. (Jy weet hy is 80% blind van katarakke en het nie meer 'n bestuurderslisensie nie.) Elke Dinsdag gaan hou hy toesig dat hulle 'n klomp beeste moet laai, en vendusie toe ry. Dan sit hy daar by die vendusie, weier alle bodde (biede? aanbodde? aanbiedings?) vir die vee want hy is paranoïes en almal wil hom verkul. Hy skel 'n paar mense uit, stuur die volk terug plaas toe met sy onverkoopte vee en gaan huis toe, tevrede met sy dag se werk.

Ewentwil, hier is die e-mail van gister:

It seems the situation with my dad has deteriorated in that a second x-ray carried out yesterday revealed that the neck of femur is now not cracked but broken. If he was a bit younger, ie in his eighties, not 96, a hip replacement op would be done, but at this stage that is uncertain. They took him to Klerksdorp yesterday and he was seen by an orthopaedic surgeon. The surgeon said he would need to be admitted to hospital for a night to assess how suitable he may or may not be for the op but he would not hear of that and just wanted to get back home. He is now carrying on about the farm and they have taken him to the farm!!  I cant think about the pain of getting in and out of the van!! He is using a wheelchair instead of walking. I spoke to him and when I said I was sorry to hear he has a broken leg, which R had to repeat for him b/c he is so deaf, he flatly denied that he has a broken leg. At this stage we are staying where we are as we would only be a nuisance anywhere else.

Ek bel toe na ek haar email gekry het, en o.a. sê ek vir haar ten minste hoef ons nou nie te vrees hy sal iemand doodry met sy kar nie. Nee, sê sy, moenie glo nie, hy het wel in sy kar geklim met gebreekte been en al, en winkels toe gery, maar hy kon nie uitklim nie, toe ry hy maar weer huis toe.  Hy weier om te erken dat iets met hom verkeerd is, hy weier om hospitaal toe te gaan en hy eis dat R haar intrek moet neem by hom in sy huis. Ek vra hoekom gee hulle hom nie 'n verdowings-middel in en neem hom hospitaal toe nie? Vandaar na 'n sorg-eenheid, hy kan nie in sy huis bly nie! Gee hom 'n knock-out drop saam met sy pynpille, wat sal hy weet? Sussie, sy sê vir my: we can't do that, Daddy will be very angry.

Daardie ou man het hulle so lank geterroriseer dat hulle nou aan Stockholm-sindroom ly! Hulle, sy slawe, is almal skeit-bang vir hom, die dokter inkluis. Ek wonder of R so dom gaan wees om in te gee en by hom in te trek. Sy kan nurse, chauffeur, kok, en scapegoat wees. Soos dit is gaan sy elke 2 weke sy huis skoonmaak, sien dat hy bad en skoon aantrek (dit gebeur net wanneer sy daarnatoe gaan, hy dra en slaap in een stel klere) sy betaal sy rekeninge, maak vrede met almal wat hy beledig en uitgeskel het sedert sy laas daar was, en sien dat hy iets eet behalwe Wimpy oorkant die straat se hamburgers.

Elaine sê as hulle haar vliegtuigkaartjie betaal, sal sy alles binne 'n paar dae gaan uitsorteer vir hulle, no worries! Sy bang hom nie. Mind you, ek glo nie dit gaan van hier af lank duur nie: as 'n mens van daardie ouderdom 'n been gebreek het, is dit afdraand al die pad. Next stop pneumonia en goodnight, Irene. Ek wou dit nou nie sê nie, maar as ek sy kinders is, sal ek my nie haas om vir hom 'n Krismispresent te koop nie.  

Die afgelope week het ek nie veel op my program gehad nie. D het wel die tandarts besoek, want sy voortand het afgebreek. Die tand het reeds 'n pen ingehad. Die tandarts het dit tydelik reggemaak, maar sy tande is almal op hulle laaste bene (of wortels). Ek weet nie of dit 'n oorerflike kondisie is nie, want my skoonma het sulke afbreek-tande gehad tot sy later 'n mondvol stieftande gekry het.

