Monday, July 7, 2014

Moeilike Oom en Stout Kinders


Sunday, 30 March 2014

Liewe Sussie,

Nog 'n week sonder tyding van jou, maar dit is nou nie meer vir my iets ongewoon nie. Ek weet R sal my laat weet as jy van die takkie afgeval het, so ek neem aan jy klou nog vas, eet jou saad, flap jou vlerkies en sing vrolik.

D se Oom is vinnig besig om sy greep te verloor, maar nie sonder 'n geveg en bittere verset nie. Dylan Thomas kon daardie gedig spesiaal vir Oom geskryf het:

Do not go gentle into that good night,

Old age should burn and rave at close of day;

Rage, rage against the dying of the light.

Hy het geval en sy dybeen gekraak, net waar die heup se potjie begin. Hy het so die pyn uitgehou en aangegaan soos gewoonlik, tot R op haar twee-weeklikse besoek vir hom dr toe geneem het. Die dr het gesê hy moet van die been afbly, maar nee. Sluk pynpille, stap rond, klim in sy kar en ry plaas toe soos gewoonlik. (Jy weet hy is 80% blind van katarakke en het nie meer 'n bestuurderslisensie nie.) Elke Dinsdag gaan hou hy toesig dat hulle 'n klomp beeste moet laai, en vendusie toe ry. Dan sit hy daar by die vendusie, weier alle bodde (biede? aanbodde? aanbiedings?) vir die vee want hy is paranoïes en almal wil hom verkul. Hy skel 'n paar mense uit, stuur die volk terug plaas toe met sy onverkoopte vee en gaan huis toe, tevrede met sy dag se werk.

Ewentwil, hier is die e-mail van gister:

It seems the situation with my dad has deteriorated in that a second x-ray carried out yesterday revealed that the neck of femur is now not cracked but broken. If he was a bit younger, ie in his eighties, not 96, a hip replacement op would be done, but at this stage that is uncertain. They took him to Klerksdorp yesterday and he was seen by an orthopaedic surgeon. The surgeon said he would need to be admitted to hospital for a night to assess how suitable he may or may not be for the op but he would not hear of that and just wanted to get back home. He is now carrying on about the farm and they have taken him to the farm!!  I cant think about the pain of getting in and out of the van!! He is using a wheelchair instead of walking. I spoke to him and when I said I was sorry to hear he has a broken leg, which R had to repeat for him b/c he is so deaf, he flatly denied that he has a broken leg. At this stage we are staying where we are as we would only be a nuisance anywhere else.

Ek bel toe na ek haar email gekry het, en o.a. sê ek vir haar ten minste hoef ons nou nie te vrees hy sal iemand doodry met sy kar nie. Nee, sê sy, moenie glo nie, hy het wel in sy kar geklim met gebreekte been en al, en winkels toe gery, maar hy kon nie uitklim nie, toe ry hy maar weer huis toe.  Hy weier om te erken dat iets met hom verkeerd is, hy weier om hospitaal toe te gaan en hy eis dat R haar intrek moet neem by hom in sy huis. Ek vra hoekom gee hulle hom nie 'n verdowings-middel in en neem hom hospitaal toe nie? Vandaar na 'n sorg-eenheid, hy kan nie in sy huis bly nie! Gee hom 'n knock-out drop saam met sy pynpille, wat sal hy weet? Sussie, sy sê vir my: we can't do that, Daddy will be very angry.

Daardie ou man het hulle so lank geterroriseer dat hulle nou aan Stockholm-sindroom ly! Hulle, sy slawe, is almal skeit-bang vir hom, die dokter inkluis. Ek wonder of R so dom gaan wees om in te gee en by hom in te trek. Sy kan nurse, chauffeur, kok, en scapegoat wees. Soos dit is gaan sy elke 2 weke sy huis skoonmaak, sien dat hy bad en skoon aantrek (dit gebeur net wanneer sy daarnatoe gaan, hy dra en slaap in een stel klere) sy betaal sy rekeninge, maak vrede met almal wat hy beledig en uitgeskel het sedert sy laas daar was, en sien dat hy iets eet behalwe Wimpy oorkant die straat se hamburgers.

Elaine sê as hulle haar vliegtuigkaartjie betaal, sal sy alles binne 'n paar dae gaan uitsorteer vir hulle, no worries! Sy bang hom nie. Mind you, ek glo nie dit gaan van hier af lank duur nie: as 'n mens van daardie ouderdom 'n been gebreek het, is dit afdraand al die pad. Next stop pneumonia en goodnight, Irene. Ek wou dit nou nie sê nie, maar as ek sy kinders is, sal ek my nie haas om vir hom 'n Krismispresent te koop nie.  

Die afgelope week het ek nie veel op my program gehad nie. D het wel die tandarts besoek, want sy voortand het afgebreek. Die tand het reeds 'n pen ingehad. Die tandarts het dit tydelik reggemaak, maar sy tande is almal op hulle laaste bene (of wortels). Ek weet nie of dit 'n oorerflike kondisie is nie, want my skoonma het sulke afbreek-tande gehad tot sy later 'n mondvol stieftande gekry het.

So gelukkig soos ons is in hierdie land om gratis of byna-gratis mediese dienste en medisynes te hê, is tandartse ongelukkig nie verniet nie. D se tande is te ver heen om gekroon te word (wat self baie duur is) hy moet inplantings kry, wat ongeveer $5,000 per tand is, of hy moet 'n mondvol stieftande kry.  Ek weet nie wat hy sal besluit nie. Ek weet nie waar die geld vandaan moet kom vir inplantings nie, ons kan elkeen 'n splinternuwe modderkar koop vir daardie prys. En die rede hoekom ons met ons ou modderkarre ry, is dat ons nie nuwes kan bekostig nie.

Ek het Woensdag saam met H gaan koffie drink. Sy kla haar stout kinders is nou totaal onregeerbaar. Hulle baklei ongenadig met mekaar. Die een het die ander in die gesig geskop dat H gedink het sy neus is gebreek, maar by die ER het hulle gesê dis nie gebreek nie, net sleg gekneus. As sy skoene ipv tekkies aangehad het, sou sy dalk sy neus gebreek en miskien sy wangbeen gekraak het.  Hulle het die bloeding gestop, sy neus ge-plug en hom huis toe gestuur.

Later dieselfde dag het hy weer sy sussie se arm agter haar rug op gedraai dat die kind die vlg dag nie die arm kon gebruik nie. Die twee is glo gedurig vol kneusplekke en letsels soos hulle mekaar te lyf gaan. Hy is nege en sy is ses, maar sy byt en krap behalwe skop en slaan, so dit maak op vir haar agterstand in gewig en armlengte. H sê altwee van hulle slaan en skop haar ook as hulle nie hulle sin kry nie – hulle doen dit al van kleinsaf, maar nou dat hulle groter word begin hulle haar regtig seermaak.

Ek bied geen advies aan nie, dis nie my besigheid nie, maar hulle kan bly wees ek is nie hulle ma nie.  Ek sien nooit die kinders nie, H weet as dit skoolvakansie is, ontmoet ek haar nie. Ek sê net altyd "bel my as hulle weer in die skool is". Ek het laas die jongste gesien toe sy saam met haar ma gekom het om haar verjaarsdagkoek te kom haal. Sy is 'n baie mooi dogtertjie.

Gister het ek en Elaine 'n toneelstuk gaan sien. Neighbourhood Watch. Ons het baie daarvan gehou; die lag met die traan. Daar was die minimum props op die verhoog. 'n Groot deel van die aksie speel in die straat voor die huise af. Hulle stoot hulle vuilisdromme uit of hulle kom van die tremstop af met hulle inkopies en so. Staan en gesels op die sypaadjie. As hulle in mekaar se huise "ingaan", dan staan hulle maar daar op die verhoog en jy verbeel die meubels.

