Wednesday, July 9, 2014

Lekker Lag en Lekker Lees

Lekker Lamskenkels!

Tuesday, 13 May 2014
Liewe Sussie,

Ek gaan nie hierdie week veel tyding hê nie. Ek is alleen by die huis en ek maak goed gebruik van my vakansietyd – ek het geen afsprake die hele week nie, sodat ek net vreedsaam my stil en netjiese huis kan geniet.

Ek was gister na die Chinese kruidenierswinkel waar ek borlotti- en rooi nierbone gekoop het. Ek het hulle oornag geweek in 'n bak flou brandewynwater en vanoggend kook ek heerlike boontjiesop, met 'n lam-skenkel, tamaties, 'n prei en 'n aartappel.

Ek kan onthou toe lamskenkels en beesstert arm-mans-kos was, jy kon hulle vir 'n sikspens koop by die slagter want my landgenote wil dit nie eet nie. Die skape hier is mos wolskape, hulle wil net bees en vark en hoender eet. En dele van die bees soos stert en tong is ook "foreign food".
Maar nou het hulle te oorlams geword, al daardie dinge is deesdae hoog aangeskrewe op die gourmet spyskaart en ek moes deur my nek betaal vir 'n lam-skenkel.
Ek het by die biblioteek vir my 'n handvol rillers/whodunnits uitgeneem vir my vakansieweek, en ek lees hulle soos peanuts eet. Ek sal jou nie bebodder met titels nie, hulle is almal op dieselfde lees geskoei. Lee Child, John Sandford, Robert B Parker, Elmore Leonard, Quinton Jardine. Geen breinwerk word vereis nie: sit agteroor in die wintersonnetjie met 'n koppie tee, suspend disbelief en geniet die trip. Die eerste lyk word ontdek voor bladsy drie en dan is die game aan.

Ons nuwe regering wys nou hulle ware kleure – ek het nie vir hulle gestem nie! Hulle eerste begroting is gister aangekondig. Hulle het fondse vir skole en hospitale drasties gesny, die ouderdomspensioen se inkremente is verminder, die pensioen-ouderdom is opgestoot na 70, jy kan nie meer verniet dokter toe gaan nie: jy moet nou $7 per besoek betaal, (maar na 10 besoeke is dit verniet), en preskripsies gaan voortaan ook $7 kos as jy jou pille by die apteek gaan haal. Groot maatskappye, aan die ander kant, se belasting is verminder en mense in die hoogste inkomstegroep se inkomstebelasting is ook verminder.  Praat van grinding the faces of the poor. Hopelik sal hulle nie hulle nuwe wetgewing deur die Senaat kry nie, hulle het nie 'n meerderheid daar nie. Die opposisie en die kleiner partye sal saamdoen om hulle te fnuik.
Maar genoeg van politiek, ek gaan nie dat hulle my 'n maagseer gee nie. Ek het sopas 'n ou Patricia Highsmith gelees: The Two Faces of January. Dis 'n baie ou boek, hulle het dit opnuut uitgegee om in te skakel by die bioskoopprent wat volgende maand vrygestel word. (Viggo Mortensen, Kirsten Dunst) Ek  hou baie van Patricia Highsmith. Jy sal die Talented Mr Ripley-reeks onthou. Sy het ook Strangers on a Train geskryf, wat Hitchcock verfilm het. Ek het onlangs haar biografie gelees – sy was 'n uitsonderlike vrou.

Ek soek anderdag advies by Google hoe om 'n kerrie-vlek uit 'n wit hemp te kry (D het kerrie op sy bowls-hemp gemors) en ek beland op 'n website waar mense allerhande vrae vra en ander mense gee dan die nodige raad. Ek het hardop gelag (LOL) vir die vrou wie se kind "lactose intolerant" is en sy wil graag vir hom paas-sjokolade gee.
Aldus: my son is lack toast and tolerant, is there any sort of chocolate I can give him?
Ek moes dit 'n paar maal hardop vir myself sê voor die "lactose intolerant" pennie geval het!
Jy weet hoe staan daar altyd onderaan 'n aanbod "Conditions Apply". Alison vertel my sy het 'n kennisgewing gesien in die venster van 'n Thai restaurant in Brisbane, waar hulle 'n spesiale spyskaart aanbied op Dinsdae, en dan staan daar onderaan: "Condition Supply". LOL.

Ek hou van 'n bietjie cologne, maar ek is nie 'n fan van lavender of rooswater nie, ek het 'n vanilla/orchid spritz wat ek altyd koop. Maar wil jy glo, hulle het opgehou om dit te maak. Sodra ek van iets hou, dan kan jy seker wees dit word onverkrygbaar. Toe grou ek rond daar by die winkels en ek kry 'n "blood orange and bergamot" sproeitjie. Klink volgens die naam of ek na 'n lemoenboord gaan ruik, maar nee, dis so 'n ligte sitrus-geurtjie, jy moet fyn ruik om hom raak te ruik. Dis soos 'n cologne moet wees, net so 'n "hint"! Anderdag het ek in die bioskoop agter 'n vrou gesit wat haarself gemarineer het in 'n parfuum voor sy uitgegaan het. Gelukkig was die fliek nie vol nie en kon ek verskuif na 'n sitplek aan die ander kant. Ek gaan 'n bietjie blood orange and bergamot op die papier spritz, miskien hou die ruik tot jy die brief kry. Laat my weet!

Ek moet nou seker iets gaan maak om te eet, maar ek weet nie waarvoor ek lus het nie. Ek sal gaan kyk wat het ek in die vrieskas, ek dink daar is 'n bakkie groentekerrie. Of van die hoendersop wat ek gister gekook het. Ek het die afgelope week verskeie soppe gekook: winter skop nou in en 'n mens het sop in jou vrieskas nodig!

Nouja, Sussie, op daardie geurige noot sluit ek af tot aankomde week. (Hierdie week nog geen tyding van jou nie; die posmense is besig, hulle het nie tyd om te mors met briewe aflewer nie.)

Liefde en groetnis van huis tot huis.     

No comments:

Post a Comment