Sunday, 27 April 2014
Liewe Sussie,
Klok ek in op die H/S soos
dit hoort.
Winter het nou aangebreek. Dis
koud. Maar die son skyn darem, dis meer Hoëveld as Kaap, maar ek weet nie hoe
lank dit sal aanhou nie. Melbourne is tradisioneel koud, nat en donker as dit
winter word.
Elaine was hier van Vrydag af
(openbare vakansiedag) en het vanoggend huis toe gegaan. Of liewer, sy het haar
Hansie Slim-uitrusting aangtrek en die berg gaan bestyg, maar sy sal vandaar
reguit huis toe gaan. Sy vertrek Woensdag Londen toe. Ons sal haar nie weer
sien voor kom Juniemaand nie, maar hopelik sal ons Skype en e-mail. Kon ek maar
destyds my ma skype en e-mail.
En van die poswese gepraat,
ek het eergister 2 briewe van jou gekry, die een het jy op 2 Maart geskryf. Hy
was 2 maande op pad. Ek dink hy het iewers op die vloer gelê ook, want hy is
vuil en vol voetmerke op sy rug. Tekkie-sole. Seker van 'n sorteertafel afgeval
en niemand kon bodder om hom op te tel nie. Maar nouja, na vele ontberinge het
hy darem op die ou end in my posbus beland.
Ons het Paasnaweek gehou, toe
voel elke dag vir my soos Sondag, en skaars was dit agter die rug, of die
volgende naweek is Anzac Day (pasede Vrydag) en toe voel dit weer heel naweek
soos Sondag. Ek het nie vroeg genoeg opgestaan om na die Dawn Service te kyk by
die Shrine nie, (wat nog soontoe gaan in die koue en donker!) maar ek het dit
later op die tv gesien. Hulle het elke stad se dagbreek-diens gewys – die prins
en prinses het opgedaag by Canberra s'n, die prins kompleet met sy medaljes. Hy
het twee, ek wonder waarvoor?
Ek het later wel na die optog
gekyk. Ek pink altyd 'n traan of twee weg. Elke regiment loop agter sy banier
met die battle honours: van Paardekraal tot by Afghanistan het Australië sy
kant gebring. Hierdie jaar was daar nie meer WW1 veterane nie, selfs nie in 'n
voertuig nie. Verskeie WW2 veterane kan nog marsjeer, maar baie van hulle is in
'n voertuig of rystoel. Dan is daar die kinders en kleinkinders wat loop met 'n
foto en met Pa of Oupa se medaljes voor die bors. Van Australië se tradisonele
vyande is ook verteenwoordig: daar was Turkse, Japanese en Italiaanse veterane. Waarvoor was al die
doodslag en ellende, vandag is almal dikkevrinne.
Alles is toe op Anzac Day tot
1nm, dan is die optog verby, die saluut is afgevuur, die Last Post is geblaas
en die winkels maak oop. Ek en Elaine het gaan shop vir 'n nuwe
wasgoedstellasie want myne het na baie jare die gees gegee. Sy
plastiek-komponente is deur die son so bros gebrand dat die hele raamwerk uitmekaargeval
het. Ek het hom deur die jare met elastoplast aanmekaargehou, maar daar kom 'n
tyd dat noodoperasies nie meer werk nie.
My tuimeldroër het ook sy
vervaldatum bereik, maar ek kan nie kla nie want ek het hom nog van SA af saamgebring.
Ek sal 'n nuwe een koop: hulle is nou so goedkoop dat dit nie die moeite werd
is om myne te laat herstel nie. Ek gebruik hom nie baie nie, maar hy is handig
om die handoeke op te fluff. Ek gooi kledingstukke wat gewoonlik stryk nodig het,
in hom vir net 'n paar minute, om die kreukels uit te haal; dan hang ek hulle
klam op. Siedaar, geen strykwerk nodig nie.
Gister op die Saterdagoggend het
Elaine gegaan na die salon om haar maandelikse waxing en facial te laat doen,
en ek het biblioteek toe gegaan waar daar boeke vir my gewag het. In die middag
het ons fliek toe gegaan en Chinese
Puzzle gaan sien. Ek kan dit hoog aanbeveel. Ek weet nie of julle veel
Europese prente sien nie – in my tyd in Pta het hulle altyd die anderstalige
prente gewys by die bioskoop daar by die Hatfield Galleries.
Ewentwil, Chinese Puzzle is nie Chinees nie, maar
wel Frans. Dis die derde film in 'n trilogie: The Spanish Apartment en Russian
Dolls was die eerste twee. Al drie het nog dieselfde akteurs, al dek dit 'n
periode van twintig jaar. Dit gaan oor
ses studente van verskillende nasionaliteite – in die eerste prent studeer
hulle in Barcelona en deel 'n woonstel daar, en die in volgende twee sien ons
hoe hulle lewens verder verloop. Ek hoop daar sal 'n vierde een wees en dat die
akteurs nog almal beskikbaar sal wees! Die trilogie is beskikbaar in 'n Box Set
DVD – gee dit vir J vir Krismis en hoop sy nooi jou uit om saam te kyk!
Ek dink die C's is eindelik
reisvaardig. Ek sien vanoggend op Facebook C het gepos dat hulle 9 uur lank by
die die grens moes wag met hulle meubelwa – daar was 'n lang tou en net een
persoon het die toonbank beman. Ek is bly dis nie ek wat 9 uur lank met 'n
driejarige in 'n motorkar moes sit agter 'n meubelwa nie. En met Ouma op die
koop toe. Ek hoop hulle het genoeg padkos en leesstof gehad en dat daar
voldoende toiletgeriewe was.
Ek het 'n boek ter hand
genaamd We Are All Completely Beside
Ourselves deur Karen Joy Fowler en ek kan dit hartlik aanbeveel. Ek wil dit
nie bederf deur jou veel daarvan te vertel nie: die storie ontvou op onverwagte
wyse sover soos 'n mens dit lees. Ek het dit gister begin en vanoggend klaar
gelees, dis een van daardies wat jy nie wil neersit nie. Elaine het dit vir my
gegee vir Moedersdag omdat sy vlg naweek nie hier sal wees nie.
Nouja, Sussie, verder niets
dan bladeren. Ek sal jou op hoogte hou van Elaine se avonture in die Verre
Vreemde. Lovenkisses, Suster Katrien ¯% J
No comments:
Post a Comment