Robyn Nevin plays Ana, a cantankerous and meddlesome octogenarian from Hungary, who lives with her German shepherd in a Melbourne suburb where relations between neighbours seem to be little more than a polite wave on bin night.Advertisement  Behind closed doors, the street is full of walking wounded. There's a prim, middle-aged woman with a terminal illness, an aspiring, diabetic filmmaker addicted to online computer games, and Catherine, a Lally Katz-figure with a broken heart who remains emotionally paralysed, unable to move on. But the night belongs to Ana. Nevin is extraordinary. It's impossible not to fall in love with her brilliant portrait of a tough, eccentric dragon lady, a woman left manipulative and paranoid by the vicissitudes of life as a refugee but whose countervailing qualities - stoicism, shrewdness, generosity - are just as likely to lead to chaos, often in amusingly broken English. Nevin plays the character for truth rather than laughs, which amplifies and deepens its comic power.

Daar weet jy nou alles en jy kan gerus inklok by die Miriam Makeba Teater wanneer hulle dit op die planke bring. Toe ons klein was, was 'n toneelstuk bekend as "die konsert".

Elaine is van die teater af na 'n 40ste happy birthday toe, en ek het huis toe gery. Ek was nie lus om kos te maak nie en toe het ons gaan eet by die Red Panda. Ek het Crispy Duck gehad en D Mustard Beef. Daar was lekker Chinese groente by en gestoomde rys. Ons het 'n pot tee bestel.

Tot sover my opwindende week. Ek sou nog meer opgewonde gewees het as ek 'n brief van jou gekry het, maar dit was my nie beskore nie. Miskien hierdie week wat kom.

Baie liefde en groetnis aan jou en jou uitgebreide familie, van Suster Katrien Y¯J

Lame Joke of the Week:

I got a new stick deodorant today. The instructions said, “Remove cap and push up bottom”.

I can barely walk, but whenever I fart the room smells lovely.

Michaelangelo en Manon

Michaelangelo: Madonna,
Bruges Cathedral

                                                                                                  Monday, 17 March 2014
Liewe Sussie,
Laat ek nou maar vroegtydig inklok met vandeesweek se brief – ek kan deur die week skryf en kom Sondag sal ek klaar skryf en dan kan D dit Maandag pos. (Of weggooi, soos die gees hom lei.)

Gister op die Sondagmiddag het ek vir Elaine by die bioskoop ontmoet wat halfpad tussen ons woonplekke is, en toe sien ons The Monument Men. Ek kan dit aanbeveel. Cate Blanchett se rol was die kleinste, maar sy het die beste performance gelewer.

Kritzinger kan my nie 'n goeie Afr woord gee vir performance nie. Cate het nie 'n uitvoering, 'n verrigting of 'n prestasie gelewer nie. Ek vermoed al hoe meer dat Kritzinger se woordeboek nie so goed is as wat hy opgekraak is om te wees nie, hy skiet dikwels tekort.

Maar terug na The Monument Men ... dit handel oor 'n posse kunskenners wat in die doodsnikke van WW2 deur die Amerikaanse leër ge-rekruut word om Europese kunswerke wat die Nazis gesteel het, op te spoor en terug te kry. Gebaseer op 'n ware verhaal. Die twee hoof-items wat hulle probeer opspoor en terugkry, is die altaar-stuk uit Ghent se katedraal en Michelangelo se Madonna uit Bruges se "Church of our Lady". Ek en Elaine het die film geniet, maar ons het nie ons naels gekou soos die spanning opbou nie, want ons het geweet alles het op die ou end mooi rampspoedig verloop aangesien ons daardie twee items self gesien het in Ghent en Bruges waar hulle hoort. So ons het geweet dis happy endings.

Ek is baie bly die Amerikaners het die Bruges Madonna gered uit die soutmyn waar die Nazis haar weggesteek het, toegedraai in 'n goiïngsak. Hulle het haar net betyds gegaps voor die Russe haar in die hande kon kry. Nou is sy terug in Bruges waar ek haar gesien het. Sy is die enigste een van Michelangelo se werke wat in sy leeftyd Italië verlaat het.  Die Russe het niks Nazi-gesteelde kuns teruggegee wat hulle gekry het nie, hulle het alles Rusland toe geneem.

Die Bruges Madonna, net soos Vermeer se Milkmaid en Oskar Kokoshka se Bride of the Wind, is soos 'n vuishou wat jou wind uitslaan. Al wat jy kan doen, is om voor hulle te staan soos 'n haas in die headlights, en grou in jou handsak vir 'n tissue want jy kan nie die trane keer of die knop in jou keel wegsluk nie.

Ewentwil,  Ghent se Mystic Lamb Altarpiece is 'n ander storie. Ek en Elaine het spesiaal na Ghent se katedraal gegaan om dit te sien, maar toe is dit agter 'n skerm. Jy kan die res van die katedraal bekyk na hartelus, maar as jy die Mystic Lamb wil sien, dan moet jy drie Euro's betaal. Ons het ons E3 gestoot, maar soos Elaine sê ons kon liewer 'n koppie koffie gaan koop het daarmee.  Vir my part kon die Russe die Mystic Lamb gaan ophang het in die Kremlin en good luck.

D is gisteroggend weg Bendigo toe (rolbal-ltoernooi) en ek het 'n boodskap op die foon gekry dat hy veilig gearriveer het. Hulle span van vier het gegaan. Die een vent met 'n groot voertuig het aangebied almal kan saam met hom ry, maar D het verkies om met sy eie kar te ry. Ek weet hoe hy voel: ek ry ook nie graag saam met ander mense nie; ek wil onafhanlik wees om te kom en gaan soos ek wil. Hy kom Donderdag terug. Bendigo is net so 'n 2 uur uit Melbourne, dis nie ver nie.

Ek het gesteraand met S geSkype en sy vertel dat H gelukkig en tevrede is in sy verblyfplek. Hy sê hulle mishandel hom goed. Hy is nie so gespanne en opvlieënd nie, sy sê hy is kalm en ook baie meer by sy positiewe. Aaawrieboddie haappie, want sy kry ook nou rus in haar huis en hoef nie meer met sy nappies te werk nie. Sy sê sy was die hele tyd gefrustreerd, kwaad en wrewelrig. Nou kan sy ook ontspan. Dis net baie duur en sy sukkel om die geld by te bring.

Nou gaan ek eers wasgoed ophang en dan gaan ek winkels en poskantoor toe, miskien is daar 'n brief van jou. Tot later.

Saturday, 22 March 2014

So het ons gevorder tot by die naweek. Ek het Dingsdag saam met Joan gaan koffie, Woensdag het my nuwe besem kom vee, maar nie so skoon soos die eerste twee keer nie. My moeilikheid is ek los my kombuis te skoon. Op die oog af lyk die wasbak en die vensterbank en die "bench" skoon, en toe dink sy seker sy sal dit maar oorslaan. Maar toe sy weg is en ek gaan tee maak, sien ek 'n paar krummels by die toaster en by nadere inspeksie kon ek sien sy het nie geraak aan daardie area nie. Ag nouja. Vollende week sal ek vir haar vra sy moet asb die kombuis eerste doen.

Donderdag het ek na die dr toe gegaan vir my jaarlikse diens. Dr Suki Muralitheran. (Sover ek weet geen familie van die spin bowler nie.) Sy het die uitslae van my bloedtoetse gehad en sy het aangekondig alles is in tiptop kondisie. Liver and kidney function perfect. Sugar levels, perfect. En so aan vort, alles is A1 tot ons by Vitamin D kom, my Vit D levels is te laag en ek moet elke dag twee Vit D pillens insluk, waarvan ek by die apteek 'n voorraad gaan haal het. Verder het sy vir my 'n flu shot gegee en my op my weg gestuur vir nog 'n jaar. Alles gratis op Medicare.

Later daardie middag het D teruggekom van Bendigo af. Hulle het nie gewen nie, maar hy het nietemin die ekskursie geniet en hy vertrek weer Vrydag, hierdie keer net vir die naweek. Hy gaan na Corowa toe, en ek weet net so goed soos jy waar dit is. Hy sê dis 4 uur se ry, dis al wat ek jou kan vertel daarvan.  Hulle is 32 wat gaan van sy klub. Hulle is in twee naburige motelle ingeboek. Party deel, want hulle wil nie volprys betaal nie, maar hy het 'n motelkamer vir homself bespreek, en wie sal hom blameer. Dis nie so duur nie.

