Wednesday, July 9, 2014

Tandartse en Nuwe Woorde

 
Sunday, 25 May 2014
Liewe Sussie,

So stap die tyd aan. Weer 'n week in sy maai en ek het nie hierdie week tyding gekry nie; aankomde week sal seker weer 2 briewens bring. Waar is die dae toe jou ou dorp se posbeamptes op die job was en ek elke Dingsdag 'n brief van jou gekry het, sonder faal. Nouja, voorwaarts en opwaarts, dit help nie om te kla nie.

Hierdie week kan ek rapporteer dat ek Maandag by die tandarts was: Andrew wat nou al 30 jaar oor my tande gaan en my belowe het ek sal nooit 'n kunsgebit hoef te hê nie, mits ek daagliks borsel en floss en elke ses maande inklok by sy spreekkamer.  Tot dusver het hy sy woord gestand gedoen. Hy het geen fout gevind met my knersers nie, behalwe een stopsel wat baie oud is (dateer volgens die materiaal wat gebruik is, uit die Sestigs, sê Andrew). Die stopsel word nou los en moet vervang word voor hy uitval of die tand kraak. Ek gaan vollende week terug dat hy dit kan doen. Ek het seker waarde vir my geld gekry met die stopsel, hy is ouer as Elaine!

Dingsdag het ek oudergewoonte vir Joan gaan oplaai en het ons by Forest Hill gaan koffie drink en shop soos ons elke 2 weke doen. Van ons gewone kafee toegemaak het, soek ons nog knaend na een waarvan ons net soveel hou. Ons was nou al by elke ander kafee in die sentrum en ons was ook al na ander sentrums, maar ons hunker nog na die vleispotte van Egipte.

Ek het Saterdagoggend saam met Pauline en haar dogters gaan brunch. Pauline het 'n venue voorgestel waar ons nog nie was nie, en dis ook naby Joan se huis. Ek sê toe vir Joan miskien is dit nou die wel aangewese nuwe plek vir ons, ek sal rapporteer wanneer ek daar was.

Maar bittere ellende, ek is bevrees ek en Joan sal nie soontoe gaan nie. Die plekkie is baie klein en daar is nêrens vir die klank om heen te gaan nie, dit eggo van muur tot muur. Die koffiemasjien raas soos 'n ou two-stroke grassnyer, en die klandisie skree al harder om hulleself hoorbaar te maak. Pauline is doof, wanneer sy en haar (vermoedelik ewe dowe) brug-trawante soontoe gaan, kom hulle seker nie agter hoe luidrugtig dit is nie.

Plus die kos was nie wonderlik nie. Ek het twee kalfsoog-eiers op roosterbrood bestel, met spek en moeshkamers. Laasgenoemde was uit 'n blik! Die eiers se gele was baie bleek. Ek weet dit maak nie saak watter kleur 'n eier is nie, maar ek verbeel my dit smaak beter as dit 'n heldergeel of oranje is. En die spek was dikgesny, pienk en rubberig. Ek kan selfs kla oor die sny brood – dit was 'n duim dik en kliphard – ek dink hulle het dit uit die rooster gehaal lank voor die res van die dis gereed was, toe word dit koud en hard.

Net vir die kersie op die koek, was daar 'n geselskap ma's met 'n besending voorskoolse kindertjies. Gil, hol rond, baklei, kruip onder die tafels, die ma's ignoreer hulle. Ek het iets gesien wat ek nog nooit voorheen gesien het nie: een kind wat in 'n ander kind se neus grou. Ek het inderhaas my oë  afgewend voor ek hoef te sien wie eet die resultaaat.

Ek het Woensdag saam met Heather gaan koffie drink by Brandon Park en sy het my vertel dat sy voortaan 2 dae per week gaan werk ipv net een.  Haar man kla dat die naskoolse sorg te duur is om die kinders heelweek daar te parkeer as sy net een dag werk. Sy sien nie kans om vier middae 'n week in haar kinders se geselskap deur te bring nie (en ek blameer haar nie, hulle is helleveë) nou werk sy nog 'n dag, sy sê die geld wat sy verdien sal vir die child care betaal, en dan kan hy nie objekteer nie.