So gelukkig soos ons is in hierdie land om gratis of byna-gratis mediese dienste en medisynes te hê, is tandartse ongelukkig nie verniet nie. D se tande is te ver heen om gekroon te word (wat self baie duur is) hy moet inplantings kry, wat ongeveer $5,000 per tand is, of hy moet 'n mondvol stieftande kry.  Ek weet nie wat hy sal besluit nie. Ek weet nie waar die geld vandaan moet kom vir inplantings nie, ons kan elkeen 'n splinternuwe modderkar koop vir daardie prys. En die rede hoekom ons met ons ou modderkarre ry, is dat ons nie nuwes kan bekostig nie.

Ek het Woensdag saam met H gaan koffie drink. Sy kla haar stout kinders is nou totaal onregeerbaar. Hulle baklei ongenadig met mekaar. Die een het die ander in die gesig geskop dat H gedink het sy neus is gebreek, maar by die ER het hulle gesê dis nie gebreek nie, net sleg gekneus. As sy skoene ipv tekkies aangehad het, sou sy dalk sy neus gebreek en miskien sy wangbeen gekraak het.  Hulle het die bloeding gestop, sy neus ge-plug en hom huis toe gestuur.

Later dieselfde dag het hy weer sy sussie se arm agter haar rug op gedraai dat die kind die vlg dag nie die arm kon gebruik nie. Die twee is glo gedurig vol kneusplekke en letsels soos hulle mekaar te lyf gaan. Hy is nege en sy is ses, maar sy byt en krap behalwe skop en slaan, so dit maak op vir haar agterstand in gewig en armlengte. H sê altwee van hulle slaan en skop haar ook as hulle nie hulle sin kry nie – hulle doen dit al van kleinsaf, maar nou dat hulle groter word begin hulle haar regtig seermaak.

Ek bied geen advies aan nie, dis nie my besigheid nie, maar hulle kan bly wees ek is nie hulle ma nie.  Ek sien nooit die kinders nie, H weet as dit skoolvakansie is, ontmoet ek haar nie. Ek sê net altyd "bel my as hulle weer in die skool is". Ek het laas die jongste gesien toe sy saam met haar ma gekom het om haar verjaarsdagkoek te kom haal. Sy is 'n baie mooi dogtertjie.

Gister het ek en Elaine 'n toneelstuk gaan sien. Neighbourhood Watch. Ons het baie daarvan gehou; die lag met die traan. Daar was die minimum props op die verhoog. 'n Groot deel van die aksie speel in die straat voor die huise af. Hulle stoot hulle vuilisdromme uit of hulle kom van die tremstop af met hulle inkopies en so. Staan en gesels op die sypaadjie. As hulle in mekaar se huise "ingaan", dan staan hulle maar daar op die verhoog en jy verbeel die meubels.

Robyn Nevin plays Ana, a cantankerous and meddlesome octogenarian from Hungary, who lives with her German shepherd in a Melbourne suburb where relations between neighbours seem to be little more than a polite wave on bin night.Advertisement  Behind closed doors, the street is full of walking wounded. There's a prim, middle-aged woman with a terminal illness, an aspiring, diabetic filmmaker addicted to online computer games, and Catherine, a Lally Katz-figure with a broken heart who remains emotionally paralysed, unable to move on. But the night belongs to Ana. Nevin is extraordinary. It's impossible not to fall in love with her brilliant portrait of a tough, eccentric dragon lady, a woman left manipulative and paranoid by the vicissitudes of life as a refugee but whose countervailing qualities - stoicism, shrewdness, generosity - are just as likely to lead to chaos, often in amusingly broken English. Nevin plays the character for truth rather than laughs, which amplifies and deepens its comic power.

Daar weet jy nou alles en jy kan gerus inklok by die Miriam Makeba Teater wanneer hulle dit op die planke bring. Toe ons klein was, was 'n toneelstuk bekend as "die konsert".

Elaine is van die teater af na 'n 40ste happy birthday toe, en ek het huis toe gery. Ek was nie lus om kos te maak nie en toe het ons gaan eet by die Red Panda. Ek het Crispy Duck gehad en D Mustard Beef. Daar was lekker Chinese groente by en gestoomde rys. Ons het 'n pot tee bestel.

Tot sover my opwindende week. Ek sou nog meer opgewonde gewees het as ek 'n brief van jou gekry het, maar dit was my nie beskore nie. Miskien hierdie week wat kom.

Baie liefde en groetnis aan jou en jou uitgebreide familie, van Suster Katrien Y¯J

Lame Joke of the Week:

I got a new stick deodorant today. The instructions said, “Remove cap and push up bottom”.

I can barely walk, but whenever I fart the room smells lovely.