Vanmiddag het ek en Elaine na die ballet toe gegaan. Ons het Manon gesien. Dit was soos gewoonlik uitmuntend. Ek het na baie jare my "premium class" sitplek, in die middel van die tiende ry van voor af, prysgegee want ek kon nie meer die 34 trappe behartig nie. Nou sit ek op die paadjie in die tweede ry van agter af, net vier trappe, dit is nie 'n probleem nie. Dis baie goedkoper ook, natuurlik. Ek kan nog steeds goed sien, maar nie die uitdrukkings op hulle gesigte nie. Newwermaaind. Elaine het ook baie daarvan gehou. Sy kom net na een ballet saam met my elke jaar.

C het my laat weet dat N se tande uit is en alles het mooi rampspoedig verloop behalwe dat haar gesig nog geswel is. Ek sal haar moreaand Skype en hoor hoe dit met haar gaan. C sê haar visum het nog nie gekom nie, hulle wag nog maar om te hoor wanneer klok hulle in oorkant die grens. Die huis wag vir hulle.

Nouja, Sussie, tot vollende week alles van die heel beste vir jou en joune. Ek het hierdie week niks gehoor van jou nie, ek neem aan no news is GN.

Liefde van Suster Katrien  { Y¯

Skoene Koop en Bonox Drink


Tuesday, 11 March 2014

Liewe Sussie,

Hosanna. D het sopas vir my joune van 26 Feb gebring. (Hy het dit nie langs die pad weggegooi nie.) Ek is baie bly jy het myne van 23 en 28 Jan gekry, lyk of die posaflewering  klopdisselboom gaan, al klop die disselboom maar stadig en ongereeld.

Gister was Labor Day hier by ons (nie Labour Day nie, om een of ander rede spel ons dit op Amerikaans). Ek en Dick labour nie op Labor Day nie want ons het afgetree.

Elaine is terug van haar Golden Plains musiekfees-naweek en sy rapporteer dat sy dit baie geniet het soos gewoonlik. Ek is so bly ek hoef nie uit te kamp binne hoorafstand van orkeste wat heel dag en nag speel nie. Hulle hou glo op van 6vm tot 9 vm en dan klok hulle weer in.

Ek het toe op die ou end met N aan’t Skype gekom. Sy kondig aan sy laat vandag al haar ondertande laat trek en dan gaan sy kunstande laat insit. Sy sê haar ondertande is baie knit-one-slip-one want party het afgebreek.  Sy het reeds bo 'n kunsgebit, nou kan sy bo en onder stieftande hê.

Sy sê ook hulle wag nou net op C se werks-visum want sy moet 1 April inklok by haar nuwe werk. Hulle het glo Sondag afgeskeid van C by die kerk. Sy is mos die orrelis daar en sy het ook ‘n orkes op die been gebring. Sy het al die gemeentelede wat ‘n intrument kan bespeel, uitgenooi om by die orkes aan te sluit en Nabs sê hulle is nou ‘n baie mooi orkessie. Hopelik sal die nuwe orrelis ook belangstel in die orkes, want ‘n orkes moet ‘n hoofman oor honderd hê.

N sê daar is nie ‘n NG kerk in Gabarone nie, maar wel ‘n Gereformeerde kerk waarheen hulle sal gaan. Mari is reeds ingeskryf by die plaaslike kleuterskool ook. Ek hoop F sal werk kry. Hy het mos 'n voltydse werk by Diamantveld H/skl, waar hy al hulle foto’s neem en hulle desktop publishing doen. Ek dink ek het jou dit vertel.

Ja, ek dink rolbalspelers hou toernooie. D gaan vollende week Bendigo toe vir ‘n week om daar in ‘n toernooi te gaan speel. Hd tyd vd jaar gaan hy altyd in ander dorpe meeding. Sy been is nie lekker nie, hy het op een of ander manier ‘n spier verrek. Ek het vir hom gesê hy moet vir ‘n paar dae rus vd bowls, en hy gaan wel twee dae nie speel nie en dan kyk hoe pull hy up.

Hy was vandag by Michael die Voetvent want hy het ‘n seer voet ook, maar Michael sê daar is geen salf te smeer aan sy seer voet nie, hy het arthritis in twee van sy tone. Hy het ook gekla van ‘n toonnael van verkleur is; hy het gedink hy het toonnael fungus, maar Michael sê nee, dis net 'n verdikking van die nael. Hulle het mos op die TV sulke afgryslike advertensies vir salf wat jy aan jou toonnael-fungus moet smeer, toe sien hy die verkleurde naels in die advertensie en verbeel hom hy het dit ook.

Onthou jy daar in Three Men in a Boat (Jerome K Jerome) waar Harris die mediese ensiklopedie in die hande kry en dan dink hy hy het elke kwaal in die boek, met uitsondering van Housemaid’s Knee. Ek het dit onlangs weer gelees. Dis nog steeds snaaks na 'n meer as 'n honderd jaar.

Veels geluk ook met W se verjaarsdag. Moenie vir hom jou nuwe telefoonnommer gee wanneer jy jou landlyn kry nie. Op jou selfoon kan jy mos sien wie bel, dan hoef jy nie te antwoord as dit hy is nie, laat hy deurgaan na voicemail. Ek wonder of hy na die telefoonhokkie oorkant die straat gaan om jou te bel sodat Mevrou niks moet agterkom nie.

Friday, 14 March 2014

Ek en Carla het vanoggend ons voete laat doen en agterna Japanese kos geëet langsaan Michael se praktyk by Midori, soos ons elke keer doen. Carla moet nou al 'n jaar lank 'n stywe kous dra en bloedverdunners drink omdat sy klonte in haar been kry. Ek is bly dis nie ek nie. So het elkeen sy skeet.

Gister het ek, vergesel van Margie, na Balwyn toe gery ('n halfdag te perd) om skoene te gaan koop. Ek hou van skoene genaamd Steplite. Hulle pas goed, hulle is gemaklik en van sagte leer, hulle voel soos slippertjies aan my agterpote. Duur maar ek worry nie, gemaklike skoene is belangrik. Hulle is mooi ook, lyk nie soos oumens-skoene nie.

Ek het hulle jaare gelede agtergekom, by die skoenwinkel langsaan die voetvent. Eenkant die Japanese restaurant, anderkant die skoenwinkel. Maar toe maak die skoenwinkel verlede jaar toe, en ek soek my boeglam vir Steplite. Jy kan hulle oor die internet bestel, maar ek kan nie skoene koop wat ek nie aangepas het nie, veral nie sulke duur skoene nie. Daar is skoenwinkels in Brisbane en Sydney wat hulle aanhou, maar in Melbourne soek ek verniet. Eindelik kry ek die groothandel-plek, wat Steplite invoer, in die hande. Toe ek hulle bel, sê die hulpvaardige dame hulle het 'n kleinhandel-skoenwinkel in Balwyn.

Dis toe dat ek gister perd opsaal. Ek het vir Margie saamgenooi want ek weet sy het ook issues met haar voete. (Kritzinger het nie 'n vertaling vir issues nie.) Dit was nie so erg ver nie; ek het op die nuwe snelweg geklim, wat ons halfpad geneem het, en toe het alles verder vlot verloop tot ons so driekwart-pad was. Op daardie stadium het die tremlyne ingeskop en die laaste kwart van die pad moes ons agter 'n trem aanry. Dis baie frustrerend want jy mag nie die trem verbysteek wanneer hy stilhou nie (ingeval jy passasiers omry wanneer hulle afklim), en wanneer hy in transit is, is daar nie ruimte om hom verby te steek nie. Ag nouja, 15 minute agter 'n trem aan is ook nie die end van die wêreld nie.

Daar was 'n gawe parkeerterrein net om die hoek van die winkel af en gelukkig genoeg het hulle ook 'n uitverkoping aan die gang gehad. Hulle raak van die somerskoene ontslae om plek te maak vir die winter-voorraad. Ek het 2 paar skandale gekoop, een nywieblou en een skakerings van brons en pewter. Ek kon nie juis piek en tjoes nie, want ons het opgedaag in die doodsnikke van die uitverkoping, toe daar net die twee Step-Lites in my saais oor was. Maar ek was nietemin baie tevrede, want halfprys is halfprys, en daar is niks verkeerd met die kleure nie, pas by alles. Twee vir die prys van een en ek step heerlik lite sover ek gaan. Ek sal so oor 'n maand gaan kyk wat het hulle ingekry in toe skoene vir die winter.

