Michaelangelo: Madonna, Bruges Cathedral |
Monday,
17 March 2014
Liewe Sussie,
Laat ek nou maar vroegtydig inklok met vandeesweek se brief
– ek kan deur die week skryf en kom Sondag sal ek klaar skryf en dan kan D dit
Maandag pos. (Of weggooi, soos die gees hom lei.)
Gister op die Sondagmiddag het ek vir Elaine by die bioskoop
ontmoet wat halfpad tussen ons woonplekke is, en toe sien ons The Monument Men. Ek kan dit aanbeveel.
Cate Blanchett se rol was die kleinste, maar sy het die beste performance
gelewer.
Kritzinger kan my nie 'n goeie Afr woord gee vir performance
nie. Cate het nie 'n uitvoering, 'n verrigting of 'n prestasie gelewer nie. Ek
vermoed al hoe meer dat Kritzinger se woordeboek nie so goed is as wat hy
opgekraak is om te wees nie, hy skiet dikwels tekort.
Maar terug na The Monument Men ... dit handel oor 'n posse kunskenners
wat in die doodsnikke van WW2 deur die Amerikaanse leër ge-rekruut word om
Europese kunswerke wat die Nazis gesteel het, op te spoor en terug te kry.
Gebaseer op 'n ware verhaal. Die twee hoof-items wat hulle probeer opspoor en
terugkry, is die altaar-stuk uit Ghent se katedraal en Michelangelo se Madonna
uit Bruges se "Church of our Lady". Ek en Elaine het die film geniet,
maar ons het nie ons naels gekou soos die spanning opbou nie, want ons het
geweet alles het op die ou end mooi rampspoedig verloop aangesien ons daardie
twee items self gesien het in Ghent en Bruges waar hulle hoort. So ons het
geweet dis happy endings.
Ek is baie bly die Amerikaners het die Bruges Madonna gered
uit die soutmyn waar die Nazis haar weggesteek het, toegedraai in 'n goiïngsak.
Hulle het haar net betyds gegaps voor die Russe haar in die hande kon kry. Nou
is sy terug in Bruges waar ek haar gesien het. Sy is die enigste een van Michelangelo
se werke wat in sy leeftyd Italië verlaat het. Die Russe het niks Nazi-gesteelde kuns
teruggegee wat hulle gekry het nie, hulle het alles Rusland toe geneem.
Die Bruges Madonna, net soos Vermeer se Milkmaid en Oskar Kokoshka se Bride
of the Wind, is soos 'n vuishou wat jou wind uitslaan. Al wat jy kan doen,
is om voor hulle te staan soos 'n haas in die headlights, en grou in jou
handsak vir 'n tissue want jy kan nie die trane keer of die knop in jou keel
wegsluk nie.
Ewentwil, Ghent se Mystic Lamb Altarpiece is 'n ander
storie. Ek en Elaine het spesiaal na Ghent se katedraal gegaan om dit te sien,
maar toe is dit agter 'n skerm. Jy kan die res van die katedraal bekyk na
hartelus, maar as jy die Mystic Lamb wil sien, dan moet jy drie Euro's betaal.
Ons het ons E3 gestoot, maar soos Elaine sê ons kon liewer 'n koppie koffie
gaan koop het daarmee. Vir my part kon
die Russe die Mystic Lamb gaan ophang het in die Kremlin en good luck.
D is gisteroggend weg Bendigo toe (rolbal-ltoernooi) en ek
het 'n boodskap op die foon gekry dat hy veilig gearriveer het. Hulle span van
vier het gegaan. Die een vent met 'n groot voertuig het aangebied almal kan
saam met hom ry, maar D het verkies om met sy eie kar te ry. Ek weet hoe hy
voel: ek ry ook nie graag saam met ander mense nie; ek wil onafhanlik wees om
te kom en gaan soos ek wil. Hy kom Donderdag terug. Bendigo is net so 'n 2 uur
uit Melbourne, dis nie ver nie.