Hoe lekker het ek middae met Elaine gespeel, vir haar stories gelees, by Zoo Lake met haar fiets gaan ry, in die park gaan swaai en glyplank ry, gaan swem, biblioteek toe gegaan, koekies gebak, gesny en geplak en ingekleur, matinee toe gegaan by die baaiskoup, partymaal gaan speel by ander kinders dan drink ek en die ma heerlik tee. Ek speel nou nog lekker met haar en is altyd bly as sy inklok! Miskien sal Heather se kinders eendag 'n vernis van beskawing kry en sal sy graag tyd met hulle deurbring.

Donderdag het ek en Margie na die Mama Mia uitstalling toe gegaan. Ek het jou laas vertel ek het Ma se biscuit barrel vir hulle geleen. Die uitstalling was baie interessant. Ma se beste teepot, Ma se damask trousseau-tafeldoek, ma se ou mixmaster en Ma se spieëltafel-stel. Onthou jy die cut glass poeier-bakkie en die laventelsproei met die rubber-knop? En die kam-en-borselstel met die handspieël.
Die ma's se klere is so mooi, veral die trourokke. Ek kan nie glo hoe klein ons ma's was nie! Dis nie net hulle middellyfies wat so klein was nie; Marcia vertel my sy het by 'n rokwinkel 'n klompie mannequins geleen, maar die skouers is so smal dat sy die meeste van die rokke nie op 'n mannequin kon kry nie en hulle op gewone oorgetrekte hangers moes vertoon.

Ek het veral gehou van die rokke wat deur my mede-immigrante geleen is: daar was 'n Thai trourok en 'n pragtige Japanese sy-kimono, jy kan nie glo hoe fyn die borduurwerk is nie. 'n Paar baie mooi Chinese cheongsams ook. En die aandrokke uit die vyftigs! Grace Kelly!

Daarna het ek en Margie by die haarkapsalon-cum-kafee op die hoek gaan koffie drink en net om te verhoed dat ons so pieperig soos ons ma's moet word, het sy 'n foccacia geëet en ek 'n sny feta en spinasie-quiche. Dit was middagete-tyd!

Vanmiddag op die Sabbat is daar regtig niks te sien by die fliek nie, behalwe as ek Brighton Bay toe wil ry om 'n Italiaanse prent te gaan sien wat nie te sleg lyk nie, maar toe bel May om te vra of ek haar halfeen wil ontmoet vir middagete by The Glen. Daar is my dilemma opgelos, ek gaan nie fliek toe nie. J

Ek het 'n nuwe woord geleer by Heather. Ons het gepraat van die nuwe vleuels by die Box Hill hospitaal (Heather werk vir sjirurge: sy sit met oorfone en tik die notas wat hulle dikteer wanneer hulle opereer). Ek sê toe vir Heather my vriendin May gaan dikwels na Box Hill vir verskillende behaldelings wat sy ontvang.

Heather: What's wrong with her?
Ek: She has numerous different ailments that are unrelated to each other.
Heather: She has co-morbidities. 
Ek: What are co-morbidities?
Heather: You have just given an excellent definition of co-morbidities.

Daar ken jy nou ook 'n nuwe woord, Sussie. As jy 'n klomp onverwante skete het, het jy co-morbidities. Treurig genoeg, hoe ouer 'n mens word, hoe meer van jou vriende het co-morbitities! Ek is dankbaar ek het Ma se goeie genes. Ek kan ook maar net sê soos Ma: ek worry nie as my heupe ingee nie, as my brein tog net hou. So far, so good.

Ek het nog nie 'n nuwe skoonmaker nie, ek sal van more af verbete pogings moet aanwend. Ek sien nie kans om agter 'n stofsuier aan te stap nie. Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren.

Groetnis van huis tot huis.

No comments:

Post a Comment