Woensdagaand het ek gaan eet saam met 4 ex-kollega's. Ons was by die Saigon Orchid vir Vietnamese kos. Alannah het nie lank gebly nie, sy het huis toe gegaan nog voor haar bord koud was, want sy moes die volgende oggend seweuur op die lughawe wees. Sy en haar man gaan Italië toe vir 2 maande. Die res van ons (Carla, Carol, ek en Sunanda) het nog maklik 'n uur bly sit en gesels, tot ons borde behoorlik afgekoel het.

Vanaand klok Elaine in na werk, sy sal seker moreoggend die berg gaan bestyg en hopelik sal ons in die middag fliek toe kan gaan. Ek weet nie of daar iets is om te sien nie. D gaan natuurlik bowls speel. Sondag vertrek hy na Bendigo vir 'n week-lange toernooi. Hulle span van vier gaan bly in 'n woonstel en hy het vir hom Weetbix gekoop om saam te neem vir sy ontbyt. En Bonox (dis soos Bovril) vir sy warm drankie met slaaptyd. Nou so 'n jaar of wat gelede was hy siek: grieperig, nie lus vir eet nie, ens. Ek bied toe aan om vir hom 'n koppie Bonox te maak. Jy sal sweer ek het aangebied om vir hom 'n arsenic-cocktail voor te berei. Hy drink nie sop nie! Ek maak toe maar vir myself 'n koppie Bonox, maar toe hy dit ruik, wou hy ook een hê en sedertdien is hy op die Bonox. Natuurlik sit hy nie 'n teelepelvol in die koppie nie, maar wel tweemaal soveel, en hy is te ongeduldig om te roer tot dit alles opgelos het. Daar is altyd so 'n sludge onder in sy koppie. Maar nouja, wat worry ek, dis die skottegoedwasser se besigheid.

Ek was Woensdagoggend lus om te gaan fliek, toe gaan sien ek Mr Morgan met Michael Caine in die hoofrol. Ek het nie eers voorheen daarvan gehoor nie, dis een vdaardie little low budget jobs wat die Britte so goed doen. Dit het nie in die groot komplekse gewys nie, ek het dit hier in 'n klein voorstedelike bioskopie gesien waar hulle sulke onbekende films wys. Die kaartjies is baie goedkoop, daar is altyd hordes oumense en pensioenarisse. Ek in die kluis. Ek het gehou daarvan, as dit by julle verbykom, kan jy maar gaan kyk. Hy en sy vrou het in Parys gewoon, maar toe gaan sy dood en hy voel baie eensaam tot hy 'n jong dans-onderwyseres ontmoet. Dis die storie van hulle vriendskap. Nie 'n romanse nie!

Is daardie bioskopie by Hatfield Galleries nog daar? Hulle het altyd internasionale films daar gewys. Dis waar ek al die groot Europese filmmakers ontmoet het. Ingmar Bergman,Truffaut, Resnais, Jean-Luc Goddard, Cocteau, Rosselini, noem maar op.

Nouja, Sussie, hier is ons weer aan die end van die storie. Bly heerlik en ek hoop jy het 'n gesellige week.

Menige groetnisse van huis tot huis,

Suster katrien J % C

Noel Coward en Rooi Jan


Saturday, 8 March 2014

Liewe Sussie,

Goeie nuus! Ek het twee briewe gelyk ontvang. Ek dink ons is nou op datum. Ons moet seker maar gedwee aanvaar dat die posmense eers moet klaar lees voor hulle ons briewe aanstuur. Party neem lank om elke woord uit te klank. En dan moet hulle hierdie kant nog die vertalers ook inkry, dit neem alles tyd.

Jy sê jy het niks van my gehoor nie, maar ek kan jou verseker ek skryf elke week en elke Maandagoggend gee ek my brief vir D om te pos as hy sy koerant gaan koop en by die plaaslike poskantoor gaan kyk vir pos in ons bussie. Ek het alle vertroue dat hy my briewe pos en joune vir my bring as hy hulle in die bussie kry. Ek glo nie hy gooi hulle weg nie.

Jy weet hoe ek jou nuwe laaaang adres op my rekenaar bewaar het en elke week druk ek dit, knip dit uit en plak dit op die koevert. Maar Sussie, toe raak ek te slim vir my eie beswil en ek bestel vir my ‘n besending plakkers* met jou adres op. (*Stickers, nie squatters nie!) Gawe winskopie, net vier dollars vir ‘n duisend en dan hoef ek nie te woeker mer skêre en gom nie.

Toe ek die plakkers kry, sien ek tot my leedwese dat hulle glad te klein is vir die doel. Ag, nouja, elke donker W het ‘n silwer R, en hulle is ideaal vir jou gebruik. Ek sal hulle aanstuur. Jy kan hulle orals plak waar jy jou laaaang adres moet neerskryf. Agterop koeverte of waar ookal. Hou te alle tye ‘n paar in jou handsak vir die wis en die onwis.

Die slegte nuus is dat jy nie nou kan trek of doodgaan nie, jy sal ‘n verdere ses-en-dertig jaar daar in die Wilgers moet bly om ‘n duisend plakkers op te gebruik, jy kan hulle nie mors nie!

Hierdie week se Australiese uitdrukking ... ek kry email van Elaine as volg:

I just got a group email from the HR department using the phrase "catch two birds in one swoop".

Ek dink nog die beste een is “opening a Pandora’s floodgate of worms.”  Dis baie beter as sommer ‘n gewone ou boks!

Op die radioprogram waarna ek vroegoggend luister, speel hulle eergister vir ons ‘n stukkie getuienis wat ‘n vrou gelewer het in die Oscar P-saak. Sy sê sy het ‘n skoot gehoor en die advokaat vra vir haar of sy seker is dit was ‘n skoot en nie ‘n hou teen die deur met ‘n krieketkolf nie.  Haar antwoord hierop verskaf eindelose hilarity and mirth hier. Hulle speel dit oor en oor: en elke keer lok dit uitbundige gelag uit en almal bel in met gevatte aanmerkings en grappies. Sy het gesê: “I know a gunshot when I hear one. I think you’ll find most South Africans know what a gunshot sounds like!”  

Dis tye soos dié wat ek opnuut besef Australië  is ‘n ander wêreld, nie net ‘n ander land nie. Hier is baie min mense wat in hulle hele lewe, van wieg tot graf, ‘n vuurwapen sal sien of hoor, behalwe op die TV. Dié wat op plase woon, sal wel ‘n geweer ken. Maar ‘n pistool is ongekend. Die idee van ‘n hele land vol mense wat kennis dra van pistoolskote, is so surrealisties dat hulle net kan lag.

‘n Pistool is in Australiërs se koppe nie ‘n werklikheid nie, dis net iets waarvan jy in stories hoor, soos ‘n ray gun in die comics.  Die naaste wat jy sal kom daaraan om ‘n regte een te sien, is in sy holster op ‘n poliesman se heup. Dis nie moontlik vir ‘n lid vd publiek om ‘n lisensie vir ‘n handwapen te kry nie. Maak nie saak wat jou rede is nie. Die antwoord is net NEE.  

Elaine is gister weg na die Golden Plains musiekfees by Meredith wat sy elke jaar bywoon, sy kom Sondagaand terug. Hulle is nie so ‘n groot groep soos gewoonlik nie, net vyf stuks. Gewoonlik is hulle ‘n dosyn of meer. Tony is in Inverloch vir die lang naweek saam met sy girlfriend Sarah, Sam is in Sydney vir ‘n familietroue, ‘n ander vriendin en haar man bly tuis want hulle gaan enige oomblik ‘n bybie kry, en so aan vort. Elaine het saam met Matt en Amanda gery in hulle enorme voertuig (jy ken diesulkes) en dit is net Jared en Paul wat hulle daar sal ontmoet.  Ek is seker hulle sal met hulle vyf stuks groot pret en plesier hê soos altyd. Ek kry elke aand ‘n SMS om te sê hvng a gr8 tm!

Met dié dat Elaine op Meredith is, gaan Paul vandag saam met my na die toneelstuk toe. Ons gaan sien Noel Coward se Private Lives. Ek weet ons al daarvan hou, want albei van ons het dit verskeie kere geniet deur die jare! Een van P se dogters sal haar hierheen bring voor vertrektyd  en weer kom haal wanneer ons terug is. Ek gaan beslis nie East Ringwood toe schlepp om vir Paul te gaan oplaai en dan van daar af stad toe ry nie.