Ek het gesteraand met S geSkype en sy vertel dat H gelukkig
en tevrede is in sy verblyfplek. Hy sê hulle mishandel hom goed. Hy is nie so
gespanne en opvlieënd nie, sy sê hy is kalm en ook baie meer by sy positiewe.
Aaawrieboddie haappie, want sy kry ook nou rus in haar huis en hoef nie meer
met sy nappies te werk nie. Sy sê sy was die hele tyd gefrustreerd, kwaad en
wrewelrig. Nou kan sy ook ontspan. Dis net baie duur en sy sukkel om die geld
by te bring.
Nou gaan ek eers wasgoed ophang en dan gaan ek winkels en
poskantoor toe, miskien is daar 'n brief van jou. Tot later.
Saturday, 22 March 2014
So het ons gevorder tot by die naweek. Ek het Dingsdag saam
met Joan gaan koffie, Woensdag het my nuwe besem kom vee, maar nie so skoon
soos die eerste twee keer nie. My moeilikheid is ek los my kombuis te skoon. Op
die oog af lyk die wasbak en die vensterbank en die "bench" skoon, en
toe dink sy seker sy sal dit maar oorslaan. Maar toe sy weg is en ek gaan tee
maak, sien ek 'n paar krummels by die toaster en by nadere inspeksie kon ek
sien sy het nie geraak aan daardie area nie. Ag nouja. Vollende week sal ek vir
haar vra sy moet asb die kombuis eerste doen.
Donderdag het ek na die dr toe gegaan vir my jaarlikse diens.
Dr Suki Muralitheran. (Sover ek weet geen familie van die spin bowler nie.) Sy
het die uitslae van my bloedtoetse gehad en sy het aangekondig alles is in
tiptop kondisie. Liver and kidney function perfect. Sugar levels, perfect. En
so aan vort, alles is A1 tot ons by Vitamin D kom, my Vit D levels is te laag
en ek moet elke dag twee Vit D pillens insluk, waarvan ek by die apteek 'n
voorraad gaan haal het. Verder het sy vir my 'n flu shot gegee en my op my weg
gestuur vir nog 'n jaar. Alles gratis op Medicare.
Later daardie middag het D teruggekom van Bendigo af. Hulle
het nie gewen nie, maar hy het nietemin die ekskursie geniet en hy vertrek weer
Vrydag, hierdie keer net vir die naweek. Hy gaan na Corowa toe, en ek weet net
so goed soos jy waar dit is. Hy sê dis 4 uur se ry, dis al wat ek jou kan
vertel daarvan. Hulle is 32 wat gaan van
sy klub. Hulle is in twee naburige motelle ingeboek. Party deel, want hulle wil
nie volprys betaal nie, maar hy het 'n motelkamer vir homself bespreek, en wie
sal hom blameer. Dis nie so duur nie.
Vanmiddag het ek en Elaine na die ballet toe gegaan. Ons het
Manon gesien. Dit was soos gewoonlik
uitmuntend. Ek het na baie jare my "premium class" sitplek, in die
middel van die tiende ry van voor af, prysgegee want ek kon nie meer die 34 trappe
behartig nie. Nou sit ek op die paadjie in die tweede ry van agter af, net vier
trappe, dit is nie 'n probleem nie. Dis baie goedkoper ook, natuurlik. Ek kan
nog steeds goed sien, maar nie die uitdrukkings op hulle gesigte nie.
Newwermaaind. Elaine het ook baie daarvan gehou. Sy kom net na een ballet saam
met my elke jaar.
C het my laat weet dat N se tande uit is en alles het mooi
rampspoedig verloop behalwe dat haar gesig nog geswel is. Ek sal haar moreaand
Skype en hoor hoe dit met haar gaan. C sê haar visum het nog nie gekom nie,
hulle wag nog maar om te hoor wanneer klok hulle in oorkant die grens. Die huis
wag vir hulle.
Nouja, Sussie, tot vollende week alles van die heel beste
vir jou en joune. Ek het hierdie week niks gehoor van jou nie, ek neem aan no
news is GN.
Liefde van Suster
Katrien
{ Y¯
No comments:
Post a Comment