Later ... ons het toe Private Lives gaan sien en geniet soos ek verwag het ons sal doen. Ek is bly hulle het die 2de en 3de bedryf saamgevat en nie ‘n pouse tussenin gehou nie. Daar was wel ‘n eerste pouse (kort-speeltyd) van 15 minute. Ek hou niks van pouse by die teater nie; jy moet altyd opstaan dat diegene wat wil uitgaan, kan verbyskuifel.

Daar is so min beenruimte in die teater, as jy bly sit, is jou knieë vas teen die ry voor jou. Mense met lang bene moet skuins sit. Hulle forseer te veel rye in, uit pure gierigheid. Die uitgaan is nog oraait want almal gaan gelyk uit en jy staan net dus eenmaal op, maar hulle kom nie almal gelyk terug van pouse af nie en dan jy is up and down like a fiddler’s elbow, of soos my fatsoenlike  landgenote ook lief is om te sê, up and down like a whore’s drawers. (A hôs drôs.)

Die jaarlikse Moomba-fees is ook aan die gang in die stad, daar is bote op die water en vleisbraaiery langs die rivier, daar is merry-go-rounds in die parke en straatventers wat fairy floss en roomys verkoop.  Die mense stroom reeds in om die beste posisies te bekom vir vanaand se vuurwerke. Dit het my seker ‘n halfuur geneem om die twee kilometers te vorder vanaf die teater tot by die oprit van die snelweg. Maar toe ons eers op die snelweg is, was die pad oop vorentoe, want baie mense is uitstedig vir die lang naweek.  

Paul het vir L gebel toe ons op die snelweg klim, en sy het voor die huis gewag toe ons arriveer. Ek was bly sy was daar en hulle het dadelik gery, toe het ek nie nodig gehad om vir Paul tee te maak en te entertain nie. Ek was moeg en my rug is seer, ek weet nie hoekom nie, ek is nie ‘n seer-rug-man nie. Miskien het ek sleg gesit in die teater.

I’ll see how I pull up tomorrow. Nog ‘n Australiese uitdrukking. As jy ‘n skeet het, dan vra hulle die volgende dag how did you pull up? Nie how do you feel now nie. Ek verstaan dit nie, maar ek praat maar saam. Vandag het jy ‘n skeet, more pull jy up. Sportmanne pull dikwels up. Vandag maak hulle ‘n enkel seer, more hoor jy “he pulled up fine after a massage.”

D is ook pas terug van sy bowls wedstryd. Hy het reeds gestort en sy nagkabaai en kamerjas aangetrek.  Stelling ingeneem voor die TV om rugby te kyk. Hy het nie navraag gedoen oor my toneelstuk nie. As Elaine hier was, sou sy vir hom gesê het: “We enjoyed the play, thank you for asking!” , maar ek steur my nie aan sy gedrag nie, ek is dit gewoond. Hy het in sy ma verander.

Ek is bly jou skoonmaakdienste lewer goeie werk. Ek is ook baie tevrede met my nuwe ousie, Joy. So far so good, ek hoop sy vee nie net skoon omdat sy ‘n nuwe besem is nie.

Ek is bly jy kan by die teater-klub aansluit. Dis altyd lekker om ‘n toneelstuk te sien en baie van die amateurgroepe is heel talentvol. Jy kan maar hulle spelling van Theater Club oorsien, my teorie is hulle het die kennisgewing getik en dit toe deur die “spell checker” gesit. Tensy jy jou spell checker opdrag gee om Britse Engels te gebruik, sal hy die Amerikaanse spelling op jou afdwing.

Dis ‘n Groot Fout om jou op die rekenaar se spell checker te verlaat: hy aanvaar enige woord wat korrek gespel is (op Amerikaans), maar hy kan bv nie onderskei tussen there en their nie. Elaine sê sy moet gereeld vir haar troepe ‘n verslag teruggee omdat daar so baie spelfoute is, dan sê hulle : “But I put it through the spell checker!” Elaine sê: “Use the spell checker at the end of your neck.” Maar natuurlik het hulle nooit op skool geleer spel nie, so die spell checker aan die end van hulle nekke is nie van veel hulp nie. Ek is so bly ons kinders het skoolgegaan toe hulle nog op skool tafels en spelling en sinsontleding geleer het.

Dis ook my teorie dat as ‘n mens lees, kan jy spel. Maar al hoe minder van hulle lees vir plesier. Jy sien mos die woorde in die boeke wat jy lees en dan onthou jy hoe hulle lyk en siedaar, jy kan spel!  Mind you, ek sien al hoe meer spel- en grammatika-foute in alles wat ek lees. Diegene wat moet nagaan vir spelfoute, kan ook nie spel nie! Toe hulle opgehou het om kinders te leer spel, het die eerste domino geval, nou tuimel hulle in ‘n onkeerbare kettingreaksie. Die nuwe generasie onderwysers is die generasie wat nie geleer spel het nie. Hoe moet hulle nou die kinders leer? Wat op hulle beurt nie kan spel nie, want niemand kon hulle dit leer nie en so gaan ons aan. Meanwhile is ons hvng a gr8 tm op ons telefone, OMG en LOL. 

En ek is ook bly ons kinders het (net-net!) die elektroniese speletjies-era vrygespring. Hulle het nog buite gespeel en boeke gelees. Onthou jy hoe het SAfr aanvanklik net 5 uur lank TV op ‘n dag gehad? Net van 4nm tot 9nm, die eerste jaar. En selfs die eeste drie jaar, toe dit tot middernag aangehou het, het dit eers 4nm ingeskop, as ek reg onthou. Jy kon nie heeldag op die soufa lê en TV kyk nie.  Nou is dit vyftig kanale, 24/7.

Ek het in ‘n grumpy old woman verander.

Ek brei ook nog knaend truitjies en mussies. Elke truitjie kry sy mussie. Ek het anderdag my wolle aangevul – ek het strepieswol gekoop. Ek hou van die wol wat so elke tien of twaalf meters van kleur verander, dan kan jy ‘n goeie streep brei voor die volgende kleur inskop. Dié wat so elke ses duim van kleur verander, maak net kolle en vlekke. Ek het in die “gestreepte” wol een met skakerings van pienk gekoop en ‘n ander een wat ‘n hele klomp helder kleure het, maar tussen elke twee helder kleure is daar ‘n streep wit. Dis baie mooi. Ek gaan lekker brei. Ek sal die ribbings in wit wol brei.

Gister het Paul vir my vertel sy hoor van haar vriendin in Jhb dat daar sulke groot verspoelings was. Ek hoop nie julle het ook deurgeloop nie. Jy het nie vloedwaters nodig in jou huis nie. Onthou jy vir Rooi Jan? Een vd boeke was getitel “Vloedwaters en Vlamme”. Rooi Jan met sy swart perd en sy twee luiperds, wat so saam met die Voortrekkers toer en kaffers uitroei sover hy gaan. Verbeel jou die oproer as daar vandag ‘n Rooi Jan boek op ‘n winkelrak verskyn. Ek moet tog Google en sien of daar nog ‘n Rooi Jan boek iewers in die wêreld bestaan.

Toe ek een vakansie by Tant H op Rosendal gekuier het, het Oom Hermaans Krause wat langsaan gewoon het, vir my sy Rooi Jan boeke geleen. Daar was ‘n hele reeks. Hy het ook al daardie speurverhale gehad deur Hendrik Brand en nog so ‘n ander reeks wat gegaan het oor die ou Kaap, dit was so ‘n soort Georgette Heyer-tipe reeks. Ek het heeldag op die stoep in ‘n deck chair gelê en lees. Happy days. Is dit net so sleg om heeldag op die stoep te lê en lees as om heeldag op die soufa te lê en TV kyk? Heel waarskyklik kan ‘n mens by die regering ‘n grant kry om navorsing te doen.

Ag, Sussie, jy sê jou TV keuse is beperk met vier kanale. Ons het vyftig of meer, ek daar is niks wat ek wil sien nie. Ek is nie ‘n kranige TV kyker nie. Ek hou van kunsprogramme en ander dokumentêre programme, nou en dan ‘n BBC dramareeks. Ek neem die DVDs wat ek wil sien, uit by die bib. Ons het die Foxtel-TV sodat D na die sport kan kyk, hy wil niks misloop nie! Hulle wys nie rugby op die TV hier in Victoria nie. Foxtel kry ook al die Olimpiese goed en al die internasionale atletiek en die krieket en goed – as Australië nie speel nie, dan wys hulle nie die sport op die “free to air” TV nie.

Ek het sopas ‘n bondel wasgoed opgehang. Hulle sal gou droogword, dis weer 35 vandag en sal glo vir drie dae so aanhou. Ek is al baie op vir somer.

Elaine is nog steeds by die musiekfees, ek het vir D saamgenooi fliek toe. Ons gaan sien Nebraska. Ek is seker ons gaan daarvan hou. Ek sal later rapporteer, nou moet ek eers my bo-klere gaan aantrek. Ek het vanoggend na my stort net my onderklere en my “brunch coat” (alias dun katoen-kamerjaponnetjie) aangetrek.

Maandagoggend ... Ek wil gou klaar skryf dat ek die brief vir D kan gee om te gaan weggooi op pad poskantoor toe.

Ek kan Nebraska baie hoog aanbeveel. Dis in swart/wit, pragtig gefotografeer. Dis ‘n road trip movie, pa en seun wat ry van Montana na Nebraska. Wye vlaktes en klein dorpies, kan enige plek in SA of Australië wees, klein dorpie-mense is dieselfde orals. Vol humor en ook ‘n bietjie treurig op plekke. Die lag met die traan, en ‘n happy ending, wat meer kan jy verlang.

Ek het gisteraand vlugtig met N gepraat. My Skype was nie mooi op dreef nie en sy was haastig want hulle het te laat vd kerk af gekom om te begin koskook, hulle was op pad uit om te gaan eet by die Kalahari Lodge. Ek ken dit nie, maar jy sal wel.

Ewentwil, N rapporteer dat C 1 April inklok by haar nuwe werk in Botswana. Hulle huis staan gereed en wag vir hulle, en N is heeltemal tevrede met die trek want so baie mense wat sy ken, verseker haar van melk en heuning. Ek glo hulle sal lekker bly en veilig wees daar; alles wat ek van Botswana hoor, is positief.

Elaine se vriendin Cindy wat in Ghana woon, pos vandag op Facebook dat sy na haar nuwe huis getrek het. Sy sê: Well that's the first time I have ever moved house and taken my water with me. Precious commodity. Sussie, ek is bly ek woon in ‘n land waar ek ‘n kraan kan opdraai. Elaine het my vertel dat die huise daar wel spoeltoilette het, maar daar staan ‘n emmer water in die toilet en jy spoel daarmee. Hulle gebruik seewater, die lorrie met die tenk kom verby dat jy jou emmers kan volmaak.

Daar is so baie voorregte wat ons het en nie eens aan dink nie. Hier is ‘n organisasie genaamd Days for Girls, wat pakkette opmaak om te stuur aan Afrikalande waar dit uitgedeel word aan vrouens. Die pakket bestaan uit ‘n katoen-sakkie met daarin ‘n sepie, ‘n waslappie en twee panties, plus die soort gedoente wat Ma my van vertel het: ‘n houer met ‘n belt en wasbare voerings wat jy daar kan insit vir menstruasie-doeleindes. Daar is baie dele vd wêreld waar geen sanitêre middels beskikbaar is nie, en daardie meisies verloor elke maand drie tot vyf dae omdat hulle nie kan skool toe of werk toe gaan nie.  Hulle gebruik blare en mieliestronke en enige rubbish en kry infeksies. Die slegste is dat sommige van hulle uitgebuit word deur onderwysers of werkgewers wat vir hulle ‘n pak pads sal gee in ruil vir seks. Kinders van twaalf. Watse soort wêreld is dit waarin ons leef.

Hier is ‘n stukkie uit hulle website:

​What if not having sanitary supplies meant DAYS without school, DAYS without income, DAYS without leaving the house? Girls use leaves, mattress stuffing, newspaper, corn husks, rocks, anything they can find...but still miss up to 2 months of school every year. Worse, girls are often exploited in exchange for hygiene. It turns out this issue is a surprising but instrumental key to social change for women all over the world. The poverty cycle can be broken when girls stay in school.

Nouja, Sussie, op daardie treurige noot sal ek maar groet tot vollende keer.

Bly mooi, ek sien uit na my volgende sarsie briewe van jou!

Love,

Suster katrien ¬ J C

 

Kêrels en Krieket


Tafelberg
Wednesday, 26 February 2014

Liewe Sussie,

Jy sal bly wees om te verneem dat na al my gekla oor ek geen tyding kry nie, hier eergister 2 briewe opgedaag het van jou, en gister ‘n derde een. They come not single spies but in battalions. Shakespeare het altyd die mot juste. Jy sê myne koek ook so saam in groepies daar in jou posbus. Ag nouja. Solank hulle opdaag. Ons het nie Douglas se posbeamptes na behore waardeer nie.

Ek het op Facebook gesien hoe mooi is A by die Valentine’s Ball wat hulle gehou het. Sy was vir my die mooiste van almal in haar elegante rooi rok. Party se rokkies was net so ‘n pelmet bokant hulle se muuse.

Ek is nou op datum met W se wederhelf, dit klink of jou nuwe skoon-kleindogter ‘n goeie keuse is. Woon hulle in Pretoria? Handig vir jou toekomstige babysitting-dienste.

Ons is egter nog nie klaar met die troue nie. Jy het my nog nie vertel of W en Mevrou by die troue was nie. Ook nie op watter dorp die troue plaasgevind het nie. Ook nie watter kleur H se onvanpaste outfit was nie. Het H nog ander kinders? Hou haar ouers nog die lewe?

Ek het gekyk na die Wilgers se website. Dit lyk baie mooi, daar is volop foto’s en ek het gesien hoe lyk die 2-slaapkamer-huise se vloerplan ook.  Nou weet ek waar woon jy.

Ja, ek ontvang gereeld S se jaarverslag, maar ek kyk merendeel net na die prentjies. Ek mis daardie mooi Karen! 

Ek was interessant (a la Oorle’ Ant Ann) om te hoor van jou gordyn-saga. My vriendin Joan het my vertel van ‘n dame wat ‘n mens se gordyne kom afhaal, wegneem, skoonmaak en weer kom ophang. Joan sal my haar nommer gee en dan gaan ek haar bel. Ek is te oud om op lere te klim en gordyne afhaal /ophang. En as ek net dink aan daardie drie-vurk-hakies waarmee ek die plooi moet inhaak! Joan sê dit het haar $400 gekos vir die hele huis se gordyne, maar ek dink dis die moeite werd.

Ek moet juis vir Peter Chapman die handyman ook bel, want daar is los goedjies wat in die huis gedoen moet word en jy weet D is nie ‘n man wie se hande aan sy brein gekoppel is nie.

Ek is bly jy het vir Madie ontmoet – jammer haar dogter is in Perth. Te ver om Madie  te gaan haal vir ‘n koffie by my as sy daar kuier. Perth is so te sê ‘n ander land!   Dis waar wat sy sê dat daar so baie S-Afrikaners in Wes-Australië  is. In die ou dae van die SAfr-diaspora was dit die goedkoopste opsie om net tot in Perth te reis. Die Ooskus is soveel verder en duurder. Dan is daar ook altyd werk in die Weste, met al die myne daar, en natuurlik  sluit nuwe aankomelinge aan by vriende en familie wat reeds daar is, so brei die gemeenskap uit.

Maar S-Afrikaners is nou orals in die land. Nie altyd baie gewild onder hulle nuwe landgenote nie – hulle het ‘n reputasie vir arrogansie en snobisme. Dis seker maar omdat daar ammelee in SA ‘n klasseverskil was tussen professionele mense en ambagsmense. Hier in my nuwe land gaan dit nie goed af as jy jou neus optrek vir ‘n ander man se nering nie.

Ja, ek weet, hier by my is mense ook verstom om te hoor dat ons al soveel jare korrespondeer en dit nogal elke week! Die vraag is altyd: maar waaaroor skryf julle? Wel, ons skryf oor alles en niks, is die antwoord! Niks besonder opwindends gebeur in ons lewens nie (en net ‘n goeie ding ook!) maar ons het belang by mekaar se alledaagse kom en gaan, en ons gesels lekker.  As ‘n mens so ‘n ver pad kom soos ons (62 jaar sedert ek jou ontmoet het daar by  Stewartstraat in 1952!) dan gaan min woorde baie ver, want daar is kodes vir alles!

Skinderstories ruil ons ook uit. Roddelverhale, het my Hollandse vriend Arno my geleer. Roddel klink beter as skinder.

Nog ‘n gawe Hollandse woord is knuffel. Op Engels hug of cuddle. Ek het sopas gekyk na ‘n Hollander se website met die naam “Droomplekken”. Ek kyk gereeld daarna, hy plaas foto’s en videos van mooi plekke orals in die wereld. Die jongste een is “Toerist werd geknuffeld door zeeolifant” en daar is die elephant seal wat op die toeris se skoot probeer klim en hom omarm met sy flipper.

Mazel tov vir R met haar kêrel, maar ek moet jou sê ek wil nie ‘n kêrel of ‘n geknuffel hê nie. Ek weet nie van jou nie, maar ek sal baie verbaas wees as ek hoor jy het ‘n kêrel. Maar soos ons weet, daar is party vrouens (en jy kan hulle in die laerskool al uitpiek!) wat altyd ‘n kêrel moet hê. As die kys uit is, is hulle binne ‘n week met ‘n ander een gekys. Heel waarskynlik het hulle vir nommer 2 in die oog nog voor hulle vir nommer een die trekpas gee. So gaan hulle deur laerskool en hoërskool en hulle 20s en 30s en verder ... kan nie sonder ‘n kêrel wees nie. Jy het nooit hulle volle aandag in die kort tydperk wanneer hulle tussen kêrels is nie. Kyk altyd oor jou skouer as hulle met jou gesels, of daar nie dalk ‘n kêrel op die horison is nie.

Ek dink hulle saai feromone uit ook, want hulle het nooit ‘n probleem om ‘n nuwe kêrel te kry nie! Tant H het altyd gesê jy kan ‘n weeluis op die maan neersit en as jy weer daar kom, het hy kleintjies. Nouja, ek dink jy kan daardie vrouens op die maan neersit en as jy weer daar kom, het hulle ‘n kêrel. Nie noodwendig met kleintjies daarby nie.

62 jaar, Sussie, dis langer as my boetie se hele lewe. Daar is baie min mense oor wat my geken het toe ek twaalf was. Newwermaaind jonger. Nabs. Willem. Piet Kotze. Neef Dawie.

Ek is baie bekommerd om te hoor R het ‘n pyn en ek hoop dis sommer niks. My buurvrou Janet wat ‘n dokter was, het altyd vir my gesê pyne kom en gaan, niemand weet hoekom nie. Ek weet dit is waar, maar as ‘n pyn te lank aanhou, moet daar ‘n oorsaak wees. Ek kan onthou toe ek jonk was, het ek partymaal in die nag wakkergeword van ‘n pyn iewers in my abdomen, (nie ‘n toilet-tipe of ‘n period-tipe pyn nie) en dan gaan hy maar weer weg na ‘n paar uur se op en af stap en warmwatersakke ontplooi. Ek onthou hoe het Tant H saam met my orentgesit in die nag as ek ‘n pyn het. En ek herinner my dat Elaine ook partymaal sulke nagtelike pyne gekry het. Ek wag om te hoor by jou van R se pyn.

Ek onthou ‘n skiepa! Ek het altyd gedink dit is ‘n skipper – verwant aan ‘n jumper. Jy skip of jy jump met hulle aan. Jumpers is die woord hier ipv jerseys. ‘n Gewone trui is ‘n jumper en ‘n voetbaltrui is ‘n guernsey. Nie ‘n jersey nie. As iemand ‘n prys wen of ‘n gesogte posisie bekom, dan sê hulle:  “He got the guernsey”.

Sondag 2 Maart

Elaine het Vrydagaand ingeklok. Gister op die Saterdag het sy vroeg opgestaan om twee ander Slim Hansies aan die voet vd berg te ontmoet, waar hulle die Thousand Steps bestyg het. Ek het gaan inkopies doen en my biblioteek besoek. Ek het twee boeke gehad wat laat was, ek kon hulle nêrens kry nie, maar na ek die hele huis omgekeer het, het ek een in my handsak gekry.

Nie ‘n handsak wat ek dikwels gebruik nie, maar ek het die boek in hom gesit eendag toe vir Alannah moes ontmoet vir koffie en sy het gebel om te sê sy sal ‘n bietjie laat wees. Ek het die boek saamgeneem om te lees terwyl ek vir haar wag en nie weer die handsak gebruik nie. Die ander boek het ek gekry in ‘n mandjie in my kombuis, onder ‘n klomp plastiese sakke wat ek opgevou het om te gaan recycle. As ek nie so lank uitgestel het om die sakke na die recycling te neem nie, sou ek vroeër die boek ontdek het!

Ewentwil, ek moes nege dollars opdok maar ek gee nie om nie, want dit was alles my eie skuld en buitendien maak ek flink gebruik van die bib lioteek se uitstekende gratis dienste. Hulle verskaf enige boek wat ek bestel – as hulle dit nie self het nie, dan koop hulle dit aan.

Gister het ons ‘n toneelstuk gaan sien, genaamd Cock. Dis nie die beste een wat ons nog ooit gesien het nie, maar nou ook darem nie so dat ‘n mens halfpad wou huis toe gaan nie. Een van daardie moderne jobs ... om een of ander rede was daar geen ander dekor op die verhoog behalwe kussings nie. Die hele vloer was van hoek tot kant kussings. Gewone bed-kussings. Die akteurs het hulle opsygeskop dat hulle kon loop en some sommer op hulle getrap. Wanneer hulle veronderstel was om om ‘n tafel te sit en eet, het hulle net so oorkant mekaar gestaan asof daar ‘n tafel is. Ek kon geen rede sien hoekom hulle nie maar meubels kon gehad het op die verhoog nie.

Ons was vyfuur tuis en sesuur het Elaine gegaan na haar vriendin Rani se verjaarsdag-party. Sy het gesê sy sal teen negeuur weer tuis wees. Sy sê daar was sowat ‘n dosyn kinders onder ses jaar en op ‘n stadium roep ‘n ma: “Ice Cream!” en Elaine was in die pad vd stormloop. Sy sê hulle het haar onderstebo gehardloop soos ‘n trop migrerende wildebeeste. Toe sy by die huis kom, sê sy vir my: “I was traumatised, I’m still shaken!”

Gisteraand het ons ‘n bietjie krieket gekyk voor ons gaan slaap het. Kaapstad is so mooi. Die berg teen die blou lug en hier en daar ‘n wit wolk. Vanoggend het ek die goeie nuus gehoor toe ek wakkerword, dat ons krieketspan blykbaar hulleself reggeruk het na die fiasko vd tweede toets. Hopelik sal dit nie alles in ‘n hoop val wanneer hulle weer inklok vanaand nie. Ek weet nie hoekom moet krieket en rugby altyd in die middel vd nag plaasvind in SA nie. Gaan julle nie slaap nie?

Ek en Elaine gaan vanmiddag Dallas Buyers Club sien. Ek is hoopvol dat ons daarvan sal hou. Ek is ‘n fan van Matthew McConaughey, al moet ek altyd vir Google vra hoe om sy van te spel.

Ek het vir ‘n verandering vir die kunstydskrif ‘n boekresensie geskryf, want die vrou wat dit gewoonlik doen, is met vakansie. Ek sluit dit in, ek kan al dd boeke aanbeveel. Miskien kan Joalet party van hulle vir jou bestel, ek weet nie hoe goed is julle plaaslike biblioteek se versameling nie. Ek is seker jy het party van hulle ook al gelees, baie is Golden Oldies!

Nouja, Sussie, verder niets dan bladeren. Ek hoop die stotterende poswese sal eersdaags op dreef kom.
Liefde en groete van huis tot huis.                  Suster Katrien  ö C J

Skete en Skoonfamilie

Tom Roberts: Holiday at Coogee

Sunday, 23 February 2014

Liewe Sussie,

Hier is ons weer op die H/S en ek sit my neer vir jou te skrywe. Ek het baie lanklaas van jou gehoor - navraag gedoen by R per e-mail maar ook nog niks van hom gehoor nie. Ek troos my aan no news is good news.

Hier het niks opwindend gebeur nie, ek sal maar rapport uitbring oor die week se saai gebeure:

Ek het driemaal gaan koffie drink saam met verskillende vriendinne: Joan, Margie en Aletta. In elke geval het ons lekker gesels en het ek agterna ‘n bietjie inkopies gedoen in die betrokke winkelsentrum.

Aletta het my breedvoerig vertel van haar buurman se operasies, waarby ek geen belang het nie. Ek sal jou nie weer verveel met my gesanik oor mense wat van kwale en medisynes wil praat nie. Dis erg genoeg as ek na hulle eie skete moet luister, maar as ek moet hoor van vreemdelinge se siektes, dan word my oë glaserig en ek onthou ‘n afspraak elders. So het ek vir Aletta kortgeknip: ek het gelieg in my tande en gesê ek moet huis toe gaan want daar kom ‘n handyman kwoteer vir takies wat verrig moet word in die huis.

Ek op my beurt hou my skete en kwale vir myself – dis my eie besigheid en ek wil nie die hooflyn op die agenda wees wanneer Aletta met haar buurvrou koffie drink en al my persoonlike besigheid uitlap nie.

Donderdag het ek en D gery na Mornington op die skiereiland om te gaan kyk na ‘n uitstalling by die Mornington Peninsula Gallery: Sea of Dreams.

Sea of Dreams is a broad chronological survey of major Australian artists whose works are closely associated with the bay. In addition to sumptuous ‘blue and gold’ views of the coastline, the exhibition includes modern works that document the changing physical topography and presence of distinct artistic communities as well as illustrate the important role of nostalgia, memory and association.

Sea of dreams comprises approximately 70 paintings, drawings and prints sourced from major public, private and corporate collections throughout Australia. It features many rarely seen gems, some of which have only recently come to light.

Dit was ‘n lekker dag vir ‘n uitstappie. Ons het baie gehou van die skilderye en daarna het ons koffe gedrink in die galerytjie se kafee. Dis ‘n klein kunsgalery, hulle het net drie vertrekke, maar hulle het altyd baie interessante uitstallings daar. Die kafee is nie beman nie, jy help jouself aan drinkgoed en koek of toebroodjies, en dan sit jy jou geld in ‘n bakkie en neem die korrekte kleingeld indien nodig. Na bykans dertig jaar in my nuwe land is dit nog steeds vir my verbasend dat die stelsel so goed werk.

My nuwe skoonmaakster Joy het weer vandeesweek ingeklok en weer uitstekende diens gelewer. Alles is skoon en blink. Dit voel of ek ‘n pierinkie room uitgesit het en die feetjies het in die nag alles blinkskoon gemaak. My krane blink, my oond glinster, jy kan jou brekfis van my vloere af eet. (Maar dan moet jy hulle self weer skoon-mop!)

Gister op die Saterdag het ek na die kunsgalery toe gery en vir Vera en Elaine daar ontmoet. Vera en James is hier vir ‘n week, hulle woon soos gewoonlik by Carl en gaan sien hulle kleinkind by Christine se huis wanneer hulle toegelaat word om daar aan te meld. Sy het nou die hef in die hande en vergeld vir Ma en Pa nou deeglik vir wat hulle ookal in haar kinderdae gedoen het om haar te na te kom. Of miskien is sy sommer net ‘n teef.

Ons het gekyk na ‘n uitstalling van Chinese calligraphy. Ek weet nie baie van Chinese kuns nie, maar ons het aldrie baie daarvan gehou. Dis alles deel vd NGV se versameling, hulle grou elke nou en dan so ‘n klompie goed uit die stoorkamers. Party vd scroll paintings dateer uit die 1400s en 1500s. Dit kombineer skrif met prente. Baie fyn en delikaat.

Ons het ‘n bietjie na deel vd permanente versameling ook gekyk, nie soveel na skilderye nie, maar na meubels en juwele. Daar is ‘n stel Viktoriaanse juweliersware wat bestaan uit tiara, halssnoere, armbande en ringe, alles gekerf uit seeskulp. Die fynste cameo’s. Ek weet nie hoe hulle dit gedoen het sonder moderne toerusting en ordentlike beligting nie.

Daarna het ons by een vd galery se kafees middagete geniet en toe het ons elkeen ons eie gang gegaan. Ek het vir Elaine by haar huis gaan aflaai op my weg huistoe. Sy wou ‘n middagslapie inkry want sy was van plan om Melbourne se jaarlikse White Night by te woon. Die stad en alle besighede bly heelnag oop, openbare vervoer loop heelnag, al die strate is gesluit vir verkeer, duisende voetgangers neem oor. Orkeste speel in die strate, en op al die groot geboue word kunswerke geprojekteer. Dis een groot straatkermis. Ek sien vanoggend op die nuus daar was oor ‘n halfmiljoen mense in die middestad en op die oewers vd rivier. Alles het glo baie vreedsaam verloop en niemand is gearresteer nie. Ek sal seker later vandag van Elaine hoor om te sê wat sy alles gesien en gedoen het. Sy het saam met ‘n klompie vriende en kollega’s gegaan.

Ek wil netnou biblioteek toe ry, my plaaslike tak is net oop van 1 tot 4 op ‘n Sondagmiddag. Daar wag ‘n klompie boeke wat ek lankal bestel het. Ek sukkel om te lees as die druk te klein is. Ek soek na een van daardie reghoekige vergrootglase wat jy op ‘n blasdsy kan neersit. Ek kan seker ‘n boek wat te fyn gedruk is, aflaai op my e-reader, want daar kan ek die grootte vd letters verstel soos ek wil,  maar dis ook ‘n nuisance, want die apparaat se “bladsy” is so groot soos ‘n outydse sagtebandboek, en as ek die letters te groot maak, dan pas daar te min teks op ‘n bladsy. Ek is ‘n vinnige leser en dan moet ek elke twee sekondes omblaai. Flick-flick flick met my vinger. Ek verkies ‘n outydse grootdruk-boek, maar nie alles wat ek wil lees, is in groot druk beskikbaar nie. Hulle dink blykbaar oumense wil net airport novels lees.  Net soos die bioskope wat net rom/coms wys by die sessies wat hulle hou vir ma’s met baba’s. Blykbaar dink hulle jou brein verander in ‘n klont blancmange as jy ‘n bybie het. Nou kan jy nie kyk na flieke vir grootmense nie.

Moan, moan. Jy het nie lus om na ‘n gekrakeel te kluister nie.

Ek kan jou die bemoedigende tyding meedeel dat H blykbaar goed insettle by sy nuwe blyplek. Die personeel is goed vir hom, en hy kla nie. Vir S is dit ‘n groot verliging en sy kan nou ‘n goeie nag se slaap inkry vir die eerste maal in jare. So dit is alles goeie nuus.

Ek kan jou geen tyding vd C's meedeel nie. Ek sal kyk of ek haar vanaand kan Skype.  My rekenaar was nie heerlik nie, maar hy is nou weer gesond en kan ek weer op Skype klim.

Nouja, Sussie, ek hoop jy is gesond en dat dit aan die poswese te wyte is dat ek nie van jou hoor nie. Toe ek in Ingeland was en 3 weke nie van Ma gehoor het nie, was dit omdat sy in ‘n motorongeluk was en niemand my laat weet het nie. As ek van my takkie afval, hoop ek Elaine sal jou laat weet, want D sal beslis nie bodder nie. Hy sal reël dat Joy sy wasgoed ook doen wanneer sy die huis kom skoonmaak, en hy sal uit eet wanneer hy nie lus het om sy eie wors of steak gaar te maak nie. Verder sal hy net gewoonweg aangaan, no worries. As iemand na my verneem, sal dit ‘n paar sekondes neem vir die pennie om te val, voor hy inneem waarvan hulle praat. Duh.

Groetnis tot vollende week!                  Liefde van Suster Katrien